Een van die interessantste speurverhale begin toe die biologiese rekord ontleed is vir die uitsterf van spesies op Aarde. ‘n Verstommende patroon het met eens na vore getree. Daar sterf voortdurend spesies uit op die planeet, maar daar vind ‘n grootskaalse uitwissing plaas omtrent met klokslag elke sowat 26 miljoen jaar, waartydens die koers van uitwissing tussen 100 en 1000 keer hoër is as andersins. Tydens die ergste voorval is sowat 90% van alle spesies uitgewis.
Die ooglopende vraag ontstaan natuurlik – wat kan vir hierdie verskynsel verantwoordelik wees. Hoewel baie verskillende dinge sulke uitwissings kan veroorsaak, soos ‘n grootse vulkaniese uitbarsting byvoorbeeld, is dit nie maklik om aan ‘n sinvolle verduideliking te dink wat die periodisiteit kan verklaar nie – waarom het dit ‘n vaste periode?
Wetenskaplikes het verskeie teorieë ontwikkel in ‘n poging om die waarneming te verduidelik. Die een moontlikheid is dat die sonnestelsel nog ‘n groterige planeet bevat – ‘n soganaamde Planeet X. Hierdie planeet kan moontlik ‘n periode van 26 miljoen jaar hê met ‘n hoogs elliptiese wentelbaan – moontlik ook in ‘n pollêre wentelbaan wat dus nie dieselfde vlak met die omwenteling van die ander planete deel nie. Indien so ‘n planeet op sy naaste punt aan die son kom, kan hy moontlik so ‘n sterk swaartekrag steurnis in die Oort-wolk veroorsaak dat daar ‘n drastiese toename kan wees in die hoeveelheid komete (en ander massiewe liggame) wat na die son toe beweeg. Al die planete sal dan gebombardeer word met hierdie stortvloed van ruimteliggame en indien die aarde getref word kan dit nog uitwissings veroorsaak soos dié een wat die dinosourusse uitgewis het.
Die ander (grootliks soortgelyke) teorie is dat die son ‘n metgesel het in die vorm van ‘n rooi-dwerg (of bruindwerg) – ‘n lae massa ster wat nie helder kan skyn soos ‘n volwaardige ster nie (tipies ‘n derde van die massa van die son maar slegs omtrent een tiende so helder). Die hipotetiese tweede ster in die sonnestelsel van die aarde het die naam gekry van Nemesis. Hierdie twee sterre kan om hul gemeenskaplike massamiddelpunt wentel met ‘n periode van 26 miljoen jaar, en weereens kan die swaartekrag versteur word op hul naaste punt aan mekaar. Die bombardering vind dan plaas soortgelyk aan die geval van Planeet X.
Verskeie soektogte is uitgevoer om hierdie planeet en / of rooi-dwerg te vind met geen sukses. Hoewel dit nie gevind kon word nie is die stryd steeds nie gewonne gegee nie en is nog programme aan die gang om dit te vind. Sterrekundiges is dit egter eens dat hulle nie bestaan nie, maar die punt moet gemaak word dat ons telkens verbaas word deur nuwe liggame wat binne ons sonnestelsel gevind word, so die moontlikheid moet nie uitgesluit word nie.
So, wat is dan die antwoord vir die raaisel van die periodiese uitwissings indien die twee teorieë nie die verklaring is nie. Wel, die mees algemene verduideliking vir die uitwissings is dat die Sol-sonnestelsel, saam met al die ander stelsels van die Melkwegstelsel, voortdurende heen-en-weer (of op-en-af) deur die vlak van die Melkwegstelsel beweeg, en dat periode van hierdie sikliese beweging 26 miljoen jaar is. Wanneer die son se stelsel deur die vlak van die sterrestelsel beweeg, is daar ‘n hoër digtheid van voorwerpe wat, gesamentlik met die effek op die swaartekrag, meer botsings tussen hemelliggame veroorsaak wat uitwissings op die aarde tot gevolg het.
Oor tyd was daar vyf groot uitwissings en verskeie was kleiner. ‘n Skrikwekkende gedagte is wetenskaplikes sê dat ons op die rand staan van die 6de groot uitwissing – en hierdie keer sal ons, die mensdom self, daarvoor verantwoordelik wees. Die roekelose houding wat die mensdom het jeens sy omgewing veroorsaak tans dat ons so ‘n groot aantal spesies tot uitwissing kan dryf dat die mens self nie sal kan oorleef nie.