deur
F.W. Reitz
(1844 – 1934)
_____________________________
As jy miskien nog met jou maat
Bo in die dorp sit lag en praat,
Vergeet jy jy moet huis toe gaan,
Anders sal Elsie vir jou slaan;
Sy sit al by die vuur en brom:
“Ek kry hom soos hy huis toe kom.”
Jammer dat mans so selde hoor
As hulle vrouens vir hul knor;
Dit is maar so: “Hul kan maar praat,
Ons luister tog nie na hul raad.”
Dat dit so is, het Klaas Geswind
Een donker nag ook uitgevind;
Hy ‘t lelik in die knyp geraak,
Toen hy terug ry van die Braak.
Had Klaas geluister na syn vrou,
Dan had dit hom nog nooit berou;
G’n dag gaan om of sy vertel hem:
“Maar Klaas, jy is tog al te skelm,
Nog nooit is jy van huis gewees,
Of jy gedraag jou nes ‘n bees,
En loop Koos Tities met jou mee,
Dan gaan dit woes met julle twee.”
Een aand, in plaas van huis toe gaan,
Bly Klaas nog in die dorp en staan.
“Nou, arrie! moet jul my trakteer –
Kom kêrels, gooi maar nog ‘n keer!”
Hul gee oom Klaas ook nog ‘n dop,
Toen was hy net mooi hoenderkop.
Nou skeel dit niks, al word dit nag,
Hy bly maar daar gesels en lag;
As Klasie eers begin te slinger,
Dan kan jy glo hy sal mallinger.
Plesier is nes ‘n jong komkommer,
As jy hom pluk, verlep hy sommer;
Of nes ‘n skilpad in syn dop in,
Soos jy hom vat, dan trek hy kop in.
As Klaas vanaand syn huis wil haal,
Dan word dit tyd om op te saal;
So klim hy Kol maar saggies op,
En druk syn hoed vas op syn kop.
‘n Flukse merrie was ou Kol,
Al was haar rug ‘n bietjie hol;
Eers fluit die ou, want hy was bang,
Die neën-en-neëntigste gesang,
Dan kyk hy weer ‘n slaggie om
Of daar miskien g’n spook aankom.
Voor hy vanaand syn huis kan kry,
Moet hy die kerkhof nog verby.
Die drank is tog ‘n snaakse goed:
Hy gee die bangste kêrel moed.
Al is ‘n Hotnot nog so olik,
Een sopie maak hom netnou vrolik;
Steek hy maar net ‘n dop of drie,
Dan stuit hy vir g’n duiwel nie.
Maar Klaas het darem naar gelyk,
Toen hy daar in die kerkhof kyk:
Syn bloed het wonderlik gekook,
Toen hy gewaar hoe dit daar spook:
Daar speul die duiwel op ‘n tromp
Vir veertig spoke in ‘n klomp:
Hul dans daar rond dat dit so gons,
Geen ouderwetse kotiljons,
Maar eers “Aleksander Klipsalmander”
Trap hulle algar met malkander;
Toe was dit weer die “hondekrap,”
Totdat die sweet so van hul tap!
Die goed was byna poedelkaal,
En kyk, die vrouens was té skraal,
Maar een daarvan, ‘n bietjie dikker,
Maak so ‘n uitgehaalde flikker
Dat Klaas, plaas van syn bek te hou,
Skree: “Arrie, dit was fluks van jou!”
Soos hy dit seg, toen moet jy ja,
Die heel boel sit hom agterna.
“Kol, loop nou dat die stof so staan,
Anders is Klaas vanaand gedaan!
Kom jy maar net die drif verby,
Dan dalkies raak jou baas nog vry;
‘n Spook is net ‘n bokkapater,
Hy loop nie sommer in die water.
Toe, Kol, die duiwel sny jou spoor!”
Hier lég die drif – hiert! – sy’s daaroor;
Haar stert het hul glad uitgeruk,
Maar Klaas is los, dis syn geluk.
Vir dié wat lus het om te draai,
Wil ek maar net een woordjie raai:
Gedenk aan Klaas Geswind syn perd,
En vraag jouself: waar is haar stert?