11 Februarie 2015
© dr. François P. Verster
Wanneer mens meer probeer agterkom aangaande die kreatiewe proses – die Heilige Graal van Skryf probeer belig – is dit altyd nuttig om te lees wat skrywers kwytraak. Meestal wurg dit maar om iets hieroor uit hulle te kry, en daarom is dit pure plesier as ek wel op sulke pêrels van wysheid afkom wat iewers uit ’n stringetjie laat val is. Om daardeur te werk en dit dan weer te verwoord om aan jouself meer sin te maak, is vir my pret. Ook om dit met ander soekers te deel. Hopelik maak dit nog pêrels iewers los om mettertyd nuwe stringetjies te vorm.
In sy werk Die laaste Afrikaanse boek (Human & Rousseau, 2002), pen Karel Schoeman al ’n dekade gelede en toe al “uitgetree en afgetree” (sy woorde), ’n paar gedagtes aangaande die kreatiewe proses neer.
Hy noem eerstens dat hy gedurende sy loopbaan by die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika in Kaapstad baie tyd en bronne tot sy beskikking gehad het om beide feite- (historiese) en fiktiewe (soms op historiese feite gegrond) werke te skep. Hy noem dat dit vir hom baie makliker was om feiteboeke te skryf, want in die geval van laasgenoemde was dit is volgens hom maklik om weer aan te gaan wanneer hy onderbreek was – dat dit gerusstellende roetine werk was in vergelyking met kreatiewe werk soos romanskryf. Hy sê dat hy by die skryf van fiksie in sy onderbewussyn gedelf het (ek gebruik die verlede tyd, aangesien hy hier beweer dat hy waarskynlik nie weer sou skryf nie, hoewel dit toe gelukkig nie die geval was nie), maar feiteboeke is net ’n geval van aangaan waar jy opgehou het. En hy het!
Hy gee ’n voorbeeld van hoe dit hom ontstel het toe hy sit en skryf het en ’n motor voor sy deur stilgehou het, al het hy die persoon verwag. Hy het “paniekbevange” probeer aanhou tot die laaste sekonde en daarna, terwyl die man by hom was, in ’n afgetrokke semi-droomstaat verkeer. Hy noem ook op ’n ander plek in die boek dat skryf ’n manier is om toegang tot jou onderbewussyn te kry en dis wat hy hier probeer uitbeeld – dat die onderbewuste oorneem en ’n seker vloei of momentum verkry word wat hy nie wil verloor nie. Tog sê hy dat fiksieskryf uiters spannend is en hy op die stadium toe hy hierdie outobiografiese werk geskryf het, geen behoefte had om weer daardie stres te ervaar nie – ook dat dit ontlading gebring het, maar nie werklike genoegdoening nie. Dit laat mens vermoed dat uiters produktiewe skrywers soos hy – hy het immers honderde kleiner werkies vir tydskrifte geskryf, ens., benewens sy talle boeke – amper soos ’n nimfomaan is wat heeltyd ontlading soek, maar nie bevredig word nie, want hoekom sou mens soveel boeke skryf, ook nadat jy nie meer regtig die geld nodig het of iets oorspronklik oor het om te sê nie?
Ek dink ook aan Wilbur Smith en Stephen King – hulle het miljoene in die bank, maar hulle draai steeds daai selfde ou worsmasjien. Daar is dus sprake van ’n drif wat hulle voortdryf, waaroor hulle nie regtig beheer het nie. Soos die seksverslaafde ervaar hulle ’n (emosionele?) laagtepunt wat na depressie neig nadat ’n boek afgehandel is. Etienne van Heerden se term “die stilte na die boek” spook altyd by my as ek hieroor dink. Nie dat ek self immuun daarteen is nie – die afhandeling van so ’n projek laat mens sonder ’n doel of program om te volg – ook die afhandeling van ’n studieprojek soos ’n tesis. Ek beweer nie dat die skrywer seksuele genot uit skryf put nie, net dat daar parallelle is met die soeke na ’n verandering in aktiwiteit – iets van ’n verhoogde staat wat meer bied as die alledaagse; selfs opwinding, al is dit dalk nie soveel as wat verlang word nie.
Schoeman onderskei tussen romanskrywer en historikus as volg: “altyd was dit hierby vir my belangriker hoe die verlede fisiek ervaar is: die kers-of lamplig met sy flakkerende skadu’s, die krakende plankvloer of die kenmerkende geur van misvloervertrekke, die geklop van perdepote …” hy praat dus van die inkleding van kleur en gevoel (sal mens dit gevoelskleure noem?) wat die romansier aanwend, maar wat die historikus nie beskore is nie – nie dat meeste historici (Dan Sleigh en Schoeman self is uitsonderings) noodwendig die vermoë – die verbeelding en taalvaardigheid – het om die inkledings te doen nie.
Daniël Hugo wat eens beweer het dat historici nie die werklike waarheid vertel nie, maar wel romansiers, het waarskynlik bedoel dat die mense aspekte van emosie en die lewenswaarhede wat in interpersoonlike verhoudings opgesluit lê, deur romansiers aan die lesers uitgelê word. Dit was beslis iets wat Schoeman met sy romans wou doen. Skynbaar het die skryf van historiese werke beide die agtergrond-inligting en die behoefte om romans te skep gegenereer. Dit kan mens begryp – dat hy gevoel het dat hy meer het om te bied as ’n klakkelose uitdraai van feite (bolle) op (toilet) papier.
Schoeman stel ’n patroon in hierdie boek dat hy sê hy wil nie uitbrei oor ’n onderwerp nie en dan doen hy dit tóg – dalk sodra sy onderbewussyn ook aangeskakel is en die gedagtes en woorde begin vloei. Só sê hy dat hy nie wil verduidelik hoe sy kop werk as hy skryf nie – en dit verpes dat mense dit aan hom gevra het, seker ook dosyne kere in sy langs skrywersloopbaan – skryf hy nogtans etlike bladsye hieroor. Tot my vreugde, want ek bly gefassineer deur die kreatiewe proses.
Hy stel dit dat “alhoewel skeppende werk, wat uit die onbewuste kom, deur sy psigo- en outoterapeutiese aard natuurlik ’n beduidende mate van bevryding gee – hoe klinies laat hierdie nugtere stelling die skeppingsproses nie klink nie! – is dit afhanklik van ingewing en begeestering, want nie alle skrywers kan voor ’n tikmasjien of rekenaar gaan sit en elke dag tweeduisend woorde op bestelling lewer nie. Nie-fiksie kan jy daarenteen te eniger tyd opneem en voortsit, en die vertroosting wat hierdie sekerheid inhou, moet nie onderskat word nie.”
Uit hierdie paragraaf kan ’n mens heelwat haal – die “bevryding” waarvan hy praat dui op druk van ’n geestelike of sielkundige aard – die drang wat tot die skepping van kuns lei. Ontlading is dus nodig en om te sit en skryf, tik of skilder is terapeuties. Dit impliseer tog dat dit lekker moet wees om dit te kan doen, maar Schoeman het reeds gesê dat dit moeilik is. Die antwoord sou ek sê, is dat bv. skryf déél van die ontlading is (daar is nog redigering, ens. ook; alles deel van die skeppingsproses), maar as dit nie na wense gaan nie, veroorsaak dit nuwe spanning (om nie te praat van die wagproses ná inhandiging van die manuskrip nie!). Dus is die skryfproses nie noodwendig altyd terapeuties nie, maar slegs een stap in die proses wat uiteindelik terapeuties kan wees.
Om nie-fiksie te skryf is blykbaar makliker as om fiksie te skryf (ás jy streef na goeie kwaliteit – snert is altyd maklik) en Schoeman sê nie-fiksie, soos geskiedenis skryf, bring “vertroosting”. Om ’n akademiese artikel te skryf, soos vir Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, is minder pret – die teksgedeeltes is eweneens maklik genoeg, maar die sleur-en-speur van voetnote en bronnelyste is in een woord ga-ga. En ja, akademiaanse taalgebruik gee mens ’n maagkramp of drie. Maar wanneer mens fiksie skryf, en jy moet jou onderbewussyn betree (“tapping in” sê die Engelse), dan raak dit moeiliker. Hulle beweer all mense is kreatief, maar ek raai dat die grootste verskil tussen meer kreatiewe en minder kreatiewe mense dié is met die vermoë om die linkerbrein te onderdruk. Sommiges beweer die verbindinge tussen die twee hemisfere het iets hiermee te doen.
Maar hoe dit ook al sy, Schoeman se vertelling oor hoe hy nie daarvan hou om op te hou wanneer hy eers aan die gang is nie, dui juis daarop dat hy weet dis weer inspanning om terug te keer na die skeppingsposes (’n staring into the middle distance – soort ding), en die rede daarvoor is daardie stryd tussen linker- en regterbrein. Die linkerbrein is dominant (anders was ons almal irrasioneel en as spesie seker al uitgewis) en gaan nie lê sonder teenstand nie. Die vraag is: raak mens beter hiermee as jy dit baie doen? As ek na Schoeman se vertelling kyk, lyk dit nie so nie. Jy hét dit of jy het dit níé, en jy kan dit nie inoefen soos swem of fietsry nie. Sekere aspekte kan met ondervinding en inspanning verbeter word – soos skryftegnieke, maar die essensiële breinfunksies is aangebore – die mitiese “talent” waaroor almal so liries raak.
Mense beleef uiteraard verskillende mates van spanning en daarom kan die skeppingsdrang ook by een veel meer wees as by ander (ek verbeel my dit was hoeka Schoeman wat gesê het ’n skrywer kan net skep as hy gely het). Tel dit by die vermoë om regterbreinlik te verkeer en jy het reeds ’n antwoord op hoekom iemand soos Schoeman so baie geskryf het en iemand anders dalk soveel minder. Wanneer kwaliteit by die berekening kom, gaan dit sekerlik oor die breinfunksies en eksterne invloede ook – hoe intelligent, taalvaardig, ens. is die skrywer en watter omgewingsinvloede speel ’n rol? Belesenheid en beresenheid dra by tot die omvang van die verwysingsraamwerk, terwyl eienskappe soos waarmeningsvermoë en bereidwilligheid om alleen te werk ook belangrik is. Uiteindelik is die kunstenaar ’n komplekse konglomeraat van eiesoortige eienskappe. Soos elke mens is, maar die eienskappe wat oorheersend is maak die verskil.
Tog praat skrywers van “99% perispiration and 1% inspiration”, wat daarop dui dat inherente (nuttige) eienskappe steeds met inspanning aangewend moet word – en dis hoekom Schoeman reg is wanneer hy sê skryf is tóg harde werk. Almal kan skryf, almal kan net nie ewe goed skryf nie. En hoe minder jou “talent” is, hoe harder moet jy werk. There ain’t no free lunches …
Schoeman het heelwat gereis en kennis versamel (nie net van plekke nie, maar ook van mense en kulture, wat groter insig en konteks meebring), terwyl sy tyd by die biblioteek aan hom bronne verskaf het wat tot die verdere uitbreiding van sy kennis – en inspirasie – gelei het. Ook kon hy dit wat hy versamel en geanaliseer het, sintetiseer en nuwe werke skep – dís wat geskiedenisskrywing is, en wat énige nie-fiksie is.
Lees mens verder wat Schoeman geskryf het in hierdie hoofstuk oor sy tyd by die biblioteek, sien jy dat hy redelik ronddwaal in die gange van gister, en hy erken dit ook; dat hy ramble. Maar solank die eklektiese uitsoek van idees en feite, soos boeke van rakke afhaal en een of twee bladsye uit elkeen te lees, hierdie GPS-lose rondleiding interessant is, wie kla?
So noem hy dat hy soms gesukkel het met gepaste titels vir boeke wat lankal in sy onderbewussyn begin vorm aanneem het. Dit is dus vir die skrywer belangrik om daardie titel te vind wat presies reg pas. Die skrywer-joernalis Rachelle Greef beweer dat die titel van ’n boek die eerste sin van die boek moet wees, soos die eerste sin in die boek ook baie belangrik is om die res van die boek in te lei. M.a.w. die teks begin al op die omslag – die titel is nie net ’n catchy verkoopsklingel nie. Schoeman het wel al nadat ’n boek gepubliseer is besef ’n ander titel sou beter pas, só dit gebeur soms dat die gekose titel nie noodwendig nommerpas was nie, soos mens ook kan verwag: niemand is onfeilbaar nie, nie eens ’n perfeksionis soos Karel Schoeman nie.
Schoeman gaan aan en aan oor die skryfproses, belig met talle voorbeeld uit sy eie en ander se werke, maar ek sluit hier af – ons soek nie nou ’n boek nie, net ’n essay! Wel, miskien eendag as ek so oud soos Schoeman is… Of nee, in my geval, dalk drie maal so oud … die Karel Schoemans is dun gesaai en die res van ons moet dit besef en hulle waardeer. Maar selfs daarin faal ons meestal, en daarom dra hierdie miskenning van “talent” by tot die stryd van die Eensame Skrywer.
So long en kudu’s Oom Karel. Ons kan net sug en wens. Noudat Brink ook heengegaan het, raak ons rolmodelle en voorbeelde minder.
Foto’s:
Karel Schoeman – www.stellenboschwriters.com
A.P. Brink – www.mieliestronk.com