Die gesegde lui dat ‘n hond ‘n mens se beste vriend is. Dis moeilik om te glo dat honde en wolwe amper presies dieselfde dier is uit die perspektief van biologiese klassifikasie. En die vosse (of jakkalse) is ook nie ver verwyderd in die spektrum van hierdie wesens nie. Hulle behoort almal tot die familie Canidae in die orde van die karnivore. Hierdie diere het elk 39 chromosoompare en kan feitlik met enige ander lede in dié groep verbaster.
Interessant genoeg is die Hiëna nie deel van hierdie familie nie, en is eerder ‘n vertakking wat baie eienskappe met beide die groepe van die honde en die katte deel.
Die wolf word van die vroegste tye al geassosieer met die bose, en kom algemeen in fantasieë voor – soos in Rooikappie en die Wolf, of Die Drie Varkies.
Maar, asof ‘n wolf nie reeds afgryslik genoeg is nie, het die volksgelowe, legendes en mitologieë in die vroeë Europa met die idee van ‘n weerwolf vorendag gekom. Hierdie wesens is gewone mense wat gewoonlik tydens volmaan transformeer om in groot wolwe te verander wat diere, mense of selfs lyke verskeur of verorber voordat dit weer terug transformeer na menslike ‘n vorm. In die menslike vorm is die persoon gewoonlik onbewus van hierdie “probleem”.
Namate die gebruik van hierdie karakters as fliek-element al meer algemeen raak, verbaster die stories al hoe meer en oorvleuel die stories van vampiere en weerwolwe dikwels – dink maar aan Underworld byvoorbeeld. Ook raak die transformasieproses al hoe meer skouspelagtig in flieks deur van die filmtegniek morfose gebruik te maak, wat in hierdie snit uit Underworld gesien kan word.
Hierdie tipe monster kom redelik algemeen voor en word in verskeie van die Harry Potter flieks gesien. In Van Helsing kan die volgende metamorfose van mens na weerwolf gesien word.
Volgens legende kan ‘n weerwolf slegs gedood word deur met ‘n silwer koeël deur die hart geskiet te word.
Maar honde is nie alleenlik beperk tot die wêreld van fantasie nie. Selfs in wetenskapfiksie kom dit nogal geredelik voor. Mens sou dink dat as jy die verbeelding vrye teuels gee, dat mens regtig aanhoudend nuwe wesens sou kon optower. Maar dis opmerklik hoe dikwels die WF ook maar terugval op aardse tipe wesens waarmee ons almal vertroud is. Dink maar aan die ysvosse in die Star Wars episode The Last Jedi, soos hier gesien kan word.
En selfs in Riddick kom die idee van honde voor op die planeet Crematoria, waar die helhonde inheems aan dié planeet voorkom…
Of ons dink aan honde as bose monsters of die mens se beste vriend, hulle sal telkens in die wêreld van WF+F voorkom om ons bang te maak of bloot te vermaak…