Wetenskap-Fantasie

Ons almal weet dat fantastika ‘n versamelnaam is vir ‘n groot, en ‘n baie uiteenlopende versameling van sub-genres – wat almal deel uitmaak van spekulatiewe fiksie.  Die mees bekende vertakkings onder fantastika is natuurlik wetenskapfiksie en fantasie.  Maar die versameling sluit uiteindelik ook dinge in soos superhelde, die bonatuurlike, die paranormale en verskeie ander.

Daar is egter een spesifieke tipe (of sub-genre) wat besonder seldsaam is en wat dikwels nie deel uitmaak van die hoofstroom stories en media onder die fantastika-sambreel nie – naamlik Wetenskap-Fantasie.

Hierdie besondere tipe is verskillend van beide wetenskapfiksie en fantasie – dis eerder ‘n kombinasie van die twee.  Stories wat deel uitmaak van wetenskap-fantasie bevat gewoonlik elemente van wetenskapfiksie as ook elemente van fantasie, en die verhaal is dus ‘n vermenging van twee sub-genres om ‘n nuwe hibriede sub-genre te vorm, naamlik wetenskap-fantasie.

Omdat dit nie so algemeen voorkom as die meeste van die ander sub-genres onder die sambreel van fantastika nie, is voorbeelde daarvan nie so algemeen en volop nie.  Die fliek John Carter, wat in 2012 deur Disney uitgereik is, is ‘n baie goeie voorbeeld van wetenskap-fantasie.

Daar is definitief elemente uit die wetenskapfiksie, soos vliegskepe en bewegende stede wat op planeet Mars gebruik word, maar dan is daar verskeie elemente uit die fantasie soos om bonatuurlike krag te hê op Mars, nie suurstof te benodig nie, ensovoorts.  Derhalwe behoort hierdie tipe verhale tot die klas van wetenskap-fantasie.

Edgar Rice Burroughs was die skrywer van John Carter, en verskeie ander hoogs suksesvolle reekse van avontuur en wetenskap-fantasie.  Onder andere was hy die skepper van die Tarzan-reeks wat een van die mees geslaagde avontuurreekse van alle tye is.  Ongelukkig is daar nie veel van sy werke in Afrikaans vertaal nie, behalwe vir Tarzan.  Gelukkig is daar ten minste twee titels uit hierdie reeks wat wel behoort tot die sub-genre van wetenskap-fantasie.

Die eerste hiervan is die boek Tarzan in die hart van die aarde wat in 1930 gepubliseer is en in 1950 in Afrikaans verskyn het – vertaal deur A.M. van Schoor.  Die storie wat 227 bladsye beslaan lees lekker en bind mens van die begin af.  Die lusmaker op die stofblad lees as volg.

Erens by die Noordpool lê ‘n ingang na ‘n wêreld binne ons aardkors . . . Hierdie teorie het Tarzan en sy maats gestuur op een van die avontuurlikste togte van sy ganse loopbaan.  En in Pellucidar, die wêreld onder die aardkors, waar die son ewigdurend skyn en die evolusie van dier en mens stilgestaan het, het hulle die merkwaardigste ervaringe van hulle lewens deurgemaak.

Daar vlieg nog die reuse-reptiele van die Steentyd rond; daar voer die dinosauri van die oer-oertye nog die heerskappy; daar leef die Horibs, ‘n kruising tussen die slang en die mens!

Die tweede boek is Tarzan en die miermense (1949) – ‘n verhaal wat ewe aangrypend is en wat eweneens behoort tot die vertakking van wetenskap-fantasie.

Eintlik, om tegnies korrek te wees, is stoompunk ook maar net ‘n baie spesifieke vorm van wetenskap-fantasie.  Dit is tog ook nie eintlik moontlik om groot stoomskepe te laat vlieg nie, of om lugballonne uit metaal te bou nie!

Dink gerus aan Pieter Verwey se Clint Eastwood van Wyk en die Moordenaarsklok wat ‘n uiters vermaaklike stoompunkboek in Afrikaans is…

 

Wetenskap-fantasie is ‘n heerlike, dog ongewone vertakking van die verbeelding – een van die vele juwele van fantastika…