Kleinspan

Kinders het belangstellings sodra opleiding plaasvind
– Arthur C. Clarke

Niemand sal seker ontken dat ‘n liefde vir lees verkieslik van kleins af aangemoedig moet word nie. En ‘n liefde, kennis en aanvoeling vir ‘n taal word sterk gestimuleer uit die lees van boeke in die gegewe taal.

Gelukkig is die skrywers van Afrikaanse wetenskapfiksie nogal baie produktief gewees die afgelope klompie jare en ons wil graag die boeke vir die kleinspan appart lys van die res – so hierdie afdeling sal spesifiek daaraan gewy word.

Dis interessant dat kinderboeke grootliks handel oor tema’s in die fantastika. Sprokies, superhelde, fabels, fantasieë – dis ‘n baie groot deel van die vermaak van kinders. Om dié rede gaan ons nie ‘n poging aanwend om dít alles te lys nie en gaan ons eerder op die wetenskapfiksie fokus wat minder algemeen is – al is die onderskeid nie altyd baie duidelik in die geval van kinderboeke nie. Die skryf van wetenskapfiksie vir die kleinspan het eers redelik onlangs begin posvat.  Daar is egter enkele uitsonderings.  ‘n Versommende fonds is gemaak met die opspoor van ‘n leesboekie vir die laerskool wat in 1938 verskyn het met die naam Kasper se besoek aan die Maan? – geskryf deur Elizabeth Saunders.  Dit is só ongewoon dat ons besluit het om die ganse boekie af te tas en hier beskikbaar te maak – besoek gerus ons bladsy daaroor en lees die storietjie – dit neem net ‘n paar minute…

In 1976 verskyn die eerste reeks wetenskapfiksieboekies vir kinders waarvan ons kennis dra, naamlik die Robbie die robotmannetjie, Robbie maak moles, Speurder Robbie en Robbie en die dwelmbende – geskryf deur Joey G van Niekerk.

Nog ‘n boekie wat in die 1970s verskyn het, is Simon en die Maanvuurpyl wat deur Edward McLachlan geskryf is.  Dit is duidelik gemik op kinders in die vroeë laerskool.

‘n Reeks opvoedkundige kinderboeke (vir 7 tot 9 jaar) word uitgegee deur PRISMA uitgewers in 1989, en die titel van die reeks is “Die Wonderbaarlike Wedervaringe van Marnus en Mirna”.

Die stories verloop elkeen op dieselfde patroon, en daarom is die eerste paragraaf in elk van die boekies identies, en lui as volg.

“Dit is die jaar 2190: omtrent tweehonderd jaar die toekoms in.  Marnus is elf jaar oud en sy sussie Mirna is nege.  Hulle woon op Vlak 300 van Megapolis-toring, ‘n woonstelblok wat vyf kilometer hoog is.  Dit is deel van Kusstad, aan die suidelikste punt van Oseanus, die vasteland wat vroeër Afrika was.
Marnus en Mirna woon by hul ouers.  Horus, ‘n robot wat soos ‘n mens lyk en wat baie goed is met allerhande uitvindsels, bly ook by hulle.”

Agter, op die rugkant van elke boekie, kry ons die volgende stukkie teks.

“Marnus, wat elf is, en sy negejarige suster Mirna leef in die twee-en-twintigste eeu.  Met behulp van Horus, hul robot-maat, en sy ongelooflike tydmasjien, beleef hulle ‘n string wonderbaarlike wedervaringe.”

Elke boekie fokus op iets anders uit die mens se geskiedenis en die robot neem die twee kinders saam terug in tyd om die gebeure te ervaar – ‘n baie effektiewe manier om die storietjies te vertel.

Daar is ‘n taamlike klompie van hierdie stories uitgegee, waarvan ons die volgende titels kon vind.

  • Die Groot Muur van China
  • Toetankamen se grafkelder
  • Die tronkskip
  • Die strydwa-resies
  • Die dinosourus-avontuur

Die Anna Atoom-reeks deur Elizabeth Wasserman is ‘n meer onlangse reeks wat op kinders gemik en wat wetenskaplike konsepte op ‘n komiese manier vir kinders toeganklik maak.

Om die waarheid te sê, dis een van die min voorbeelde wat die sprong van Afrikaans na Engels gemaak het.

En Elizabeth Wasserman het ook nie gestop by Anna nie. In ‘n ander reeks, Die Dingesfabriek is daar ook reeds vier stories vir die jongspan beskikbaar.

En dan het Elizabeth ook ‘n ander reeks geskep oor Speurhond Willem, waarvan een van die boekies vir Willem in die ruimte plaas – hierdie boekie het ook die sprong na Engels gemaak.

Vir ‘n selfs jonger leser (of luisteraar) was Jaco Jacobs uiters produktief met sy Professor Fungus-reeks wat nou al reeds uit tien boekies bestaan en wat kleiner kindertjies se verbeelding aangryp – maar selfs deur laerskoolkinders verslind word.

Jaco het egter ‘n hele aantal ander boekies ook geskryf wat nie deel is van die Fungus-reeks nie. ‘n Ander reeks, ‘n Kas vol Monsters, is ewe gewild by kinders.

En dan, sommer maar net, het hy nog ‘n klompie ander boekies ook geskryf.

Ook baie produktief was Theresa van Baalen met haar reeks oor Sanri Steyn se avonture.

 

Janie Oosthuysen het heelwat boeke vir die jeug geskryf, maar twee daarvan was vir jonger kinders en in die veld van WF.

Ook Leon de Villiers het vir ons kinders twee boekies bygedra.

Nick Falk het ook sy bydrae gemaak met sy reeks Dinos-Sourus-straat.

En vertaalde werke is natuurlik ook volop, soos Moemin deur Tove Jansson.

…of die uiters verbeeldingryke werke van Roald Dahl.

Regtig baie fabels, sprokies, spookstories en fantasieë bestaan ook vir kinders – gaan kyk gerus na die Afrikaanse rakke in die meeste boekwinkels in Suid-Afrika. Dit is lekker om te weet dat daar soveel mense is wat ‘n aktiewe bydrae maak tot die Afrikaanse fantastika vir kinders. Baie dankie aan elkeen van julle – en hou aan met die goeie werk.