Jaco van der Merwe – 2025 wenner (novelle)

Eksodus

ʼn Novelle

geskryf deur

Jaco van der Merwe

 

Al gaan ek ook in ʼn dal van doodskaduwee, sal ek geen onheil vrees nie;

Psalm 23

 

Dramatis personae

Die Plaas

Oom Danie

Magda

Kobus

Die Volk;

Peet

Gerhard

Jabu

Tex

Tanya

Samantha

Markus (Thomas)

 

Die Konvooi

Adriaan

Phillip

Tannie Parkins

Karel

Pierre

Stefan

Dave

Liesel

Katrien

Benjamin

Oelofse

Van Vuuren

En ʼn paar ander

Hoofstuk 1

Die Vreemdeling

1

Die dorp brand nou al vir twee dae.

Danie Joubert staan op die klipperige heuwel met sy verkyker. Die plaas is hoër geleë as die dorpie wat so twintig kilometer verder rook. Die hoogte gee hom ʼn goeie sig, maar die rook lê soos ʼn kombers. Rooi aan die onderkant. Asof vlamme probeer deurdring. Hy draai die verkyker na regs. Suid. Waar die ander, onveranderlike stapel swart wolke lê. Rooi weerlig speel voortdurend daardeur. ʼn Verskynsel wat na die Koeberg insident, seker al vir tien jaar, permanent rus op die horison.

Pa?”

Hy sak die verkyker. Draai in die rigting van Kobus se dringende stem. Sy seun beduie. ʼn Man stap sukkelend op die grondpad wat verby die plaas draai. ʼn Rugsak op sy rug, groot en bonkig. Iets steek oor sy skouer. Soos ʼn stok.

Kobus lê reeds aan met die jaggeweer. “Ek kan dit nou beëindig.”

Oom Danie stoot sy bril reg. “Iemand wat ons ken?”

Nope.”

Seker?”

So seker soos ek kan wees.”

Die man strompel ʼn paar tree verder voor hy in die pad neerslaan.

Op sy gesig,” sê Kobus met medelye.

Oom Danie hou die verkyker weer op. “Bloed.”

Kobus maak ʼn geluid uit sy keel. “Ons kan hom altyd in die bosse insleep. Nie nodig om die beddegoed vuil te kry nie.”

Nee. Dis nie hoe ons is nie.”

Natuurlik nie.” Kobus bedwing homself. Sy pa is nie bekend vir ʼn sin vir humor nie.

Oom Danie klap ligweg teen die ou Colt wat teen sy been hang. Oorweeg.

Kobus sê niks verder nie, maar laat die jaggeweer se loop sak.

Kry die Volk om hom na die hoofhuis te dra. Jou suster kan kyk wat sy kan vermag.”

2

Oom Danie staan by die deur van die hoofslaapkamer. Na Tannie Adele se dood, kon hy nie meer daar slaap nie. Magda werk die naald en garing met ʼn behendigheid wat spreek van haar jare as ʼn verpleegster. Sy oë gly oor die kaal bolyf van die man wat nou in die bed lê. Dit lyk of ʼn beer hom beetgekry het. Van die littekens ouer. Wit strepe en kolle oor sy lyf. Van dit steeds rooi en helend. Die nuwe snye oor sy ribbes en linkerarm vars. Bloederig.

Magda kyk op. Hulle staar mekaar stil aan. Dan draai hy weg, los haar om haar werk te doen. Sy stap die kombuis in net betyds vir die ketel om te kook. Vee haar hande skoon van die bloed. Aanvaar die bitter, swart koffie met ʼn knik.

En?”

Sy drink versigtig. Sit die beker op die kombuistafel. Kyk op wanneer Kobus van buite instap. Sy wag vir hom om ook ʼn beker koffie te gooi.

Oom Danie draai eers na Kobus. “Enigiets?”

Kobus skud sy kop. “Dis stil. Ek het vir Gerhard en Jabu op eerste skof.”

Oom Danie sê niks. Lig sy kop in Magda se rigting.

Hy is nie van die dorp nie.”

Kobus snuif.

Wat?” Haar irritasie duidelik.

Hy het vanuit die Noorde gekom.”

Dit beteken niks.”

Dit beteken hy is van …”

Genoeg,” sê Oom Danie. “Wat is jou gevoel?”

Sy byt haar lip. Kyk by die kombuisvenster uit. Die son wat besig is om te sak. “Daar is praatjies.”

Moenie weer begin nie,” sê Kobus, sag.

Sy ruk haar op. Sien die waarskuwende kyk van haar pa. Beheer haar stem met moeite. “Hoe verduidelik jy dit dan?”

Kobus gee haar ʼn lang kyk. Draai sy kop weg.

Waarvan praat julle?” vra Oom Danie.

Kom,” nooi sy. Los die koffie half gedrink. Kobus staan ook op, wag vir haar om eerste te stap. Sy maak die hoofslaapkamer se deur sag oop. Die man slaap, sy asemhaling rukkerig. Hy prewel iets, maar dis onmoontlik om uit te maak. Magda stap na links, lig die man se rugsak waar dit teen die staankas leun. Dit is een van daardie rugsakke wat voetslaners gebruik het wanneer hulle vir ʼn paar dae weg van die samelewing wou wees. Staan hoog verby die skouers van ʼn draer. Slaapsak styf opgerol en vas aan die onderkant. Sy lig die swaard in die leerskede wat langs die rugsak staan, oorhandig dit aan haar pa. Hy neem dit versigtig, wenkbroue gelig. Dis swaarder as wat hy verwag het. Sy waai hulle uit die kamer. Neem die rugsak en trek die deur sag toe. ʼn Laaste blik na die man.

ʼn Swaard,” sê Oom Danie. Verwonderd. Hy trek die swaard uit die skede. Die skede self is van dik leer, maar hy is nie seker welke dier dit geskenk het nie. Dit het duidelik al lang diens gegee. “Daar is merke op die lem. Tekens.” Hy draai dit in die laaste lig wat wegkruip van die kombuisvenster.

Lyk na hiërogliewe,” sê Magda. “Soos die ou Egiptenare se skrif.”

Kobus leen teen die kosyn, arms gevou. Wag vir sy pa om ʼn beslissing te maak.

Magda pak die rugsak uit. Nie veel nie. ʼn Paar stukke klere. Goed uitgedra. ʼn Toiletsakkie wat beter dae gesien het. En twee bondels wat in lappe toegedraai is. Sy huiwer ʼn oomblik, vou die lappe oop. ʼn Helm wat lyk soos een van die ou Romeinse helms. Dalk selfs Grieks. Sonder die pluim. Dit pas oor die gesig en wange van die draer, ʼn neusstuk wat van die voorkant afloop.

Wat is dit?” Oom Danie praat met homself.

ʼn Akteur, miskien,” antwoord Kobus in elk geval. “Dit êrens opgetel in ʼn museum?”

Magda hou haar opinie vir haarself, vou die lappe oop van die ander bondel.

Hoe het dit in die rugsak gepas?” vra Oom Danie weer. Magda pak ʼn borsstuk en los skouerstukke uit oor die tafel. Dele wat oor die voorarms en bene pas. Dit pas gemaklik in mekaar. Oom Danie se hand beweeg outomaties na die fyn werk oor die metaal. Die patrone ingewikkeld. Meer van die hiërogliewe wat hy op die lem van die swaard sien. Hy klop met ʼn vinger teen die metaal. Staan op om dit op te lig.

Dis swaar,” sê hy, verwonderd. “Dis wonderlike kundigheid hoe dit inmekaar vou vir verpakking.

Dit beteken niks,” sê Kobus.

Die stories,” sê Magda weer.

Hy skud sy kop. “Sus. Dis gevaarlik.”

Sy draai weg, staan teen die wasbak. Haar hele liggaam skud. Draai verbete terug. “Ons is bang! Elke dag! Daar is dinge daarbuite!” Sy haal diep asem. “Ons het nêrens om heen te gaan nie. Mense is dood. Mense gaan dood. En ons sit hier.” Sy gooi haar hande uit.

Sus,” Kobus stap nader, vou sy arms om haar.

Daar is dinge daarbuite. Ons weet nie wat dit is nie. Ons is bang.” Sy trek ʼn sidderende snik terug. “Die dorp brand. Die mense …”

Hy hou haar stywer vas.

Oom Danie draai weg van die tafel, stap na buite.

3

Pa?”

Oom Danie stop sy pyp op die stoep. Trek die tabak aan die gang. Sit terug, voete voor hom uitgestrek. Magda trek ʼn stoel nader. “Pa?”

Hy gee haar ʼn sydelingse blik.

Jou ma sou julle reeds gekry het om al daardie,” hy waai ʼn hand in die rigting van die kombuis, “skoon te maak en te laat blink.”

Sy glimlag. “Ja. Sy sou.”

Hulle sit in stilte vir ʼn oomblik. Kobus bring drie bekers met vars koffie. “Ek sal nogal suiker weer waardeer,” sê hy.

Ons is dit nie beskore nie,” sê Magda. Miskien weer eendag.

Ek is jammer,” sê Kobus.

Dis nie jou skuld ons het nie meer suiker nie.” Magda glimlag skalks. Sy weet wat hy bedoel.

Nee, ek meen …”

Sy klap hom ligweg op die skouer. “Ek weet. Trek net jou been.”

Ons moet saamstaan,” sê hulle pa. Staar uit oor die donker plaas. Net so half in die rigting van die lig van die brandende dorp.

Hulle raak verlore in hulle gedagtes. Die wegkruip vir ʼn dag toe die dorp in vlamme opgaan. Die vrees van wat hierdie kant toe kan kom. Wat hulle kanse vir oorlewing gaan wees noudat die dorp geval het. Die stilte wat die plaas omvou. Die skynbare (tydelike) teepouse van geweld en dood. Vandaar die permanente uitkyk.

Ingeval.

Want iets gaan gebeur.

Mettertyd.

Hulle drink koffie.

Probeer die ewige doodsangs wat soos ʼn kombers oor hulle lê, te onderdruk.

4

ʼn Stoflyn trek vanaf die hoofhek. Vroegoggend. Die wêreld is plat hier. Dis nie maklik om ongesiens die opstal te nader nie. Samantha het egter steeds die sein gegee. Sy en Tex , deel van die sogenaamde ‘Volk’ van die plaas, is op Kywie. Die Volk bestaan uit ses mense en twee jong kinders wat so jaar terug by die plaas opgedaag het. Onder leiding van Peet, sommer bekend as Preach, het hulle kom smeek vir kos en veiligheid. Hulle het die dorp vermy. Of was moontlik reeds daar weggewys. Dis nie maklik met die verminderde hulpbronne om na almal te kyk nie. Dit het natuurlik in hulle guns getel dat hulle twee stropers saamgesleep het. Skape is kommoditeit. Preach se sambok het hale oor hulle rûe gelê.

Oom Danie het die reëls neergelê.

Dit is onomwonde aanvaar. Die drie wat nie geweet het hoe om wapens te hanteer nie, het vinnig geleer. Die veiligheid van die plaas is vir almal se onthalwe.

Enige voertuig is soos ʼn koets. Daar is van die dorpies wat die Koeberg-insident se onmiddellike nagevolge vrygespring het, wat steeds werkende voertuie en brandstof het. Meeste brandstof is opgekommandeer deur die dorp. Die wêreld is vinnig besig om te verval in ʼn feodale sosiale struktuur. Sterk op pad na ʼn patriargaat.

Alles is nou net oor oorlewing.

Ses perderuiters galop nader, wapens dwars oor sale. Kobus en Oom Danie staan en wag op die stoep. Wapens gemaklik in die hande.

Kalm,” sê Oom Danie. Maar sy hand rus op die ou rewolwer aan sy sy.

Ek weet, ek weet,” sê Kobus. Oë skrefies.

ʼn Groot, blonde man swaai van sy perd af. Boere skouers aan hom. Hy vee die hare terug wat deur die ligte wind rondgegooi word. Hy knik somber in Oom Danie se rigting. Gee Kobus ʼn vinnige kyk en frons oor Samantha se teenwoordigheid op die stoep. Sy gee hom ʼn uitdagende kyk, haelgeweer oor haar skouers met haar arms gemaklik oor die loop en kolf. Nie Sam nie. Samantha. Sy is baie duidelik oor dit.

Oom Danie.”

Adriaan,” knik Oom Danie. “Ek kan nie koffie aanbied nie, maar die water is skoon.”

Adriaan waai die aanbod weg. Van nader skep hy ʼn ander beeld. Hy is vol stof. Sy oë groot. Verskrik. “Die dorp. Almal is dood,” sê hy met iets soos ontsag.

Kom binne,” sê Oom Danie. Hy kyk bekommerd in die rigting van die dorp. Die mans op die perde is bang. Een van hulle hou ʼn bebloede arm vas. Adriaan self het bloed teen sy slaap. “Ek sal Magda vra om na die wonde te kyk.”

Dis niks,” sê Adriaan, vat-vat aan sy kop. “Leibrand se arm …”

Sy sal kyk. Dis wat sy doen.”

Adriaan kyk rond om te sien waar sy is. Oom Danie trek hom na binne, na die gaste-sitkamer. Hy sak versigtig neer op die ou familie stoel, bewus van die stof op sy klere. Kobus verdwyn in die huis in om sy suster te roep. Hulle sit vir ʼn oomblik in ongemaklike stilte. Magda stap in met ʼn glas water. Adriaan staan vinnig op. Sy deel nie die glimlag van sy kant af nie. Oorhandig die glas en beskou die sny teen sy kop. Professioneel.

Jy is gelukkig. Dis nie diep nie.”

Dis niks nie,” sê hy. “Hallo Magda.”

Vier steke. Gaan wag in die spaarkamer. Moenie oor my ouma se meubels bloei nie.”

Jammer.” Hy vee oor die sitplek. “Die stof –”

Maar sy is reeds uit. Kobus grinnik waar hy leun teen die kosyn. “Maak nie saak wie jy is nie, ʼn vrou bring enige man af aarde toe in ʼn oogwenk.”

Adriaan mompel, mik ʼn speelse hou in sy rigting.

Seun,” sê Oom Danie. “Nie nou nie.”

Kobus kyk weg vir ʼn oomblik, draai sy kop weer terug. Klap Adriaan op die skouer in die verbygaan. “Ons is almal op hol. Weet nie wat aan die gang is nie.”

Adriaan knik. “Ons sal nou gesels.”

5

Magda werk die steke vinnig af. Sit terug. “Wat?”

Die ou in die bed?” Hy wys na die man op die tweede bed.

Het erger deurgegaan as jy.”

Hy skud sy kop. “Dis nie wat ek bedoel nie. Jy kan nie enige vreemdeling inlaat nie. Nie deesdae nie. Nie nou nie.”

Jy gaan my nou vertel wat ek mag en nie mag nie?”

Hy sak sy kop. “Magda. Dis nie …” Hy trek lug diep in sy longe in. Laat dit stadig uit. “Het ek iets verkeerd gedoen? Gesê?”

Sy staar na haar hande. “Vertrou jy my?”

Met alles. Geen twyfel.”

Sag: “Dis die probleem.”

Ekskuus?”

Niks nie.” Sy pak alles in die mediese tassie. “Vertrou my net hiermee. Daar is rede.”

Mag ek vra wat?”

Sy oorweeg om die swaard uit te haal. Besluit daarteen. “Ek sal later met jou deel.” Sy draai sy kop met een hand. “Hier is iets agter jou oor. Jy moet beter was.”

Hy slaan bloedrooi uit. Trek weg van haar. “Dit was ʼn lang twee dae.”

Sy lag, raak aan sy skouer. “Ontspan. Dis net my vreemde sin vir humor. Kom ons gaan sitkamer toe. Ons wil weet wat aangaan.”

Adriaan gee die man ʼn lang kyk voor hy volg.

6

Hulle sit in stilte na die kort gesprek. Adriaan staar na die mat. Volg die patrone.

Almal?” vra Kobus stil.

Sover ons weet,” sê Adriaan. “Ons kan nie naby die dorp kom nie. Daar is te veel – beweging.”

Wat is dit?” vra Oom Danie. “Wie?”

Ons weet nie. Maar Oom is reg oor die wat. Dis nie mense nie. Die stories – die gerugte – lyk of dit waar is.”

Niemand sê iets vir ʼn lang ruk nie. “Almal moet weet,” sê Kobus. “Ons moet regmaak.”

Dis hoekom ek hier is,” sê Adriaan. “Een van die redes.”

Magda glimlag aanmoedigend.

Ons moet beweeg.”

Beweeg?” vra Oom Danie stil.

Vlug.”

Waarheen?” Kobus gooi sy hande in die lug van frustrasie. “Waarheen? Ons kan nêrens gaan nie. Die goed is oral. Indien die stories waar is.”

Die vrees is tasbaar tussen hulle. “Die stories is waar,” sê Adriaan. “Ek het dit gesien.”

Wat het jy gesien?” Kobus druk sy hande in sy sakke. Wil nie hê almal moet sien hoe hy bewe nie. Hy wil ook nie regtig weet nie. Maar weet die vraag moet gevra word. “Wat?”

Adriaan kyk weg, pyn duidelik oor sy gesig. Hy staar blind by die venster uit. “Dis nie mense nie. Hulle lyk soos mense. Hulle is … beweeg vinniger. Is sterker. Ek het gesien hoe een ʼn man middeldeur skeur.”

Magda se hand is oor haar mond.

Wie?” vra Kobus, sag.

Adriaan skud sy kop. Herleef die oomblik. “Dit was moeilik om te sien. Alles brand. Alles gebeur so vinnig. Ek het my verkyker gebruik. Mense, mans, vroue – kinders.” Hy skud sy kop. Terug na die hede. “Ons staan nie ʼn kans nie.”

Oom Danie se kop hang.

Kobus trek lug sidderend na sy longe. “Wat dan? Waarheen?”

Adriaan kyk op. Gee elk ʼn blik. “Daar is ʼn gemeenskap. ʼn Sametrekking. Oorlewendes wat ʼn staanplek maak.”

Baie romanties. Maar hierdie is werklikheid,” sê Oom Danie. “Niemand gaan kom om ons te red nie.”

Dis ʼn kans,” sê Adriaan, sy stem ʼn oktaaf hoër. Hy hou die staar met die ouer man vir ʼn oomblik, laat sak sy oë. Sagter: “Dis ʼn kans.”

Waar is hierdie sametrekking?” vra Magda.

Noord. Dis al wat ek weet.”

Dit help nie regtig nie,” sê Kobus, moedeloos.

Daar is buiteposte. Ek moet weet waar dit is.”

Oom Danie lig ʼn bosserige wenkbrou. Kobus en Magda gee mekaar ʼn vinnige kyk. Adriaan se stem is so intens. Hy kyk op, sien die vrae. “Jammer.” Hy skud sy kop. “Lang twee dae. Min slaap.”

Verstaanbaar,” sê Oom Danie.

Wat is die buiteposte,” vra Kobus.

Dis weereens net stories, maar daar is buiteposte, soos die ou blokhuise van die Boereoorlog, wat opgerig word. Beskerm vlugtelinge. Elke blokhuis het die ligging van die volgende. En so aan. Vir veiligheid weet hulle nie waar die eind plasing is nie. Ingeval die blokhuise oorval word.”

Hoe weet jy dit?” vra Kobus.

Adriaan haal sy skouers op. Lyk moeg. Klink moeg. “Dis wat ons hoor.”

En dis genoeg om op te ploeter na die Noorde?” Kobus skud sy kop.

Het ons ʼn keuse?” vra Magda. Die mans draai na haar. “Regtig. Het ons ʼn keuse?”

Hoofstuk 2

Die Plaas

1

Oom Danie kniel voor die graf van sy vrou. Sy oë luier oor dié van sy ouers. Sy grootouers. Sy groot-grootouers. Vier geslagte. Vyf met sy kinders. Hy kan nie alles net so los nie. Maak nie saak wat nie.

Dis gevaarlik hier alleen.”

Hy spring op, die ou .303 gereed.

Rustig, my vriend. Rustig.” Die man stoot die loop weg van hom.

Wat maak jy hier? Jy kan onmoontlik al op wees.” Oom Danie betrag die man nuuskierig. Net geklee in ʼn slaapbroek – Kobus s’n – en kaalvoet. Die littekens. Hy wil vra, maar is versigtig. Wil nie aanstoot gee nie.

Die man glimlag. Vee langerige hare uit sy oë. “Ek is nie so onder die weer soos dit lyk nie. Glo my, ek is al deur erger.” Hy hou ʼn hand plegtig uit. “Markus.”

My dogter is ʼn dokter. Sy het gesê jy sal nog ʼn week lank nie op jou voete wees nie.” Hy skud sy hand. “Danie Joubert.” Hy wag, maar Markus bied nie ʼn van aan nie.

Markus gee ʼn skewe glimlag. “Sy het gedoen wat sy moet.”

Wat beteken dit?”

Hoekom het jy gebly?” ignoreer hy die vraag.

Oom Danie se oë glip na die grafte voor hy homself kan keer.

Die dood sorg vir die dood,” sê Markus. “En die Vader vir almal.”

Oom Danie kyk nors weg. “Dis my plaas. Dis die familieplaas. Alles hier,” hy beduie, “is deur ons gebou. Onderhou. Ons het geveg. Baklei. Die regering wou alles vat. Nou wil die duiwel dit vat.”

Markus wag geduldig.

Dit kan nie alles verniet wees nie,” sê Oom Danie sag. Verslae.

Dit is nie,” verseker Markus hom. “Alles op sy tyd.” Hy kyk na die rook vanaf die dorp. Draai sy kop na die swart wolke ver weg oor die horison. “Alles op sy tyd,” herhaal hy, meer aan homself.

Ek neem aan jy is honger,” sê Oom Danie.

Jy het geen idee nie.” Hulle stap saam uit die familiebegraafplaas na die opstal. “Ek hoop egter daar is koffie ook.”

2

Geïrriteerd, vee Magda trane van haar wange af.

Dit was sy keuse,” sê Kobus, agter die stuur van die bakkie.

Die plaas is nie belangriker as ons lewens nie,” sê sy, steeds ontsteld oor die laaste groet.

Dis Pa.”

Dis nie ʼn verskoning nie.”

Kobus besluit om eerder nie in die argument betrokke te raak nie. As jongste kind, het hy nog altyd sy plek gevind êrens op die draad. In die middel. Sy opinie nooit die belangrikste nie, net altyd daar om iemand anders s’n te ondersteun. Hy hou die truspieëltjie dop. Dit het twee dae geneem (te vinnig in sy opinie, wat niemand vra nie) om die Groot Trek (sy grappie waarin niemand belangstel nie) bymekaar te kry. Vyftien voertuie. Drie en dertig perde. Agt oorblywende perdewaens. Twee het reeds ingegee (moes nooit eers ingespan word nie), die mense vinnig herverdeel in die Trek in. Opgegaarde brandstof van al die omliggende plase. Nie genoeg tyd om te besluit welke belangrike besittings saamkom nie. Mens gaar op, maar alles het skielik ʼn betekenis. ʼn Waarde. Herinneringe het meer waarde na dese.

Die paaie is verbasend oop. Nie in goeie kondisie nie, maar reisbaar. Adriaan galop nader aan Kobus se kant. Sy geweer bons op sy rug. Kobus draai die venster af.

Daar is ʼn obstruksie so halwe kilometer verder. Ons probeer dit verwyder, maar mag dalk nodig hê om dele te sleep.”

Kobus hou ʼn duim in die lug, maar Adriaan se aandag is by Magda. Kobus beduie nou-is-nie-ʼn-goeie-tyd-nie. Adriaan byt sy lip, knik en galop weer na die voorkant van die konvooi. Adriaan is die ouer broer wat hy nooit gehad het nie.

Die obstruksie is verskeie boomstamme wat oor die pad lê tussen twee heuwels. Hulle kan omry, die bakkies sal dit maak. Stadig en versigtig met die ladings wat hulle dra. Maar die perdewaens gaan ʼn probleem wees. Kobus stap nader, sy skouers kriewelrig. Dis nie ʼn natuurlike verskynsel nie. So wie het dit gedoen? Hy sit hand by om van die kleiner dele weg te sleep. ʼn Ketting word om ʼn dikker stam vasgemaak. Hy staan eenkant terwyl die ouer mans leiding neem. Niemand is gemaklik nie. Uitkyke staan op die heuwels met verkykers. Verken die omgewing. Gewapende seuns en meisies loop die lengte van die konvooi terwyl die ouer mense aandag gee aan die bome. Liesel en Katrien, die blonde tweeling, ry wye sirkels te perd. Hulle is die beste spoorsnyers.

Magda leun teen die neus van die bakkie. Trek haar pet reg om die flou sonlig af te weer. Vou haar arms styf om haar bors. Skop teen die teer met ʼn voet. Kyk rond om haar bui vleuels te gee.

Verstyf.

ʼn Man. Te ver weg om deel van die konvooi te wees. Sy fluit, wys die uitkyk in daardie rigting. Koppe ruk eers in haar rigting, dan na waar sy beduie. ʼn Golf van sagte gesprekke gons om haar. Sy leun in deur die oop venster en gryp die verkyker van die sitplek af. Die persoon staan steeds daar. Stil. Asof hy net waarneem. Sy verstel die verkyker, maar dis moontlik iets in die lug, want die figuur lyk of hy heeltyd uit fokus is. Sy buitelyne wasig. Sy het egter die besliste gevoel dat dit ʼn man is.

Dan is hy weg.

Sy hoor die asems intrek van almal wat in daardie rigting staar. Die sagte gesprekke, vrae. Wat het gebeur? Hoe? Wat beteken dit?

Het jy gesien?”

Magda roep amper uit, draai verwoed na Adriaan wat langs haar staan. Sy het hom nie hoor naderkom nie, ten spyte van sy perd. Hy sien nie haar reaksie nie, aandag gevestig waar die man gestaan het. Sy voel skuldig, beheer haar uitdrukking en stem. “Ja. Een oomblik was hy daar, toe is hy weg.”

Geval? Agter ʼn heuwel ingestap?”

Sy skud haar kop. “Dis seker moontlik. Maar dis nie die idee wat ek gekry het nie.”

Ons moet aanbeweeg. Die pad is oop.” Hy raak aan haar skouer voor hy sy perd bestyg. Roep bevele uit. Die tweeling galop nader, draai weg in die rigting van waar die man was. Keer terug met leë hande.

Onrus val soos ʼn kombers oor die Trek.

Die konvooi slang verder. Magda glimlag, ten spyte van die dodelike gevoel van onheil. Adriaan se pa sou trots wees op hom.

3

Daar is iets gerusstellend in die geluid van ʼn ketel. Peet het reeds drie bekers uitgesit.

Ek is amper oortuig Magda het met opset van die koffie gelos,” sê Peet, terwyl hy skink.

Ek is nie seker hoekom jy agtergebly het nie,” sê Oom Danie. “Hulle het jou nodig.”

Hulle? Nee. Hulle sal okay wees.” Hy deel bekers uit. “Markus hier, sê ons het twee dae. Op die meeste.”

Markus?” Oom Danie draai na hom. “Twee dae vir wat?”

Die aanval.”

Hy drink versigtig. “Jy is seker? Hoe?”

Markus drink van die bitter koffie. “Ek het ondervinding.”

Daardie swaard van jou gaan nie help nie,” sê Peet.

Markus glimlag net.

Wat is die storie daaragter?” vra Oom Danie.

Ek dra dit vir ʼn vriend.”

Oom Danie wag, maar Markus drink net stil aan die koffie.

Beloftes kan ʼn swaar las raak,” sê Peet.

Jy praat asof jy ʼn Dominee is,” sê Markus.

Ek was,” sê die ou man. “Is jy ʼn man van God?”

Markus lig sy kop. “Dit is een manier om daarna te kyk. Maar ek is nie die preek tipe nie.”

Moenie dit verkeerd opneem nie,” Peet kyk na sy verrinneweerde liggaam, “maar jy lyk nie na die preek tipe nie. Eerder die sweep in die Kerk tipe.”

Markus lag. Dit voel goed om te kan lag. “Ek sal die kompliment aanvaar. Want dit lyk of ons dieselfde dink oor dinge.”

Peet kyk af na sy kneukels.

Bokser?”

Op ʼn tyd.” Hy glimlag stil. Herinneringe wakker gemaak. “Nie hoe ek altyd gepreek het nie. Maar soms.” Hy oorweeg. “Meestal.”

“”Ek sou graag een van daardie wou bywoon.”

Ek was bekend as die Roaring Roaming Reverant. Moeilike areas. Soms moes ek die skape oorreed om die regte ding te doen. Soms die wolwe oorreed om ander jagvelde te soek.”

Markus lag weer, slaan op die tafel. “Ons gaan net na middagete bietjie oefen.”

Ek wil jou nie seermaak nie.”

Moenie oor my bekommerd wees nie. Ou man.”

Hulle raak stil. Krap iets bymekaar om te eet.

Oom Danie verbreek die stilte. “Twee dae. Vir wat?”

Hulle gaan kom ondersoek instel.”

Hulle?”

Markus sit terug, stoot die leë bord weg. “Die demone.”

Dis regtig demone?”

Peet sit regop. Aandagtig.

Markus haal sy skouers op. “Die goed lyk na demone. Is beslis nie mense nie. Het ʼn manier om in jou kop te probeer kom. Meesters van manipulasie. Draai alles om in jou kop. Dis nou indien hulle jou nie net daar doodmaak nie. Hulle is vinnig. Sterk.”

Dit klink na wat Adriaan ons vertel het,” sê Oom Danie. Hy knik in die rigting van die dorp.

Dis kommerwekkend,” sê Markus. “Na die Koeberg insident, het die demone uit die put gestroom en alles wat lewe verwoes. Noord opgetrek langs die kuslyn op. Groter dorpe en veral die stede geteiken. Neste gebou soos hulle opbeweeg het. Ons is gelukkig om net een kernkragsentrale te hê. Ander lande – kontinente eintlik, het dit swaarder getref. Die kernkragsentrales was die fokuspunt. Waar die sogenaamde putte ontstaan het.

Ons het op daardie stadium uit Namibië gekom. Ou vriende. Huursoldate. Ons het gedoen wat ons kon. Iemand langs die pad ontmoet wat met ʼn swaard rondgejaag het op ʼn motorfiets.”

ʼn Ridder?” Peet sit nou nader.

Markus knik. “Ons het gedink daai ou is mal in die kop. Maar hy het verwoesting gesaai op ʼn ander vlak.”

ʼn Ridder.” Peet sit terug, vou sy arms. “Dis net stories.”

Ek was daar.”

Jy het ʼn letsel teen die kop. Bewys my verkeerd.”

Markus staan stadig op. Sy gesig graniet. Ou pyn in sy oë. Dan ontspan hy. “Geloof, my vriend.”

Peet lag instemmend. “Net so.”

Markus begin op en af stap. “Ons het twee dae om voor te berei. Hulle is besig om die omgewing te verken. Sal wil sien waar die mense is. Die plase is groot hier. Dit vat tyd. Maar ook net sóveel tyd.”

Julle kan steeds die ander inhaal. Hulle is net omtrent twee dae uit,” Sê Oom Danie.

Markus gaan staan. “Hoekom? Ek was onder die indruk ons is hier om hulle ʼn wegkomkans te gee?”

Oom Danie se kop sak. Peet kyk weg. Markus gaan sit by die tafel. “En omdat ek nie kon reis nie, so dit was ʼn goeie idee om te bly. Reg?”

Die ou man is hardkoppig,” sê Peet sag.

Oom Danie se kop skiet op, maar hy sê niks nie.

Markus hou sy hand op. “Oom Danie.”

Die man draai sy kop stadig na Markus, sy lippe ʼn wit lyn. “Dis my plaas.”

Ek verstaan,” sê Markus.

Doen jy? Regtig? Wie is jy regtig? Wat doen jy hier? Kom hier aan, gewond. Vertel stories.” Hy wys in die rigting van die kamer. “Met ʼn swaard. Is jy die sogenaamde Ridder? Is jy hier om almal te red?”

Ek wil nog daai swaard sien,” sê Peet.

Markus hou sy hand uit na Peet. Nie nou nie.

Peet tuit sy lippe, maar bly stil.

Nee, Oom. Dis nie hoekom ek hier is nie. Ek is op pad na ʼn bestemming wat ek nog nie verstaan nie. Vir ʼn doel wat ek maar net rakelings verstaan. Maar God se wil en Sy weg is nie bekend aan my nie. Ek weet net ek moet hier wees. Nou.”

Watter tipe God laat hierdie toe?” Oom Danie staan op. Sy gesig rooi. Sy stem hard. “Eers neem hy haar weg. Dan – alles hier? Hoe is dit regverdig? Hoe is God goed as hy dit toelaat?” Hy loop uit die kombuis uit.

Die twee sit in stilte. “Twyfel jy ooit?” vra Markus.

Heeltyd,” sê Peet. “Heeltyd.”

Markus maak ʼn gromgeluid.

Dis hoekom geloof so moeilik is.”

Maak sin.”

Ek wil daardie swaard sien.”

4

Die blokhuis lyk soos iets uit ʼn Geskiedenis handboek. ʼn Wag wat toring oor die omgewing. ʼn Wye houtmuur, soos skerp tande in die grond geplant is, omring die struktuur. Dit blyk groot genoeg te wees om maklik dertig mense binne te huisves.

Ons gaan kyk,” sê Adriaan. “Gryp ʼn perd.”

Kobus neem die leisels by een van die plaasseuns. Grobler, dink hy.

Hou jou rewolwer reg. Ons weet nie wat om te verwag nie.”

Geen beweging?” ʼn Nuttelose vraag. Nie eens ʼn voël in die lug nie. Nie eens een nie. Hulle hou die plek al onder verkyker vir twintig minute. Die konvooi ʼn halwe kilometer ver. So veilig as wat dit gaan wees.

Adriaan antwoord nie. Ses ruiters. Driehonderd meter van die muur, swenk Tannie Parkins weg. Beveilig haar perd en maak haar tuis, plat op ʼn lae heuwel. Sy kan ʼn jakkals se oor op driehonderd meter afskiet. Teleskopiese visier op haar jaggeweer. ʼn Verdere honderd meter en Karel Jooste swenk uit. Die tweede beste skut in die omgewing, sestien jaar oud, nietemin. Adriaan, Kobus en Pierre, Adriaan se jonger broer, ry aan. En Samantha. Haar oë skrefies. Die haelgeweer styf in een hand. Niemand bevraagteken haar nie. Hulle weet sy kan haarself hanteer. Sy het hulle het ook nie juis ʼn keuse gegee nie. Sy neem Peet se agterbly baie persoonlik. Hulle weet van beter as om te vra.

Minder as honderd meter van die hek, draai die wind. Hulle het nie eens besef daar is ʼn windjie nie, so lig is dit. Die reuk laat die perde steier.

Ons gaan moet stap,” sê Adriaan, sy gesig wit. Hy trek sy T-hemp oor sy mond en neus.

Kobus doen dieselfde, maar dit help nie regtig nie.

Ek weet nie,” sê Samantha. “Daardie is ʼn kwaai reuk.”

Jy kan na die perde kyk,” sê Pierre. Dit lyk eerder of hy self daardie taak wil opvat.

Geen manier nie,” sê sy beslis. Verstel haar greep op die haelgeweer. Die perde is goed opgelei. Staan waar hulle gelaat word. Onrustig.

Hulle nader die hek. “Wat is daardie geluid?” vra Pierre.

Dit is amper te subtiel om aandag te trek. Maar nou is dit duidelik. ʼn Geruis. Sag. Soos papier wat gefrommel word. Adriaan se hand rus op die swaar houthekke. Dit staan drie meter hoog, eindig ook in skerpgemaakte punte. Hy probeer deur die skrefies na binne kyk, maar word niks wys nie. “Ek gaan die hekke oopgooi. Wag vir my teken. Reg?”

Kobus hou die .38 Special in beide hande. Sy palms glad. Natgesweet. Vasbeslote.

Adriaan stamp die hekke oop. Die een hek swaai geluidloos oop, die ander hak vas aan iets. Hulle wag. Die geruis word harder. Niks verder. Adriaan knik. Samantha druk by hom verby. Gaan staan net verby die hek. Die ander volg. Die stank oorweldig hulle. Maar vir ʼn oomblik vergeet hulle daarvan. Probeer uitmaak wat hulle sien. ʼn Swart massa beweeg voor hulle. Dis massief. Te groot om perspektief te kry. Voel of dit die hele area opneem. Iets in die massa skuif oop. Twee oë, besef hulle. Geel. So groot soos ʼn mens se kop elk.

Kobus sak op sy knieë.

Iets druk hom af.

Dis in sy kop.

Oë verloor fokus.

Sy brein jellie.

Alles draai.

Donderweer.

Hand op sy skouer.

Iemand roep.

Skreeu.

Fokus weer. Moeilik. Adriaan staan voor hom. Tussen hom en die – ding. Sy brein begin weer stol.

Weer donderweer.

Samantha met haar haelgeweer.

Voel of hy onder ʼn rotsstorting beland.

Die swart massa strek uit. Forseer dit self op in die lug. Trek suurstof saam, want Kobus kry nie asem nie. Hy probeer kyk. Sien. Verstaan. Die massa – swaar – dis hoe dit voel, stu hoër. Sukkel. Dis te swaar vir hierdie wêreld (waar kom daardie gedagte – daardie waarheid vandaan?).

Dan is dit weg.

Net die geluid van die swaar druk van daardie kolossale vlerke teen die lug, wat verder weg beweeg.

Hulle staar verdwaas.

Kobus staan op. Sukkelend. Trek lug diep in sy longe in, ten spyte van die reuk.

Die reuk.

Hy draai stadig in die rondte.

Wens die nagmerrie wil net ophou.

Die binneplein van die blokhuis het rye en rye kruise.

Die mense, kinders, hang in verskeie stadiums van verval. Beendere wat deur vleis en klere wys.

Hulle weet nou wat van die inwoners geword het.

5

Hoe hanteer jy dit?” vra Peet. Oom Danie sit op die stoep en hou hulle dop. Na twintig minute se boks, het Markus se steke begin lostrek. Met ʼn versigtiger opgooi van sy hande, het hy opgegee. Nou swaai hy die swaard behendig deur die lug. Laag.

Oefening. Soos alles.”

Laat ek probeer.”

Markus handig die swaard oor. Die ander beskou die vakmanskap met respek. “Dis swaarder as wat dit lyk.” Hy eksperimenteer. “Dit sit mooi in die hand.”

My mentor het mooi daarna gekyk. Die leer om die greep moet so af en toe vervang word, maar verder is die onderhoud maar min.”

Jou mentor? Hy was regtig ʼn Ridder?”

Ek dog jy glo nie.”

Ek is oop vir debat.” Hy hou die lem op. “Daar is woorde oor die lem. Dit blink. Gloei?”

Markus stap vinnig nader. “Dis nie goed nie.”

Ek het dit nie voorheen opgemerk nie.”

Daar is ʼn rede daarvoor. Dit gloei net indien daar iets naby is.”

Iets?”

Manne?” Oom Danie het intussen opgestaan, staar na iets in die verte.

Hulle draai in daardie rigting.

Regs van die windpomp,” sê Markus.

Peet span sy oë in. Die persoon is so driehonderd meter weg van hulle. “Ek kan nie sien wie dit is nie.”

Dis nie ʼn mens nie,” korrigeer Markus.

Peet spoeg op die grond. “Dan is dit tyd.”

Nee. Dis ʼn uitkyk. Hulle sal vanaand beweeg. Of nie.”

Wat bedoel jy?”

Markus vryf oor die litteken oor sy kop. “Hulle hou van speletjies speel. Maak ons onrustig. Bang. Rek dit uit so lank as moontlik.”

Peet gee hom ʼn skuins kyk. “Wat het hulle met jou gedoen?”

Markus antwoord nie daarop nie. “Moenie wegkyk nie. Hou jou oë op dit. Anker dit. Jy kyk weg, dis weg.”

Hy drafstap na die stoep. Oom Danie het reeds in die huis in verdwyn. Bring sy jaggeweer uit wat hy aan Markus oorhandig. Markus neem die wapen by hom. Neem plek in langs die ou prediker. “Waar is dit?”

Jy was nie verkeerd nie.” sê Peet. “Ek het vir ʼn sekonde weggekyk.”

Markus vee die omgewing met die geweer. Niks.

Jammer,” sê Peet.

Nie die einde van die wêreld nie. Hulle weet in elk geval.”

Nie die einde van die wêreld nie,” mymer Peet. “Ons is reeds by daardie punt verby, sou ek sê.”

Jip.” Markus sak die wapen.

Jy het baie kennis,” sê Peet. “Ons sal graag wil hoor.”

Kennis bring verantwoordelikheid.”

Vir ons of vir jou?”

Beide.”

Het ons ʼn keuse?”

Daar is altyd ʼn keuse. Soos iets om te eet terwyl ons kan.” Hy klop hom op die skouer. Draai na die huis. “Ons gaan dalk nie daardie luuksheid hê vir ʼn rukkie nie.”

6

Wat was dit?” Kobus se hande bewe. Hy sit plat op die grond.

Ek kon nie regtig sien nie,” sê Adriaan. Sy stem bewe, ten spyte van die uitwendige fasade.

Die mense,” sê Kobus sag. “Almal dood.” Samantha gooi op, ʼn ent weg van hulle. Praat met haarself. Oortuig haarself, moontlik. Kobus is net nie seker van wat nie. Hy probeer te hard om sy self sy kop te hou.

Adriaan hurk langs sy jonger broer. Pierre wieg op sy knieë, sy oë onsiende. Oopgesper. Hy staar op in die lug. “Ek kan nie,” sê hy oor en oor. Adriaan gooi ʼn arm om sy skouers. Prewel in sy oor.

Ons moet gaan,” sê Adriaan aan die ander. “Daai ding kan terugkom.”

Dit laat hulle vinnig beweeg. Hardloop deur die hekke. Beide Karel en Tannie Parkins wag vir hulle op ʼn veilige afstand, reeds in die saal. Daar is nie so iets soos veilig hier nie, dink Kobus. Sy asem jaag van die hardloop.

Die konvooi is reeds aan die beweeg. Links om die blokhuis. Ver links. Verskrikte, vraende gesigte wat deur motorvensters staar. Huilende gesigte. Nie net die kinders nie.

***

Ons moet teruggaan.”

Stemme beaam.

Oom Phillip se lang gesig lyk spookagtig waar die vlamme skaduwees oor dit gooi. Hy het (nie amptelik) die posisie van Trekleier geneem. “Daar is niks meer daar vir ons nie. Die plase is sekerlik reeds verwoes. Ons het gehoor hulle volg ʼn verskroeide aarde taktiek. Of die geboue is beset.”

Dit was ʼn fout,” sê iemand. “Ons weet nie of dit eers regtig gesien is nie. Praatjies.” Stemme beaam weereens. “Ons huise. Ons geskiedenis. Danie was reg om te bly.”

Ons het dit gesien, tannie,” sê Adriaan aan die ouer vrou wat lyk of sy die teenstand lei. “Daardie goed bestaan. Die dorp was in vlamme.”

Iets anders het dit veroorsaak. Gas. Petrolpype. Die Shell garage het lankal gelek.”

Adriaan druk sy hande in sy sakke. Meer om die bewe daarvan weg te steek. “Tannie. Mense …”

Het julle nie gesien nie?” Magda staan op, loop om die groot vuur in die middel van die kamp. “Het julle nie gesien hoe iets uit daardie kamp opstyg nie? By die blokhuis?”

Onderlangse blikke. Sagte stemme.

Magda swaai na iemand. “Dit was nie ʼn spieëlbeeld nie!” Sy gooi haar arms in die lug. “Julle het gesien!”

Magda, dis okay,” sê Phillip, paaiend. “Hulle het gesien.”

Sy staan vir ʼn oomblik. Pers haar lippe saam. Gaan sit. Bene bewend.

Die vraag is steeds, gaan ons voort, of draai ons terug?” Oom Phillip draai na die mense om hom. “Ek gaan niemand dwing nie. Dit moet ʼn besluit wees van almal.”

Ons gaan stem?” vra iemand.

Ek sien geen ander manier nie.”

Hoekom wil iemand teruggaan? Daardie – goed is daar!”

Dis veiliger! Ons ken ons land!”

Niemand weet wat wag verder af nie!”

Kruise? Daar was kruise!”

Almal dood!”

Wat is nog daar buite?”

Weet nie eens waarheen ons kan gaan nie.”

Magda kyk op wanneer Adriaan haar op die skouer tik. Kobus langs hom. Hy wink. “Laat hulle dit uitredeneer. Dit gaan ons net ontstel.”

Ek wil hoor,” sê sy. Maar sy volg hulle weg van die vuur.

Hulle gaan niks nuut sê nie. Dit gaan jou net verder ontstel. Ons sal stem wanneer hulle uitgepraat is.”

Hulle gaan staan aan die binnekant van die buitenste ring van voertuie om die laer. Die perde en vee in die middel. Van die ouer kinders patrolleer in pare buite om.

Iets pla my,” sê Kobus.

Jy meen behalwe vir die feit dat die paaie bykans skoon is,” vra Magda.

Ek het ook gewonder daaroor,” sê Adriaan. “Amper geen verlate voertuie op die pad nie.” Hy gee Kobus ʼn gerusstellende klop op die skouer. “Iets wat jy gesien het by die blokhuis.”

Kobus kyk vinnig op. “Ja.”

Dit was die hande?”

Kobus frons. “Ja, hoe het jy …?” Kobus kry sy gedagtes agtermekaar. “Daar was iets aan hulle hande. Die mense aan die kruise.” Hy frons. “Iets vreemd. Ek kan net nie onthou nie.”

Toe jy dit nou noem, dink ek ook daaraan.” Hy vryf sy ken. “Amper asof …”

Dit het gelyk of hulle almal in ʼn rigting wys,” sê Kobus stadig. Nadenkend.

Hulle hande?”

Kobus probeer terugdink. “Ek kan nie onthou nie. Ek dink net een arm was vas teen die kruis.”

Ek onthou so iets,” sê Adriaan. Vryf sy hande deur sy hare. “Ons is so vinnig daar uit.”

Ek was nie daar nie,” sê Magda. “Wat is dit wat julle gesien het?”

Kobus vryf sy nek. “Rye en rye kruise. Mans, vroue. Kinders. Maar ek onthou nou. Almal in gelid, amper. Net hulle regterarms teen die kruis. Asof hulle na iets wys.”

En almal wys in dieselfde rigting?”

Kobus knik.

Waarheen?”

Dis dalk eerder die vraag,” sê Adriaan.

Daardie – ding. Dit het iets gedoen daar.” Kobus skud sy kop in frustrasie.

ʼn Boodskap.” Adriaan hou ʼn hand op. “Dit maak sin. Op ʼn manier.”

Boodskap.” Kobus knik, entoesiasties. “Maak sin! Maar vir wie? En soos Magda sê, waarheen?”

Dalk die volgende blokhuis? Dalk vir die demone. Wat as ons in die verkeerde rigting trek nou? Dit kan in ʼn hinderlaag inlei,” sê Adriaan gefrustreerd.

Niemand het ʼn antwoord nie. Hulle luister in stilte na die ouer mense se geredekawel verder weg.

Na ʼn ruk, vra Kobus sag: “Wat was daai ding?”

Hy kry net opgehaalde skouers. Bang kyke na buite die laer. Na die naglug.

Ons moet teruggaan,” sê Kobus sag.

Adriaan knik ingedagte.

Nee,” sê Magda beslis.

Dis belangrik,” sê Kobus. Wil nie in ʼn argument met sy suster betrokke raak nie.

Hoekom?”

Hy kyk magteloos na haar. “Ek weet nie. Hoe het jy geweet om daardie man met die swaard te vertrou?”

Adriaan se kop ruk om. “Swaard?

Die beseerde ou?”

Ek weet. Maar hy het ʼn swaard gehad?”

Ek weet!” sê Kobus meer opgewonde. “ʼn Swaard van alle dinge.”

Adriaan hou ʼn hand teen sy nek. Skud sy kop.

Adriaan?” Magda skuif besorgd nader. “Jy okay?”

Hy staar haar vir ʼn oomblik aan. Glimlag dan. “Ja. Ja, net ʼn hoofpyn. Niks nie. Regtig.” Hy druk haar hand wat op sy skouer rus. Staar stip na Kobus. “Ek dink ons moet teruggaan.”

Kobus se gesig helder op. Sy lippe vorm ʼn stille dankie.

Nee,” sê Magda. “Dis te gevaarlik.”

Dit kan belangrik wees.” Adriaan beduie om hulle. “Dit kan belangrik wees vir almal hier se lewens.”

Ons is twee dae weg van die blokhuis,” wys sy uit.

Kobus gaan staan voor haar, hande op haar skouers. “Dis vinniger te perd.

Wanneer dit net ons is. Die konvooi is stadig. Asseblief. Dis belangrik.”

Sy frons, die twyfel sterk. “Ek weet nie. Dit gaan moeilikheid maak.”

Indien ons perde vat, sal ons die tyd maklik sny. Die Trek is stadig genoeg met die vee wat aangepor moet word,” sê Kobus met meer sekerheid.

Ons steel hulpbronne. Ons gaan kos en water moet vat.”

Nie meer as wat ons sou gebruik het nie.”

Magda is nie oortuig nie. “En hoe gaan ons by die wagte verbykom?” Dit is nie eens ʼn vraag om toestemming te verkry nie. Eerder om verskoning vra na die tyd.

Los dit vir my,” sê Adriaan.

7

Hulle gebruik die wrakke vir hulle neste,” sê Markus. “Dis hoekom daar so min voertuie op die paaie is. Die stede sien dieselfde.”

Neste?” Peet vryf sy neus.

Die kernkragsentrales het putte gevorm. Weet nie hoe nie. Weet nie hoekom nie. Maar al die demone wat in hulle magdom daaruit gekom het, het migreer na die res van die vasteland. Bou neste soos hulle aanbeweeg.”

Aangesien Afrika net een kernkragsentrale het – gehad het – beteken dit noordelike Afrika is nog vry?” Beide draai na Oom Danie wat by die gesprek aansluit.

Ek twyfel. Dis al amper tien jaar. En ek is seker daar is ʼn migrasie vanaf Europa oor na Afrika. Nie seker of verskillende stamme uit verskillende putte gekom het nie, maar daar is ʼn aaneenlopende onder-bakleiery ook.”

Tussen die demone?” Oom Danie lyk steeds onoortuig.

Markus knik.

Hoe weet jy dit alles?” vra Peet weer sy vraag.

Ek was daar van die begin af. Ons het geveg waar ons kon. Gevlug waar ons nie kon veg nie.”

Ons was almal daar van die begin af,” sê Peet met ʼn skewe glimlag.

Jy was in ʼn stad?”

Pietermaritzburg.”

Die stede het sleg deurgeloop.”

Dit was nie maklik nie, jy is reg. Die demone oral. Maar die vlug en konstante vrees het selfs nog meer lewens geëis, dink ek. Onder die mense. Plunderaars. Wanvertroue onder mense. Elkeen vir homself.”

Maar jy was daar. En het oorleef.”

Ek het. Aanhou beweeg. Gesien die platteland is veiliger.”

Steeds. Dit kon nie maklik wees nie.”

Peet skud sy kop. “Nee.”

Markus draai na Oom Danie “Julle het minder aksie gesien.”

Ons het amper niks gesien nie. Die migrasie, soos jy dit noem, het ons eintlik heeltemal gemis.” Hy skink koffie. “As ek so luister, het ons amper skotvry afgekom. Oorlewing op verminderde bronne is eintlik ons grootste terugslag. Tot nou.”

Wat van jou?” Peet knik in Markus se rigting. “Jy lyk of jy uit ʼn veldslag kom. Verskeie.”

Markus aanvaar die beker met koffie vanaf Oom Danie. “Ek het die belangstelling van ʼn spesifieke demoon geërf.”

Geërf?”

My mentor en sýne. Die demoon s’n. Kom ons noem dit ook maar ʼn mentor. Sy meester dalk eerder. Hulle het ʼn woordewisseling gehad. Die demoon se meester het die argument verloor.”

Peet gee hom ʼn afwagtende kyk.

Saam met sy kop.”

Ek het geweet! Daar is nog ʼn storie!” Hy drink aan sy koffie. Meer nugter: “Maar jy het die swaard nou.”

En die res van die wapenrusting.”

Jy het ʼn wapenrusting?”

Markus glimlag. “Die las van die wapenrusting is swaar.”

Klink soos uit die Bybel, maar ek is nie seker nie.”

Nee, dit was Jo se sêding.”

Jou mentor?”

Hy knik. “My vriend. Die Ridder.”

Wat het gebeur?” vra Oom Danie, respekvol.

Hinderlaag. Hulle het vir hom gewag. Daar was net te veel. God se hand was om ons toe ons vlug.”

Oom Danie wys vraend na van die steke wat onder Markus se T-hemp uitsteek.

Nee. Hierdie was ʼn meer onlangse argument. Jo is al ʼn paar jaar terug oorlede.”

En jy het by hom oorgeneem?”

Soort van. Dis nie so eenvoudig …” Markus hou ʼn hand op. Hulle sit in stilte. Luister. Oë gaan na die swaard, maar die woorde op die swaard gloei al heeldag.

Wat is dit?” vra Oom Danie.

Iets is op pad.” Markus staan op. Die mans vat hulle wapens. Vra nie vrae nie. Markus draf na die kamer waar hy slaap. Stap uit met die helm onder sy arm. Gespe die swaard oor sy rug. “Dit mag ʼn poging wees om ons aandag af te trek. Peet, hou ʼn ogie oor die agterkant van die huis. Oom Danie, dek my.”

Die vensters van die huis is reeds met kaste en wat ook al gevind kon word, verskans. Dit los die voordeur met stoep en die deur by die kombuis oop. Markus stap uit op die stoep, plaas die helm oor sy kop. Hy ervaar daardie gevoel van openbaring. Dis donker buite. Alles verhelder vir hom. Hierdie is anders as nagsigtoerusting. Alles is net duideliker. Die waarheid van die omgewing. ʼn See van beweging, maar ver van die opstal. Hulle wag. Hy stap uit oor die gruis, gaan staan waar hy duidelik sigbaar sal wees. Oom Danie lê aan vanaf die stoep.

ʼn Figuur stap nader. Moontlik dieselfde een wat hulle voorheen dopgehou het. Gaan staan ʼn paar meter ver van Markus.

Hallo Thomas,” sê die figuur. “Thomas. Die Ongelowige.”

Ek het daardie naam afgeskud,” sê Markus.

Regtig? Want dit voel nie so nie.” Die figuur blyk manlik te wees. Die stem het ʼn vibrasie aan dit, so asof dit meer as een persoon is wat praat, die resonansie net-net uit. Kop gebuig, gesig versteek, selfs vir die helm. ʼn Horing hang aan sy sy.

Ek het my oomblikke. Vir jou om dit uit te wys, gaan nie regtig ʼn verskil maak nie.”

O?”

Markus bly stil.

Ons sien jy dra nie die hele uitrusting nie. Nog nie reg daarvoor nie?”

Die tyd is nog nie reg nie.”

ʼn Sagte lag. “Wie probeer jy oortuig?”

Julle sal weet,” sê Markus. “Is hierdie ʼn sosiale uitreiking? Of is daar iets spesifieks wat rede sou gee vir die ontmoeting?”

Die figuur waai ʼn hand. “Ons het gehoor iemand loop met ʼn swaard rond in die omgewing. Wou sien of dit iemand is van wie notisie geneem moet word. Maar, nou weet ons. Dis maar net Thomas.”

Markus glimlag. “Julle doen soveel moeite.” Hy hou ʼn hand op sy bors. “Ek voel gevlei.”

Ah. Die hoogmoed is steeds daar. Jou vrou sou so teleurgesteld wees.”

Markus verstyf. Mond droog.

Maar wag,” sê die figuur gesellig. “Amper vergeet ons. Julle het nooit getrou nie. Nie heeltemal daarby uitgekom nie, of hoe?”

Markus se hand klem. Oop en toe. Hy is baie bewus van die swaard teen sy rug. Voel dit brand waar dit hang.

Ons was nie daar nie, maar ons deel met mekaar. Ons weet. Ons het gesien. Gehoor. Geruuuik.” Hy trek die woord uit. Laat dit vuil klink. Weer die sagte lag. “Dis altyd amusant om te hoor hoe julle almal vir julle God sal sterf. Vir julle geloof. Totdat daardie eerste pen deur vleis dryf. Deur been. Wanneer die bloed begin vloei.”

Markus gee ʼn onwillige tree vorentoe.

Sy het geskreeu. Gesmeek. Gevloek. Nie geweet ʼn mooi gesiggie soos daardie kan so lelik praat nie.”

Stop,” sê Markus sag.

Wat anders het sy met daardie mondjie gedoen? En julle was nie eens getroud nie? Hoe voel jou God daaroor?”

Stop dit!”

Jy kan dit inkleur soos jy wil. Liefde. Beminde. Geesgenoot. Die alleenheid. Alles draai terug na een ding. Wellus.”

Markus se hand is op die swaard. “Dis nie hoe dit was nie –”

En nou? Woede? Gramskap?” ʼn Langer lag. Uitlokkend. “Jy is niks nie, Thomas. Jy is ʼn teleurstelling. Vir jou medemens. Vir jou God.”

Die koeël spring ʼn meter van die demoon se voet weg. Dit tree nie weg nie, maar lig sy kop in die rigting van Oom Danie. Sy oë blink dof.

Dis tyd om te gaan,” sê oom Danie, yster in sy stem. “Nou.”

Ek het ʼn honderd wat nou sal opkom. Julle staan nie ʼn kans nie,” sê die demoon.

Die koeël klap in sy been vas. Dit gooi dit nie van sy voete af nie, maar laat dit ʼn tree terugsteier.

As jy bloei, kan jy doodgaan,” sê Oom Danie.

Die demoon neem ʼn oomblik. “Ou man. Gulsig. Afgunstig. Selfsugtig. Jou plaas. Jou werk. Jou vrou wat alles vir jou opgegee het. Nou in haar graf. Voel jy steeds die skuld eet aan jou? Die lewe wat jy haar nie gegun het nie. Te laat. Te laat. Wat is daardie spreuk wat julle so van hou? Glashuise en klippe? Nee wag. Balke en oë!”

Oom Danie kyk weg, die pyn diep. Lig weer die loop.

En wie het ons nog? Kruip daar agter weg. Die Pastoor met die humeur. Wie se vuiste net so hard slaan as sy woorde. Wat sy geloof met geweld afdwing. Sensuur. Verban uit die kerk. Wat ʼn mooi groepie van voorbeelde is julle nie.” Hy lig ʼn hand na die stoep.

Die swaard flits deur die nag. Die demoon se hand val op die grond. Sis. Swart bloed oor die grond.

Met ʼn menslike skreeu, ruk dit ditself weg van hulle. Verdwyn in die nag.

Markus hou die swaard reg. Lem gloeiend. Maar die nag is ʼn stille kombers.

Rondte een,” sê Markus bitter. “Een vir hulle. Nul vir ons.”

8

Tanya soek water. Die nag is stil. Sy hoor stemme hier en daar. Sag. Bang. Meeste van die mense in die Groot Trek slaap in hulle eie voertuie. Hier en daar is slaapsakke oor die grond gesprei. Dalk nie genoeg plek nie, dink sy. Sy is ook nie opgewonde oor die Groot Trek nie. Onthou die geskiedenisboeke. Onthou hoe sy gewonder het hoe moeilik dit moes wees. Dis steeds, selfs met werkende voertuie. Die gevare. Die kos gaan net só lank hou. Min om te jag, maar die mans probeer. Sou dit beter wees om op die plaas te bly? Veiliger? Haar vlug was moeilik. Tot sy Peet, Preach, se groep raakgeloop het. Beter saam met mense. Maar hierdie?

ʼn Fluister laat haar in haar spore vassteek. Een van die jongmense. ʼn Wag. Verskrik. Hou iets uit na haar.

Wat is dit?”

Twee koeverte. Geseël. Wie het koeverte saamgebring? Daar is ʼn naam op elk. Haar asemhaling raak gejaagd. ʼn Gevoel van onheil maak haar bene lam.

9

Die rit het verbasend maklik gegaan. Hulle het die perde hard gedruk. Magda sluimer teen ʼn saal terwyl hulle die perde kans gee om af te koel. Arms om haar gevou om hitte te bewaar. Die nag is koel. Die water van die stroompie gerusstellend. Kobus en Adriaan sit ʼn entjie verder op ʼn klip, rug aan rug. Hou die omgewing dop. Niemand – niks – gaan maklik naderkom sonder om gesien te word nie. Hulle kan vinnig opsaal, wegjaag indien nodig. Die wêreld is plat. Dis nie dat die aarde self soveel verander het na die Insident nie, maar sy voel tog dit het. Alles is net anders.

Sy staar op na die skaduwee voor haar. Moes aan die slaap geraak het. “Adriaan?” Hy staar na haar, maar sy is nie seker hy sien haar nie. Sy begin ongemaklik voel. “Adriaan!”

Sy kop beweeg ʼn fraksie na die kant, asof hy fokus. “Maggie?”

Niemand noem haar dit nie. Sy het seker gemaak van kleins af.

Hy begin sing. “Maggie maggie handjies vashou nie. Maggie maggie seuntjies soen nie. Maggie maggie …”

Sy spring op, klap hom dat sy kop ruk. Sy kop draai terug, stadig. Oë steeds nie gefokus. “Maggie …”

Sy klap hom weer. Dit klap soos ʼn geweerskoot.

Magda!” Kobus draf nader, mond oop. Onseker hoe om die situasie op te som. “Wat doen jy?”

Magda?” Adriaan staar haar fronsend aan. Ten minste is daar weer lig in sy oë. Hy vryf sy wang. “Wat is dit? Hoekom?”

Sy hou ʼn hand uit na hom. Meer om hom op ʼn afstand te hou. “Is jy okay?”

Hy vryf steeds sy wang. “Hel, jy het ʼn harde hand.” Hy grinnik, maar dit lyk geforseerd vir haar. “Het ek iets verkeerd gesê? Gedoen? Ek weet regtig nie – dis,” hy kyk rond. Verward. “Wat het gebeur?”

Sy vat sy hand. “Adriaan? Het jy geslaap? Nagmerrie?””

Nagmerrie? Ja. Moet wees. Het ek in my slaap geloop?”

Kobus lyk verward. “Ons het ʼn paar minute terug daar gesit.” Hy wys na die klip. “Moes aan die slaap geraak het.” Sy is nie seker wie hy bedoel nie. Beide van hulle, seker.

Dis okay,” sê Magda. “Alles is okay.” Maar sy weet dit is nie. Selfs in die vae lig van die sonsopkoms, kan sy sien daar is iets agter Adriaan se oor. En dis nie vuilheid nie.

Hulle saal op. Neem die tog rustiger. Sy hou haar gesig gedraai na die sonsopkoms. Waardeer die oomblik. Pers word oranje voor die son uitdruk oor die horison. So mooi. Majestueus. ʼn Nuwe dag. Sy kyk om na Kobus wat agter ry. Hy sien haar bekommerde blik. Glimlag gerusstellend. Sy weet van beter. Hy is net so bekommerd. Adriaan ry voor, kop geboë. In sy eie wêreld. Waar dit ook al mag wees.

Sy begin dink sy was reg van die begin af oor hierdie uitstappie.

10

Oom Danie het ʼn bottel Whiskey uitgegrawe. Hulle drink dit sterk. Skoon.

Dit sal nie help om effe dronk te wees indien daar nog aksie gaan wees nie,” sê Peet. Sluk vinnig ingeval daar ondersteuning is vir sy siening.

Nee. Hulle is klaar vir nou,” sê Markus. “Ons kan bietjie toe-oog kry.”

Jy is seker?” vra Oom Danie.

Ek is. Genoeg wanhoop is gesaai. Wil hê die saadjies moet groei. Wortel skiet.”

En dan?”

More aand,” Hy kyk by die venster uit, “vanaand gaan ʼn fisiese toets wees.”

Hulle drink in stilte. Gee Markus onderlangse kyke. Oordink die nag se gebeure. Hoe het die demoon geweet van alles?

Markus hou hulle dop. Die onrus. Onsekerheid. “Vra maar. Ek gaan antwoord, of ek gaan nie.”

Peet maak sy keel skoon. “Hy, of dit, het gepraat van jou vrou.”

Markus gee ʼn skewe glimlag. “I’ll talk about anything, but I won’t talk about that.”

Meatloaf?”

Naby genoeg.”

Ek wil jou iets wys,” sê Oom Danie skielik. Hulle volg hom na die sitkamer. Hy maak ʼn groot hout kabinet oop.

ʼn Platespeler,” sê Markus. “Ek het lanklaas een van hierdie gesien.” Hy gaan sit plat op die vloer. Begin plate uittrek uit die twee rakke, besef wat hy doen en kyk op vir toestemming. Oom Danie knik met ʼn klein glimlaggie. “Al die ou rock groepe. Zep, Stones, Floyd, Journey. Fleetwood, Tom Petty, Creedance. Queen, ZZ Top!” Hy voel soos ʼn seuntjie in ʼn strokiesverhaalwinkel.

Dit werk.”

Wat? Die platespeler? Hoe?”

Oom Danie beduie na buite. “Windkragopwekker. Indien iemand die rem losmaak, sal dit hardloop in die huidige weer.”

Nou! Ons doen dit nou!” Markus spring op. “Kom ou man.” Hy stamp aan Peet. “Kry daardie ou bene aan die werk.”

Ek het hoogtevrees,” sê Peet.

Niemand het gesê jý gaan opklim nie. Kom!”

11

Magda hou haar kop laag agter die rotse. Hulle het gestop om te rus. Meer om die perde te laat rus. Die vier ruiters is redelik ver van hulle af. Grotendeels omrede hulleself, op Adriaan se aandrang, eerder die pad vermy. Die ander ruiters het nie dieselfde beperking op hulleself geplaas nie.

Het hulle ons gesien?” vra Kobus.

Hulle moes,” sê Adriaan, hou die ruiters dop met ʼn verkyker. “Maak dit ʼn ‘ja’. Hulle kyk in hierdie rigting.” Hy handig die verkyker aan Magda.

Hulle het ʼn ernstige bespreking.” Magda handig die verkyker aan Kobus. “Dis die Volk van die plaas. Gerhard, Jabu, Tex en Samantha. Ek sien nie vir Tanya nie.”

Hulle ry voort,” sê Kobus, asof die ander nie met die blote oog dit kan sien nie. “Nie gestuur om ons te kom haal nie.”

Nie so gedink nie,” sê Magda, kou haar lip.

Gee hulle ʼn paar minute,” sê Adriaan.

Hulle hou die ruiters dop in stilte. Wanneer hulle oor ʼn randjie verdwyn, begin Adriaan opsaal. Die ander volg sy voorbeeld. “Ons kan die blokhuis bereik voor sonsondergang. Daar oornag. Dan kyk ons wat gedoen moet word.”

Magda en Kobus gee mekaar ʼn kyk. Sy sien sy onsekerheid. Onderdruk die vrees wat sy self voel.

12

Ek het regtig gedink iemand gaan moet klim,” sê Peet. Oom Danie se instruksies om die rem los te maak is eenvoudiger as wat hulle verwag het. Dis ʼn eenvoudige stel skakelaars in ʼn metaalkassie op ʼn sementplatform

Iemand gaan steeds moet klim,” sê Markus. Hulle tuur op na die windturbine. Die grys-wit van die lemme het bruin-rooi smeer merke.

Hoekom doen hulle dit?” Peet vryf deur sy hare.

Intimidasie. Ek is seker die windpomp gaan ook die storie vertel.”

Hulle sal die water ook afsny?”

Kan wees. Die opgegaarde water gaan net so lank hou.” Markus sit die rugsak neer wat oor die swaard aan sy rug hang.

Ek het steeds hoogtevrees,” sê Peet.

Markus lag net. “Ek het so aangeneem.” Hy hurk by die rugsak, haal die helm uit.

Jy was in elk geval van plan om te klim.”

Jip.”

Die metaalringe is breed genoeg om twee voete langs mekaar te plaas. Met ander woorde, dis ʼn nou paadjie na bo. Markus se hande sweet, ten spyte van sy bravade. Die veselglasomhulsel aan die bokant lyk nie of dit sy gewig sal dra nie. Hy bekyk die gemors wat die hindernis skep. Hy het eintlik ʼn liggaam verwag. Die karkas is net ʼn fraksie beter as boodskap. Hy krap dit af met die punt van die swaard. Die ribbekas kos ʼn bietjie meer werk.

Hoe het hulle dit hier gekry?

Hy sit die swaard terug in die skede op sy rug. Maak die band van die helm los waar dit aan sy lyfband hang. Leun in sodat hy sy balans hou. Hy draai sy kop in die rondte. Betrag die omgewing. Die hoogte gee hom ʼn goeie uitsig. Die swart wolke op die horison met die rooi weerlig wat daardeur speel, blyk net altyd buite bereik te wees. Sy eindbestemming. Sy maag maak ʼn draai. Hy weet regtig nie wat daar wag nie. Net – dit is die doel van sy trek. Sý doel.

Hy draai weg, onderdruk die gevoel van onheil, daardie swaar gevoel in sy maag. Later. Die helm laat hom sien. Hy weet nie hoe dit werk nie. Jo kon ook nie dit verduidelik nie. En Jo was ʼn volwaardige Ridder. Nie soos hy nie. Hy wat Markus is, is maar net iemand wat die wapenrusting dra. Oorgeneem het.

Die onsekerheid spies deur sy maag. Bring naarheid. Sy keel trek toe. Hy vra die vraag wat hom vir jare nou vergesel. Hoekom? Hy is maar steeds Thomas. Twyfel. Twyfel. Twyfel.

Glo hy regtig God het hom gekies? En indien wel, vir wat? Is dit net eiewaan? Grootheidswaan? Is die demoon reg?

Die helm glip gemaklik oor sy kop. Die wêreld draai vir ʼn oomblik. Alle twyfel verdwyn. Die krag van geloof, sou Jo uitgewys het. Moontlik met ʼn klap teen Markus se kop. Die donker bank op die horison bly onveranderd. Te ver. Hy kyk rond. Nader. Die helm gee nie ʼn teleskopiese visie nie. Maak net alles duideliker. Wys die Waarheid. Verlossing.

Sy maag maak weer ʼn draai.

Hy sien nie die demone nie, maar is bewus van hulle teenwoordigheid. Swart muf oor die land. Dowwe kolle wat hy eerder voel as sien. Hy glip die helm af, haak dit weer aan sy lyfband.

Peet volg sy tog af. “En?”

Ons gaan ons plan van aksie moet verander.”

Hoe so?”

Ons gaan dalk nie vanaand oorleef nie.”

13

Die blokhuis is leeg. Hulle staar om die beurt deur die verkyker. Net om seker te maak.

Daar kan iets êrens in een van die geboue wees,” sê Kobus.

Geboue?” vra Magda.

Hutte. Ek onthou hutte.”

Ek ook,” bevestig Adriaan.

Die waarheid van die stelling maak die onsekerheid net sterker.

Ten minste is daardie ding nie hier nie,” sê Magda. Hulle kyk almal in die lug op, gelyktydig. “Hierdie is dalk nie ʼn goeie idee gewees nie.”

Nee,” beaam Adriaan. “Maar dalk nodig.”

Hoekom?” vra Magda.

Hoekom?” Adriaan laat sak die verkyker. “Hoekom is ons dan hier?”

Kobus lyk ongemaklik. “Ek …”

Adriaan leun oor, sit ʼn hand op sy skouer. “Ontspan.”

Niemand is ontspanne nie. Adriaan se kneukels is wit om die leisels. “Wag hier. Ek sal gaan kyk.” Hy draai na die geskokte gesigte. Gee ʼn wat-het-ek-verkeerd-gesê kyk. “Julle gaan dekking gee.” Hy klap teen sy perd se flank. “En Buiter is steeds die vinnigste in die kontrei. Julle weet dit.”

Hulle staar na sy rug terwyl hy stadig, maar gereed, aanry na die houtmuur.

Iets is nie reg …”

Ek is bekommerd …”

Broer en suster gee mekaar ʼn kyk.

Jy eerste,” sê Magda.

Daardie insident vroeër. Dit was nie hy nie. Dis asof …” hy soek woorde.

Hy nie homself is nie?”

Ja. Presies. Dit klink dom, maar dis waar.”

Sy hou die geweer reg. Sy is nie die beste skut nie, maar sy weet wat sy doen. “Kan jy iets onthou van vroeër? “

Net dat hy regtig ernstig verlief is op jou.”

Sy skud haar kop verergd. “Dis nie nuus nie.”

Jy kan hom beter hanteer.”

Daar is niks fout met die manier waarop ek hom hanteer nie.”

Dis – ”

Ek gaan jou in die been skiet as jy dit nie daar los nie.”

Sy mond trek skeef in ʼn halwe grinnik. “Mans moet dinge gesê word. Vertel word. Ons kan nie self dinge uitwerk nie. Ons sal altyd aan hoop vashou.”

Sy draai weg van die visier wat in die algemene rigting van Adriaan se rug mik. “Jy het groot geword êrens langs die pad, sien ek nou. Wie is sy?”

Die pyn golf oor sy gesig vir ʼn oomblik.

Toe. Sê. Wie?”

Dit maak nie saak nie.”

Jy het begin. Wil vir mý raad gee.”

Al wat ek sê, moenie iemand aan ʼn lyntjie hou nie.”

Sy fokus weer terug na Adriaan. Vir ʼn oomblik mik sy op sy rug. Besef haar vinger is op die sneller. Sy lig haar vinger. Kyk uit die hoek van haar oog om te sien of Kobus iets opgemerk het. Voel beide skuldig asook verwonderd. Kobus het die verkyker oor sy oë. Sy maak haar oë toe vir ʼn oomblik.

Daar is niks,” sê Kobus. “Dis regtig vreemd.”

Hoekom?”

Mens sou dink hulle sou terugkom.”

Hoekom?”

Hy lig die verkyker. “Is jy snaaks?”

Nee. Ek wonder ook.” Steeds geen voëls. Met al die aas daarbinne. Wat gaan hulle doen indien daardie groot – ding – weer terug is? Of terugkom?

Magda.”

Sy besef haar gedagtes het gedwaal. Haar oë flits oor die area. Het sy iets gemis? “Ek sien niks.”

Jy wou iets noem? Oor Adriaan?”

O. Dit.” Dit voel nou of sy aap agter die bult gaan haal.

Dis die seer agter sy oor?”

Sy los die asem wat sy inhou. “Ek weet nie. Dis dalk niks.”

Ek het dit ook gesien. Wat is dit?”

Ek weet nie. Maar hy is baie, ek weet nie, beskermend daaroor. Wil nie hê ek moet kyk nie.”

Dalk het hy net ʼn sweer of iets.” Hy klink hoopvol. Onseker.

Ek weet nie. Selfs so iets kan probleme veroorsaak. Daar is nie meer hospitale nie.”

Hulle hou Adriaan dop. Buiter gaan staan teenoor die ingang. Die hekke is nie toegemaak in hulle vlug van vroeër nie.

Wat doen hy?”

Kobus verstel die verkyker. “Hy sit net daar. Kop onderstebo.”

Gaan aan. Ek kan nie so ver sien nie.”

Hy kyk nou terug in ons rigting. Magda. Ek is bang.”

Die eenvoud van die stelling laat haar maag draai.

Ons is almal bang.”

Iets is nie reg met hom nie.”

Hy is ook net bang. Kan dit net nie wys nie. Wil dit nie wys nie.”

Beslis: “Nee. Dis iets anders. Hy kyk heeltyd vir jou. Asof hy nadink. Oorweeg.”

Jy het nou net uitgewys hoe hy oor my voel.”

Magda, luister. Dis meer as dit. Daardie rympie vanoggend. Hy het nie geslaap nie. Of nie in sy slaap geloop nie. Sy oë. Dit het so ʼn vreemde …”

Genoeg!”

Die woord steek deur Kobus. Hy maak sy mond toe, hart wat vinnig klop.

Jammer,” sê sy sag. “Ek is ook bekommerd.”

Hy ry nou na binne. Gaan ons volg of wegry?”

Wegry? Ons kan hom nie hier los nie! Waarheen wil jy gaan?”

Plaas toe. Na Pa toe.”

Sy sluk swaar.

Ons moes hom nie daar gelos het nie.”

Haar stem koud: “Dit was sy keuse.”

Dis Pa.”

Hoe maak dit dit beter?”

Jy weet nie wat hy deurgaan nie.”

Omdat ek die dogter is? Dit maak dat ek nie weet nie?”

Hy het die wêreld se respek vir jou. Nog altyd gehad.”

Sy kyk weg. “So hoekom is jy hier?”

Ek moet na jou kyk.”

Ek kan na myself kyk.”

Dis nie die punt nie. Hy weet dit.”

Sy swaai om. “As dit so belangrik is vir jou, hoekom het jy nie agtergebly nie?”

Hy laat sak nie die verkyker nie. “Want Pa het gevra dat ek na jou moet kyk.”

Sy byt haar lip. Haar kleinboet het volwasse geword en sy het dit gemis. “Die beseerde man?”

Wat van hom?”

Hy was wakker voor ons weg is.”

Kobus draai na haar. “Maar jy het niks gesê nie?”

Sy byt haar lip. “Hy het gevra dat ek stilbly.”

Hoekom?”

Sy kyk weg. “Hy het gesê hy sal bly. Na Pa kyk.”

Ek dog Pa bly om na hóm te kyk?”

Sy skud haar kop. “Jy weet dis nie sy rede nie. Dit was net makliker om dit as verskoning te gebruik.”

Dit maak nie sin nie.”

Dis Pa. Hy wil nie die plaas los nie. Hy is hardkoppig. Nog altyd gewees.”

Kobus kyk verbitterd weg. Weer terug na die blokhuis. “Adriaan is weer buite. Te voet. Hy wink. Jou keuse.”

Sy voel die gewig van verantwoordelikheid. “Hy is ons vriend.”

Kobus knik net. Spoor sy perd aan.

Adriaan maak seker hulle is op pad voor hy weer na binne stap.

14

Die een regs is myne,” sê Karel.

Tannie Parkins maak ʼn geluid en verstel die teleskopiese visier. “Ek sal die maklike een vir jou los.”

Ha! ʼn Melktert sê dis ʼn kopskoot.”

Melktert? Wat jy waar kry?”

Ek is seker Tannie sal êrens ʼn geleentheid kry.”

Indien jy mis?”

Ek? Gaan nie gebeur nie.”

Dade spreek duideliker as woorde.”

Hy lê aan. Reguleer sy asem. Fokus op die drie demone wat hurk so honderd meter van die voertuig. Daardie voertuig gaan nêrens. Nog vlugtelinge. Die verkenners het hulle so paar uur terug opgemerk. Afstand gehou tot die demone opgedaag het. Die goeters (dis nou die demone) trek in klein groepies. Oom Phillip is oortuig dis ook verkenners. Die konvooi is dalk te groot vir hulle om iets te doen. Vir nou. Daar is verseker ʼn groot groep êrens naby.

Die mense onder in die donga het ʼn maklike pad gesoek. Weg van die teerpad. Nie die beste besluit nie. Die grond is sagter as wat hulle gereken het. Nou sit die voertuig vas. En die demone het hulle genader. Skote het geklap, maar dit blyk meer om die goeters af te skrik. Hulle het nie ʼn Tannie Parkins nie. Of ʼn Karel nie, dink hy met so bietjie van ʼn innerlike selftevredenheid. Die mense skuil in die twyfelagtige veiligheid van die voertuig. Die man, seker die pa, staan langsaan. Rewolwer in die hand.

Gaan hierdie lank vat?” vra Stefan. Hy en Dave is hulle agterhoede tot die konvooi opvang. Liesel en Katrien is die spoorders / verkenners. Die tweeling weet wat hulle doen. Steeds in die saal, besig om die omgewing verder te verken. Hulle wil nou nie oorval word deur nog ʼn patrollie van demone terwyl hulle anderpad kyk nie.

Karel blaas sy asem uit. Druk die sneller. Die demoon wawiel in die stof in.

Tannie Parkins trek twee skote af. Haal so vinnig oor, Karel kry nie eens kans om behoorlik te mik na die derde demoon nie.

Dis hoe mens dit doen,” sê sy sag, staan op. Sy waai haar arms stadig sodat die mense onder hulle kan sien hulle is hier om te help. Karel bly lê. Hou die omgewing dop.

Stefan en Dave hou die lug ook dop. Niemand weet wat hulle gaan doen indien daardie massiewe gedierte weer opdaag nie. Maar hulle gaan ten minste nie onverhoeds betrap word nie.

Ek dink Dave en Stefan moet gaan groet,” sê Karel.

Wat? Nee.” Dave is nie beïndruk nie.

Julle staan hier en doen niks. Almal het ʼn deel om te bring.”

Dis Oom Phillip se woorde daardie,” sê Stefan. “Jy is sestien. Jy gaan nie vir ons sê wat om te doen nie. Respekteer jou beters.”

Wel,” sê Tannie Parkins.

Ag, kom nou, Tannie. Moenie sy kant vat nie. Hy is nog ʼn kind.”

Sy lig ʼn grys wenkbrou.

Stefan byt sy lip. Vat Dave aan die skouer.

Wat? Nee.”

Hulle sal ons dek.”

Miskien,” sê Karel. Kry nou lekker. Die twee vriende is agt en nege jaar onderskeidelik ouer as hy. “Gaan wees grootmense.”

Hulle tweestryd is duidelik.

Gaan,” sê Tannie Parkins. Sy maak grootoë vir Karel.

Die twee stap stadig af. Hou hulle hande in sig.

Die man hou hulle dop, die rewolwer los in sy hand.

Ons is hier om te help,” roep Stefan, glimlag breed. Meer om te wys hulle het vriendelike bedoelinge.

Bly weg,” sê die man. Hy is seker in sy laat veertigs. Sy skouers hang. Hy lyk of hy dae laas geslaap het.

Ons is hier om te help,” herhaal Stefan. Dave knik instemmend. Die man leun terug teen die voertuig. Die wapen wys na die grond, maar die twee vriende hou dit versigtig dop. Beplan reeds hoe hulle gaan wegrol indien nodig. Hopelik sal die twee skerpskutters hulle werk doen.

Daar is geen hulp nie,” sê die man. Sy kop sak. Dan kyk hy op. “Waar kom julle vandaan?”

Dave neem leiding. “Beaufort Wes omgewing. Ons het ʼn groep van mense wat saam trek. Meestal van die omliggende plase.”

Beaufort?”

Dave skud sy kop. “Dit het geval. Brand seker nog steeds.”

Die man se kop sak weer. “Daar is nie hoop nie.”

Daar is,” sê Stefan. “Ons is op pad noorde toe. Ons het gehoor daar is ʼn sametrek van mense. ʼn Veilige hawe.”

Hy skud sy kop stadig. “Daar is nie hoop nie. Niemand is veilig nie.”

Daar is altyd hoop,” sê Dave. “Dis hoekom die Eksodus gebeur. Die Groot Trek.”

En waarheen is julle Eksodus?”

Die twee gee mekaar ʼn vinnige kyk. Hoeveel kan hulle vertel? Hoeveel vertrou hulle ʼn nuweling? Stilswyend besluit hulle op vertroue aan ʼn mens. In die omstandighede.

Ons het gehoor daar is ʼn sametrekking in die omgewing van Luckhoff.”

Die man lag. Dis ʼn lelike, growwe, blaf wat hy gee. “Daar is niks daar nie. Was nog nooit.”

Die pad daarheen word beveilig deur blokhuise,” sê Stefan.

Dave stamp hom in die ribbes.

Die man sien dit. Kyk weer weg. “Wees versigtig met die inligting wat jy deel.”

Ons is almal mense. Ons moet saamstaan,” sê Stefan.

Nie almal deel jou positiwiteit nie, ou seun.”

Die twee gee mekaar weer ʼn kyk. Dave loer oor sy skouer voor hy homself kan bedwing. Die man volg sy blik. Tannie Parkins staan steeds op die heuwel.

Sien? Ten spyte van jou woorde, het julle steeds iemand wat julle agterstewe dek.”

Hulle is nie seker of die man vir Karel kan sien nie.

Weet nie wie besluite neem by julle nie, maar kom ek wys julle gou iets.” Hy beduie na die voertuig. Besef hy wys met die rewolwer. Steek dit in sy broeksak. “Moet niks sê nie. Ek is nie seker hoe goed hulle hoor nie. Of hoe inligting oorgedra word nie.”

Dave gee Stefan weer ʼn vinnige kyk, vat sy wapen vas. Hy probeer om nie op te kyk na hulle agterhoede nie. Hoewel dit seker nie regtig saak maak nie. Die man weet reeds.

Drie mense in die voertuig. ʼn Vrou – hulle neem aan dis die man se vrou – sit agter die stuur. Daar is iets fout met haar. Sy volg hulle bewegings stil, met haar hande op die stuurwiel. Die enjin is dood. Haar hare staan woes. Dit het nie ʼn borsel gesien in dae nie. Dalk weke. Maar dis haar verskrikte uitdrukking wat hulle in hulle spore laat vassteek.

En …

Sy sal niks doen nie,” sê die man. “Sy wil net ry. Net wegkom.”

Hoekom sê oom spesifiek sy sal niks doen nie?” vra Dave.

Maar Stefan sien dit. “Haar oog. Wat is fout met haar oog?”

Dave beweeg nader en kyk mooi. Deins terug. Haar regteroog. Die iris is geel. Die pupil ʼn klein swart kol. Maar dit eindig nie daar nie. Die hele sy van haar gesig is oortrek met swart are. Haar nek grys tussen die are wat afloop onder die kraag van haar bloes in.

Wat is fout met haar?”

Die man staar na haar met oë wat rooi is. “Ek weet nie. Maar dis hulle.”

Hulle?”

Dave en Stefan bestudeer nog die voertuig. Beweging van die agterste sitplekke trek hulle aandag. Twee kinders. Vasgegordel. Vyf en sewe jaar oud. Min of meer.

Dave sê iets minder vleiend. Beide kinders staar stil terug. Wat ook al fout is met die ma, het reeds verder versprei oor hulle. Beide staar met geel oë na buite. Hulle koppe beweeg saam, asof hulle een is.

Dit gebeur vinniger met kinders. Dalk omrede hulle kleiner is. Dalk omrede dit makliker posvat by kinders.”

Hulle draai na die man.

Wat is dit?” vra Stefan.

Die man staar net verslae na die binnekant van die voertuig. “Ek weet nie.” Hy beduie na die drie karkasse so ent weg. Besef nie hy waai weer die rewolwer rond nie. “Hulle het iets daarmee te doen. Volg ons nog die hele pad.”

Dave stap nader aan die man. Hou ʼn hand uit. “Oom? Dalk is dit beter as ek daardie vat vir nou.”

Die man blyk nie te hoor nie.

Ek het hulle so gevind. Het gaan verken.” Hy gee weer so ʼn blaf laggie. “Verken. Klink so romanties. So manlik. Ek moes hulle beskerm. Ek het gefaal.”

Oom? Gee vir my die rewolwer. Asseblief?”

Ek het teruggekom. Kon dadelik sien iets is fout. Merke op hulle nekke. Eers gedink dit was byte. Insekte. Maar niks het gehelp nie. Dit het stelselmatig versprei. Niks wat ek aansmeer het gehelp nie.” Sy oë bloedbelope. Hy vee die natheid vererg weg. Die rewolwer gevaarlik in alle rigtings.

Sê my, manne. Is dit ʼn sonde om jou lewe te neem?”

Oom, asseblief.” Dave voel die spanning in hom opstoot.

Is dit sonde?!”

Daar is mense wat so glo, ja,” sê Dave. Probeer sy stem rustig hou.

Meer so as om die lewe van ander te neem?”

Oom? Ek verstaan nie. Kom ons wees rustig. Ons kan hieroor praat.”

Die man kyk op. Sy oë verdof na die iets in die verte. “Ek sal my kanse moet vat.”

Oom. Asseblief,” smeek Dave nou. Stefan staan versteend. “Ons het kos. Water. Mense. Ons kan dinge uitsorteer. Regmaak.”

Regmaak? Nee.” Hy fokus weer op die twee jong manne. Draai sy aandag na die voertuig. Trane loop nou vrylik oor sy wange. Sag: “Ek is jammer. So jammer. Ek kan nie meer nie. Ek kan net nie.”

Dave spring vorentoe, probeer die wapen afvat. Die man is egter vinniger. Swaai die rewolwer. Tref Dave met die kolf teen die voorkop. Dave val terug, beland op sy agterstewe. Sy geweer beland drie meter weg op die grond. Hy vee oor sy voorkop, verdwaas oor die bloed op sy vingers.

Jy.” Die man wys die rewolwer in Stefan se rigting. “Op jou knieë. Los die geweer.”

Stefan laat val die geweer versigtig. Sak neer op sy knieë. Die man beweeg ʼn tree weg. Gee ʼn vinnige blik in die rigting van die voertuig. “Ek is jammer, Klara. Aaron. Colin. My vrou. Seuns.” Hy rig die rewolwer op die twee jong mans voor hom. “Julle verdien beter.”

ʼn Skoot klap.

Nog een.

15

Markus wys na die skuur wat ʼn ent van die hoofhuis staan. “Kom.”

Peet vra nie, maar verander van rigting. Die skuur se maag is gehul in skemer. ʼn Ou trekker staan in die middel. Roes oortrek dit soos fungi. Dit gaan nêrens nie. Nie in hierdie lewe nie.

Iets spesifieks?” vra Peet.

Nah. Net iets.”

Hulle krap rond deur die implemente wat teen die symuur lê. Die ou werkbank met stapels gereedskap.

Hy vind sy iets agter in die skuur. Vier veldfietse. Drie rooi, een geel. Hulle staan in gelid. Elk pryk met ʼn laag droë modder, maar andersins in goeie kondisie. Wiele styf.

Brandstof sou goed wees,” sê Markus, meer vir homself. Harder: “Ons gaan ʼn gesprek met Oom Danie moet hê. Dit gaan dalk nie maklik wees nie.”

Nee. Dis nooit nie. Ek begin my lewensbesluite in twyfel trek.”

Ek hét gewonder.”

Hoekom ek hier is?”

Die son is warm op hulle skouers wanneer hulle uitstap. Gruis knars onder hulle voete.

Jy kon saam met die konvooi gegaan het,” wys Markus uit.

Ek het nie gedink die ou man gaan jou as goeie geselskap sien nie.”

Markus glimlag.

Om die waarheid te sê, ek het gedink jy gaan meer mediese sorg benodig. Die dogter het nogal ʼn goeie argument gemaak. Gesê jy kan nie beweeg word nie. Haar pa was nogal standvastig in sy besluit om by jou te bly.”

Ek dink hy het ander redes gehad.”

Steeds.” Hy gee Markus ʼn onderlangse kyk. “Hoe is dit dat jy so vinnig beter is?”

Die vraag is hoekom Oom Danie wou agterbly.”

Dit ook.” Hulle stap in stilte vir ʼn ruk. “Jy ontlok baie vrae, Markus. Of Thomas. Ek gaan aanneem Markus is ook nie jou regte naam nie.”

Dis aan jou dade wat jy geken sal word.”

Peet maak ʼn geluid. “Jy het ʼn manier om vrae te ontduik.”

Jy het ʼn manier om baie vrae te vra. Het julle belydenisse gedoen in jou gemeente?”

Dis ʼn Katolieke instelling.”

So, dis ʼn nee? Jy sou in elk geval nie baie goed wees daarmee nie.”

My invalshoek was dalk meer – direk.”

Markus grinnik. “Sou steeds een of twee van jou preke wou bywoon.”

So, wat is jou insae in die besluite van die Oom?”

Hulle is naby aan die hoofopstal. Oom Danie staan op die stoep, fynkam die omgewing met sy verkyker.

Hy kan nie laat gaan nie. Dinge wat verby is. Mense en dinge wat reeds aanbeweeg het. Ons het maar almal daardie probleem.”

Dis nie goed vir die oorblywendes, die lewende nie.”

Markus wys ʼn vinger in Peet se rigting. “Mooi saamgevat. Sy dogter het hom nodig. Sy seun. Hy dink weer hulle het ʼn eie lewe, het hom nie nodig nie.”

Peet knik.

Hy moet sy eie besluite neem.”

Dis nie maklik nie. Al is die waarheid reg voor hom.”

En dis hoekom jy hier is?”

Peet haal sy skouers op. “Dit het gevoel na die regte ding om te doen.”

Ek maak daardie fout meer gereeld as wat ek sou wou erken.”

Iets interessants by die windpomp?” vra Oom Danie wanneer hulle die trappie betree na die stoep.

Nee,” sê Markus. “Hulle speel met ons.” Hy vertel wat hulle by die windlaaier gevind het.

Wat kan ons vanaand verwag?” Oom Danie stoot sy bril reg. “Dis seker wat ons maar wil weet.”

Hulle gaan in groot getalle kom. Ons moet alles toemaak wat ons kan. Veg met alles wat ons het.”

Oom Danie gaan sit, wys vir hulle om dieselfde te doen. Hy sit in duidelike ongemak. Sy vingers vleg. Wriemel. “Ek het gedink – ”

Markus en Peet gee mekaar ʼn vinnige kyk.

Ek is nie heeltemal regverdig teenoor julle manne nie. Ek waardeer dat jy hier is.” beduie hy na Peet. “Nie seker wat jou teenwoordigheid beteken nie.” Die laaste gerig aan Markus.

Markus sit terug. “Julle het my versorg, waarvoor ek dankbaar is.”

Maar jy was nie so beseer soos ons gedink het nie. Vir ʼn sogenaamde man van God is daar baie vrae rondom jou.”

Jou dogter …”

Die punt is,” val hy hom in die rede, “ek het besluit om hier te bly. Ek weet dit is nie die beste besluit nie, want almal probeer my andersins oortuig. Maar nou voel ek verantwoordelik vir julle.”

Dis nie asof ons nou êrens kan gaan nie,” sê Peet, maar glimlag om die steek uit sy woorde te haal.

Daar is motorfietse in die skuur. Brandstof buite, aan die agterkant. Ek het nie alles vir die konvooi geskenk nie.”

Die twee mans wag in stilte.

Ek het bietjie meer gehou as wat ek hulle gesê het. Julle kan die konvooi maklik inhaal. Maar dan moet julle nou beweeg.”

Hy staar hulle aan oor die stilte.

Julle moet nou gaan,” probeer Oom Danie weer.

Markus reik ʼn hand uit na sy skouer. Oom Danie lig ʼn hand om dit af te weer. Gemoedelik laat Markus sy hand sak. “Hulle het uitkyke. Hulle sal weet wanneer ons probeer hardloop.”

Die veldfietse is vinnig.”

Markus knik. “Maar hulle is legio. En hulle word nie moeg nie. Ons het ʼn bestemming nodig. ʼn Veilige hawe.”

Die blokhuis waarvan hulle gepraat het,” sê Peet.

Ons gaan dit nie nou haal nie. Miskien more.”

Oom Danie kyk weg. “Miskien more.” Hy staan op en stap die huis in.

Ek begin dit oorweeg om nou te gaan,” sê Peet sag. “Lyk of jy bly.”

Dit bly jou keuse.”

Maar?”

Markus gee ʼn klein glimlaggie. “Geen maar nie.”

Maar?”

Maar ʼn goeie skut aan my sy sal my so effe beter laat voel vanaand.”

Peet staan op. “Ek het nog whiskey nodig.”

16

Magda en Kobus trek aan die tome van hulle perde. Magda staar na die kruise.

Magda?”

Dis leeg.”

Kobus staar ook. Daar is bloed. Tekens dat die kruise gevul was. Maar dit staan nou leeg. Hoe? Dit was ʼn paar dae.

Adriaan vryf oor die kop van sy perd aan die ander kant van die kruise. Kyk in hulle rigting. “Kom.”

Hulle lei hulle perde stadig deur die kruise. Twintig daarvan. Die perde is onrustig, maar nie verskrik nie.

Wat is aan die gang?” vra Magda.

Dis niks om oor bekommerd te wees nie,” sê Adriaan. Hy draai na hulle, vee sy hare uit sy oë. “Alles gaan uitwerk.”

Adriaan? Wat is dit?” Hy lyk nie goed nie. Sweet glinster oor sy voorkop in die middagson. Hy is bleek.

Magda, ons moet gaan,” sê Kobus sag, dringend. “Iets is nie reg nie.”

Gee kans,” sê sy.

Fluister, fluister,” sê Adriaan, glimlag breed. “Laat ek help.” Hy neem die geweer by Magda sodat sy kan afklim. Sy gee dit sonder om te dink.

Kobus spring self af, neem die leisels om die perde vas te maak.

Gee sommer joune ook,” sê Adriaan na hy Magda se geweer oor sy eie skouer swaai.

Kobus steek vas. Sak sy hand na die holster.

Versigtig. En stadig.” Adriaan hou ʼn hand uit. Sy ander hand trek sy handwapen uit. Hy hou dit teen sy been.

Hoekom?” vra Kobus sy oë op die wapen in Adriaan se hand.

Dis beter so. Vertrou my net.”

Kobus kyk na Magda vir hulp.

Ons is mos vriende. Jy vertrou my. Doen jy nie?”

Kobus huiwer.

Kobus! Gee my jou wapen. Nou!”

Dis die toon in sy stem wat Kobus beweeg. Daardie ingebore gehoor aan gesag. Hy hoor sy suster ʼn geluid maak, maar hy oorhandig sy wapen.

Wat is aan die gang, Adriaan?” vra Magda.

Hy is op pad,” sê Adriaan, staar in die verte terwyl hy Kobus se rewolwer in sy lyfband steek. “Alles gaan uitwerk.”

17

Karel staan stadig op. Sy gesig wasbleek.

Ek het nie …”

Tannie Parkins tree vinnig nader, arms om hom. Druk hom styf teen haar vas. “Dis okay. Dis okay.”

Ek het nie geweet wat om te doen nie. Dit het so vinnig gebeur.”

Ek weet. Ek weet.”

Hulle staan so vir wat voel soos ure.

Ons moet gaan,” sê sy, los hom stadig. Hou sy gesig in haar hande. “Jy okay?”

Hy knik stom.

Kom.” Sy tel haar geweer op. Hy volg haar teen die helling af. Verloor sy balans, skuur-val na onder.

Okay?” vra sy weer.

Ja. Sorry.”

Dave en Stefan staan langs die voertuig. Beide steeds in ʼn mate van skok. Elk gee Karel ʼn respekvolle knik.

Dit kon nie maklik wees nie,” sê Dave. “Beide die skote en die besluit.”

Hy wou julle skiet.”

Hy …” Stefan byt sy lip Hy wou uitwys dat die man wou seker maak iemand hóm skiet. Maar in ʼn oomblik van helderheid verstaan hy dit is nie wat Karel nou moet hoor nie. Dalk nooit nie.

Tannie Parkins hou hulle dop. Haar oë word groot. Sy verstaan wat die man beoog het. Sy skud haar kop effens vir Dave en Stefan.

Ek weet nie wat om hiervan te maak nie.” Dave wys na die voertuig. Almal kyk na binne. Die vrou en twee kinders staar na hulle. Hulle maak geen aanstaltes om uit te klim nie. Dalk beter so.

Ek gaan nie hierdie besluit neem nie,” sê Tannie Parkins.

Die ander stem volkome saam.

Laat Phillip maar besluit. Hy wil mos die nuwe burgemeester wees.” Sy wys na die man op die grond. “Kyk of daar ʼn graaf in die kattebak is. Ons kan hom ten minste begrawe.” Sy hou ʼn hand uit na Stefan.

Jy maak seker hierdie ongelukkige familie bly waar hulle is. Skree indien hulle iets doen.”

Hulle sit soos zombies,” sê Stefan, nie seker of hy hierdie taak wil hê nie.

Kom ons hoop hulle bly net daar.”

Sy staar uit oor die klipperige omgewing. Daardie merke teen die nekke van die familie. Sy probeer onthou waar sy iets soortgelyks gesien het. Onlangs.

18

Ons moet gesels,” sê Oom Danie.

Markus kyk op waar hy die borsstuk poleer met ʼn lap. Creedence speel in die agtergrond. “Hier?”

Buite.”

Ek neem geensins aanstoot nie,” sê Peet sedig, hou ʼn hand uit vir die lap. “Ek sal myself maar besig hou hier.”

Wax on. Wax off,” sê Markus.

Snaaks,” sê Peet, verdiep homself in die patrone en vreemde woorde oor die metaal.

Hulle stap uit in die rigting van die dam by die windpomp. Oom Danie lê sy geweer in die waai van sy arm. “Is dit veilig?”

Vir nou.”

Hulle kom nie uit in die dag nie? Soos vampiere?”

Markus lag. “Hulle is seker vampiere van ʼn aard. Maar nie in die sin van die stories nie. Hulle verkies maar die donker.” Hy knik in die rigting van die rokende dorp. “Dit gaan ʼn nes word vir die mense.”

Hulle gaan sit op die wal. Hou die omgewing versigtig dop. “Nes vir mense?”

Dalk eerder soos ʼn konsentrasiekamp. Gedeeltelik. Hulle kommandeer ook mense op om hulle te help. Werf hulle. Dis die hele doel agter hulle bestaan.”

Vir hulle siele?”

So iets.”

Oom Danie gee Markus ʼn lang kyk. “Jy is nie seker nie?”

Markus staar in die verte. “Dis moeilik om mens se kop om dit te kry. Niemand weet regtig wat hulle is nie.”

Daardie een van laasnag het geklink soos ʼn demoon. Soos ons dit sou voorstel.”

Markus se oë herleef tonele uit sy verlede.

Wat van die mense?”

Hulle merk mense. Dis soos ʼn parasiet wat hulle op jou plaas. ʼn Lewende teken dat jy aan hulle behoort. Dit neem hulle stelselmatig oor.”

Hoekom sal mense dit doen? Dit maak nie sin nie. Kyk hoe lyk die wêreld. Niemand kan dit wil aanvaar nie.”

Dis altyd die versoeking. Hulle kan dit uit jou trek. Weet wat jy wil hê. Begeer.”

Soos –” hy soek die regte woord, “– daai ding waar mense jou gedagtes lees?”

So iets. Hulle kan nie gedagtes lees nie. Maar hulle weet wat jou sal laat draai. Speel daarop.”

Dit gaan nie maklik gebeur nie,” sê hy beslis.

Dis maklik om te sê jy sal sterf vir jou geloof. Vir jou land. Jou volk. Maar om te sterf daarvoor is nie maklik nie.”

Ek verskil van jou.”

Het jy al gesien hoe iemand gekruisig word?” Markus staar strak in die verte. “Voor jou?”

Die emosies in Markus slaan sy stem weg. Oom Danie draai vinnig na hom.

Dit vat lank. ʼn Ewigheid. Elke minuut voel soos ʼn dag. En jy is magteloos. Kan net kyk. Hulle weet wat hulle doen.” Markus se kop sak. Saggies: “Drie dae.” Hy staan op. Stoot sy hande deur sy hare. Loop ʼn ent weg. Oom Danie gee hom ʼn oomblik. Markus stap stadig terug na hy sy emosies weer onder beheer het.

Jammer,” sê hy.

Oom Danie skud sy kop. Hulle sit in stilte vir ʼn ruk. “Ek het gedink.”

Markus wag vir hom om voort te gaan.

Jy moet verstaan – hierdie land is meer as ʼn honderd jaar in die familie. Hierdie is ons alles. Met ons eie hande gebou. Verdedig. Herbou. Ons het hier getrou. Kinders grootgemaak. Ons het hier begrawe.”

Markus maak sy mond oop om te antwoord.

Oom Danie hou ʼn hand op. “Ek weet wat jy wil sê.”

Markus draai sy kop skeef. Beduie hom om voort te gaan.

Ek het gedink. Met jou en Peet hier. Wat julle opgee. Die boodskap is duidelik. Die toekoms is wat belangrik is.”

Markus sê niks.

Dis hoekom ons moet bly en die plaas verdedig. Vir die toekoms van ons familie. En enigeen anders. Ons kan weer herbou.”

Oom Danie …”

Julle kan bly. Of gaan. Ek het reeds gesê, daar is brandstof. Neem die veldfietse. Haal die konvooi in. Julle sal meer hulp wees vir hulle as vir my.”

19

Gerhard vee oor sy yl hare. Met die besluit om weer terug te gaan plaas toe, het hy vasberade gevoel. Doelgerig. Maar nou wonder hy. Tex en Jabu hurk ʼn ent vorentoe in die pad. Samantha lei haar perd tot langs syne.

Wat doen hulle nou weer?” Sy verstel haar greep op die haelgeweer.

Spoorsny.”

Op ʼn teerpad?”

Hy probeer die logika insien. Weet nie regtig hoe om te reageer nie. Hy was ʼn onderwyser in die ou wêreld. Hierdie val nie binne sy vakgebied nie.

Gerhard weet nie regtig nie,” sê sy, feitelik.

Natuurlik weet ek … nie. Hulle kyk na die grond langs die pad ook. Weet ook nie of dit hulle iets laat wys word nie.”

Sy kyk na die twee mans voor in die pad, wat nou ʼn stille argument voer. “Ons het verdwaal.”

Die plaas is in daardie rigting.”

Dis ʼn groot rigting.” Sy kyk op.

Hy beskou die lug. Na die insident by die blokhuis, is hulle sku vir enige beweging. Veral uit die lug.

Ons is steeds op die regte pad,” verklaar Tex, klim in die saal.

Net een pad,” sê Jabu, maar sag, bestyg sy perd langs Gerhard.

Gerhard knipoog. “Laat hom belangrik voel.”

Nie as ons die plaas mis nie.” Jabu staar strak langs die pad af. “Nog drie ure.”

Hulle hervat die rit teen ʼn stywe pas.

Gerhard vra die vraag wat nog heeltyd deur sy kop maal. “Wat het Adriaan-hulle by die blokhuis gaan doen?”

Ek is meer geïnteresseerd oor die boodskap,” sê Samantha.

Ek weet nie wat dit sê nie,” sê Gerhard vinnig.

Ek – ons – weet. Maar ons wonder.” Die ander twee se aandag is nou ook by hulle.

Hy voel die druk. Ken die stille aanval. Vakhoofde. Kollegas. Hy is deur dit alles. “Die brief is geseël.”

Oom Danie weet dit nie.”

Ek weet dit.” Hy maak ʼn los-dit-daar gebaar.

Dit kan belangrik wees.” Hierdie van Tex af.

Dit is. Dis hoekom ons hier in die son aanploeter,” sê Gerhard, verergd.

Gerhard moet sy hoed opsit,” sê Samantha.

Gerhard het sy hoed vergeet,” sê hy, nou heeltemal geïrriteerd. Hy is onmiddellik spyt oor sy stemtoon. Samantha was nog altyd die een wat haar oor hom ontferm het. Hy, ʼn middeljarige oudonderwyser met ʼn boep. Nutteloos. Sy en haar kinders het hom ingeneem in ruil vir ʼn paar blikkies kos. Voor hulle die res opgetel het in hulle tog Noorde toe. Hy sak sy kop. “Jammer. Sorry.”

Samantha lag, val amper uit die saal. “Sit Gerhard se hand op sy kop. Dit sal die son so klein bietjie afweer.”

Hy kyk rond. Die ander se gesigte wissel tussen agter-die-hand grinnik tot wegkyk. Wegkyk en steeds grinnik. Dan lag hy. “Ja. Natuurlik. Julle wil almal sien hoe ʼn handvorm op my kop uitbrand.”

Hulle bars uit van die lag.

Kom, mense. Ons tyd loop uit.” Hy hits sy perd aan.

Die ander volg.

20

Ek is bang,” sê Kobus sag.

Ek ook.” Magda probeer deur die houthortjies loer. Dit begin donker word, wat die skemerte in die hut net swaarder maak.

Kan jy hom sien?”

Ek kan. Iets is regtig fout met hom.”

Hoekom? Wat sien jy?”

Sy bly stil.

Magda?”

Dit lyk of hy met homself praat. Sit daar in die middel van die kruise.”

Praat met homself?”

Ja. Dis – wag – hy vryf nou die pistool teen sy kop. Asof sy kop jeuk. Praat steeds.” Sy draai haar kop om beter te sien. “Daar is niemand daar nie. Maar ek kan sy stem hoor. Hy argumenteer met homself.”

Dis dalk alles wat net te veel geraak het,” sê Kobus agter haar.

Ek weet nie. Hy krap sy nek heeltyd. Daar waar die merk sit.”

Miskien is hy siek? Ontsteking of iets?”

Sy byt haar lip. “Hy het ʼn mes uitgehaal. “Hy –” Sy slaan teen die hortjies. “Adriaan! Nee!”

Wat? Wat gaan aan?”

Hy …” Sy staan weg van die deur. Gee ʼn verskrikte uitroep.

Adriaan bars na binne. “Wat? Wat gaan aan?”

Magda gaan staan teen die muur, hande afwerend.

Wat het gebeur?” vra Adriaan, vrees in sy oë.

Kobus neem stelling in langs sy suster. Staar na die wapen in Adriaan se hand. Die mes in die ander.

Jy het … dit het gelyk of jy …”

Hy staar haar aan. Bekommerd. Voel Kobus se oë op hom. Maak sy eie oë toe vir ʼn oomblik. “Julle moet my net vertrou. Ek vra mooi. Alles sal uitwerk.”

Laat ons gaan,” sê Magda. Smekend.

Ek kan nie.”

Hoekom? Hoekom kan jy nie? Wat is hier? Wat is aan die gang?” Die laaste is amper histeries.

Ek kan nie sê nie. Kan nie verduidelik nie. Julle sal nie verstaan nie. Net soos die mense van die konvooi.”

Die konvooi?” Magda gee ʼn tree nader. “Wat van die konvooi?”

Hulle staan nie ʼn kans nie,” sê hy sag. “Ek moes doen wat ek gedoen het. Dit was die enigste uitweg.”

Adriaan?” Sy hou ʼn hand uit na hom. Hou haar stem redelik. “Wat het jy gedoen?”

Wat nodig was.”

Ons kan dit nog reg maak. Daar is tyd. Adriaan, luister na my.” Sy gee ʼn versigtige tree nader. “Ons kan help.” Sy sien onmiddellik sy het ʼn fout gemaak. Vir ʼn oomblik het dit gelyk of hy dit oorweeg. Dis nou asof ʼn muur tussen hulle uit die niet verskyn. Sy laat sak haar hand.

Help?” Hy tik sy handwapen teen sy been. Glimlag. “Waarmee wil jy help, Magda?”

Wat hierdie ook al is. Jy hoef nie die las self te dra nie.”

Las?” Sy stem is sag. Sy asemhaling skielik swaar en vinnig. “Wat weet jy van las?”

Adriaan, luister. Mense se lewens – ”

Wat weet jý van las? Jy is en was nog altyd die mooi meisie. Die een wat kan kies. Die een wie se lewe net altyd reg loop. Ons ander, ons moet baklei. Vir alles. En dan het almal iets te sê. Dit maak seer, okay? Dis nie maklik nie. Elke. Liewe. Dag.”

Adriaan …”

Hy lig die pistool. Sy gee vinnig pad. Tot haar rug teen die muur is.

Kobus tree tussen hulle in. Hou ʼn hand op. Sy oë op die wapen. Weet nie wat om te verwag nie. Dis ʼn maat hierdie. Iemand saam met wie hy groot geword het. “Adriaan. Asseblief. Dis nie nodig nie.”

Adriaan hou die wapen op hom. Vinger op die sneller.

Adriaan?” Smekend.

Die woede in Adriaan se oë verdof. Hy frons, laat sak die wapen. Iets wat voel soos skaamte vertrek sy gesig. Hy draai sy kop weg.

Bly hier binne,” sê hy bot. Stap uit, slaan die deur toe.

Hoofstuk 3

Nag van onheil

1

Markus sit gemaklik op die stoep. Dis nog nie heeltemal donker nie. Die buitegeboue silhoeëtte teen die lug. Die maan ʼn skeppende sekel. Wolke begin stadigaan die sterre uitvee. Iets fladder deur die lug, maak skerp draaie.

Is dit vlermuise?” vra Peet.

Nee.”

Peet sit vinnig regop. “Wat is dit dan? Lyk soos vlermuise.”

Patrollie. Hulle wil sien wat ons doen.”

Moet ons dit nie skiet of iets nie?”

Markus lag. “Ek sal beïndruk wees indien jy daardie skoot kan bemeester.”

Peet sit verleë terug, maar ontspan nie. “Wat moet ons doen?”

Jy het die veldfietse se brandstof opgevul.” Nie ʼn vraag nie.”

Peet is nog méér verleë. “Ek het. Ek het gedink ons sou al in die pad wees.” Hy skud sy kop. “Die ou man is hardkoppig.”

Hy kan jou hoor,” wys Markus uit. Knik in die rigting van die oop deur.

Ek is wel bewus daarvan. Iemand moet dit sê.” Hy stap van die stoep af. Bring sy geweer tot teen sy skouer. Wag. Trek twee skote af.

En?”

Peet lyk selftevrede. “Jy weet goed.”

Maar jy voel beter?”

Eintlik, ja. Nou weet hulle.”

Weet wat?”

Dat ons weet. Sien?” Die vlermuise (of wat dit ook al is) is weg.

Ek is seker hulle het hulle les geleer,” sê Markus, geamuseerd.

Noudat ek my deel gedoen het, kan jy maar oorvat.”

Markus skud sy kop. “Help my om hierdie goed aan te sit. Dis die een ding van ʼn wapenuitrusting wat pla.”

Wat? Iemand moet jou help aantrek?”

Net so.”

2

Gerhard se kop ruk op. Die ander kyk in die rigting van die skote. Of waar hulle dink die skote vandaan kom. Dit weergalm nog oor die vlakte. Dit bring die argument oor welke plaaspad om te vat tot ʼn einde.

Daar,” wys Jabu.

Ek dink dis meer suidoos,” sê Tex.

Ons volg Jabu se leiding,” sê Gerhard beslis. Niemand stry nie. Hulle spoor hulle perde aan.

3

Kobus loer deur die gleuf tussen die deur en die kosyn. Adriaan het die deur toegeklap met sy wegloop, maar nie gekyk of dit behoorlik toe is nie.

Dit is nie. Die knip aan die buitekant (die gebou is klaarblyklik as ʼn stoorkamer gebruik) het nie gesluit nie.

Hy kyk nie,” sê Kobus.

Is jy seker?”

Hy sit weer op die grond. Lyk of hy sit en slaap. Met sy kop in sy hande.”

Magda raak aan Kobus se skouer. “Die perde?”

Ons gaan nie kan opsaal nie,” hy grinnik gespanne, al kan sy nie sy gesig sien waar sy agter kom staan nie, “maar dit sal nie die eerste keer wees dat ons bloots ry nie.”

Hy stoot die deur versigtig oop. Die wind het opgekom. Enige geluid van die skarniere behoort weg te waai. Adriaan sit gelukkig windop.

Die skarniere protesteer sag. Kobus vries. Adriaan beweeg nie. Hy druk weer teen die deur. Net genoeg spasie om hulle een vir een deur te laat. Hy druk deur na buite. Adriaan beweeg steeds nie. Maar dit klink of hy besig is weer te argumenteer. Slaap dus nie. Die woorde is nie hoorbaar nie. Kobus draai vinnig na Magda. Sy is reeds buite, stoot die deur versigtig toe. Die perde staan aan die anderkant van die blokhuis se oop area. Magda beduie na die agterkant van die geboue. Hulle beweeg sag teen die buitemuur af. Hou die geboue tussen hulle en Adriaan. Solank hy nie gaan ondersoek instel nie, sal hy nie weet hulle is weg nie. Die hoop is daar dat hy te verdiep is in sy eie bespreking. Hulle gaan steeds amper oor hom moet ry indien hulle die perde ongesiens bereik, maar dan sal dit nie meer saak maak nie.

Geluide aan hulle linkerkant.

Beide gaan staan doodstil. Staar na die houtmuur. Beelde van die massiewe reus wat weggevlieg het dae tevore, spring deur albei se gedagtes.

Daar is iets daarbuite.

Klink soos hardlopende voete.

ʼn Krappery aan die muur.

Magda se hand kruip in Kobus sin. Oë groot. “Hardloop,” fluister sy dringend. Hy laat hom nie twee keer voorsê nie. Trek haar agter hom aan.

Die geluide raak harder.

Dringender.

Iets probeer inkom.

Hulle het nie meer tyd nie.

Vat kortpad perde toe.

Adriaan staan op. Staar in hulle rigting. Nie heeltemal in die loopvlak tussen hulle en die perde nie. Sy hand op sy wapen, maar hy trek dit nie uit die holster nie. Hulle besef hy staar egter nie na hulle nie, maar die muur agter hulle. Hulle hardloop agter die hutte uit. Sy kop draai in hulle rigting. Gee selfs ʼn paar tree weg van hulle af. Asof hy hulle uitnooi. Hou hulle stil dop.

Broer en suster wag nie. Vra nie vrae nie. Bestyg die perde. Por hulle aan na die hek.

Die hek.

Dit staan steeds oop. Soos hulle gehoop het. Vertrou het. Die perde se hoefslae weergalm vreemd aan die binnekant van die omringende mure. Kobus tien tree voor Magda. Hulle moet net uitkom. Die plaas bereik.

Sy sien dit nie gebeur nie. Die volgende oomblik is Kobus se perd ruiterloos. Dis bykans onmoontlik om die perd tot stilstand te bring sonder leisels. Sy trek aan die hare in elk geval. Kyk terug. Kobus rol oor die grond. Iets sit vas aan hom. Sy het nie tyd om behoorlik te sien nie. Haar eie perd steek vas, skop voorpote in die lug. Beweging om haar. Nag, met grys figure wat ongelooflik vinnig beweeg. Haar perd word grond toe gebring. Haar linkerbeen knak onder die gewig van haar perd. Sy voel dit in haar wese. Die pyn neem ʼn oomblik om te registreer. Iemand roep uit. Adriaan? Sy skreeu van die pyn. Die gewig rol weg van haar been. Hande op haar. Koud. Oor haar. Trek haar orent. Sy trap outomaties op die gebreekte been. Die pyn skiet reg deur haar tot in haar kop. Sy probeer weer skreeu, maar dis geluidloos. Niks wil meer werk nie. Voel of sy wegbeweeg van haarself. Donkerte omvou haar. Geluide vervaag.

Harde klapgeluide.

Êrens in haar agterkop besef sy dis skote wat klap. Grys gesigte met eienaardige oë wriemel mistig voor haar. Ruk weg. Hande onttrek.

Iemand vloek.

Adriaan?

Haar kop word gelig van die grond.

Sy kan nie mooi sien nie.

Duisternis neem haar weg.

Uiteindelik.

4

Peet steek ʼn pyp op. “Rook jy?”

Met geleentheid,” sê Markus. “Waar het jy tabak gekry? Dis nie Oom Danie s’n nie?”

Geleer om spaarsamig te wees.” Hy hou die pyp uit.

Markus gee die twaksak ʼn eksperimentele druk met sy vingers. “Miskien wil jy dit hou vir later?”

Peet glimlag moeg. “Die ding is, mens is geneig om alles oor te hou. Vir later. Vir die regte geleentheid. En dan gebeur later nie. Of die regte geleentheid het reeds gebeur, maar ons besef dit nie.”

Markus trek die rook in sy longe in. Gee ʼn halwe hoesie. “Jy sal dit maak. Vanaand.”

Jy weet iets wat ek nie weet nie?”

Daar is altyd hoop.”

Nie seker of dit genoeg van ʼn antwoord is nie.”

Markus glimlag net.

Oom Danie kom sit by hulle. Hy stop sy eie pyp. “As julle nie omgee nie?”

Geensins,” sê Peet.

Hulle is verdiep in stilte. Rook hang oor die stoep. “Wanneer?”

Markus sug diep. Kyk uit oor die gronde. “Hulle vat hulle tyd. Probeer ons sielkundig afbreek.”

Die drie staar na die donker.

ʼn Vlermuis fladder by die stoep verby. Iets soos ʼn vlermuis.

Markus staan op. “Dis tyd.”

5

Phillip voel die spanning deur die kamp. Hy kyk op na die hemel, waar die maan by tye deur die wolke loer. Die wolke het vinnig opgesteek. Sy maag is swaar. Hy vee sy swetende hande teen sy broek af. Verstel sy greep op sy geweer.

Die Groot Trek. Dis wat hy hoor deur die kamp. Stille gesprekke maak ʼn draai by hom.

Weghardloop.

Vlug.

Veg.

Hy moet alles in plek hou. Hoop gee. Hy voel geen hoop nie. Na die boodskap wat die meisie vir hom gegee het, wil hy self weghardloop. Moontlik opkrul in ʼn uitgeholde miershoop.

Tanya. Sy het koevert aan hom oorhandig. Het verseker dit ʼn paar keer self gelees. Haar oë rooi gehuil. Haar hand bewerig. Hy hoop dat hy – dat hulle – hierdie nag sal oorleef.

Hy trek sy skouers terug. Maak seker sy rug is reguit. Almal se oë is op hom. “Wees gereed, mense! Hierdie is ons laaste staanplek. Hou moed.”

Iemand begin Psalm 23 opsê. Nog stemme val in. Na ʼn ruk word die woorde luidrugtig herhaal. Phillip se oë brand.

Maar sy hart voel sterker.

6

Jabu hou ʼn hand op. Die perde kom tot stilstand. Almal hoor dit. Klink soos ʼn trop beeste wat in hulle rigting storm.

Kom van die pad af!” roep Gerhard. Hy wys in die rigting van ʼn ou plaasdam. “Daar! Beweeg!”

Die dam is so dertig meter van die pad af. Hulle spring uit die saal. Tex gooi homself oor die wal. Water plas.

Dis veilig,” roep hy. “Nie te diep nie!”

Hulle plas in die water in, hou wapens hoog. Samantha probeer die perde beveilig, maar paniek laat hulle steier. Sy gee op, spring oor die wal. Hulle lê aan, staan in water wat heup hoogte lê.

Wat is dit?”

Sjuut,” sê Gerhard dringend. Vinger op die sneller.

ʼn Grys massa stroom in die pad af. Oë skyn dof. Daar is geen manier dat hulle nie gesien is nie.

Moenie skiet nie,” sis Gerhard.

Die massa beweeg by hulle verby, maar oë draai in hulle rigting.

Here God, help ons,” sê-bid Samantha.

Twee van die demone breek weg. Hardloop handeviervoet in hulle rigting. Die goed is rats. Vinnig. Beweeg meer soos dier as mens, ten spyte van hulle menslike vorm. Samantha se haelgeweer haal die kop van een af. Nog drie breek weg van die trop. Gerhard en Tex trek los. Nog twee demone val grond toe. Twee bereik die dam. Jabu swaai ʼn panga, kloof een se kop oop. Stamp die karkas weg. Die ander demoon spring op die damwal voor Samantha ʼn gat deur sy bors skiet. Vir ʼn oomblik huiwer die trop. Kom tot stilstand. Daardie blinkende oë nou gerig op die dam. ʼn Geruis begin.

Een tree nader.

Twee.

Nog nader.

Dan skeur ʼn geluid deur die nag. Soos dié van ʼn mishoring. Die demone gaan staan soos een. Onseker. Koppe draai. Hulle beweeg terug na die pad. Hervat hulle tog in die rigting waarheen hulle op pad was. Een van die demone stap uit die massa, gaan staan voor hulle. Hy staan meer regop as die ander. Anders as die ander, is hy gekleed. Gee hulle ʼn stil kyk. Hou iets teen sy sy. Hy draai stil weg, verdwyn in die massa in. Dit voel soos ure voor die demone weg is.

My broek is nat,” sê Samantha saaklik. “Maar ek is nie seker of dit damwater is nie.”

Hulle lag. Onseker. Dan skaterlag hulle. Hulle leef nog. Skok. Verligting.

Wat het gebeur?” vra Tex na hulle weer stil raak. “Hoekom het hulle ons nie aangeval nie. Ons het nie ʼn kans gestaan nie.”

Nee,” sê Gerhard sag. “Ons het nie.” Hy staar in die pad af.

Die perde,” roep Jabu uit, spring uit die dam. Hulle kry twee terug. Die ander twee is weg.

Hulle volg die Trek,” sê Gerhard.

Die ander staan nader. Staar in die donker.

Hulle is baie demone,” sê Samantha, ʼn koue rilling skud haar skouers.

Ons moet die plaas bereik. Vinnig,” sê Gerhard.

Indien iemand nog leef daar,” sê Tex. “Moet ons nie eerder die Trek gaan bystaan nie?” Hy klink nie oortuigend nie.

Adriaan het ʼn rede gehad vir sy versoek,” sê Gerhard.

Ja, maar hoekom?”

Daar is nie ʼn antwoord nie

Hulle spring twee-twee op die perde. Jaag na die plaas.

Gerhard kyk weer om. Hy kan die gevoel nie afskud dat hulle slegs oorleef het omdat hulle nie belangrik genoeg geag word nie.

7

Wat doen hy?” vra Oom Danie sag.

Lyk of hy slaap,” sê Peet, net half grappig. “Of bid. Ek hoop hy bid.” Sy hande is nat. Hy voel sweet teen sy rug afloop. Nat onder sy arms. Hy kan homself ruik. Markus kniel op die grond. Op beide knieë. Die swaard voor hom in die grond gedruk. Sy hande rus op die kruisstuk. Voor hom staan ʼn demoon. Nie die een van die vorige nag nie. Vier ander staan stil om hom, vorm ʼn pentagram, nou dat Peet mooi kyk. Die maan loer vinnig deur die wolke. Die wapenrusting glinster vir ʼn oomblik, voor die wolke weer die lig smoor. Die vinnige lig wys ook vele ander figure uit. Hulle sit op die dakke van die buitegeboue. Hulle oë glinsterend. Peet probeer tel. Gee op met ʼn knop op sy maag. So baie. Die aand is stil. Net ʼn sagte geruis van die demone om hulle.

Dis verby.

Daar is geen manier hoe hulle hier gaan uitkom nie.

Oom Danie prewel waar hy langs Peet hurk by die venster. Hy bid ook. Klink ook of hy om vergifnis vra. Peet kan nie mooi hoor vir wat nie. Hulle het die vensters en deure verskans deur die dag sover hulle kon. Meer verskans. Maar selfs deur die werk, het hulle besef daar is niks te redde nie. Daar is net sóveel koeëls. En die demone blyk oneindig te wees.

Skote klap in die verte.

Dis asof dit ʼn teken is. Markus is op sy voete – amper onmoontlik vinnig uit so ʼn posisie. Die swaard sny deur die demoon voor hom.

Maklik.

Warm lem, sagte botter. Die helfte van sy bolyf gly af. Nek tot heup. Val nat op die grond. Die kop van die een regs tol weg. Markus swaai om. Die swaard deurboor een links. Hy lig die demoon van die grond af met die swaard deur hom, werp hom teen een van die ander. Die lem weer vry, sny die bokant van ʼn ander se kop af. Oor tot oor. Die oorblywende demoon is weer op sy voete, spring. Markus beweeg self vorentoe, ontmoet dit met sy swaard. Die demoon se bene rol oor die grond. Markus stap terug, steek die lem deur die ding se kop waar dit op die grond probeer weg kruip.

Markus draai na die demone op die dakke. Hou die swaard in die lug. Sy stem is helder. Duidelik. Asof dit versterk word. “Luister! Hoor my! Julle sal nie ʼn haar aanraak aan die mense saam met my nie. Hulle is onder die beskerming van die Almagtige God. Deur my, want vanaand is ek Sy wapen. Dit sal beter wees indien julle ʼn ander lêplek vind. Ver van hier.” Voel dramaties, maar hy brand met innerlike krag. En hy sal die twee mans beskerm sover hy kan. Solank hy staan. Daaraan twyfel hy nie.

Koggellag begroet sy woorde. ʼn Geruis van woorde. Beledigings. Uittarting.

Markus gee hulle ʼn paar oomblikke. “Nou, ja. As dit is hoe julle voel.” Hy neem ʼn vegter posisie in. “Kom dan!”

Dis ʼn grys waterval wat van die dakke afstroom in die rivier van demone op die grond.

Markus gee ʼn uitroep.

Niksseggend.

Rou emosie.

Die slagting begin.

8

Hoeveel is daar?”

Phillip is nie seker wie die vraag gevra het nie. Dit maak nie saak nie. ʼn See van grys liggame vloei om die laer. Dis onmoontlik om dit te tel. Hy doen sy rondtes. Die voertuie is so na as moontlik aan mekaar parkeer. Die spasies tussenin en onder die voertuie toegestop met enigiets byderhand. Tasse. Rugsakke. Klippe. Enigiets van waarde word nou gebruik vir oorlewing. Taktiese openinge om deur te kan skiet. Koeëls getel. Wapens staan reg. Almal het ʼn taak. Laai. Skiet. Mediese bystand.

Die vyand – die demone – los ʼn oop spasie om die laer. Ver genoeg vir klein geskut om minder doeltreffend te wees.

Hulle lyk nie juis bekommerd nie,” sê iemand.

Phillip loer oor die dak van ʼn voertuig. “Hulle het die getalle. Al is elke koeël ʼn doodskoot, is daar steeds meer van hulle as wat ons kan hanteer.”

Hoekom dan? Wat is die nut?”

Hy verstaan die vraag. Wat is die nut om teen te staan? Hoekom sal hulle selfs probeer? Maar dit is die basiese wil om te oorleef wat mense steeds aandryf.

Ons gaan sterf hier,” sê iemand hopeloos.

Gee ons ʼn kans,” sê Phillip paaiend. Beelde spring op voor sy geestesoog. Daardie familie wat Surette Parkins en die seuns gevind het. Die besmette klomp. Die besluit wat geneem moes word. Wat hý moes neem. Hy was nie daar aan die einde nie. Maar hy weet. Sy besluit het drie mense se lewens geëis.

Die mense raak opstandig. “Ons? Die fout wat ons gemaak het was om te glo. Om ons plase te verlaat.”

Stemme val in. Stry. Stiller gesprekke. Onseker woorde wat gewissel word. Hy stap na die middel van die laer. Naby die vinnige kraal wat opgeslaan is. Die diere is onrustig. Dit is die taak van die jong kinders om hulle so rustig moontlik te hou. ʼn Stormloop van diere in die middel van ʼn vuurgeveg is iets wat hulle nie kan bekostig nie.

Luister almal!”

Mense staan nader. Bure. Familie. Die nuwelinge. Hulle het klein groepies vlugtelinge begin optel langs die pad. Families wat besef het hulle moet noorde toe vlug.

Ons het ons vertroue op die Here geplaas. Gevra. En vir ons is gegee. Hierdie is nie anders nie.”

ʼn Geruis van stemme. Knikke hier. Vraende uitdrukkings daar. Nie almal stem saam nie.

Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Allerhoogste. Ek sal tot die Here sê: My toevlug. My God op wie ek vertrou. Want hy sal jou red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.”

Daar is ʼn verderflike pes hier buite, as ek al ooit een gesien het!” sê iemand.

Laggies. Stil. bang.

Vanaand staan ons voor God. En ons vra. Want net God sal ons red. Ons verlos van hierdie duisternis.” Hy wens die Dominee was hier. Selfs daardie Pastoor. Hy was beter met hierdie tip dinge. Weet hoe om woorde te gebruik om mense vrede te gee. Hoop.

Hy probeer sy bes.

9

Die deur word stadig oopgetrek. Adriaan staan by die ingang. Magda lê op ʼn bed wat Kobus ingesleep het. Haar been is gespalk. Styf verbind. Kobus het sy beste gedoen op haar instruksies. Wie trek ʼn tandarts se tande? Iemand het dit jare terug gevra. Dit was snaaks.

Adriaan stap na binne. Versigtig. Hy gee broer en suster ʼn ondersoekende kyk.

Gaan weg,” sê Magda sag.

Hy deins terug asof sy hom klap. Gif in haar stem. Dit maak seer.

Hierdie is nie wat ek in gedagte gehad het nie,” sê hy.

Magda draai weg, kyk na die muur.

Adriaan,” sê Kobus, onseker.

Hy draai na hom. Sy uitdrukking onleesbaar. “Wag buite.”

Hoekom?” Kobus vertrou hierdie niks.

Doen dit net.” Adriaan se hand sak na sy holster.

Kobus byt bitter woorde terug. Magteloosheid maak hom naar. Hy kyk na sy suster wat net so hulpeloos daar lê. “Nee.”

Adriaan trek die wapen uit die holster. “Moenie my toets nie, Kobus.”

Doen dit,” sê Kobus, met minder bravade as wat hy ʼn oomblik terug gehad het.

Adriaan staan met die wapen in die hand, vloek sag. Druk dit terug in die holster. Hy stap na buite. Roep. Kobus gaan sit op die bed langs sy suster. Die bed is nou, so hy kry net een boud daarop. Haar hand vind syne. Haar ander hand vroetel by haar been.

Adriaan stap terug. “Jammer, maar julle maak dit nie maklik nie.”

Iets gaan staan in die deur. Die bietjie lig van buite word gesmoor sodat slegs die vorm gesien kan word. En die oë wat dofweg blink. Dit moet ʼn natuurlike verskynsel wees, aangesien die vertrek self donker is. ʼn Demoon.

Geen beserings nie,” sê Adriaan. “Hoor jy? Moenie hom seermaak nie. Hou hom net buite vir ʼn ruk.”

Dis nie duidelik of die demoon gaan luister nie. Dit verstaan sekerlik. Gryp Kobus aan die arms. Die ding se hande is koud. Sterk.

Hey!” Kobus probeer uit die greep worstel, maar tevergeefs. Die ding sleepdra hom na buite. Hy weet nie wat hy verwag het nie – honderde van die demone – maar die binneplein is leeg. Die kruise soos blaarlose bome. Daar is beweging by die hekke wat steeds oop staan. Meer beweging buite die hekke. Die demoon los sy een arm, sleep hom aan die ander in daardie rigting.

10

Adriaan gaan staan voor die bed. “Ek is jammer. Dinge loop nie soos dit veronderstel was nie.”

Sy hou haar rug op hom gekeer.

Woede begin brand in sy bors. Hulle was reg. Hy moet homself heeltyd bewys. Niemand verstaan nie. Nie regtig nie. Almal sê dit, maar die realiteit lê swaar op hom. Hy bevraagteken elke liewe besluit wat hy self maak. Hy probeer net die regte ding doen. Kan hy nie net aanvaar word vir wie hy is nie? Ophou om homself heeltyd te moet bewys. Altyd bevraagteken. Altyd gekritiseer. Meestal in stilte. Die kyke. Die oë wat wegdraai. Nooit goed genoeg. Nooit. Sal nooit sy pa wees nie. Tweedehands. Dis reg. Hy is tweedehands. Hy moet heeltyd oorweeg wat om te doen. Hoe om dit reg te doen. Hoe ander wil hê hy moet dit doen.

Sy asemhaling is swaar. Hy sak sy kop. Alles is so deurmekaar. Dis nie wat hy wil hê nie. Wat hy wil hê, is baie eenvoudig. Maar so moeilik. So bitter moeilik. Hy wil net hê sy moet verstaan. Hom sien. Besef hy is nie net die kind wat saam met haar grootgeword het nie. Sy gevoelens het soveel versterk deur die jare. In stilte. Sy is belangrik vir hom. Hy wil net sien dat sy veilig is. Hoe moet hy haar oorreed? Niks anders maak saak nie.

Magda?”

Sy lê stil, asemhaling vinnig. Die gebreekte been moet haar verskriklike pyn verskaf. Hulle het nie vir hom medisyne gebring nie. Dit sou haar help.

Hy skraap sy moed bymekaar. Probeer sy hart kalmeer. Hierdie gaan moeilik wees. Sy gaan nie verstaan nie. “Magda. Luister. Ek het iets belangrik om te vra. Dit gaan snaaks klink. Maar dis belangrik.”

Sy antwoord nie.

Magda?”

Niks.

Smekend. “Dis belangrik. Ek sal verduidelik.”

Steeds niks.

Sy kop sak. Hoe spreek mens dit aan? Doen dit net. Gooi dit uit. “Magda. Is jy nog ʼn maagd?”

Haar asemhaling verander. Hy hoor dit duidelik in die donker van die hut. Dit hou eers op. Dan gejaagd. Is sy kwaad? Sy kop raas. Die stem daarbinne fluister. Por. Is sy dalk opgewonde? Het sy vir hom gewag? Hy sou vir Kobus wou vra, maar ʼn broer sal nie weet oor sulke dinge nie. Reg? Dis net verkeerd. Verkeerd. Alles is so verkeerd. Kan hy dit nie net regstel nie? Hy het die konvooi laat weet om te vlug. Om vinniger aan te beweeg. Hulleself weg te hou van die blokhuise. Ten miste sal hulle veilig wees. Waarmee hy dobbel is met Magda se lewe. Sy ander boodskap het sekerlik deurgegaan? Alles hang daarvan af. Die man met die swaard. Maar nou het dinge weer verander. Magda. Altyd Magda. Hy het nie alles in berekening gebring nie. Hoekom sou hulle so maklik ingee? Hy moes gedink het. Dit het maklik geklink. Trek die aandag weg van die konvooi. Hou hulle besig hier tot die tyd reg is.

ʼn Sug trek sidderend deur sy bors.

Hulle soek ʼn maagd.

Hy het stories gehoor. Die stem in sy kop. Hy probeer dit uitdruk. Maar dit raak al hoe moeiliker. Sy vingers streel ligweg oor die ding wat teen sy nek nes maak. Nes maak. Hy lag amper. Hoe akkuraat. Inge-nes. Hy kan haar steeds help. Die stem is verkeerd oor baie dinge, maar hieroor is dit reg. Indien Magda ʼn maagd is, is sy in groot gevaar. Maar indien nie – dan gaan hulle iemand anders moet soek.

Hy kan haar help.

Hy voel klaar hoe die bloed vloei. Daarheen. Dis net om haar te help.

Adriaan?”

Maggie. Ek is hier.”

Kom nader.”

Haar stem is sag. Uitlokkend. Nee. Uitnodigend. Nee. Dis ook verkeerd. Maar bloed druis deur sy ore. Sy kop. Die stem in sy kop hits hom aan.

Nader.”

Hy buk af na haar.

Sy draai om op haar rug. Kreun sag.

Hy klim op die bed. Dit is knap. Maar hy gee nie om nie. Sy bene aan weerskante van hare. “Magda. Jy het geen idee hoe lank ek …”

Die pyn is oorweldigend.

Hy verstaan nie.

Dit maak net nie sin nie.

Sy oë probeer fokus.

Haar linkerarm om sy nek. Asof sy hom omhels.

(maar die pyn!)

Sy kop draai na sy skouer. Haar ander hand daar.

(bloed)

Dit dring deur. Deur die pyn. Hy kyk verder af. Na haar been. Waar die spalk was. Dom! Dom! Die stem in sy kop. Blind van woede. Van pyn. Sy het gemik vir dit, die ding teen sy nek, besef hy nou. Gemis. Maar net gedeeltelik. Want hoe kon sy weet dit groei oor hom. In hom.

Hande ruk hom van die bed af. Ander druk haar vas waar sy probeer opstaan.

Moenie haar seermaak nie,” roep hy uit.

Sy skreeu en vloek.

Dis omrede die ander wat haar nou vaspen op die bed, hy is seker daarvan. Dis nie gemik teenoor hóm nie. Nie teenoor sý optrede nie.

Dan word hy by die deur uitgesleep. Kan nie sien wat gebeur nie. Blind van desperaatheid. “Moenie! Los haar! Los haar net uit!”

11

Markus onthou wat Jo hom geleer het. Daardie warm oggende in die son. Sweet wat hom aftap. Die swaard swaar in sy hande.

Wees een met die swaard.”

Ek is. En die swaard wil nou op die grond gaan lê. Rus.”

ʼn Skop in die ribbes.

Hey! Dis onnodig.”

Die swaard word nooit moeg nie. Dus word jy nooit moeg nie.”

Ek voel dit nie heeltemal nie.”

Jy sal. Wanneer die vyand se kloue deur jou ribbes skeur. Jou ingewande probeer uitryg.”

Jy is darem vreeslik poëties.”

Al antwoord wat hy ontvang is ʼn oophand klap teen die kop. “Jy het die swaard, en tog is ek die een wat al die houe lewer.”

Jaaaaa, maar jy het meer ondervinding hierin.”

Dink jy die vyand gee om? Gaan hulle jou vra hoe jy voel? Jou grasie gee?”

Wel, nee.”

So lig daai swaard.”

Markus se humor verlaat hom. Hy gooi die swaard neer. “As dit so ʼn groot probleem is, vind iemand anders.”

Jo betrag hom stilweg. “Tel die swaard op.”

Nee.”

Jo stap stadig nader. Doelbewus. “Tel. Die. Swaard. Op.”

Hoekom? Dit werk nie vir my nie.”

Dit werk nie vir jou nie?” Hy lag. Draai in die rondte om die ander van die span in te sluit. Die huursoldate wat saam met Markus rondgaan. “Julle het ʼn besluit geneem. Julle wil ander mense help. Hoekom? Wie het gevra? Wie het gesê julle is goed genoeg?”

Stilte.

Ek sal vir julle sê. Niemand. Niemand! Julle is geroep hiervoor. Dit kom uit die hart.” Hy loop in ʼn sirkel, kyk elk in die oë. “Hoekom dink julle is ek hier? Dink julle dit is per toeval? Huh? Daar is nie iets soos per toeval nie.”

Die Gees,” sê een van die kant af.

Jo wys ʼn vinger in sy rigting. “Spyker op die kop.” Hy draai terug na Markus. “Tel die swaard op.”

Ek is nie goed genoeg nie,” sê Markus, kyk na die rooi grond onder sy stewels.

Ek het nie gehoor nie,” sê Jo. “Herhaal asseblief?”

Markus kyk op. Almal het natuurlik gehoor. Jo se sarkasme is soms skerper as die swaard. “Ek is nie goed genoeg nie,” sê hy harder. Met oortuiging.

Jo glimlag. Sonder humor. Steek sy hande in sy sakke. “Dis nou jammer om te hoor.” Hy draai sy kop skeef. Sy oë boor in dié van Markus. “Maar dis nie asof jy ʼn keuse het nie. Tel die swaard op.”

*

Markus tel die swaard op. Sy hande glad van sweet en bloed. Die sweet brand in die steke wat losgetrek het. Bloed van die vele wonde wat hy reeds opgedoen het. Die uitrusting dek nou nie heeltemal alles nie. Die demone gee hom ʼn oomblik. Speel met hom. Hy vind homself weer op sy knieë.

Gee op.

Die mense is dit nie werd nie.

Dis nie asof dit ʼn verskil gaan maak nie.

Loop weg.

Rus.

Word sterker.

Veg ʼn ander dag.

Die aanslag op sy psige – op sy gees – vloei oor hom. Hy weet dis die helm wat hom beskerm. Hy hoor die woorde. Voel die poging om hom te knak. Dis nie die eerste keer nie. Hy wens (nie vir die eerste keer nie) Jo was hier.

Haal diep asem. Vinnige intrek en uitstoot. Kry die suurstof weer deur sy stelsel.

Hy staan stadig op. Verstel sy greep op die swaard. Beide hande. Weet nie hoekom hy altyd so heldhaftig moet optree nie. So legendaries probeer wees in sy tart met die vyand nie. Met die wete dat hierdie moontlik die laaste poging sal wees. Nie net vir homself nie. Een maaier (oeser?) teen ʼn veld van geweld.

Help my Here,” sê hy sag.

Die helm sing in sy ore. Sag. Agter in sy kop. Dis nie regtig sing nie, maar daar is ʼn geluid. Indien hy dit moet beskryf, sou hy sê dis soos ʼn sagte koor wat in die agtergrond sing. Geen woorde. Net daardie rustige, diep vloei. Hy voel dit deur die hele uitrusting.

Nuwe krag.

Nuwe moed.

Nuwe vasbeslotenheid.

Hy is verby dankbaar daarvoor.

Hy grynslag agter die helm. “Nou ja. Waar was ons?”

Die demone laat nie op hulle wag nie. Stroom in van alle kante. Hy wag vir hulle. Die helm gee hom ʼn duidelike beeld van die omgewing. ʼn Gevoel van waar alles is. Vir ʼn oomblik, breek die maan deur die wolke. Die wêreld verhelder. Dit lyk – voel – of die swaard gloei in sy hande. Die aanval is sonder plan. Sonder strategie. Die doel eenvoudig om hom te oorrompel. Om hom grond toe te dwing.

Daar is net te veel van hulle.

Die swaard flits deur die lug. Hy werk self sonder ʼn plan. Geen rede nie. Net om soveel as moontlik van hulle uit te haal voor hy val. Swart bloed maak stringe deur die lug. Koppe, ledemate, ingewande slinger weg van hom. Sy kakebeen pyn van die inspanning. Hy byt hard neer. Voel die rivier van tande, kloue om hom. Die swaard sit stewig in sy hande. Elke beweging van hom neem ʼn tol. Drie, vier met elke swaai.

Maar daar is net te veel.

Die horde nimmereindigend.

Sy arms raak moeg.

Spiere begin pyn.

Ou wonde skeur verder oop.

Hy strompel wanneer een teen hom stamp. ʼn Tweede. Derde. Sy voete begin gly in die nat gemors om hom. Hy probeer wegbeweeg. Droër grond, al is dit nie hoër grond nie.

Die twyfel anker weer in hom.

Hy is nie ʼn Ridder nie.

Het nie deur die proses gegaan nie.

Hy is nie Jo nie.

Hy is nie goed genoeg nie.

Sy been knak onder hom. Hy sak neer op een knie. Dis moeilik om so met ʼn swaard te veg. Maar hy druk deur. Kap. Sny. Hy het nie die luuksheid om spesifiek te wees in sy geveg nie. Weet dis fataal om te steek. Kan nie bekostig om die lem te laat vassteek nie.

En dit bring die einde.

Een van die demone spring om oor die geroesemoes van liggame te kom. Laat homself deurboor word. Hy val op Markus, pen hom teen die grond. Die ander val op hom soos ʼn losskrum. Tande byt nader. Kloue trek aan die gevegsuitrusting. Probeer dit van hom aftrek.

Die ou Aramese skrif oor die uitrusting vlam op. Brand die kloue weg. Enige deel van ʼn demoon wat aan die uitrusting raak, brand. Die stank is ondraaglik. Markus probeer sy bes om nie siek te word nie.

Die demone tree terug.

Markus draai tot op sy sy sodat die demoon wat sosatie op die lem is, langs hom lê. Hy trek die lem uit. Probeer opstaan. Sy bene wil nie werk nie. Hy steun tot hy so regop moontlik is op sy elmboë. Die swaard steeds stewig in een hand. Maar hy weet dit gaan hom nie veel help indien hulle hom weer storm nie. Wonder oor die ruspose. Die Woorde oor die uitrusting vervaag reeds. Een van die dele van die uitrusting aan sy been is af. Hulle het genoeg getalle om aan te hou probeer tot alles af is. En hy het nie meer iets in hom om aan te hou nie.

Die demone beweeg reeds weer vorentoe. Hy kan nie sien hoeveel nie. Kyk op van waar hy lê. Hy lig die swaard, maar sy posisie is uiters ongemaklik. Hy kan netsowel hulle met gebare probeer afweer.

Gesigte kom nader. Daardie koggel laggies. Die oë so naby. Hulle pen beide sy arms vas teen die grond, maar bly weg van die swaard self. Probeer die gespes van die gevegsuitrusting loskry. Kloue krap teen die helm.

Hy lê magteloos.

Die demone se vleis brand. Sis. Hy probeer hulle afstamp. Ou stoei taktieke. Maar hulle het die oormag.

12

Magda huil. Trane van magteloosheid. Van uiterste, verlammende vrees. Die demone praat vreemd. Klink na verskeie tale wat hulle saam gebruik. Genoeg om te verstaan.

Sy weet hulle wag vir iemand.

Sy weet wat hy aan haar gaan doen.

13

Kobus staar na die wolke. Die temperatuur is besig om te val. Raak koud. Toe hulle sy klere afgeruk het, het die vrees hom oorweldig. Vir ʼn ruk het hy in duisternis gebly.

Salig.

Nou lê hy wakker.

Alleen.

Oopgespalk oor die grond.

Gewrigte en enkels vas aan penne in die grond.

Klippe wat in sy rug druk.

Moedverlore.

Hy raak bewus van ʼn nattigheid teen sy nek.

ʼn Nattigheid wat beweeg.

14

Phillip staar uit oor die veld van demone. Die mense mompel agter hom. Soek krag, sterkte. Sy hart klop so vinnig, dit voel of daardie hartaanval nou gaan plaasvind. Sy hand in sy sak, frommel die papier van Adriaan af.

Nege woorde.

Moenie na die volgende Blokhuis gaan nie. Lokval. Vlug.

Hoe weet Adriaan? Wat het gebeur? Was dit ʼn fout? Want die demone het hulle hiér omsingel. Hier in die oopte. Kanse lyk slegter en slegter.

Hoofstuk 4

Hoop

1

Peet trek die sneller. Hy mik vir ʼn kop, maar die koeël ruk deur ʼn skouer. Maak nie saak hoe sleg hy skiet nie, in die Babel voor hom, sal hy altyd iets raakskiet. Enigiets om die aandag van Markus af te trek. Met die besef dat hulle (hy en Oom Danie) nie geteiken word nie, probeer hulle ʼn verskil maak.

Hulle slaag nie werklik nie.

Daar is net te veel. Hy weet ook (en die gedagte, vinnig onderdruk, voel selfsugtig) dat sodra Markus val, sal die aandag na hulle verskuif.

Markus val.

Desperaatheid laat hom blindelings skiet, nader aan die episentrum van die pandemonium voor hulle. Daar waar Markus nou onder die vloed verdrink.

Jy gaan hom raakskiet!” roep Oom Danie uit. Lig Peet se geweerloop. Ignoreer die hitte daarvan.

Wat anders kan ek doen?”

Wag.”

Wag vir wat?” Hy weet hy klink histeries. Gee nie om nie.

Ons beurt.”

Die woorde is feitelik. Peet draai na die ouer man. Sien hy het klaar opgegee. Vrede gemaak met die uiteinde. Ek hoop jy is tevrede met die uitkoms van jou besluit, dink hy. Hy tel die koeëls wat hy oor het. Dit gaan nie lank neem vir die einde nie.

Oom Danie vat aan sy skouer. Beduie na die hoofhek. “Is dit …?”

2

Dis vreemd, dink Markus. In die laaste oomblikke, is donderweer nou nie wat hy gedink het hy sal hoor nie.

Hy strek sy nek. Om hom wieg die demone. Hulle aandag weg van hom. Hy verstel sy hand om die greep van die swaard, sy arm vasgepen.

Donderweer donder weer naby. Sy regterarm is los. Hy swaai die swaard onmiddellik. Voel warm bloed oor hom spat. Hy voel ʼn verskuiwing om hom. Hy is nie meer die middelpunt van belangstelling nie. Kap homself los van die kloue. Kry homself op tot op sy knieë. Die wal van demone voor hom maak oop. Nie by keuse nie. ʼn Kleurlingvrou op ʼn perd ry haar pad oop tot by hom. ʼn Haelgeweer donder oor sy kop. Hy koes outomaties, maar sy ken haar wapen. Sy skreeu iets.

Wat?”

Haar perd maak ʼn draai, trap ʼn verdere demoon plat. “Ek sê, kan jy iets sien deur daai ding op jou kop?”

Ek kan.” Hy is nie seker hoe om hierdie te hanteer nie.

Spring op.”

Hy draai na die hoofhuis. Hy is verder weg as wat hy gedink het. Die vloei van die geveg het hom stadig maar seker weggestoot. Skote klap van daar af. Demone val, maar hulle is reeds besig om te onttrek. ʼn Tweede ruiter keer terug van die veld.

Praat van tydsberekening,” sê hy. Sy yl hare staan in alle rigtings. Hy staar Markus aan. “Jy is of mal in die kop, of ek gaan nou nou jou voete moet soen.”

Markus weet weereens nie hoe om te reageer nie. “Ek sal stap. Dankie. Nie seker die perde gaan my kan dra nie.”

Die vrou lag. “Die Ridder, hy bedoel hy kan nie op ʼn perd klim met al daai metaal aan hom nie.”

Markus voel skielik lam. Hy struikel tot op sy knieë. Sy asem kom sidderend uit sy keel. Rou. Hy leef. Hy leef!

Die man spring uit die saal. “Samantha, vat die leisels.” Hy kry een arm onder Markus se skouer sukkel hom regop. “Tex! Kom help hier.”

Die twee mans sukkel Markus tot op die stoep. Die skote het uitgedun tot stilte. Gerhard maak die gespe los van die helm, lig dit van Markus se kop. Hulle help hom na ʼn stoel.

Ek het nie gedink jy gaan veel veg in jou hê nie. Laaste wat ons jou gesien het was jy bedlêend. Amper dood.”

Markus aanvaar die water wat Peet vir hom aangee. Drink diep.

ʼn Ridder,” sê Tex verwonderd. “As ons geweet het, Meneer, sou ons nie saam met die konvooi gegaan het nie. Ons sou bly en help.”

Markus skep asem, waai Tex se verskoning weg. “Alles werk uit soos dit moet. Wees rustig.” Hy kyk op na Gerhard. “Ek hoop jy het gegrap. As jy my voete gaan probeer soen, gaan ek en jy ʼn probleem hê.”

Gerhard lag, ʼn bietjie verleë. “Nee, nee. Niks sulke dinge nie.” Hy hou ʼn hand uit. “Gerhard.” Bekendstellings doen die rondte.

Markus is ʼn regte Ridder?” vra Samantha.

Daar is ʼn lang en ʼn kort antwoord,” sê Markus. “Kom ons aanvaar vir nou ek is.”

Peet maak ʼn geluid.

En jy kan maar daardie grinnik afvee,” sê Markus suur aan hom.

Peet lag. Hy gaan van persoon tot persoon, omhels elk om die beurt. “Ek is bly julle is almal okay. Maar ek wonder. Wat maak julle hier? Ek meen, ons is meer as net dankbaar vir die geselskap. Maar …”

Gerhard haal ʼn koevert uit. Oorhandig dit aan Oom Danie wat dit versigtig oopmaak. Stap eenkant toe om te lees in die flou lig. Hy lees dit ʼn paar keer. Draai na Markus. Sy gesig gevul met pyn.

Dis vir jou ook,” sê hy. Oorhandig die papier aan Markus.

Markus lees dit self ʼn paar maal. Plaas sy hand simpatiek op Oom Danie se skouer. “Help my uit die uitrusting,” sê hy aan Peet. “Die aand is nog nie verby nie.”

Hulle help hom met die gespes. “Daar is ʼn stuk daarbuite nog. Ek sal dit nogal op prys stel indien iemand dit vir my kry.”

Tex knik gretig. Draf weg.

Gee vir Samantha die eerstehulp tassie,” sê Markus. “Van die bloed is my eie.”

Ek sal jou help. Ek weet wat ek doen,” sê Peet.

Ek weet jy glo so. Dis hoekom ek spesifiek vir haar vra.”

Ek hou van Markus,” sê Samantha beslis.

3

Kobus hoor voetstappe naderkom. Hy knyp sy oë toe. Weet dit sal nie help nie.

Ek is jammer,” sê Adriaan sag.

Maak my los,” sê Kobus. “Asseblief. Ek smeek jou.”

Ek kan nie.”

Hulle sal nie weet nie.”

Hulle sal. Daar is te veel.”

Trane van magteloosheid vloei onbeskaamd. “Ons is vriende.”

Adriaan gaan sit plat op die grond. Sug diep. “Daar is dinge wat jy nie weet nie.”

Kobus sê niks. Draai sy kop weg. Die ding teen sy nek trek aan sy vel.

Hulle is bang vir hom.”

Kobus draai sy kop terug. “Vir wie? Wat het met jou gebeur?”

Adriaan vat selfbewus aan sy skouer wat sleg verbind is. ʼn Donker kol op die materiaal so amper teen die nek waar daardie vreemde merk sit. ʼn Merk wat reeds weer verder versprei het. Wat voller, dikker word daar teen hom. Lyk na swart are wat teen sy wang begin loop. Kobus weet, met ʼn sinkende gevoel, dis wat vir hom voorlê. Gaan hy ook mal raak?

Dis niks,” sê Adriaan, kyk weg.

Jy moet Magda daarna laat kyk.”

Bot: “Dis niks.” Hy staan op. “Baklei daarteen. So lank as wat jy kan.”

Baklei teen wat?” Maar hy weet. ʼn Stem fluister reeds in sy kop.

4

Die bome vorm amper ʼn bos, so kilometer weg van die blokhuis. Dit dun uit nader na die blokhuis, maar die veldfietse en perde is uit sig. Meer so vanuit die lug. Hulle weet van die vlermuise. Of dit wat lyk soos vlermuise.

Dit was ʼn harde rit.

Die demone is blykbaar gerus. Jabu en Tex lê tussen gestapelde klippe, oos van die blokhuis. Hou die bedrywighede dop deur ʼn verkyker wat hulle deel. Die son begin kop uitsteek oor die horison. Gaan net ʼn oomblik geniet voor dit deur die donker, grys wolke ingesluk word.

Wat maak hulle?” Tex handig die verkyker oor. “Lyk na mense wat hulle aanjaag.”

Soos skape,” sê Jabu. “Hulle skei die mans en vroue. Niks kinders. Ons moet die Ridder sê.”

Laat hom nog ʼn halfuur se slaap inkry. Hy het dit nodig.”

Te veel van daai goeters.”

Tex knik instemmend. “Hy sal weet wat om te doen.”

Hoe het hy geweet die goeters sal ons nie weer aanval deur die nag nie. Of ons stop nie?”

Hulle werk volgens ʼn plan. Hulle Meester was nie daar om hulle verdere leiding te gee nie,” sê Markus. “Maak hulle soos diere. Rigtingloos.”

Tex het reeds omgerol, sy pistool op Markus se gesig gerig. Jabu se panga word sentimeters weg van Markus se nek geblok.

Tex swets. “Dis onnodige taal,” sê Markus. “Maar goeie reflekse.” Hy draai na Jabu wat met groot wit oë na hom kyk. “Goeie vorm. Waar het jy geleer?”

Jakkalse gejag. Met panga. My oom was beter as ekke.”

Markus knik goedkeurend, draai na die blokhuis. “Wat het ons?”

Hulle bring mense in. Daar is net so oor die twintig,” sê Tex, handig die verkyker oor.

Vier en twintig,” bevestig Jabu.

Markus hou die bedrywighede dop. “Slawe. Moontlik van omliggende dorpe. Wonder hoekom hier?” Hy gee die verkyker terug. “Iemand wat julle ken?”

Nee,” sê Tex. “Ons het ook nie vir Kobus of Magda gesien nie.”

Markus kyk op na die wolke.

Jabu knik na bo. “Jy ken van?”

Die vlieënde ding?” voeg Tex by.

Markus lig ʼn wenkbrou. “Beskryf dit?”

Hulle vertel van hulle eerste aankoms en wat gesien is.

Ek het gehoor van dit. Self nog nooit gesien nie.” Hy kyk bekommerd na bo. “Ons gaan moet beweeg. Ons kan nie dat nag ons vang nie.” Hy gee ʼn skewe glimlag aan die twee. “Sal ons bietjie gaan verken?”

Die twee grinnik.

5

Staak vuur! Staak vuur!”

Benjamin, Oelofse en Van Vuuren neem die bevel op vanaf Phillip. Die grofgeskut sterf uit. Gesigte bleek. Gespanne. Die demone het reeds teruggeval na die massa wat die laer omring.

Verslag?” Phillip wink die drie mans nader. Oud soldate. Maak goeie Generaals.

Hulle toets ons,” sê Oelofse. “Wil sien waar ons swakpunte is.”

Dis basies enige plek,” sê Phillip sag. Harder: “Enigeen deurgebreek? Almal okay?”

Stemme hardloop deur die laer. Vrae. Antwoorde.

Alles in plek. Niemand seergekry,” sê Van Vuuren. Hy kyk oor die dak van die voertuig voor hulle. “Hulle dreineer ons. Mors ammunisie.”

Hoe lank nog?” wonder Phillip. Hy is self nie seker of hy bedoel hoe lank hulle gaan uithou, of hoe lank voor ʼn volle aanval nie. Hy kyk op na die bewolkte hemel. Bid sag.

Hoofstuk 5

Die Blokhuis

1

Magda se maag kramp. Sy probeer regop sit op die bed. Spiere saamgetrek. Asemhaling vinnig. Kort. Sy voel so alleen. Weet nie waar Kobus homself bevind nie. Weet nie of hy nog leef nie.

Voetstappe by die deur. Sy klem haar arms om haar bors, haar rug teen die muur. Maar dit gaan verby.

Sy besef sy het die bed natgemaak.

Skaamte en vrees verklein haar wêreldjie. Alles trek saam om haar. ʼn Tyd terug (voel soos ure) was daar ʼn oproer buite. Geskreeu. Pleite. Mensestemme.

En skielike stilte.

Toe ʼn geluid soos ʼn mishoring.

Die stemme van die demone. ʼn Sang. Amper mooi. Maar wat haar gevul het met angs.

En die wete – iemand het opgedaag. Iets.

Iemand waarvoor hulle gewag het.

Hy is hier.

Sy bid sag.

2

Kobus raak bewus van voetstappe. Hy hou sy oë toe. Heel oggend loop demone verby. Skop hom in die ribbes. Tussen sy bene. Soms teen die kop. Hy kan niks doen om dit af te weer nie. Probeer om nie ʼn geluid te maak nie.

Dit bring net verdere pyn.

Die stem in sy kop hits die demone aan, hoewel hy seker is hy is die enigste wat dit kan hoor. Dalk nie. Dit kan seker wees soos – wat was dit? – ʼn tipe gesamentlike bewussyn.

Ander mense is intussen vasgepen in die grond om hom. Hy het sy oë (weereens) toegehou, probeer om sy ore toe te maak. Die patetiese smeking. Die beloftes om enigiets te doen. Net om losgelaat te word.

Hy weet. Hy doen dit steeds.

Veilig?” fluister iemand.

Kobus wil uitroep. Skreeu. Hoe kan enigiets veilig wees? Hoe vinniger die mense om hom besef …

Die stem in sy kop begin opnuut fluister. Hom aanhits. Aanhits? Wat gaan aan? Dit is anders nou. Die stem. Wil hê hy moet uitroep. Alarm maak. Dit klink …

… bekommerd?

Wat het hulle aan jou gedoen?” ʼn Bekende stem. Kobus begin onbedaarlik huil. “Pa? Pa!”

Hande op sy bors. Hou sy gesig vas. “My seun. Ek is so jammer. Ek was verkeerd. So verkeerd. Ek is hier. Ons is hier.”

3

Waar is almal?” fluister Gerhard. “Die demone?”

Daar is meer as genoeg daarbinne,” sê Markus sag. “Ons het egter die meeste sien trek. Noord.”

Die konvooi.”

Ek aanvaar so. Ons gaan moet vinnig wees.” Hy kyk op. “Veilig. Sover.”

Peet draf nader. “Agt mense hier buite. Ons het hulle almal los. Hulle het aanwysings na die kamp.” Hy hou sy oë op die blokhuis. “Ons kan nie nou ʼn toerleier bekostig nie. Ons het elkeen met ʼn wapen nodig hier.”

Markus sê niks, hou ook die muur dop. Die hek staan oop. Teen die hoek wat hulle self staan, kan hulle net ʼn gedeelte van die binnekant sien. Daar is beweging, maar nie veel nie. “Plan?”

Die gewone,” sê Peet asof hy dit elke dag doen. “Gaan in met soveel koeëls as moontlik.”

Hy is hier,” sê Markus.

Die demoon van die plaas?”

Markus gee ʼn enkele knik.

Jy het jou wapenrusting nodig.”

Nie tyd nie. Ek gaan hierdie keer hom kaalhand moet vat.”

4

Magda hou haar bene styf vas. Haar skouers begin ruk. Sy probeer dit onder beheer kry, maar kan nie.

Die deur gaan oop. Dis nie Adriaan nie.

Dis erger.

Hy loop soos ʼn man. Dra selfs klere. Anders as die ander. Staan regop. Meer as die ander. Maar sy oë het daardie glans. Sy weet wat hy is.

Hallo,” sê hy. Sy stem sag. Beleefd. “Ek is regtig jammer vir al hierdie.” Hy wys vaagweg om hulle. “Hulle is soms niks meer as diere nie. Net genoeg intelligensie om hulle take uit te voer. Maar andersins is hulle maar moeilik.” Hy hurk langs die bed.

Magda trek sover weg as moontlik.

Moenie bang wees nie. Niemand gaan jou seermaak nie.” Sy stem fyngemanierd. “Jy is belangrik.”

Sy draai haar kop weg.

Kyk na my wanneer ek met jou praat.” Daar is ʼn glimlag in sy stem. Maar iets anders. Koue staal. Geen gevoel nie.

Sy draai haar gesig na hom. “Wie is jy?”

My naam gaan nie vir jou sin maak nie.” Hy lag sag. “Dink nie jy sal dit kan uitspreek nie. Wat is in ʼn naam, in elk geval? Al wat jy moet weet is dat ek jou redding is. Ek is die een aan wie jy moet dank bewys.”

Laat my gaan. Saam met my broer.”

Hy lag sag. “Is dit wat jy wil hê? Meer as enigiets anders?”

Sy voel dis ʼn strik. Met ʼn klein stemmetjie: “Ja.”

Hy staan op. Loop stadig heen en weer voor die bed. Vryf sy ken met sy goeie hand. Die ander arm eindig in ʼn stomp. Gaan staan voor haar.

Ek kan enigiets doen hier.” Hy wys om hulle. “Die wêreld is myne. Een stukkie op ʼn slag. Maar …”

Hy buk voor die bed. Die lig val net só. Sy sien sy gesig. Skreeu woordeloos. Skop in sy rigting met haar goeie been. Hy gryp haar voet vas.

Soos ek gesê het, daar is altyd ʼn maar. Wil jy weet?”

Haar stem dring deur haar versmorende vrees.

Hy trek haar nader aan haar enkel. “Gee my ʼn kind. Een wat oorleef. Want ek het nog nie eens één nie. En glo my wanneer ek vir jou sê, ek probeer gereeld.”

Sy skreeu.

En skreeu.

5

Oom Danie se hart spring. Kyk rond. Sy oë wild. “Dis my kind wat daar skreeu!”

Markus rus ʼn hand op sy skouer. “Wag.”

Oom Danie kyk hom in die oë. Staan op uit die gehurkte posisie waar hulle agter een van die hutte skuil. “Dis. My. Kind.” Hy stap reeds uit na die binneplein met die kruise.

Markus maak sy oë toe vir ʼn oomblik. ʼn Hand klop hom op die rug.

Dis goed dat jy so baie bid, my vriend,” sê Peet in sy oor. “Dis goed vir die gees.”

Markus gee hom ʼn suur gluur. “Dis een van die hutte aan die agterkant. Samantha, dek die ou man se linkerkant. Ek sal die regterkant vat.” Hy klop Peet op die skouer. “Die res is julle s’n.”

Skote begin klap.

Markus swaai sy swaard arm om dit los te kry. Prewel sag: “Here, ek weet U plan is beter as myne. Maar soms maak U dit regtig moeilik vir my. Soms is ʼn maklike uitweg ook aanvaarbaar. Maar nie my wil nie, laat U wil geskied.”

6

Magda val met haar rug teen die bed raam. Pyn verlam haar. Haar been protesteer met ʼn vlaag wat soos gloeiende kole deur haar versprei. Ten spyte daarvan, probeer sy eerder haar skaamte bedek.

Skote klap buite.

Die man – die ding – trek sy broek op. Sy oë brand op haar. Dan draai hy sy kop skeef, eers na die een kant, dan na die ander kant. Soos ʼn voël wat iets interessants sien. Of hoor. “Hy is hier.” Hy ruk die deur oop, tree na buite. Kyk rond. Soek. “Waar is jy, ou vriend?”

Hy beskou die slagting. Die mense is in die minderheid, maar hulle druk voort. Drie wat aanbeweeg in sy rigting. Die vrou met die haelgeweer. Daar is vuur in haar. Hy oorweeg om haar deel te maak van sy broei plan. Die ouer man wat vasbeslote naderstap. ʼn Ou rewolwer in die hand.

En daar.

Die Ridder wat nie ʼn Ridder is nie. Maar verwoesting saai. Baie potensiaal daar.

Dit moet nou gestop word.

Hy moet nou gestop word.

7

Die geluid van ʼn mishoring sny deur die oggend. Die demone versteen in hulle spore. Dit keer nie die mense om nog ʼn paar skote in te kry nie.

Markus hou die swaard op in die lug.

Stilte sak neer oor die binnehof.

ʼn Sirkel maak oop tussen die drie mense en die demoon. Hy stap stadig vorentoe. Laat die horing hang teen sy sy. Kyk rond. Tussen dié wat hy reeds weggestuur het, en sy oorblywendes, is die mense steeds in die minderheid.

Waar is sy?” Oom Danie lig die Colt.

Dis nie heeltemal regverdig nie,” sê die demoon. Hy lig sy een hand. “Ek is nie eens gewapen nie.”

Oom Danie trek die haan terug. “Waar is sy?” Sy stem grens aan histerie.

Ek wil ʼn voorstel maak,” sê die demoon. Redelik. “Julle het reeds ʼn voordeel …”

Oom Danie beur vorentoe. Markus hou hom terug.

… en ek soek net ʼn kans.” Hy glimlag gerusstellend.

Ons luister,” sê Markus.

Moenie! Hy is ʼn leuenaar! Hy manipuleer.” Oom Danie bewe. Sy gesig rooi. Die Colt swaai gevaarlik in sy hand.

En hier word ek geoordeel. Waar ek net probeer om ʼn uitweg te vind.” Hy hou ʼn hand uit na die mense. “Julle is vinnig om iets te sê. Maar wanneer dit julle pas, vergeet julle.” Hy draai stadig in die rondte. Gee elk van die mense ʼn deurdringende kyk. “Hier is ek, die slegte een. En ek probeer ʼn regverdige oplossing vind. ʼn Manier om hierdie situasie te ontlont. En julle, die geregtigdes. Die regverdiges. Julle wil net bloed sien. Alles regmaak met geweld. Geen vergifnis vir vorige dade. Julle vra nie eens wat my oortuigings is nie. Wil nie weet hoekom ek hier is nie. Het julle selfs gedink daaroor? Is hierdie nie die regte uitkoms nie?”

Hoe kan dit wees,” vra Oom Danie. “Julle moor. Julle verkrag. Vernietig alles.”

O? En wat doen julle? Dit lyk vir my of ons dieselfde is.”

Ons is nie! Nooit nie!”

Kyk! Sien die liggame. Die met die koeëlwonde. Julle storm hier in, begin moor.” Hy hou ʼn hand op, stop Oom Danie se antwoord. “Ons probeer ʼn tuiste maak. Hierdie is nie ons keuse nie. Maar ons word gejag. Ons tuistes afgebrand. En ja, daar is van julle wat verkrag. Hulle plesier kry. Julle is niks beter as diere nie!”

Oom Danie spoeg van woede. Trek ʼn skoot af. Die koeël trek wyd. Markus neem die wapen af van hom. Gooi dit op die grond. Oom Danie sak neer op sy knieë. Hou sy bors vas. Die haat in sy oë beteken niks vir die demoon. Sy glimlag raak net breër. Hy hou weer sy hand uit na sy gehoor.

Kyk! Ek word aangeval. Ek wat vrede probeer maak. Dit is hoe julle reageer!”

Genoeg,” sê Markus.

Ah! Die Ridder het gepraat.” Hy draai sy kop effens skeef, praat af asof hy met ʼn kind gesprek voer. “En staan jy as verteenwoordiger vir hulle?”

Hulle het eie wil.”

Ah, ja. Die goeie, ou argument. Elk het hulle eie wil. Maar tog is alles vooruitbeplan.” Hy waai met sy hand. “Hoe maak dit sin? Dit doen nie! Dis net ʼn manier om nie rekenskap hoef te gee nie. Baie slim.”

Laat almal gaan,” sê Markus. “Die meisie. Elkeen hier. Los die mense wat trek.”

Ek was onder die indruk jy verteenwoordig hulle nie.”

Ek doen nie.”

Laat hulle self besluit.” Hy draai weer in die rondte. “Ek het mense nodig. Hierdie is ʼn vreemde wêreld vir ons. Leer ons om saam met julle te werk. Om die onbekende af te breek. Ons kan saam werk. Saam leef. Kyk!” hy wys na die hekke.

Iemand stap nader. Nie ʼn demoon nie.

Adriaan.

8

Oom Danie kreun. “Wat het hulle gedoen?”

Adriaan se nek is swart. Swart are loop oor sy wang. Iets is fout met sy oog. Dis geel.

Dis dieselfde wat teen my seun se nek sit?”

Markus spook om Oom Danie op sy knieë te hou. Peet stap nader. Omhels die ou man op so manier dat hy nie kan opstaan nie. Fluister in sy oor. Wat hy ook al sê, lyk nie of dit help nie.

Dis slawerny,” sê Markus. “Onderdrukking. Dis nie ʼn lewe nie.”

Ah. Weereens die Ridder.” Hy hou ʼn hand dramaties uit. “Sê my, Thomas – is dit die naam wat jy vir die mense gegee het? Of iets anders?”

Die ander kyk na Markus. Na mekaar.

Jy sê jy verteenwoordig jou God. Maar jy vertel hulle nie die waarheid nie. Lieg. Moor. Is dit wat jou God van jou verwag? Is dit wat hulle verdien? Want dan is hierdie,” hy wys na Adriaan, “steeds beter. Die waarheid staan voor julle.”

Hoe kan dit beter wees?” Gerhard staan nader. “Hy is nie meer ʼn mens nie.”

Evolusie,” sê die demoon.

Ek glo nie aan evolusie nie.”

Maar wel aan vooruitgang? Is dit nie dieselfde nie? Jy is ʼn onderwyser. Dis wat jy geleer het. Wat jy aan ander geleer het.” Hy wink Adriaan nader. “Hoekom kan hierdie nie wees wat jou God wil hê moet gebeur nie? Onthou, Hy werk op misterieuse wyses.”

Genoeg,” sê Markus weer.

Die waarheid maak seer? Of die waarheid is nie gemaklik nie? Sien hierdie as die tweede Vloed.”

Samantha neem ʼn tree nader. “Is hy reg?” Sy kyk na Markus.

Hy lieg. Verdraai die waarheid. Skep onsekerheid. Saai onmin,” sê Markus.

Jou naam, hy is dan Markus?”

Markus sak sy kop. Staar haar dan in die oë. “Dis nie my geboortenaam nie.”

En Thomas. Wat is dit? Wat beteken dit?”

Markus kyk na die demoon wat die gesprek in stilte volg. “Ek is Thomas die Ongelowige genoem op ʼn stadium.”

Vra hom oor die mense wat dood is. Opgehang. Gekruisig.” Die demoon gee ʼn klein glimlaggie.

Ek het hulle nie doodgemaak nie.”

Nee, maar wie was die oorsaak? Die rede? En nou staan jy hier tussen hierdie mense en wil voorgee jy help. Jy gaan die oorsaak wees dat hulle almal sterf.”

Markus vat die swaard stewiger vas.

Sien? Weereens. Bloed as antwoord.”

Gee hulle ʼn kans,” sê Adriaan. Sy stem het ʼn vreemde trilling. “Laat hulle besluit.”

Natuurlik, natuurlik.” Die demoon grynslag. “Gee julle wapens aan hom. Die oomblik wanneer ons beskaafd kan gesels, praat ons vrede.” Hy wys ʼn vinger na Markus. “Maar nie jy nie. Jou teenwoordigheid is ongevraagd. Jy stap weg.”

Markus draai na die ander. Oë ontduik sy blik. Maar nie almal s’n nie.

Adriaan buk om die Colt op te tel.

Verraaier,” sis Oom Danie. “Jou eie mense!”

Markus gaan staan tussen Adriaan en die mense om Oom Danie. Hulle staar mekaar aan. Adriaan frons, lek sy lippe. Markus glimlag. Knik.

Adriaan?”

Hy swaai om. Magda staan by die ingang van die hut, agter die demoon.

Ek hou my woord,” sê die demoon. “Sy is veilig. Soos ons ooreengekom het.”

Adriaan? Waarvan praat hy?” Magda se stem is naby aan histerie. Haar gesig nat van trane. Oë rooi. Een hand hou haar kop vas, asof sy ʼn hoofpyn het. Die ander probeer haar klere toehou.

Magda!” skreeu Oom Danie. Beur orent. Peet verloor sy greep. Oom Danie gryp na die Colt in Adriaan se hande.

Die demoon staan stil, sy gesig strak. “Skiet hom.”

Adriaan hou die wapen buite bereik van die ou man. Sy oë op Magda.

Halwe waarhede. Net tot een se voordeel. Syne,” sê Markus sag. “Jy weet wat die volle waarheid is.”

Die demoon lag diep uit sy maag. “Waarheid? Van die Ridder wat nie ʼn Ridder is nie?” “Ek gaan jou eerder aanhou. Net vir jou humor.” Hy lag weer dawerend. “Al die drama. En intussen sterf julle mense een vir een. Wie gaan hulle red?”

Oom Danie se hande klou krampagtig aan Adriaan. Hoor nie ʼn woord van die demoon nie. “Jy! Dis jou skuld! Kyk na haar! Dis my dogter!”

Adriaan kyk net na haar. “Ek is jammer,” sê hy sag. Hy druk die ou man af. Stamp sy bril af in die worsteling wat ontstaan.

Neeeeee!” roep Oom Danie en Magda saam uit.

Adriaan trek die sneller.

9

Markus beweeg sywaarts.

Vir ʼn oomblik daar – net vir ʼn oomblik – het hy getwyfel. Die koeël skram weg vanaf die demoon se kop. Laat hom steier. Hy draai terug. Bloed teen die kant van sy kop. Sy kakebeen verleng onmoontlik. Tande druk uit deur die ontblote tandvleis. Meer tande as normaal. Roofdier tande. Hy hou sy hand op. Die vingers vertrek in kloue. Naels soos beitels.

Hy vee Adriaan uit sy pad. Die jong man tol oor die grond, val hard. Die demoon bespring Markus. Kloue skeur deur die dun materiaal van sy T-hemp. Grawe nuwe groewe oor sy bors. Markus rol weg. Bring die swaard op.

Dis die einde, Vals Ridder. Jou God het Sy rug op jou gedraai.”

Markus staan gereed.

Jy staan alleen. Jou mense sien deur jou. Hulle sal jou nooit vertrou nie. Vandag sterf jy. Eensaam. Verworpe. Ongelief. Al jou vrese bewaarheid.”

Markus sê niks, oë skrefies.

Jy is nie goed genoeg nie, Thomas. Was nooit nie. Sal nooit wees nie.”

Markus hou net die swaard stewiger.

Wees bly Jo is dood. Hy sou so teleurgesteld wees.”

Markus glimlag net. “Doen wat jy moet. Jou uittarting gaan nie werk nie. Nie vandag nie. Jo het nooit gedink ek sal êrens kom nie. So hierdie is al lankal beter as wat hy verwag het.”

Die demoon brul. Spring deur die lug.

Samantha skiet hom in die sy. Die skoot gooi hom rollend teen die grond. Hy spring onmiddellik op.

Tex skiet hom in die bors. Hy steier na agter.

Gerhard skiet hom in die maag. Swets. Skiet hom weer in die maag. Swets weer. Die demoon vou vorentoe.

Markus spring vorentoe. Die swaard deurboor hom net onder sy ribbekas. Die demoon se oë vergroot. ʼn Lang tong rol uit sy mond. Hy spoeg bloed. Lig sy arm om Markus se kop af te slaan.

Jabu storm van agter, kap die arm af, net bo die elmboog.

Die demoon skreeu.

Markus hou die lem in die ding se bors, bring hom af grond toe. Hy lê skeef, met die lem gedeeltelik by sy rug uit.

Oom Danie stap nader. Die Colt nou in sy hand. Hy rig dit op die demoon se voorkop.

Wag!”

Hulle draai na Magda. Sy sukkel nader met haar gebreekte been. Hou haar hand uit na haar pa. Oom Danie oorhandig die wapen. Sy trek die haan terug. Skiet die demoon deur die kop. Spoeg op hom. Skiet hom weer. “Dis vir Kobus.”

Haar pa se arms is daar wanneer sy haar bewussyn verloor.

Hoofstuk 6

Die Konvooi

1

Markus sit plat op die grond, vee sy swaard skoon. Nie dat dit nodig is nie. Maar dit hou sy hande besig.

Peet kom sit langs hom. “Wat ʼn dag.”

Markus knik. Die ander mense vermy hom tot ʼn mate. Maar dit pla nie regtig nie.

Moet dit nie persoonlik vat nie,” sê Peet. Steek ʼn pyp op.

Wat?”

Hulle is bang vir jou.”

Ek weet.”

Hulle sit in stilte. Hy oorhandig die pyp aan Markus. “Jy het dit nodig.”

Hoeveel mense?”

Peet kyk in die rigting van die mense wat uit die hutte gehaal is. Wat nou sit soos verwarde diere wat uit ʼn rivier gered is. “Ses en dertig. Altesaam. Plus die agt wat saam met Kobus buite was.” Hy maak ʼn punt om nie ʼn Markus te kyk nie. “Kan jy iets doen oor daai goed op hulle nekke. Wat het jy dit genoem? Parasiete?”

Markus rook in stilte. Peet herhaal sy vraag.

Ek weet nie,” sê Markus. “Ek weet regtig nie. Ons moet dalk Adriaan inkry hierop.”

Ons kan hom nie vertrou nie.”

Hy het steeds die belange van die mense op prys gestel.”

Dit was ʼn dom besluit. ʼn Dommer plan.”

Jy het nog nooit ʼn verkeerde besluit vir die regte rede geneem nie?”

Dis nie – dit het nie mense hulle lewens gekos nie.”

Fisies of geestelik?”

Peet bly stil, staar na die grond.

Hy het besef wat ek is. Het die demone weggelei van die trek met die wete dat ek ʼn verskil kan maak. Ten spyte van die invloed van die parasiet.”

Hy het Magda en Kobus se lewens in gevaar gestel. Hulle lewens verwoes. Hulle gaan nooit hierdie agter hulle kan sit nie.”

Sy grootste fout was egter om op my te vertrou.”

Peet se kop ruk op. “Nee. Jy kan nie hierdie op jou vat nie.”

Markus klop die pyp uit. “Dis wat almal gaan onthou. Oor ʼn paar weke, of ʼn paar maande,” sê hy gemoedelik.

Peet stamp hom dat hy op sy sy beland. Na hy die pyp gevat het. Staan op en begin wegstap.

Wat nou?”

Sodra jy ophou om jouself jammer te kry, gaan praat ons met Adriaan.”

2

Ek sweer, daar is geen manier dat Adriaan verby my kon kom nie.” Samantha voel die verantwoordelikheid haar wurg. “Ek het seker gemaak van die toue. Hy kon nie loskom nie.”

Wees rustig,” sê Markus. “Dis nie jou skuld nie.”

Hulle ondersoek die binnekant. Dis onmoontlik om te sien hoe hy uitgekom het.

Ek is jammer,” sê Samantha.

Mos gesê, dis nie –”

Oor vroeër. Ek het getwyfel.”

Markus glimlag. “Ons almal twyfel.”

Sy omhels hom vinnig, skugter. Loop vinnig uit.

As jy my kudde van my wegvat, gaan ons woorde hê,” sê Peet.

3

Markus skat die tyd so net na twaalf. Volgens berekening sal hulle die konvooi teen sonsondergang bereik. Maar net met die veldfietse. ʼn Ligte reën spoeg neer. “Ek het een vrywilliger nodig.”

Peet se Volk staan nader. Almal.

Ons gaan woorde hê,” sê Peet, beslis.

Ek sien nie hoe dit ʼn verskil gaan maak nie,” sê Gerhard, ten spyte van sy bereidwilligheid. “Ons het nie genoeg mense nie.”

Is ons nie reeds te laat nie?” Tex trek aan sy oor.

Nee,” sê Markus. “Nog nie.”

Jy is seker?” Gerhard vra die vraag, maar sy stem wys hy vertrou Markus se siening. Markus self is nie so seker nie. Maar weet dis wat hy moet doen.

Weerlig flits bo hulle.

Hier is wat ons gaan doen.”

4

Tel die koeëls,” roep Oelofse. “En laat elkeen tel.”

Die vloed van die vyand golf teen die grens van voertuie.

Breuk! Rooi vleuel!”

Hulle het die laer in agtstes verdeel. Kleur kodifisering. Makliker in die middel van ʼn geveg as om te probeer om oos van suidwes te onderskei.

Die taktiek van die vyand blyk te wees om soveel as moontlik teen die voertuie te stamp om die skamele muur te breek. Hoekom hulle nie net almal oorspring nie, is duister. Daar is nie genoeg items in die laer om dit hoër te bou nie.

Dis asof hulle vir iets wag.

Die mans met militêre agtergrond, staan by met die verdediging van die laer. Bevele word uitgeroep. Kinders (so jonk soos elf) snel na die breuk in die voertuig muur. Indien hulle nie self vuurwapens het nie, word enigiets waarmee geslaan of gesteek kan word, gebruik. Net om ʼn paar oomblikke te wen.

Die breuk word herstel. Die demone binne die laer vinnig van kant gemaak. Een van die kinders staan nie weer op nie.

Ons kan nie volhou nie,” sê Phillip. Van Vuuren, bloed besig om sy hemp te deurweek, sit net teen ʼn voertuig.

Ons het reeds vyf verloor.”

Phillip staar op na die weerlig wat deur die wolke speel. Donderweer skud die aarde. Hy spring op. “Wat is dit daai?” hy wys op in die lug. Draai terug wanneer Van Vuuren nie antwoord nie. ʼn Demoon staar op na hom van onder die voertuig. Phillip val terug. Beland op sy agterstewe. Hou sy wapen in die rigting van die dowwe skynsel van die ding se oë. Van Vuuren se liggaam verdwyn onder die voertuig in.

Hulle vind Phillip daar. Steeds starend na die plek waar Van Vuuren verdwyn het. Besorgde hande help hom op. Vrae bly onbeantwoord. Phillip staar net voor hom uit.

Uitroepe van wanhoop spring op deur die laer. Geweervuur dun uit. Raak stil.

Skote klap dofweg. Êrens buite die laer.

Maar almal se aandag word getrek na iets anders.

Almal kyk na bo.

5

Dis nie goed nie,” sê Markus.

Peet staar na die laer. Die veldfiets brom onder hom. Weerlig verlig die toneel onder hulle. “Daar is so baie van hulle.”

Kom Dawid. Waar is jou slingervel?”

Peet skud sy kop. “Goliat was een ou.” Hy wys na die honderde, duisende demone onder hulle. “Hierdie is op ʼn ander vlak.”

Kom nou. Jy gaan nie dat ʼn bietjie ongerief jou aand bederf nie?”

Peet sê iets binnensmonds. Hardop: “Ek begin ál my lewenskeuses bevraagteken.”

Markus lag. Wys na ʼn heuwel. “Daai een lyk reg.”

Ek probeer nog verstaan wat jy beoog.”

Ons sal binnekort weet.”

Jy weet nie?”

Markus strek oor die handvatsels van die veldfiets, klop hom gemoedelik op die skouer. “Glo en vertrou, my vriend.”

Dis moeilik om in die donker met die veldfietse oor die rowwe terrein te ry, al is dit gebou daarvoor.

Peet word van die veldfiets afgeruk. Sy skouer lam waar dit teen ʼn groot klip vasslaan. Hande druk hom plat. Donker koppe. Demone se grynse verlig deur weerlig. Sy been brand skielik. Hy skop verwoed. Byt hulle aan hom? Hy word rofweg oor die grond gesleep.

Neeneenee.” Hy hou aan skop, sy wapen verlore.

Word weer gelos deur die hande – kloue.

Skreeuery.

Roggelgeluide.

Stilte.

Markus trek hom tot op sy voete.

Dankiedankiedankie,” hyg hy. Soek die haelgeweer wat Samantha hom geleen het. Haar tong is skerp. Indien hy dit verloor …

Markus skud bloed van die swaardlem. “Ons moet beweeg. Hulle weet nou van ons.”

My skoen is weg.”

Is jou voet nog in die skoen?”

Wel, nee.”

Dan is jy okay.” Markus ondersoek die fiets. Voorwiel gebuig. “Jy sal saam met my moet klim.”

Daardie heuwel is ver,” merk Peet op. “Wat van een nader?”

Nee,” sê Markus. “Dit moet daardie een wees.”

Hoekom?”

Markus klim op die fiets. Lê die swaard oor die handvatsels. Staar na die heuwel. “Dit moet net.”

Peet gaan nie stry nie. Klim agter Markus op. Markus se rugsak maak die sit ongemaklik, maar die wapenrusting is daarin. Die fiets skop grond op. Demone begin afskilfer van die ring om die laer. Vloei in hulle rigting. Peet trek skoot na skoot af. Probeer die kloue van hulle afhou. Dit gaan moeilik om te herlaai so in die ry, maar noodsaak skep vaardigheid.

Die fiets wankel onder hulle. “Spring!” roep Markus. Daar is nie tyd om te dink nie. Om te beplan nie. Peet onthou iets van om in dieselfde rigting te val as ʼn bewegende voertuig. Of perd. Hy verloor weer die haelgeweer. Dieselfde skouer in die slag. Verlam die helfte van sy liggaam. Die enjin van die fiets gee ʼn skril kerm, waggel bestuurderloos af tussen die bossies en klippe in.

Demone skarrel nader.

Markus word platgetrek na agter. Val op ʼn demoon. Hy rol weg. Kap een se been af, so sittende. Hulle oorval hom, gryp na die rugsak. Die gespes skeur.

Nee!”

Demone druk hom plat. Die rugsak in hulle hande.

ʼn Haelgeweerskoot vee die een wat probeer wegskarrel met die rugsak se kop weg. Paniek laat Markus opspring. Die swaard sny ʼn pad oop na daardie spesifieke koplose demoon. Markus sak op sy knieë neer oor die rugsak. Hy hou die swaard reg. Nog ʼn skoot. Twee. Die demone val terug. Maar nie te ver nie.

Warm reën begin val.

Markus kyk op. “God?”

Amper daar,” sê Peet, staan oor Markus. “Kom!”

Markus gryp die sak. Hardloop saam met Peet. Dit neem ʼn ewigheid. Sy bors brand. Bloed in sy mond.

Peet waggel langs hom. Sy arm werk nie so lekker nie. Bors vol steekpyne. Herlaai sover hulle aanhardloop.

Die steil heuwel is besaai met klippe. Grotes. Hulle sukkel tussendeur. Oor die klippe waar hulle nie ʼn deurgang kry nie. Reën val swaarder. Belemmer visie. Hulle bereik die bokant. Die hewel se kop het ʼn massiewe klip wat ʼn platform skep. Peet trek nog twee skote af om die demone op ʼn afstand te hou.

Hoeveel ammunisie het jy oor?”

Peet voel deur sy sakke. Byt sy lip. “Nie veel nie.”

Markus onderdruk die hol kol op sy maag. Glo. Vertrou. “Help my.”

Peet help hom om die gevegsuitrusting aan te gespe. ʼn Demoon spring op die platform. Markus deurboor dit met ʼn vlugtige beweging, so verby Peet. Kyk na onder. Die reën glinster oor grys liggame. Die oë skyn dof in sy rigting. Die borsstuk vat ʼn oomblik langer om aan te gespe. Peet se een hand amper nutteloos. Nog twee demone trek hulleself op. Markus skop na een, verloor sy balans oor die nat klip. Sy voet steeds akkuraat. Peet skiet die ander deur die maag. Die geweld van die skoot slinger dit weer terug oor die rant.

Dis goed genoeg,” roep Markus uit. Die borsstuk hang min of meer in plek. Hy krap deur die rugsak. Sit die helm op. Peet neem posisie in. Weet wat van hom verwag word. Markus haal die ander item uit die rugsak. Staar uit oor die laer. ʼn Geruis laat hom opkyk.

Hy sluk swaar.

Here. Ek het U hulp nodig. Ek smeek U.”

Die reusagtige demoon sweef donker oor die hemelruim.

6

Paniek sweep deur die laer. Die geruis van swaar vlerke is duidelik hoorbaar deur die gordyn van water wat nou selfs harder stroom van bo.

Dis verby.

Alles verlore.

Die demone val aan.

Met mening.

Dan …

ʼn Geluid, soos ʼn mishoring, beur deur die nag.

7

Markus blaas deur die horing wat hy van die demoon afgevat het by die blokhuis.

Niks.

Hy kyk komieklik na dit. Weet nie wat hy verkeerd doen nie.

Gee vir my,” sê Peet. “Hou my veilig.”

Maar dis amper onnodig. Die swaar reën hou die klippe glad. Die demone kry nie trapplek op die nat klip nie. Hulle kloue glip. Selfs wanneer hulle oor mekaar probeer klim. Soos honger diere hou hulle aan probeer. Markus sien die uitwerking van die reën. Kyk vinnig op in dankbaarheid.

ʼn Dowwe noot klink deur die nag. “My oups het trompet gespeel,” sê Peet. “Hy het my probeer leer, maar ek was beter met my hande as my mond.”

Markus verstaan dis paniek wat daar praat. Maar glimlag steeds. Swaai na ʼn demoon wat dit regkry om tot bo te kruip.

ʼn Tweede noot word losgelaat.

Die demoon verstyf in sy spore. Markus hou die swaai van die swaard terug.

Peet begin agter die kap van die byl kom. Die note lank en spookagtig deur die nag. Markus hou ʼn oog op die demoon wat nou verward rondstaan. Hy loer oor die rant na die laer. Die gepeupel van demone blyk onder dieselfde verwarring te verkeer. Hy stap na die demoon en stoot dit amper speels af sodat dit tussen die ander neer ploeg.

Hou aan, ou vriend. Dit werk!”

Peet hou op blaas.

Hou aan beteken gaan voort,” roep Markus uit. Sien Peet se kop gedraai na bo.

Hy kyk na bo.

Die reus, die kolos, is op pad na hulle.

8

Die see van demone wieg om die laer. Onseker. Verward.

Phillip voel die gewig van leierskap op sy skouers. Wat nou? Hy het sy persoonlike paniek onderdruk tot ʼn mate. Maar staan besluiteloos.

Dit gons in die laer oor die mense wat op ʼn heuwel daarbuite gewaar is. Daar waar die mishoring se klank vandaan kom. Hulle verstaan dis wat hulle gered het van die aanval van die demone. Die aanval wat hierdie keer gerig was op ʼn totale uitwissing van die laer.

Maar nou staar hulle in totale angsbevangenheid na die reusagtige, hoewel majestueuse, skaduwee wat tussen die weerligstrale afpeil na die heuwel.

9

Markus staar na die naderende gedierte. Dis moeilik om behoorlik te sien in die donker en deur die reën. Die ding is massief. ʼn Draak uit Openbaring. Weerlig flits om dit. Gereeld genoeg om amper ʼn beeld te kry van die naderende kolos. Dit lyk onmoontlik dat iets van daardie grootte in die lug kan bly.

Die kolos skeur deur die lug, vlieg rakelings oor hulle. Die wind van sy verbygang gooi beide amper van hulle voete af.

Die ding skreeu. Vir ʼn oomblik is sy oë sigbaar. Dieselfde dowwe gloed daarin wat die demone het. Maar geel. Dit swaai weer dreunend in die lug op. Swenk met ʼn wye draai.

Dit kom terug,” sê Peet, amper te sag om te hoor. “Markus? Markus! Wat doen ons? Ek kan nie – dis te veel …”

Ek is jammer, ou vriend,” sê Markus aan Peet.

Wat?”

Markus stamp hom van die platform af. Hoop en vertrou hy gaan nie sy kop oopval nie. Of dat die demone uit hulle war gaan kom nie. Want dan het hy nou net Peet se lewe geneem.

Die alternatief …

Markus verstel sy greep op die swaard.

Here. Ek weet ek vra baie. So bietjie van ʼn kermkous die afgelope paar dae, ek weet. Maar asseblief. Ek weet ek is nie die beste nie. My geloof wankel meer as wat dit reguit loop. Ek is klein, Here. Ek is niks. Maar ek probeer. Ek probeer regtig hard.”

Sy oë brand. Moet deur sy mond asemhaal, want daar kom nie genoeg lug deur sy neus nie. Sy liggaam bewe. Hy is nie seker of dit die reën, vrees of net moegheid is nie.

Here. Asseblief.”

Die kolos gaan nie weg nie. Druk neer uit die hoogte.

Asseblief Here. Help my.”

Dit kom steeds nader.

Ek weet nie wat om te doen nie, Here.”

Nader.

Trane verblind hom.

Hy lig die swaard.

Hoofstuk 7

Die Hand van God

1

Niemand kan regtig sê presies wat gebeur het nie. Miskien die vrees wat almal vasgeklem het. Die reën. Die donker van die nag. Die verblindende weerlig.

Almal is dit egter eens oor die volgende, al moes dit uit verskeie oogpunte saamgeflans word;

*

Die kolos beur af op Markus.

Vir ʼn oomblik hou die reën op. Net so. Een oomblik reën dit hard. Die volgende is die lug skoon. Asof die natuur asem ophou.

Die wolke maak oop. Asof ʼn hand dit opsy skuif. Maanlig verlig die omgewing.

Weerlig uit die niet. Aanhoudend. Wit. Ligstrale wat flits deur die lug. Vasskop teen die klip platform waar Markus staan. Teen Markus self. Weerlig wat hom moes veras het. Deurbrand het.

ʼn Helder lig. Markus as die bron. Swaard in die hand. Die woorde oor die wapenrusting wat gloei (steeds gloeiend, wanneer hulle Markus later vind). Verblindend.

ʼn Skokgolf van suiwer lig.

Die kolos spat aan flarde.

Die demone in die omgewing hou letterlik op bestaan.

ʼn Golf van lig vloei uit oor die omgewing. Oor die laer. Mense staan verblind. ʼn Oomblik van uiterste vrede wat hulle deurspoel, voor die golf afloop.

Dan trek die wolke weer toe. Reën val liggies. Reinigend.

Mense in die laer staan met gesigte na bo.

Die reën verfrissend.

Iemand begin lag. Verlig.

Ander volg.

Die vrees weg.

Spanning gebreek.

Iemand begin sing. Ander volg.

Een psalm na die ander.

Hoofstuk 8

Afloop

1

Peet proe aan die koffie. Die Volk sit om hom. “Ek het al beter gehad.”

Peet praat nonsens,” sê Samantha. Tex, Jabu en Gerhard grinnik stilweg.

Hy treiter jou,” sê Tanya.

Ek weet,” sê Samantha met ʼn glimlag. “Gaan ons nou by die mense bly?” Sy wys na die laer om hulle. Die bedrywighede. Die wolke het weggetrek. Sonskyn. Die reuk van nat grond soos wierook.

Dis veiliger,” sê Peet. “Vir almal. Kan nie dat julle sommer net rondgaan sonder toesig nie. Julle het beskawing nodig.”

Hulle gee mekaar onderlangse kyke.

Is jy okay?” vra Tex. Tex kry kyke van die res. Maar almal wil weet.

Peet kyk na die verbande. Sy skouer uit pootjie geval, na Markus hom van die platform afgestamp het. Dis al twee dae terug. Die konvooi beweeg so vinnig moontlik noordwaarts. Vermy enige tekens van blokhuise. Maar alles is stil. Die oorwinning oor die demone nog vars. Almal steeds bang. Maar die omgewing is leeg. Geen teken van demone nie.

Hy steek sy pyp aan. Kyk in die rigting na waar Oom Danie sit met sy dogter wat met haar kop op sy skoot lê en slaap. Die afgelope tyd het ʼn tol geëis op Oom Danie. Sy seun is weg. Net verdwyn. Kobus het geen woord geuiter aan enigeen na die redding uit die blokhuis nie. Hy het nooit by die konvooi opgedaag nie. Peet loer na bo. Die Here se lesse is soms swaar. Moeilik om te begryp.

Familie is alles. Bloed en andersins.

Ek het deur alles geslaap,” sê hy uiteindelik. Haal ʼn skouer op. “Ons is geseën.”

Hoor, hoor,” sê Gerhard sag. Hulle glimlag oor die slaap gedeelte, weet beter.

Markus?” vra Tex. “Is dit waar dat sy uitrusting steeds gloei?”

Peet knik. Trek diep aan die tabakrook. “Dis nogal iets om te aanskou.”

Waarheen nou?” vra Samantha.

Luchoff,” sê Jabu. “Die mense, hulle het besluit om te sien of daar regtig die saamtrek daar is.”

Is daar?”

Niemand antwoord nie.

Daar is altyd hoop.

2

Peet stap na die stasiewa waar Markus slaap. Hy slaap al vir twee dae. Dalk is dit ʼn koma, hy is nie seker nie. Hy is nie ʼn dokter nie. Het nog nie die moed bymekaar geskraap om Magda te vra om te kyk nie. Sy het nog te veel trauma om self te verwerk. Maar, dalk sal dit haar weer help om te fokus. More. Hy sal more met haar praat.

Peet?”

Hy draai na Phillip. Die onverkose leier van die Trek. Kan nie maklik wees nie.

Hoe gaan dit met almal?”

Peet groet hom met die hand. Voel dis nodig. “Mense het baie om te verwerk.”

Gaan julle aanbly?”

Peet frons so bietjie. “Is daar sprake van iets anders?”

Mense praat.”

Oom Danie bly. Ons bly. Sterkte in getalle.”

Phillip lyk verlig. Hierdie moet iets wees wat swaar op sy gemoed gerus het. “Ons kan doen met mense met julle ervaring.” Hy vryf oor sy kop. “Moontlik sal Markus ook bly?”

Peet haal sy een skouer op. “Markus maak sy eie besluite.”

Maar julle is vriende.”

Ek sal graag so wil dink, ja.”

Jy sal hom vra?”

Peet haat dit om gebruik te word. Hy weet Phillip bedoel goed, maar steeds. “Vra hom self sodra hy op die been is.” Hy stap weg. Hy wonder ook.

Die stasiewa is leeg. Hy kyk rond. “Iemand hom gesien?” Hy beduie na die voertuig. Almal weet wie hy bedoel. Niemand blyk te weet waar Markus hom bevind nie. Hy maak die agterdeur oop.

Leeg. Daar is niks wat aan Markus behoort nie. Peet voel ʼn hand druk op sy hart. Dis niks, vertel hy homself.

Maar hy weet.

Hy weet ook hoekom.

3

Kobus sak neer in die stroom, gee nie om oor sy klere wat nat word nie. So dors. Hy drink. Spoeg sand uit. Drink weer.

ʼn Klip spat aan skerwe, regs van hom. ʼn Skoot weergalm. Kobus skarrel uit die water. Nie seker waarvandaan dit gekom het nie. Hy hou sy hande op. Sover hy weet, het geen demoon wapens bemeester nie. Of gee net nie om nie.

Moet mens wees.

Hy kyk rond. ʼn Persoon stap uit die rigting van die ondergaande son. Kobus hou ʼn hand op om sy oë te beskerm. Sak op sy knieë. Hy begin huil.

Verligting.

Verdriet.

Arms gryp hom vas.

Hou hom styf vas.

Alles sal regkom,” sê Adriaan. “Hou moed.” Sy geel oog traan.

4

Markus gaan staan. Kyk in die rigting vanwaar die skoot geklap het. Wag. Maar daar is niks verder nie. Nie alles het sy aandag nodig nie, besluit hy. Hy verstel die rugsak. Die swaard steek uit aan die kant. Nie dat hy probleme verwag nie. Nie vir ʼn paar dae nie. Die demone het die omgewing verlaat. Nuus trek vinnig. Die dood van die kolos het sekerlik dinge omgekrap vir hulle. Hopelik sal dit die trek vergemaklik vir die konvooi.

Hy stap aan.

Probeer onthou wat gebeur het. Maar daar is niks. Hy het die stories gehoor. Die mense wat verby die stasiewa geloop het kon oor niks anders praat nie. Hy kan die gebeure so min of meer aanknoop. Al wat hy onthou was die kolos wat op hom afgepyl het. Hy is oortuig hy het sy jeans bevuil. Dít het niemand aangespreek nie.

Klein genadetjies.

Sy klere is skoon. Hy het ʼn rugsak geleen. ʼn Slaapsak. Proviand. Twee T-hemde wat hulle vir hom gelos het. Hy is wel spyt hy kon nie vir Peet groet nie. Die oud bokser-prediker het iets in hom aangeraak. Vriendskap. Jo sou van hom gehou het.

Maar.

Hy weet die mense sou hom wou terughou. Heldeverering steek hom dwars deur die krop. Hulle sou iets van hom wou maak wat hy nie is nie.

Verwagtinge hê.

Hy staar in die rigting van die horison. Daardie swart streep wat altyd daar lê. Maak nie saak waar jy jouself bevind nie.

Dit is net altyd daar.

Die Koeberg put.

Sy eindbestemming.

«ᴧ»