Elsie Fourie

Bie die-biep-biep

geskryf deur

Elsie Fourie

ʼn Groen en rooi lig swiep voor die venster verby en verhelder die donker hemelruim.
Onmiddellik daarna skeur ’n oorverdowende fluitgeluid deur die aarde se atmosfeer en sterf geleidelik weg in die verte.
Riana spring pennepop op haar sitplek. “Wat was dit!?”
“Mmm …?” vra Herman ingedagte. Hy sit voor sy rekenaar en werk.
Riana ruk haar kop weg van venster af en kyk verbaas na hom. “Moenie vir my sê jy
het dit nie opgemerk nie?”
“Waarvan praat jy, Riana?” vra hy sonder om sy oë van die skerm af weg te neem.
“Het jy nie die helder rooi en groen ligstreep deur die venster gesien nie?”
“Nee.”
“Jy moes darem die skril fluitgeluid kort daarna gehoor het?”
“Ook nie.”
“Ek glo dit nie. Dit was hard en duidelik. Dit het geklink of dit net hier agter in die
denneplantasie geland het.”
“Agge nee wat, Riana. Jy lees gans en al te veel stories. Nou sien en hoor jy
allerhande gesigte.”
Riana blaas ontstig deur haar neus. “Dit was nie my verbeelding nie!”
“Hoe dit ookal sy, ek is toe gegooi onder al die werk. Ek kan nie heeldag sit en
ginnegaap nie.”
“As jy voor daardie rekenaar sit, kan die wêreld vergaan en jy sal dit nie eers weet
nie,” mompel sy onderlangs en tuur weer by die venster uit. Na ʼn kort pouse vra sy harder:
“Herman, wanneer kan ons weer ʼn bietjie op vakansie gaan?”
“Nie nou nie, Skat. Dit gaan ʼn bietjie dol met die besigheid op die oomblik.”
“Ons was nog nooit weg vandat jy die besigheid oorgeneem het nie.”
Ek weet, maar Pa het my vertrou met sy besigheid wat hy van die grond af opgebou
het. Nou moet ek sy skoene volstaan.”
“Intussen word ek afgeskeep. Wat moet ek nou die hele tyd met myself aanvang?”
“Miskien moet jy vir jou ʼn stokperdjie kry.”
“Soos wat?”
“Ek weet nie. Lees of iets.”
“Dit doen ek reeds. Buitendien, ’n mens kan op vakansie ook lees.”
Die voordeurklokkie lui hard en skril en onderbreek die ongemaklike gesprek.
Herman kyk gesteurd op van sy werk.”Wie sal nou so ontydig wees? Hierdie tyd van
die aand?”
ʼn Ritmiese klop op die voordeur volg na ʼn kort pouse.
“Ja, ja. Ek kom!” antwoord Herman ergerlik. Hy staan op van sy stoel en stap by die
studeerkamer uit.

***

Die wind loei deur die opening toe Herman die voordeur oopmaak.
Aan die buitekant staan ʼn man en hy keer die ergste wind met sy hand voor sy gesig
weg.
“Goeienaand,” groet Herman beleefd.
“Hallo. Is djy Herman?” Hy moet sy stem verhef om homself hoorbaar te maak.
“Ja, dit is ek.”
“Eish! Die Suidôster is uitgelate venaand.” Die vreemdeling gryp sy jas se pante wat
in die wind flapper en trek dit stywer teen hom vas.
“Jammer. Kom gou in,” sê Herman en staan opsy.
Die man beur by die deuropening in. “So dja. Dis bieter,” sê hy en los sy jas se
pante.
Herman maak die deur agter hulle toe en die wind se geloei raak stil.
Die vreemdeling steek sy regterhand uit na Herman. ”Myse dôpname is Daniël,
Djakobus, Philipolis, maa almal roep my somme, Daantjie.”
Herman neem sy uitgestrekte hand en skud dit. “Aangename kennis, Daantjie.
Waarmee help ek?”
“Nei, man. Dis ekke wat djou kan help.”
“Hoe so?”
“Djy sien, die saak staa sô. Ekke is eintlik djou brou.” Hy bly skielik stil; gryp sy ken
met sy duim en wysvinger vas en trek sy oë op skrefies. “Of issit nou halfbrou?”
Herman staar vir ʼn oomlik oorbluf na Daantjie. Dan trek hy sy asem diep in. “Is jý die
lang verlore seun?”
“Djuiste, my liewe brou, djuiste,” antwoord Daantjie en stap dieper by die vertrek in.
Herman skud sy kop in ongeloof. “Waar was jy die hele tyd? Ons het oral na jou
gesoek?”
Daantjie lag sinies. “Eish! Onse pappie het mildjoene vir myse dierbaarste moedertjie
betaal om vir my weg te stiek. Sieker skaam vir sy sondekjind wat hy in ’n ômblik van swakte verwek het.”
“Jy was ook nie eers op Pa se begrafnis nie?”
“Dja wel. Dit was sieker toe ekke met myse seildjag oppie grôt dam was,” antwoord
hy traak-my-nie-agtig. “Maa hier is ekke nou, in liewende lywe om myse diel te kom optel.”
“Jy kan nie sommer net hier opdaag en eise stel nie,” sê Herman ontstig.
“Buitendien, hoe weet ek of jy is wie jy sê jy is.”
“Ekke sa mossie liegie,” antwoord Daantjie verontwaardig.
Die sydeur gaan oop en Riana kom by die sitkamer ingestap.
Daantjie ruk sy kop op en staar onbeskaamd na haar. “Hallo, hallo en wie’t ons
hiesô?”
Herman beweeg haastig tot by Riana en gooi sy arms besitlik om haar skouers. “Dis
my vrou, Riana.”
Daantjie kom min gepla nader. Hy buig galant voor Riana, tel haar regterhand op en
plaas sy lippe daarop. “Dagsê, Môi-môi.”
“Goeienaand,” antwoord Riana ongemaklik.
“Ja, toe. Jy kan nou maar haar hand los,” sê Herman ergerlik.
Daantjie giggel en los haar hand. “Ekke is Herman se brou,” sê hy terloops.
Riana kyk verbaas op. ”Herman?”
3Herman trek sy skouers op. “Ek probeer self nog agter die kap van die byl kom.”
Daantjie draai verwonderend in die vertrek rond en gee ʼn wolwefluit. “Aitsa, maa
djulle het ʼn lanie plek hiesô biet.” ʼn Gaap oorval hom en hy keer haastig met sy hand.
“Djinne, hoe vang so ʼn moegte my nou. Waa lê ek myse kop nier venaand?”
Herman is dadelik op die oorlogpad. “Jy kan nie net hier opdaag en slaapplek soek
nie. Jy kon ons darem eers laat weet het jy kom.”
Riana keer vinnig. “Dis oukei, Herman. Die spaarkamer staan altyd gereed vir gaste.”
Sy wys met haar hand vir Daantjie om haar te volg.

***

Later daardie aand lê Riana en Herman in hulle slaapkamer en gesels.
“Ek vertrou hierdie man glad nie. Hoe weet ons of hy die waarheid praat?” sê
Herman.
“Miskien moet ons hom die voordeel van die twyfel gee,” antwoord Riana nadenkend.
Sê nou hy is een of ander swendelaar wat skielik op ʼn pot goud afgekom het? Nee
wat, so maklik vang hy my nie.
Wel, hy hét geweet van jou pa se dood en van die testament.
Dit sê niks. Hy kon dit iewers gehoor of daarvan gelees het. Die eksekuteur het
hoeka oral geadverteer om my sogenaamde verlore broer op te spoor.
Riana spring regop en leun op haar voorarms. “Dan behoort die eksekuteur mos
meer inligting oor hom op lêer te hê.”
Herman kyk verras op. “Jy is reg! Ek sal hom more kontak en hoor wat sê hy.”
Riana lê terug op haar kussing “Snaaks dat jou pa nooit van hom gepraat het nie?”
“Ja-nee, dis vir my ook nog ʼn raaisel.”
“Ek onthou nog daardie dag toe jy uitgevind het jy’t nog ʼn broer. Jy was so bleek
soos ʼn laken toe die eksekuteur met die nuus vorendag kom.”
Herman blaas minagtend deur sy neus. “Dit is ligtelik gestel. Jy kon my met ʼn
veertjiie omslaan.”
4Riana glimlag en sluit haar oë. Ek wonder wat more alles gaan oplewer? dink sy net
voordat sy aan die slaap raak.

***

Riana kyk op toe Herman by die voordeur instap. “Kon jy toe iets uitgerig kry by die
eksekuteur?” vra sy vol afwagting.
Herman sug en plof langs haar op die rusbank neer. “Ja, ek en Daantjie kom nou net
van hom af.”
“Nou hoekom lyk dit asof die honde jou kos afgevat het?”
“Ek is bevrees dis nie goeie nuus nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Daantjie blyk toe wél my lang verlore broer te wees.”
“Dis mos nie so erg om jou verlore broer uiteindelik te vind nie. Of hoe?”
“Dit ís as hy die helfte van die erfporsie erf.”
“Oukei. Dís ʼn ander storie.”
“Wat meer is, ons sal die besigheid sáám moet bestuur.”
“Weet hy ooit iets van besigheid af? Hy lyk vir my nog baie jonk.”
“Dit kan jy weer vra.”
“Miskien is dit ʼn bestiering,” antwoord sy nadenkend.
Herman snork minagtend deur sy neus. “Watse bestiering kan daar wees?”
“Nou sal daar meer tyd vir ons wees.” Sy aarsel; laat dan die woorde versigtig uit
haar mond. “Miskien kan ons nóu op daardie lang verwagte vakansie gaan?”
“Dít, my liewe skattebol, kan jy maar op jou pensie skryf en met jou wessie afvee,”
antwoord Herman beslis.
“Hoekom? Daantjie is mos nou hier.”
“Ek kan hom nie alleen met die besigheid vertrou nie. Hy’s kapabel en bestuur dit in
die afgrond in.” Herman staan van die rusbank af op en stap by die deur uit.
Riana sug en tuur verlangend in die niet. Wel, sy hét probeer.

***

Riana staan met die tuinslang in haar hand en spuit die plante nat. Sy wonder hoe gaan dit op kantoor? ʼn Giggel glip oor haar lippe. Die twee boeties vlieg mekaar seker nou behoorlik in die hare.
”Riana! Waar is jy?” roep Herman van ʼn afstand af.
Praat van die duiwel, dan trap jy op sy stert. “Ek is hier, Herman; in die tuin!”
Herman kom nader gedrafstap.
”Ek dink nou net aan jou. Oorleef jy dit darem op kantoor?” vra Riana toe hy op
hoorafstand is.
Herman blaas ontstig deur sy neus. “Jy moenie nog vra nie. Daantjie het daar
ingestap en dadelik alles oorgevat. Dit lyk asof hy presies weet wat om te doen.”
“Ek wonder waar kom hy aan al sy kennis? Dink jy hy het gaan swot of iets?”
“Ek sal nie weet nie.” Hy bly vir ʼn wyle stil; vervolg dan ingedagte: “Daar is iets
anders wat my pla.”
“Wat?”
“Toe ek vroeër by Daantjie se kantoor verby gestap het, kon ek sweer, ek hoor iets
krapperig. Kort daarna het ek hom hard en duidelik hoor sê: Bie-die-biep-biep.”
“Dis ʼn vreemde woord? Wat sou dit beteken?”
“Vra my en jy leer my lieg.”
Riana glimlag vir Herman se kwinkslag.
“Ek kan nie nou my kop daaroor breek nie,” antwoord Herman. “Daar is belangriker
goed wat my aandag verg.”
“Dit klink gewigtig.”
“Ek het net gou kom sê: Ek vlieg more oggend vroeg Frankryk toe vir besigheid.”
“Kan ek saamgaan?” vra sy hoopvol.
“Ongelukkig nie. Ek gaan dag en nag besig wees met vergaderings.”
“Agge nee,” antwoord sy en pruil haar mond. “Kan Daantjie nie gaan nie?”

“Nee. Hy moet die fort hierso hou.”
Riana kyk af na die straal water wat uit die tuinslang spuit. Sy weet nie hoekom
probeer sy nog nie.
“Wag,” sê Herman en verjaag die spreekwoordelike olifant tussen hulle. “Ek kan nie
hier staan en ginnegaap nie, ek moet gaan pak.” Hy draai om en stap in die rigting van die huis.
Riana staar hom gebelgd agterna. Nou moet sy weer soos kiepie alleen hier sit. Sy
gooi die tuinslang met mening neer en draai die kraan toe.

***

Riana strompel by die voordeur in. “Sjoe! Dit reën katte en honde daar buite,” sê sy en skud die sambreel versigtig uit, voordat sy dit teen die muur laat staanmaak.
Daantjie sit op die rusbank en koffie drink. Hy kyk op en glimlag. “Ekke niem aan djy’t
myse brou by die lughawe gaa afsien?”
“Ja. Hy’s seker al in die lug,” antwoord sy en gaan sit op die bank oorkant hom.
“Nou wat gaa djy die hiele nawiek met djouse selwers aanvang?”
Riana trek haar skouers op. “Ek weet nie eintlik nie,” antwoord sy moedeloos.
Daantjie klik sy tong. “My brou skiep djou gruwelik af. As djy myse vrou was, sou ek
djou môier opgepasset.”
Riana kyk verleë weg. “Ag, dis seker nie so erg nie. Ek is dit teen hierdie tyd al
gewoond.”
“Dit mag sô wies, maa dissie reggie.” Hy bly skielik stil en vra op die ingewing van die
oomblik: “Kô saamy.”
“Waarheen?”
“Kô ons gaa seil ʼn bietjie op myse seildjag.”
Riana kyk verbaas in sy rigting. “Ek het nie geweet jy kan seil nie.”
“Daar is baie dinge wat djy nie van my af wietie,” antwoord hy geheimsinnig.
“Waar was jy al orals?”
“Eish! Ekke was al amper twie kier ommie aarde.”

“Dit moes seker ʼn belewenis gewees het.” Riana kry ʼn veraf uitdrukking op haar
gesig. “Ek sal wat wou gee om ook ʼn bietjie te kan seil.”
“Nou wat kier djou?”
“Ek kan nie sommer net die pad vat nie.”
“Hoekommie?”
“Wat van Herman?”
“Hy sit honnere kilomieters hiervandaan. Rinkink sieker lekke rond en los djóu soos
djou vinger hier alleen.”
“Dis vir besigheid.”
Daantjie blaas minagtend deur sy neus. “Dis wat djy dink dja, maa my aanbod staa
nog.”
“Ek weet nie of dit so ’n goeie idee is nie,” antwoord Riana huiwerend. ”Dit voel net
nie reg nie.”
“Wil djy nou die hiele tyd hier verveeld rondhang?”
Riana dink vir ʼn oomblik na; antwoord dan met meer oorgawe. “Nou goed, dan. Dit
sal lekker wees om vir ʼn slaggie uit die huis te kom.”
“Ditsem! So ʼn bek moet djêm kry,” antwoord Daantjie en spring van die rusbank af
op.

***

Riana hang met haar een arm teen die seiljag se maspaal en die ander een langs haar sy uitgestrek. Sy gooi haar kop agteroor en die wind speel met haar hare. “Ek voel nou so vry soos ʼn seemeeu!” roep sy bokant die seegeluide uit.
“Wag tot die seil opgehys is. Dán sal djy die vryheid proe,” antwoord Daantjie
laggend.
“Nou waarvoor wag ons?” Sy maak haar hande los van die maspaal en sing:
“Kaptein, span die seile …”
“Kaptein, sy is myne,” antwoord Daantjie al singende terug. Hy stap na die katrol;
gee dit ʼn paar draaie en kyk op na die seil wat stadig oopvou. Toe die seil bol in die wind staan, sit Daantjie die roer op outomaties en gaan sit voor op die boeg.
Riana neem langs hom plaas.
Saam kyk hulle voor hulle uit, terwyl die bootjie vredig in die oneindigheid van die see
vaar …

***

ʼn Uur of wat later strompel Riana saam met Daantjie uit op die dek. Hulle moet hulle staan ken. Die Suidooster het onverwags opgekom. Reuse branders ruk en pluk met mening teen die seilboot se boeg vas. Die seil wapper in die wind; en die roer spin al in die rondte.
“Môi-môi, katrol gou die seil af!” roep Daantjie benoud uit en haas hom na die roer.
Hy gryp dit met mening vas en kyk angstig na die rotse wat gevaarlik naby is. Hy probeer om die rollende seilboot verder daarvan af weg te stuur, maar veg teen moeder natuur.
Terstond tref die agterkant van die seilboot teen die rotse en dit ruk met ʼn harde slag
tot stilstand. Ongenaakbare golwe klots teen die boeg en kantel die boot na die een kant toe oor.
Riana steier vorentoe. ”Heelp!” roep sy angsbevange uit.
Daantjie storm vorentoe, maar voordat hy haar kon bereik, gee die boot ʼn onaardse
kraakgeluid en skeur in stukke.
Riana verdwyn onder die malende massas in.
Daantjie skarrel naarstiglik tussen die wrakstukke deur. Een vir een lig hy die splinter
houtstukke op en gooi dit eenkant neer. Na wat soos ʼn ewigheid voel bereik hy uiteindelik vir Riana. Haar lewelose liggaam hang slap oor ʼn uitstaande rotswand.

***

Daantjie klou krampagtig aan die selfoon vas. “Komaan, tel op!” roep hy ongeduldig uit. Na drie luie word die luitoon stil. Hy wag nie vir die persoon aan die anderkant van die lyn om te groet nie, maar val onmiddellik met die deur in die huis. “Brou, djy moet dadelik kom!”
“Hallo?” vra Herman aan die anderkant van die verbinding. “Sjoe, die lyn is swak.
Daantjie, is dit jy?”
“Dja, dis ekke. Ka djy my nou hôr?”
“Daar kom jy nou sterker deur. Hoe gaan dit daar by die huis?”
“Nei, man. Dasie tyd vir môi brôdjies bakkie. Djy moet dadelik op daai vliegtuig klim!”
“Hoekom? Het daar iets …” Die verbinding sny uit en Herman se stem raak stil.
“Hallo? Brou, is djy nog daa?” Daantjie lig die foon van sy oor af en kyk op die skerm.
“Agge nei, dêmit! Dít ôk nog.” Hy tik ʼn vinnige boodskap op die skerm en prop die foon terug in sy broek se sak.

***

Die outomatiese deure skuif oop en Herman stroom saam met die ander passasiers by die lughawe se aankomssaal in. Hy kyk soekend om hom heen.
“Hiesô, Brou!” roep Daantjie uit en swaai sy hande woes in die lug rond.
Herman drafstap in Daantjie se rigting. “Hallo, Daantjie. Wat gaan aan? Jou
boodskap het net gesê, dis dringend.”
Daantjie kyk af grond toe. “Eish! Daa’t nou vi djou ʼn vrieslike gedoente gebier.”
“Wat?”
“Nei, man. Ekke sal later beduie. Nou moet djy net by die hospitaal uitkom. Môi-môi
het djou nôdig,” antwoord hy en stap na die uitgang van die gebou.
“Die hospitaal! Wat maak sy daar?” vra Herman geskok en haas hom agter Daantjie
aan.

***

ʼn Rukkie later stap Herman kop onderstebo by die voordeur in.
“O, hallo, Brou. Djy’s gou terug,” sê Daantjie en skuif regop op sy stoel.
“Ja, ek kom net gou stort en vars klere aantrek.”
“Hoe gaa dit met Môi -môi?” vra Daantjie versigtig.

Herman sug. Hy sak op die rusbank langs Daantjie neer. ”Nie goed nie,” antwoord hy
afgemat. “Sy is nog steeds in ʼn koma.”
Daantjie klik sy tong. “Ai toggetjie tog.”
Herman draai sy kop en kyk vir Daantjie vierkantig in die oë. “Gaan jy nóu vir my
vertel wat gebeur het?”
Daantjie staan van die stoel af op en gaan staan op ʼn veilige afstand van Herman af.
Hy kyk af na die vloer en druk sy skoen se punt tussen twee teëls in. “Eish! Dit was vir djou ʼn vrieslike gedoente gewies.”
“Kom tot die punt!”
Daantjie lig sy kop, maar maak nie oogkontak nie. “Nei, man. Ons het nog sô lekka
geseil, toe …”
“Was my vrou saam met jou op die seiljag?” roep Herman ontsteld uit.
“Dja, maa …”
“Wie’t jou die reg gegee?”
“Kalmeer, Brou. Sy wou ôk maa net ʼn bietdjie uit die huis gekommet.”
Herman spring van die bank af op en peil dreigend op Daantjie af. “Moenie vir my sê,
kalmeer nie. Wat het jy met my vrou gemaak?”
“Net dit wat djý innie eerste plek moes gedoenet. Vir ’n slag háár belange op die hart
gedra het.”
“Jou bliksem!?” Herman swaai sy vuis en tref vir Daantjie teen die regteroog.
Daantjie steier agteroor; tref ʼn stoel en slaan soos ʼn os op die vloer neer.
Herman storm blindelings by die vertrek uit.

***

“Riana! Kan jy my hoor?” Herman staan gebukkend bo-oor die bed en staar
angsbevange na haar lewelose liggaam.
Riana kreun saggies. Sy lig haar ooglede moeisaam op, maar kry dit net
skrefiegrootte oop.
“Dankie tog, jy is wakker!”

“Waar is ek?” vra sy roggelend.
“Jy is in die hospitaal.”
Haar ooglede vlieg wawyd oop.“Wat maak ek hier?”
Herman aarsel; antwoord dan sag. “Jy en Daantjie was in ʼn ongeluk.”
“Watse ongeluk?”
ʼn Bekommerde uitdrukking spoel oor Herman se gesig. “Kan jy nie onthou nie?”
Riana dink diep. “Nee. Wat het gebeur?”
“Blykbaar was jy en Daantjie op sy seiljag, toe dit op die rotse geloop het.”
“Hoekom kan niks daarvan onthou nie?” antwoord Riana en haar stembande knak.
“Ssjj, nou. Ek is seker die dokter sal ʼn goeie verduideliking daarvoor hê,” sê Riaan en
probeer om die onrus uit sy stem te hou.
Riana beweeg effens en haar gesig vertrek van die pyn.
Net toe stap die dokter by die kamer in. Na ʼn deeglike ondersoek skryf hy vir haar
pynmedikasie voor. Hy is ook die draer van goeie nuus. Buiten vir gedeeltelike
geheueverlies en ʼn paar kneusplekke, het sy wonder bo wonder geen ernstige beserings opgedoen nie.

***

Riana kyk op van haar hospitaalbed toe sy die sagte, ritmiese klop op die deur hoor. “Kom binne!”
Die deur gaan op ʼn skrefie oop. Daantjie loer by die opening in.
“Hallo, Daantjie,” groet sy opgewek. “Kom binne.”
Daantjie swaai die deur wyer oop en stap tot voor haar bed. “Dagsê, Môi-môi. Hoe
gaa dit hiesô?”
“Behalwe dat ek pens en pootjies in ʼn hospitaalbed lê, gaan dit seker nie te sleg nie.”
”Dja, dit kannie lekka wiesie,” antwoord Daantjie. Hy sleep die stoel langs haar bed
nader en gaan sit daarop.
“Kom julle darem reg by die huis, so sonder my?” vra Riana.

“Ekke sallie wietie,” antwoord Daantjie en trek sy skouers op.
“Hoe so?” vra Riana onnodig. Sy het gehoor van die onderonsie tussen die twee
broers.
“Nei. Ekke hou my maa skaars.”
“Is Herman nog steeds vies vir jou?”
“Eish en hoe! Maa miskien het hy riede.”
“Waarom sê jy so?”
“Dis myse skuld dat die moeilikgheid ons gevatet.”
“Agge nee. Dit glo ek nie vir een oomblik nie.”
“Issie reine waarheid.”
“Jy moenie jouself verwyt nie. Ongelukke gebeur. ʼn Mens kan dit nie keer nie.”
“Ekke wiet, maa dit laa my nie bieter voelie.” Daantjie kyk na haar en vra versigtig:
“Kan djy nog stieds niks onthou van daai dag affie?”
Riana skud haar kop heen en weer. “Nee, en dit frustreer my grensloos.”
“Eish! Dis nou ʼn djammerte. Dit was so ʼn lekka dag gewies. Ek mien nou vôr die
ongelukte ons gevatet.”
“Ek sal maar jou woord daarvoor moet vat. Hopelik kom my geheue binnekort terug.”
“Dja, daai sal ʼn genade wies.”
Die deur swaai oop en Herman verskyn in die deuropening. Diep in sy gedagtes
versonke stap hy in en groet. “Môresê.” Hy kyk op en steek in sy spore vas. “Daantjie! Wat
maak jý hier?”
Daantjie skuif ongemaklik rond in die stoel. “Nei, man. Ekke dag ek kom wys bietdjie
ôge.”
Herman stap nader. “Is die werk wat ek vanoggend vir jou gegee het om te doen, al
kaar?”
“Lánkal se tyd al.”
“Môre, Herman. Wat is jy so vroeg al op die oorlogspad?” vra Riana en onderbreek
die ongemaklike gesprek.

“Ek wil maar net nie dat die besigheid agter raak nie.”
Daantjie stoot sy stoel agteruit en staan op. “Wa, laa’k my skaars maak. Skielik voel
ekke sôs die vyfde wiel vannie wa,” sê hy, draai om en stap by die deur uit.
Riana kyk beskuldigend na Herman. “Jy moenie so hard op Daantjie wees nie. Hy
blameer hom reeds vir my situasie.”
“Dis goed. Laat sy gewete hom ʼn bietjie ry, maar jy moenie eers daardie man se
naam voor my noem nie.”
“Ai, Herman. Dis jou broer.”
“Dit mag so wees, maar ek vertrou hom net sover as wat my neus lank is.”
“Wat het die arme man aangevang dat jy so agterdogtig is?”
“Ek kry die gevoel die mannetjie is besig met iets onderduims.”
“Hoekom? Het jy weer vreemde geluide in sy kantoor gehoor?”
“Onder andere, maar hy verdwyn deesdae kort-kort en dan bly hy lank weg.”
“Gaan sien hy nie net kliënte nie?”
“Sonder om vir my daarvan te sê?”
“Het jy hom daaroor uitgevra?”
“O ja. Ek hét, maar hy het allerhande flou verskonings opgedis.”
“Miskien moet ons nie te veel daarin lees nie.”
“Ja, dalk is jy reg. Hoe minder ek van hom af weet, hoe beter is dit vir my siel.”

***

ʼn Paar dae later word Riana uit die hospitaal ontslaan. Sy ly steeds aan gedeeltelike
geheueverlies, maar het ten volle genees van al die ander beserings. Sy was egter net ʼn paar dae terug by die huis, toe sy bewus word van iets anders.
“Issit my verbielding, of is hiesô ʼn opgewondengheid aanie tafel vedag?” vra Daantjie
en kyk vir Riana en Herman agterdogtig aan.
“Nee, jy verbeel jou nie. Ons het gistermiddag baie goeie nuus ontvang,” antwoord
Herman geheimsinnig.
“Nei, man. Moenie sô in raaisels staa en praatie.”
“Dalk moet ek vir Riana die eer gee om vir jou te vertel.”
Daantjie kyk vol afwagting na Riana. ”Môi-môi?”
Riana giggel verleë. “Ek is swanger.”
“Djy’s wat?” ʼn Mengelmoes van verbasing en skok is duidelik op Daantjie se gesig
afgebeeld.
“Jy’t haar reg gehoor. Ek gaan ʼn pa word,” antwoord Herman opgewonde.
Daantjie skeur sy blik weg van Riana af. “Djy klink baie sieker van djou se saak?”
antwoord hy, maar maak nie oogkontak nie.
“Watse vraag is dit? Natuurlik is ek.”
“Nei, ek seg maa net.” Daantjie raak meteens haastig. Hy maak verskoning, staan
van die etenstafel af op en verlaat die eetkamer.

***

“Bie-die-biep-biep.”
Riana steek in haar spore vas. Sy het pas by Daantjie se kamer verby geloop toe sy,
sy stem hoor. Herman het hom dit dus nie misgis nie, maar wat sou dit beteken? Sy peins vir ʼn oomblik. Wel, daar is net een manier om uit te vind. Sy draai doelgerig om na die deur en klop saggies daaraan.
ʼn Doodse stilte daal neer.
Meteens voel Riana skuldig. Wat het haar besiel? Daantjie se doen en late het niks
met haar uit te waai nie. Sy wou net omdraai en suutjies wegstap, toe die deur oopswaai.
“O, dis djy, Môi-môi,” sê Daantjie en klink verlig.
“Jammer, steur ek?”
“Nei,man. Djy pla nie. Kô binne.”
Riana stap huiwerig in. Hoekom voel dit asof sy op verbode terrein beweeg?
“Djy kô asof djy gestier is.”
Sy lag verleë. “Hoe so?”
“Ekke wil hôr of djy al enigiets kan onthou van onse seilvaart?”
“Nee, ongelukkig nie.”
“Ai, dis nou ʼn djammerte.”
Daantjie se stemtoon maak haar ongemaklik en sy verander haastig die onderwerp.
“Het ek my verbeel of het ek stemme hier by jou gehoor?”
“Nei man. Djy sien mos, dis net ekke hiesô,” antwoord hy oorhaastig.
“O, oukei,” sê sy, maar kyk steeds onderlangs in die vertrek rond.
“Kô saamy,” sê hy onverwags.
Sy ruk haar kop terug en staar verbaas na hom. “Wil jy weer gaan seil?”
“Eish, ekke sal dittie wier waagie”
Sy lag verleë. “Nou waarheen gaan jy dan?”
“Ekke sal later beduie. Seg net seblief djy sal saamy kom? Ekke sal djou hierie kier
sôs goud oppas.”
Sy is onkant gevang. Woorde ontbreek haar.
“Riana! Waar is jy?” roep Herman vanuit die kombuis se rigting.
Verlig draai sy om. “Jammer, ek moet gaan,” antwoord sy skor en vlug blindelings by
die kamer uit.

***

Die volgende dag sit Riana en Herman in die sitkamer en gesels.
“Ek wonder waar is Daantjie? Hy is alweer skoonveld,” vra Herman en sy voorkop
plooi.
“Ek weet nie, maar hy het gister iets gepraat van weggaan.”
“Waarheen?”
“Ek het geen idee nie. Hy wou nie …” Die woorde stol in haar mond toe haar
whatapp-alarm afgaan.
Oombliklik daarna roep Herman se selfoon ook. “Klink my iemand is op ons spoor,”
sê Herman en haal sy selfoon uit sy broek se sak.

“Ek wonder wie kan dit wees,” vra Riana en staar na die onbekende nommer op haar
foon se skerm.
“Ek weet nie. Hierdie nommer verskyn ook nie op my kontaklys nie. Dis tien teen een
ʼn swendelaar. Ek gaan dit onmiddellik uitvee en sommer blok ook.”
“Nee wag. Ek het nou net myne oopgemaak,” roep Riana uit.
“Jy waag baie. Wat sê dit?”
“Hier staan net: ‘Kry my by die denneplantasie’.”
“Is daar ʼn naam by?”
“Nee, niks nie.”
“Ek hou net mooi niks hiervan nie. Sê nou dis ʼn lokval?”
Riana knik haar kop instemmend, maar die nuuskierigheid het die laaste sê. “Ons
kan dit nie net ignoreer nie. Ons gaan altyd wonder hieroor.”
“Jy is seker reg, maar ek sê jou nou, hiér is ʼn slang in die gras.”

***

Al geselsende loop hulle met die voetpaadjie af. Plotselend steek Riana in haar spore vas en gryp vir Herman aan die arm. “Kyk daar!” roep sy uit en mik met haar kop na die oop kol tussen die dennebome.
Herman kyk in die rigting waarna sy wys. “Wat op aarde is dit?” vra hy verbaas.
“Dit lyk soos ʼn ruimtetuig.”
“Ek glo nie wat ek sien nie. Ek was onder die indruk die goed bestaan net in storie-
boeke.”
Riana trek haar asem diep in. “Herman, onthou jy daardie aand toe ek die vreemde
rooi en groen ligte gesien het?”
“Ja, maar wat het dit met die prys van eiers uit te waai?”
“Wel, ek het dáárdie aand al vermoed dis ʼn ruimtetuig, en hier staan dit lewensgroot
voor ons.”
Herman staar na haar en skud sy kop in ongeloof. Nadat hy oor die ergste skok is, sê
hy: “Kom ons gaan bekyk dit van naderby.”

“Is jy seker?” vra Riana verskrik, maar stap tog voetjie vir voetjie agter hom aan.
Die volgende oomblik skuif die luik van die ruimtetuig oop en Daantjie verskyn in die
opening. “Hallo, julle,” sê hy komkommerkoel en stap hulle tegemoet. “Ek het gewonder of julle my boodskap ontvang het.”
Riana se mond val oop van verbasing. “Daantjie? Wat maak jý hier?”
“Ja, en jy praat ook nie meer Kaaps nie?” vra Herman agterdogtig.
“Wag laat ek verduidelik. “Ek is nie Daantjie nie, my naam is inderwaarheid, Bie-die-
biep-biep.”
Riana kyk onderlangs na Herman.
Herman worstel egter met ʼn ander gewaarwording. “Wat!? Wil jy vir my sê, jy is nie
my broer nie?” roep hy geskok uit.
Bie-die-biep-biep lag uit sy maag. “Ai, julle aardbewoners is so goedgelowig.”
“Nou wie is jy dan en van watter planeet af kom jy?” vra Riana.
“Ek is ʼn geheime agent van planeet, Borra af. Ek is op ʼn feite sending uitgestuur na
julle planeet toe.”
“Nou waar pas my verlore broer in die prentjie?” vra Herman.
“Dit was blote toeval. Ek het net ʼn paar knoppies gedruk, toe kom ek op die
eksekuteur se advertensie af.”
“Jy lyk dan net soos Herman se verlore broer op die foto. Selfs die eksekuteur was
doodseker daarvan,” sê Riana en skud haar kop in ongeloof.
“Ai, julle aardbewoners moet nog baie leer. Ek sien darem julle is op die regte spoor.”
“Waarvan praat jy?” vra Herman.
“Intelligensie tegnologie.”
“Soos in kunsmatige intelligensie?
“Ja, maar dit lyk asof julle ʼn bietjie sukkel om by die finale produk uit te kom,”
antwoord Bie-die-biep-biep selfvoldaan.
“Watse finale produk?”
“Kunsmatige Superintelligensie.”

“Ek veronderstel julle het dit reeds bemeester,” antwoord Herman sarkasties.
“Dit is nie nodig nie. Ons ís KSI.”
ʼn Kraakgeluid onderbreek die gesprek.
Bie-die-biep-biep woel sy hemp se knope los en ʼn klein sleutelbordjie op sy borskas
kom te voorskyn. “Jammer, julle. Planeet Borra is op my spoor,” sê hy en beweeg haastig weg van hulle af.
Riana en Herman staar sprakeloos na die vreemdeling wat hulle geken het as
Daantjie.
Na ʼn rukkie, maak Bie-die-biep-biep sy hemp se knope vas en stap weer nader. “Die
tyd het aangebreek om te groet,” sê hy, toe hy op hoorafstand is. “Planet Borra soek my
dringend terug.” Hy stap tot voor Riana en tel oudergewoonte haar hand op. “Dis waar wat hulle sê: Aarde het regtig die mooiste vroue van al die planete in die heelal,” sê hy en plant ʼn kus op haar hand.
“Ja, toe. Jy kan nou maar haar hand los,” sê Herman ontstoke.
Bie-die-biep-biep giggel en laat val haar hand. Hy draai om na Herman. “Nou ja, my
liewe broer. Laat dit goedgaan met jou,” sê hy en steek sy regterhand na hom toe uit.
Herman gee hom ʼn vuil kyk en ignoreer die uitgestrekte hand. Driftig draai hy om en
stap terug na die dennebome.
Bie-die-biep-biep beweeg terug na Riana toe en vat onverwags aan haar buik. “Pas
ons kind mooi op,” fluister hy skor, draai om en stap na die ruimtetuig.
Terstond begin Riana se baarmoeder lewe kry en die baba skop vir al wat hy werd is.
Sy vou haar hand onder haar buik in en bring die lewetjie binne haar tot ruste. ʼn Ander
gewaarwording tref haar en sy snak na asem. Sy kan hulle seiljagvaart onthou! Verstom kyk sy in die rigting van die ruimtetuig.
Bie-die-biep-biep staan in die opening en hy glimlag vir haar. Dan skuif die luik stadig
toe.
Riana staar aandagtig na die ruimtetuig wat stadig opstyg en ʼn rukkie in die lug bly
hang. Dan skiet dit soos ʼn pyl uit ʼn boog hoër op; breek met ʼn knal deur die aarde se
klankgrens en verdwyn in die niet.