JOU SONKOL: WAAR WIL JY STAAN AS SKRYWER?

3 Oktober 2014
© dr. François P. Verster

François se foto - Afrifiksie & ThompsonBoekeSommige skrywers is net geïnteresseerd in hulle eie werk, en selfs net in skryf, skryf, skryf – die aktiwiteit, nie die begrip in sy wyer wese nie, nie hoekom mens dit doen of hoe jy dit beter kan doen nie. Hulle ploeter net aan, oogklappe styf vasgetrek, die middelpunt van hulle eie bestaan.

Dit kry mens by skilders ook, so dis seker ’n kenmerk van kreatiewes – hierdie vreemde kortsigtigheid. Of dan minstens ’n kenmerk wat genoeg voorkom om as sulks geïdentifiseer te word. En so doen mens dan selfondersoek: Wat is my eie ingesteldheid? (En skrywers behoort, meer as meeste mense, introspektief te wees: jy ondersoek mos die wêreld om jouself te verstaan en andersom?).

In dié opsig is ekself dankbaar om ’n uitsondering te wees – helaas ’n uitsondering, want dié tipe dierasie, die kunssinnige wat ontleed en bepeins, is skynbaar redelik skaars. So asof baie skeppende mense vrek bang is iets van buite af ontspoor of beïnvloed hulle – hulle oorspronklikheid word dalk besmet en kwyn, verdwyn selfs.

Daarom is ek altyd bly om mense te ontmoet wat ook belangstel in kunsvorme en die geskiedenis daarvan, insluitende die bekende name; baanbrekers, eksentriekes, suksesvolles – wat my weer herinner aan skilder: ek het jare gelede ’n paar skilderlesse by ’n dame in Table View (Kaapstad) geneem en ’n jong meisie wat daar as assistent-leerkrag-cum-factotum werksaam was, sê my een aand uit die bloute sy het ’n “nuwe” skilder “ontdek.” Turner is sy van… Sy kyk my toe so ’n oomblik aan met iets soos medelye in haar oë, en sê: “Jy’t nog nooit van hom gehoor nie, nè?”

Ek antwoord “J.M.W. Turner? Die Engelsman wat daai epiese landskappe met skepe en treine en storms en Hannibal se trek oor die Alpe geskilder het?” Sy kyk my uitdrukkingloos aan. Haar houding sê: “Moenie op my parade piepie nie, jou sot.” Op my beurt dink ek: “Is dit werklik ’n kunsstudent hierdie? Sy het wel so beweer… Hoe kan sy nie weet wie Turner eintlik is nie?”

Daarom los ek toe maar die saak net daar. Toevallig was daar twee afdrukke deur Turner in my kantoor in die staatsargief in Kaapstad waarna ek amper daagliks sit en staar (eerder as werk) het, maar dít sal sy my seker ook nie glo nie. Al wat ek weet is dat sy haar klasgeld moet gaan terugvra. En so kan mens jou naam Kimberley maak as jy minder weet as jy behoort te weet en dan nog onnosel genoeg is om arrogant te wees daaroor.

My punt is: enige kunstenaar behoort belang te stel in kuns. As jy ’n skrywer is, veral dan literatuurgeskiedenis – jy hoef nie bv. J.C. Kannemeyer se “Geskiedenis van die Afrikaanse Taal” te lees nie, maar jy moet darem ’n oorsigtelike idee hê van wie ons groot name was, hulle invloed en min of meer hoe belangrike momente in ons literatuur chronlogies volg. Maar hoekom?, sal talle vra. Omdat jy as skrywer deel raak van ’n tradisie – hierdie tradisie. Jy mag dalk nie onthou word soos Jan Rabie of MER of Ingrid Winterbach onthou sal word nie, maar jy kan jou plekkie inneem met trots indien jy die ure ingesit het.

So het die dramaturg Deon Opperman (op my vrae oor sy drama Donkerland, wat deur Kerneels Breytenbach in ’n roman omvorm is – ek het in September 2013 ’n bespreking daaroor vir Litnet gedoen) gesê hy het aanvanklik nie gedink aan F.A. Venter se vier romans Geknelde land (1960), Offerland (1963), Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968) óf aan Karel Schoeman se Na die geliefde land (1972) toe hy die stuk geskep het nie, maar later het hy wel besef hy het bygedra tot ’n sekere ouevre – kortliks gestel: die Afrikanergeskiedenis in romanvorm, en meer spesifiek: beginnende by die Oosgrens in die 1830’s.

Miskien is dit vir jou as skrywer en as individu nie so belangrik om so daaraan te dink nie, maar wat wel onteenseglik belangrik is, is dat kennis en begrip van wat reeds gepubliseer is jou in staat stel om cliche’s te vermy en om nie klakkeloos te herhaal; met ander se kallers te ploeg totdat dit ou koeie in slote is nie. Van jou as skeppende mens word tog oorpronklike en eerlike bydraes verwag.

In ’n onlangse gesprek met die skrywer Dana Snyman het hy die vrees uitgespreek dat mens in cliche’s verstrengel kan raak en later self ’n cliche kan word. Indien jy nie weet hoe onoorspronklik jou werk is nie, sal jy ook niks leer nie en skrywers moet besluit of hulle vernuwend wil wees (en hulle self ook periodiek herontwerp) en of hulle bv. beginnersfoute wil herhaal nie, soos sommige wel doen. As jy dan nie onthou word – of eens gepubliseer word – nie, is dit jou eie skuld!

Skrywers wat veral genre-romans skryf (misdaad, wetenskapfiksie, fantasie, romanses, ens.) verval maklik in hierdie groef – hulle bly streng by die wenresep en dalk dwing hulle eie sukses hulle dan al dieper in daardie groef in – dink aan Wilbur Smith; op 80 skryf hy steeds dieselfde ou storie; skatryk maar muf. Hieroor voel Snyman verontrus – hy wil nie altyd as reisverhaalskrywer gebrandmerk wees nie. Daarom skryf hy dramas en begin hy met ’n heel nuwe genre (dit sal oneties wees om dit hier te noem – hy is nog besig daarmee!).

Daarteenoor is die skrywer van ’n menigte verskillende genres, François Bloemhof, se siening wel anders. Ek sny-en-plak sy stelling sommer uit ’n e-pos aan my:

“SKRYWERS MOET MINDER WORRY OOR OM IN ’N GROEF TE WEES. DIE HEEL GEWILDSTE/SUKSESVOLLE SKRYWERS IS ALMAL IN ’N GROEF! EK HET ’N AAKLIGE VERMOEDE DIE MEESTE MENSE WIL NIE VERRAS WORD NIE. DIS ERG DAT DIT OOK GELD, WAT MY BETREF, VIR LESERS. VAN WIE ’N MENS MEER VERKENNING SOU VERWAG. MENSE WORD GERUSGESTEL DEUR VOORSPELBAARHEID. VANDAAR DIE FEIT DAT MISDAADFIKSIE GEWILDER IS AS SPANNINGSROMANS. WANT DAAR IS MEER RIGLYNE EN REGULASIES. HULLE VOEL VEILIGER DAARMEE. DIS HERKENBAAR.”

Wat Bloemhof bedoel, is dat daar voordele is aan herkenbaarheid en dat skrywers moet kies: eerder as om die akkolades van die akademici te begeer, kan jy al eerder na jou bankbalans kyk. Beroemd word (globaal gesproke) of ryk word (sonder vertalings, filmregte of voorgeskrewe werke) is natuurlik min skrywers beskore, en in Suid-Afrika veral weens ons klein mark en die feit dat dit waarskynlik nie juis groei nie – almal is immers bekommerd oor die feit dat rekenaarspeletjies veel meer aftrek kry by die jeug as boeke, en die boekwinkel- en uitgewerseienaar Nicol Stassen reken juis daar is waarskynlik 1,2 lesers vir elke skrywer in die land. Eish.

Ryk word uit skryf? Nie maklik nie (Bloemhof en Snyman verwys eerder na finansiële oorlewing). Een rede is die feit dat, soos met skilders ook, die bemarkers net ’n paar kies en dan voluit gaan om hulle te bemark. Dis omdat dit hulle nie sal loon om bv. twintig kunstenaars te bemark as die mark so maklik versadig word nie. Daarom fokus hulle eerder op die gevestigde name soos Deon Meyer, Karin Brynard en Jaco Jacobs. Onbekende skrywers mag mor hieroor, maar as hulle self “daar bo” kom, sal hulle nie kla nie. Dis ongelukkig hoe kapitalisme werk; dis markgeoriënteerd. Die onus is op die skrywer om hom/haarself relevant te maak, in alle opsigte.

Om groot pryse te wen, die ander opsie, is voor die hand liggend moeilik genoeg. Standaarde het al baie gestyg sedert die Hertzogprys in 1916 vir die eerste maal toegeken is. Mikro (alias Christoffel Hermanus Kühn, 1903 – 1968), die 4de wenner vir prosa – in 1936 vir sy boeke (Toiings en Pelgrims) – het bv. nie eers geweet wat die prys behels nie en wou net weet of daar prysgeld betrokke is! Vandag lyk dit asof Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk omtrent die podium beset het en wie gaan hulle daar afstamp? Dis die uitdaging vir dié wat daarna streef, nie ons outjies wat bv. WF en F skryf nie, maar soos ons nodig is, so is die baanbrekers en grensverskuiwers ook nodig as deel van die verweefde, groter opset. Skrywers moet in elk geval eerder daarop konsentreer om die beste moontlike werk te lewer en die res, wat dit ook al mag wees, sal vanself kom – of so hoop mens, want geluk speel ook ’n rol.

Dit bly vir my skokkend om te sien hoe ligtelik skrywers hulle kunsvorm kan opneem, of hoe min hulle bereid is om te lees – en dan kla hulle steen en been dat uitgewers teen hulle diskrimineer. Ek ontvang gereeld e-pos kennisgewings van ’n Linkedin groep genaamd “Linkeds & writers.” Soms is die temas interessant en sal ek selfs deelneem aan die gesprek, teen my voornemens om nie tyd te mors met kletsgroepe nie. Ander kere skud mens jou kop as hulle kibbel oor die verskil tussen “outeur” en “skrywer,” maar soms is daar nuttige gesprekke, al is die tema verbasend triviaal: soos of skrywers behoorte te lees of nie. Natuurlik moet skrywers lees; hoe anders gaan jy leer? Doen jy dit nie, sal jy onder andere cliche’s herhaal en self een word. ’n Riem onder die hart is darem dat meeste van die skrywers wat aan daardie gesprek deelgeneem het ook gedink het dis ’n stomonnosel vraag.

As ’n skrywer sukses wil behaal – wat dít ook al vir jou mag beteken – is jy ’n masochis as jy honderde ure sit en swoeg en steeds nie aan jouself die beste moontlike kans wil bied om eens gepubliseer te word nie. So, lees. Lees ander skrywers se werk. Lees oor skrywers. Lees oor skryf. Of soek ’n ander rede om te kla.

Ek sluit af met ’n aanhaling uit NP van Wyk Louw: Versamelde prosa 1: “Dit was so ’n goue herfsmiddag soos die Kaap alleen ken – roombleek lug, sagte wind; en die baai en die rante daaragter, die stad en die dennekruine was geel in die koel son soos die skynsel van botterblomme…” (p.55).

As jy wil weet hoe om ’n Kaapse herfsmiddag te beskryf; dis hoe. Maar jy kan dit nie net oorskryf nie. Jou taak as kunstenaar is om dit anders, maar óók goed te doen. En met baie oefening dalk eendag net so goed. Dan sal jy onthou word. Dan het jy jou plekkie in die skrywerson verdien. Want geld gaan jy heel waarskynlik nie maak nie, so vat maar wat jy kry.