OPDRAG UIT DIE HEL – Christo Meyer

Opdrag uit Die hel – 2016 © Christo meyer

VOLWASSE FANTASIE (5 439 WOORDE)

 

Kop onderstebo kom Pontius Koekemoer verby sy bure se huis gestap. Anders as vorige kere is hy nie vanaand so besope nie. Hy het wel ʼn goeie paar happe agter die blad, maar hy slinger nie soos gewoonlik op ʼn Saterdagaand nie.

“Is dié nou die tyd om by die huis aan te kom?” word hy in sy spore gestuit.Vererg swaai hy om, gereed om iemand die leviete voor te lees. Aan die oorkant van die heining sien hy vir Saartjie Poggenpoel staan. In die helder maanlig neem hy notisie van die tergende kyk in haar oë. Ai, moet die vrou alewig so melodramaties wees? Gʼn wonder sy staan as Dorpzondernaam se grootste skinderbek bekend nie. Hy weet nie hoekom sy so lief is om haar neus in ander mense se sake te druk nie. Met al die inligting wat sy daagliks versamel, kan sy netso wel haar eie koerant begin. Sy probeer altyd alles oor almal uitvis, maar oor haar eie lewe swyg sy soos die graf.

“Ek het nie vanaand lus vir jou nie,” sak Pontius droogweg af.” Jy bly karring soos ʼn blêrrie privsatspeurder. Dis mos niks met jou te doen hoe laat ek huis toe kom nie. Is jy miskien my vrou?”

Saartjie neem ʼn diep trek van die twakpil in haar hand. Die rook maak wolkies toe sy dit stadig uitblaas.Tabak is al wat sy deesdae kan bekostig. Dinge gaan maar broekskeur vandat sy ʼn paar maande terug haar werk as teller by die poskantoor verloor het. Daar is nie geld vir sigarette nie. Sy het drie kinders om voor te sorg. Sy bid elke dag dat daar ʼn wonderwerk op haar pad moet kom, maar sy besef ook die werk is skaars hier op die platteland.

“Jy hou jou verniet so heilig,” tart sy hom verder. “As jy so dikgesuip is soos nou, dra jy mos die huis op horings. Jy klap jou vrou vuurwarm en maak van haar jou slaansak. Jy dink seker ek weet nie van jou dinge nie.”

Hy kyk minagtend na die vrou met die swirlkous op. “Hoor hier, jou vetgat, wat onder my dak aangaan, het niks met jou te doen nie. Bepaal jou by jou eie lewe. Ek het nog nooit aan jou deur kom klop vir ʼn stukkie brood nie.By the way, het jy al uitgevind waar jou kinders se pa wegkruip?”

Saartjie neem nog ʼn paar trekke van die pil.”Weet jy, Pontius, ek wens ek het verstaan hoe jou kop werk. As jy nugter is, kan jy skaars tot by tien tel, maar sodra jy ʼn paar doppe in het, klap jou bek aaneen. Jy maak my so be….”

Skielik trek Saartjie haar asem in. Watter bleekheid verskyn dan nou op haar buurman se gesig? Hoekom kyk hy haar so snaaks aan? Haastig trap sy die pil onder haar nommer 9- tekkie dood en maak haar uit die voete. Wat gaan nou aan met Pontius? wonder sy terwyl sy wegstap. Hy lyk kompleet soos iemand wat ʼn spook gesien het. As sy nie van beter geweet het nie sou sy gedink het die man is van die duiwel besete. Sy verdwyn om die draai en in by die huis. Sy kan maar net hoop Pontius gaan nie vanaand weer so te kere nie. Arme Marja het die afgelope ruk genoeg pyn verduur. Hoeveel keer het sy wat Saartjie is nie al die polisie ontbied as Pontius so met sy vrou baklei nie. Elke keer as hulle voor die hekkie stilhou, is haar buurman so mak soos ʼn lammetjie. Dan verseker hy die manne in blou dat alles onder beheer is. Elke keer vat hulle net sy woord, sonder om in te gaan en self te sien hoe Marja Koekemoer kreun van die pyn.

Pontius maak seker Saartjie is buite sig voor hy sy deur oopsluit en binnestap. Die reuk van goedkoop brandewyn kom saam met hom by die vertrek in. Hy tref vir Marja voor die televisie in die sitkamer aan. Toe sy hom gewaar, vlieg sy op. Sy ken hom lank genoeg om te weet hy gaan weer ʼn rede soek om haar aan te rand. Hy doen dit elke naweek as hy so onder die invloed van alkohol is. So dis beter as sy, Marja Koekemoer, gebore Arendse, liewer gaan lê voor sy vuiste weer jeukerig raak. Die arme vrou is al ʼn senuweewrak.

“Bly sit!”bulder Pontius. Marja hardloop vinnig met die trappe op slaapkamer toe. As haar man eers in so ʼn bui is, wens sy liewer sy het nooit met hom getrou nie. Pontius beur agter haar aan en oppad boontoe kry hy sy vrou van die afgelope 9 jaar aan haar hare beet. Hy kap haar kop teen die muur en gooi haar wild op die bed neer. Hy steur hom nie juis aan haar “Eina,jy maak my seer”uitroep nie.

“Jy klop self aan vir ʼn pak slae, Marja. Jy bespreek mos ons huislike sake met ander mense. Hoeveel keer moet ek nog vir jou sê niemand hoef te weet wat in my huis aangaan nie, huh? Hoekom is jy so ongehoorsaam?”

Soos ʼn wilde dier bespring hy haar. Tevergeefs probeer sy hom wegstoot. Hy is sterker as ʼn os. Een na die ander reën die houe op die skraal vroutjie neer. Sy word deur haar gesig geklap dat sy sterretjies sien. Ná wat vir Marja soos ʼn ewigheid voel, hou die slanery genadiglik op. Pontius se een hand beweeg na sy agtersak. Marja maak haar byna nat toe sy meteens die mes voor haar oë gewaar.

 “Moenie, Ponty. Moet my nie steek nie. Slaan liewer my oë blou, maar moet my net nie steek nie. Ek smeek jou.” Emosieloos gluur hy haar aan. Dan, sonder enige waarskuwing, begin hy haar steek. En steek. En steek. Bloed spat in alle rigtings. Marja wil gil,om hulp roep, maar al wat sy uitkry,is ʼn skor geluid. Die skok het haar stembande aangetas. Eers toe haar hele bolyf vol gate gesteek is, klim Pontius van sy vrou af. Hy gaan staan voor die spieël en verlekker hom aan die bloed op sy hande, sy klere, sy gesig. Hy draai om, loop tot by Marja en soen haar liggies op haar voorkop. Hy fluister iets in haar oor,maar sy reageer nie. Sy bly net roerloos op die bloedbevlekte bed lê. Met die mes steeds in sy hand hardloop Pontius soos ʼn mal ding by die trappe af. Daar is ʼn siek glimlag op sy gesig toe hy voor sy 7-jarige dogtertjie se kamerdeur gaan staan.

Amy Koekemoer kruip saggies onder haar enkelbed in. Haar hart gee benoude kloppe. Haar lyfie bewe soos ʼn riet en sy is amper te bang om asem te haal. Met trane wat ongedwonge oor haar wange rol, sluit sy haar oë en stuur ʼn skietgebedjie op: “Here, help my asseblief. Ek weet my pa wil my weer seermaak. Moenie toelaat dat hy dit aan my doen nie, Here.Ek vra dit in Jesus naam, Asseblief tog Here.Amen.”

Sy maak haar oë oop. Buite voor haar kamerdeur lek Pontius sy lippe af. Hy klem die mes in sy linkerhand stywer vas.Die adrenalien pomp deur sy are. Met sy regterhand draai hy die deurknop.Vervlaks! Die kind het die deur gesluit.

“Amy, maak oop die deur,”versoek hy in ʼn sagte stemmetjie.”Pappa wil gou met jou gesels.” Hy hou sy oor teen die deur. Geen reaksie. Amy knyp haar oë styf toe waar sy onder die bed lê. Gaan weg,fluister sy in haar binneste.

“Amy, as jy nie nou die deur gaan oopsluit nie, gaan ek dit oopstamp. As ek daar binne kom, gaan jou boude brand. Ek praat nie weer nie.”

Steeds weier die 7-jarige om oop te maak. Donnerse bogsnuiter, vloek Pontius in sy binneste. Moet sy so ongehoorsaam wees? Hoekom maak sy nie net die deur oop nie? Maar dis nie meer lank nie dan is hy van haar ook ontslae. Hy wou in elk geval nooit ʼn meisiekind gehad het nie. En Marja was te treurig om hom ʼn seun te gee.

Hy gee ʼn paar tree agteruit,storm vorentoe en loop die deur met sy skouer. Die skarniere kreun onder sy gewigtige lyf. Met die mes omhoog,storm hy Amy se kamer binne.

“Jou klein bliksempie. Jy wil mos nie luister as ek praat nie. Jy sal nou sien…”

Hy bly stil, kyk vinnig rond. Eers pluk hy die klerekas oop. Toe hy haar nie gewaar nie sak hy op sy knieë en kyk onder die bed in. Geen teken van Amy nie. Waar kan die kind wees?wonder hy. Vanaand is nie die tyd vir wegkruipertjie speel nie. Hy het ʼn opdrag om uit te voer. ʼn Baie belangrike opdrag.

Eers toe hy sy kop lig, val sy oog op die oop venster. Die donnerse kind,vloek hy weer. Hoekom moet sy alles so kompliseer? Daar is nie nou tyd om haar te soek nie. Die tyd het reeds ver gevorder en hy het nog ander dinge om te doen. Hy sal weer terugkom om van haar ontslae te raak. Hy glip by Amy se kamer uit en verdwyn na buite.

Eers toe haar pa se voetstappe wegsterf, kom Amy agter die muurtjie uit waar sy weggekruip het. Sy hardloop tot by hul bure se hekkie, stoot dit oop en klop so hard as wat sy kan aan die deur. “Antie Saartjie! Antie Saartjie,” roep sy in ʼn bewende stem. Die deur swaai oop en Saartjie skrik toe sy die vrees in die kind se oë sien.

“Wat is dit Amy? Hoekom bewe jy so?”

ʼn Oomblik lank staar Amy haar buurvrou woordeloos aan. “Dis…dis my ma,antie,” sukkel sy om die woorde uit te kry. “Ek het gehoor hoe Pappa met haar baklei. Antie moet gaan kyk of sy oukei is.” Saartjie se oë rek. ” Kom sit hier dat antie eers vir jou suikerwater kan gee. Dit lyk of jy ʼn groot skok weg het.En dan gaan lê jy solank op antie se bed.”

Vyf minute later is Saartjie in die Koekemoers se huis. Die televisie speel,maar sy stel nie belang in die fliek wat op is nie. Haar hande sweet terwyl sy met die trappe op na die slaapkamer stap. Die deur staan oop en die eerste ding wat haar aandag trek,is die bloedspatsels teen die muur. Stadig stap sy die slaapkamer binne. Haar hart gaan byna staan toe sy haar buurvrou op die bloedbevlekte bed sien lê.

“Marja,” prewel sy.”Marja. Marja.” Sy besef haar buurvrou sal nooit weer hoor wat sy sê nie. Sy draai om en soos iemand in ʼn dwaal loop sy na haar huis.

“Bel die polisie,” sê sy vir een van haar seuns. “Iets vreesliks het hier langsaan gebeur. Pontius Pilatus het sy vrou vermoor.Vanaand kan hy nie sy hande in onskuld was nie.”

Die polisie is binne minute op die toneel. Twee voertuie hou met skreeuende bande stil. Drie mans in uniform en ʼn vroulike beampte spring uit.

“Dis julle skuld,” raas Saartjie toe die eerste twee beamptes die Koekemoers se hekkie oopstoot. “Dis deur julle slapgattigheid dat Marja Koekemoer vanaand ʼn lyk is.”

Die twee beamptes kyk die vrou vraend aan. “Julle kan maar netso kyk. As julle net julle werk deeglik gedoen het, sou daai arme vrou nog gelewe het. Maar nee,elke keer as julle hier gekom het, het julle voor die hek omgedraai. Daai man het elke naweek sy vrou pimpel en pers geslaan, maar nie een keer is hy in hegtenis geneem nie. Hoekom nie?”

“Saartjie, moenie my mense pla in die uitvoering van hul pligte nie,” rek die vroulike beampte haar mond. ” Sersant Roberts, ek het die wêreld se respek vir jou, maar moenie probeer om my stil te maak nie. Jy weet ek praat die waarheid. Jou mense is hopeless en useless. My buurvrou lê doodgesteek in haar slaapkamer omdat julle nie voor die tyd opgetree nie. Julle…”

“Jy beter ʼn wag vir jou mond sit, Saartjie. Anders bring jy die nag in die selle deur.”

“Dan sluit jy my toe, sersant. Ek wonder waarvoor gaan jy my nogal aankla. Ek praat die reine waarheid en jy weet dit. Moenie vir een oomblik dink ek gaan my woorde terugtrek nie. Dis julle skuld dat klein Amy nou sonder ʼn ma sit.”

Sersant Liena Roberts skud net haar kop en storm die Koekemoer-huis binne. As sy langer met Saartjie gaan argumenteer, gaan sy haar net vererg.Konstabels Buffel en October is reeds in die slaapkamer toe sy die vertrek binnestap. Toe die polisievrou voor die lyk staan, knak haar bene onder haar lyf. Sy sak inmekaar en val flou neer. In haar hele lewe het sy nog nooit iets so wreeds aanskou nie. Haar kollegas kyk mekaar onseker aan. Is dit werklik ons skuld dat hierdie tragedie hom afgespeel het, wonder Daniël Petrus Buffel. Wat het Pontius Koekemoer besiel om so iets aan sy vrou te doen? Het die man se kop dalk uitgehaak? Hulle sal hom so gou moontlik moet opspoor voordat nog onskuldige mense met hul lewe boet?

Eric van der Ploes, die baas van die kroeg waar Pontius naweke kom sit en ontspan,is reeds in die bed toe hy harde voetstappe buite hoor. Hy lig sy kop van die kussing af op om seker te maak hy verbeel hom nie. Grrrts, grrrts, grrrts, hoor hy dit weer. Hy was een keer tevore die slagoffer van ʼn gewapende roof en sedertdien is hy taamlik sekuriteitsbewus.Die 45-jarige pa van 3 is een van Dorpzondernaam se min drankverkopers wat ʼn wettige lisensie het om besigheid te doen. Die oorgrote meerderheid van die ander drankplekke op hierdie plattelandse dorpie word onwettig bedryf. Die polisie voer van tyd tot tyd klopjagte uit,maar minder as ʼn week later gaan die bedrywighede weer voort soos normaal. Anders as baie van die ander plekke, verkoop Eric nie dwelms nie. Hy is ʼn eerlike besigsheidsman wat hard gewerk het om te kom waar hy is.

Sekuriteitsbewus soos hy is, glip sy linkerhand onder die kussing in. Hy klem die vuurwapen vas en staan versigtig op.Hy gaan hom nie weer laat oorval soos twee jaar gelede toe vier jongens hom oorval en van ʼn groot bedrag geld beroof het nie.Na daardie insident het hy homself belowe hy gaan nie toelaat dat so iets ooit weer gebeur nie. Hy gaan staan voor die venster en skuif die gordyn oop.

“Ou Eric, maak oop man. Is ekke,” sê Pontius toe hy die shebeen eienaar gewaar. Eric slaak ʼn sug van verligting toe hy sien wie dit is. “Ou Ponty, wat soek jy hier? Jy weet mos ek maak nie na ure besigheid nie. Jy sal maar tot môre moet wag, jong”

“Nee,boeta Eric,ek soek nie ʼn dop nie. Maak gou oop jou deur. Ek wil iets met jou bespreek.”

Eric het nie rede om bang te wees nie. Hy sluit die deur oop. “Wat is so dringend dat dit nie tot môre kan wag nie? Jy kom mors nie my tyd met…”

 Hy raak lam toe hy in Pontius se oë kyk. “Hoekom is jy so vol bloed? Jy lyk soos iemand wat ʼn skaap geslag het.” Pontius giggel saggies. “Aag dis nie nog iets om huis toe oor te skryf nie. Ek het net my vrou ʼn ordentlike les geleer.”

Eric se oë rek. “Wat presies bedoel jy met ordentlike les? Het jy haar….nee, dit kan nie wees nie.”

“Dis ongelukkig die waarheid. Die ou heks het net in my pad gestaan. Ek moes haar uit die weg ruim.”

“Hoor hier Ponty, moenie met my kom staan en strooi praat nie. Ek ken jou lank genoeg om te weet jy het nie die hart om iemand dood te maak nie. Hou nou op met jou grappies en vertel my wat gebeur het. Waar kom al daai bloed vandaan?”

“Lyk ek miskien vir jou soos ʼn tape recorder? Ek sê jou dan ek het my vrou vrek gemaak.” Eric verstyf toe hy die kyk in Pontius oë sien. Sowaar, dit lyk of die man ernstig is.

“Maar…ek verstaan nie so mooi nie.Wat het jou tot so iets gedryf?”

“Dis die stem. As die stem my ʼn opdrag gee, moet ek dit uitvoer. Ek mag nie ongehoorsaam wees nie anders gaan daar slegte goed met my gebeur.”

“Stem? Van watse stem praat jy?”

“My meester se stem, jou domkop.” Eric wens hy het geweet waarvan Pontius praat. Wie is hierdie meester en van watter stem praat hy.”

“Ou Ponty, wil jy my maar nie vertel waaroor alles gaan nie? Ek verstaan nie so lekker nie.”

“Jy vra alweer te veel vrae. Ek het nie heelaand tyd nie. Ek soek eintlik ʼn gunsie by jou. Leen my daai Isuzu-Bakkie wat in jou garage staan. Ek word later vanaand as ʼn lidmaat van die kerk van Satan verwelkom. Dis hoekom ek iemand na aan my moes doodmaak om myself te bewys. Van vanaand af is ek ʼn dienskneg van Lucifer. Help my net om hier weg te kom.”

“Jy weet mos ek mag dit nie doen nie. As die owerhede uitvind, is ek medepligtig. Ek is jammer, Ponty, maar jy moet maar jou eie ding kyk. Moenie vir my betrek by jou probleme nie.”

Teleurstelling spoel oor Pontius se gesig. “Sjoe,en ek dink al die tyd jy is ʼn ware vriend. Maar dis reg so. Ek sal ʼn ander plan maak.”

Pontius draai sy rug op Eric en loop by die deur uit.Vir ʼn oomblik oorweeg die kroegeienaar dit om sy vriende in die SAPD van Pontius te vertel, maar eers wil hy gaan seker maak of sy pitbull oukei is. Hy kan nie verstaan dat die hond glad nie geblaf het toe Pontius ingekom het. Daai hond skop dan vir die geringste geluidjie ʼn groot bek op.

Toe hy buite kom, is daar geen teken van Brakanjan nie. Hy gaan kyk in die hok, soek oral op die werf rond, maar sy hond is nêrens te sien nie. ʼn Onrustigheid kom vat aan sy hart. Wat het van Brakanjan geword? Die hond kan tog nie net weggeloop het nie.

Maar dan, uit die bloute, verskyn Pontius voor hom met iets oor sy skouers.”Is dit miskien waarna jy soek?”vra hy en gooi die dooie hond voor sy eienaar neer. Eric staar in afgryse na die lewelose dier. Hoe op dees aarde het Pontius dit reggekry om Brakanjan van kant te maak.? Hier is fout met die man, groot fout.

“En omdat jy nie jou bakkie vrywilliglik aan my wil oorhandig nie, sal ek dit met geweld moet afvat.Toemaar, ek weet van die probleme tussen jou en jou vrou en dat sy en die kinders tydelik by haar ma in die Kaap bly. Shame, moet seker ʼn groot ontwrigting wees vir die laaities om in die middel van die jaar hul ou skool op te gee. En dit alles oor jy nie jou met slegte vrouens ophou.Sê maar solank jou laaste gebedjie op, Eric. Jy sal nooit weer die son sien opkom nie.”

Pontius se vuis skiet vorentoe en hy tref die shebienbaas op die krop van sy maag. Die geweld van die hou laat hom ineensak.Hy lig sy voet en gee Eric ʼn harde skop. Toe hy op die grond lê, takel hy hom met ʼn graaf wat hy in die garage gekry het.Vyf minute later stap hy fluit-fluit die huis binne, haal die sleutels uit die kombuislaai en loop garage toe. Hy skakel die bakkie aan en begin soos ʼn besetene lag, onbewus van die oë wat hom op ʼn afstand dophou.

Die man wat by die aanklagkantoor ingebars kom, is asvaal geskrik. Sy bors brand soos die van ʼn onfikse atleet wat aan die Comrades deelgeneem het. Sy oë staan wild in hul oogkaste en sy asemhaling is abnormaal. Boonop is sy keel so droog soos iemand wat ure lank in die woestyn verdwaal het. Sy bene is lam en hy moet homself teen die muur stut om te keer dat hy nie op die grond beland nie.

Konstabel Aubrey Papenfield is onbewus van die moeë man enkele meters van hom af. Hy is doenig op sy selfoon, besig om met een van sy skelmpies op Whatsapp te klets. Sy seniors het hom al hoeveel keer aangespreek oor sy ek-gee-nie-om-houding, maar hierdie 23-jarige steur hom nie juis aan gesag nie. Hy is van daai soort wat net gemaak is en laat staan. Hy het geen doelwitte vir die toekoms, geen ambisie nie. Al bly hy ook ʼn konstabel tot die dag van sy dood, sal dit hom nie pla nie. By hom gaan dit net oor meisies en lekker tye. Hy is in ʼn vaste verhouding met ouderling Grootboom se dogter, maar Papenfield kruip gereeld die kat in die donker.

“My tyd om rustig te raak, sal eendag aanbreek,” sê hy gereeld.” Ek is nog jonk en moet die lewe geniet solank ek kan. As ek eers die dag getroud is, sal my vrou die kitaar slaan en dan is daar niks uitkomkans vir my nie.”

Aubrey is ʼn gebore hartebreker, ʼn regte Casanova. Hy maak die vroue se knieë lam met sy groen oë en sjarmante glimlag en sodra hy gekry het wat hy wou hê, los hy hulle soos ʼn warm patat. Maar talle van Dorpzondernaam se meisies is mal oor ʼn man in uniform en gee nie om om net gebruik te word nie.

Die Blackberry val byna uit Aubrey se hand toe hy iemand hoor hoes. Hy kyk op en sien die man met die pieringoë daar staan.

“Ek…ek wil ʼn verklaring aflê,” sê die man saggies.

“Ek luister,” sak Papenfield sarkasties af.”Moet net nie my tyd staan en mors nie. Ek het beter dinge om te doen.”

“As jy net eers vir my ʼn bietjie water kan gee, asseblief.My naam is Joshua Jackson. Ek is Eric van der Ploes se tuinier en handyman. Jy ken mos vir Eric, ne. Ek het jou al daar gesien drink.”

“Ja, ja, ja,” sê Aubrey ietwat geirriteerd.”Kom tot die punt.”

“Wel, Eric is…kan ek ʼn bietjie water kry, asseblief.” Hy beduie na sy keel.

Aubrey sit die selfoon eenkant neer. Hy draai om en verdwyn in ʼn kleinerige vertrek. Toe hy terugkom, is daar ʼn glas water in sy hand wat hy na Joshua uithou. Joshua neem die glas en gooi die inhoud in sy keel af. Hy sit die glas op die toonbank neer.

“Jy wou sê?” begin Aubrey ongeduldig raak.

“Dankie vir die water. Ek voel sommer beter. Ja, die rede hoekom ek hier is, is om Eric te dood te kom aanmeld.” Aubrey sien die ernstige kyk op Joshua se gesig.

“Is Eric dood? Wat het gebeur?”

Joshua haal diep asem.”Eric van der Ploes is vermoor.”

Aubrey Papenfield se een wenkbrou lig.

“Vermoor? Dis ʼn gevaarlike uitlating wat jy daar maak. Het jy gesien wie dit gedoen het?” vra hy.

“Maar natuurlik. Dis dan hoekom ek ʼn verklaring wil aflê. Ek was daar toe Eric vermoor is. Pontius is die moordenaar. Pontius Koekemoer.”

Aubrey uiter ʼn laggie.”Kom nou, Joshua. Ek dink jy het die kat aan die stert beet.Pontius is ʼn softy. Hy het nie die balls om iemand dood te maak nie, man.Hy suip sy gat lekker dronk, maar van die smokkelhuis af gaan hy reguit huis toe. Ons praat mos van dieselfde Pontius ne. Die verkoopsbestuurder van die meubelwinkel in die hoofstraat. Hy is nie iemand wat…”

“Jy moet my glo,” val Joshua hom in die rede.”Ek sal mos nie so iets uit my duim suig nie.Maar ek het met my eie oë gesien hoe hy eers my baas met die graaf dood slaan. Toe vlug hy met Eric se bakkie.”

Die hele storie klink vir Aubrey te goed om waar te wees. Maar dan onthou hy van die oproep wat hy ontvang het dat ʼn voertuig dringend na Pontius se huis moet kom. Glo iets met sy vrou te doen gehad. Is daar dalk ʼn verband tussen Pontius se vrou en Eric se dood? wonder hy. Kan hy alles glo wat Joshua hom nou vertel het?

“Dis nie net Eric wat dood is nie,” vertel Joshua verder.”Daai gemors van ʼn Pontius het vir Brakanjan, Eric se pitbull, ook van kant gemaak. Die hele plek is die ene bloed.Gaan kyk self as jy my nie wil glo nie.”

ʼn Woedebui stu in Aubrey op. Hy kan wees wat hy wil, maar hy haat dit as iemand ʼn dier leed aandoen. Sy tweede liefde naas pragtige meisies is diere. Hy het twee Dobermanns by die huis aan wie hy baie tyd en aandag skenk. As hulle darem iets moet oorkom.

“Verskoon my,” sê Aubrey. “Ek sal my kollegas hiervan in kennis moet stel. Iemand wat ʼn hond seermaak, verdien nie om in die samelewing rond te loop nie. Pontius Koekemoer moet vanaand nog gevang word. Die feit dat sy pa jare lank ʼn grootkop in die weermag was, gaan hom niks help nie.” Konstabel Papenfield keer sy rug op Joshua.

Joshua onthou vir Jakob Koekemoer, Pontius se pa.ʼn Man wat respek afgedwing het en amper nooit geglimlag het nie. Toe hy op ʼn dag net spoorloos verdwyn, het dit skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Tot vandag weet niemand wat van hom geword het nie.

“Konstabel Papenfield, ek dink ek kan julle dalk in jul ondersoek help.” Aubrey swaai om.”Jy het klaar jou deel gedoen, Joshua. Hiervandaan is die saak in die hande van die polisie. Jy moet nog ʼn skriftelike verklaring aflê, maar verder is daar nie veel waarmee jy kan help nie. Dankie vir jou…”

“Ek dink ek weet waar Pontius is.”

Aubrey kyk hom vraend aan.”Nou hoekom sê jy nie so nie? Jy staan daar met ʼn mond vol tande.”

”Net voor Pontius in Eric se bakkie geklim en weggejaag het, het ek gehoor hoe sê hy vir homself:”Next stop mother in law.” Ek reken sy skoonma is sy volgende prooi. As julle gou maak, kan julle hom dalk nog op heter daad betrap.Anders gaan die bloedbad net erger raak.”

Marja se ma gaan voor die kombuisvenster staan toe sy ʼn voertuig buite hoor stilhou. Sy skuif die gordyn effens oop en sien hoe haar skoonseun uit ʼn bakkie klim en die deur toeklap. Sy het begin bekommerd raak, begin dink hy het koue voete gekry.Sy kyk op haar horlosie en slaak ʼn sug van verligting. Dis twintig minute voor middernag. Nog genoeg tyd voor die seremonie begin. As Pontius haar darem vanaand teleurgestel en nie sy deel van hul ooreenkoms nagekom het nie sou hy die dag berou het dat hy gebore is. Die duiwel is haar getuie. Niemand mors met haar en dink hy gaan daarmee wegkom nie. Haar man het ʼn paar jaar gelede gedink hy kan haar hiet en gebied, maar sy is die een wat laaste gelag het. Almal dink dis ʼn hartaanval wat sy dood veroorsaak het, maar in werklikheid was dit voedselvergifftiging. Hy wou haar keer en in haar pad staan toe sy besluit het om by die kerk van Satan aan te sluit. Van toe af het sy besluit sy gaan niemand toelaat om vir haar voor te skryf nie. Satan is die enigste persoon na wie sy luister.

Haar voordeurklokkie lui. Sy maak oop en grynslag toe sy vir Pontius voor haar sien staan.”Jy is laat,” sê sy.”Het jy toe gemaak soos ek jou beveel het?”

“Uhmm… ja, Lucia. Marja is dood, maar Amy…Amy het weggehardloop .Alles het so vinnig gebeur.”

Pontius se skoonma se oë spuug vuur. “Jinne, Pontius, die opdrag was dan dat jy jou hele gesin uitwis. Dis die enigste manier hoe ons jou vanaand in die kerk van Satan as ʼn nuwe lidmaat kan verwelkom.Hoekom is jy so ongehoorsaam?”

“Ek…kan mos op ʼn latere stadium weer van haar ontslae raak,” stotter Pontius.” Kom ons kry eers vanaand agter die rug Ek het darem iemand anders en sy hond ook van kant gemaak. Is dit nie voldoende nie?”

Lucia sug. “Kom, ons moet wikkel. Dis amper tyd vir die seremonie om te begin. Satan hou nie daarvan as sy volgelinge laat is nie. Ek gaan my kar hier los. Kom ons ry sommer met daai bakkie waarmee jy hier aangekom het.”

“Moet ek nie eers iets anders aantrek nie?” vra Pontius. “My klere is vol bloed.”

“Moenie worry oor klere nie. In die kerk van Satan is jy welkom nes jy is.Veral op ʼn spesiale aand soos vanaand.”

Blitsig is hulle by die deur uit en in die bakkie. Met bande wat skreeu, trek Pontius weg. Daar is geruime tyd al ʼn affair tussen hom en sy skoonma. Al is sy meer as 20 jaar ouer as hy, lyk sy nog baie goed vir haar ouderdom. Sy bevredig al sy behoeftes en laat hom baie spesiaal voel. Toe sy hom vra om deel van die kerk van Satan te word, het hy nie vir ʼn oomblik gehuiwer nie. Vir Lucia sal hy enigiets doen. “Lidmaatskap is eenvoudig,” het sy hom meegedeel. “Maak net jou vrou en jou kind dood en siedaar, jy is deel van ons.Tydens ʼn spesiale geleentheid word jy aan die res van die gemeente voorgestel. Jou lewe sal daarna nooit weer dieselfde wees nie.”

Tien minute later hou hulle voor ʼn verlate gebou stil. Hulle klim uit en Lucia beduie vir Pontius in watter rigting hy moet stap.”Die res van die gemeente behoort al hier te wees,” sê Lucia opgewonde.

Hulle loop by ʼn groot deur in en toe hulle binne kom, hang Pontius se mond oop van verbasing. Nie een van die gemeentelede het klere aan nie. Al die koppe draai in sy rigting en hy weet skielik nie waar om te kyk nie.

“Trek uit jou klere,” beveel Lucia.

Pontius maak soos sy sê en staan net in sy geboortepak in die middel van die gebou.

Lucia is die enigste persoon wat nie naak is nie.

Pontius hou elke beweging van haar dop. Sy gaan maak haar tuis agter iets wat soos die kansel lyk waarvan dominee Bronkhorst in sy kinderdae gepreek het.

Vanuit ʼn hoek speel iemand iets wat soos die dodemars klink op ʼn klavier. Die gemeentelede sak hul hoofde en sluit hul oë.

Toe die persoon drie minute later klaar gespeel is, gaan almal sit. Pontius volg hul voorbeeld.

“Broeders. Susters en vriende,wees gegroet in die naam van Lucifer,” begin Lucia preek.”Dis ʼn besonderse voorreg om vanaand in die kerk van Satan te kan staan. Vanaand is spesiaal want ons het ʼn nuwe lidmaat om aan die gemeente voor te stel.” Sy neem ʼn slukkie van die water wat voor haar staan.

Pontius voel hoe sy wange verkleur. Hy is nie gewoond daaraan om uitgesonder te word nie. Lucia laat hom vanaand so belangrik voel. Hy gaan sy tydjie by die kerk van Satan terdeë geniet, daarvan is hy oortuig.

“Gemeente, ek versoek dat die nuwe lidmaat na vore kom. Hy weet wie hy is,” praat Lucia verder. Opgewonde soos ʼn kind, loop Pontius vorentoe.

Toe hy langs Lucia staan, slaan sy haar een arm om hom. “Broeders, susters en vriende, ek stel aan u die nuwe lidmaat in die kerk van Satan bekend, Pontius Koekemoer.” ʼn Luide applous klink op.

“Welkom!Welkom!Welkom!” klink dit uit honderde kele.

“Met die bekendmaking van die nuwe lidmaat, word daar gewoonlik ook ʼn offer gebring. Vader Lucifer moet geprys word vir die goeie werke wat hy doen. Sy opdragte moet te alle tye stiptelik uitgevoer word.” Weer neem sy ʼn slukkie van die water voor haar.

“Gemeentelede, vir die eerste keer in die bestaan van die kerk van Satan, is die persoon wat as nuwe lidmaat bekend gestel is, ook die persoon wat geoffer moet word. Dis omdat hy ongehoorsaam was en nie gedoen het soos Satan hom beveel het nie.” Die applous word harder en harder. Asof versteen staan Pontius Koekemoer daar. Hy wil weghardloop, maar hy voel ewe skielik soos ʼn standbeeeld. Hardhandig word hy aan sy arms beetgekry deur twee reuse en na ʼn brandstapel in die gebou langsaan geneem. Nakend storm die gemeente agterna. Hulle sing, dans en gaan klap vrolik hande. Hulle steur hulle glad nie aan Pontius se hulpkrete nie. Lucia staan eenkant en vir die eerste keer in ʼn lang tyd verskyn daar ʼn tevrede glimlag op haar gesig.Ongehoorsame mense soos Pontius is nie welkom in die kerk van Satan nie.

Toe sersant Roberts en haar kollegas in die vroeë oggendure op die toneel kom, is daar geen teken van lewe nie. Sy skud verdwaas haar kop toe sy die warm as sien.

Pontius se vuur van haat is geblus, dink sy.

Maar Satan en sy gade loop nog vry buite rond.

Vry om hul duiwelswerk voort te sit…