Deborah Steinmair (2012)
Poppekas is ‘n tipe speurverhaal van ‘n jong vrou wat by ‘n koerant in Kaapstad werk. Die aspek wat die boek deel maak van die WF-wêreld, is dat robotte (of outomate of androïedes) deel is van die verhaal.
Die verhaal is vol intrige en bind die leser onmiddelik. Dit is egter jammer dat Engels heeltemal onnodig in die boek gebruik word. Dit is só onnodig dat baie woorde wat relatief algemeen in Afrikaans is, óók in Engels gebruik is. In sekere gevalle voel dit asof die skryfster doelbewus woorde wat sy self in Afrikaans sou gebruik doelbewus in Engels ingespan het – miskien omdat sy gedink het dat dit meer byval sou vind by die lesers. Een so voorbeeld is dat sy die woord “charger” vroeg in die boek gebruik, maar dit later as “laaier” gebruik vir presies dieselfde toestel.
Dan, is dit tog jammer dat boeke nie, soos flieks, met ‘n ouderdomsbeperking uitgereik word nie. Daar is ‘n paar dele wat werklik nie geskik is vir kinders nie, en dit behoort ‘n beperking van omtrent 13S te dra.
Die styl van die boek is in die vorm van ‘n dagboek, wat aan die begin nogal hinderlik is en dit nie baie geskik maak om voor te lees vir ander nie. Maar na ‘n klompie bladsye raak mens gewoond daaraan.
Ten spyte van die kritiek is die boek tog aanbeveel vir die WF-leser, en die idee van wat ons “mens” maak word ‘n vraag waaroor nagedink word, en voel die leser hartseer wanneer van die robotte opgeoffer word. Kan ‘n persoonlikheid en onafhanklike denke in programmering geskep word? En, indien wel, word só ‘n skepping dan meer as bloot ‘n robot? Word dit deel van dít wat ons mens maak?
Hierdie is presies dit tipe vrae wat aan die hart lê van baie wetenskapfiksie van ons tyd…