Radio

Die uitsending van radio het ‘n belangrike rol gespeel in die vermaak en ontwikkeling van die samelewing in ‘n tyd toe vervoer nog baie beperk was en nedersettings vêr van mekaar verwyder was. Radio was dikwels die enigste verbinding met die buitewêreld en was soms die enigste bron van afleiding.

Radio-toetsuitsendings het in Suid-Afrika op 29 Desember 1923 vanuit Johannesburg begin. Kaapstad het op 15 September 1924 gevolg en Durban op 10 Desember 1924. Aanvanklik was dit meestal Engels, maar op 25 Oktober 1937 is die eerste sender wat uitsluitlik vir Afrikaans bestem was, in gebruik geneem. Die volgende dag was daaroor in die koerante berig en is onder meer gesê dat daar “vir Afrikaans ‘n slag gelewer wat gelykstaan met ander groot ligbakens op ons taal se opwaartse pad“.

Die Afrikaanse radiodiens was eers bekend as Radio Suid-Afrika, maar is sedert 1995 bekend as Radio Sonder Grense (of RSG).

Onder die post-apartheid regering het Afrikaans as televisietaal van die SAUK (SABC) minder prominensie begin kry, maar die radiodiens in Afrikaans is tans (2016) sterker as ooit met die grootste luistertal van enige van die radiostasies in Suid-Afrika en is die enigste SAUK-radiostasie wat winsgewend bedryf word. Dit lok ook talle luisteraars van oor die wêreld wat dit volg deur die internet in hierdie tyd wat baie Afrikaanssprekendes elders as in Suid-Afrika woon.

Dit blyk taamlik moeilik te wees om vas te stel watter uitsendings oor tyd op die bespiegelingfiksie van Afrifiksie gefokus het, maar ons sal poog om hierdie register by te hou en uit te brei namate meer daaroor uitgesaai word of nuwe inligting oor vroeëre uitsendings onder ons aandag kom – vestig asseblief ons aandag daarop indien jy oor sulke kennis beskik.

Radio-uitsendings oor ‘n genre van die letterkunde kan gewoonlik een van twee vorme aanneem. Eerstens kan dit as ‘n boekvoorlesing aangebied word wat gewoonlik oor ‘n aantal episodes opgedeel word. Die ander metode is ‘n radiodrama wat doelspesifiek vir radiodramatisering geskryf of aangepas is, en dan opgevoer word deur stem- en klankkunstenaars. RSG bied jaarliks sulke drama’s aan in ‘n program bekend as Radioteater, waarvan enkeles in die Afrifiksie-sfeer is.

In 1957 en later weer in 1971 is Jan Rabie se Hemelblom weekliks uitgesaai as ‘n vervolgverhaal. (WF)

1965 – C.J. Langenhoven (verwerk vir radio Jacques Loots): Loeloeraai

~1983 Tom Goldwin (vertaal Jacques Loots): Die Koue Syfers (oorspronklik The Cold Equations)  (WF)

2011 – Jan F ViljoenEen-en-twintig Mei Twintig Elf  (WF)

Marius is ‘n ouditeur wat vir post-traumatiese stres behandel word. ‘n Ruimtewese verskyn aan hom en sê hy moet ‘n lewensbelangrike boodskap aan die mensdom oordra. Die probleem is natuurlik niemand sal hom glo nie. Of is daar dalk tog iemand wat hy kan oortuig.

2012 – Charles Dickens: Ebenezer Penniegryper: ‘n Kersfeessprokie  (F)

Dit is Oukersaand en Ebenezer is ‘n suinige prokureur en knorpot wat geen sin in die feesvieringe rondom Kersfees sien nie. Hy wil skaars vir Karel Kroukamp, sy klerk, toestemming gee om tyd saam met sy gesin deur te bring. Maar dan ontvang hy ‘n paar besoekers in sy slaap wat hom laat besef wat die invloed van sy knorrigheid op ander is.

Penniegryper is Aart de Villiers en Don Lamprecht se Afrikaanse verwerking en vertaling van Dickens se A Christmas Carol. Dit is Oukersaand en Ebenezer is ‘n suinige prokureur en knorpot wat geen sin in die feesvieringe rondom Kersfees sien nie. Hy wil skaars vir Karel Kroukamp, sy klerk, toestemming gee om tyd saam met sy gesin deur te bring. Maar dan ontvang hy ‘n paar besoekers in sy slaap wat hom laat besef wat die invloed van sy knorrigheid op ander is. Die spelers is onder andere André Rossouw, Ivan Abrahams, Christo Gerlach, Theresa Cloete, Randall de Jager en André Samuels. Die drama is in 1992 opgevoer.

2013 – Fanie Viljoen: Breking  (WF)

Wat sou gebeur as die mediese wetenskap ons almal eendag vir ewig aan die lewe kan hou? Dit is dié vraag wat die bekroonde skrywer Fanie Viljoen met sy debuut-radiodrama wou beantwoord. Stamselnavorsing kan dalk in die toekoms jou voor ernstige keuses te staan laat kom. Johan Rademan is die regisseur van dié riller van ‘n liefdesverhaal wat deur Viljoen as “teater van die futuristiese verbeelding” beskryf word. Die rolle word voortreflik vertolk deur Frieda van den Heever, Marlo Minnaar, Leon Kruger, Juanita Swanepoel, Johann Nel en Deidré Wolhuter.

2014 – Schalk Schoombie: Sonstorm  (WF)

Niek en Miekie woon in ’n slimgebou. Alles is geoutomatiseer en geoptimaliseer – van veiligheid en sekuriteit tot voeding en klimaatbeheer. Onbemande tuie patrolleer die stad terwyl kameras en mikrofone oral opgestel is om misdaad hok te slaan. Selfs binne-in wooneenhede geld streng beheermaatreëls. Een van Miekie se frustrasies is dat daar ’n enorme versameling afstandbehere is wat alles, van die lugversorging tot die beligting en die deure beheer. Uiteindelik ontdek hulle dat daar nog meer beheer kan word as wat hulle aanvanklik gedink het…

2014 – Wilken Calitz: 2092: God van klank  (WF)

Alle vorme van kuns is 40 jaar gelede verbied en die kunstenaars wat steeds hulle kuns probeer beoefen het, is terreggestel. Een pianis het ‘n klavier vir 40 jaar in ‘n grot weggesteek. Wat gebeur as iemand se hartstog sterker as sy oorlewingsdrang is? Die hoofspelers is Chris van Niekerk en Wilna Snyman. Ander spelers is Pedro Kruger en Albert Pretorius.

2014 – Christopher Marlowe: Die tragiese geskiedenis van doktor Faustus  (F)

Faustus gee sy siel aan Lucifer, die duiwel, in ruil vir ‘n langer lewe, wellus en alles wat hy wil hê.

2014 – Riana Scheepers: ‘n Lang, lang nag  (F)

Die verhaal is losweg gebasseer op die mite van Sheherazade, wat baie behendig die dood gefnuik het deur die Sultan te betower met die mooiste verhale en mites vir ‘n duisend en een nagte. Hy het al sy ander vroue na een huweliksnag onthoof. Gedigte van G.A. Watermeyer en Elmarie van Schalkwyk vorm deel van die aangrypende verhaal.

2014 – PG du Plessis: Die nag van Legio  (F)

Die drama is die eerste keer in 1969 opgevoer deur die destydse TRUK. In 1972 wen dit, saam met SIENER IN DIE SUBURBS, die gesogte Hertzog-prys vir drama. In 1990 verwerk die dramaturg, wat vanjaar tagtig word, die drama vir vrouespelers. Vyf vroue in ’n inrigting vir sielsiekes, kry op die vooraand van ’n skuif na ’n ander vleuel, ’n nuwe kamermaat in hulle saal by. Sy is Maluna en sy is daar om ’n ou wrok teenoor Hanna aan te spreek. Die rol van Maluna word vertolk deur Amanda Strydom en Elsabe Zietsman is Hanna. Ander spelers is Elize Cawood, Elma Postma, Karen Wessels, Marina Coetzee en Melt Sieberhagen.

2015 – Martyn le Roux: Bloedlyn  (F)

Kaptein Eugene de Vries word een nag wakker gebel en opgekommandeer om ‘n onverklaarbare geval in Duiwelskloofpas te ondersoek. Die verhaal wat ontvou is een van feite en fantasie waarin die volmaan die hoofrol speel. Die akteurs is Robbie Wessels, Marina Coetzee, Johny Klein, Karen Wessels, Rouel Beukes, Bradley Olivier en Sue Pyler.

2015 – Jan Rabie: Rabie op Radio (twee verhale onder meer “Ek het jou gemaak“)  (WF)

RABIE OP RADIO is ’n tweeluik-produksie van die bekende kortverhale, EK HET JOU GEMAAK en LIED OOR NIEMANDSLAND, deur Jan Rabie, met toeligting deur die bekroonde skrywer en akademikus, Abraham H. De Vries. Beide verhale is vir die radio verwerk deur André Kotzé.

2015 – Italo Calvino: Die Baron op die Bome  (WF)

Italo Calvino was ‘n Italiaanse joernalis en skrywer van kortverhale en boeke. Hy was ten tye van sy dood in 1985 die mees vertaalde kontemporêre Italiaanse skrywer en ‘n belangrike mededinger vir die Nobelprys vir Literatuur. Gedurende sy lewe het hy en sy broer dikwels in bome geklim en daar gesit en lees en ook gefilosofeer oor godsdiens en die politiek. Dít is dan moontlik wat hom die idee gegee het om die drama te skryf oor ‘n man wat sy hele lewe in die bome deurgebring het, sonder om aan die grond te raak, op soek na liefde. Die klassieke stuk is in Afrikaans vertaal deur Elma Warden, en die regisseur het besluit om nie te peuter aan die ietwat argaïese teks nie, aangesien dit bydra tot die fantasie wat ons deur die oë van die verteller en broer van die boombaron meemaak.

2016 –  Fanie ViljoenRagel  (F)

Luan Loots hou daarvan om ander mense se weggooigoed by pandjieswinkels te koop. Hy beplan om alles te verkoop wanneer hy aftree, om vir hom en sy vrou te sorg vir hulle oudag. Dan kom hy op iets af wat hy dalk liewers op die winkelrak moes gelos het, want vandat hierdie ding in sy huis staan, gebeur daar vreemde goed… soms sommer helder oordag!

2018 – Schalk Schoombie: Kop (WF)

Set Niemand is ‘n belowende pianis. Hy word gediagnoseer met ‘n vernietigende siektetoestand wat sy liggaam aanval. ‘n Russiese gimnas word breindood verklaar en siedaar, Set se kop word op die gimnas se lyf oorgeplant deur ‘n span Suid-Afrikaanse geneeshere in Moskou in die Kremlin. Aanvaar die kop en die lyf mekaar? Hoe reageer die medici daarop? En wat van eie belang? Is dit moontlik en volhoubaar?

2019 – Herman Cronjé: Die Selle (WF)

‘n Welgestelde, spoggerige vrou kom te hore van ‘n rewolusionêre prosedure waarvolgens die kloning van ‘n mens vervolmaak is deur varke te transmuteer om uiteindelik die voorkoms en persoonlikheid van ‘n gasheer-mens aan te neem. Sy is ongelukkig getroud met ‘n bombastiese narsis, en besluit om die nuwe prosedure (sonder haar man se medewete) op die proef te stel…

2020 – Johann Smith: Boetie ontmoet ‘n Alien (WF)

Stel jou voor: ‘n Doodgewone Suid-Afrikaanse plaas. Een van die gesinslede het pas teruggekeer uit die buiteland, en is redelik rebels. Die skoolseun in die gesin worstel met allerlei probleme wat nie eers die internet kan oplos nie. En dan is die ouers erg bekommerd oor hulle kinders se geestelike en emosionele welstand. Op ‘n dag is daar ‘n klop aan die deur. Daar staan ‘n vreemde, bleek man, en hy praat ‘n rare taal in ‘n vreemde elektroniese stem sonder dat sy mond beweeg! Het hy oplossings vir sekere aardse probleme? Hoe gaan hy dit aan die gesin oordra? Het hy goeie bedoelings, of is hy van iewers anders met verskuilde motiewe? Pietie Beyers is die alien, Luan Jacobs die seun met die emosionele probleme, Izél Bezuidenhout die meisie met die humeur, Christine Voorendyk die bekommerde ma en Anton Schmidt die verwarde pa. Hierdie radiodrama was ’n finalis in RSG en Sanlam se radiodramaskryfkompetisie van 2019.

2020 – Martyn le Roux: Bloedmaan (F)

Bloedmaan is is die opvolg van die veelbekroonde BLOEDLYN (2015). Die storie neem ons na die hartjie van die Tankwa-Karoo. ʼn Groot skroef is los in die Sutherland-omgewing. Dit lyk of ʼn reeksmoordenaar daar bedrywig is. Een van die moorde volg egter nie die patroon nie, en lyk baie soos ʼn herhaling van die ‘wolfmoorde’ wat destyds in die Boland gepleeg is – ʼn onaangename herinnering wat die polisie en baie ander eerder sou wou vergeet of in ʼn bottel iewers in ʼn kroeg sou wou verdrink… Die rolle word vertolk deur Robbie Wessels, Neil Sandilands, Christine Voorendyk, Johny Klein, Francois Stemmet en Solomon Cupido.

2021 – Philip Nolte: Morgenster (WF)

Dit is 2040 en Suid-Afrika is onherkenbaar. ‘n Dispotie. Die post-pandemie regering het ekonomieë verander en kontroleer die land met ‘n diktatorshand. Provinsies is geskrap. Mure is rondom metropole gebou om die rykes en die armes te skei. Aardverwarming het veroorsaak dat somer verdwyn het, en dat winter die wêreld deur die jaar omhels. In die armsalige uitstedige uitbreiding, Morgenster, is die inwoners desperaat en moedeloos in die gehawende omstandighede van hulle bestaan. So ook die middeljarige pessimis, Benjamin, wat elke aand op ‘n straatbankie voor ‘n kafee slaap. Een aand val daar ‘n jong engel, Azrael, met net ‘n wit onderbroek per ongeluk uit die hemel, en Benjamin help hom onwillekeurig om terug te keer hemel toe. Maar hierdie reis tussen twee vreemdelinge word onopsetlik Benjamin se redding van sy bestaan. Benjamin se verlede word sy hede, sy toekoms verander en sy menslikheid word bevraagteken. En hy mag nie van Lucy vergeet nie… Die akteurs in die rolverdeling is: Johann Nel, Gideon Lombard, Kay Smith, Jana Kruger en Antoinette Kellermann.

In 2018 is ‘n onderhoud gevoer met Afrifiksie se webmeester (Machiel Viljoen op daardie stadium) oor die webblad en wetenskapfiksie in die algemeen.

Dan is daar natuurlik ook wetenskaplike programme wat dikwels interessant kan wees vanuit ‘n wetenskapfiksie oogpunt, soos Hennie Maas se dokumentêre program uit 2013: Anderkant die wolke – die mens se soeke na sin in die ruimte.

RSG hou gereeld radiodrama skryfkompetisies. Indien jy voel dat jy oor so ‘n ambisie of vaardigheid beskik, gaan kyk gerus op hul webwerf vir besonderhede. Wie weet, een van die dae voeg ons dalk jou bydra ook by hierdie lys…