Stories uit Mercer
Die Janus Insident
geskryf deur
Jaco van der Merwe
Deel I: Dante
1
Dante staar uit oor die waters onder hom. Die venster van sy ou grondvoertuig verwring alles. Druppels gly oor die glas in gesmelte neon. Pienk. Blou. Pers. Alles tussenin. Die stad toring aan sy linkerkant. Metaal- en glasberge wat waak oor die laer vallei van strand geboue. Leuens. Beloftes in neon. Hologramme wat in ʼn siklus dans oor die geboue. Die prag van valsheid. Die onbetroubaarheid van mense wat nes maak daar. Luide stemme. Hulle lag. Argumenteer. Lieg. Verkoop stories.
Mercer. Eden vir huursoldate. Kop-jagters. Smokkelaars. En N’kai. Blink swier aan die bokant. Vrot aan die onderkant. Die stank van lewens verwoes.
Dante se wapen lê swaar in sy hand. In die skemer van die voertuig blink die metaal onpartydig.
Hy ontspan sy kakebeen. Ry teen die afgrond af. Spring. Skiet homself. Hy het nie regtig oorweging geskenk hieraan nie. Net die einde in sig. Iets vinnig.
Soveel keuses. En dit na hy die punt bereik het waar hy geen keuses meer oor het nie. Hy is klaar dood. Niks wat saak maak nie. Niemand wat saak maak nie.
Kry dit net oor.
Hy klim uit. Die reën is warm. Verstikkend. Hy gaan staan op die rant van die rotse. Staar na die onstuimige waters wat hamer onder hom.
Maklik.
Kopskoot.
Val na onder.
Die rotse sal die res doen.
Die waters vee alles weg.
Vinnig.
2
Beweging ver onder op die strand, trek sy aandag. Hy sal moet wag. Hierdie is iets wat alleen gedoen word. ʼn Laaste selfsugtigheid. Hy gaan sit op die nabye betonwal, wapen tussen sy bene. Hou die werksaamhede dop. Stel nie regtig belang nie. Wag net vir hulle om klaar te maak.
Hy is verby omgee.
Iemand word hardhandig op die sand neer geslinger. Lyk of hy bietjie rondgeskop word. Dante kyk weg. Dit herinner hom van die falende Atlas-verbeteringe in hom. Die virus vreet hom stadig van binne. Sy visie afgegradeer na ʼn ongemaklike vyf persent. Dis werklik nie meer as gewone, menslike visie nie. Sy linkerarm is basies ʼn slap aanhangsel. Sy bene stadig. Net die stille laerhulsel van sy liggaam wat beskerming bied.
Maar dit beteken niks hier nie. Gewone mense oorleef nie hier nie. Jy is prooi. Vleis.
Hulle sleep die persoon in die vlak water in. Vaartuie se ligte verlig skielik die stukkie strand. Die persoon word onseremonieel ingegooi. Eenvoudige taktiek. Hy het dit baie gesien. Die boot sal geprogrammeer word na die dieper waters, waar plofstof dit (en die passasier) sal uitvee.
Maklik. Geen gemors. Die onstuimige waters vee alles weg. Die tipe taktiek word gebruik om iemand ongesiens te laat verdwyn. Geen boodskap, geen waarskuwing aan ander.
Dante is nuuskierig.
Kyk weer weg.
Sál nie betrokke raak nie.
3
Die vaartuig draai lui na regs. ʼn Donker kol op die donker water. Ligte uitgedoof om nie aandag te trek nie. Die mense op die strand let nie op nie. Dante hou hulle dop vir ʼn rukkie. Kan hulle net klaarkry?
Dis nie duidelik of die vaartuig se meganisme foutief is, of die persoon daarbinne moontlik iets probeer doen nie.
Dit irriteer hom. Die mense. Die feit dat hulle vanaand gekies het. Dit gaan tyd vat voor die omgewing weer leeg is. Voor hy kan voortgaan. Drie maande terug, sou hy … wat? Bitterheid laat sy kop sak. Hy klem weer sy kakebeen. Sy bors leeg.
Maar die vaartuig hou sy aandag. Dit gaan teen die rotse vasloop. Of die strukture.
Nie sy probleem nie.
Niks is meer sy probleem nie.
Hy draai weg.
En tog.
Hy draai terug.
Hy werk die tog uit. Die vaartuig sal binnekort verby sy uitsigpunt wees. Hy draai verder regs. Daar is ʼn punt waar …
Nie sy probleem nie.
Vanaand.
Alles verby.
Sy kakebeen pyn. Hy byt hard op sy tande. Liggaam gespanne. Dit vat baie om hier te wees. Die maklike uitweg is nie so maklik nie. Hy moet hom steeds self oortuig. Klou krampagtig vas aan die gedagtes. Die herinneringe. Die redes. Speel dit deur sy kop. Dis die regte besluit.
Dit is.
Want daar is niks meer nie.
Niemand.
Maar hy is reeds op sy voete. Net om daardie klomp te wys. Hy begin hardloop. Maar sy bene is stadig. So stadig. Met ʼn swets draai hy terug. Die voertuig is die beste opsie. Hy spring agter die stuur in. Dis een van daardie ou modelle wat nie so baie op tegnologie staatmaak nie. Gebruik selfs brandstof. Hy gooi sy wapen op die passasiersitplek. Die bande skop los grond op met die wegtrek. Hy kan nie meer die vaartuig sien nie, maar maak staat op sy oorspronklike aanname. Hy kan sy brein darem nog vertrou. ʼn Gat in die pad laat hom amper die voertuig rol. Hy werk die wiele terug. Sekondes maak ʼn verskil. Draai skerp links op een van die massiewe hawemure. Dis nie gemaak vir voertuie nie, maar breed genoeg.
Hy sien die vaartuig nou weer. Dit gaan teen een van die dryfdokke te pletter gegooi word indien dit nie van rigting verander nie.
Dante trap rem, is reeds by die deur uit voor die voertuig ten volle tot stilstand is. Die noodstelsel skop die enjin uit wanneer hy die sitplek verlaat. Hy hardloop. Vervloek weereens die verlies van interne stelsels.
Min tyd. Hy bereken die spoed, die afstand. Slinger homself oor die rant van die betonmuur. Die honderd meter na onder suis in ʼn oomblik verby. Die dek versplinter onder die aanslag van sy landing. Beide bene sou gebreek wees, indien nie vir die latente versterkings nie. Hy onttrek hom vinnig uit die veselglas stukke, hys homself op na die glibberige bodek. Die stuurkajuit sit verhewe aan die voorkant. ʼn Vrou lê oor die kontrolepaneel. Hande agter haar rug gebind. Hy trek haar weg. Bloed oor haar gesig. Hare wat wild staan. Hy het nie tyd om sagkens te werk nie. Los haar om hard op die dek te val.
Dante staar na die elektroniese waarskuwings. Hologramme hang in die lug. Alles in rooi. Hy gooi sy nuttelose arm oor die kontrolebord. Wikkel die omhulsel van sy wysvinger af. Vind ʼn poort. Maak nie saak welke poort hy gebruik nie. Koppel die interaktiewe naald. Die stelsel behoort dit as gevaar te sien.
Skerms en hologramme flits oranje. Rooi. En skakel die vaartuig af.
4
Dante draai na die vrou. Die rooi lig van die hologramme wys sy is nie meer as ʼn meisie nie. Twintig. Indien so oud. Wind waai slierte rond oor haar gesig. Reën maak dit moeilik om sy voete op die dek te hou. Die water om hulle ruis gevaarlik hoog. Donder teen die hawemuur naby hulle. Die vaartuig het wel afgeskakel, maar dit maak dit nie staties nie.
Haar oë wild. Kyk rond. Staar uit oor die waters. Hy neem notisie.
Twee vaartuie in aantog. Hulle het moontlik nagvisie. Laserlyne wat oor hulle eie vaartuig speel laat hom vinnig dink. Hy soek vinnig, belemmer deur sy stadige ledemate. Drie maande terug en daardie klomp het nie ʼn kans gestaan nie.
“Is hier ʼn mediese kis?”
Sy staar hom aan.
“ʼn Mediese kis? Die mediese kis!”
Sy weet nie. Sy hart hamer in sy bors. Hy soek naarstigtelik. Vee water uit sy oë. Vind dit. Ruk dit uit die stoor-dekking. Sukkel dit tussen sy knieë in om met een hand oop te breek. Hou ʼn toestel op. “Weet jy hoe om dit te gebruik?”
Sy knik. Hy gebruik die mes in die kissie om haar arms los te sny. Druk die asemhalingstoestel in haar mond.
“Die strand is daardie kant toe!” wys hy, ingeval hy sy greep verloor. Vat haar om die lyf en gly oorboord aan die blinde kant van die vaartuig. Hulle sak onmiddellik na die slik van die bodem. Hy is swaar. Nie gebou vir swem nie. Hy kan egter sy asem ophou vir ʼn lang tydperk.
5
Die strand is klipperig. Dante sleep die meisie uit die water. Spoeg olierige water uit. Niks fout met sy smaakorgane nie. Die meisie spoeg die mondstuk uit. Trek suurstof diep in haar longe in.
Dante bestudeer die omgewing. Kyk terug oor die water. Dis duidelik die ander besef nou die vaartuig is leeg. Hy staar in hulle rigting. Die ou woede besig om weer lang vingers in sy kop te slaan. Ou wortels wat stadig herleef.
Ligte spies oor die water.
Die meisie vat sy hand. Kyk op na hom met groot oë. Trek hom weg van die water.
Sy is nie lam van skok nie. Goed. “Ons moet die stad bereik. Hulle sal ons nie maklik daar opspoor nie,” sê hy. Vertroetel daardie woede wat warm brand.
Hy gooi ʼn laaste blik oor die waters. Hulle stap oor die nat klipstrand in die rigting van neon leuens.
6
Die Onderstad is blind. Niemand vra vrae nie. Niemand kyk tweemaal nie. En die wat kyk, kyk vinnig weg. Die meisie loop langs hom, nat klere verskans deur ʼn ou kleed met ʼn kappie wat haar gesig versteek. Maklik gegryp van ʼn wasgoedlyn. Dante se breë skouers en lenige bou hou die nag se roofdiere weg. Sy onverskrokke loop. Die manier wat hy oogkontak maak met alles en almal. Uitdagend. Hy is geensins so vol vertroue soos hy voorgee nie. Maar hy ken die wêreld. Weet wat om te verwag. Weet hoe om voor te gee.
Hulle glip deur ʼn donker stegie tussen twee plat geboue. Dit stink. Iets skarrel tussen die gemors. Hulle wag. Die voorkant het ʼn neon restaurant stempel. Die ander verkondig goedkoop blyplek. Die agterdeur van die restaurant skuif sukkelend oop. ʼn Massiewe man gooi ʼn sak met oorskiet in die rigting van vullisdromme. Hy mis. Gee nie om nie. Dinge skarrel nader deur die donker.
“Bertrand,” sê Dante sag.
Die man gaan staan in die dowwe eiland van die werkende lig. Hy is so breed soos hy hoog is. Kom nekloos voor. ʼn Dun baard onderstreep sy kakebeen. “Wie is daar?” Hy tuur met skrefie oë in die donkerte in. Sy hande gebal. Geen wapens. Maak hom nie minder gevaarlik nie.
Dante stap nader. Naby genoeg om herken te word.
“Jy moet eerder gaan,” sê Bertrand, uitdrukkingloos.
“Ek soek nie moeilikheid nie. Net ʼn guns.”
“Jy het nie meer gunste hier nie, ou maat.”
“ʼn Komm-toestel. Niks meer nie.”
Bertrand vou sy massiewe arms oor sy bors. Hy neem spesifiek notisie van Dante se arm. Asof hy weet.
“Asseblief.”
“Wie is daardie?” Bertrand wys na die meisie wat steeds in die donker staan.
“Asseblief.” Dis moeilik om te vra.
“Is sy Vleis?”
“Sy is nie ʼn prostituut nie,” sê Dante.
“Is sy in die moeilikheid?”
Dante is onseker hoeveel hy wil openbaar. Maar hy het die guns nodig. “Sy is.”
“As gevolg van jou?”
“Nee.”
Hy snuif hard. Kyk rond. Wink. “Een oproep.”
7
Die vyfde oproep word beantwoord.
“Jy moet eerder van die planeet afkom.”
Dante sak sy kop. “Dis die plan.” Die meisie is besig om morsig ʼn einde te maak aan ʼn bord kos. Nie eens oorskiet nie. Dit lyk of Bertrand van haar hou. Dit maak Dante ongemaklik.
“Ek kan jou nie help nie.”
“En tog praat jy met my.”
“Ek is naby om die konneksie te verbreek. Jy is gelys. Assosiasie beteken ek sal gelys word. Ek het nog baie om voor te leef.” Stilte. “Anders as jy.”
“Ek weet,” sê Dante sag, asof hy daardie waarheid nodig gehad het. “Ek sal ʼn plan maak. Maar ek het ʼn veilige hawe nodig. Drie dae. Niks meer.”
“Ek skuld jou niks. Enigiets tussen ons is betaal. Lank terug.”
“Ek weet.”
ʼn Lang stilte.
“Vergeet my nommer. Vergeet jy ken my. Jy is ʼn nul.” ʼn Adres volg voor die kommunikasie beëindig word.
8
Dante bekyk die kamer met ʼn suur smaak in sy mond.
“Wat is jou naam?”
“Val. Valerie.”
“Dante.”
Sy kies ʼn bed. Gaan sit kruisbeen daarop.
“Wil jy praat daaroor?” Hy vra versigtig.
Sy sê niks, staar na haar hande.
Hy staan ongemaklik.
“Ek is in die moeilikheid,” sê sy, kyk weg.
“Ek het so afgelei.” Hy verwens homself wanneer hy haar trane sien. “Wie was hulle?”
“Ek weet nie.”
Hy weet sy lieg. Maar besluit om dit nie te druk nie. Het reeds besluit hy gaan haar hier los. Dis nie sy probleem nie. Sy het sekerlik iets of iemand. Êrens.
“Jou arm?”
Hy kyk op. Haar stem versteur sy gedagtegang. “Wat daarvan?”
“Dis … nie reg nie.”
Hy hou sy gesig uitdrukkingloos. “Dis nie jou probleem nie.”
Sy byt op haar lip. Gaan lê met haar rug na hom.
9
Sy slaap vir twee aande. Nagmerries laat haar uitroep by tye. Dante weet nie hoe om dit te hanteer nie. Wíl dit nie hanteer nie. Wil nie emosionele bystand verleen nie. Wil nie betrokke wees nie. Weet nie hoekom hy hom hierin begeef het nie.
Hy los haar alleen. Betree die reën besmette strate.
Mercer is nie net ʼn stad nie. Dis ʼn hele beboude kontinent. Die beter areas, hoër op (maar ook binne die meer eksklusiewe sones), het groenlande. Platforms wat blokke strek. Bebosde areas, hoog bo die strate waar hy nou amper doelloos loop. Sy kop probeer skoon kry. Geen aanduiding dat die reën gaan ophou nie. Die weer word gereguleer in sekere sones. Hier gee niemand om nie.
Hy maak ʼn draai by een van die Projekte. Soek deur die hope geskenkte klere vir iets wat hom en die meisie sal pas. Iets beter as wat hulle nou het. Wonder of hy dit moet waag om sy ou blyplek te besoek. Verwerp die idee. Iemand sal wag vir hom. Nie soseer vir die prys op sy kop nie, maar om gunste te verwerf van ander.
Hy neem ʼn paar bakkies met kos van ʼn vrou wat lankal nie meer mense in die oë kan kyk nie. Sy prewel iets wat moontlik betekenis gehad het. Dalk vir haar. Mens kan net soveel ellende sien in ʼn leeftyd voor jy net fokus op jou eie.
Voel die oë wat hom volg. Mense verdwyn uit die Projekte. Dis hoekom hy nie hier slaapplek kom soek het vir hom en Val nie. Orgaan-soekers is bekend om hier uit te hang. Op soek na mense wat min of meer gesond is. Selfs vir die sintetiese verbeterings aan mense. Enigiets kan reggemaak en verkoop word. Meestal sonder hulle toestemming. Mense hier is desperaat.
Dante stap vier blokke weg voor hy seker is hy word gevolg. Net twee.
Wag vir hulle. Die kos en klere veilig buite bereik op ʼn vullisdrom agter in die stegie. Die twee is beslis nie professioneel nie. Maak hulle gevaarliker. Hulle sal praat. Inligting het waarde. Meer so.
Hulle betree die stegie versigtig. Dante skuif agter die agterste man in. Sy keel oopgesny voor hy selfs besef iemand is daar. Dante stamp hom opsy. Die lem reeds teen die keel van die tweede man. Die man probeer terugtrek, maar vind homself teen ʼn muur.
“Weet jy wie ek is?” sis Dante.
“Nee,” fluister die man. Te bang enige beweging gaan sy einde beteken.
“Hoekom volg jy my?”
“Ons – ek – het nie. Ons het net …” Sy stem verdrink in die bloed wat nou vrylik vloei.
“Verkeerde aand, ou maat.” Dante laat die man afsak in sy laaste oomblikke. Vee die lem skoon.
10
“Ek moet iemand gaan sien,” sê Val. Sy is vars uit die stort. Waterregulasies laat net soveel water toe. Dante gun haar dit.
Haar oë rek wanneer sy hom sien. Hy kyk af na sy vuil klere. Die bloed. Hy het nie besef nie. Dankbaar hy is nie voorgekeer deur die Plaaslike Sekuriteit nie. Meestal gee hulle nie veel om nie. Maar daar is tye wanneer hulle ʼn geleentheid sal aangryp om van ʼn bietjie frustrasie ontslae te raak. Indien jy gelukkig is, beland jy in die selle ook.
“Dis nie myne nie,” sê hy. Hy wys na die klere en kos op die bed. “Kyk wat vir jou sal pas. Die kos is nie die beste nie, maar dis warm.”
Hy draai weg sodat sy kan aantrek. Sy eet in stilte. Hou hom onderlangs dop. Hy probeer sy klere skoonmaak. Gee op en kies iets uit dit wat hy saamgebring het. Eet sy gedeelte van die kos.
“Wie?” vra hy mettertyd. Keer terug na haar vraag.
“Iemand wat antwoorde kan gee.”
“Dis gevaarlik.”
“Jou vriend kan help?”
“Bertrand? Hy is nie my vriend nie.”
Sy kyk na die bakkie met kos. Hou op eet.
“Kyk vir my.”
Sy lig haar kop. Oë donker.
“Dis belangrik. Hy is nie my, of jóú, vriend nie. Moenie hom vertrou nie.”
“Hy het gehelp.” Daar is iets in haar oë. Net vir ʼn oomblik. Dan sink sy terug in ʼn kwesbare houding.
Dante skud sy kop. “Moet hom nie vertrou nie.” Hy kyk weg. Maar hy het gesien.
11
Dante spandeer die oggend om vervoer te soek. Die adres wat Val verskaf is te ver om heen te loop. Dis egter moeilik wanneer jy nie krediete het nie. En boonop probeer om nie raakgesien te word nie. Hy keer terug, onsuksesvol. Beweeg verby die vullis en mense wat in die gang sit. Word bewus van oë wat langer op hom rus. Dis tyd om te gaan. Hy druk die kode teen die paneel langs die deur. Dit skuif oop. Hy steek vas in sy spore.
Bertrand knik in sy rigting. Val sit op die bed en eet. “Selfs my oorskiet is beter as wat jy haar gee.” Sy stem is uitdagend. Neerbuigend. Moet ʼn verdere steek inkry. “Jy weet, jou besigheid doen beter sonder jou.”
“Ek kan nie onthou dat ek gevra het nie.” Dante se hand beweeg na die hef van die mes. Hy beweeg weg van die deur, verwag ʼn hakkejag. Niks gebeur nie.
Bertrand lig sy kop selftevrede. “Ek help net. Vervoer sal oor ʼn uur hier wees.”
Dante staar na die vloer.
12
Dis ʼn beter area as waar hulle nou bly. Skoner. Die ou paneelwa, ses wiele reeds maande verby vervanging, sleep deur die gemors oor die straat. Die dag is vaalgrys. Die reën minder. Meeste verkeer hier is bromfietse. Makliker vir die nou strate. Die paneelwa staan uit.
“Stop hier,” sê Dante.
“Dis nog ʼn vier blokke verder,” protesteer Val.
Sag: “Vertrou jy my?”
Sy knik, onseker.
“Ons is terug oor ʼn uur,” sê Dante aan die bestuurder. Beter as ʼn voertuig met ʼn KI. Moeiliker om elektronies gevolg te word. En hy oorweeg nog of hulle wel gaan terugkeer. Hy hou nie van die man se oë op hulle nie.
Hulle stap in stilte. Die prag van neon versteek nie die verval nie. Roes oor die metaalstrukture meer opsigtelik. Verf wat afdop. Vuil vensters wat kilometers opstrek. Die ligte brom van meganiese skoonmakers oor die loopvlakke in hulle nimmereindigende taak, word uitgedoof deur die lugweë kilometers bo hulle. Lugvervoer is skraps hier onder. Net die Plaaslike Sekuriteit wat af en toe verby dobber. Die PS wil nie noodwendig hulle mooi, skoon uniforms vuilmaak nie. Hulle is iets meer as net plaaslike Polisie. Iets minder as ʼn plaaslike Militêre mag.
Dante hou een van hulle dop uit die hoek van sy oog. Flitsende ligte. Bewus hulle skandeer die omgewing. “Moenie opkyk nie. Loop net rustig,” sê hy. Soos die ander mense doen. Hy hou sy asem op. Die voertuig lig hoër. Draai en verdwyn tussen die geboue.
Val lei hom na ʼn area waar die geboue die loopvlakke meer wurg. Winkeltjies is ingeryg aan weerskante, enigiets van kos tot hardeware tot plesier. Neon buisligte het meestal hologramme vervang vir die daglig. Hulle kan die swaar vragskepe hoor donder verder weg na die ruimte hawens met hulle kilometers van skure.
“Daar,” beduie Val. “Een en twintigste vloer.”
Dante beskou die gebou. “Is hierdie iemand wat weet van jou?”
“Jy kan so sê.”
“Wat weet hoekom hulle jou soek?”
Sy sê niks.
“Ek moet weet hoe om dit te benader. Die mense wat jou wou doodmaak kan weet van die persoon. Die plek dophou.”
“Nee. Hulle weet nie.”
“Seker?”
Sy staar net na die ingang.
Hy kyk rond. Dis moeilik om te sien of iemand aandag gee aan hulle. Reeds baie beweging tussen die geboue. Werksmense. Robotte. Afleweringsbussies. Bendes wat rond slenter.
Die hysbak werk. Die binnekant van die gebou is oud. Maar skoon. Die gange nie vol mense wat plak nie. Dante aktiveer die paneel langs die deur om die bewoners se aandag te kry. Geen antwoord. Hy kyk rond. Min mense in die lang gang. Hy bestudeer die paneel. Dis ʼn ouer model. Nie so moeilik om om dit te werk nie. Die deure skuif oop.
Dis die reuk wat hom onmiddellik vertel. Hy hou ʼn hand uit na Val.
“Wag eers.” Hy stap stadig na binne. Die binnekant is in skemerte gehul. Niemand spring uit nie. Niemand skiet op hom nie. Sy hand is natgesweet om die hef van die mes. Dis onnodig. Die boodskap is reeds gelewer.
Hy staar na die muur.
Val se asem ruk agter hom.
Hy swaai om, gryp haar vas met sy goeie arm. Druk haar gesig teen sy bors. “Dis nie nodig om te sien nie. Gaan uit.”
Sy stoei teen hom, draai haar gesig om te sien.
Die oopgespalkte liggame teen die mure.
Industriële spykers wat hulle ledemate vaspen.
Bloed.
Soveel bloed.
13
Dante gee haar ʼn oomblik. Sy weier om weg te kyk. Gaan sit op die vloer en staar na die muur. ʼn Ouer man en (seker) sy vrou. Dit kon nie maklik wees nie. Dis duidelik hulle het nog geleef tydens die ophang. Hulle het baklei.
“Ons moet gaan,” sê hy sag.
Sy staan op. Rooi oë staar onsiende deur hom. Iets verander in haar. Sy vee haar oë droog. Haar oë verdonker. Letterlik. Hy kyk weer. Het die lig net snaaks geval?
“Die bloed is nog nie heeltemal droog nie,” sê hy. “Hierdie het onlangs plaasgevind. Hulle wag. Het moontlik iemand as uitkyk.” Waarin het hy homself begewe?
14
Dit voel of almal na hulle staar. Asof almal weet. Dante probeer opmerk wie méér aandag skenk aan hulle. Daar is nou meer mense in die gang. Staan rond. Gesels stilweg. Argumenteer. ʼn Man stamp twee jongmense weg van hom. ʼn Transaksie wat verkeerd geloop het. Dwelms. Meganika. Die twee het dieselfde effek op die ou einde. Kinders wat huil. Dis asof die hele gang skielik lewe.
“Brandtrappe,” sê Dante, trek Val in daardie rigting.
Bene brand. Sweet laat hulle klere klou. Die reën aan die buitekant gee effense verligting. Te veel oë. Te veel mense. Dante lei haar deur verskeie stegies. Ompad terug na hulle vervoer.
Daar is mense om die paneelwa. Dis nie PS nie. Geen uniforms of flitsende ligte nie. Maar iets is nie reg nie. Hulle probeer te hard.
“Wag,” sê Dante, dringend.
Val het heelpad kop onderstebo geloop. Let nou op. “Miskien is dit niks.”
“Miskien,” sê hy, glo dit nie. “Maar ons gaan nie kanse vat nie.” Hy merk reeds drie uitkyke. Is hulle hier vir haar? Of hom?
Hy vat haar hand, draai na regs om tussen mense in te verdwyn. Geen uitroepe. Maar Dante voel die verandering om hom. Oë is nou regtig op hulle. Die skare om hulle bied skuiling. Vir die oomblik. Hy lei Val dieper in die rumoerigheid in. Dis besig op en om die loopvlakke. KI taxi’s trein langs ʼn sypad. Val trek aan sy nuttelose hand na een van die taxi’s. Sy haal ʼn kaart uit haar sak. Betaal vir die rit.
“Ek het geld,” antwoord sy sy stille vraag.
“Hulle sal jou uitken. Die transaksie volg.”
Sy skud haar kop.
Hy het nie ʼn keuse nie. Moet vertrou vir nou. Die taxi neem hulle ʼn blok weg van hulle slaapplek. Hulle klim stadig uit. Staar na die straat. PS voertuie op die grond. Twee hang in die lug.
Dante se lippe pers saam. Bertrand. Hy is seker. Een van die lug-voertuie dryf nader. ʼn Soek-laser spies in hulle rigting. Hulle het beslis vir hulle gewag. Uitkenningsprotokol in plek. Bevele oor die eksterne komm. Moenie hardloop nie. Moenie iets dom doen nie. Sanksies wat sal volg. Die gewone. Maar net aan hom.
“Verdwyn,” sis hy aan Val. Hy draai om, hardloop. Hou die aandag op hom. Dis moeilik met die slap arm. Gooi sy balans af. Maar hy maak goed genoeg vordering voor ʼn skok-net hom omvou. Die elektriese lading ruk deur hom, dryf hom grond toe. Hy lê en ruk magteloos.
Dante verwens sy hulpeloosheid. Hoop en vertrou Val sal hier uitkom.
15
Agt mans en ʼn vrou in die sel saam met hom. Dante voel die mense wat hom soek, gaan hom nie voor ander mense laat uithaal nie. Maar glo ook nie dit gaan hulle stop nie.
Die vrou in die sel is ʼn prostituut. Haar kleredrag – deursigtig – ʼn duidelike aanwysing. Een van die mans druk haar in ʼn hoek. Raak vatterig. Sy probeer hom afweer, maar hy het gewig aan sy kant.
Dante kyk weg. Hy moet hier uitkom. Vinnig. Hy wonder oor Val. Strek hom uit op die bankie waar hy sit. Draai sy kop na die muur.
16
Hy het geleer om te slaap wanneer hy kan. Was in genoeg situasies.
Twee dae.
Mense wissel.
17
Derde dag.
ʼn PS lid vergesel Dante na die ablusieblok.
“Ek weet wie jy is,” sê hy.
Dante se maag draai.
18
“Dis net ek en jy,” sê die man wat die vrou voorheen geteister het..
Dante is onmiddellik wakker, draai om. Word van die bankie afgetrek. Die man is groot, probeer hom oplig aan sy klere. Hy weet presies waar om die man te slaan om hom te neutraliseer. Berei hom voor daarvoor. Net een taal geld. Geweld. Dante sien dit in sy oë. Dieselfde oë wat skielik vergroot in verbasing. Hy ruk onbedaarlik, laat Dante val. Sak op sy knieë. Die PS lid staan oor hom met ʼn aktiewe skok-knuppel in die hand. Hy wys na Dante.
“ʼn Woord?”
Dante volg hom uit die aanhoudingsel. Drukking in sy bors. Gaan dit nou gebeur?
Die hoofarea is verdeel in verskeie werk spasies met ʼn oop binnehof. Verskeie holo-skerms proklameer data en nuus. Vyf PS lede drom saam voor die hoofskerm. Verskeie berigte oor ʼn massiewe brandende gebou.
“Dis buite ons kwadrant,” sê een, klink teleurgesteld. “Ondergrondse eksperimente. Letterlik ondergrond. ʼn Laboratorium of iets wat gesaboteer is.”
Een draai na hulle. “Lee? Hoe ver is daardie stelsel opgraderings?”
Die PS lid saam met Dante lig ʼn hand. “Nog ʼn paar uur.”
“Dit is al vier dae.”
“Ek doen my beste,” protesteer hy, nie baie oortuigend nie. Hy vat Dante aan die skouer. “Kom.” Dante word gelei na die ander kant van die area met ʼn lang gang van onderhoudkamers. Hulle beweeg in die gang af. Lee klop aan die vyfde een aan die linkerkant. Vreemd. Hoekom klop hy? Hy hou ʼn hand op na Dante. Gemoedelik: “Moenie moeilikheid maak nie. Reg so?”
Dante knik.
Die deur gly oop na die man sy hand teen die paneel druk. Dante word na binne gedruk. Gaan staan verward. “Val?” Hulle het haar ook?
Sy sit terug op een van twee stoele in die vertrek. ʼn Metaaltafel tussen hulle.
“Sit,” sê Lee. “Ons het ʼn paar dinge om te bespreek.”
19
“Laat ek mooi verstaan,” Dante trek sy hand deur sy hare. “Hy het jou hierheen gebring.”
Val knik. “Ja.”
“Hoe het hy jou gekry?”
“Lang, ingewikkelde storie,” sê Lee. Leun teen die muur. Maak ʼn verontskuldigde gebaar. “Jy het nie vriende in die stad nie. Dis hoe jý hier beland het. Iemand het jou opgegee. Met dit as grondslag, was dit maklik om haar op te spoor.”
Dante se oë vernou. “Wat nou?”
Val krap in die rugsak by haar voete. Haal ʼn plat houer uit. Skuif dit oor die tafel. “Maak oop.”
Hy maak die houer oop. Binne is ʼn plat meganisme, niks groter as sy handpalm nie. “Wat is dit?”
“Wat jy ook al besluit, ek gun jou ten minste dit.”
Hy gee haar ʼn vraende kyk. “Besluit?”
“Vertrou jy my?”
Sy eie woorde aan haar. Hy knik.
“Hy kan help. Ons het so bietjie gesels. Vir nou, aktiveer dit.” Sy knik na die meganisme.
Hy werk die naald uit die wysvinger van sy nuttelose arm. Gee haar weer ʼn vinnige kyk. Konnekteer met die meganisme.
“Dit gaan dalk ʼn rukkie neem,” sê Val. “So daar is iets wat ek met jou moet deel.”
Dante kyk na Lee. Weet nie wat om van die situasie te maak nie.
“Ons het so bietjie tyd,” sê die PS lid.
“Ek was nie heeltemal eerlik met jou nie,” sê Val.
“Jy het eintlik niks met my gedeel nie.”
Sy kou haar lip. “Jy’s reg. So hierdie is belangrik.”
Dante kyk weer na Lee.
“Ek weet ook nie,” sê Lee met ʼn skewe glimlag. “Maar is nuuskierig.”
“Ek het jou nie gevra nie.” Dante voel of niks sin maak nie. “Goed dan. Ek luister.”
Deel II: Valerie
1
Bloed.
Soveel bloed. Teen die mure. Die vloer.
Liggame. Die wit oorpakke nou rooi. Die ou man wat in die hoek sit, sy arms omhoog. Geskok. Bloed oor sy bril.
Nie sy eie nie.
Die koue metaalvloer is taai onder haar kaal voete. Los rooi voetspore. Nat en klewerig. Die deur wil nie oopgaan nie. Sy beskou die dik metaal vir ʼn oomblik. Dan staan sy aan die anderkant.
Net so.
Sy struikel. Begin hardloop.
Alarms verdoof haar.
Rooi flitsende ligte hoog teen die plafon verblind haar.
ʼn KI se stem wat orde probeer roep. Instruksies gee aan sekuriteitspanne. Verkondig haar posisie en vordering. Deure aan beide kante van breë gange. Laboratoriums, weet sy. Die massiewe deure aan die einde van die gang voor haar rammel oop. Tien, vyftien mense in swaar gevegsuitrustings. Gesigloos agter helms. Wapens wat vinnig in haar rigting lig. Twee sekuriteit robotte. Oorblyfsels uit die Oorlog.
Sy staan stil. Wag. Hulle val nie aan nie. Hulle wil haar lewendig hê. Die eksperimente is nie afgehandel nie. Die ou man het so iets gesê.
Hulle het hulle misgis, weet sy. Nie geweet wat die uitkoms gaan wees nie.
Die twee robotte beweeg vorentoe. Dun ledemate. Multifunksionele arms. Blikstemme wat bevele gee. Koppe glad. Die neutrale geel streep waar ʼn mens se oë sou wees, gloei stadig na rooi.
Sy wag vir hulle. Instinktief.
Vier meter van haar af, lig sy haar arms. Haar hande en voorarms verdonker tot dit pikswart is. Sy voel die binnekant van die masjiene. Ruk dit uitmekaar. Stukke val in ʼn reënboog van elektriese ontlading teen die mure.
Dis die teken vir die ander. Hulle staan reeds skouer aan skouer. Wapens spat plasmastrale. Haar vingers sper oop. ʼn Vae, swart mis spring op voor haar. Die dodelike energie verdwyn daarin.
Dan staan sy agter hulle. Haar hande sink weg in die agterkoppe van twee. Hulle koppe bars oop binne die helms. Sy beweeg soos ʼn weerligstraal tussen die oorblywende mense. Dit neem minder as drie sekondes vir die slagting.
2
Sy is naar. Slegte smaak in haar mond. Haar kop voel of dit met wol gestop is. Alles gebeur te vinnig.
Maar.
Dit is so maklik. So natuurlik. ʼn Lewe beteken skielik niks vir haar nie.
Maak haar bang. Dis nie wie sy is nie.
Wat het hulle aan haar gedoen?
Sy begin die springery onder beheer kry. Die wêreld verdonker. Verhelder wanneer sy op ʼn ander plek – uitstap. Spring.
Sy spring weg.
Weg.
Weg.
Die stad is so groot. Dit druk neer om haar. Maak haar angstig. Sy moet weg kom.
3
Sy sit in ʼn hoekie tussen geboue. Die neon van die stad is te veel. Te helder. Die aaneenlopende geraas. Mense. Voertuie. Dit steek deur haar kop.
Kan nie dink nie.
ʼn Naam. Val. Valerie. Dis iets.
Die mense om haar. Half masjiene. Kosmetiese veranderinge. Sommige wat gebou was vir oorlog. Sy sien dit alles. Verstaan dit alles. Maar dis nie sy wat dit verstaan nie. Iets anders. Iets in haar. Iets wat hulle in haar gesit het. Dit neem kennis van alles. Wat sy nie sien nie (maar voel sy moet), is die mense wat van nature anders is. Daardie mense wat swaartekrag manipuleer. Elemente. Natuur. Ander mense dinge laat doen.
Die Vyand.
Na-kaai.
N’kai, sê haar eie stem. Sy ken die naam. Sy weet van hulle. Nooit regtig aandag gegee nie. Nou brand iets in haar om hulle te vind. En dan? Sy is nie seker nie.
Maar eers …
4
Die ou man. Hy was daar van die begin af. Dis maklik om haar pad terug te vind. Sy sit op ʼn afstand en kyk hoe hulle skarrel in en om die gebou waarvandaan sy ontsnap het. Die laboratoriums. Sy weet hy is steeds daar. Kan hom voel. Volg hom wanneer hy die gebou verlaat. Hy huur ʼn lug-voertuig. Sy verloor hom twee keer.
Maar sy leer. Vinnig.
5
Die ou man stap stadig sy studeerkamer binne. “Ek weet jy is hier. My vrou slaap. Ek wil nie hê sy moet weet nie.” Hy praat in ʼn sagte stem. Sy hande bewe. Vrees duidelik oor sy gesig. Sweet plak sy yl hare teen sy kop. “Sy is onskuldig. Weet van niks. Los haar. Ek smeek jou.”
Val word sigbaar waar sy op een van die gemakstoele sit. Sy leer meer elke oomblik. Uitdagend. Sarkasties selfs: “En jy is steeds hier. Is jý nie bang nie?”
“Ek is.”
“Maar jy vlug nie? Kry nie jou familie uit nie?”
“Sou dit help?”
Sy tuit haar lippe. Sy weet nie hoe om te voel oor hierdie nuwe insig nie. Vrees. Respek. Daar is ʼn dun lyn.
“Wat het julle aan my gedoen?”
“Gaan jy my doodmaak?”
Sy lag sag. “Hoekom? Jy is dan die een wat my vryheid gebied het.”
Hy gaan sit op die ander stoel, gesig in sy hande. “En kyk wat het jy gedoen. Soveel dood.”
Sy woorde ruk deur haar. “Ek wou nie,” sê sy sag. “Ek weet nie …”
“Ek weet. Ek weet. Dis nie regtig jou skuld nie. Jy weet nie eens wat jy is nie.”
Wat jy is nie. “Jy weet?”
Hy skud sy kop stadig. “Nee.”
Sy herhaal: “Wat het julle aan my gedoen?”
Hy haal sy bril af. Sy gesig nat. “Ons het nie geweet dit gaan so uitdraai nie. Dit was ʼn beheerde eksperiment.”
Sy sit vorentoe. Draai haar kop skeef. Die aantyging swaar tussen hulle.
“Ek weet!” Hy sak weer sy kop in sy hande. “Ek sal graag wil sê ek was teen dit, maar …”
“Hoekom?”
Hy antwoord nie.
“Hoekom!?”
Hy ruk orent. Oë groot. Sy lippe bewe. Hy stort dit uit. “Hulle het ʼn skip – ʼn wrak – ontdek op een van die buite kolonies. Nie mensgemaak nie. Daar was ʼn liggaam. Niks wat ons nog ooit gesien het nie. Die Babel KI het ʼn lys van mense verskaf wat latente DNA groeperings bevat wat … geskik is.”
“Die Babel KI? Geskik? Geskik vir wat?”
Hy draai sy gesig na haar in antwoord.
“Dis belaglik!” Sy vryf haar vingers deur haar hare. Sy voel koud aan die binnekant. Probeer dink. Sin maak. “Die Babel KI. Dis ʼn storie.”
“Dis nie ʼn storie nie.”
Sy frons. Staan op. Stap op en af. “Daar is ander mense? Soos ek?”
Hy knik, gepynig. “Nog in verskeie stadiums van ontwaking. Jy is … uniek.”
“Hoekom?” Woede brand deur haar. Sy voel dit in haar reageer.
Hy hou sy hande op in vrees, wys vir haar om te sit. Skuif sy bril reg. “Twee vrae wat jy daar vra. Eerstens, ons het ʼn gebeurlikheidsplan nodig vir N’kai. Jy verstaan dit. Ons het entiteite daarbuite wat ʼn stad kan verwoes binne minute. Wat oorlogskepe kan vernietig. Wat is ons kanse teen hulle?”
Sy snap. Haal diep asem. “Dis wat die Babel KI doen.”
Hy knik weer. “Dit moet onafhanklik funksioneer. Afgesonder. Versteek.”
“Nie alle N’kai is sleg nie.” Sy onthou stories.
“Hulle is roofdiere. Hulle natuur tel teen hulle. Hulle geskiedenis. Die risiko faktor is te groot.”
Haar uitdrukking verhard. “So nou maak julle ander soos hulle.”
Hy kyk weg. “Dis een gebeurlikheidsplan.”
“Ek wil nie deel wees hiervan nie.”
“Ek weet. Dis hoekom jy moet vlug. Hulle gaan jou jag.”
Sy staar na haar voete. “Hoekom doen jy dit?”
“Ek is goed met wat ek doen. Maar ek verkies om eerder in die nanotegnologie veld te werk. Dis my passie.”
“Jou werkgewers voel anders.”
Hy haal sy skouers op, staan op om ʼn kluis oop te maak. Hy maak ʼn plat houer oop. Wys haar die inhoud. “Die meganisme bevat nanotegnologie wat enigiets elektronies, enige masjien kan regmaak. Vind die fout. Korrigeer dit. Dis wat ek doen. Maar die Families, die Korporasies, wil dit nie hê nie. Soms is ʼn oplossing nie die oplossing nie. So. Wat word ek versoek om te doen? Menslike wapens te maak.” Hy skud sy kop. Sit die houer weg. “Dis wat ek gaan nalaat.”
Sy dink diep. “Wat is die tweede vraag?”
“Hoekom ek jou gehelp het.”
“Hoekom?”
“Dis wat ek wil nalaat. ʼn Lewe. ʼn Verskil.”
Sy staar hom aan. “Dit maak jou nie ʼn beter mens nie,” sê sy bitter.
Hy het vergifnis verwag. Teleurgesteld sê hy: “Jy moet gaan. Hulle het hulle eie gebeurlikheidsplanne in plek.” Hy vroetel ʼn skyf uit sy sak. Hou dit uit na haar. “Daar is genoeg krediete op om jou van die planeet af te kry. Gaan.”
“Hulle kan my nie stop nie.” Sy neem dit in elk geval.
Hy vou sy arms styf om sy lyf. Wieg op die stoel. “Hulle kan.”
6
Sy word basies by die deur uitgestoot. Voel hy verlig? Voel hy hy het homself nou regverdig? Verontskuldig? Sy boete betaal? Sy staan in die gang vir ʼn oomblik. Wonder of sy moet teruggaan. Wat het hy bedoel? Wie gaan haar stop? Sy steek ʼn hand uit na die deur. Haar vingers verkleur swart. So maklik.
Sy voel oë op haar. Maar mense staar nie. Nie meer as gewoonlik nie. Wil nie betrokke raak nie. Sy sak haar kop, voel ontbloot deur die helder buisligte aan die plafon. Stap na die hysers.
7
Sy loop doelloos. Probeer sin maak. Vier blokke weg snak sy na haar asem. ʼn Pyn steek deur haar kop. Alles word donker om haar. Sy leun teen die venster van ʼn restaurant. Ignoreer die mense binne. Die wêreld keer stadig terug. Die stad se geluide. Dof vir eers, maar dan met meer helderheid en klaarheid. Ligte nou té helder. Haar oë pyn agter in haar kop. Haar ore suis.
Hallo dogtertjie.
Sy kyk rond. Niemand gee aandag aan haar nie. Die stem tog so helder. Haar kop draai. Vertigo. Sy gaan sit plat op die grond. Wat is aan die gang?
Jy moet belangrik wees. My werkgewer (die gedagte kom deur as Meester) is nie goedkoop nie.
“Wie is jy,” vra sy, praat met haarself.
Die stem ignoreer haar. Kom ons kyk wat maak jou so spesiaal.
Die pyn deur haar kop verskerp.
Telepaat! roep iets in haar uit. Daardie iets in haar wat hulle daar gesit het. ʼn Donker skaduwee. Dis eintlik meer die gedagte dat dit ʼn telepaat is wat deurskemer. ʼn Fluister. Maar daardie fluister is vreesbevange.
Iets, iemand, anders ook in haar kop. Die stem van vroeër. Vroulik. Grawe. Soek.
Vind.
Daardie iets in haar veg terug.
Vinnig.
Brutaal.
Die vrou in haar kop skreeu. Onttrek. Vlug.
Keer oombliklik terug.
Sag. Versigtig. Met haat.
Ek weet nou waar jy is.
8
“Aanval of iets gekry.” “Goedkoop hardeware. Haar brein moontlik gekook.” “Nie haar tipe hier nodig nie.” Iemand gee haar tog ʼn glas water.
Valerie kyk op. Kyk rond. Sy sit op rooi vals leer in ʼn eethokkie. Binne die restaurant. Sy voel so – geskend. Vuil. Binne haar kop. “Ek moet hier uitkom,” sê sy sag. Wonder hoe lank sy al hier sit. Niemand luister nie. argumenteer eerder met mekaar. Te veel mense. Te veel lawaai.
Hulle is oppad!
Sy strompel deur die mense. Stamp haar pad oop. Die teorie van ʼn wanaanpassing van verbeteringe aan haar, kry meer steun. Niemand het simpatie met foutiewe aankope nie. Belangstelling kwyn. Die reënerige straat is ʼn verligting. Sy gooi haar kop op na die nag. Laat die reën haar afkoel. Hoe lank?
ʼn Hand op haar skouer.
Hallo poppie
Haar brein skakel af.
9
Vae beelde. Pyn. Hulle is hardhandig. Skop haar. Sy krul op. Probeer haar maag beskerm. Hande agter haar rug vas. Hoor branders. Sy word deur die water gesleep. Kan nie wegspring nie. Die Telepaat is nog naby. Verhoed haar.
10
Dis moeilik om die vaartuig te probeer loods terwyl sy vasgebind is. Sy is in skok.
Die man wat amper deur die bodem val van bo, bring vrees.
Dan hoop.
11
Wanneer Dante neersak onder die skok-net, verdwyn sy tussen die mense in. Niemand kyk tweemaal na haar nie. Dante word aggressief hanteer na die skok-net afgeskakel word. Arms agter sy rug gegespe. Hy hou sy kop laag, maar sy weet hy probeer kyk waar sy is. Sonder om haar weg te gee. ʼn Gevangeniswa land in die pad. Mense drom saam om te sien. Hy word hardhandig agterin geboender.
Wat nou?
Maak seker sy is heeltyd tussen mense. Sy weet sy kan nie hierdie alleen doen nie. Sy kan verdwyn, maar kan sy oorleef? Die telepaat insident het haar laat besef hoe kwesbaar sy is. Ten spyte van die nuutgevonde magte. Die ding in haar. Dit druk heeltyd. Voel of dit wil … oorneem. Sy baklei daarteen.
Alleen, gaan sy dit nie maak nie.
Sy vind haarself weer in die omgewing van die ou man se blyplek. Sy oorweeg. Daar is steeds nie ʼn PS teenwoordigheid nie. Die hyser se deure skuif oop. Sy verstaan die risiko. Nou. Maar sy weet ook tyd is nie in haar guns nie. Sy stap so gemaklik moontlik na die deur van die ou man se eenheid. Voel oë op haar, maar maak of sy nie bewus is nie. Sy gaan soos Dante moet dink. Want sy moet oorleef. Weet sy het reeds ʼn besluit geneem oor hom.
Die deur skuif oop. Wat Dante ook al gedoen het, het die gewone sekuriteitstelling afgeskakel. Sy laat dit weer toeskuif agter haar. Die reuk. Die liggame. Sy neem alles in. Die pyn wat hulle moes deurmaak. Die bloed. Urine. Die reuk van feses. Dood is nie mooi nie. So … menslik. Sy wil elke stukkie onthou. Elke oomblik. Brand dit in haar geheue vas. Druk teen die ding in haar wat haar menslikheid probeer onderdruk.
Sy was haar gesig in die badkamer.
Kry ʼn rugsak. Haal die ou man se werk uit die kluis. Dis maklik wanneer jy nie deure hoef oop te maak nie.
Gaan sit agter die lessenaar in die ou man se studeerkamer.
Wag.
12
Die deur skuif oop by die ingang. Geen steekpyne deur haar kop. Dit was ʼn kans wat sy moes neem. Hulle deursoek die eenheid. ʼn Man en ʼn vrou betree die studeerkamer. Beide gewapen.
“Hallo,” sê Val. Net twee? Sy voel beledig.
Die man se oë soek onmiddellik na enige wapens. Sien niks. Hy skuif na links om uit die vrou se lyn van vuur te staan.
“Ons sal verkies dat jy saamwerk,” sê die vrou. “Ons het ʼn verdere dertien mense buite. Jy kan nêrens gaan nie. Kom saam en alles sal uitwerk.”
“Ek het ʼn vraag,” sê Val, draai haar kop skeef asof sy ʼn probleem oorweeg. “Het enigeen julle die rede gegee vir al hierdie?”
“Maak nie saak nie,” sê die man. “Ons hoef nie te weet nie.”
“Dis jammer,” sê Val sag.
Teen die tyd dat hulle besef, is dit te laat.
13
Dit neem langer as wat sy verwag het. Agtien vloere nog ondergrond ook. Baie mense. Die Ding in haar het ʼn gevoel vir die res van dit-sélf. Val vernietig wat sy kan. Laat die res brand. Hulle sal weer laboratoriums oprig. Weer voortgaan met eksperimente. Maar dit gaan nie maklik wees nie.
Deel III: Lee
1
“Werk dit?” vra Val
Dante beweeg sy linkerhand. Hy voel hoe die krag terugvloei. “Dis ongelooflik!” Maak die hand oop en toe. Selfs die gevoel is terug. Hy voel om te dans. Te sing. Om ʼn bakleiery aan te stook. Dante glimlag. Dan lag hy.
Dit verander alles.
Alles!
2
Lee vou sy arms. Fluit deur sy tande. “Ek kan julle van die planeet afkry. Voorwaardelik.”
“Jy gaan eers so bietjie moet verduidelik,” sê Dante.
Lee sug diep. “Kort storie?”
“Asseblief,” sê Dante. “Ons het seker nie baie tyd nie.”
Lee knik. “Ek is die tegnikus hier. Hulle dink ek weet nie veel nie. Dis hoekom ek ablusie-diens kry. Meestal. Hulle is verkeerd.”
“Kort storie,” herinner Dante hom.
“My – uh – ander werkgewer waardeer jou talente. Ten spyte van jou onlangse probleme. Terugslae. Jy hou jou kop laag. Ken die smokkelroetes. Weet waar om te druk.”
“So jy werk nie regtig vir die PS nie.”
“Ek is óók ʼn PS lid. Gelukkig vir jou. Want jou besonderhede na arrestasie het – wel – weggeraak. Tegniese probleme, jy weet?” Hy knipoog dramaties. “Hou ander oë weg vir nou.”
“Dankie. Maar?”
Lee het meer prys verwag. “Ek moes eintlik myself hier inwerk, opwerk, sodat ons oë en ore het in die PS.” Hy wys ʼn vinger na Dante. “Het jy geweet daar is baie passiewe visuele kontrolering deur die stad? Ek het julle vinnig opgetel. Ná jou vriend jou opgegee het. Ek dink hy wil deel in jou eertydse netwerk.” Hy glimlag breed. “Ek is régtig goed.”
“Maar?”
Lee sug. Sy talente verseker ongewaardeer. “Ek moet hier uitkom. Hulle het iets opgetel. Vertrou my nie meer so baie nie.”
“So, jy is nié so goed nie.”
“Beter as baie,” sê hy uitdagend. “Nou dat ek verstaan wat háár situasie is, is dit die moeite werd om julle ʼn aanbod te maak.”
“Daar is mense wat haar soek. Mense met toegang tot telepate. Ons praat van mense met verhoudinge wat hoog strek. Moontlik so hoog as die Families.”
Val luister stilweg. Waardeer dat hy haar nie ʼn monster uitmaak nie.
“Is jy nie bang nie?” gaan Dante voort, knik in Val se rigting. “Na wat ons nou gehoor het?”
“Is jy?” kap Lee terug. So bietjie manhaftig.
Dante glimlag vir Val. “Nee. Ek is nie.”
Sy glimlag. Ontspan. “Maar my omstandighede bly tussen ons,” sê sy beslis.
Lee gee vinnig in. “Aanvaarbaar. Ons het ook reeds ʼn plek in gedagte vir die begin van die nuwe besigheid. Bietjie afgeleë. Maar –” Hy begin lugkastele bou.
Dante vat Val se hand. “Dankie. Jy het my hoop gegee. En lewe.” Hy rol sy oë in Lee se rigting. “Hierdie kan werk. Dan gaan ons alles in ons vermoë doen om jou te help.”
Epiloog
1
Kincaid sidder. Die herberg is nie eens dít nie. Niks meer as ʼn struktuur van sink met houtbankies nie. Maar die kos en tuisgemaakte drank is uit die boonste rakke. Hy weet. Hy en Clarisse was bekwame eienaars van ʼn bekende reeks restaurante voor hulle by die koloniste aangesluit het. Finansiële redes. Uitbreiding te groot. Te vinnig. En die finansiële verskaffers het ʼn manier om redes op te hoop. Rente. Kostes. Administrasie. Jy kan nie bybly nie. Dan kom iemand een aand en skud jou so bietjie rond. Betas jou vrou terwyl jy hulpeloos toekyk.
Tyd om te gaan.
En nou sit hy met dieselfde probleme. Hier in die middel van nêrens. Daar is altyd iemand wat net nie iets vir hulleself kan doen nie. Moet parasiteer op enigeen wat werk en sukses behaal. Hy het regtig gedink dit gaan beter wees hier. Nuut begin. Sekerlik gaan almal saamwerk om dit te maak werk?
Die vyf mans gooi tafels om. Stamp mense rond. Soek ‘sekuriteit’ teen sulke (hulle eie) optredes. Wat Quintin weier. Hierdie is mans wat as sekuriteit saam met die koloniste hier aangeland het.
Hulle bereik die tafel van die nuwe aankomelinge. ʼn Jong meisie en twee mans. Die mans lyk of hulle gevaarlik kan wees. Daar is ʼn houding daar wat hy ken.
2
Dante sit die beker opsy. Hy wil dit regtig nie mors nie. Dis beter as enigiets wat hy die afgelope ses maande oor sy lippe gehad het. Moontlik beter as enigiets die laaste ses jaar, noudat hy daaraan dink. “Luister, ons is moeg en honger. Gaan speel buite. Asseblief?”
Die man is nie in die bui vir ordentlikheid nie. Swaai ʼn vuis. Dante vang dit in sy linkerhand, so sittende. Die man se tirade verdamp. Ongeloof. Dante staan op. “Ek het mooi gevra.” Die beentjies in die man se hand kraak. Hy laat sy ongemak luidkeels uit. Sy vriend, een met ʼn rou meganiese arm, draf nader om hulle te wys hoe dinge werk. Lee staan rustig op. Skiet sy oor af. Ander mense val vinnig plat. Die man vat-vat aan sy bloeiende kop. Die res neem ʼn oomblik om sake te heroorweeg.
“Die restaurant,” Dante lig ʼn wenkbrou in Kincaid se rigting.
“Kincaid’s,” sê hy vinnig
“Kincaid’s is onder ons beskerming. Laat almal weet. Hier sal geen bloed vloei nie. Tensy iemand dit soek.”
“Of benodig,” sê Lee.
Dante knik. Hy skop die man weg van hom. “Medies is daardie kant toe. Tensy jy meer mediese behandeling binnekort wil benodig?”
“Die Gereg sal hiervan hoor,” sê die man, nors. Hy het sy lip stukkend gebyt van die pyn. Hou sy hand styf teen sy bors.
“Goeie idee. Ek neem kennis.” Dante haal ʼn metaalskyf uit sy sak. “Ek is nuut aangestel. Verteenwoordig die Kantoor van die Gereg hier. Die proseswerke reeds aan die Alliansie gestuur.” Hy knipoog. “Jou broer gaan jou nie meer beskerm nie.”
Die restaurant is stil terwyl die mans hulle gewonde kollegas weghelp.
“Ek het hulle nie betaal nie. Ek gaan julle nie betaal nie,” sê Quintin. “En daar is geen proseswerke na die Alliansie nie. Jy weet dit.”
Dante lag. Sag: “Maar hulle weet dit nie.” Hy klap Quintin op die skouer. “My vriend, ons het ʼn proposisie vir jou. En al wat ons vra is ʼn tafel in die hoek en iets om te eet en drink.” Hy hou ʼn hand op. “Waarvoor ons sal betaal. Ek was ernstig oor die sekuriteit. Sien, ons is in die invoer en uitvoer besigheid. Het ʼn stil plekkie nodig om te – dink. Te beplan. Jy gaan selfs voordeel trek hier …”
-Ω-