28 Julie 2014
© dr. François P. Verster
Blykbaar is die roman die genre wat die meeste by leeskringe bespreek word.
So skryf Audrey Blignault in haar boek Van leser tot leser; ’n gesprek met leeskringe (reeds in 1980). Dit maak sin, want dis die “soort boek” wat meeste mense lees vir ontspanning.
As mens kyk na wat Blignault kwytraak aangaande die lees en bespreking van romans, kan jy ook leer wat sy as die essensie van ’n roman beskou, en hoe dit geskryf behoort te word.
Eerstens, wat is ’n roman? Blignault sê dis “’n prosaverhaal van groter of geringer omvang waarin mense, geplaas in ’n sekere omgewing, geteken word in hulle begeertes, hul onderlinge verhoudinge en hul handelinge. In die roman skep die skrywer ’n fiktiewe wêreld wat as werklikheid voorgestel word.” Mens sal talle definisies kan gaan opsoek, wat wesenlik nie veel verskil nie, maar dalk minder of meer uitgebreid sal wees as dié een.
Ons weet almal in elk geval wat ’n roman is – jy hoef net ’n paar te lees en jy het die idee – maar dis nuttig om te kyk na die hoofpunte/eienskappe. Sodoende kan jy jou eie pogings daarmee vergelyk. Ek dink mens skryf meestal generies (jy gaan in jou verbeeldingswêreld en jy vertel wat jy sien, soos jy dit sien, wanneer jy dit sien) en dan wanneer jy begin redigeer, kyk jy na riglyne en toets jy jou maaksel daaraan. En, hopelik, wanneer jy ’n tweede, en verder dalk ’n derde roman skryf, begin jy die riglyne van meet af outomaties toepas en kyk jy agterna net na fyner punte – dan verfyn jy dit letterlik.
Een eienskap van die roman wat Blignault self beklemtoon is die skepping van ’n wêreld wat “’n oortuigende entiteit op sigself is, ’n volledig sluitende wêreld wat innerlik kan wees of uiterlik, maar ’n wêreld wat in alle opsigte die leser oortuig.” Veral wanneer mens kyk na boeke soos Tolkien se Lord of the Rings kan jy verstaan wat sy bedoel – fantasieverhale en ruimte-fiksie gaan duidelik hieroor, miskien meer as by meeste ader tipe romans. Dink aan Star Wars – wanneer die skrywer so ’n oortuigende wêreld skep dat mense daarmee identifiseer, konvensies hou en aantrek soos hulle helde, memorabilia versamel, ens., weet jy dat daardie wêreld “werk” en dat jou skepping sal voortleef, in meer as een taal en land.
Blignault meen die skrywer moet hom/haar “as mensekenner openbaar in die uitbeelding van die persone oor wie hy skryf.” Dit gaan oor meer as karakterbeskrywing, want die karakters moet omskryf word deur hulle denke, dialoog en handeling – alles behoort gemotiveerd te wees. “Gemotiveerd?” – juis: hulle doen en dink net wat hulle móét, as deel van die geheel wat die roman is. Niks wat nie inpas by die roman se wêreld behoort weergegee te word nie. Sny dus uit (as jy dit nie kan motiveer as essensieel nie), pluk die onnodighede uit soos weerbarstige wenkbrouhaartjies wat die geheelbeeld kan skaad.
Soos die komposisie van ’n skildery om by die vorige skrywe in hierdie reeks aan te sluit), so moet die elemente van ’n roman (of enige ander genre) dig en deeglik saamgesnoer word. Dít sal enige handleiding oor romanskryf jou voorsê. Nie dat die groot skrywer nie van die resep kan afwyk nie – maar eers as jy weet wat jy met sodanige afwyking wil bereik; want nie eens Picasso sou kon abstraheer voordat hy nie die grondbeginsels van realisme bemeester het nie. Andersins sou sy kubistiese skeppings bepaald abominabele aborsies gewees het!
Nadat die leser die roman gelees het (maar gedurende die leesproses ook) dink hy/sy daaroor na. Of nie, as dit bloot ’n oppervlakkige relaas was, maar ons neem aan dit was ’n storie met substansie; afgeronde karakters, kommentaar op die lewe en sy kompleksiteite. J.P. Smuts, in “Hoe om ’n roman te ontleed” praat van die “tema” van die roman – m.a.w. die kernboodskap wat die skrywer probeer oordra.
Soms is dit nie al te duidelik wat presies die boodskap is nie – soos George Orwell se Animal Farm – daar word gedebatteer of Orwell ten gunste of teen kommunisme was: was dit kapitalisme of kommunisme wat hy aangeval het? Of dalk die mens se universele korruptheid, onderduimsheid, gierigheid, magslus? Uiteindelik word al hierdie vrot appels ontbloot uit die modder van die varkhok wat ons as ’n paleis voorhou. En dis reeds genoeg, so die kernboodskap hoef nie die alfa en die omega te wees nie, maar hoeveel romans is so veelvlakkig soos wat ’n werklik meesterlike allegorie kan wees?
Mens moet natuurlik in ag neem dat indien jy te oordadig te werk gaan met vlakke en intertekstuele verwysings en dies meer, dat jy dinge so kan oorkompliseer dat die soos ’n blokkiesraaisel begin raak (so het Anna M. Louw al in 1972 aan T.T. Cloete gesê in die bundel Gesprekke met skrywers vol. 2) – sy het gereken die skrywer en leser moet gemaklik kan kommunikeer. Slim intellektuele bollemakiesies is dus dwars in die weg van sodanige kommunikasie. Maar dit net terloops.
Dan is daar ook die “bou” van die roman. Blignault praat van die struktuurelemente wat die vorm gee; die wyse waarop die skrywer die gebeure laat ontwikkel en wie die verhaal vertel. Eerstepersoonvertelling gee ’n skyn van egtheid en onmiddellikheid, maar beperk die omvang indien nie daarvan afgewyk word nie – die ek-verteller kan nie soos God oral wees nie en kan nie waarneem wat al die karakters, byvoorbeeld in hulle slaapkamers aanvang nie – hy/sy kan tog nie elke keer teenwoordig wees nie, ook nie as sekere gebeure tegelykertyd afspeel nie.
Ek het, na ’n skryfskool-ervaring met ’n vriendin afgespreek om ’n roman te skryf, ’n hygroman om presies te wees, indien sy dieselfde doen. Dan sou ons ons voltooide hoofstukke soos hulle uitkom, aan mekaar stuur vir kommentaar en ondersteuning. Dadelik het ek besef dat indien ek verskillende karakters inspan, die ek-vertelling net kan werk indien die hoofkarakter met al dié karakters intiem verkeer – omtrent iets soos The unbearable lightness of being – beskryf op die Wiki-blad daarvoor as: “a 1984 post-moderne roman deur Milan Kundera.”
Gevolglik het ek toe besluit om die boek op te deel – eers vertel een karakter sy ervarings en dan vertel die volgende een haar storie. Om dinge nog meer interessant te maak, het ek die boek verder verdeel sodat elke karakter se verhaal in “Boek Twee” daarna deur my, die alomteenwoordige derdepersoonverteller vertel word.
Uiteraard het ek besluit dat hierdie eksplisiete roman nie onder my naam sal verskyn nie. tweedens, het my stoute vriendin nooit haar kant van die ooreenkoms nagekom nie. Haar naam sal ek ook verswyg! Terloops, soos die roman ontwikkel het, het ek dit begin oorweeg om al die hyg-dele af te skaal en/of meer subtiel te maak deur insinuasie en dies meer. Ek het gereken die storie is sterk genoeg om sonder die sensasie van seks klaar te kom.
Tot dusver het ek nog nie finaal besluit nie en lê die onvoltooide manuskrip in limbo. Tyd sal leer of hy ooit daaruit sal kom – so tot dusver het ek in der waarheid net so min bereik as my vriendin… of meer gedoen, maar niks om te wys nie: tog maar in effek dieselfde ding.
Oplaas terug na Blignault se kommentaar oor die romankuns. Haar laaste opmerkings handel oor die “gebruik van die woord.” Sy meen dat “die gehalte van die woord, die illuminasie van die woord van beslissende belang.” Sy verklaar onomwonde dat geen groot roman geskep kan word deur iemand wat “nie die woord kan beheer en ontgin en opwindend gebruik nie.”
Hieromtrent wy sy uit oor Saul Bellow wat in 1976 die Nobelprys ontvang het omdat hy die woord so geniaal kon beheer. Humboldt’s gift deur Bellow word ook bespreek, wat ek nie hier gaan doen nie, en sy haal aan oor Bellow se talent; “He writes like a bird planing, sure of his heigtht, sure of his wings, sure of the language there beneath him, sustaining his flight and as transparent as air.”
Baie mooi, hierdie beskrywing, maar dalk wou die lofsanger (Shattuck) self bewys dat hy kan doen wat hy aan Bellow toedig? In elk geval, hy is minstens nie vervelig nie en as mens dink oor sy omskrywing, dan sien jy dat hy wys op Bellow se selfvertroue, wat net uit werklike vermoë kan spruit. Ook, dink ek, dui dit daarop dat Bellow onnodige haartjies uitgepluk het. Want niemand skryf perfek nie – jy probeer wel die onsekerhede en onnodighede minimaliseer. ’n Skilder verf ook sy/haar flops toe of gebruik hulle as brandhout om sodoende sy/haar reputasie in stand te hou.
Blignault, kry egter momentum hier en sy druk nog ’n drie in beseringstyd: “In ’n groot roman is daar altyd ’n onblusbare drif, die drif van die skeppende verbeelding, die drif van die voortstuwende intellek, die drif van die soekende, ontledende, vormende gees.” En dan, uiteindelik, skop sy die vervyfskop oor: “’n Groot roman het ’n universaliteit wat al hierdie grense oorskry en aan die betrokke werk ’n geldigheid gee wat dit laat voortleef.”
En nou, na al hierdie hemelhoë literêre verbyvlugte, kruip my hygroman self, steunend van selfbejammering al dieper in die donkerste hoekie van daai lessenaar laai weg…