Bordspeletjies

Een van die minder ooglopende vorms van vermaak waaraan mense deelneem is om bordspeletjies te speel.  Bordspeletjies is ‘n vorm van vermaak waar ‘n aantal mense saam of teen mekaar wedywer deur om ‘n tafel te sit en ‘n gemeenskaplike speletjie te speel.

Voorbeelde hiervan is om met ‘n pak kaarte te speel, bv. poker.  Of om Slangetjies en Leertjies te speel waar daar verskillende stukkies gekleurde plastiek van die eerste blokkie af te skuif en te kyk wie die eerste by blokkie nommer 100 uit te kom deur beurte te maak om ‘n dobbelsteen te gooi.  Skaak, daarenteen, is ‘n spel wat minder op geluk staatmaak en eerder op strategie.  En dan is daar talle woordspeletjies soos Krabbel wat op taal en spelling gemik is.

Die speletjie Monopoly of Boereplaas raak meer ingewikkeld met spelers wat om ‘n bord beweeg met hul stukke maar waar daar ook pakke kaarte voorkom wat geluk en ongeluk vir die spelers verteenwoordig.

Mens sou kon wonder wat dié tipe speletjies met fantastika te doen het.  Elk van die speletjies skep inderdaad ‘n tipe wêreld van hul eie, maar dis nie regtig wetenskapfiksie of fantasie nie, of hoe?

Wel, dis nou presies die punt van hierdie bladsy.  Daar bestaan inderdáád speletjies in die bestaansruim van spekulatiewe fiksie.

Die eerste voorbeeld hiervan is die bordspeletjie genaamd Dungeons & Dragons (of D&D verkort).  Hierdie speletjie wat ons in Afrikaans vertaal na Drake & Doolhowe, is ‘n speletjie wat geheel en al as fantasie gespeel word, met drake, towenaars, ens., wat as karakters daarin voorkom.  Hierdie speletjie word gespeel deur ‘n aantal spelers asook een persoon wat as die Doolhof Meester (DM) van die speletjie optree deur die spesifieke scenario op te stel en te reguleer tot die einde van die spel bereik word.

Hierdie speletjie bestaan reeds sedert 1974 toe dit in Amerika vir die eerste keer die lig gesien het.

In D&D skep elke speler ‘n eie karakter met unieke eienskappe volgens sekere reëls.  Hierdie eienskappe word dan gebruik om avonture uit te voer, raaisels op te los of om vyande te verslaan.  Die spel word met sewe dobbelstene gespeel – elk met ‘n ander aantal sye en nommers.

Hierdie speletjie het hoogs populêr geraak met klubs in feitlik alle lande wat gereeld saam speel.  Daar is selfs in 2023 ‘n vollengte rolprent uitgereik in die D&D-heelal getiteld Dungeons & Dragons: Honor Among Thieves.

Wel, dis heel interessant dat daar ‘n fantasie-bordspeletjie bestaan (en reeds vir meer as 50 jaar), maar wat van wetenskapfiksie?  Iets so tegnologies soos wetenskapfiksie gebruik tog seker nie bordspeletjies nie – dis sekerlik meer geskik vir videospeletjies.  Of nie?

Interessant genoeg is daar talle bordspeletjies wat op wetenskapfiksie gebaseer is.  Die bekendste van dié is die speletjie Warhammer 40 000 (soms Warhammer 40k) wat ons vertaal na Strydbyl 40 000.  Dié speletjie, wat beide elemente van wetenskapfiksie en fantasie bevat, het die eerste keer in 1987 verskyn, en is deur ‘n Britse maatskappy uitgereik.

 

Hierdie speletjie, net soos in die geval van D&D, het ‘n reuse volgerkorps opgebou met talle entoesiaste wat gereeld speel regoor die aarde.  Hoewel daar nog nie ‘n vollengte rolprent oor hierdie speletjie gemaak is nie, bestaan daar reeds verskeie kort films op YouTube wat gratis gekyk kan word.  Daar is ook ‘n aantal videospeletjies wat later uitgereik was en wat op hierdie bordspeletjie gebaseer is.

Dié bordspeletjie speel af in ‘n enkele sterrestelsel waarin daar talle wêrelde op verskeie planete bestaan wat gereeld in konflik is met sekere van die ander.  Daar word verskeie gode erken en wat aanbid kan word deur die volke van hierdie heelal, wat dan sekere voordele aan hulle verskaf.

In die geval van Strydbyl 40 000, kies elk van die onderskeie spelers ‘n spesifieke volk, en koop dan stukke (soortgelyk aan skaak) wat verskeie range en soldate van die bepaalde volk se eienskappe verteenwoordig.  Die stukke word dan deur die speler geverf in die kleure van sy keuse.  Die spel word weereens gespeel deur dobbelstene te rol, om die sukses van elke beurt te bepaal.

Beide Drake & Doolhowe en Strydbyl 40 000 geniet groot aanhang in Suid-Afrika deur entoesiaste wat gereeld bymekaarkom en speel, en ook by spesiale geleenthede soos by ComiCon elke jaar.

Op hierdie bladsy het ons bloot gefokus op twee spesifieke speletjies, maar daar bestaan inderdaad ‘n klomp ander ook.  Hoewel baie van ons voel dat bordspeletjies eintlik vir kinders is, kan hierdie speletjies ure se vreugde en plesier verskaf – en dis ‘n heerlike vorm van vermaak wat saam met vriende of die lede van ‘n klub geniet kan word.  Probeer dit gerus – dis meer pret as wat jy sou dink…