William Shakespeare

Wanneer ons aan fantasie dink, kom daar talle van die groot name by ons op, soos Lewis, Tolkien, Rowling, ens.  Maar ons dink selde aan die groot meester William Shakespeare – en dis nie geheel en al duidelik waarom dit so is nie.

Miskien is deel van die rede daarvoor dat Shakespeare (oftewel Willem Wikkelspies soos daar soms spottenderwys in Afrikaans na hom verwys word) baie werke geskep het en dat die meeste daarvan, hoewel aangrypend, eintlik niks met enige fantasie te doen het nie.

Maar hierdie ongelooflike skrywer het talle stories geskryf wat inderdaad wel elemente van fantasie bevat.  Party werke bevat soveel daarvan dat dit eintlik eerder as fantasie bestempel behoort te word as iets anders.  En wat relatief onbekend is, is hoeveel van sy werke in Afrikaans vertaal is – 15 van sy groot werke is vertaal, en sommiges deur meer as een keer.

In die stuk Midsomernagdroom wat deur Eitemal vertaal is en deur Human & Rousseau in 1974 uitgegee is, word ‘n wonderwêreld geskep met feë wat interaksie het met gewone mense.  ‘n Ganse feërie met ‘n hiërargie en adelstand wat konings, prinse, koninginne en prinsesse insluit.

Dit is aangrypend en in die hande van ‘n meester wat die vertaalwerk behartig het, is dit ‘n plesier om te lees.  Ritme en rym is grootliks in takt en mens kan eenvoudig nie genoeg kry nie.  Lees byvoorbeeld die volgende stukkie dialoog…

Lysander:

Heleen, ons sal jou sê waar dink ons aan. Teen morenag, wanneer die silwer maan      In d’waterspieël haar aangesig beskou        En gras omheen met diamant bedou,        Wanneer die nag ons liefdesvlug omsluit, Glip ons twee by die stadspoort uit.

Hermiena:

 En in die bos waar dikwels jy en ek,          Op ‘n bleek bed van primulas uitgestrek,  Ons soetste hartsgeheime kon openbaar,  Ontmoet ons twee, Lysander en ek, mekaar, Verbreek dan met Athene alle bande,         En soek weer nuwe vriende in vreemder lande.                                                  Vaarwel, my jeugvriendin, bid vir ons twee,  En mag die lot Demetrius aan jou gee.      Hou woord, Lysander. Hoe ons ook versmag,                                                    Geen liefdesblik voor moremiddernag.

… en dié is geensins ‘n uitsondering nie – die hele verhaal is in hierdie trant.  Fantasties en pragtig.  ‘n Ware skat in Afrikaans.

En daar is natuurlik talle sulke verhale, soos Die Storm wat deur Tjaart Potgieter vertaal is.  In dié stuk is daar towenaars en geeste, en kry ons te doen met die konsepte van goeie (wit) en slegte (swart of donker) towery.  Weereens is dit ‘n aangrypende verhaal wat definitief die moeite werd is om te lees.

En natuurlik was dit alles vir die verhoog geskep.  Dit moes asemrowend wees vir die mense wat na die teater gegaan het en hierdie worderlike stories voor hul oë sien vorm aanneem het – reeds dekades voordat Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het aan die Kaap van Storms