Ons skop hierdie jaar af met die eerste tree op pad na die twee eeu van die bestaan van Afrikaans. Ons bou voort op die temas wat ons verlede jaar afgeskop het, naamlik “Die kronkelpaaie van die Afrikaanse volk in die fantastiese wêreld”.
In dié verband gaan ons spesifiek geleentheid gee vir kort stories in die twee hoofkategorieë van fantastika, naamlik wetenskapfiksie en fantasie, met die volgende riglyn.
Wetenskapfiksie: Die storie moet spesifiek ruimte-wetenskapfiksie wees.
Fantasie: Die storie moet spesifiek oor toordery handel en moet òf ‘n towenaar (of heks) òf ‘n fee as ‘n belangrike element (karakter) in die storie gebruik.
Hierdie jaar se inskrywings mag nie spoke, geeste, engele, superhelde of wonderwerke bevat nie.
Die inskrywings moet kort stories wees – dit hoef nie spesifiek kortverhale te wees nie, hoewel dit natuurlik toelaatbaar is. As sodanig, mag geen van die inskrywings langer as sowat 35, A4 bladsye wees nie (op 1½ spasiëring met ‘n 11 grootte Arial lettertipe).
Lees ons bladsy Om ‘n fantasie te skep waar goeie wenke beskikbaar is.
In die verlede was daar dikwels ‘n eerste prys toegeken in ‘n kategorie waarin daar slegs een inskrywing ontvang is. Eerste pryse sal voortaan slegs toegeken word indien ‘n inskrywing slaag en waardig beskou word vir ‘n eerste prys. Met ander woorde, soms sal daar nie ‘n eerste prys toegeken word nie alhoewel daar inskrywings in daardie kategorie ontvang was. Die gehalte móét eenvoudig voldoende wees om ‘n eerste prys te regverdig. Die besluit van Afrifiksie is finaal in die beoordeling en benoeming van wenners.
Indien daar inskrywings ontvang word van kinders (onder 18 jarige ouderdom), sal die nodige aanpassings gemaak word tydens beoordeling – hulle sal egter nie meeding teen volwasse deelnemers nie.
‘n Kontantprys van R2 000 sal toegeken word aan ‘n eerstepryswenner in elk van die twee kategorieë.
Alle inskrywings moet ons teen die einde van Januarie 2027 bereik. Dit moet aan ons ge-e-pos word aan afrifiksie.nova@gmail.com. Die inskrywing moet die naam en kontakbesonderhede van die skrywer bevat, dit moet aandui in watter kategorie dit ingeskryf word en ook die ouderdom van die persoon wat dit geskep het. Elke deelnemer mag een inskrywings per kategorie inskryf (met ander woorde een in wetenskapfiksie en een in fantasie – twee in totaal per deelnemer).
Die uitslag van die kompetisie sal DV aangekondig word voor die einde van Junie 2027.
Algemene reëls, riglyne en voorkeure
Die volgende riglyne sal toegepas word by die beoordeling van die inskrywings.
- Vloek word ontmoedig, maar lei nie tot diskwalifisering nie. Indien vloekwoorde of kras taal nodig geag word, moet dit egter in Afrikaans wees. Die ydellike gebruik van God se naam (as ‘n stopwoord, kragwoord of vloekwoord – in sy verskeie verbuigings) word egter verbied en sal inderdaad tot diskwalifisering lei. (Wenk: Indien kras taal benodig word, skep gerus die nodige woorde vir die storie, in plaas van bestaande kragwoorde wat reeds in Afrikaans bestaan.)
- Engelse woorde word ten strengste ontmoedig en lei gewoonlik tot ‘n afgradering in die finale beoordeling. Waar woorde in Afrikaans nie bestaan nie of nie algemeen bekend is nie, moedig ons deelnemers aan om nuutskeppings vir dié doel uit te dink – dit is immers gedeeltelik waarom Afrifiksie en die skeppingskompetisies bestaan…
- Vermy, indien moontlik, om in die eerste persoon te skryf. Dit word aanbeveel dat ‘n storie geproeflees word voor dit ingedien word. Dit help ook om ‘n Afrikaanse woordeboek met die woordverwerker te gebruik – mens lees maklik oor spelfoute sonder om dit raak te sien.
- Plagiaat word ten strengste verbied – die werk moet oorspronklik deur die persoon wat inskryf geskep wees. Werke wat voorheen by Afrifiksie (of elders) ingedien was, mag nie weer ingedien word nie.
- Die kopiereg van die verhaal sal na afloop van indiening gedeel word deur Afrifiksie en die persoon wat dit ingedien het. Dit wil sê dat Afrifiksie dit mag beskikbaar maak op enige webwerf waaraan dit verbonde is, of dit publiseer – deur egter erkenning te gee aan die persoon wat dit geskep het. Eweneens mag die persoon wat dit ingedien het dit steeds as ‘n “eie werk” gebruik en dit elders ook publiseer – met erkenning dat die kopiereg wel ook deur Afrifiksie gedeel word.
- Daar is geen vereiste om die inhoud van die storie te belyn met die politieke of sosiale druk binne Suid-Afrika of die res van die wêreld nie – politiese korrektheid, al dan nie, is die uitsluitlike prerogatief van die skrywer en bevorder nie die uitkoms tydens beoordeling nie.
- Dit is nie aanvaarbaar om ander etniese vertakkings (behalwe indien hulle bloot fiktief is) op ‘n neerhalende wyse in die storie te gebruik nie.
- Afrifiksie is belyn met die Christen-geloof en aanvaar nie inskrywings wat dit aanval, bespot of benadeel nie.
- Dit is aanvaarbaar om ‘n storielyn wat voorheen reeds by Afrifiksie ingedien was, verder uit te brei indien die persoon wat dit inskryf dieselfde persoon is as die oorspronklike skrywer, of indien die oorspronklike skrywer daartoe instem.
- Die verhaal sal nie aanvaar word indien dit eintlik tot ‘n ander genre behoort en bloot teen die agtergrond van wetenskapfiksie, fantasie, ensovoorts, afspeel nie. Byvoorbeeld, ‘n tipiese liefdesverhaal wat bloot in ‘n wetenskapfiksiewêreld uitspeel is nie aanvaarbaar nie. Die storie moet inderdaad handel met die elemente van die gekose sub-genre van fantastika waarvoor dit ingeskryf word. Dit is aanvaarbaar om die sub-genres van fantastika te vermeng, byvoorbeeld om ‘n storie te skryf wat beide wetenskapfiksie en fantasie in dieselfde storie te kombineer.
- Kunsmatige intelligensie (KI), soos ChatGPT, mag nie gebruik word om ‘n verhaal te skryf en dit dan in te dien nie. KI-tipe stories se aanwending van taal en struktuur is kenmerkend, en indien dit as sodanig geïdentifiseer word, sal die inskrywing gediskwalifiseer word.
Let wel dat reëls van tyd tot tyd bygewerk of gewysig word.
Afrifiksie wens elke deelnemer baie voorspoed toe. Almal het nie die nodige talent om te kan skep nie. Indien jy egter wel jou hand daaraan gaan waag vir hierdie kompetisie, lê daar ‘n opwindende reis voor. Geniet dit, dit mag nooit ‘n straf wees nie.
Dankie aan elkeen dapper genoeg om die hand op papier te sit. Ons kan nie wag om jou inskrywing te lees nie…