Medusa

Een van die mees bekende karakters uit die wêreld van mitologie wat redelik algemeen in fantastiese stories voorkom, is Medusa.  Sy is ‘n gruwelike heksagtige wese met slange vir hare, en die bose eienskap dat enige persoon wat haar aanskou onmiddellik versteen.  Sy is een van drie susters wat as die Gorgone bekend staan (Gorgo in die enkelvoud).

In die klassieke Griekse mitologie was die Gorgone die kinders uit ‘n bloedskandelike gemeenskap tussen die seegod Phorcys en sy suster die seegodin Keto – beide die kinders van die gode Gaia en Pontus.  Medusa was ‘n beeldskone vrou met goudkleurige hare.  Een dag het Poseidon, een van die twaalf Olimpiese gode – god van die see, haar so bekoorlik gevind dat hy haar in Pallas Atene se tempel teen haar wil geneem, en met haar omgang gehad.  Jaloers op haar dat Poseidon haar so aantreklik gevind het, en wat moontlik aangetrek was deur haar goue hare, het Pallas Atene haar in ‘n woeste monster verander met slange vir hare in plaas van die goue lokke wat sy voorheen gehad het.  So gruwelik was sy, dat enigeen wat haar sou aanskou in klip verander het.  Sy het voortaan saam met haar twee onsterflike susters in ‘n grot op ‘n eiland gewoon.

In Mary MacGregor se boek De Gechiedenis van Griekenland kom die volgende beskrywing van haar voor.

“Haar prachtig krullend haar werd in een bos slangen veranderd, levende slangen, die sisten en zich op haar hoofd kronkelden.  Dat was nog niet alles, want ieder die een blik op haar gelaat wierp, werd onmiddellijk in steen veranderd.

Medusa was een afschuwlijk monster geworden, met grote vleugels als van een arend en scherpe klauwen inplaats van handen.”

Koning Polydectes wou graag die Griekse held en halfgod, Perseus, se ma, Danai, verlei en wou graag vir Perseus (wat baie beskermend oor sy ma was) uit die weg ruim.  Met ‘n slinkse plan het die koning vir Perseus oorreed om Medusa se kop te gaan afkap – oortuig dat Perseus self sou sterf in die poging.  Met die hulp van die gode, het Perseus na die grot gegaan waar die Gorgone geslaap het, en met ‘n helm van onsigbaarheid aan het hy ingesluip, en die blink skild van Atene gebruik as ‘n spieël om indirek na hulle te kyk – en só toe haar kop afgekap.  Die koning wou nie glo dat Perseus die taak afgehandel het nie, en toe Perseus haar kop uit ‘n sak haal en omhoog hou, het die ganse hof van die koning versteen.

Na haar dood word die kop van Medusa deur Pallas Atene gebruik om Ararat te versteen om die Ararat-gebergte te vorm, en Perseus gebruik haar kop om ‘n seemonster te versteen en só vir die beeldskone Andromeda van ‘n gewisse dood te red.

Dit is natuurlik geen wonder dat fiksie gefassineerd is met ‘n kleurvolle karakter soos Medusa nie – die heks van alle hekse…

Hierdie interessante boosheid kom reeds in 1963 in ‘n Italiaanse fliek voor, Perseo l’invincibile, oftewel Medusa teen die seun van Hercules – soos gesien kan word in die volgende snit…

Dit is interessant om te sien hoe die filmtegnieke vooruit gegaan het.  In die volgende snit sien ons ‘n Russiese greep uit ‘n USSR-era fliek Perseus van 1973.

Teen 1981 kom Medusa weer voor, maar die keer in die fliek Clash of the Titans, waar sy as afskuwelik voorgestel was…

Maar, daar is bes moontlik meer meriete daarin om haar as beeldskoon voor te stel, en toe Clash of the Titans oorgemaak was twee dekades later, is dit presies waarmee die fliekmakers geëksperimenteer het, soos hieronder gesien kan word.

Daar is gewis min mitologiese wesens wat só aangrypend is as Medusa, en sy sal sonder twyfel nog baie in die toekoms gestalte aanneem in die wêreld van fiksie – wie weet, miskien selfs ook in Afrikaans…