Op die oog af is die idee van ‘n reus en ‘n dwerg basies maar twee teenpole van ‘n mens is – ‘n baie groot weergawe en ‘n baie klein weergawe. Maar in sprokiesverhale is hulle nogal baie verskillend.
Gewoonlik word ‘n reus as ‘n monster van soorte uitgebeeld, terwyl ‘n dwerg dikwels as ‘n nimlike en goedhartige wesentjie beskryf word. En selfs waar ‘n dwerg nie goedhartig is nie, word hy nogtans kwalik as ‘n monster uitgebeeld.
Een uitsondering op die reël vind ons in Ruald Dahl se kinderboek (wat ook in Afrikaans vertaal is), naamlik Die GSR waarin die reus inderdaad ‘n goeie siel is (GSR staan in dié storie vir Groot Sagmoedige Reus).
Maar in die verhaal van Jan en die Boontjierank byvoorbeeld is die reus ‘n bose wese wat mense eet – ‘n meer tipiese uitbeelding van ‘n reus in sprokies.
In die meeste gevalle is beide reuse en dwerge manlik – gewoonlik is daar nie vroulikes nie, of hulle speel bloot ‘n agtergrondrol in die storie.
‘n Dwerg is ‘n veel meer diverse en omvattende konsep. Dwergies en kabouters is beide in dieselfde klas van wesens. In Verna Vels se uiters suksesvolle reeks kinderboekies wat later ook as ‘n televisiereeks uitgesaai was, naamlik Liewe Heksie, word ‘n denkbeeldige land (Blommeland) geheel en al bewoon deur ‘n ras kabouters. Die naburige land wat Blommeland se vyande is, bestaan ook uit ‘n kabouterras wat die Gifappeltjies genoem word.
‘n Ander uiters gewilde kinderreeks is die Smurfies – dis blou kaboutertjies met wit broeke en wit musse. Hulle is ook almal manlik, behalwe in een episode waar daar een vroulike enetjie “geskep” word, naamlik Smurfette.
In JRR Tolkien se Heer van die Ringe kry ons met meer as een tipe dwerg te doen, naamlik die Hobbits en die dwergras wat saam met die mense en die elwe teen die boosheid moet staan. In die volgende beeld sien ons ‘n Hobbit heel voor, omring deur lede van die dwergras en met Gandelf wat as ‘n menstowenaar bo hulle uittoring.
Kabouters is uiters volop in flieks, hulle kom veel meer gereeld voor as reuse – dalk omdat reuse moeiliker is om in meeste tonele op die groot doek in te pas. Een uitsondering op dié reël kom voor in Star Wars: The Force Awakens, waar Grummgar, ‘n reus van ‘n wese, in ‘n kroeg sit op planeet Takodana saam met sy meisie Bazine Netal – gasien in die foto hieronder.
Twee boeke is in 1970 in Aftrikaans vrygestel deur dieselfde skryfster Ruth Manning-Sanders, onderskeidelik getiteld Allerlei Reuse en Allerlei Dwerge. Beide boeke bevat varsamelings van stories uit verhale van onderskeidelik reuse en dwerge, en gee nogal ‘n taamlik deeglike oorsig oor hierdie twee onderwerpe. Dit is albei goeie vertalings wat deur Human en Rousseau uitgegee is, en word sterk aanbeveel indien jy verder hierin belangstel…
As jy meer oor reuse te wete wil kom, gaan kyk na ons bladsy oor die tipe reuse wat in godsdiens en spesifiek ‘n Bybelse perspektief daaroor handel, naamlik Reuse & Hibriede Wesens…
Natuurlik is daar ook die verhaal van Nils Holgerson, ‘n stoute seun wat deur ‘n dwerg getoor word om self ‘n klein kaboutertjie te word en saam met ‘n spul wilde ganse te reis op hul jaarlikse migrasie – in die hoop dat hy maniere sal leer. Dié verhaal, deus Selma Lagerlöf is in Afrikaans beskikbaar en ‘n televisiereeks oor sy avonture was ook in Afrikaans deur die SAUK uitgesaai.
‘n Baie goeie toevoeging is ‘n stel van twee boeke wat uit Nederlands na Afrikaans vertaal en deur Protea Boekhuis uitgegee is. Hulle name is Die lewe en werke van Kabouters, en vyf jaar later Die oproep van die Kabouters. Dit is uiters vermaaklike boeke wat werklik die wêreld en wese van kabouters bloot lê. Dit verken hul sosiale strukture, hul vyande, hul praktyke, hul tegnologië, hul skrif en alfabet, ensovoorts, ensovoorts…
Hierdie twee boeke sal ‘n waardevolle toevoeging wees tot die leeswêreld van enige Afrikaanse kind, en ‘n ryk verbeelding aanwakker.