Delirium – 2016 © Roux Botha
VOLWASSE FANTASIE (2 505 WOORDE)
Kobus stoot die deur van kamer 5 oop. ʼn Balsemwalm hang nog in die lug, al het hy die vensters reeds vroeg vanoggend oopgemaak. Die bed is netjies opgemaak. Geen teken dat die kamer gebruik was nie. Tog het hy haar die vorige aand gehoor. Sy is teen die trappe op en het die deur agter haar toegeklap.
Hoe het dit gebeur? Ingedagte vryf hy aan die litteken op sy wang. Vanuit sy woonstel op die punt van die boonste verdieping kan hy tog alles hoor wat in die gang gebeur.
Terug in sy woonstel sak hy op die stoel agter sy rekenaar neer, sy kop op sy hande. So kan dit nie aangaan nie. Snags skrik hy wakker, terug in die bosoorlog met flitsbeelde van verkragting en dood. Hy moet wegkom. Roodepoort en sy uitgeputte mynhope is te veel vir hom. Hy klik op Weskus-akkommodasie. Dan op Laaiplek met sy vissersbootjies en wit visserhuisies. Sy gunstelingdroomplek. Waar hy Erika die eerste keer gesien het.
ʼn Skielike hoofpyn laat hom terugdeins. ʼn Zol. Hy moet dit hê. Natgesweet en onvas stap hy uit en met die trappe af na ontvangs. Die kiaatbalke van die plafonlose dak sprei soos ʼn spinnerak bo sy kop uit. Bedreigend. Iets wat hom gaan gryp.
Hy vroetel in die laaie van die toonbank. Kry twee vingers dagga. Sy hande bewe, maar hy kry die joint gerol. By die sydeur uit steek hy die zol aan, trek die rook diep in sy longe in en wag. Die koraalboom se rooi spatsels hou sy aandag. Hy probeer fokus op een blom. Die bloeisel word groter en rooier. Kyk weg na die tuinpaadjie stoorkamer toe. Dit word langer en die plaveistene word ʼn helder geelbruin. Die herfslug lyk ongewoon diepblou.
Slinger binnetoe en sak neer op die Morris-stoel in die voorportaal. Lê agteroor en kyk na die dak. Sy oë voel krapperig – oogdruppels vergeet. Dit lyk of die balke beweeg, of die spinnerak al laer sak. Terselfdertyd doem Willem se beeld voor hom op. Die kameraad wat hy toentertyd langs die Lombarivier gelos het.
Hy sluit sy oë, maar die beeld bly. Kyk weer. Dit is wel Willem.
Hy is seker daarvan. Willem is by hom. Hy praat met hom. Het hom tot ʼn paar weke gelede gevra om te help in die gastehuis. Willem het nog altyd verstaan, hom aanvaar soos hy is. Dis hoekom hy altyd bereid is om hom by te staan.
Die interkom lui. Hy staan op en maak oop. Dis Neil Weber, die vryskutpastoor wat af en toe van Lomba Gastehuis gebruik maak en ʼn vertroueling geword het. So het Kobus te hore gekom van die sekskapades wat Neil by sy vorige gemeente in onguns gebring het.
Hulle gaan sit in ʼn private seminaarkamer, deure toe. “Jy wil gesels, Kobus?” Neil se gesig is soos altyd net die regte kombinasie van empatie en fermheid.
“Ek is vasgepen in hierdie plek, ou maat. Dit spook hier, ek kan nie slaap nie.”
“Kobus, jy weet ek maak soms van die fasiliteit gebruik, ek is totaal onbewus van enige probleem.” Met ʼn ligte stem vervolg hy: “Maar vertel my van die spokery. Bedoel jy geeste loer vir my wanneer ek hier doenig is?”
Kobus registreer nie die ligte opmerking nie. Hy vee oor sy voorkop. “Dit maak my mal. Stemme en geluide. En die vrou wat vir ʼn week bespreek het.”
“Vrou?”
Sy verskyn snags teen elfuur en verdwyn dan. Kamer stink na balsem. Nog net Willem het haar al gesien, hy het haar ingeteken.”
Die pastoor kyk skeef na hom.“ʼn Vrou wat onverklaarbaar verskyn en verdwyn? Ek hoop nie jy dink ek het iets daarmee te doen nie. Maar wie is die Willem? Vreemd dat ek hom nog nie ontmoet het nie.”
“My nagassistent, maar net partykeer, die meeste doen ek self. Van die vrou weet ek min. Haar naam is Alina Diaz. Angolese paspoort. Sexy, volgens Willem. Maar sy laat my hare rys.” Die laatmiddagson flits deur die blindings en Kobus staan op, trek dit toe en skakel die ligte aan.
“Angolees? Is ons nou weer terug by die oorlog?”
Kobus weet dadelik waarheen die gesprek gaan lei. Maar hy het nie ʼn sielkundige of ʼn psigiater nodig nie. Beslis ook nie ʼn Rehab nie. Dis in elk geval onbekostigbaar – hy kan nie vir weke van die gastehuis wegbly nie. Hy wil ook nie hoor dat hy sy eie probleem is nie. Wat hy nodig het, is om van die geeste ontslae te raak. Hy het tot al ʼn séance oorweeg, maar Neil het hom daaruit gepraat. Met gevoude arms staar hy na Neil. “Kom kyk vanaand self – miskien sal jy dan verstaan.”
Neil kom orent. Steek sy hand uit. “Deal – ek is vanaand teen agtuur tuis. Bel my onmiddellik sodra iets bonatuurliks gebeur, ongeag die tyd. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Nog beter. Gee my ʼn stel sleutels sodat ek kan inkom.”
Kobus voel verlig toe hy Neil op die stoep afsien. Daar is darem iemand wat omgee, al verstaan hy maar min.
Hy kyk Neil se ou Renault agterna. Dis sterk skemer. Die wind loei en strooisels geelwit mynsand lê op die stoep. ʼn Verlate mynskag afgeëts teen die namiddagson hou waak oor die siele wat in die mynskagte dwaal. Die alleenheid van die skag hou sy oë vas. Alleen. Nes hy. Sonder Erika.
Kobus gaan soek vertroosting in die versteekte laai in sy kamer. Vind foto’s van Erika in die jare voor hy weer Afrika in is. Dis deurmekaar in ʼn leë album ingedruk. Haar stem kan hy egter nie vasdruk nie. Dit druis in sy ore. “Kobus, ons kan nie so aangaan nie. Ek is lief vir jou en probeer verstaan hoekom jy altyd weer wil terug, maar ek kan nie. Is ek nie genoeg nie? Hoekom hierdie oorlogsugtigheid?”
Hy druk sy hande oor sy ore. Hoe het haar SWAPO-gesinde vriende hom nie gewalg nie? Toe die stemme bedaar, laat sak hy sy hande en bekyk die foto’s van waar hulle wegskarrel uit Laaiplek se koue water. Soos kinders speel hulle in die son. Hy sug. Dit was agt jaar gelede. Waar is sy nou? Sy het gepleit dat sy die ou Kobus wil terug hê. Die een wat nugter, beredeneerd en liefdevol is. Dan het hy weer vir ʼn paar weke probeer, net om moedeloos terug te val in sy dwelmwêreld.
Soos so dikwels vantevore tel hy die selfoon op en soek na haar naam. Die boodskappe wat hy vir haar gestuur het is nog daar. Geen antwoorde nie. Haar woonstel in Roodepoort was leeg. Het haar nommer verander? Wou sy net onbereikbaar wees? Hy besef dat sy seker niks met hom te doen wil hê nie. Sy is weg.
Sy wange begin gloei. Wat het hy aangevang? Van een kroeg na ʼn ander geslenter. Goedkoop hotelle opgesoek. Hy probeer name onthou. Was dit hulle regte name? Jack was per slot van sake sy skuilnaam. Gwen, Elise, Celeste…alles seker maar versinsels soos sy eie.
Die interkom lui. Twee Namibiërs wat lankal bespreek het vir kamer 2. Dis nie watwonders nie, naby die kombuis, maar darem weg van die spookroete af. Hulle lyk na stil, goedgemanierde mans, maar tog lyk hulle vir hom verdag. Met die bespreking het hy al gewonder of hulle iets met sy verlede te doen het. Hulle moet dopgehou word – is moontlik SWAPO-mense of Angolese vyande. Miskien is hulle nie toevallig hier nie. Mens weet nooit. Niemand weet van sy wandade in Angola nie, behalwe Willem. Sou sy vriend dalk met die vyand heul? Of is dit van Erika se ou vriende?
Dis Kobus se diensaand en hy maak seker dat daar ʼn bottel vodka en genoeg rookgoed in die stoorkamer net agter die toonbank is. Die gastehuis is stil. Dit laat hom onrustig voel en hy staan op en stap met die gang langs na die Namibiërs se kamer. Hoor slegs gedempte geluide wat soos ʼn skiet-en-skop-fliek klink. Dan is hulle seker oukei.
Die wind kerm mynlegendes uit om die hoeke van die gebou. Hy stap terug na ontvangs, sy malende gedagtes op soek na redes vir sy onrustigheid. Iewers het hy gehoor die Fosterbende het – nou amper ʼn honderd jaar gelede – in die omgewing rondgeswerf en ʼn jong vrou hier voor in die straat verkrag en vermoor. Die gedagtes sleep hom terug na Angola, na die Lombarivier waar Willem, swaar gewond, om hulp smeek.
Vlieënde stukke metaal, donderslae en ontploffings flits deur sy kop. Hy hoor die gille van ʼn vrou en sy eie hortende asemteue. Hardloop, altyd hardloop, na die vyand toe of weg, maak nie saak nie, dis vrees en adrenalien wat jou laat doodmaak, wat die vuur van waansin in jou kop aan die brand steek. Sy hande bewe terwyl hy nog ʼn joint rol en die Durban Poison diep insuig.
Digby ontvangs skeer ʼn vlermuis rakelings oor sy kop, draai om en vlieg terug. Dis ʼn grote, met ontblote tande en vieslike gewebde vlerke. Kobus raap ʼn skinkbord op wat een van die gaste voor ʼn kamerdeur agtergelaat het. Met die derde hou tref hy die teiken. Iets geels spat uit die vlieënde dier, wat aanhou vlieg, teen die stel trappe op in die rigting van sy woonstel.
Kobus wil-wil hom agternasit, maar die foon lui, en die klokkie en nog tientalle ander klokke, en geweerskote klink op sodat hy hy nie kan weggaan nie, maar by die toonbank aan diens moet bly, sy bes moet doen. Uiteindelik antwoord hy die telefoon. Al wat hy hoor is iemand wat asemhaal.
Geleidelik bedaar hy. Nog net Alina moet inkom. Sy selfoon lê gereed soos ooreengekom – om daardie missed call te maak.
Meteens gaan die ligte af. Verdomde Eskom – hy het skoon vergeet om na die skedule te kyk. Hy tas rond. Soek verward na die flits. Die donkerte is ʼn nagmerrie vir ʼn gastehuis. Hy kry die flits beet en skarrel by die agterdeur uit na die kragopwekker se staanplek agter die buitegebou.
Pluk aan die aansitter se tou. Met die vierde rukslag breek dit. Wat nou? Terug toonbank toe. Is dit sabotasie? In die ontvangsarea wag een van die Namibiërs hom in. Angs oorweldig hom: “What the hell are you doing here?”
“Is this how you treat your guests? What are you doing about the electricity situation? We’ve been watching TV.”
Kobus kom tot verhaal en oorhandig die batterylamp met bewerige hande. Verseker die man die krag sal spoedig aan wees. Vanaand is die hel los. Al die tekens is daar. Krag wat afgaan, twee vyandige Namibiese gaste – miskien iewers uit sy verlede – en ʼn kragopwekker wat nie werk nie.
Hy sukkel in die donker met sy selfoon, skakel City Power. Hoor: “We are experiencing high call volumes, please wait for the next available agent” gevolg deur agtergrondsmusiek. Dit gebeur weer. Dan nog ʼn keer. Hy sal sy rewolwer moet gaan soek. Wat as hier inbrekers kom? Hy tas in die donker rond, gryp die flits en skarrel die trappe op kluis toe. Maar die kluis se sleutel is nie in sy leerbaadjie se sak waar hy dit wegsteek nie. Bliksem! Wat nou? Hy moet by die toonbank kom. Daar is nie tyd om te soek nie.
Stamp ʼn tafeltjie uit sy pad in sy poging om so vining moontlik by die trap te kom en strompel dan af onder toe. Die selfoon. Hierdie keer luister hy langer en hoor: “Please note that you are also able to log your faults on our website… Hoe de duiwel moet hy dit in die donker doen? Hy gaan leun moedeloos teen die muur. Die ligte flikker, gaan af, aan, bly dan aan.
Het die interkom gelui? Kobus maak oop, en neem stelling in op die rooshoutstoeltjie agter die toonbank, sy gesig strak, Parker-pen in die hand.
Hoe lank voor Alina haar verskyning maak? Twee minute? Dalk drie? Hy blaas sy asem stadig uit en sluit sy oë. Alina Diaz se gestalte verrys voor hom: beeldskoon, miskien Halfportugees of Kubaans, lank en lenig. Haar oë is fosforagtig teen haar koperbruin gelaat.
Hy probeer groet, maar sy fladder verby met ʼn wasige donker figuur langs haar. Lyk soos Willem. Wat de moer – Willem? Sy kameraad? Sy steunpilaar? Hy sien hom nog daar langs die rivier, bloeiend, sterwend. Willem het geweet van die vrou. Net hy en Willem het geweet.
Alina skater satanies op die trappe. Kobus probeer homself regruk. Gee Neil ʼn missed call. Sy vingers ruk, ʼn tweede vlermuis swiep oor sy hand, selfs groter as die eerste – en die selfoon spat aan flarde op die vloer.
Dis genoeg. ʼn Doodse kalmte kom oor hom. Niks maak meer saak nie, net die wete dat hy dít gaan doen, móét doen, dat hy geen keuse het nie, nie meer verder kan nie, die einde bereik het.
Hy stap die trappe op en met die gang af na kamer 5.
Hy klop nie, stamp bloot die deur oop. Op die dubbelbed lê twee verminkte liggame in ʼn omhelsing: Alina en Willem. Die balsemreuk oorweldig hom, maar hy kan nie wegkyk nie. Willem se gestalte is versmelt met Alina sʼn. Die gedrog kom orent en reik na hom met twee pare uitgeteerde arms. Pak hom beet en pen hom vas op die bed.
Alina se oë flits groen terwyl haar beenhande om sy nek sluit. Met die ander twee hande rol die gedrog ʼn lakentou en slaan dit om sy nek. Terwyl hy brakend spartel, hys die monster hom met kragtige hale teen ʼn houtbalk op.
Deur ʼn waas van alkohol en braaksel sien Kobus ʼn gedaante wat die kamer binnestorm. Die figuur skeur die lakentou van die balk af. Kobus val op die vloer, sleep homself na die deur. Die gedaante buk, kry hom onder die arms beet en sleep-dra hom na die bed.
Nie die bed nie. Nie daar nie. Nee!
Hortend, onsamehangend prewel Kobus: “Alina… Willem…”
“Ek dink nie so nie, Kobus,” sê die gedaante met Neil se stem. “Lê net stil. Ontspan. Hier is niemand. Net twee vlermuise wat by die venster uitgevlieg het. Hoekom het jy jouself probeer ophang, ou? Toe maar, hou kop – ek bel die ambulans.”
Kobus knipper sy oë. Oorkant hom op twee gemakstoele sit Alina en Willem. Sy is ʼn glimlaggende engel. Willem is rustig, pyp in die hand, sy gesig vol begrip. Net so skielik as wat hulle verskyn het, verdwyn hulle weer.
Twee paramedici kom binne, tel Kobus op en laat sak hom in ʼn rolstoel. Neil stap saam ambulans toe en gaan sit binne by Kobus. Die ambulans rol amper geluidloos by Lomba se hekke uit.
Kobus probeer sy kop lig. Is dit regtig Neil? Of wie? Wat? Al wat hy sien, is die vae beeld van Erika. Hoekom kom sy nie nader nie, hy wil haar hand vashou.
Dan praat sy met hom. “Jou soektog is verby, Kobus. Ek is hier by jou. Die storms in jou kop gaan stil word. Ek gaan jou by die hospitaal kom haal. Terug Laaiplek toe neem.”
Einde