Die wetenskapfiktiewe wêreld is aan ons almal bekend. Maar dít waaraan ons gewoond geraak het oor dekadesheen, is tog besig om te verander.
Die meeste van ons het gewoond geraak aan ‘n wetenskapfiksiewêreld van die absoluut ongelooflike – die heelalle van Star Wars en Star Trek en Avatar en die magdom ander titels waar ons te doen kry met daardie tipe wetenskapfiksie wat elke aspek van ons eie werklikheid vêr agter ons in die pad laat en ons met ongeloof laat kyk na hierdie verstommende nuwe wêreld wat vir ons geskep word.
Maar die afgelope paar jaar begin ons toenemend ‘n beweging sien in hierdie genre van fiksie wat besig is om te “verhard”. Harde wetenskapfiksie is ‘n vertakking in hierdie genre waarin die wetenskaplike elemente nie so absolúút ongelooflik en vergesog is nie en waarin die wetenskap meer ooreenstem met die werklikhede van die mensdom op aarde. Met ander woorde, die wetenskap in harde wetenskapfiksie is meer “moontlik” en gebasseer op ‘n meer nugtere siening van wat werklik moontlik kan wees of waarheen die mensdom werklik op pad is.
In die afgelope paar jaar sien ons toenemend meer flieks en selfs televisiereekse waarin hierdie harder wetenskapfiksie (met groot sukses) vervaardig word.
In die 2013 fliek Gravity, word daar gespekuleer oor die moontlikhede van die sogenaamde Kessler-sindroom, waar ‘n voorval in die ruimte om die aarde lei tot ‘n kettingreaksie wat toenemend meer en meer ruimterommel skep sodat die ruimte nie meer deur die mensdom betree kan word nie – ‘n toestand wat moontlik vir baie geslagte lank kan voortduur.
Die fliek skep ‘n bewustheid oor die probleem van toenemende ruimterommel wat die toekoms van ruimtevaart van die mensdom begin bedreig.
Ook in 2013 word die minder-suksesvolle fliek Europa Report uitgereik. Dit gaan oor ‘n sending na ‘n maan in die sonnestelsel waartydens die ontdekking van lewe ook lei tot ‘n rampspoedige einde van die sending.
In 2014 is die fliek Interstellar uitgereik met die tema van die mens wat die aarde sodanig uitgemergel het dat daar noodgedwonge gesoek moet word na ‘n alternatiewe woonplek vir die mens om te kan voortbestaan.
En weereens word ons aandag gevestig op die verantwoordelike bestuur van ons omgewing.
In 2015 word die fliek The Martian uitgereik waarin die aangrypende verhaal vertel word van ‘n ruimtevaarder wat agterweë gelaat is op Mars, en die moedige poging om hom te red.
Met die toename in die gewildheid en die sukses van hierdie flieks is dit natuurlik geen wonder dat televsie ook gevolg het met ‘n reeks op munt te slaan uit hierdie verandering in die aptyt van moderne wetenskapfiksie-aanhangers vir harder WF nie. In 2015 word die TV-reeks The Expanse uitgereik en ontstaan daar onmiddelik ‘n nuwe gewildheid vir hierdie “meer realistiese” vorm van wetenskapfiksie.
Hierdie flieks het almal ‘n nuwe varsheid en verfris die verbeelding met die idee van “werklike moontlikhede” wat ontbreek het by baie van die meer tradisionele vorme van WF. Hier is geen vinniger-as-lig tegnologie nie en geen magdom van spesies van ander wêrelde waarmee ons die heelal moet deel nie. Ruimtevaart gebruik vuurpyltegnologie en werklike mense se lewens moet genoeg wees vir die verbeelding.
Hoewel hierdie vorm van vermaak nooit die ander vorme van wetenskapfiksie sal verdring nie, moet dit tog ook nie onderskat word as ‘n heerlike toevoeging tot die spyskaart van wetenskapfiksie nie. Probeer dit gerus….