Jaco van der Merwe – 2023 Wenner

Eendag…….vir een dag meer

geskryf deur

Jaco van der Merwe

 

 

The smoke is flying everywhere,

I’m getting the feeling it’s the end for you

And me

And I know that we might be through,

But I – I’ll never let go of you

 

– Deadmau5, Silent Picture

 

 

Deel I

Tyd wag vir niemand

 

Nou

Verblindende lig. Hy voel sy liggaam letterlik uitmekaartrek. Hy skreeu. Hy kan nou al onderskei tussen die verskillende stadiums, ten spyte van die oombliklike verandering. Vel eerste. Dan spiere. Ligamente.  Been. Hy voel dit tot op ’n molekulêre vlak. Teen hierdie tyd is alle sintuie reeds nutteloos. Maar hy vóél dit.

Dit raak nie beter nie. Daar is dinge waaraan mens nie gewoond kan raak nie.

As dit net hierdie keer sal werk…

 

Toe

(Minus Drie dae)

1

Renier se liggaam ruk. Nie heeltemal ’n spasma nie, meer soos ’n wakker ruk uit ’n nagmerrie. Hy trek kosbare lug in sy longe in. Suig aan die lug om hom. Sy stembande werk nie heeltemal nie. Beter so, aangesien die skreeu wat hy begin het steeds aangaan. Hy klap sy mond toe, sak terug op die bed. Uitasem. Sy oë nog toe. Het hy ’n vrouestem hoor skreeu? Was dit net hy?

Rustig. Rustig, paai hy homself. Begin met die basiese. Diep teue. Kry die longe aan die gang. Die pyn raak meer hanteerbaar. Hy voel trane teen die kante van sy gesig loop. Oë sper oop. Knip. Dofheid vervaag. Of die wêreld word helder. Nog nie seker welke een van die twee die werklikheid is nie.

Vingers. Tone. Styf, maar die styfheid onttrek ook stadig. Stadig maar seker. Bene. Arms.

Die sug trek vanuit sy stuitjie, of so voel dit vir hom.

Bed. Sy vingers streel oor skoon linne. Anders as waaraan hy gewoond is deesdae. Hy lê vir ’n wyle. Hy het dit gemaak. Maar hy is te bang om te kyk. Wat as…?

Iets prik aan sy gedagtes. Paniek! Hy spring op. Die tas! Dis nie by hom nie! Hy soek vervaard rond. Die bed om hom is leeg. Sy hart klop in die rigting van ’n hartaanval. Meer as drie jaar se werk! Nee! Hy kan nie oor begin nie! Nie na alles wat hy moes deurmaak nie!

Op die vloer.

Hy val op sy knieë langs die ou leer tas. Die verligting skeur sidderend uit sy bors. Hel Renier, jy word oud, verwyt hy homself. Hy maak die gespes los. Die notaboek. Die los papiere. Die drukspykers en rooi lint. Alles is daar.

Renier dwing homself orent. Vermy die bedkassie weereens. Hardloop vir die badkamer. Hy maak dit amper nie. Soos altyd is die toilet se sitplek op. Hy bly alleen. Hoef nie ander se opinies in gedagte te hou nie. Die inhoud van sy maag verlaat hom met aggressiwiteit wat persoonlik voel. Hy spoel sy mond. Dwing homself om in die spieël te kyk. Staar lank. Die oë is moeg. Die plooie om die mond en oë is meer pertinent. Hare bietjie meer grys as die laaste keer? Of die eerste keer? Gaan iemand oplet? Iets sê? Moet hy oorweeg hoe om so ’n vraag te antwoord? Die maklikste is om mense te vermy waar moontlik. Gelukkig is hy goed daarmee. Net een persoon tel nou.

Hy stap stadig terug na die kamer. Die son stoot stroke deur die gordyne. Dis net na 10 in die oggend. Dit weet hy uit ondervinding. Die vraag wat hy vermy, waarvoor hy bang is – is watter datum? Hy gaan sit voor die bedkassie, bestudeer die patrone op die mat. Dwing sy oë opwaarts. Die elektroniese skerm tart in blou neon.

13 April 10:05

Hy sit koponderstebo vir ’n ruk. Voel verslae trane weer opstoot.

Dit het nie verander nie.

2

“Die fliek was okay,” sê Eugene. Renier hou hom dop uit die hoek van sy oog. Sy seun. Agtien hierdie jaar. ’n Mylpaal wat buite bereik bly.

“Pasop vir die…”

“Taxi. Ek sien.” Renier draai net genoeg uit te verhoed dat sy spieëltjie weer afgery word. Die Taxibestuurder lê op sy toeter. Sandton of nie, Taxibestuurders bly dieselfde.

“Hel, Pa,” sê Eugene.

“Ek het hom gesien. Raak rustig.”

Eugene draai terug. “Hulle dink hulle besit die paaie.”

Renier knik net. “Die fliek?”

“Kyk. Die hele ding was ’n visuele wonderwerk.”

Renier grinnik. “Visuele. Wonderwerk. Jy is mos nou al lankal klaar met skool. Wie wil jy beïndruk?”

“Niks fout met ’n behoorlike gebruik van jou volkstaal nie.”

“Volkstaal?” Renier salueer sy kind. “Ek sit ademloos hier neffens jou.”

Eugene sê iets binnesmonds.

“Ekskuus? Herhaal?”

Hy grinnik. “Ek het niks gesê nie. Miskien was dit net die stimulerende gebruik van woorde wat ’n bevredigende uitkoms ondersoek het.”

“Jy moet jou stimulasie op ’n ander plek gaan soek, ou maat. Nie in my kar nie.”

Eugene gooi ’n hand dramaties in die lug. “Die troosteloosheid van ’n lewe sonder erkenning vir die merkwaardigheid wat ek uitstraal.”

“Nè? Jy gaan nou-nou iets anders uitstraal.”

Hy lag. “Ek het net hardop gedink. Ten minste kan ek.”

“Regtig?”

“As die kierie pas…”

“O? Nou is ek oud?” Renier mik ’n speelse hou in die rigting van sy seun se kop. “Ek het al meer vergeet as wat jy weet.”

“Jare terug! En dis die vergeet wat die probleem is, Pa!”

Die speelse hou tref Eugene teen die agterkop hierdie keer. Luidkeelse, dramatiese protes volg.

“Ek is honger,” glimlag Renier. “Waarvoor is jy lus?”

“Pasta?”

“Pasta. Dit sal so wees.”

“En wanneer ons by die huis kom, sal so bietjie Call of Duty dalk ’n goeie afleiding wees.”

Sy pa kyk na sy horlosie. “Ek dink ons het genoeg tyd dat ek jou ’n ding of twee wys.” Hy weet presies wanneer sy eks gaan opdaag, so dis maklik om haar te vermy.

“Wat? Die ou toppie gaan mý iets wys? Suuuuuure. Verlede week sê anders.”

“Net omdat jy en jou vriende heeltyd sit met julle FPS’s. Maar ek is steeds beter as jy.”

Sy seun lag. “Ons sal sien. Dis daardie ou oë wat Pa in die steek laat, nie die tegniek nie.” Hy tuit sy lippe. “Korreksie, dis tog dalk eerder die tegniek meer as die ouderdom. Of die tegniek as gevolg van die ouderdom.” Hy kyk gemaak nadenkend in die lug. Vryf sy ken.

“Ja, ja. Hoe skiet mens met knoppies? Jy weet wat het gebeur toe ons verfbal gaan speel het. Om regtig te mik is heeltemal anders. So sê al die blou kolle wat jy gekry het.”

“Dis anders,” verdedig sy seun. “Videospeletjies is vir my geslag.”

“Jy weet ek speel al langer as wat jy leef, reg?”

Eugene maak of hy die stelling oorweeg. “En steeds is ek beter. Dit sê nogal iets.” Hy duik onder die klap wat weer in sy rigting gemik word.

“Kom, ek is honger!”

3

Die drankwinkel is stil. Wat Renier pas. Hy wil nie raakgesien word nie. Wil nie tyd mors met praatjies nie.

Tyd is alles.

Energiedrankies ratel in die trollie. Hy het so te sê alles gevat in die yskas. Koffie is net nie meer genoeg nie. En een bottel Johnnie Walker. Die kassier is steeds die jong meisie met die blou hare. Die tatoeëermerke oor haar arms is steeds dieselfde. Hy het nie regtig gedink dit sal verander nie. Sekere dinge bly dieselfde. Hy pak die boks in die Audi. Kos. Hy gaan iets moet doen vir kos. Wegneemetes is nie meer wat dit was vir hom nie. Woolworths staan uitnodigend op die punt van die sentrum. Hy gooi pakke mikrogolf-etes in daardie trollie. Genoeg vir weke. Die rit terug huis toe is ’n waas. Hy probeer onthou of hy hierdie kant omgery het. Of dit ’n verskil maak. Dit voel of hy dinge begin vergeet. Alles vloei ineen. Wat ’n probleem is.

By die huis gooi hy helfte van die kos in die yskas, die res in die vrieskas. Die energiedrankies stapel hy in die deur van die yskas. Die boks sommer op die vloer langsaan. Hy sal aanvul soos hy gebruik. Knak die eerste blikkie. Hy het werk om te doen.

4

 (Minus Twee dae)

“Jy weer met jou ma vasgesit?” Hy weet dit reeds.

Eugene kyk na die vloer tussen sy voete. Renier sit die radio af en hulle ry in stilte vir ’n ruk.

“Ma sê jy is veronderstel om weg te wees vir werk. Sy dink jy is…” hy sukkel met die woorde.

“Onverantwoordelik?”

Sy seun knik. Teensinnig: “Ander woorde ook.”

Hy wil nie betrokke raak in die bakleiery nie. Die egskeiding was nie maklik nie. Renier kan nie dink dat enige egskeiding maklik kan wees nie, maar elkeen het sy eie drama. Die verwyt loop egter oor na die kinders. Iets wat hy probeer vermy. Veral nou.

Die sondes van die vaders.

“Ek is jammer.”

Die jong man – want hy is ’n jong man, se kop bly hang. Renier haat dit om hom so te sien. Hy werk deur die antwoorde, besluit op ’n generiese, veilige: “Ek het ’n paar dae afgevat. My baas verstaan. Hy skuld my meer as dit in elk geval. Hoekom sal ek dit nie met my seun spandeer nie?”

“Sy sê Pa het die twee laaste maande nie onderhoud betaal nie.”

“Ek weet. Daar was…’n paar dinge wat ek eers moes uitsorteer.”

Met ’n onseker knik: “Is Pa okay?”

Die koue vingers klem sy binneste. Sy keel trek toe en hy forseer ’n glimlag. “Natuurlik. Hoekom vra jy?”

“Dis net…” hy sukkel om die regte begrip uit te druk. “Dis asof Pa iets wegsteek.”

“Ek…”

Sy seun hou ’n hand op. “Ek bedoel dit nie lelik nie. Dis net…dis asof Pa bekommerd is heeltyd. Iets pla.”

Die glimlag is minder geforseerd. Die beklemming nie. “Dis niks nie, regtig.” Sien hy die grys, die plooie? Die vinnige, skewe kyke is meer opvallend hierdie keer. Hy gaan dit nie kan wegsteek nie. Nie meer vir lank nie.

Eugene draai sy kop en die volwassenheid in sy blik steek deur sy pa. “Linkin Park?”

“Natuurlik. Daar is nie ander musiek wat regtig tel nie,” die glimlag is nou eg. “Meteora?”

“Meteora,” beaam sy seun.

“Ek is bly ons kan vandag ook saam spandeer,” sê Renier. Die pyn kom amper deur in sy stem. Hy onderdruk dit met alle mag. Dit mag nie die tyd wat hy het nadelig beïnvloed nie.

Nie weer nie.

Eugene probeer ’n ligter toon. “Ma was maar ’n bietjie moeilik, maar ek het haar oortuig.” Hy slaag nie heeltemal nie.  Sy stem sê dit was nie maklik vir hom nie.

“Ek is seker.” Hy is self nie seker watter gedeelte van die stelling hy beaam nie. “Die Planetarium se program het iets van Swart Gatte gesê.”

“Black Holes, Pa. Dit klink darem maar verskriklik as Pa dit in Afrikaans probeer uitdruk.”

Hy lag. “Ek is seker dit is erkende Afrikaans.”

“Moontlik erkende Afrikaans, maar beslis nie erkende-direk-vertaalde begrippe nie!”

“Ja, ja, ja. Jy moet jou taal met trots besin soos jy weereens hier neffens my sit.”

“Pa klink soos Oupa.”

“Oud of volleerd?”

“Uhm. Moet ons nie hier afdraai nie…?”

5

Renier staar na die muur. Daar is iets wat hy mis. Iets wat hy moet verander. Dan sal alles anders uitdraai. Maar wat? Hoe? Hoekom werk dit nie? Hy knak nog ’n blikkie oop. Kyk na die Johnnie Walker.

Nog nie tyd daarvoor nie.

6

 (Minus Een dag)

“Wanneer moet Pa weer terug wees?”

“Terug wees?” Die ironie betrap hom onverhoeds.

“Werk,” lag sy seun. “Skoolvakansie is vir skool. Pa is mos nou mooi groot.”

“Wat beteken dit? Ek is ouer as jy, so jy beter respek betoon!” Hy glimlag breed.

“Oor die muur…”

“Ek gaan jou nou oor my skoot trek.”

“Ek is klaar langer as Pa. Ek is nie bang nie.”

“Ek is steeds dikker as jy. Wil jy probeer?”

Beide lag gemaklik.

“Okay. Miskien eendag as Pa ’n ses-pak het, dan gesels ons weer.”

“Ek het nie ’n ses-pak nodig om die snot uit jou te wetter nie.”

Eugene hou ’n vinger dramaties in die lug. “Dit is kindermishandeling!”

“Jy is ’n kind?”

Hy oorweeg die wending van die gesprek. Ernstiger as nodig antwoord hy: “Seker nie.”

Die gesprek hel oor na die verkeerde kant toe.

Nie vandag nie.

Net nie vandag nie.

“Kom ons gaan kyk na daardie Gaming-chair wat jy jou oog op het,” verander Renier die onderwerp. “Kersfees is oppad.”

“Kersfees is nog maaaande weg.”

“Mag wees. Maar dis nooit te vroeg om inkopies te begin doen nie!”

Die glimlag van sy seun beteken alles vir hom.

7

 (Die dag)

Vandag

Hy omhels sy seun.

Styf.

Die normale ongemaklikheid wat ’n tiener ten toon stel, is afwesig. Sy seun klou amper aan hom.

Weet hy?

Vermoed hy?

Sekerlik nie…

“Dit was regtig lekker, Pa. Dankie.”

Emosies dreig om uit te borrel. Renier sluk ’n paar keer, sy stem nie heeltemal normaal nie. “Dit is alles my plesier. Ek is bly ons kon die paar dae net…net saam wees.”

Hulle hou nog ’n oomblik vas dan tree sy seun terug. ’n Breë glimlag maak dit die mooiste gesig wat hy nog gesien het. “Ek sal hierdie tyd nooit vergeet nie.”

“Dankie, Pa.”

Renier skud sy kop. “Nee. Dit is ek wat moet dankie sê.”

Dit lyk amper asof sy seun hom gaan soen. Iets wat vir jare nie meer gebeur nie. Die gemeenskap se verwagting oor hoe ’n man moet optree het ’n negatiewe denkwyse laat ontstaan oor ’n pa en seun se verhouding. Nie net deur emosies te onderdruk nie, maar om gemaklik net…pa en seun te wees.

“Ek is lief vir jou, my kind.”

Dit is asof sy seun besef hierdie is meer as net ’n blote stelling. Soveel meer emosie daaragter.

“Ek is lief vir Pa. Weereens – dankie vir alles. Ek waardeer dit regtig so baie. Alles wat Pa doen vir my.”

Hy weet hy kan nie – mag nie – dit verder uitrek nie. “Jy moet jou uitstappie vanaand geniet. Kyk mooi na jou meisie. Veiligheidsgordels. En geniet elke oomblik, okay?”

“Pa!” Hoe mooi bloos ’n kind nog. Eendag sal daardie onskuldigheid ook nie meer daar wees nie.

Asof…

Eendag…

As tyd maar net anders kon wees…

Hy hou sy seun styf vas.

8

(Die aand)

Die Johnny is halfpad wanneer die oproep deurkom. Renier kyk na sy horlosie. Op ’n paar minute na, is die tyd dieselfde. Elke keer.

“Renier?” Die stem is dieselfde. Geskok. Hy onderdruk die simpatie wat opwel.

“Wat het gebeur?”

“Wat? Wat bedoel jy? Wat weet jy?” Hoe weet jy? Dis wat hy in haar stem hoor. Dis steeds net oor haarself. Sy moet eerste weet. Eerste wees. Die een wat nuus gee, nie ontvang.

Hy bly stil. Hierdie het te veel male uitgespeel vir hom om in te gee. Sy eie pyn is groter nou.

“Jou seun.”

Sy vingers druk die selfoon stywer teen sy oor. Trane vloei deur saamgeperste ooglede.

“Daar was ’n ongeluk.”

Die hoop flikker vir ’n kortstondige oomblik. Miskien hierdie keer?

“Hy is dood, Renier. Jou seun is dood.” Die foon val op die vloer. Haar stem is histeries. Dof. Hy weet egter wat sy sê.

Hy het dit twaalf keer al gehoor.

 9

(1 week later)

Hy los die begrafnis vir haar. Sy hou van reëlings tref. Hou daarvan om in die middel van dinge te wees. Miskien is sy selfgesentreerd. Miskien is sy net goed met hierdie tipe dinge. Miskien is dit hoe sy deel met die situasie.

Renier staan voor die muur.  Die notas met Prestik vasgedruk. Die diagramme. Die konneksies in rooi lint. Wat het anders verloop hierdie keer? Wat moet hy anders aanpak? Dis die Skoenlapper-teorie wat hom fassineer. Sy aan sy met tyd-strome en die paradokse wat daarmee gepaard gaan. Hy probeer weereens sin maak van die teorie. Hy het rolprente gekyk. Aanlyn artikels nagevors. Enigiets van Einstein tot Asimov. Maar alles is teorieë. Hierdie is werklikheid. Hy vryf sy vingers deur sy hare. Dit voel olierig. Hy ruik onder sy arms. Hy het ’n stort nodig. Dringend. Later. Die skoenlapper-effek blyk nie te werk nie. Nie in realiteit nie. Hy het na die derde sprong begin tred hou in ’n ou notaboek. Begin kyk of hy die verloop van gebeure kan verander. Beïnvloed op ’n manier. Sy seun sterf elke keer. Selfs die twee geleenthede waar hy Eugene probeer weghou van die aand se funksie. Hom selfs een keer uit die dorp gehou. Maar die realiteit – as jy wil – bring balans terug. Hy sterf later. Maar hy sterf. Dit is makliker om die gebeure in ’n sekere volgorde te hou. Makliker om te probeer beheer. Makliker om so ’n oplossing te probeer vind. Wat ook ’n paradoks skep.

Hy neem ’n sluk Johnnie. Sommer uit die bottel. Sy oë is dof. Sy kop swem. Maar die antwoord is daar. Hy is seker.

Die tyd-sprong. Nou daar is die interessante een. Sovêr hy kon vasstel is daar twee populêre teorieë. Alles met tyd te doen. Hy lag. Natuurlik het dit met tyd te doen, dit is in die naam. Hy vryf oor sy gesig. As hy net met iemand kon praat hieroor. Tyd. Tyd is die vyand. Tydlyne. Dis wat hy aan gedink het. Hy gaan sit op die vloer. Kyk na die lyne wat hy teen die muur getrek het. Teorieë. Ja, dis waar hy was. Teorie een; jy kan nie iets verander nie. Jy kan nie teruggaan en Hitler doodmaak as ’n baba nie. Die balans sal ’n alternatiewe tydlyn skep. Hitler bly leef in die Primêre Tydlyn. In die Sekondêre Tydlyn is hy wel dood, maar balans veroorsaak iemand anders om ’n Hitler te word. Balans. Die uiteinde bly dieselfde. Moontlik verkillende name en tye. Maar steeds dieselfde uiteinde. Teorie twee; een tydlyn bestaan. Noem dit ’n Primêre, statiese tydlyn. Maar jy kan nie in dieselfde tyd twee keer bestaan nie. Enige veranderinge sal óf alles verander verder, óf die balans teorie skop weer in. En niks verander nie. Nie in beginsel nie.

Sovêr lyk die balans teorie van ’n statiese lyn die werklikheid te wees.

Hy los die bottel in die middel van die vloer. Voel om sy hare uit te trek. Gaan staan in die stort vir seker ’n uur. Hy mis iets. Hy maak geen verskil nie. Die feit dat hy teruggaan in tyd is al klaar ’n ontnugtering. Maar dis ’n Groundhog Day. Hy gaan elke keer terug na dieselfde tyd. Dieselfde dag. En hy verander niks.

Op die ou einde, verander hy niks.

10

Een ding wat nie verander nie, is hyself. Hy bly Renier. Vyf en veertig jarige, geskeide man.

Hy word egter oud. Letterlik. Tyd is anders vir hom. Indien sy berekeninge reg is, is hy nou so sewe en veertig. Moontlik selfs nege en veertig. Hy voel sestig.

Hy leef ’n gemiddelde drie maande of so, oor en oor.

En hy ontmoet homself nooit nie.

Die selfoon lui. Hy ignoreer dit. Vaagweg besef hy hy is obsessief. Kan nie anders nie. Hy weet wat hy wil vermag. Moet vermag.

Hy tel die bottel op wat op sy sy lê. Hy kan nie onthou hy het dit leeggemaak nie.

Die foon bly lui. Dit raak nou irriterend. Hoe laat is dit? Hy voel honger. Lyk donker buite. Hy lag vir homself wanneer hy spring van die donderslag. Ten minste het die foon ophou lui.

Wag.

Sy hart gaan staan.

Wagwagwag. Die begrafnis is môre. Maar die begrafnis is op die reëndag. Het ’n verandering plaasgevind? Of…?

Lood-been stap hy na sy kamer. Die elektroniese kalender flits in die sterk skemer. Dryf die spot met hom.

22 April 11:18

Sy knieë knak. Dis vandag! Wat het gebeur? Het hy ’n dag verloor? Vir ’n oomblik wonder hy of die elektroniese horlosie verkeerd is. Maar hy weet van beter.

11

Die diens is goed. Nes die vorige kere. Hy let nie regtig meer op nie. Al wat hy weet is al die oë is op hom. Hy het nie geskeer nie. Het nie weer gestort nie. Nie tyd nie. Die Sondagpak voel gekreukel. Hy ruik homself. Die Johnnie aan hom. Soos ’n naskeer, maar met alkohol. Hy grinnik. Die grinnik eindig in ’n snik. Laat hom verstik. Oë weer op hom. Hy sit voor in die Kerk. Het ingestrompel in die middel van die verrigtinge. Kan nie heeltemal die oë vermy wanneer jy laat is én voor gaan sit nie. Hy loer onderlangs na die ma van sy kind. Die ma van sy kinders. Dis snaaks. Hy kan nie eens haar naam uiter nie. Sy is nou niks meer nie. Niks meer vir hom nie. Dit vat nie enige van die haat wat hy in haar oë sien weg nie. Of is dit dalk eerder teleurstelling? Dis amper erger. Dit breek hom af. Alles is weg. Hy staan op. Mense trek asems hoorbaar in. Sy staar hom woordeloos aan. Hy gee haar ’n uitdagende kyk. Besluit dit is ook nie die moeite werd nie. Sy skouers sak. Hy gee nie meer om nie . Niks maak meer saak nie.

Net een ding.

Hy moet weer terugkom.

Weer probeer.

Sy lyk goed met haar hare los.

12

(Twee weke later)

Die rit na die Kaap was lank. Uitmergelend. Die notaboek lê oop op sy skoot. Daar is die taxi nou. Sy notas nog akkuraat sovêr. Haar naam is Precious. Diep in die veertig. Sy sukkel uit die taxi. Te veel pakkies. Dis iemand se verjaarsdag. Sy het gebak. Alles in boksies. Die boksies in Pick n Pay sakkies. Probeer om alles in plek te hou. Iemand stamp haar. Sy frons in die man se rigting, maar hy sien dit nie eens nie, reeds ’n halwe blok weg. Besef nie eens hy het iemand se lewe ’n tikkie meer negatief gemaak nie. Net ’n tikkie. Anders as wat gaan volg.

Renier staan op van die bankie, volg haar. Hou ’n veilige afstand. Dis nie moeilik nie. Die straat is besig. Pas hom weereens. Hy het opgegee om homself te probeer vermom. Hoed laag oor die oë, los baadjie – niks maak ’n verskil nie. Die sekuriteit is nie so goed soos mens in die flieke sien nie. So hy loop oop en bloot. Niemand kyk twee keer na hom nie. Meeste beweging om hom is studente. Hulle het meer belangrike aspekte van die lewe om na te gaan as ’n middeljarige man wat op die sypaadjie stap. Soos sosiale media. Almal stap met fone in die hand. Selfs dit is nie ’n probleem nie, het hy agtergekom. Die kameras. Hy het gedink dit sal ’n risiko wees, maar toe nou nie.

Hy versnel sy pas. Sekere gebeure vind meer konsekwent plaas in tyd, maak nie saak hoeveel keer hy spring nie. Twee mans stap agter die boom uit. Precious sien hulle nie eens nie. Een stamp haar. Hard. Sy trippel soos ’n ballerina om haar balans te hou, probeer die pakkies in die lug hou. Sy is minder suksesvol. Sy struikel oor haar eie voete en slaan neer op die sement. Uitroepe van die omstanders. Renier draf vinnig nader. Precious se aandag is op die plastiek sakkies. Haar handsak lê los in die waai van haar arm. Die een man gryp daarna. Sy probeer haar arm inbuig om hom te verhoed om die handsak te vat. Sy is weereens minder suksesvol. Renier stamp aan die man net toe hy die handsak uit haar greep trek. Hy gee ’n paar treë, maar is van balans af, beland op een knie. Renier gryp na die tweede man. Die man gee hom ’n vuishou in die gesig. Hy voel ’n dowwe dreuning. Sy neus brand. Bloed warm oor sy lippe. Die twee mans hardloop. Niemand keer hulle nie. Almal te besig om fotos en videos te neem.

“Jy okay?” Renier se hand rus op Precious se skouer.

Sy knik, verdwaas.

“Moenie opstaan nie. Sekuriteit sal nou hier wees. Hulle sal sorg dat jy mediese behandeling kry.”

Sy knik steeds deurmekaar, huil sagweg. Haar oë op die versiersuiker en stukkies koek wat nou tussen die blare op die sypaadjie lê. ’n Hele aand se werk.

Hande gryp hom aan die skouer. Rof. Die omstanders tree in vir hom. Hy laat die gesprekke oor hom vloei. Almal het iets gesien. Almal kan dalk die rowers uitwys. Almal wil belangrik wees. Deel wees.

“Het jy seergekry?” vra een van die Kampus Sekuriteit.

“Ek voel duiselig. Hy het my redelik hard geslaan,” lieg Renier. Hy struikel so effens waar hy staan.

“Kom, ons kry jou by die kampus. Iemand sal jou help.”

13

Die sekuriteit kamer is klein. Renier se neus het ophou bloei. Hy hou die nat lap steeds op sy bolip. Dit versterk die illusie van sy onskuld. Die sekuriteitsbeampte is jonk. Dis hoekom hy die verklaring afneem. Sy kollega help vir Precious by die mediese kamer, wat verseker die meer belangrike party is tot hierdie insident. Hulle vrees reeds ’n hofgeding. Wil nie hê die blaam moet in hulle rigting geslinger word nie. Dit sal nie, maar Renier gaan nou nie dít met hulle deel nie.

“Jy seker dit was twee swart mans?” Die vrees vir rassisme op die kampus is tasbaar.

Renier vryf die brug van sy neus. “Jy weet, ek dink my bloedsuiker is bietjie laag.”

Die jongman hou op skryf. Sy oë hoopvol op Renier.

“Ek kan doen met ’n Coke.” Hy haal sy beursie uit. “Maar ’n regte Coke. Nie een van daardie wat suikerloos is nie.”

“Natuurlik.” Hy aanvaar die vyftigrandnoot vanaf Renier. “Anders sal dit nie help met die lae bloedsuiker nie.”

“Net so,” sê Renier. “Julle is regtig behulpsaam. Kry vir jou ook een?”

Renier gee hom ’n oomblik voor hy opstaan en die deur weer toetrek. Die naaste Vending masjien het net die dieet blikkies. Hy het ten minste agt minute.

Die probleem met die tyd-spronge is dat dit nie elke keer presiese gebeure daarstel nie. Daar is ’n vloeibaarheid tot die loop daarvan. So byvoorbeeld kan die sekuriteitswag langer wegbly. Of vroeër terugkom. Die toegangskaart wat Renier nodig het, kan in die regter, boonste laai wees waar dit gewoonlik gegooi word. Soms in ’n ander laai. Of hierdie keer kon Johnny, die sekuriteit-outjie, die kaart in sy sak hou. Johnny Bravo met daardie kuif van hom. Renier trek die laai oop. Ou notaboeke. ’n Krambinder. Boksie met krammetjies. Rekkies. Om een of ander rede het laaie altyd dieselfde inhoud. Dis universeel. Geen kaart nie. Renier se hart gee ’n sprong. Wat as dit nie hierdie keer…

Die derde laai hak vas as gevolg van ’n boksie wat skeef gedraai het in die oorvol binneruimte. Hy druk ’n vinger aan die kant in om die boksie plat te druk. Dit het al eenkeer gebeur. Die sekuriteit se stem aan die buitekant. Renier swets. Hy sou die deur wou oopmaak voor die jongman terugkom. Hy druk desperaat aan die boksie. Die kaart lê daaronder. Hy sien dit. Die deur gaan oop. Renier skuif die laai toe, staan vinnig op en maak of hy by die venster uitkyk.

“Hier, meneer.”

Hy draai om, glimlag geforseerd. Wonder of sy gesig so rooi is soos dit voel. “Dankie. Waardering.” Hy knak die blikkie oop. Die gas is te veel, slaan sy asem weg. “Is ons amper klaar?”

14

Die kaart spin tussen sy vingers. Hy was nog nooit goed met die partytjie truuk nie, maar dit maak nie saak nie. Die kaart val. Precious se foto staar op na hom. Die handsak lê op die koffietafel. Die twee het die beursie se inhoud geneem asook die vyf honderd wat hy hulle betaal het.

Hy gaan vanaand moet teruggaan. Die stelsel by die Universiteit sal nie haar kaart opskort voor môre nie. Maar môre is te laat.

Het hy nou al twee keer gesien.

Hy kyk na sy horlosie. Hy het ’n halfuur nodig om by die kampus te kom. Maar hy kan nie te vroeg daar wees nie. Of te laat nie. Die skoonmakers moet klaar wees in die omgewing waar hy wil wees. Hy voel sleg genoeg oor Precious.

Die swak punt van hulle sekuriteit is die skoonmakers se kaarte. Dit bied meer toegang as die senior lektore s’n. Maar nie vir die laboratoriums waar hy wil wees nie. Waar hy moet wees nie. Hy het die sekuriteit se kaart nodig daarvoor. Dinge werk nie so lekker hierdie keer nie. Die gedagte om alles weer van vooraf te moet probeer doen, hardloop deur sy gedagtes. Maar wat as hy nie weer kan teruggaan nie? Terugkom nie? Wat as hierdie die laaste keer is? Wat as hy nie weer ’n geleentheid kry nie. Daardie gedagte lê soos ’n berg voor hom.

Hy sit met sy hande in sy hare vir ’n baie lang tyd.

15

Een ding wat die sekuriteit goed doen is om gereguleer te word. Die roetes is vasgestel. Die rapportering om op vasgestelde tye ’n kaart deur ’n slot te trek. Renier ken hulle roetes beter as hulle Spanleier.

Die studente het ’n funksie aan die gang. Baie beweging. Baie geraas. Hulle is jolig. Dronk of sterk op pad na salige dronkenskap. Drank en die hoop op seks lê swaar in die lug. Beligting is sporadies oor die kampus. Dis maklik vir Renier om oop en bloot koers te vat na die hoofgeboue. Sy tas is aan gespes oor sy skouer. Laat hom selfs meer lyk of hy hier hoort. Hy dra ’n los baadjie. Die kappie bedek sy kop. Niemand kyk in sy rigting nie. Die kaart werk die eerste keer. Vir ’n oomblik het hy gewonder.

Die sekuriteit by die Vending masjien se rug is na hom gekeer. Renier steek vas. Iets is nie reg nie. Hy tree stadig terug na die sygang waarvandaan hy gestap het. Stadig sodat die beweging nie die sekuriteitswag se aandag trek nie. Die man het ’n wapen aan sy sy. Kampus Sekuriteit dra nie vuurwapens nie. Sy hart timmer teen sy ribbes. Dis ’n eerste keer. Vir die eerste keer in ’n lang tyd weet hy nie wat om te doen nie. Sy notas nutteloos. Sy ervaring beteken niks. Hy loer om die hoek. Die wag is reeds weg. Maar watter kant toe? Die Vending masjien staan in die T-aansluiting van die gang. Renier loop versigtig nader tot hy voor die masjien staan. Hy sal maak of hy iets wou koop indien iemand kyk. Hy loer na beide kante. Leeg. Maar waar het die man heengegaan? Hy drafstap links. Die sekuriteit kamer is aan sy linkerkant, net voor die volgende sygang. Hy loer behoedsaam in die sygang af. Niemand. Stap terug. Die kaart ontsluit die deur. ’n Sagte sug van verligting. Die deur klik sag toe agter hom. Derde laai. Die boks is steeds daar. Hy lig dit uit. Die kaart is weg. Dit voel of alles inmekaarval. Miskien het hulle die kaart weer in die ander laai gesit? Hy trek die boonste laai oop. Dit bevat steeds al die gemors wat voorheen daarin was. Geen kaart. Hy trek die tweede laai oop. Niks. Wat is aan die gang? Renier kyk rond. Desperaatheid borrel op, laat hom snak na asem. Was hierdie die laaste geleentheid? Hy gaan sit plat op die vloer, vryf sy hande deur sy hare. Dit neem ’n mate van selfbeheersing om nie sy hare uit sy kop te trek nie. Letterlik. Hy onderdruk die brul van wanhoop. Gee ’n uitgerekte grom binnesmonds. Wat het verander!?

Beweging aan die buitekant. Renier kyk op na die deur. Hy gee nie meer om nie. Die voetstappe beweeg verby. Patrollie. Hulle gaan seker…

Hy spring op. Die laboratorium. Dalk is daar ’n ander manier om toegang te verkry? ’n Venster hierdie keer. Die masjien se konstruksie is reeds voltooi. Net nog nie reg vir gebruik nie. Eers oor twee maande. Of so glo hulle. Renier het nog elke keer die eerste vlug (tog) geïnisieer. Hy maak die deur sag oop. Geen beweging. Hy glip uit, maak die deur toe. Wonder of hy die laaie moes afvee hierdie keer. Iets wat hy nog nie in berekening gebring het nie, is die feit dat hy vingerafdrukke los. Die tyd sprong na die verlede het dit onbelangrik gemaak om versigtig te wees. Meer so na hy besef het die tyd herstel elke keer. Behalwe homself, begin alles van nuuts af. So sekere handelinge maak nie saak nie.

Soos die aanranding van Precious?

Renier onderdruk die stem, hou die kaart stywer vas in sy broeksak. Die gange is leeg. Die deur na buite klik oop. Vars aandlug koester sy warm gesig. Musiek donder êrens in die vêrte. Hy buk vooroor. Voel of hy wil opgooi. Trek lug diep in sy longe in. Paniek aanval?

“Jy oraait daar, ou bees?”

Renier trek die kappie oor sy kop. Kom stadig orent. Drie studente, twee seuns en ’n meisie. Seuns. Hulle lyk so oud soos Eugene. Hy knik, probeer sy gesig in die skadu hou. Nie seker hoe suksesvol hy is nie. Die laaste wat hy nóú nodig het, is die aandag van kampus sekuriteit.

“Lyk of hy ietsie nodig het,” sê die meisie. Sy klink dronkerig. Die twee jongmans dra ’n koelboks tussen hulle.

“Jy slaan die spyker op die kop,” sê die een hoog dawerend. Hulle sak die koelboks tot op die grond met ’n spoel van halfgesmelte ysblokkies. Behendig beland ’n koue bottel in Renier se hand.

“Niks in die lewe is absoluut. Behalwe vodka!” sê sy maat slim. “Alkohol proe beter as trane! Loop enkel, sien dubbel, drink trippel!”

Renier wag tot hulle ’n ent weg is. Die bottel koel in sy hand. Hy besef nou eers hoe dors hy is. Hoe ernstig hy hierdie nodig het.  Die alkohol vloei strelend in sy keel af. Hy trek die kappie stewiger oor sy kop. Begin bekommerd raak oor kameras nou. Alles verander, so sy vorige ervaring bied nie meer ’n veiligheidsnet nie. Die leë bottel klinkel in ’n asblik.

16

Die laboratoriums is ’n entjie se stap weg. Precious se kaart gee hom weereens toegang tot die gebou. Dit gaan hom nie in die laboratoriums toelaat nie, maar hy is gemaklik met die idee. Wil net sien. Seker maak. Sal later ander planne maak.

Die vrees hamer in sy bors. Sy maag trek saam. Hy pers sy lippe saam. Die gange is donker. Die groot vensters aan die kant verleen egter genoeg lig om te sien waar hy heengaan. Dit is nie asof dit die eerste keer is nie. Hy ken gedeeltes van die kampus beter as die studente. Hy gaan staan voor die groot dubbeldeure. Naamplaatjies aan die kant in verskeie kleure gee verwysings waarheen om te gaan vir die verskeie laboratoriums. Hy stel net in een belang. Teoretiese Studievelde.

Die kaart verskaf toegang deur die dubbeldeure. Hy het nie anders verwag nie. Dis die eindpunt self wat die probleem gaan wees. Hy stap die helling af na die laboratorium aan die agterkant van die gebou. Die deure lyk soos die van ’n maksimum sekuriteit tronk. Versterkte, waserige glas wat lyk of dit ’n kanonkoeël kan weerstaan. Renier staan stil voor die deur. Wonder hoekom hy die moeite gedoen het. Hy weet daar is geen manier om hier in te kom nie. Wat het hy verwag? ’n Teken wat verklaar hulle doen Tydstudies? Kom in, kom in! Verbaas jou vriende! Gaan terug in tyd en sien hoe die dinosourusse uitgesterf het! Wil jy jou seun se lewe red? Stap in! Ons kan jou help!

Hy skuif die kaart deur die slot. Die liggie spring van rooi na groen. Sy hart ruk. Hy staan besluiteloos. Die liggie spring terug na rooi.

“Wag! Neeeee!” Hy trek die kaart weer deur. Ten spyte van sy verwagting, spring die liggie weer na groen. Hy druk die deure oop. Stap stadig na binne. Sak neer op sy knieë.

Die massiewe vertrek staan leeg.

17

Johnnie Walker gee berading. Renier is reeds deur ’n kwart van die nuwe bottel. Sommer so skoon. Doen weer nie moeite om ’n glas vuil te maak nie.

Het hy die tydlyn verander? Gebreek? Wat het hy anders gedoen? Hy staar na die muur. Aangevulde notas vasgedruk langs die diagramme wat reeds op is. Hy het die begrafnis amper gemis. Maar sekerlik is dit nie genoeg om ALLES te verander nie. Want alles is nou anders.

Die bottel spat aan skerwe teen die muur. Sy notas verkleur in die stroom van alkohol. Renier gaan lê vooroor op die vloer.

Asof hy bid.

Rou ruk deur hom.

_____________________________

Deel II

Tyd heel alles

18

Louise Steenhuysen staar na die lêer voor haar. Fotos duideliker as verwag. Koerantuitknipsels van ’n ongeluk. Die opskrif verkondig die dood van ’n tienerseun. Sy meisie in die hospitaal met ’n gebreekte been (in twee plekke), ribbes wat ’n long ge-sosatie het. ’n Gekraakte skedel. Maar sy leef. Sal bietjie moeiliker die lewe aanvat, maar sy leef. Die betreklike mooi gesiggie gaan nie heeltemal dieselfde wees nie. Louise sug. Partymaal wil jy dalk ook nie weet hoe jy gaan lyk wanneer jy ouer word nie. Haar oë dwaal terug na die seun. Die oorsaak van alles. Sy skommel die fotos. Die foto van die pa beland bo. Renier du Toit. Sy skuif die getikte papiere na die kant. Geskeide pa. Eiendomsagent. Niks buitengewoon. Maak ’n bestaan met sy inkomste. Tweede kind wat hulle aan die dood afgee. Hulle dogter afgestaan aan kanker toe sy agt jaar oud was. Ook nie so lank terug nie. Sy staar na die foto wat twee dae terug geneem is op die kampus. Net voor hy die gronde verlaat het. Sy voel geen simpatie vir die verslae uitdrukking nie. Skuif die fotos eenkant toe. Die eks. Madelyn du Toit. Louise skuif haar foto na links, die inligtingstuk na regs. Sy eertydse vrou. Onderwyseres. Weereens niks buitengewoon. Die opnames vanaf haar foon niksseggend. Renier het blykbaar nie veel om vir  haar te sê nie. Antwoord nie oproepe nie. Sy weet moontlik nie eens hy bevind hom tans in die Wes-Kaap nie. Niks konstruktief uit daardie rigting. Die gewone gesprekke met haar ouers en paar vriendinne oor die trauma wat sy deurgaan.

Sy maak die lêer toe. Niks wat regtig bruikbaar is nie. Die privaat speurder het sy werk gedoen. Dis seker nie sy skuld daar is niks om oor te rapporteer nie.

Haar selfoon lui. Haar duim huiwer oor die flikkerende groen deel van die skerm. Druk harder op die skerm as nodig.

“Enigiets?”

Die stem het ’n krakerigheid wat Louise irriteer, hoewel sy weet sy is onregverdig. Geen groet nie. Val net so met die deur in die huis. Sy het nooit gedink die afwesigheid van maniere sou so aan haar krap nie. Eie medisyne. “Nee. Maar dit beteken nie hy doen nie goeie werk nie.” Sy is nie heeltemal seker hoekom sy die speurder verdedig nie. Dalk uit beginsel.

“Ek weet. Betaal hom. Ons het hom nie meer nodig nie.”

Louise se mond gaan oop om iets katterig te sê. Besluit daarteen.

“Kry die sekuriteit om Du Toit op te tel.”

“Kampus sekuriteit gaan nie…”

“Moenie maak of jy onnosel is nie. Ek weet jy is nie.” Na ’n oomblik: “Ons weet beide jy is nie.”

Louise knyp haar oë toe. Hierdie draai nie uit soos sy verwag het nie. Geensins. Sy is veronderstel om in beheer te wees. “Ek maak die nodige oproepe.”

“Beter.”

Sy begin wonder oor my, dink Louise. Sy haat om haar eie gesag op te gee, maar vra vir leiding in elk geval: “Wanneer?”

“Vanaand. Ek wil nie ’n spektakel op die televisie of sosiale media sien nie.”

19

Meyer, soos hy bekendstaan aan almal wat omgee, oftewel Nommer Een vir almal vanaand,  staar na die verligte venster. Die woonstel is een van daardie op die erf van die hoofhuis, maar wat ’n ent vêrder terug op die erf geleë is. Geen honde. Genoeg struike om ongemerk te beweeg. Geen sekuriteit of sensors wat beweging optel nie. Slegs intern vir die hoofhuis. Hulle stel nie belang in die hoofhuis nie, behalwe om alles so stil as moontlik te laat verloop.

Vyfman span. Bestuurder gereed in die SUV, ’n blok weg van die huis. Vier in die veld. Nie dat hierdie enigsins ’n probleem gaan wees nie. Hulle het genoeg intel gekry om die vraag te opper hoekom hulle talente so versmaai word. Maar geld is geld. En reputasie vra nie wie die onderwerp van ’n suksesvolle operasie was nie. Hy wys vir Twee en Vier om die woonstel van die kante te benader. Die agterdeur gaan sekerlik nie as ’n uitweg gebruik word nie, maar dis beter om seker te maak. Onder omstandighede, voel hy ’n mindere taktiese plan sal werk. Hy stuur die SMS na die teiken se selfoonnommer. Tel tot twintig. Klop aan die deur. Gee twintig tellings en klop weer. Harder. Drie staan met sy rug na hom, hou die hoofhuis dop vir beweging. Enige aandag op hulle sal die méér taktiese plan laat ontplooi.

“Meneer Du Toit? Ons wil graag met u gesels.”

Hy hoor beweging aan die ander kant. Goed so. Minder geweld. Minder kans om aandag te trek.

“Wie is dit?” vra ‘n gedempte manstem.

“Iemand wat kan help,” sê Meyer. Hierdie vat te lank. Drie tik hom sag op die skouer. Beweging. “Ons het nie baie tyd nie, meneer Du Toit. Jy het reeds ’n SMS ontvang. Ons sal waardeer om eerder van aangesig tot aangesig te praat.”

Stilte aan die ander kant van die deur. Drie tik hom weer op die skouer. Hy draai weg van die deur. Gee ’n sagte fluit. Twee en Vier verskyn soos skimme van die kante af. Hy beduie na Vier en na die huis. Maak ’n beweging met sy hand asof hy ’n bal op die grond bons. Draai sy palm na bo en maak dan ’n snybeweging oor sy keel. Hou hulle stil of maak seker hulle bly stil. Vier knik en beweeg van skadu na skadu nader aan die hoofhuis. Die eienaars is afgetrede man en vrou. Dit sal jammer wees, maar die instruksies is duidelik.

’n Sleutel draai in die slot van die woonstel se voordeur. Meyer stamp die deur oop sodra dit begin beweeg. Die man voor hom is ongeskeer. Ruik na sweet en drank. Vuil nagklere. Blou met wit strepe. Die man se oë sper oop, sy mond volg. Dis seker nie aldag dat hy ’n iemand in taktiese drag sien met ’n pistool in die hand nie. Meyer slaan hom teen die kakebeen. Sny die uitroep doeltreffend af. Die teiken beland op die vloer. Hy vee nie eens die bloed van sy mond af nie.

Meyer hou ’n vinger oor sy lippe, skud sy kop. “Iemand anders hier?” vra hy sag. Du Toit is veronderstel om alleen te wees, maar hulle het nie genoeg tyd gehad om behoorlike maatreëls in plek te kry vir waarneming nie. Hulle weet egter niemand het hom besoek in die laaste dag nie. Maar dit beteken nie iemand anders kan nie reeds hier wees nie.

Du Toit kyk hom net aan met groot oë.

“Ek gaan net een keer weer vra, reg so? Moenie dinge ongemaklik maak nie. Ons is nog rustig. Dis beter om dit so te hou.”

Du Toit knik.

“Daar is nog iemand hier?”

Du Toit skud sy kop.

“Drie.”

Drie stap weg van die deur wat hy op ’n skrefie oophou. Beweeg deur die klein woonstel, vertrek tot vertrek. “Skoon.”

Meyer knik na Renier. “Beter ons verstaan mekaar van die begin af. Werk dit vir jou?”

Hy knik.

“Gryp ’n sak. Skoon klere. Toiletware. Ons is uit binne vyf minute.”

Renier lig ’n hand asof hy op skool is.

“Vier minute, vyftig sekondes,” sê Meyer.

20

Hulle stop twee keer. Een keer vir brandstof, een keer vir ’n Wimpy ontbyt. Wat in die SUV genuttig word. Geen stop vir ablusies nie. Renier het ’n keuse. Doen dit langs die pad. Of doen dit nie. Plantegroei gee pad vir klippe en grond. Hulle bevind hulleself êrens in die Noord-Kaap, na sy berekening. Tussen êrens en nêrens. ’n Grondpad lei na ’n groep plat, beton geboue, omring deur dubbel, twaalf voet hoë doringdraad. Lyk vir Renier na ’n verlate weermagbasis. Gewapende wagte in woestyn kamoeflering laat hulle in by die rol-hek. Hulle klim uit en hy word in een van die geboue ingelei. Verskeie wagte staan rond in dieselfde kleredrag. Outomatiese wapens.

Hy word in ’n kamer ingestoot. Die deur sluit hoorbaar agter hom. Vir ’n oomblik staan hy en staar na die twee vensters teen die oorkantse muur. Tralies beskerm hom van die buitekant. Hy gooi sy toksak op die enigste meublement in die kamer, ’n bed. Kaal matras en twee kussings met geel vlekke. Hy gaan sit op die bed, laat sak sy gesig in sy hande. Wat is aan die gang? Hy is seker hulle verwar hom met iemand anders. (Dalk met iemand wat tyd spronge doen?) Die stem in sy kop wat die moeilike vrae vra, raak bietjie irriterend. Hy weet niks nie. Dit was net regte tyd regte plek.

Regte tyd.

Hy stamp sy voorkop teen sy palms.

21

Die deur slaan oop. Renier spring op. Het nie gedink hy sal kan slaap nie. Maar kyk nou. Die afgelope paar aande het hy geen slaap gekry nie. Nou slaap hy?  Hier? Hoe maak dit sin?

“Stort. Kom.”

Renier staar die man aan, bly sit op die bed.

“Ek gaan nie weer sê nie.”

Renier staan op. Vroetel in sy toksak vir ’n handdoek. Skoon klere is ook nie ’n slegte plan nie. Die stort laat hom beter voel. Hy skeer nie, maar sy hare is weer skoon. Laat hom weer mens voel.

“Sal vir jou kos bring. Sy sal jou later vanmiddag sien.”

“Wie?” vra Renier.

Die man sluit die deur agter hom.

22

’n Blikkie Coke (suikervry, ironies) vergesel ’n blikpan met bief bredie op rys. Na ete word hy uit die kamer gelei na buite. Die son sit so teen vieruur die middag. Sy skoene knars oor die sement na ’n ander gebou. Lugverkoeling klap hom in die gesig agter die dubbeldeure. Groot ontvangsarea. Nou gangetjie na ’n wagkamer. ’n Man sit agter die lessenaar. Ignoreer hom tot ’n elektroniese geluid hom laat opkyk. Hy knik in die rigting van die deur. Renier maak dit self oop en weer toe agter hom.

“Sit.”

Die vrou agter die lessenaar lyk of sy in haar middel dertigs is. Blonde hare styf na agter vasgemaak. Sy haal ’n dikraambril af en hou hom dop. Renier het genoeg deurgegaan die afgelope paar weke. Hy is moeg. Sit en staar haar net aan in stilte.

“Ek is verbaas,” sê sy.

Renier sit terug in die stoel, vou sy arms.

“Dat iemand soos jy soveel…ongerief kan veroorsaak.”

Renier het genoeg argumente in sy getroude lewe deurgegaan. Hy weet wanneer iemand hom probeer uitlok. Hou sy emosies op hok. Kalm: “Hoekom is ek hier? Wie is jy?”

Sy draai haar kop skeef.  Die hoek van haar lip spring effens. So asof sy haarself nie gewoonlik hoef bekend te stel nie. “Louise. Steenhuysen. En jy weet baie goed hoekom jy hier is, Meneer Du Toit.”

Hy skud sy kop.

Sy byt haar lip. “Ek is regtig nie in die bui vir speletjies nie.” Sy staan op. Huiwer toe hy ook opstaan. “Ons is vêr van alles. Hier is gewapende mense die hele basis vol.”

Hy hou sy gesig uitdrukkingloos. Is sy bang vir hom? Vir hom? Die ergste wat hy in sy lewe gedoen het, was om ’n nuwe ontwikkeling te verkoop teen veertig persent meer as wat dit werklik werd was.

(mense betaal om ander aan te rand)

(diefstal)

(inbraak)

Hy skud sy kop. Sien haar oë vernou. “Ek gaan nie moeilikheid maak nie.” Asof hy kan.

Sy knik. “Ons gaan vergesel word deur wagte. Moenie iets doen wat ons almal later sal berou nie.”

Hóm gaan berou nie, is wat sy sê. Hy knik weer. Maak vir haar die deur oop. Sy gee hom ’n vinnige, amper verbaasde kyk. Die ontvangs-wag val agter hulle in. Renier volg haar, maak seker hy is ten minste twee treë agter haar. Netnou pootjie hy haar per ongeluk en word geskiet.  Hulle stap na buite. ’n SUV trek nader. Die ontvangs-wag beduie hom om agter in te klim en op te skuif, skuif langs hom in. Hy doen nie eens die moeite om sy wapen uit te haal vir intimidasie nie. Louise klim voor in langs die bestuurder, ’n vrou, ook in woestyn kamoeflering. Hulle verlaat die blok van geboue en volg ’n stowwerige pad deur ’n stowwerige, plat area. Die pad loop deur ’n verlate woongebied. Die huise lyk mistroostig. Oud. Vol stof. Maar die vensters is heel. ’n Parkie met geroeste inhoud aan die linkerkant. ’n Swaai wat skeef hang aan een ketting.  Dan is dit weer net grond om hulle. Die struktuur wat nou voor hulle oprys is plat , lyk na ’n landings area vir helikopters. Renier leun oor Louise se skouer om beter te sien, want dit is beslis hulle doelwit. Die wag trek hom terug aan die skouer. Die ryvlak sak onder die struktuur in. Hulle ry stadiger en gaan staan voor ’n soliede betonmuur. Renier hang weer oor Louise se skouer, gefassineerd. Wat was dit hierdie? ’n Ou bomskuiling? Lyk of dit in die sestigs gebou is om die Rooi Gevaar te weerstaan. Die gedagte word verder versterk wanneer die muur oopskuif met ’n gerammel wat hy in sy tande voel. Daar moet kameras wees aan die kant, maar hy sien niks nie. ’n Skerper afdraande lei hulle na die binnekant van ’n kolossale, helder verligte vragruim. Die SUV stop in die middel van die vloer. Geen ander voertuie is sigbaar nie.

Renier klim uit, kyk rond soos ’n skoolseun wat Disneyland ontdek. Skerp ligte hang van die beton plafon. Die plafon strek seker vier verdiepings hoog. Verskeie stelle trappe en opritte lê aan beide kante van die pad wat self nog dieper lei. Lyk soos ’n pak sone. Die elektriese suis van ’n golf karretjie trek sy aandag. Renier en Louise klim in stilte agter op. Dis nie asof hy gaan weghardloop nie. Die wag wat hulle vergesel,  skuif voor by die bestuurder in. Hulle ry deur ’n sygang na ’n verdere oop area. Renier klim bietjie stadiger af as die res. Hy kyk weereens rond in verwondering. Hierdie hele ondergrondse stellasie is iets uit ’n Bond fliek. En dit hier in Suid-Afrika. Gekleurde lyne oor die breë vloer. Rooi. Geel. Blou. Groen. Elk lei uiteraard na ander areas. Aan die regterkant geel metaaltrappe en -reëlings wat twee vloere op staan. Mense loop in en uit glasdeure dieper in wat hom die idee gee dis kantore. Aan die linkerkant swaar deure wat hoog genoeg staan om ’n vragmotor in te laat. Breed genoeg vir twee.

Renier draai na regs, maar Louise keer hom. “Hierheen,” sê sy.

Hulle stap oor na die massiewe deure aan die linkerkant. Beton versterk met dik metaal. Hy wonder of hulle radiasie-pakke gaan moet aantrek.

Sy stap na die kant en trek haar kaart deur ’n sekuriteit paneel. ’n Gewone deur klik oop. Hy het nie eens die deur gesien wat ingesink staan aan die sykant van die groter deure nie. Hy volg haar deur ’n kort gangetjie wat skerp draai na links. Nog ’n deur wat sy eenvoudig oopstoot.

Die suis van lugversorging is al wat Renier hoor. Grootliks omrede hy sy asem ophou. Louise gee hom sy oomblik, staan met gevoude arms en hou sy reaksie dop. Hy stap stadig nader, sy hart probeer weer uit sy bors klim. Hy streel oor die metaal relings. Betree die trappe na die platform. Die beheerpaneel. Sy vingers streel oor die metaal, oor die glas wat metertjies beskerm. Dis ou skool tegnologie. Alles soos hy onthou. Hy ken dit moontlik beter as enigeen hier. Behalwe miskien die mense wat dit oorspronklik gebou het.

Die tydmasjien.

Sy tydmasjien.

Hy weet dis die een wat hy elke keer gebruik. Gebruik het. Klein goedjies wat hy opmerk. ’n Skaafmerk hier. Verf wat afpeul daar. Iets nuuts is die rooi verf in die gleuf tussen die panele. Bloed?

Hy klim af. Stap na die regterkant. Waar die tweeling van die tydmasjien staan. Of jonger familielid. Hierdie een lyk anders. Subtiel, maar anders. Varser. Nuut.

Hy draai terug na sy ou meganiese vriend. So. Hulle het dit weggeneem van die Universiteit kampus. Beteken dit hulle weet? Hy maak sy oë toe. Dom! Natuurlik weet hulle. Hoekom anders is hy hier? Maar hoe?

“Ek is seker jy het baie vrae, Meneer Du Toit,” sê sy.

Hy stap oor na haar.

“Daar is nog iets.”

Hy volg haar deur die sekuriteitsdeure na buite. Die wag wat hulle vergesel het sit steeds in die golf-karretjie. Kyk vinnig op, voor hy sy sagte gesprek met die bestuurder voortsit. Louise stap oor na die kantoor area. Hulle bestyg die trappe, stap deur glasdeure wat klaarblyklik nie sekuriteit benodig nie. Niemand gee hom ’n tweede kyk nie. Wat hom terselfdertyd beter laat voel, maar ook ongemaklik. Hy kan nie heeltemal sy vinger op die ongemaklikheid plaas nie. Die binnekant lyk soos ’n moderne kantoorblok. Een van daardie in die Prokureur TV-reekse. Kantore agter glas hokke. Konferensiekamers van verskeie groottes. Enkele mense begin notisie neem.  Staar hom aan. Miskien omdat hy as ’n onbekende saam met die baas loop? Hulle kom te staan voor hout dubbeldeure. Louise klop. Respekvol. Wag en maak die deure oop. Sy tree terug, beduie vir Renier om in te gaan. Hy stap onseker oor die drumpel. Louise maak die deure agter hom toe. Laat hom alleen in die vertrek. Hy draai terug, onseker.

“Sit,” sê ’n krakerige stem.

Beweging van links. ’n Persoon in ’n grys en pienk sweetpak staan en lees uit ’n boek, rug na hom gekeer. Die dik tapyt smoor sy voetstappe op pad na een van die twee stoele voor die swaar hout lessenaar. Die persoon draai na die stoel agter die lessenaar, steeds geboë oor die boek. Hy kan nou sien dis ’n vrou. Die sweetpaktop se kappie is laag oor haar kop getrek, versteek haar gesig. Sy gaan sit, plaas die boek voor haar. Kop en skouers steeds gebuig, soos ’n ou mens. Vingers bedek in swart handskoene, tik op die blad van die lessenaar. Die skouers sak verder met ’n sug, voor sy haarself regop strek. Sy gooi die kappie terug. Staar uitdagend na hom.

Renier probeer sy gesigsuitdrukking beheer, maar hy weet hy faal. Liederlik.

Louise.

’n Ouer Louise.

Want ten spyte van die helfte van haar gesig wat lyk of die vel gesmelt en afwaarts gevloei het, is sy steeds herkenbaar as Louise. Meer plooie aan die gesonder gedeelte van haar gesig. Maar beslis Louise.

“Kyk mooi, Du Toit,” sê sy sag, krakerig. “Kyk mooi wat jy aan my gedoen het.”

23

Renier sit terug in die stoel. Hy voel hy moet wegkyk, maar dit voel ook verkeerd. Die geskende Louise – dit is seker verkeerd om so na haar te verwys, hy sal eerder as aanduiding dink aan Ou-Louise – sit ook terug in haar stoel. Hulle staar mekaar aan vir ’n wyle. Renier kyk eerste weg.

“Nie so mooi nie, nè?”

Hy weet nie hoe om te reageer nie. Maak ’n geluid diep uit sy keel. Maak sy keel skoon. Ongemak dreig om hom te versmoor. “Ek het jou nog nie eens ontmoet voor vandag nie,” sê hy sag.

“Jy moet harder praat, Du Toit. Ek het net een oor.” Sy lag asof dit regtig snaaks is.

Hy kyk haar in die oë. Weier om homself te herhaal. Wat is dit met haar? Hy ken haar regtig nie. Is meer nuuskierig oor die feit dat daar twee van hulle is. Of is hulle susters? Hy het sommer op die slotsom gekom dis dieselfde persoon. Iets met tyd-reise te doen. Maar hy weet uit ondervinding daar kan nie twee van jouself in dieselfde tyd bestaan nie.

“Ek sien jou vrae, Du Toit. Vra dit.”

Hy oorweeg om opstroppig te wees. Besef sy wag klaarblyklik nou al lank om hom aan te vat vir welke dade sy hom voor verantwoordelik hou. Hy is heeltemal oortuig hy het geen vure in sy verlede gestig wat hierdie interaksie kan regverdig nie. Maar ten spyte van alles, is hy vrek nuuskierig.

“Wie is jy?”

“Dis seker duidelik?”

“Nee. Nie regtig nie.”

“Na al jou ervaring gló jy steeds nie?”

Dis bietjie vaag en verwarrend. Meer verwarrend. “Glo wat?”

Sy maak ’n gebaar met haar hande om te sê alles om ons.

“Jy is Louise?”

“Ek is.” Sy sit vorentoe in afwagting.

“En sy?” Hy wys vaagweg na agter.

“Sy is ook Louise. Sy is ek. Ek is sy.”

“Dis onmoontlik.”

Sy lag haar krakerige laggie. “Dis wat ons ook gedink het. Hierdie is alles nuut. Nie wat ons gedink het nie. Al die teorieë. Al die argumente. Al die fiksie. En niemand het dit reg gehad nie.”

Hy lek sy lippe. Sy hou ’n hand op. Trek ’n laai oop en bring ’n bottel Haig Club te voorskyn. Twee whiskey glase. Sy beduie vir hom om te skink. Hy skink. Sy hande bewe.

“Ek wag lank om hierdie gesprek te hê. Moenie skaam wees nie.”

“Ek weet regtig niks nie.”

Sy vat die glas wat hy aanbied. Sy hand lyk swaar te wees. Hy voel skuldig, maar sy sê niks. Klink glase.

“Jy weet meer as enigeen. Behalwe miskien vir myself. Jy is die enigste ander persoon wat teruggegaan het in tyd. En dit oorleef het.”

Hy oorweeg die stelling. Wonder of hy reg gehoor het. Mense is dood?

“Jy het reg gehoor,” sê sy. Lig haar glas in ’n saluut. “Net ek en jy.”

Hulle drink in stilte. Hy gee in. “Wie?”

“Twee ander. Maar hulle het dit nie gemaak nie.”

Haar stem sê dit was baie meer as net dit. “Wat bedoel jy daarmee?”

Sy trek haar skouers op. “Die masjiene. Die tyd masjiene, as jy wil, werk net vir een persoon. Ek het my teorieë.”

Die whiskey laat sy kop so bietjie draai. Hy klink sy leë glas teen die bottel. Sy knik en hy skink weer vir hom. Top haar glas op. Sit weer terug.

“Ons het jou masjien twee keer probeer. Dit het redelik negatief uitgewerk vir die deelnemers.” Haar kop sak en sy kyk onderlangs na hom. “Ons het die tweede keer probeer net om seker te maak.”

Ons deel drank. Ons deel stories. Maar ons is nie vriende nie. Die boodskap is duidelik vir Renier. Mense is dood. Maar hoe? Of eerder, hoekom?

“Jy spring elke keer terug na dieselfde tyd?”

Renier knik. Sien geen rede om terug te hou nie. Hy wil mos nou al lankal met iemand hierdie deel. Kan netsowel sy wees. “Moontlik ’n uur of meer verskil een kant of na die ander kant. Maar dis min of meer dieselfde. Dieselfde dag. Altyd.”

Sy lig haar kop. Die ooglid lyk swaar aan haar geskende kant. Hy kyk weg.

“Hoeveel keer?” vra sy.

“Dertien. Hierdie is die dertiende.”

Sy verstik aan haar drank. “Dertien!?” Sy oorweeg dit in stilte. “En jy het niks verander nie?”

Hy skud sy kop. Hervul die glase sonder om toestemming te vra. Sy gee klaarblyklik nie om nie. Hou haar glas uit wat lyk of sy nie veel gedrink het nie. “Niks aan die uitkoms nie. My seun sterf elke keer.”

“Jou seun.” Sy neem ’n klein slukkie. “Hoe hou jy dit uit? Hoe gaan jy elke keer terug as jy dit moet herleef?”

“Want dit is my seun,” sê hy eenvoudig. “Miskien eendag. Dan verander ek alles. Anders probeer ek net vir een dag meer met hom.”

Sy bestudeer die lessenaarblad. “Hoe vêr terug?”

“13 April. Elke keer.”

Sy knik, oë steeds op die lessenaarblad. “En jy leef die tyd uit tot die eerste sprong.”

Hy knik.

“Probeer dinge verander deur ander dade. Loop links op in die straat in plaas van regs.”

Hy knik weer. Sy kyk hom nou weer in die oë. Haar oë het ’n ongesonde glans. Iets wat niks met haar ongeluk te doen het nie. “Die skoenlapper-effek.”

“Maar dit werk nie.”

Hy is nie seker of dit ’n stelling of ’n vraag is nie. “Nee.” Nog nie, voeg hy stil by. Indien hy weer ’n geleentheid kry…

“Ons het jou navorsing bestudeer.”

Natuurlik. Hy kan nie onthou dat hulle sy notas gevat het nie. Maar dit maak sin. Navorsing klink meer wetenskaplik as wat hy eintlik bymekaargesit het. Hy voel eintlik verleë dat iemand daarna kyk.

“Ek het dieselfde beleef.”

“Jy het gevra hoe vêr ek teruggaan. Dis anders vir jou?”

“1 Januarie. Elke keer. Maar my sprong is drie maande na joune.”

Sy word vinniger ouer as ek, dink hy. Langer tyd om deur te leef voor die volgende sprong. “Maar jy ontmoet jouself? Ek het dit nog nooit beleef nie.”

“Net die laaste keer. Maar daar was ander omstandighede.”

Hy sit vorentoe. “Iets het verander?”

Sy raak aan haar gesig. “Ek het jou probeer stop.”

“Hoe? Wat het gebeur?”

Sy streel oor haar gesig. “Miskien môre. Ek is moeg. Het nog werk om te doen. My nuwe werkgewers,” sy knik na buite, “is op soek na resultate. Jy gaan help.” Sy staan op.

Renier sit die glas op die lessenaar, staan self op. “Ek weet nie regtig enigiets nie.”

“Dit maak nie saak wat jy dink nie.”

’n Ligte klop aan die deur. Die wag wat hom hierheen vergesel het stap in. Wink stilweg vir Renier. Renier knik hoflik vir Ou-Louise, volg die wag uit. Sy kop vol vrae.

24

Terug in sy kamer oorweeg hy sy gesprek met Ou-Louise. Iets voel nie reg nie. Hy gaan lê op die bed, skop sy skoene af. Staar na die plafon. Sy het nie gesê hoeveel keer sy gespring het nie, maar sy was regtig verbaas oor sy telling. Selfs al spring sy na ’n vroeëre tyd, Januarie is te naby om alles hierheen te beweeg na sy sprong. Hy het omtrent vier maande tussen spronge. Hoe het…?

Hy wens Madelyn was hier. Sy het altyd ’n koelkop met dinge. Tot Eugene se dood. Hy glimlag stilweg oor die idee om hierdie met haar te deel. Asof sy enigiets sou glo wat hy beleef. Tog. Hy onthou tye waar hy met sy kop op haar skoot lê en dinge bespreek het.

Die alleenheid wurg hom. Want hy is nou alleen.

Regtig alleen.

’n Klop aan die deur laat hom vinnig regop sit. Hy is tegnies ’n gevangene, so die beleefdheid hier voel misplaas.

“Binne.” Hy voel dom om dit hardop te sê. Die deur word oopgesluit van buite en die reuk van warm kos groet hom. Dis die persoon wat dit bring wat hom nog meer regop laat sit.

Louise.

Die Louise van hierdie tyd. Die gedagte laat ’n koue gevoel teen sy ruggraat aftrippel. Die waarheid van daardie gedagte. Want hyself is ’n reisiger van ’n ander tyd. Menere Clarke en Asimov sou hom so beskryf het.

Louise plaas die blikskottel op die bed. Weer saam met ’n blikkie Coke. Sy beduie vir die wag om uit te stap. Hy trek die deur toe agter hom.

En nou? Renier skuif ongemaklik op die bed. Sy gaan sit aan die voetenent.

“Eet terwyl dit warm is. Daardie tjops en kapokaartappels vir vanaand is besonders. Die sjef weet wat hy doen, selfs wanneer dit op grootmaat gemaak word.”

Renier besef hy is eintlik honger. Hy sit die pan op sy skoot, neem die eetgerei in sy hande. Bestudeer die lengte van die mes.

Sy hou hom dop en glimlag. “Jy kan probeer. Maar selfs indien jy my oorrompel, waarheen kan jy gaan?”

Hy voel dom. Maar besluit om dit te druk. Net om te sien. “Of ek kan jou as gyselaar aanhou.”

“Jy kan. En dan? Waarheen gaan jy? Hulle gaan jou kry, maak nie saak waarheen jy gaan nie.”

“Jy sê dit asof die Russiese Mafia betrokke is.”

“En die Chinese. Selfs die CIA het verteenwoordigers hier.”

Hy plaas die eetgerei weer terug. “Regtig?”

“Regtig. Hierdie is groter as wat jy dalk dink.”

Verseker. Maar hoekom is sy so vrygewig met inligting?

“Ek het reeds geëet. Moenie skaam wees nie.”

Hy aanvaar die toegewing. Die kos is regtig lekker.

“En ek doen Krav Maga.” Sy grinnik. “Sê maar net.

Dis vreemd, hierdie poging tot vriendelikheid van haar kant af. Sy sit in stilte terwyl hy eet. Hy plaas die pan op die vloer, knak die blikkie oop. Draai na haar. Wag.

Hy reken sy het meer nodig van hom hierdie keer. Hoekom anders sal sy hier sit?

“Wat wou sy weet?”

Ah. Dis die situasie. “Julle is nie op goeie voet nie?”

Sy kyk weg. “Daar is ’n gesegde. Moet nooit jou helde ontmoet nie.”

“Al gehoor.” Jy sal net teleurgesteld wees.

“Dit geld vir jouself ook. Moet nooit jouself ontmoet nie.”

Indien hy nou James Bond of Jack Reacher was, sou hy hierdie tot sy voordeel kon gebruik. Maar hy is nie. “Sy het uitgevra oor die spronge.”

“Soos? Ek het meer besonderhede nodig, Renier.”

“Hoekom? Werk julle nie saam nie?”

“Dis…ingewikkeld.”

Jy vertel my. Hardop: “Hoe is die Russe, Chinese en Amerikaners betrokke?” Hy verwag nie regtig ’n antwoord nie, sy skuld hom sekerlik niks nie. Maar sy verras hom.

“Ons is die enigste afdeling wat sukses behaal het.”

“Afdeling? Daar is meer?”

Sy draai terug. “Ek gee jou iets, jy gee my iets. Sal dit vir jou werk?”

Hy knik. Dis meer as wat hy voor kon hoop.

“Daar is ’n Internasionale organisasie wat studies in tyd reise finansier.”

Renier begin iets sê oor die onwaarskynlikheid daarvan, maar hy leef dit. Bly eerder stil.

“Ons is die eerste wat sukses behaal het. Vandaar die internasionale belangstelling.”

“Maar gaan die Russe en Chinese of enigeen anders nie dit gebruik nie?”

“Om die wêreld oor te vat? Om die geskiedenis te verander?”

Hy haal sy skouers op. Knik teësinnig, voel weer dom. Dit klink uiters dom om dit hardop te sê.

“Jy het in die Tagtigs of Sewentigs grootgeword?” Sy wag nie vir sy bevestiging nie. “Nie almal het kwaadwillige bedoelinge nie.” Sy draai haar kop skeef. Dit lyk of sy ’n ander punt wil oorbring. Wanneer dit lyk of sy faal, gaan sy voort. “Die mense hier het geen bande met hulle regerings nie. Dit is wetenskaplikes.”

“Ek het baie gewapende wetenskaplikes dan gesien.”

Sy lag nie. “Dis wagte.”

“Vir?”

Sy kyk weg. “Nie almal dink soos ons nie.”

“So daar ís kwaadwillige bedoelinge daarbuite?”

Sy antwoord nie onmiddellik nie. “Nie óns nie.” Sy sê dit net so bietjie onoortuigend. Onseker.

“Wat maak ek hier?”

“Jy is die enigste persoon wat suksesvol in tyd gespring het.”

“Jy het ook.”

“Nee.” Amper hartseer. “Dit was nie ek nie.”

“Tegnies…”

“Tegnies is dit iemand wat ek is. Maar dit is nie ek nie.”

Die manier wat sy dit sê. Jaloers? Teleurgesteld?

“Sy is nie ek nie,” sê sy sag.

“Weet hulle?” Hy wys vaagweg om alles om hulle in te sluit.

“Nee. Sy bly uit die gesigsveld waar sy kan. Werk deur my.”

“Sê jou wat om te doen?”

Sy trek terug. Hy weet hy het dit te vêr gedruk, maar hy wou sien hoe die twee bymekaar inpas.

“Jammer,” sê hy. “Dit was onnodig.”

Sy buig nader aan hom, gee hom ’n soen op die lippe. Dis ’n vinnige, ongemaklike affêre vir beide. Hy is so verbaas hy sit net daar. Sy trek terug, haar gesig rooi.

“Jammer,” stamel sy, spring op en hardloop uit. Die deur slaan toe agter haar. Hy wag, maar die slot draai nie. Renier sit vasgewortel vir wat voel soos ure. Wat was dit? Hy gaan lê. Sy hart hamer. Luister. Staan op en probeer die deur. Sag. Stadig. Dit is nie gesluit nie. Hy is nie seker of daar ’n wag was vroeër nie – het maar so aangeneem – maar nou is die gang leeg. Dis steeds nie asof hy êrens heen kan gaan nie. Dit beteken seker iets? Hy trek die deur toe. Gaan lê weer op die bed, hande agter sy kop.

Dink.

Eugene.

Gaan hy weer ’n geleentheid kry? Die masjien werk klaarblyklik. Werk vir hom. Is dit hoekom hy hier is? Hulle wil sien hoekom dit vir hom werk? Hoewel die hele operasie nie militêr lyk nie, is dit maar eintlik. Wapens. Maar wat verwag hulle? Waarvoor is hulle bang?

Die spanning van die afgelope dae oorrompel hom.  Hy draai op sy maag, sy gesig in die kussing gedruk. Daar is dalk nie iemand in die gang nie, maar ’n man huil in stilte.

25

Louise sit op haar bed, hande gevou in haar skoot. Verward. Verbouereerd. Hoe dom moet hy dink is sy? Gooi haarself vir hom. En vir wat? Dit was regtig net in die oomblik. Die pyn in sy oë. Dit het gelyk of hy net iemand nodig het. Maar sy reaksie was nie wat sy voor gehoop het nie. Wat het sy gehoop? Dat hy haar as confidante gaan aanvaar? Op haar skouer huil?

Of het sy gehoop hy sal dieselfde vir haar bied? Sodra hy sien sy is nie die vyand nie? Daar is niks romanties hier nie. Net ’n onderlinge nodigheid. Wedersydse behoefte. Sy skud haar kop in brandende verleentheid. Wat het haar beweeg om dit te doen? Sy is deeglik bewus dat sosiale interaksie nog nooit haar sterk punt was nie. Stééds nie is nie. Dit is duidelik. Maar sy het hom nodig. Daar is niemand anders nie. Sy kan nie alleen opstaan teen haarself nie.

26

“Mis jy haar?”

Renier begin antwoord, besef dan wat die vraag is. Haar? Hy is so gefokus op sy seun, hy dink nie hy oorweeg ooit daardie vraag nie. Nie spesifiek nie.

Hulle sit by die parkie op een van die geroeste bankies. Die rooi en groen verf het genoeg afgeskilfer om die blink metaal onder te sien. Hy dink nie hulle gee enige aandag aan hierdie gedeelte van die terrein nie. Sy oë wandel oor die parkie. Die swaai wat skeef hang. Die geboue wat stil-stil die elemente van die natuur probeer weerstaan. “Hoekom vra jy dit?”

Louise – die regte Louise – staar na haar hande. “Dit het so gelyk.”

“Ek mis my seun.”

“Hy is die rede hoekom jy heeltyd teruggaan.” Nie ’n vraag nie.

“Hy is die een wat heeltyd doodgaan.”

“Maar jou vrou…”

“Eks.”

Sy by haar lip. “Sy is nie dood nie.”

Hy draai na haar. Voel krapperig. “Nee. Wat is jou punt?”

“Miskien fokus jy in die verkeerde rigting.”

Hy staan op. “Ek dink dis tyd om terug te gaan.”

“Nee! Wag. Ek is jammer.”

Hy gaan sit weer. Stadig. Emosies kolk in sy bors. Wie dink sy is sy? Dis sý pyn.

“Ek is jammer,” sê sy weer sag. “Dit is nie vir my om te sê nie.”

Hulle sit in stilte. Die wind speel lig oor die grond. Hy ruik reën. Kyk op, maar sien niks. Kakebeen geklem.

“Hulle gaan toetse doen.”

Hy sê niks. Vertrou nog nie sy stem nie.

“Werk saam. Moenie moeilikheid maak nie.”

Hy maak sy keel skoon. “Ek is nie seker hoekom ons hierheen moes kom vir daardie brokkie inligting nie. Ek is nie iemand wat moeilikheid maak nie.” Want sekerlik is dit die rede vir hulle om hier buite te sit. Weg van almal. Weg van iemand wat moontlik luister.

“Nie almal dink so nie.”

Hy frons. “Wat maak dit saak?”

Sy reik haar hande uit na sy gesig. Hy deins terug. Sy trek haar hand terug. Vinnig. “Hulle luister,” sis sy. “Oral. Maar nie hier nie.”

“Luister na jouself. Is julle so behep met wat julle reggekry het? Julle verstaan nie dat daar ’n normale lewe daarbuite is nie.” ’n Siddering gaan deur sy skouers. “Wat het julle bereik? Dink julle iemand gaan teruggaan en Hitler doodmaak? Dit gaan nie werk nie. Die Natuur – die natuurlike tyd – gaan balans vind. Niks verander nie!” Hy staan op. “Genoeg. Asseblief. Genoeg.” Sy stem raak-raak aan smekend. “Vat my terug.”

Sy staan op. “Luister net. Moet dit nie te maklik maak vir hulle nie,” hou sy vol. “Hulle sal wonder hoekom jy so geredelik ingee. Dink jy beplan dalk iets. Vind ’n balans.”

Hy kyk haar aan asof sy van haar sinne beroof is.

Sy besigtig hom vir ’n oomblik. “Kom dan.”

27

Hy probeer om te slaap, maar sy gedagtes is die wêreld vol. Louise was reg oor een ding. Hy het skaars uit die golf karretjie geklim na hulle gesprek, voor hy gelei is na ’n kamer wat soos ’n dokter se spreekkamer lyk. Bloed is getrek in stilte voor hy na sy kamer teruggelei is. Die deur bly egter ongesluit. Renier gee op op die slaap, stap uit na die kantien. Dis laat genoeg om middagete te soek. Miskien dink hy net hy is ’n gevangene. Kan hy vra om terug te gaan huis toe? Is dit so maklik? Maar dan weer, die masjien is hier. Nou. Wil hy regtig die kans – moontlik sy laaste kans – laat verbyglip? Hy is nie seker wat Louise probeer doen nie. Die aandag wat hy nou van haar kry is vreemd. Onbeholpe, amper. Sy is vreemd. Probeer sy hom net kry om saam te werk? Of is daar regtig ’n vete tussen haar en haarself?

Die paar mense wat in die kantien sit gee hom ’n vinnige kyk. Hy kry ’n bord met eetgerei aan die een kant en skep op uit die metaalhouers. Chicken-a-la-King. Hy gaan sit eenkant. Ses mense sit verspreid oor die vloer. Maar hulle hou hom onderlangs dop. Stil gesprekke. Oë op hom. Kyk weg wanneer hy hulle betrap. Hy eet is stilte en gaan terug kamer toe.

Wag.

Vir wat ook al.

Wonder oor sy eks. Wonder of dinge anders sou wees indien hy weggebly het van die versoeking net na sy dogter se dood. Daardie een aand wat alles ruïneer het.

Sy gedagtes dwaal terug na die gesprek vroeër. Wat het Louise bedoel met iets beplan? Hoekom sou hulle dink hy beplan iets? Of – moet hy dalk iets beplan? Nou dat hy hier is…

28

Ou-Louise , of net Louise vir haarself (selfs Oorspronklike Louise indien iemand die moeite sou doen om haar te vra) staar na die video. Wat doen haar jonger self met die man? Dit maak geen sin dat die twee selfs met mekaar praat nie. Haar vingers beweeg na die geskende deel van haar gesig. Sy keer haarself. Daar is geen gevoel daar nie. Die oog traag. ’n Gat waar die oor was. Sy bedek haarself voor mense, maar dwing haarself om oop te loop wanneer sy alleen is. Sy speel die video terug. Die klank is sleg. Mens sou dink met die internasionale belangstelling sou sekuriteit ’n groter deel van die belegging ontvang. Sy weet hulle eksperiment gaan nie ongesiens verby nie. Die Regerings het nog nie ’n beweging gemaak nie, maar dis slegs omdat die resultate nog nie deurslaggewend is nie. Du Toit se sprong (spronge, moet sy haarself herinner) het ongesiens verbygegaan. Net omrede hy dit reggekry het om die masjien te aktiveer voor enigeen gedink het dit is moontlik. En meermale so! Die Regerings gaan inspring sodra dit seker is sukses is bereik. Alles konfiskeer. Die private sekuriteit is dalk goed genoeg. Dalk. Huursoldate, korrigeer sy haarself. Maar hulle is steeds niksseggend teenoor ’n weermag. En sy is wel bewus dat die verskeie groepe wat haar (hulle) tans finansier, terugrapporteer aan mense wat hulle weermagte binne ’n paar uur op vliegtuie sal hê.

Die hele gesprek oor sy eertydse vrou pla haar op ’n dieper vlak. ’n Verhouding wat verbrokkel het kan nie gered word nie. Sy weet. Alleen is beter. Gebruik wie jy moet. Geen bande. Bande bring net ongelukkigheid. Mors tyd.

Selfs waar dit teenoor haarself is.

Sy druk ’n knoppie op die foon langs haar rekenaarskerm.

“Mevrou?”

Sy korrigeer nie die man nie. Hy is ou skool. Ou militêre dissipline. Sy hou daarvan. Hy sien dit dalk as respekvolle aanspreking. “Dokter Yang se verslag?”

“Onmiddellik, Mevrou.”

Die Huursoldaat maak die deur oop na ’n vinnige klop. Daniel. Sy dink sy naam is Daniel. Hy hou ’n lêer uit. “Die Dokter wil graag met jou praat.”

“Later.”

“Klaarblyklik is hy nogal geïrriteerd.”

“Ek neem kennis.” Sy maak die lêer oop. Kyk op. “Ek wil nie gepla word nie.”

Hy knik, maak die deur toe agter hom. Een ding wat sy regtig waardeer van die ou militêre soort – hulle doen wat hulle gesê word. Sy bestudeer die verslae. Mors van tyd. Maar sy moet hier en daar ingee tot die ander se idees. Hulle glo nie heeltemal sy is wie sy is nie. Ten spyte van die bewyse. Ten spyte van haar DNA wat hulle getoets het. Sy is ’n anomalie. Paradoks. Sy bestaan in dieselfde tyd as syself. Wat teoreties onmoontlik is. Du Toit aan die ander kant, het nie dieselfde ervaring nie. Meermale se spronge en sy ondervinding heeltemal anders as haar eie. Dit, desnieteenstaande die tegnologie wat dieselfde is. Wat ’n ander teorie na vore bring. Een wat sy vir haarself hou. Vir nou. Haarselwe. Want Louise van hierdie tyd het dit ook genoem. Dit het dalk te doen met die persoon. Die masjien en die persoon is verbind op ’n manier. Hoekom spring Du Toit elke keer terug na dieselfde tyd? Dertien keer? En niks verander nie? En syself. Twee spronge. Elke keer na dieselfde tyd. Maar soveel vêrder terug as hy. Nie Januarie van dieselfde jaar nie. Drie jaar. Ten minste het sy geleer uit haar ondervinding. Dit was nie maklik om die Geld agter die projek te oortuig nie, maar sy het genoeg reaksie ontlok met haar DNA om – indien nie heeltemal te oortuig nie – nietemin die geïnteresseerde partye sovêr te kry om die masjien te beweeg. Sekuriteit is ’n sterk argument. En sy het kontakte gehad om die afgeleë militêre basis wat reeds jare in onbruik lê, oor te neem. Of te huur, ten minste. Die waarde wat hande wissel is besonders (oneties) hoog. Maar sy ken mense wat die regte mense ken. Onderhandelinge is soveel makliker wanneer ’n afgevaardigde van ’n alfabet-organisasie (kwasi spioenasie deesdae) van ’n ander land jou nader. Die masjien is afgebreek en herbou voor Du Toit dit weer kon gebruik.

So ook die tweede masjien wat reeds onder her-konstruksie was. Maar nog nie weer aktief nie. Die een wat Du Toit nie eens van bewus was nie. Die een wat sy gebruik het na sy hom probeer verhoed het om die sprong aan te durf. Haar masjien. Sy dwing weereens haar hand weg van haar gesig. Haar fatale fout om te dink hy wou die eerste wees om ’n sprong aan te durf. Voor sý die geleentheid kon kry.

Haar eer!

Haar geleentheid!

En haar ego wat haar gedryf het daardie dag, het haar gesig weggevat. Die energie ontlading van sy sprong.

En dit alles vir ’n kind.

Sy sug. Dit klink seker verskriklik. Maar daar is groter konsepte hier as net een lewe. Sy trek die laai oop. Gooi ’n glas. Volg die brand in haar keel af.

Alles vir ’n kind, mymer sy. Sy kan dit verstaan. Nee, korrigeer sy haarself. Sy kan nie. Sy het nog nooit daardie verbintenis met iemand gehad nie. Nie in haar eie kinderlewe nie, ook nie as volwasse nie. Sy skud haar kop. Hier is soveel potensiaal. Soveel praktiese toepassing vir wat hulle ontdek het. Uitgevind het. Sy gaan in die Notules van die Samelewing opgeneem word. Beter as ’n Nobel. Hierdie verander alles. Alles!

Sy druk weer die knoppie op die foon.

“Mevrou?”

“Laat weet die Dokter hulle kan voortgaan.”

Stilte aan die ander kant.

Sy haal diep asem, hou haar humeur terug. “Wat?”

“Die Dokter sê hy gaan nie voortgaan tot hy dit met jou bespreek het nie.”

Sy knyp haar oë toe. Dis hý wat die eksperiment voorgestel het. Die gedagte dat die masjien en die DNA van die tyd-springer verbind is, is haar idee. Verbind word met daardie eerste sprong. Want almal is bewus van die twee onsuksesvolle spronge. Dit het lank gevat om die oorblyfsels op te skraap. Op te mop. So nou trek hulle bloed van Du Toit. Maak seker iemand se bloed word genoegsaam geïntegreer met syne om die masjien te gebruik. Dit is die teorie van die ander. Maar hoeveel? Hoe toets mens so iets? Sy het nie daardie mediese kennis of agtergrond nie. Dink nie dit gaan werk nie, maar soms moet sy ingee tot ander se idees. Hulle het die geld.

Sy het nie tyd vir hierdie speletjies nie.

“Vind iemand wat die eksperiment sal doen. Dit sal hom aanjaag. Of kry iemand wat sal saamwerk. Kry dit net gedoen.”

29

Renier het meermale al bloed geskenk. Hy is egter van opinie dat dit nie so gereeld gedoen moet word soos die prosedure wat hy nou deurgaan nie. Hy word rooivleis en beet gevoer (eet is wanneer jy ’n keuse gegun word). Hy het nie ’n probleem met die kos nie, maar afwisseling is altyd goed.

“Ek wil met Louise praat.”

Louise kyk vinnig op. Hulle deel ’n ontbyt, iets wat meer gereeld oor die laaste week plaasvind. “Hoekom?”

“Ek het antwoorde nodig.”

“Vra.”

“Van haar af.”

“Ek weet wat sy weet.”

Renier onderdruk die ergerlikheid wat hy voel. “Ek is nie dom nie. Ek kan sien daar is ’n meningsverskil tussen julle. Net soos ek verstaan sy hou nie van my nie.”

Louise mompel iets.

“Presies. Haat is ’n beter begrip. Ek weet nie hoekom nie. Ek weet net sy blameer my vir wat haar oorgekom het.”

Hulle sit in stilte. “Dit gaan jou nêrens bring nie,” sê sy.

“Dit gaan my beter laat voel.” Hy drink van die koffie. “En dit sal haar gerusstel.”

Haar vurk huiwer op pad na haar mond, sak af tot in die bord. “Oor wat?”

Hy kyk na sy bord. “Jy weet.”

“Moenie speletjies speel met haar nie, Renier. Sy is beter daarmee as jy.”

Renier voel hitte teen sy nek opstoot. Sy dink nie net hy is sleg met ‘speletjies’ nie, hy weet nie regtig hoe om te speel nie. “Ek gee my samewerking, want ek wil weer ’n geleentheid kry om te spring.”

Sy skud haar kop. “Jy speel met vuur. Selfs al spring jy weer, sal hulle gereed wees.”

“Dis nie asof jy my help nie.”

Sy gooi haar eetgerei neer. Staan op. Bewus van die oë op hulle. Loop weg sonder ’n verdere woord.

30

“Natuurlik kan jy enige tyd gaan.”

Renier staar Ou-Louise wantrouig aan. “Enige tyd?”

“Natuurlik. Wat dink jy gaan hier aan? Wat dink jy doen ons met jou?”

Hy is nie seker hoe om te antwoord nie. Word klaarblyklik ook nie van hom verwag nie, want sy gaan onmiddellik voort. “Dis ’n wetenskaplike wonderwerk. Ons doen baanbreker werk hier. En jy is deel daarvan.” Sy glimlag, wat ’n verskriklike beeld is.

“So ek kan oppak en iemand gaan my ’n rit huis toe gee?”

Sy hou haar hande in die lug asof hy ’n dom vraag vra.

“Okay dan.” Hy staan op. Sy keer hom nie. Hou hom dop met ’n skewe glimlaggie. Hy stap tot by die deur. Steeds roep sy hom nie terug nie. Hy stap na sy kamer. Gooi sy goed in die toksak. Wat nou? So maklik? Vasbeslote slinger hy die toksak oor sy skouer. Stap na buite. ’n Week se bloedskenking. Baie sameswering teorieë wat deur sy kop gemaal het. En hy was bang. Hy stap na die garage waar hulle die voertuie parkeer.

31

“Ons het genoeg bloed vir ’n dialise proses?”

“Ons het,” sê die dokter aan die ander kant van die lyn.

Louise sit die foon neer. Die nuwe dokter moet maar gewoond raak daaraan. Sy sit terug. So hulle het nie meer vir Du Toit nodig nie. Nie daarvoor nie. Met hom uit die prentjie – en weg van die masjien, kan sy weer fokus.

32

Die bestuurder beëindig die persoonlike oproep op haar selfoon. “Jy is seker?”

Renier kyk op van waar hy voor die neus van die SUV staan, sy toksak tussen sy voete. “Ja, hoekom?”

Sy betrag hom oor haar spieël lense. “Dis dalk veiliger hier.”

“Veiliger?”

Sy knik net.

“Ek is gesê daar is nie enige gevaar nie.”

“Daar word baie gesê.” Sy haal kougom uit ’n pakkie, bied nie aan nie.

“Miriam, reg?”

Sy knik. Kou aandagtig.

“Dis ’n Glock 19 aan jou sy?”

Sy lig ’n wenkbrou.

“Hoekom het jy ’n Glock as daar nie ’n risiko is nie.”

Sy haal haar skouers op. “Eerder versigtig. Het een en gebruik dit nooit nie, eerder as om nie een te hê nie en dit nodig te kry.”

Hy gee toe tot die logika. Besluit dit was genoeg kommunikasie. “Wel, kom ons gaan. Ek is nie regtig nodig hier nie. Hierdie is vir julle mense.”

Haar oë word groot. “Júlle mense?” Uitdagend. Sy gooi haar gevlegte hare na agter. Krale rinkel aan die punte.

Hy rol sy oë. “Jy weet. Die Wetenskaplikes en dié met gewere. Soos jy.”

“Aaah.” Sy grinnik. “Ek terg net. Jy is gans te ernstig.” Sy hou ’n vinger op. “Maar. Ek het nie heeldag om taxi te speel nie. Spring in.”

Hy gooi sy sak op die agterste passasiersitplek. Klim voor in.

Hy kyk nie na Miriam nie, staar na buite terwyl hulle na die hoofhek ry. Sekuriteit stop hulle.

“Mncube,” groet die wag aan diens. Sy gee hom ’n breë glimlag. Sê iets in Xhosa. Hy kyk oor na Renier. Grinnik. Stap weg van die voertuig en waai hulle deur.

33

“Ek wil daardie huursoldaat wat jy gebruik het op hom hê. Ek wil weet waar hy heengaan. Wat hy doen.” Ou Louise vou haar arms oor haar bors.

“Hy gaan nie probleme gee nie. Hy kan sien hy is in die diep waters hier.”

“Weereens, jy is nie dom nie. Moenie my probeer oortuig jy ís nie.”

Louise beskou haar ouer self. Reïnkarnasie, indien dit wel iets is wat op ’n metafisiese vlak plaasvind, beter nie hierdie wees nie. Of is dit Karma? Want hierdie Karma is beslis ’n bitc

“Meyer is terug in Gauteng,” gaan sy kalm voort. “Ek het hom reeds in die hande gekry. Renier sal oorslaap vanaand in Kathu êrens. Ons gee Meyer kans om sy waarnemingsposte op te stel.”

Ou Louise gee haar ’n goedkeurende blik. “Jy leer vinnig.” Sy waai haar uit die kantoor. My kantoor, dink Louise. Haar gesig wys geen emosie nie. Dis immers iets waarmee sy regtig goed is. Haar ander self behoort te weet.

“Ek wil weet indien hy enigsins lyk of hy weer iets met ons organisasie te doen wil hê. Enige kontak.”

Ons organisasie? “Dis hoekom ons hom onder waarneming plaas, reg?”

“Ja, maar ek wil daaglikse verslae op my lessenaar hê. Net vir ingeval ons hom weer benodig. Of hy ’n groter risiko word.”

Louise knik, maak die deur agter haar toe. Gesig strak. Vermy oogkontak oppad na haar kamer. Die deur klik sag toe. Sy voel om die deur met geweld toe te gooi. Die vermetelheid! Ons Organisasie? Sy soek verslae! Dis nie eens haar wêreld hierdie nie! Louise voel die beklemming. Die kortasem. ’n Grom van magteloosheid maak haar keel rou. Die hoofpyn verblindend. Nie nou nie! Sy sak neer op haar knieë, kop op die vloer. Reguleer haar asemhaling. Strek haar arms uit na die kante. Stadig. In. Uit. Kry suurstof. Werk die longe. Stukkie vir stukkie. Kry haarself weer terug. Bou haarself weer op. Stadig. Maar seker.

34

Miriam gooi die selfoon in Renier se skoot waar hy op die rusbank sit. Een van daardie ou Motorola’s wat oopvou.

“Dis die beste wat jy kon kry?”

Hande op die heupe, kop skeef gedraai, rol sy haar tong in haar mond. “Niemand luister meer nie, jy kan maar die drama wegsit.”

“Watse drama?” Hy hou die foon op. “Hoe werk die goed nog?”

“Gee hier.” Sy neem die foon uit sy hand, klap dit oop en gaan deur die proses om dit  aan te skakel. Gooi dit weer in sy rigting. Hy vang dit, meer as ’n gelukskoot as behendigheid.

“Daar is net een nommer op. Gebruik die SMS. Sommer nou om te toets. Dit het nie die ander Sosiale Media toepassings op nie.”

“Toepassings?”

“Apps. Ek weier om dit ’n TOEP te noem.”

Hy skud sy kop. Stuur ’n boodskap. Vra nie die rede daarvoor nie. “Ons is veilig?”

“Niemand het ons gevolg nie. Die gastehuis is op niemand se radar nie. My keuse gewees. Dis net die voertuig wat dalk ’n probleem is.” Sy loer na haar selfoon. Knik in erkenning van die boodskap. Tik self iets. Maar niks kom deur na hom nie.

“Dalk?”

“Dit het ’n Tracker. Hulle sal weet waar ons ons bevind. Maar die afluister apparaat het reeds misterieus ophou werk. Tegniese probleme.”

“Dis die ding wat jy in die toilet gegooi het?”

Sy grinnik. “As iets gaan spat, kan dit nou maar netsowel hier begin. Letterlik.”

“Jy dink hulle luister? Volg ons?” Hy hou die foon op. “Geen boodskap.”

“Dit was nie vir jou nie.” Sy steek die selfoon in haar jeans se sak. “Ek weet hulle doen. Kanse is hulle gaan daardie huursoldate weer op jou sit.”

Hy pers sy lippe saam. “Weet jy of…”

“Niemand het seergekry nie.”

Sy verhuurders. Die oom en tannie het niks aan enigeen gedoen nie. Hy moes seker vroeër gevra het. Maar vir wie sou hy vra? Hy weet die regte vraag is hoekom hy nie vroeër aan hulle gedink het nie. Natuurlik het hy te veel ander dinge gehad om te hanteer, om oor te besin. Troos hy homself. Lieg hy vir homself.

“Ek ken die spanleier. Hy is nie te sleg nie. Glo nie daaraan om te veel golwe te veroorsaak nie.”

“Ek hoor jou praat, maar die woorde beteken niks vir my nie.”

Sy draai na die kombuistafel. Gooi een van die McDonalds kardoes sakkies na hom. “Hy maak nie mense dood tensy dit nodig is nie.”

Renier vang die kos. Hou ’n hand in paniek op wanneer sy die koeldrank in sy rigting mik.

Sy lag, diep uit haar keel. Stap oor en oorhandig die papier beker. Sy maak haarself tuis op die twee-sitplek oorkant hom, trek haar voete onder haar in. Sy lig die plastiekdeksel en gooi iets uit ’n kleiner bottel in die beker.

“Hoe ken jy hom?” Renier hou sy beker uit na haar.

Sy tuit haar lippe in bepeinsing. Nie seker of sy sy vraag oor die huursoldaat oorweeg, of om hom ook ’n knertsie te gooi nie. Sy wink hom nader. “Ek het so een keer met hom te doen gehad. Walvisbaai. Ek hou nie van hom nie. Hy hou nie van my nie.”

Hy gaan sit weer. Namibië. Huursoldate. “Wie is jy?”

Sy lag. “Iemand wat na jou kyk. Vir nou.”

Hy drink die Whiskey en Sprite deur die strooitjie. Want dit is hoe sy dit doen.

35

Louise klap die selfoon toe. Steek dit in haar sak. Hulle is veilig. Mncube sal die nodige doen.

36

“Ek wil geen probleme hê nie. Niks nie.” Ou Louise trek die kappie laer oor haar gesig. “Geen verskonings. Dit loop glad, of dit loop nie. Moenie my tyd mors nie. Moenie belanghebbendes se tyd mors nie.”

Louise sit eenkant, kop gebuig. Nie deel van die vergadering nie. Die groep mense voor haar is die beste. Eintlik is hulle maar net die enigste, maar dit klink beter vir haar om hulle as die beste te bestempel. Die beste van die beste. Die enigste van die enigste. Haar maag maak ’n draai. Dankie tog Renier is uit die oog. Haar ander self sou hom moontlik opgesluit het vir die duur van die eksperiment. Dit sou dinge bemoeilik het.

37

“Kon ons nie iets meer…indrukwekkend gekry het nie?”

Miriam se spieël lense draai in sy rigting. “Wat is fout met ’n Suzuki?”

“Dit kon ’n Mustang gewees het.”

Sy lag weer uit haar keel. Hy begin regtig van haar hou. “En almal sien ons kom? Is jy nou James Bond?”

“Ek voel nie soos Bond nie. Ek dink ek is die ou wat per ongeluk geskiet word, of raakgery word langs die pad. Jy weet? Wanneer James Bond die baasbrein van die storie gaan aanvat.”

“Meer soos die nerdy tegnikus wat belangrike werk doen, maar nie aantreklik genoeg is om ’n meer prominente rol in die fliek te speel nie.”

“Jy weet. Jy het ’n manier om ’n kompliment te gee deur ’n belediging.” Sy hart kramp vir ’n oomblik. Soos Madelyn. In die ou dae.

“Ek is ’n meester,” sê sy gemaak eerbiedig. Lag weer.

Die oomblik is verby vir Renier. Hy staar by die venster uit. Die wolke in die vêrte. Miskien sal die reën hulle inhaal. Dit sal dinge vergemaklik. Planne wat halsoorkop gemaak is.

“Jy seker die outjie gaan die SUV tot in Gauteng vat? Dis darem maar ’n groot risiko.”

“Hy sal. Ek ken sy suster. Hy is banger vir haar as vir my.”

“Hel,” sê hy voor hy dink.

Sy lag weer lekker. “Hy sal so bietjie rondry eers. Vir ons tyd wen.”

Renier staar weer na buite. Dis sy laaste kans. Hy hoop regtig dinge sal nie verkeerd loop nie. Nie meer as wat dit reeds doen nie.

____________________________

Deel III

Al die tyd in die wêreld

38

Die mense drom saam voor die massiewe vertoonvensters, kyk af in die ronde kamer van beton en staal.

So ’n belangrike oomblik, dink Louise. Haar oë beweeg na die groep mense onder by die twee masjiene. Die belangrike mense . Die geld. En Ou Louise. Sy is verskuil onder die kappie, laag oor haar kop. Almal weet sy maak die besluite. Die storie wat rondloop het iets te doen met haar as ’n eksentrieke pariah. Almal weet sy is die persoon wat beïndruk. Wat dinge laat gebeur. Maar net die belangrikste van die belangrikste, weet wie sy regtig is.

Maar dit alles kom steeds neer op een feit. Sy is nie Louise nie. Nie die regte Louise nie. En sy kan nie verduidelik aan mense wat regtig aan die gang is nie. Dit sal dinge kompliseer.  Meer so haar lewe. Die dreigement was baie duidelik. Al haar werk – al die regte Louise se werk – beteken niks nie. Alles waarvoor sy gewerk het – steeds voor werk – beteken niks. Nie met haar ouer self in die prentjie nie. Iemand het ingestap en die resultate op die lessenaar gegooi. Resultate waaraan sy nog self gewerk het. Nog nie volbring het nie. Maak dit haar minder? Natuurlik. Dit maak haar – niks.

Sy kyk na haar horlosie.

Amper tyd

39

“Ons het jou eers later die week terug verwag.”

Miriam se tande flits. “Ek is beter as wat julle dink. Sou dink julle weet dit teen hierdie tyd.”

Die wag, Frits Beukes, staar na sy i-pad. Die skerm helder in die donker. Hy is een van die min wagte wat nie baie tyd vir haar het nie. Hy weet baie goed sy bedoel hy wanneer sy sê julle. Hy vryf selfbewus oor die brug van sy neus. Sy siening oor vroue in die werksplek het ’n meer – fisiese – bespreking tot gevolg gehad so paar maande terug.

“Wat is in die kattebak?”

Sy glimlag skeef. “Daar is ’n lyk in die kattebak. Die plastiek hou die meeste bloed in, maar ek moes vinnig ry toe die klomp by die padblokkade  meer nuuskierig raak. So ek kan niks belowe nie. Die bloed is moeilik om uit te was. So die klomp by die was-area gaan dalk woorde met jou hê.”

Hy kyk onseker na die agterkant van die voertuig. Draai na sy maat wat in die sekuriteit hokkie sit, kop rustend in sy hand.

Hy hou ’n hand vraend omhoog uit die hokkie. “Frits, rêrig? Dis Mirriam.”

“Kom nou Theunis. Ons moet seker maak. Ons bevele is duidelik.”

“Seker maak van wat?”

“Sy kan iets insmokkel. Iemand.”

“Frits. Hou jou misplaaste snert vir jouself. Dis Miriam.”

Frits skud sy kop stadig. “Bevele is bevele.”

“Frits,” sê sy sag. “Ek sal dit nie voorstel nie.”

Hy gee ’n lelike gryns. “Iets om weg te steek, Mirriam? Maak oop.”

Theunis stap uit die hokkie. “Frits. Kom nou.”

Frits swaai om. “Luister! Net omdat julle almal ’n bietjie jungle fever het, beteken nie…”

Miriam se deur ruk amper af met die geweld wat sy dit oopgooi.

Frits se hand trek die knuppel uit die ring aan sy lyfband. Vergeet van die vuurwapen. “Kom! Hierdie keer gaan jy my nie onverwags…”

“Frits! Moenie,” begin sy kollega. Stap vinnig nader om tussenbeide te tree.

Frits se been swik reeds onder hom. Hy roep uit in skok. Sê iets onsmaaklik.

Mirriam se voet trek terug. Sy volg op met ’n vinnige haakhou onder sy ken. Sy kop ruk terug. Voor hy sy sinne behoorlik terug kry, vat sy sy kop en hamer hom teen die kant van die voertuig.

“Mirriam!” roep Theunis uit. “Stop dit! Nou!” Sy hand op sy vuurwapen, maar hy trek dit nie uit nie.

Sy hou haar hande in die lug. “Jammer, jammer. Refleks.” Sy draai na Frits wat teen die kant van die deur lê. “Jy wil dalk herhaal wat jy gesê het?”

Hy hou ’n hand op in oorgawe.

“So gedink.” Sy draai na Theunis. “Ek kan deurry?”

Hy staar na sy kollega. Weet hierdie gaan moeilikheid maak later. “Ek is jammer, maar ons gaan eers die voertuig moet deursoek.”

40

Louise – Ou Louise soos sy weet haar ander self aan haar dink, kyk op na die vertoonvensters. Louise staar na haar van bo, uitdrukkingloos. Maar sy weet. Dit is immers sy haarself wat daar staan. Die emosies duidelik vir haarself. Sy weet.

Haar selfoon vibreer in haar sak. Sy het spesifieke instruksies gegee om haar op hoogte te hou van enige ongeruimdhede in en om die kompleks.

41

Lucky trek stadig van die pad af. Sy oë wit in die donker binnekant van die SUV. Hy weet, hy kyk in die truspieël. Sien homself. Die flitsende wit ligte is natuurlik nie polisie nie. Sekuriteit maatskappye gebruik dit. Seker die enigste kleur waaraan ’n besondere betekenis nog nie aangeheg is nie. Watter ander kleure is nog oor? Pers? Groen? Gelukkig nie polisie agter hom nie. Hy kan nie regtig ’n verdere probleem met hulle bekostig nie. Nie met sy rekord nie. Maar aan die ander kant, hy weet ook Polisie is darem so ligweg gebonde aan die reg. Hierdie klomp nie soseer nie. Hulle kan hom laat verdwyn.

Die man wat na die bestuurskant stap se hand rus op die wapen aan sy sy. Hy sou moontlik ’n donkerbril gedra het as dit nie nag was nie. Hy tik teen die venster. Lucky rol die venster af.

“Naand seun. Hierdie is jou voertuig?” vra die man in Zoeloe.

Lucky besef hy is in diepe moeilikheid. Antwoord in Afrikaans. “Nee. Meneer. Ek bestuur hom net vir ’n vriend. ’n Guns vir ’n vriend.”

Die man haal ’n klein flitsie uit. Die sterk straal beweeg oor die agterste sitplekke. Hy slaan oor na Afrikaans. “Hierdie vriend het ’n naam?”

“Nie iemand wat Meneer sal ken nie.”

Die man flits in Lucky se oë. “Klim uit die voertuig.”

“Ek dink nie daar is enige rede vir my om dit te doen nie.”

Die Glock tik hom teen die kop. “Ek gaan nie weer vra nie.”

42

“Maak oop,” sê Theunis. Hy het sy werk persona weer aangetrek met die besef dat hierdie hom in die agterwêreld gaan byt. Hy hou nie van Frits nie, maar reg is reg.

Mirriam hou haar gesig strak, stap na die agterkant van die Suzuki. Sy maak die kattebak oop. Theunis neem ’n tree terug. Vlieë brom in die nag, maar gaan nie vêr van die voertuig nie. Die reuk is…onaangenaam.

“Wat de hel?” sê Frits, ’n ent vêrder. Hy bly op ’n afstand, maar rek sy nek om te sien.

“Ek het gesê ek het ’n liggaam. Wil julle dalk dit van nader besigtig?” Sy hou ’n hand dramaties uit na die stinkende bagasie area.

“Nee, dis okay,” sê Theunis vinnig. “Wat gaan julle daarmee maak? Wie is dit?”

“Wil jy regtig weet?” vra sy.

Hy skud sy kop. Waai haar weg.

Of dalk waai hy vlieë weg.

43

Louise – Ou Louise – antwoord die oproep. Sy verwag een van die wagte om ’n verslag te lewer. Maar dit is nie een van die wagte nie. “Meyer?”

“Ons het die voertuig opgespoor,” sê hy.

“Du Toit?”

“Nee. Lyk of iemand ons aandag wou weglei.”

“Du Toit?”

“Ek betwyfel dit baie sterk.”

Sy stap na die kant van die vertrek vir meer privaatheid. “Wie was die persoon saam met hom?”

“Een van jou mense. Mncube.”

Sy is op die punt om hom te korrigeer. Nie haar mense nie. Louise s’n. Sy kyk weer op na Louise. Wat haar steeds aanstaar deur die dik glas. Onverwagse wending. Sy glimlag vir Louise. Sy sou self nie dinge net so aanvaar het nie. Wat beplan jy? Aan Meyer: “Sien wat jy kan uitvind.”

Sy maak ’n verdere oproep.

44

Renier val uit die kattebak, kruip kant toe en gooi op.

“Moenie so ’n pissie wees nie,” lag Mirriam sag.

“Regtig? Pissie?” Hy gooi die rou stukke vleis weg van hom met weersin. “Dis ingewande!”

“Ja, en?”

Dis…afskuwelik! Dit ruik sleg. Dit…”

“Dit het jou lewe gered.”

Hy spoeg vir oulaas op die grond. “Dit maak dit nie beter nie. Ek sal nooit weer kan braai nie.”

“Dit was vark.”

Hy gluur haar aan. “Hoe maak dit enigsins ’n verskil?”

Sy klap hom op sy kaal skouer. Hy is slegs in sy onderbroek geklee. Sy oorhandig ’n groot bottel met seepwater, saam met ’n ou laken. “Ek dog dit sal help. Jy lyk na ’n bief persoon. Of gaan jou nou eerder oorskakel na slaai? Hoender? Alles proe soos hoender.”

“Die reuk!” Hy maak homself so skoon as moontlik. Besluit die onderbroek sal moet gaan. “Draai om.”

Sy lag. “Asof ek nog nie gesien het nie.” Sy draai na die Suzuki en trek ’n rugsak agter die sitplek uit.

Renier trek skoon aan, besluit die effense ongemak om kommando te gaan, is die minste van sy bekommernisse. “Waar het jy die idee gekry, in elk geval?”

“Walking Dead.”

“Die TV-reeks?”

“Jy het dit nog nie gekyk nie?”

“Ek was ’n bietjie besig,” sê hy so bietjie nors, bietjie uitdagend. “Jy gaan nooit daardie kar skoon kry nie.”

“Nie my probleem nie.”

Hy knoop sy hemp toe. “Wat ís jou probleem?”

“Jy. Vir nou.”

Hy stap na die passasierskant. “En die plan?”

Sy skuif agter die stuurwiel in. “Soos bespreek.”

Renier maak sy oë toe vir ’n paar tellings. Sy hart klop in sy keel. Sirenes begin loei. Hy kyk rond. “Wat is dit?”

“Moeilikheid,” sê Mirriam. Klippe spat met die wegtrek.

45

Louise spring op met die oopswaai van haar kantoordeur. Die sirenes is erg genoeg op haar senuwees. Ou Louise stap stadig na binne. Gooi die kappie terug. “Jy lyk skuldig.”

Louise sê niks.

“Waarmee is jy besig?” Ou Louise gaan sit op een van die stoele voor die lessenaar. Rustiger as verwag. Twee van die wagte staan by die deur. Asof Louise êrens heen kan gaan. “Ek weet van Mncube.”

Louise bly stil. Vou haar hande op die lessenaar.

“Dit gaan jou nie help nie.”

“Help met wat?”

Ou Louise draai haar kop skeef. “Kyk, ek weet jy voel bedreigd. Ek sou ook.” Sy glimlag aan die een kant van haar gesig. “Ek gaan alles regmaak, ek belowe.”

Louise sit vorentoe. “Jy gaan terug?”

“Dis die enigste manier.”

Dit was nog heeltyd haar plan! “Maar hoe?”

Ou Louise sit terug. “Dit is nie nodig vir jou om te weet nie. Al wat belangrik is, is dat ek alles gaan regmaak. Hierdie keer.”

“Alles? Soos wat?” Paniek smoor haar.

Ou Louise skud haar kop stadig, asof sy met ’n hardkoppige kind praat. “Wat wou jy met Du Toit uitrig?”

Louise se beurt om haar kop te skud. “Jy het gesê hy sal veilig wees.”

Die geskende gesig staar haar aan. “Veilig is ’n breë konsep. Dit kan verwys na ’n beter plek. ’n Veiliger plek.”

Hulle staar mekaar stil aan.

“Sonder sy seun voel hy onveilig. Miskien is dit beter om hulle te herenig.”

“Hy sal weer wil spring. En weer. Dalk na sy seun, sal hy vir sy dogter wil spring.”

“Ek weet. En dis onveilig vir ons almal.” Sy waai ’n hand. “Ek neem dit op my om hom te verlos van sy pyn. Hom uitkoms te gee.”

Louise se mond is droog. Sy lees tussen die reëls. Sag: “Dood is nie die uitkoms nie.”

“O, maar dit is.” Sy maak of sy luister na iets. “Die wagte sal hom seker nou binnekort aankeer. Ons weet hy is hier.”

Louise hou haar hande stil op die lessenaar.

“Wat presies het jy beplan?”

Maar Louise sê niks.

46

“Waar het jy leer bestuur?” Renier klou krampagtig aan die binnehandvatsel van die deur.

“Jy wil dalk my geleentheid gee om te konsentreer?”

Hulle vleg deur die parkie.

“Pasop! Die swaai!” Die windskerm spinnerak aan Renier se kant. Iets swaar klap teen die dak.

“Ek dink dis Frits agter ons,” sê Mirriam. “Moes hom harder bygekom het.”

“Daar is twee voertuie agter ons,” sê hy onnodig.”

“Ja, maar dis Frits wat my moer koer. My mielie kielie.”

“Jou sin vir humor is regtig vreemd.”

Sy lag. “Ek doen komiese opvoerstukke in my vrye tyd.”

Hy kyk haar met ’n mate van skok aan. “Jy probeer snaaks wees?”

“Nee, glad nie. Ek ís eintlik nogal komies. Wanneer ek nie mense doodmaak nie.”

“Wanneer jy…”

Sy lag te lekker. “Gordel aan? Hou vas! Ek gaan die kar rol!”

“Jy gaan wat? Wag! Ek is nie reg om…”

47

“Wat de hel doen sy?” Frits ruk die stuurwiel na regs. Die Suzuki sleep wat lyk na ’n gedeelte van ’n swaai agterna aan ’n ketting. Die voertuig vleg deur die oorblywende gedeelte van die parkie en versnel in die rigting van die kompleks. Die een plek waar sy beslis nie mag gaan nie. “Louise gaan die horries kry.”

“Louise gaan ons uitskop,” sê Theunis stram langs hom.

“Jou gesê.”

“Ja, hou nou op. Ek was verkeerd.”

“Jy val altyd vir ’n mooi stelletjie.”

“Frits. Genoeg.” Hy skakel die nommer op sy selfoon wat hy gegee is.

Die Suzuki slaan remme aan, swaai om in hulle rigting. Die ligte verblind Frits.

“Wat de hel?” Hy staan op die remme. Die voertuig kom tot stilstand teen die Suzuki in ’n stofwolk. Beide spring uit, wapens gereed. Die tweede voertuig trek aan die ander kant in.

“Paul, Nico, dek daardie kant,” roep Frits uit, beduie. Die twee is vinnig uit, wapens gereed.

48

Ou Louise beëindig die oproep. Sy kyk op na Louise. “Hulle is in die proses om Du Toit en Mncube te arresteer.”

“Arresteer? Jy laat dit so regstegnies klink.”

“Niks sal saak maak binne ’n uur nie. Alles gaan weer terug na hoe dit hoort.”

“En hoe hoort dit, Louise?”

Sy staan op. “Soos dit hoort. In my tyd.” Sy beduie na die wagte. “Een binne, een buite. Niemand word toegelaat nie.” Sy draai na Louise. “Ek kan nie regtig sê dit was ’n eer nie. Daar is ’n gesegde. Iets in die lyn van jy moet nooit jou helde ontmoet nie.” Sy haal haar skouers op. “Nie dat jy ooit my held was nie. Ek is eintlik teleurgesteld.”

Sy stap uit. Die deur klik toe agter haar.

49

Die vier mans nader die Suzuki. Renier sit in die passasierskant, hande in die lug.

“Klim uit,” beveel Theunis.

Renier skud sy kop stadig.

“Waar is sy?” Frits kyk rond. “Kry vir my ’n flitslig.”

Iemand sug hard aan die ander kant, gevolg deur ’n klap op die grond, gevolg deur ’n “Hey!” gevolg deur ’n klap teen die metaal van die Suzuki, gevolg deur ’n knak en iets wat teen die grond val.

“Paul? Nico?”

“Hoe voel dit?” vra Renier vanuit die voertuig.

“Wat?” Frits rig sy wapen oor die dak. “Hoe voel wat?”

“Om twee keer in dieselfde nag deur ’n meisie opgefoeter te word?”

“Lag terwyl jy kan, ou maat. Ek en jy gaan nou gesels. Sien hoe lag jy sonder tande.” Hy knik in Theunis se rigting. “Gaan agterom. Die keer…”

Iets ruk sy voete onder hom uit. Sy maermerrie knak teen die onderkant van die Suzuki. Hy val met ’n vloek, sis in pyn: “Sy is onder die kar!”

Theunis is reeds aan die ander kant. Tree oor die twee wat bewegingloos op die grond lê. Buk af. “Ek sien niks.”

“Agter!” roep Frits uit.

“Pssst,” fluister Mirriam. Theunis spring op. Mirriam is teen hom. Haar hand druk sy wapen afwaarts. “Nee, nee. Nou-nou kry iemand seer.” Haar knie tref hom tussen die bene. Die skok laat hom af buk. Mirriam se knie klap teen sy sleutelbeen. Hy gee ’n sug en val grond toe.

Sy rol oor die dak.

Maar Frits is reg vir haar – gryp haar been met die oorswaai en ruk haar tot op die grond. “Nie so maklik nie,” sê hy sag. “Nie die keer nie.”

Sy rol tot op haar voete. “Kom nou, Frits. Doen dit soos ’n man. Hand tot hand.”

Hy plaas sy wapen terug in sy holster. Tree vorentoe. Vinnige houe. Ewe vinnige blokke. Sy is vinnig, maar hy is groter. Meer krag. Sy skop na sy bene, maar hy blok.

“Geen opmerkings, Frits? Jy is dan so goed daarmee?”

Hy sê niks, val aan met hernude fokus. Hamer teen haar verwere. Sy vuis dring deur, ruk haar kop na die kant. Die geweld van die hou laat haar kant toe strompel. Hy grinnik.

“Jy is vinniger as laas keer,” sê sy, vee bloed van haar mond.

“Jy is minder beskermd as laas keer. Hierdie keer is daar niks wat my terughou nie.”

“Ek kan werk daarmee.” Haar voet skiet omhoog en af, klap sy kop grond toe. Sy liggaam volg.

Hy staan op. Bal sy vuiste in ’n bokser houding. “Al daardie fyn voetwerk is vir ballerinas.” Hy weer twee skoppe af, voorarms beskermend oor sy kop. ’n Hou in haar maag laat haar dubbel vou. ’n Haakhou gooi haar op haar rug. “Ek gaan hierdie geniet.” Hy stap nader.

50

Louise voel die vibrasies deur die vloer. Die plek is gebou om ’n bomaanval te weerstaan. Maar die masjiene – want Ou Louise het beide aan – laat alles op ’n vlak vibreer wat bomme nie kan regkry nie.

Op ’n molekulêre vlak.

Dit oorbrug immers die metafisiese vlak van tyd en ruimte.

Sy kyk na die skematiese diagramme wat sy rofweg opgetrek het op ’n stuk papier. Die teorie is…moontlik. Niemand kan verseker sê nie. Hierdie is baanbreker werk – op alle vlakke. Daar is egter ’n logika, hoewel dit ongelooflike risiko behels. Die masjiene werk. Dit is sonder twyfel. Maar net twee mense kan dit gebruik. Louise en Renier. Sy neem aan sy kan, dit lyk of die masjien sy passasier op ’n genetiese vlak kies. In teorie. En ’n paar lewens verder. Maar niemand sê iets oor die dood van die proefkonyne nie. Soms word anderpad gekyk vir vooruitgang. Sy trek ’n vinger oor die papier. Die teorie is eenvoudig. Die twee masjiene skep twee tydlyne, hoewel staties. Met ander woorde, daar is beweging in twee lyne. Louise s’n en Du Toit s’n. Beide vloei saam, verenig, op ’n punt in tyd. So die teorie van alternatiewe tydlyne is verkeerd. So ook die teorie dat jy nie in meer as een tydlyn kan bestaan nie. Sy en Louise – Ou Louise – is bewys daarvan. Maar. Renier bestaan net eenmalig in sy eie tydlyn. Wat nie sin maak nie. Tensy sy interaksie (onwetend) met Ou Louise iets verander het met daardie sprong. Aan haar tydlyn, maar nie syne nie? Maar steeds bestaan net een tydlyn. So die samevloei van die twee…

Sy krap gefrustreerd oor die diagram. Teorie is een ding. Maar die werklikheid is meer geslote.

Miskien tachyons? Heg tachyon partikels aan die reisiger? Het Du Toit se sprong in Louise se teenwoordigheid ’n effek op haar gehad? Haar aangehegte  tachyon samestelling moontlik verander? Die patroon daarvan? Is dit haar filosofie? ‘Alles gaan weer terug soos dit hoort’ was haar woorde.

Koue vingers omvou steeds haar maag. Soos dit hoort vir wie? Ou Louise wil terugspring. Sy wil die tydlyn regstel.  En dit beteken…sy – sy as Louise van hierdie tyd – gaan dan nie meer bestaan nie? Is dit wat Ou Louise eintlik probeer bewerkstellig?

Waar is hulle? Mirriam en Renier moes nou al hier gewees het. Sy skuifel ongeduldig in haar stoel. Die wag hou haar dop. Daar is iets in sy oë. Iets wat sy nou eers opmerk. Hy is een van die oorspronklike wagte hier. Maar hy sien haar as iets anders. Sy het nie meer waarde nie. Sy ken die kyk. Sy sien dit reeds haar lewe lank.

Hy kyk weg, stadig. Hy het seker reeds sy opdragte. Sy weet wat dit sal behels. Ou Louise sal nie kanse wil vat nie. Net ingeval die eksperiment onsuksesvol is.

Sy sak haar kop en voel iets wat sy lanklaas gevoel het.

Wanhoop.

Waar is Mirriam?

51

Louise staan voor die twee masjiene. Haar kappie in plek. Almal weet. Maar dit maak dit nie makliker vir haar nie. Dit het ’n simbool geword. Van haar posisie. Haar magsposisie. Twee gewapende wagte by die ingang. Twee proefkonyne. Mense van die straat af. Nie hier om vrye wil nie. Want almal verwag dit gaan hulle dood beteken. Niemand voel eens skuldig daaroor nie. Vooruitgang! Sy kyk op na die mense wat af staar na die masjiene. Afwagtend. Hulle weet wat die risiko is. Wat die uiteinde mag wees. Spekulasie. Maar geen argumente oor menseregte, die keuse van lewe en dood nie. Net vooruitgang. Geld met ander woorde. Vir hulle. Hulle is so kortsigtig. Sien net geld in alles. Verstaan nie wat hierdie regtig beteken nie. Wat vooruitgang regtig beteken nie.

Die masjiene bereik die klimaks in opbou. Energie wurm opsigtelik tussen die twee beton verhoë. Die twee konyne staan terug, oë vol vrees. Sy weet nie wat hulle beloof is nie. ’n Huis. Kos. Geld. Party mense se lewens is regtig net gefokus op die praktiese oorlewing van dag na dag. Sien nie die groter impak om hulle nie. Maar vandag is hulle gelukkige dag. Hulle gaan hierdie oorleef.

’n Gordyn van vonke spring tussen die masjien op.

Dis tyd.

Iets agter haar.

’n Ander geluid.

52

Louise se oë spring na die deur. Die wag draai ook in daardie rigting. Sy kyk vinnig oor die lessenaar. Iets wat sy kan gebruik om hom oor die kop te slaan? Dis altyd so maklik in ’n fliek. Die wag draai terug, wys ’n vinger in haar rigting. Skud sy kop. Sy sit die krambinder neer. Nie dat dit iets sou uitrig teen hom nie. Hy wys haar om te gaan sit. Sy sak bedeesd terug in die stoel.

Stilte aan die ander kant. Hy draai die handvatsel. Die deur gaan met geweld oop, stamp hom terug en van balans af. Mirriam stap in, haar klere vuil, bebloed. Een oog toegeswel. Bloed aan die kant van haar kop. Sy skop sy wapen eenkant toe, maar hy behou sy greep. Sy swaai om in een beweging, haar kop laag na die grond, voet hoog in die swaai. Haar voet tref hom teen die kant van sy kop. Hy verloor belangstelling met die wêreld en sak amper rustig na die vloer.

“Vat jou lank genoeg,” sê Louise. Sagter: “Wat het met jou gebeur?”

Renier skuif in die vertrek in, sleep die ander wag aan die kraag. Hy lyk vreemd met ’n CZ 75 in die hand. “Sy? Jy moet die ander ou sien,” sê hy met ’n grinnik. Hy maak die deur toe, na hy vinnig uitloer om seker te maak niemand het iets gesien nie. Hy kyk met iets soos bewondering na Mirriam. “Ek moet erken, ek is nogal bly sy is aan ons kant. Al weet sy nie wat die verskil tussen rol en tol is nie.”

Mirriam gee ’n skewe glimlag. “Daar was vuil wasgoed wat ons eers moes uithang.”

“Ons het nie baie tyd nie,” sê Louise.

“Voel so, ja,” sê Renier.

“Jy seker jy wil dit nog doen? Daar is geen sekerheid oor die uitkoms nie.”

Renier staar haar ’n oomblik aan. Sag, vasberade: “Ek het nie ’n keuse nie.”

“Daar is altyd ’n keuse.”

“Nee. Daar is nie. Kan ons nou ophou? Ek weet wat ek doen.”

“Ek hou daarvan wanneer ’n man sy voet dwars sit,” sê Mirriam dramaties, maar grinnik.

“As jy nie ’n tipe ninja was nie, sou ek vir jou ook gesê het waar om af te klim.” Hy glimlag vinnig. “Kom.”

“Mmmmm. Die Swart Ninja. GI Joe, staan eenkant toe!” Sy deursoek die twee wagte. Gooi die een se handwapen na Louise. “Jy weet hoe om dit te gebruik? “

Louise glip die magasyn uit. Span die wapen. Klap die magasyn terug en span dit weer.

“Reg. Vraag geantwoord.” Mirriam glip by die deur uit. Loer terug na die ander twee. “Gaan hierdie lank vat?”

53

Ou Louise staar na die twee masjiene. Beide in volle gang. Die energie begin reeds opvlam oor die twee platforms, sal binnekort ’n soliede, vertikale ligbuis vorm tussen die platform en die oorhoofse koepel van die masjien. Star Trek het ’n groot invloed op haar gehad. Hierdie is amper soos een van hulle teleportasie platforms. Die een aan die linkerkant – sy dink aan dit as die Du Toit-masjien, ’n fraksie vinniger as haar eie. Die tydgang of -geut sal stabiliseer binne enkele minute. Dis soos towerkrag. Arthur C. Clarke het dit gesê in ’n boek reeds in 1962 – enige tegnologie wat so vêr gevorderd is, is ononderskeidbaar van towerkrag. Tegnologie wat letterlik die bestaan-weefsel van die heelal verander. En hier is sy. Iets wat almal oor droom. En sy doen dit! As mense haar net wil uitlos! Haar die geleentheid gee.

Sy draai na die geluid agter haar. Die deure wat oop rammel. Sy sien haarself instap. Jonger. Minder ervare.

Mooier.

Want dit is nie ’n geskende gesig wat haar met vuur in haar oë aanstaar nie. Sy voel amper trots om dit uiteindelik in haarself te sien. Daardie vuur.

Amper.

Sy beduie na die wagte.

Hulle hou reeds hulle wapens gereed, maar onseker. Hierdie is nie heeltemal wat hulle verwag het nie. Om ’n klomp wetenskaplikes te beskerm is maklike werk. Daar is ’n vuurwerkvertoning nou en dan, maar niks gebeur regtig nie. Hulle sien drie mense instap. Die wetenskaplike, ’n man met ’n baie vasberade houding…en Mirriam. Almal ken vir Mirriam. Sy meng gemaklik met die wagte wanneer sy hier is. Drink saam. Neem deel aan die vriendskaplike stoei toernooie so af en toe. Al verstaan sy nie so mooi die beginsel van stoei nie. Sy met haar skoppe. Maar ’n gunsteling onder almal.

“Skiet hulle! Nou!” roep Ou Louise uit. Duidelik genoeg vir almal om te hoor. Niemand beweeg nie. Twyfel. Sy stap nader aan die een. Ruk sy handwapen uit die holster. Rig dit op die drie.

“Melodramaties,” sê Louise. Sy rig haar eie wapen.

Een van die wagte roep uit, hou ’n hand op. “Wag! Wag!” Hulle wapens huiwer tussen die twee vroue.

“George. Len. Moenie,” sê Mirriam. Haar wapen hang langs haar been. “Sit hierdie een uit.”

Die twee kyk onseker na Ou Louise.

“Moet ek alles self doen?” sis sy.

“Dis regtig nie die moeite werd nie,” sê Mirriam aan die wagte.

Die twee besluit dis goeie advies. Hulle ken haar. Beveilig hulle wapens. Len maak sy mond oop om sy handwapen terug te kry. Besluit dis ook nie die beste roep nie. Hulle vermy Ou Louise se blik en beweeg ’n paar treë terug. Sy doen nie eens die moeite om hulle te dreig nie. Dit maak nie meer saak nie. Niks gaan meer saak maak nie. Sy tree in die rigting van die masjiene agter haar.

“Wag,” roep Louise uit.

Renier stap nader. Hand paaiend. Stadig. Sy oë op Ou Louise. “Dit gaan nie werk nie.”

“Jy weet nie eens wat ek beoog nie,” sê sy uitdagend.

“Ek weet. Dit gaan nie werk nie. Niks verander nie.”

Sy lag sag. Wissel die rigting van haar wapen tussen die drie. Beweeg in die rigting van die twee proefkonyne wat soos regte verskrikte diere vasgenael staan. Aan Renier: “So hoekom is jy hier? Wat wil jy doen as jy glo dit gaan geen verskil maak nie?”

“Ek is hier om jou te stop.”

“Nee. Nee, Du Toit. Jy glo. Jy weet ek is reg.” Sy wys na die masjiene agter haar. “Hierdie gaan werk. En ek gaan jou kom opsoek.”

“Opsoek? Wat bedoel jy?” Maar hy weet.

Sy stoot die kappie terug, wys na haar gesig. “Jy is verkeerd. Die verlede kan verander.” Sy wys om hulle. “Selfs hierdie. Alles is anders as wat jy voorheen beleef het, is dit nie?”

Hy onthou die gevoel toe hy nie die masjien by die Universiteit gekry het nie. Pers sy lippe saam.

“So, Meneer du Toit. Wat is dit wat jy gaan doen?” Sy draai na Louise. “Of jy? Jy dink jy kan die sneller trek? Doen dit!”

Louise byt haar lip. Laat sak die wapen.

“So gedink.” Sy stap na Louise, hou ’n hand uit.

“Moenie,” sê Mirriam sag.

Ou Louise beweeg so dat die twee proefkonyne tussen haar en Mirriam staan.

“Kom uit die pad,” roep Mirriam. Sy beweeg nader, stamp die twee weg.

Te laat.

Ou Louise vat die wapen uit Louise se hand. Rig dit op Renier terwyl sy agter Louise inskuif. “Du Toit. Laat val dit net daar.”

Renier steek vas. Kyk na Mirriam, wie net haar kop skud. Hy los die wapen op die vloer. Staan weerloos voor Ou Louise. Mirriam beweeg weer om beter aan te lê.

“Nee,” sê Ou Louise. “Jy bly net daar. Laat val jou wapen.”

Mirriam ignoreer die instruksie, maar beweeg stadiger. Wapen op die twee Louises. “Louise.”

“Staan teen my,” sê Ou Louise in Louise se oor, druk die linker wapen teen haar kop. “Beweeg stadig terug. Jy probeer iets en een of beide van hulle is dood.” Hulle tree stadig in die rigting van die masjiene, die drukking van die loop teen Louise se kop as leiding. “Ooit gewonder wat sal gebeur as ons beide terugspring?” vra sy sag. “Sal ons probeer?”

“Louise!” Mirriam se stem is dringend. “Moenie.”

Ou Louise tree steeds stadig agteruit, dwing haar gevangene saam. Aan Mirriam: “Wat gaan jy doen? Dis verby.”

“Jy is by die verkeerde masjien,” roep Renier uit. “Jy weet wat dit gaan doen!”

Ou Louise gaan staan. Kan nie wees nie. Bluf hy? Maar as hy nie bluf nie…sy kyk vinnig om.

Renier het reeds begin hardloop. Sy sien die beweging uit die hoek van haar oog. Renier vat hoog, ruk haar aan die arm wat die wapen teen Louise se kop hou. Haar terugkyk het die loop net so bietjie weggedraai. Maar sy trek nie die sneller nie. Hy slinger haar vloer toe. Haar kop klap op die sement. Mirriam tel die wapen op wat oor die vloer skuif.

Renier lig Ou Louise op. “Jammer. Maar ek kon nie toelaat…”

Ou Louise draai in sy greep, druk die loop van die ander wapen onder sy ken.

54

Mirriam beweeg ’n tree na links. Louise gebruik Renier effektief as ’n skuld. Tree vir tree teen die trappies op na die platform van die linker masjien. “Louise, moenie,” sê sy, wetende dit gaan geen verskil maak nie. Miskien kan sy net haar aandag aftrek vir ’n oomblik. Dis al wat sy nodig het.

55

“Jy gaan niks uitgerig kry nie,” sê Renier. Hy hou Mirriam dop uit die hoek van sy oog.

“Ek het ’n teorie,” sê sy in sy oor. Sy buk laag agter hom. Hou ook vir Mirriam in die oog.

Hy sê niks, kyk in die rigting van Louise. Die jonger vrou staan met ’n hand oor haar mond.

“Jy kan dinge saamvat. Ek en jy het beide dit al gedoen.”

“Saamvat?”

Sy tik die wapen teen sy kop. “Moenie dom speel nie. Ons neem ons klere saam. Jy met jou tas en notas. As jy iets vat, fisies, gaan dit saam.”

“Fisies? Ek verstaan nie.” Maar hy verstaan. Wonder:  “Dit werk nie met organiese materiaal nie.”

“Organiese materiaal?” Sy druk die loop stywer teen sy kop. “Dis seker nie die ergste wat ek al genoem is nie.”

“Dit gaan nie werk nie,” hou hy vol.

“Jy het dit probeer?”

“Dit…nee. Maar as dit nie werk nie, is ons albei dood.”

“Ek is bereid om die kans te vat. Die teorie is feitelik akkuraat.”

56

As hy net sy kop so bietjie eenkant toe skuif, dink Mirriam.

“Louise!” roep Louise – Jong Louise. “Die teorie is nie korrek. Jy het nie massa in ag geneem nie.”

“Belaglik! Massa het geen uitwerking…” Ou Louise draai. Net so.

Mirriam trek die sneller.

57

Louise ruk agter Renier. Hy val plat, nie seker waar die skoot vandaan kom nie. Tegnies weet hy dis te laat. Wanneer jy die skoot hoor is dit reeds te laat. Maar sy brein vertel hom stories. Die wil om te leef.

Nog ’n skoot.

Voel nader, maar klank trek snaaks hier.

Iemand skreeu.

Kan hy wees.

Iemand ruk aan hom. Hy kyk om, op. Die geskende gesig van Louise is amper teen syne, asof sy hom wil soen. Bloed verkleur die materiaal oor haar skouer.

“Kom. Daar is nie tyd nie.”

Hy sukkel op. Dink eers hy is raak geskiet, want sy been wil nie so lekker werk nie. Hy kyk af. Bloed oor sy knie. Jeans geskeur. Verligting. Net ’n skraap teen die metaal platform waarop hulle hul bevind. Die energie wriemel voor hulle. Lyk na ’n soliede stuk lig. Soos voorheen. Sy hart spring. Gaan dit hierdie keer werk? Gaan iets verander? Sy seun…

“Kom Du Toit. Ons gaan nou! Jy sal leef, of nie!”

Leef. Of nie.

Renier steek vas, trek terug.

Leef of nie.

Ek gaan jou kom soek.

Haar woorde.

Hy glo haar.

Hy stamp haar.

Hard.

Haar oë rek.

Sy gryp na hom.

Kry ’n mou beet.

Trek hom agterna.

Hy skud haar af.

Voel die materiaal skeur.

Sy verloor haar balans en strompel agteruit.

In die lig in.

58

Renier sak neer op sy knieë. Kots onophoudelik. Keel rou. Sy maag kramp.

Hande op sy skouers.

“Dis okay. Renier! Dis okay.” Merriam aan sy linkerkant.

Louise aan sy regterkant. “Kom ons het nie tyd nie.”

Hy spoeg. Probeer die smaak uit sy mond kry. Die stem dring deur. “Tyd? Vir wat?”

“Jy moet gaan. Nou!” Louise se hand teen sy wang, draai sy gesig na haar. “Nou Renier! Die masjiene vat te veel krag, daar is nie tyd nie!”

Hy hoor – voel – die verandering in die vibrasies. Die lig kolom voor hom. Verbeel hy hom, of wankel dit so effens?

Hy word opgehelp.

“Nou, Renier!” Louise vat hom stewig vas van die kant. Soos ’n verliefde.

“Wat doen jy?”

Sy glimlag op na hom. Hy besef sy is eintlik mooi. Sy moet meer glimlag.

“Ek gaan saam.”

“Jy gaan doodgaan.” Hy probeer haar afskud.

“Nee. Sy was reg. Dit sal werk. Maar net as ons beide gaan. Saam.”

“Jy wil hê ek moet die kans weer vat? Ek kan nie.” Hy druk haar weg. “Ek kan nie, ek is jammer.”

“Hou op om ’n baba te wees,” sê Mirriam. “Sy weet wat sy doen.”

Hy kyk met twyfel tussen die twee. “As sy reg is, is daar ’n kans dit gaan ’n effek op jou hê. Op jou lewe,” sê hy aan Mirriam.

Sy glimlag. “Ek weet.” Sy knik in Louise se rigting. “Jy weet waar om my te kry.”

“Kom, Renier. Nou of nooit.”

Hulle hinkstap in die lig in, hand om die lyf.

59

Verblindende lig. Hy voel sy liggaam letterlik uitmekaartrek.

Weer.

Hy onderskei weer tussen die verskillende stadiums, ten spyte van die oombliklike verandering. Vel eerste. Dan spiere. Ligamente. Been. Sintuie reeds nutteloos. Maar hy vóél dit.

As dit net sal werk hierdie keer…

60

Renier snak na sy asem. Probeer homself kalmeer. Hy is terug. TERUG. Hy lê in sy bed. Sy knie is seer. Hoekom? Wat het hierdie keer gebeur?

Hy onthou.

Onthou alles.

Spring op. Louise?

Sy is nie langs hom nie. Nie in die kamer nie.

Het dit gewerk? Het hy dit gemaak? Het sy dit gemaak?

Pyn steek deur sy kop. Hy sak terug op die kussing. Oë toe. Weier om na die elektroniese horlosie te kyk.

Wat as?

Hy staan stadig op. Loop na die badkamer. Kyk na homself in die spieël. Oud. Hy word oud. Skop sy klere af. Die jeans is vuil. Bebloed. Die hemp nie veel beter. Geskeur. Nie sy bloed nie, ten minste. Die stort is warm. Hy staan koponderstebo. Vir lank. Laat die water alles afwas. Maar sy maag is op ’n knop. Hy droog af.

Is die handdoeke anders? Groen? Hy is seker dit was blou. Hy het nog nooit van groen gehou nie. Dit was altyd Madelyn se kleur. Sy hart ruk. Wat is fout met hom. Dit het nie gewerk nie. Die dood van hulle dogter. Dit het alles verander van daar af. Sy seun. Al wat hy oorgehad het. Nou weer van vooraf probeer. Sonder sy notas.

Hy stap die kamer in. Trek skoon aan. Ignoreer die horlosie. Hy is honger. Miskien iets maak om te eet. Eerder iets kry om te eet. Daar is mos niks in die huis nie.

Die meisie staan in die deur, staar hom aan. Hy sluk hoorbaar. Dit lyk kompleet soos…

“Yolande, roep jou pa. Ontbyt is reg!”

Renier gaan sit, mis die bed en beland op die vloer. Skraap sy rug. Hy voel dit nie.

Die meisie skaterlag. Hardloop en spring op hom. Hy hou haar vas. Snikke ruk uit sy bors. Hy kry nie asem nie. “Pappa seergekry?” Sy vat sy gesig tussen haar hande. Kyk hom in die oë. Hoe oud is sy? Hoe is dit moontlik? “Ek sal pleisters kry?”

Hy druk haar vas. “Nee. Nee, my liefling. Alles is reg. Alles is reg.” Hy huil in haar hare.

“Hel, Pa. Die ouderdom vang verseker op.” Eugene stap in. “Bietjie hulp nodig?”

Hy hou ’n hand uit na sy seun, trek hom af na die vloer. Omhels sy kinders.

Alles is reg.

Alles.

 

61

“Jy seker alles is reg?” Madelyn werk haar vingers tussen syne in, bekommerd. “Iets is…anders.”

“Anders?”

“Jy moet daardie room gebruik wat ek vir jou gekry het.”

Hy lag. “Room? Vir wat?”

“Hou op om so ’n man te wees. Ons raak almal ouer.” Sy gaan sit op sy skoot, bene aan weerskante van syne. Voorkop teen syne. “Ek sweer, jy het plooie oornag gekry.”

“Die kinders….”

“Is in hulle kamers.”

“Ek het jou gemis.” sê hy sag.

“Ek is nog heeltyd hier.”

Hy glimlag net.

 

62

“Pa, hier is ’n vrou wat met Pa wil praat.” Eugene skuif by hom verby, terug na sy kamer. Renier se maag maak ’n draai.

Twee maande na die sprong.

Haar woorde spook by hom. Ek gaan jou kom soek.

Renier stap na die voordeur. Louise staan voor hom.

“Hallo Renier.”

Nie hallo Du Toit nie. Iets wat hy nou onthou. Ou Louise het hom altyd net Du Toit genoem. “Louise.”

Sy glimlag. “Dis regtig ek.”

“Ek weet nie eens wat dit meer beteken nie.”

Sy knik nugter. “Ek verstaan. Maar jy kan ontspan.”

Hy hou haar dop vir ’n lang oomblik. Wag vir ’n vuurwapen om uitgeruk te word. Iets.

“Hallo?” Madelyn kom staan langs hom.

“Ah. Madelyn. Hierdie is…”

“Louise.” Sy stap nader, steek ’n hand uit. “Ek en Renier het ’n besigheidstransaksie onlangs beklink. Goeie vooruitsigte. Vir my besigheid.”

Madelyn neem haar hand. Haar oë flits tussen die twee. Agterdogtig.

“So bly om jou te ontmoet,” sê Louise met ’n breë glimlag. “Jou man is ’n legende in sy veld.”

“Regtig?”

“Regtig. Ek het met sy bestuurder gepraat. Lyk of daar ’n pos beskikbaar is vir Renier.” Sy draai terug na hom. “Area bestuurder, as ek reg verstaan.”

“Neeeeee.”

Sy lag. “Ek dink jy wil hom bel. Net om seker te maak.” Sy draai na Madelyn. “O. Net om dankie te sê.” Sy hou ’n koevert uit. “Ons het vir julle kaartjies gereël.”

“Kaartjies?” Renier lyk ongemaklik. Madelyn se hand rus op sy skouer. Sy glimlag op na hom. Met haar lippe vorm sy die woorde: area bestuurder!

“’n Opvoering by Monte Casino. Komedie. Geskik vir kinders ook.”

Madelyn neem die koevert. “Dankie. Dit is eintlik nodig vir ons om ’n bietjie uit te kom.” Sy tik Renier op die skouer. “Sien Louise af, ek het kos op die stoof.”

Hulle stap in stilte na die Lexus wat langs die oprit staan.

“Hoe gaan dit?” vra sy.

“Ek het my familie,” sê hy eenvoudig.

“Jou dogter?”

“Die kanker is steeds daar. Maar ons het dit vinnig genoeg laat diagnoseer.” Hy vee oor sy oë. “Die dokters is steeds verbaas dat ek geweet het. Daar was geen tekens regtig nie. Sy kry behandeling. Dit lyk positief. Baie positief.”

“Jou seun?”

“Alles het klaar verander. Ek is positief.”

Sy leun teen die voertuig, vou haar arms. “Ons het vêrder teruggespring as wat ons verwag het.”

“Amper drie jaar.”

Sy knik.

”Dit was die tweede masjien se invloed?”

“Moet wees. En die kombinasie van ons beide deur die tydgleuf. Ek is oortuig die twee tydlyne het saamgesmelt.”

“Ons sal nooit weet nie,” sê hy. Hou haar dop vir ’n reaksie. “Die projek?” vra hy versigtig.

Sy kyk in die vêrte. “Ek gaan dit op ys plaas.”

Hy kyk na die gras tussen sy voete, wil nie hê sy moet die verligting, die selfsug, in sy oë sien nie. Weet dit is ’n groot besluit. Sy het haar lewe daaraan gewy.

“Ek voel daar is sekere dinge wat ons eerder moet uitlos.”

“Kan nie meer saamstem nie,” sê hy. “Jy ken rêrig my bestuurder?”

Sy glimlag. Maak die deur oop. “Ek doen. En het regtig ’n perseel laat koop. Die agent wie die portfolio hanteer het die kommissie gekry, maar ek was uitgesproke oor jou wat die aanbeveling gemaak het.” Sy klim in, draai die venster af. “Klaarblyklik het jy genoeg goeie aanbevelings gemaak op jou eie om die nuwe posisie te verdien.”

“Dit word waardeer,” sê hy opreg. “Ek sal die besonderhede waardeer vir die aanbeveling wat ek aan jou gemaak het.”

Sy glimlag. “Ek is bly julle het dinge uitgewerk.” Sy beduie na die huis.

“Nuwe begin,” sê hy. “Ons kry nie altyd die geleentheid nie.”

Die Lexus spring aan die lewe. “O, ja. Die opvoering. Amateur komediant aand. Dit is die debuut van ’n ene Mirriam Mncube. Ek verstaan sy het ’n vreemde sin vir humor.”

Renier gee ’n laggie. “Ek kan getuig.” Hy vat aan haar arm. “Dit is regtig goed om jou te sien.”

Sy glimlag. “Kyk na jouself Renier. En jou familie. Jy is ’n goeie mens. Gebruik die geleentheid.”

“Jy ook, Louise. En Louise?”

Sy sit haar donkerbril op, draai na hom.

“Dankie.”

Sy glimlag weer. Trek weg met ’n finale knik in sy rigting. Die Lexus ry verby ’n wit paneelwa aan die linkerkant van die straat. Daardie kabels waaraan hulle werk is altyd ’n probleem.

EPILOOG

 

Meyer trek die skuifdeur van die afleweringsvoertuig toe, klim aan die passasierskant in. Sy oproep word onmiddellik beantwoord.

“Verslag?”

“Hy weet niks. Doen niks. Gaan voort met sy lewe.”

“Geen indikasie dat hy ondersoek instel nie?”

“Niks. Dis nou vier weke na julle gesprek. Drie maande van waarneming. Ons mors ons tyd hier.”

“Verwyder die afluisterapparaat. Kom af Kaap toe. Ons het werk om te doen.”