As daar alleen maar na flieks op die gebied van die fantastika gekyk word, sou mens maklik in die strik kon trap om te dink dat beide die wetenskapfiksie en die fantasie bloot as westerse genres in die wêreld van spekulatiewe fiksie bestaan. Die rede vir hierdie illusie vanuit ‘n Suid-Afrikaanse (of selfs Afrikaanse) perspektief is die historiese agtergrond van die Afrikaner.
Omdat ‘n groot gros van die Afrikaanssprekende gemeenskap in die suide van Afrika juis uit die weste afkomstig was, was daar steeds maar ‘n naelstring na Europa. En omdat die Britse koloniale invloed sterk gewortel was, was Engels altyd meer toeganklik as ander tale waarin wetenskapfiksie en fantasie geredelik geskep was.
‘n Ongelukkige gevolg wat uit hierdie geskiedenis van herkoms voortgevloei het, was dat blootstelling aan ander fantastika uit die res van die wêreld maar baie beperk was. Een só ‘n kulturele groep wat oor tyd ‘n beduidende bydrae gemaak het tot spesifiek fantasie en wetenskapfiksie, is die Japanese.
Hoewel boeke van WF+F geredelik in Japanees verskyn het, is dit eintlik hul visuele skeppings wat ‘n beduidende invloed gehad het op internasionale gebied. Daar bestaan basies twee prominente mediums waarin hierdie visuele skeppings die lig sien, naamlik hul strokiesprente en hul animasie – waarvan beide vir kinders en vir volwassenes geskep en ondersteun word, anders as in die westerse wêreld. ‘n Verbasende uitvloeisel van hierdie betrokkenheid van die Japanese aan populêre kultuur (popkultuur) is dat daar ‘n groot hoeveelheid nuwe terminologie ontstaan het wat nou internasionaal in gebruik geneem is deur blote transliterasie – waarvan daar ‘n aantal hier genoem sal word.
Die eerste hiervan is die Japanese strokiesprente wat bekend staan as mangha (漫画). Dié strokiesprente is ongelooflik populêr, beide in Japan sowel as die res van die wêreld. Verreweg die meeste van hierdie strokiesprente is bloot wit en swart met geen kleur, en gedruk op ‘n goedkoop tipe koerantpapier. Die prentjies moet gelees word van regs na links, nie links na regs soos waaraan ons gewoond is nie – of soms bloot van bo na onder.
‘n Tipiese mangha-meisie (oë en hare is kenmerkend)
Die tweede medium is getekende of rekenaargegenereerde animasie wat strek van kort stukkies videomateriaal tot vollengte rolprente, en dit word vir alle tipes gehore geskep, van klein kindertjies tot volwassenes en selfs pornografiese temas. Hierdie tipe animasie staan bekend as anime (アニメ). Dit is gewoonlik baie ryk aan kleur, besonderhede en die agtergrond word nie afgeskeep nie. Pokemon was ‘n grootse mediafenomeen wêreldwyd en het anime vir die eerste keer in Suid-Afrika beklemtoon.
Beide hierdie twee media word op grootskaal aangewend vir werke van wetenskapfiksie sowel as fantasie. Binne die wetenskapfiksie het daar ‘n spesifieke Japanese subklas ontstaan wat as mekka (メカ) bekend staan. Hierdie klas gaan oor reuse robotte wat met gewoonlik twee of meer bene stap (of rondbeweeg) en wat soms deur menslike wesens beheer of bestuur word. Die robotte is gewoonlik swaar gewapen en word aangewend om te veg teen bedreigings – tipies in die styl van die Transformers-flieks wat groot sukses internasionaal behaal. Robotech wat in die 1980s deur die SAUK uitgesaai was, is ‘n voorbeeld hiervan.
Seksualiteit is iets wat oor die algemeen ‘n meer geïntegreerde rol speel in die storielyne wat uitgebeeld word in Japanese visuele vorme as wat algemeen in hul westerse eweknieë gesien word. Skeppings wat seksuele ondertone bevat sonder dat seksuele omgang of naaktheid eksplisiet getoon word, staan bekend as êtsji (エッチ). Wanneer skesuele omgang en naaktheid spesifiek getoon word, of wanneer die inhoud pornografies van aard word, word dit hentai (へんたい) genoem. Interessant genoeg word die genetalia self nooit getoon in materiaal wat uit Japan kom nie, en dis altyd uitgesensor om gehoor te gee aan Japanese wetgewing.
Selfs die onderlinge seksualiteit tussen persone het spesifieke terme wat daarmee geassosiëer word. Só byvoorbeeld word jaoi (やおい) gebruik vir manlike en juri (百合) vir vroulike homoseksualiteit.
Behalwe vir die Japanese gemaklikheid met seksualiteit, bestaan daar ook ‘n groter klem om eienskappe van die karakters te integreer met dié van diere. ‘n Tipiese voorbeeld is dat karakters die ore, sterte, snorbaarde, ens. van diere het – dikwels katte s’n. Dit is gewoonlik bloot om die karakters “ouliker” of meer bekoorlik te laat voorkom, òf vir die kyker, òf vir die ander karakters in die verhaal. Hierdie verskynsel staan bekend as kemonomimi. Die elemente van diere kan deel wees van die anatomie van die karakter, of bloot iets wat gedra word, soos ‘n kopband – maar die karakter bly ‘n mens.
Ander tegnieke wat ook algemeen in die anime-kunsvorms gebruik word, is tegnieke wat herhinner aan flieks wat met kamera’s verfilm is – soos om nader aan iets te beweeg (te strek) sodat die beeld van byvoorbeeld die gesig ‘n al groter deel van die skerm vul. In mangha weer, word daar dikwels van oormatige perspektief gebruik gemaak om beweging of driedimensionaliteit te beklemtoon, of om die hoek waaruit ‘n raampie bekyk word totaal te verander.
Anime en mangha is reeds vir ‘n lang tyd nie meer uitsluitlik Japanees nie, hoewel dit groter gewildheid in Japan geniet as rolprente met werklike akteurs. Dit word vertaal of oorgeklank na baie tale en het groot aanhang in verskeie lande. Die Suid-Afrikaanse televisie- en filmindustrieë het al van hierdie media uitgereik met matige sukses, en mangha kan al by die meeste boekhandelaars aangeskaf word. En behalwe vir die flieks en strokiesverhale, verteenwoordig hierdie kunsvorm ook ‘n groot markaandeel in speelgoed en videospeletjies.
Een gebied van die Japanese visuele kuns wat meer aktief en prominent is as in enige ander vergelykbare veld elders, is die aanhangerkorps se deelname aan die stories en karakters. ‘n Groep van aanhangers wat ‘n belangstelling deel word ‘n dodjin genoem. Hulle sal dikwels deelneem om die storielyn of die lewe van ‘n karakter uit te brei deur sylyne tot die hoofstorie uit te brei met hul eie skeppings wat dodjinsji genoem word. Die persoon (of persone) wat self die uitbreiding skep sal ‘n dodjinka genoem word. Hierdie skeppings is in baie gevalle uiters gewild en daar word soms baie betaal deur versamelaars – maar die verstommende feit is dat die Japanese industrie nie teen hierdie vorm van deelname gekant is nie, maar dit eintlik aanmoedig.
Die bekendste rolprent-uitreiking in Suid-Afrika was die fantasierolprent Spirited Away wat saam met Disney uitgereik is en wat talle rekords internasionaal gebreek het.
Die onlangse fliek Ghost in the Shell, is ‘n voorbeeld van ‘n mangha skepping wat só suksesvol was dat dit later in anime voortgesit is en toe uiteindelik as ‘n vollengte Hollywood-produksie met groot akteurs gereïnkarneer is.
Manga en anime is nie vir almal nie, maar gaan kyk gerus na skeppings van hierdie aard om ‘n ander perspektief op die WF+F te kry as waaraan ons gewoond geraak het – dis nogal heel verfrissend…