19 Augustus 2014
© dr. François P. Verster
Nadat Rapport se Boekeblad die weg van alle vlees (en skynbaar literatuurblaaie van enige gehalte) gegaan het, is daar darem vanjaar voortgegaan met boekbesprekings in Rapport Weekliks, tot menige boekeliefhebber se vreugde.
In een van bg. bylaes (17 Augustus 2014) lees ek ’n resensie (weliswaar oor ’n rolprent, nie ’n boek nie) deur Leon van Nierop, waarin hy The Expendables 3 bespreek. ’n Paar bladsye verder is daar ’n bespreking van die boek Kamphoer deur Francois Smith (wat volgens die literatuurkenner Louis Esterhuizen “waarskynlik met al die pryse gaan wegloop”). Sekere kontraste in die twee besprekings val mens op.
Wat die rolprent betref: Van Nierop sê die karakters is “bloot Legoblokkies met net soveel persoonlikheid.” En dan gaan hy voort oor die resep-konsep – “Sommige Hollywood-draaiboekbybels verduidelik bladsy vir bladsy hoe ’n teks gekonstrueer moet word. Elke gebeurtenis, van die openingsekwensie tot die einde van die eerste bedryf, wat tot op bladsy 28 gebeur tot die middel van bedryf twee word soos ’n resep uiteengesit. Nes ’n sepie is hierdie pleging van tonele nie werklik volbloed-skryf nie, maar ’n paar vingers wat volgens reëls onwaarskynlike gebeure aanmekaar flans sodat dit aan ’n wegneemkosresep voldoen. En dit sal uiteindelik lei tot die afplatting van aksieprente in Hollywood, want karakters en mense maak nie meer saak nie.”
Hierop kan mens twee dinge vra, nl. hoeveel kan dié soort prente dan nog méér afplat? En met rekenaarkunsies sal alle karakters waarskynlik Avatar-agtig word – sal werklike akteurs dus nog nodig wees? Dit sal mos baie minder kos om geanimeerde flieks te maak as om die sg. sterre reuse bedrae te betaal vir hulle rolle. Nietemin, dis Hollywood en dis rolprente. Die ooreenkoms tussen die resepmatige “plot en plan”-konsep waarvan Van Nierop praat en dieselfde soort strategie by die skryf van blitsverkopers (of soos almal hulle ken: “bestsellers”), is egter ooglopend – in albei gevalle word ’n storie vertel en daar is “moets” en “moenies.” Wat hier in Hollywood gebeur is dus relevant vir romanskrywers. Eintlik kan mens vra wie was eerste hier(mee); die hoender of die eier, boeke of films? Maar dis van minder belang. Wat van belang is, is of skrywers swig voor die “moets” en die “moenies” ter wille van die gewaande waarborg vir sukses.
Ek sien die skrywer Harry Kalmer bied skryfkursusse aan en beweer dat almal kan skryf indien hulle die regte gereedskap kry – sou dit ook “respte” wees? wonder mens. Ek neem aan hy bedoel jou kanse om gepubliseer te word kan aansienlik verbeter word indien jy… ja: die “moets” en die “moenies” in ag neem!
Beginners leer algaande “wat werk” teenoor wat lesers (en keurders by uitgewershuise) irriteer. Skrywers is redelik bewus van meeste van hierdie reëls – en help mekaar ook deur daarop te wys – as hulle mekaar se manuskripte lees, soos ek en Charles Stofberg tevore, en meer onlangs, Eben van Renen al gedoen het. Mens staan immers te naby aan jy eie stories om jou eie foute te eien en selfs die mees elmentêre foute kan misgelyk word. Een fout waarop Eben my gewys het, is dat ek so ’n groot aantal karakters het en dat daar nie een duidelike hoofkarakter in daardie storie is nie. Dis baie geldige punte daardie, en baie duidelike afwykings (deur my) van die beproefde resep vir romans. Die vraag is hoekom ek dit gedoen het – bloot omdat ek blind was vir my foute of het ek dit doelbewus gedoen?
Die manuskrip waarna ek verwys is Deur na Nebula Nege wat vroeër vanjaar by Thompson verskyn het. Dié boek is eintlik ongewoon in sekere opsigte – dit volg dus nie die Hollywood/blitsverkoper-resep getrou na waarvan gepraat word nie. Eerstens het die voornemende uitgewer my carte blanche gegee om te skryf (“as jy ’n manuskrip stuur, sál ek dit uitgee”) wat ek wil – en hoeveel skrywers kry so ’n kans? Ek het toe besluit om te eksperimenteer: eerstens om ’n volbloed Wetenskapfiksie boek in Afrikaans te skryf – ek gee nie voor dit is nie al gedoen nie, maar ek wou dit self ook doen en het talle tiperende elemente van dié genre ingebou, want ek was meer geïnteresserd om die genre op hierdie manier van binne af te verken (dis my eerste WF-roman) én om uiteindelik ’n duidelike voorbeeld van die genre te skep (dog sonder om in alle opsigte resepmatig te werk, al het elke genre ook reëls en dus ’n soort resep). En helaas, ek is tog ook beïnvloed deur al die vorige Wetenskapfiksie boeke en films wat ek al gelees/gesien het.
Wat laasgenoemde betref kan ons onsself afvra: hoeveel in welke mate beïnvloed ander se werk ons, en veral; word ons nie deesdae méér deur films beïnvloed as deur boeke nie? In ’n genre soos Wetenskapfiksie (dieselfde geld Fantasie), bestaan daar soveel verbeelde elemente, soos hoe kuborge, ruimteskepe, ens. lyk. En hier bied films alles juis visueel op ’n skinkbord vir ons aan, so uiteraard kan ons sterk daarby aanklank vind, en veral ook ons lesers – ons hoef nou minder te beskryf, want hulle weet al min of meer waarvan ons praat. Ek sê “min of meer”, want daar moet variasie wees, juis om die resep te buig, anders verval ons in daardie vervlakking waarvan Van Nierop praat. Verder het ruimtereekse soos Firefly en Star Trek my sekerlik beïnvloed wat die hoeveelheid karakters betref – ons raak gewoond aan baie karakters (dink maar aan sepies!), maar in die rolprente kan ons hulle makliker eien en daarop is dit ’n bedenklike voorbeeld om te volg wanneer mens romans skryf, toegegee; mea culpa.
En, ’n laaste opmerking oor my eie ondervinding; oor die hoofkarakter. Ek dink wat my opgeval het van die fliek Avatar, is dat dít eintlik is wat ons as lesers soek – ’n avatar-ervaring. Wanneer ons daai hoofkarakter in ’n verhaal soek, soek ons die avatar waardeur ons elkeen die verhaal wil beleef. Miskien is dit een rede waarom meeste mense skynbaar nie van eerstepersoonvertellings hou nie – die leser wil die illusie beleef dat hy/sy self die gebeure ervaar en waarneem, nie ’n ander verteller nie.
Die historikus/romanskrywer Dan Sleigh het aan my vertel dat sy veelbekroonde Eilande vir 20 jaar in ’n laai gelê het omdat hy nie ’n hoofkarakter gehad het nie. Toe lees hy ’n ander boek sonder ’n hoofkarakter en dink: “Maar hoekom kan ek nie ook…?” Toe stuur hy Eilande na die uitgewer, en die res is geskiedenis. Sleigh kon dus 20 jaar vroeër al ’n bekende skrywer gewees het, helaas.
Dit in ag genome, het ek toe ook besluit om nie ’n duidelike hoofkarakter te skep nie; altans om eerder ’n veelvlakkige storie uit verskillende perspektiewe te vertel. Ek glo lesers van WF is mense wat juis nie die alledaagse en die normale wil ervaar nie, en ook ’n persentasiepunt of twee hoër op die evolusievlak mag wees as die tipiese springmieliekouende sepieverslaafde!
Dog, wat my betref, is daar wel ’n gunsteling karakter (myne) in die storie en ek dink lesers sal hom tog kan identifiseer – daar is tog sekerlik ’n effense voortrekkery waarneembaar… Ek glo boonop elke leser kan self sy/haar karakter kies waarmee hy/sy wil identifiseer.
Dit bring my by Smith se Kamphoer. Twee dinge in hierdie artikel deur Elmari Rautenbach het vir my uitgestaan. Eerstens, in die woorde van die skrywer: “Ek wou haar storie romanagtig ontdek. Ek wou vasstel wat sou kon gebeur het…?” en dan praat hy van ’n toneel waar die hoofkarakter Susan Nell haar verkragter ontmoet, jare ná die wrede misdaad plaasgevind het. Smith sê hy wou “vasstel,” maar wat hy bedoel is dat hy ’n voorstel wou maak oor wat sou gebeur het, omdat niemand weet hoe dit sou verloop het nie. Toe Smith die ware verhaal van Susan geassimileer het en op daardie fondament gebou het, het hy sy eie plot ontwerp. Verbeelding, oorspronlikheid, kreatiwiteit, het dus ’n rol gespeel: dis nie ’n suiwer feitelike relaas soos die boek The boer whore, wat Nico Moolman geskryf het, en wat aanleiding gegee het tot Smith se boek nie.
Let wel: Smith se Kamphoer word nie gereken as ’n roman nie, maar dit het “romanagtige elemente.” Ek persoonlik beskou so ’n boek eerder as ’n roman wat baie sterk geskoei is op feite, as wat dat dit ’n nie-fiksieboek is. Miskien sal ek oor ’n jaar anders voel, maar dis hoe ek dit nou sien.
Toevallig is ek self nou besig met die redigeringsfase van ’n eie relaas oor Diensplig en oor hoe die land daarna verander het, en ek gebruik, wat die uitgewer ’n binne- en buitestorie noem om die verhaal te vertel. Baie min daarin is verbeel – ek het wel met die tydlyn gepeuter en tonele soms oorvereenvoudig ter wille van duidelikheid en tempo – en die boek word deur Tafelberg se nie-fiksie afdeling (as ’n memoir) uitgegee, maar daar is soveel romanagtige elemente in dat ek dit self al as ’n roman ervaar! Ek bedoel spesifiek die skryfmetode en herverbeelding van wat werklik gebeur het, asook taalaanwending, metafore, humor en naamgewing. Ironies genoeg het die betrokke uitgewer besluit dat Francois Smith juis hieroor geraadpleeg gaan word – veral oor my gebruik van verskillende vertellersperspektiewe in dié memoir.
Die laaste punt oor Kamphoer – Smith word aangehaal: “Wanneer jy skryf speel alles wat jy weet en ervaar ’n rol. Ek het algaande besef ek sal moet my eie emosies in toom hou.” Wat hy daarmee wil sê het vele moontlike implikasies, maar wat hierdie essay betref, is die plan waarmee jy jou plot bou van belang. Wat is jou eie, dalk verskuilde, agenda en hoe beïnvloed dit jou plot?
Uiteindelik gaan dit oor wat jy wil sê en of jy regtig iets het om te sê – m.a.w. ’n kwessie bespreek en ’n weldeurdagte boodskap het. Of volg jy bloot ’n resep? Ek wil my nogal verbeel dat soveel minder heerlike geregte ontdek sou word indien almal presies by bestaande resepte hou. Dieselfde geld vir rolprente en boeke. As ’n plot nie genoeg sê nie, as die gereg sout, kerrie of knoffel kort, maak ’n plan. Soos Smith met Kamphoer.