Fotoverhale is ‘n spesiale kategorie in die fiktiewe wêreld. Dit is die vertelling van ‘n verhaal deur middel van ‘n reeks foto’s wat op mekaar volg en wat die grafiese inhoud van die storie verskaf, terwyl die dialoog deur spraakborrels in die foto’s geplaas word om die karakters van die verhaal ‘n “stem” te gee. Dit volg dus die patroon van strokiesprente.
Hierdie vorm van vermaak was redelik gewild vanaf die 1950s tot omtrent die middel 1970s, toe Suid-Afrika televisie gekry het. Die stories was bedoel vir die vermaak van die massas, en moes derhalwe goedkoop wees – dis daarom gewoonlik op koerantpapier gedruk en die gehalte van die drukwerk was ook nie juis goed nie. Maar die akteurs moes tog vir elke raampie in die verhaal spesiaal aantrek en poseer. Baie mense het gemeen dat hierdie tipe leesstof uit die bose was en het hul kinders verbied om dit te koop of te lees.
Die meerderheid van die stories het ‘n romantiese strekking gehad en was ‘n tipe sepie op papier. Die volgende grootste kategorie was aksiehelde wat amper tipe supeheldrolle gespeel het en onskuldiges gered het uit die kloue van booswigte.
Hoewel daar geen werklike reekse oor wetenskapfiksie gemaak is nie, het sekere van die aksiehelde soms wel hulself bevind in ‘n storie wat tog wel WF-elemente bevat het.
Ons sal van hierdie verhale hier plaas indien ons daarvan te wete kom.
Die Wit Tier
Die Wit Tier is ‘n aksiekarakter wat in ‘n fiktiewe Afrika-land woon, naamlik Takaranië. Hy kom telkens te staan teen die een of ander boosheid wat noodwendig dan op ‘n konfrontasie uitloop. ‘n Algemene tema in sy stories is die een of ander mooie meisie wat deel is van die storie en wat gered moet word, of wat hom soms moet red.
Dit is ‘n jammerte dat nòg die skrywer van die stories, nòg die akteur self wat die rol van die Wit Tier vertolk, bekend is. Die boekies van die Wit Tier is deur Republiek Pers gedruk en uitgegee.
In die Wit Tier no. 68 kruis sy paaie met twee buiteaardse wesens, wat natuurlik uitloop op aksie en konflik wat eie is aan aksiehelde in fotoverhale.
Die Wit Tier no. 108 is soortgelyk aan no. 68, maar daar is darem ander elemente ook.
Nog ‘n Wit Tier verhaal wat deel uitmaak van fantastika, is nommer 82 – Slaaf van die Stergod. Ongelukkig het ons nie ‘n eksemplaar van dié spesifieke boekie nie…
‘n Heel ander voorbeeld van ‘n fotoverhaal is die superheldin Sikloon wat in 1967 verskyn het. Ons kon sleg een so ‘n verskyning opspoor, maar daar moes vermoedelik meer as net die één verskyn het…