In ‘n relatief gewone sterrestelsel, êrens tussen die derduisende ander sterrestelsels wat bestaan, is daar ‘n spiraalsterrestelsel wat deur een spesifieke spesie wat daarin woon, die Melkwegstelsel genoem word. Een van die sowat eenhonderd-duisend-miljoen (100 000 000 000) sterre wat deel uitmaak van die Melkwegstelsel, se naam is Sol.
Rondom Sol is daar omtrent ‘n dosyn planete en die meeste van die planete het meer as een maan wat daarom wentel. Sover bekend, bestaan daar slegs lewe op een van die planete in die Sol-stelsel. Dít is die enigste planeet wat presies een maan het en staan bekend as Aarde.
Volgens alle aanduidings het lewe slegs op een planeet in die Sol-stelsel ontstaan – juis op Aarde. Behalwe vir hierdie enkele feit is die planeet, die sonnestelsel waarvan hy deel uitmaak asook die sterrestelsel waarbinne dit bestaan, op geen manier uitsonderlik of spesiaal nie.
Die lewe wat op die planeet ontstaan het, het baie vertak en vele spesies laat voortspruit. En tog, van die vele spesies het slegs een daarvan ‘n hoog genoeg intelligensievlak bereik om tegnologie te ontwikkel – ‘n spesie wat geklassifiseer word as Homo Sapiens Sapiens, of in die algemene spreektaal as die mens.
Die intelligente spesie wat in die Sol-stelsel ontwikkel het, het op ‘n tydstip waarna verwys word as die twintigste eeu, ruimtevaart ontwikkel en vir die eerste keer kon hul, hul tuisplaneet verlaat.
Die mensdom gebruik ‘n ingewikkelde verdeling wat die totale populasie groepeer in versamelings wat afsonderlik van mekaar ontwikkel. Hierdie afsonderlike selle word nasionaliteite genoem word. Slegs die mees suksesvolle versamelings kon daarin slaag om ruimtevaart te ontwikkel, waarvan bloot ‘n enkele een dit kon regkry om die maan van die planeet waarop die mensdom ontstaan het, te kon bereik. En die prys vir hierdie mylpaal was baie hoog – vir meer as ‘n dekade was ‘n baie groot gedeelte van hul rykdom daaraan gewy om dit reg te kry.
Nadat hierdie besonderse kundigheid en vaardigheid gedemonstreer is, het ruimtevaart ‘n wending geneem om meer op onbemande sendings te fokus deur outomatisering en robotika aan te wend om doelwitte te bereik. Bemande ruimtevaart is sedertdien beperk tot ‘n teenwoordigheid in wentelbane om die planeet self – meestal in ruimtestasies.
Ten spyte van die traagheid van die mensdom om bemande ruimtevaart verder te ontwikkel, is dit ooglopend dat dit nie onbepaald uitgestel kan word nie. Hoewel dit aanvanklik algemeen was om te meen dat die mensdom na die ander sterre in die Melkwegstelsel sou uitreik, raak dit toenemend duidelik dat dit nie haalbaar is met huidige tegnologieë nie – die skaal van die sterrestelsel is eenvoudig net té groot en die mensdom se vermoëns té beperk om interstellêre reis te onderneem – tot tyd en wyl reuse spronge in tegnologie gemaak word.
Tog besef baie dat daar talle gevare en bedreigings bestaan wat lewe en die mensdom bedreig (baie daarvan het met die mens en sy natuur self te doen), en dat dit logies is dat die mens ander kolonies sal moet vestig om die gevaar van uitwissing te verminder.
Met hierdie konteks ontstaan die vraag dus watter moontlikhede bestaan daar vir die mensdom? In ‘n aantal artikels gaan die verskillende moontlikhede bespreek word. Hierdie moontlikhede, net soos interstellêre reise, is die grondslag van baie wetenskapfiksie en daarom word dit beskou as relevant binne hierdie gemeenskap.