Lusmaker – Marsnik III

MARSNIK III – MARINUS KEET
THOMPSON BOEKDRUKKERY (2013)

Hoofstuk 1
AANRANDERS

2013 - Marsnik IIIMET hande wat bewe van opgewondenheid voer Pierre Sederberg die data aan die elektroniese berekenaar. Angstig wag hy een, twee, drie sekondes. Die groen liggie flits aan. Pierre druk die hefboom en die antwoord kom by die slot uit.

Haastig vergelyk hy dit met die vorige lesing. Daar bestaan geen twyfel meer nie – die Voorwerp is op pad na Mars!

Met ʼn paar lang tree is Pierre deur die laboratorium. In sy kantoor pak hy die telefoon en skakel die voorsitter van die Nasionale Ruimtekomitee.

„Pierre Sederberg hier,” sê hy aan die sekretaresse wat die telefoon beantwoord. „Mag ek asseblief met doktor van Wyk praat. Dit is dringend.”

„Doktor is op ʼn ander lyn besig. Mag ek u terugbel sodra hy klaar is, meneer Sederberg? Ek het u nommer.”

„Asseblief, Juffrou,”. Pierre slaag nie daarin om sy teleurstelling to verberg nie. Soos ʼn vasgekeerde dier loop hy heen en weer in sy kantoor solank hy vir die oproep wag.

Hy is heeltemal oortuig daarvan dat die Voorwerp die planeetvaarder Marsnik III is. Vanoggend om tienuur het hy dit toevallig oor die sigplaat van die kosmoskoop sien heenskiet. Hy het dit vir slegs drie sekondes lank gevolg. Net voordat dit teen die son verdwyn het, het hy dit gefotografeer.

Dit was toe skaars vyfhonderd myl bokant die aarde en die foto toon die hele beeld van die planeetvaarder aan. Selfs die syfer III na die naam, kan daarop gelees word.

Hy het doktor van Wyk dadelik gebel, maar later gedurende die dag het die doktor hom gesê dat niemand anders die skip kon oppik nie. Die hele dag soek Pierre al deur die ruimtes en ʼn halfuur gelede het hy ʼn voorwerp op die sigplaat gesien. Dit is reeds byna tweemiljoen myl van die aarde af. En dit is nog steeds op dieselfde baan – ʼn baan wat dit binne 150 uur by Mars sal bring!

Die telefoon lui. „Meneer Sederberg? Goeie middag. Van Wyk hier. Het jy nuus?”

„Ek het dit weer opgepik, Doktor!” roep Pierre uit. „Om 15:52 uur. Dit was toe sowat tweemiljoen myl hiervandaan en steeds op die baan na Mars! Dit beweeg nou teen 360,000 myl per uur.”

Doktor van Wyk fluit. „Twee miljoen myl! Dit was seker skaars ʼn merkie op u kosmoskoop!”

„Ja, Doktor. Dit was net ʼn skaars merkbare kolletjie. Maar op die fotoplaat is dit ʼn duidelike strepie!”

„Hmm.” Van Wyk klink bekommerd. „Ons sal nie kan bewys dat dit Marsnik III is nie! Tussen hakkies: Ek het jou nuus vanoggend dadelik aan die Internasionale Raad gerapporteer, maar ek het nog niks weer van hulle gehoor nie.”

„Ons kan nie bewys dat dit Marsnik III is nie, maar daar kan baie min twyfel bestaan!” sê Pierre.

ʼn Rukkie swyg Van Wyk, asof by na woorde soek. „Ons moet honderd persent bewyse hê voordat ons so ʼn bewering maak,” sê hy dan. „Indien ons beweer dat Marsnik III op pad is na Mars, dan trek ons die integriteit van die magtigste mense op aarde in twyfel!”

„Marsnik III is op pad na Mars!” sê Pierre beslis. „En dit beteken dat daardie magtige mense onheil vir die aarde voorberei!”

„Stadig’ Stadig, kêrel!” keer Van Wyk. „Ek kan skaars glo dat ʼn verantwoordelike man soos u sulke aantygings maak!”

Pierre sê uitdruklik: „Die feit dat ek dit wél sê, bewys hoe oortuig ek van my saak is!”

„Ek twyfel of u die erns van die saak begryp, meneer Sederberg!” Van Wyk klink byna afkeurend. „Besef u wat ʼn moderne wêreldoorlog sal beteken? Nouja, u bewering kan so ʼn oorlog ontketen!”

Nou is dit Pierre wat na woorde soek. „Ek besef wél die erns van die saak, Doktor. Maar wat wil u hê dat ek moet doen? Moet ek die feite verswyg?”

ʼn Verleë kug-laggie kom oor die foon. „Verskoon my, meneer Sederberg. Natuurlik moet ons die saak ondersoek en elke stap aan die regering rapporteer! Ek was maar net ontsteld oor die implikasies!”

„Ek verstaan, Doktor…”

„Kan u al die fotoplate hierheen bring?” Nou is Van Wyk op en wakker. „Ek sal dit dadelik aan die minister toon of nog beter… bring dit reguit na die minister se kantoor. Ek sal daar vir jou wag.”

Pierre belowe om binne twintig minute by die Unie-gebou te wees. Hy plaas die spreekbuis terug, gaan na die laboratorium, pak die twee fotoplate in sy tas en stap haastig deur die gange na buite en reg uit na die motorhuise.

So verdiep is hy in sy probleem dat hy skaars opmerk wat rondom hom aangaan.

Hy ken nie die twee mans wat skynbaar besig is om die kar wat langs syne staan, se bande te bestudeer nie. Die een kêrel staan gebukkend tussen die twee motors. Met ʼn yster kap-kap hy aan die ander kar se band. Hy staan in Pierre se pad en Pierre is baie haastig.

„Pardon!” sê hy op kwaaie toon.

Die man staan op, maar hy kom nie tussen die karre uit nie. Met ʼn gedempte skelwoord skuur Pierre tussen die man en sy eie kar deur.

Al die sterre van die uitspansel skiet deur Pierre se brein. Hy sak bewusteloos neer.

1 thought on “Lusmaker – Marsnik III

Comments are closed.