1. DIE ANDER NOODLOT – Ronél Gill (Volwasse F) Wenner
2. DIE BEGIN – Hardus van der Merwe (Volwasse F)
3. DIE AVONTURE VAN GROOTVLEI SE KINNERS – Karen Ackermann (Jeugfantasie)
4. DIE KRAAIE TEMMER -Quintin Ellis (Volwasse F)
5. ‘N VRIEND MET DIE NAAM CHARLIE – Heloïse van der Walt (Jeugfantasie) Wenner
6. DANIE SE KERSWENS – Annreatta Janse (Volwasse F)
7. MY SKEMERWÊRELD – Aletta van Staden (Volwasse F)
8. DIE VERLATE – P.L. Brand (Volwasse WF) Wenner
9. DIE WOUDKIND – P.L. Brand (Volwasse F)
10. HEMELSE GLOED – P.L. Brand (Volwasse WF)
11. VERVERSINGSPOS 52 – Ben le Roux (Volwasse WF)
12. DIE ANTROPOLOOG – Pieter van Tonder (Volwasse F)
13. VOLMAAN – Quintin Ellis (Volwasse F)
14. EEN SOMER IN DIE ANDES – Ben le Roux (Volwasse WF)
15. WYNROOI – Quintin Ellis (Volwasse F)
2013 Verslag – François Bloemhof
Die Volwasse Fantasie-afdeling het verreweg die meeste inskrywings gehad, waarskynlik omdat fantasie so ’n breë genre is. Ek skryf hierdie afsonderlike stukkie “raad” (ek sit dit tussen aanhalingstekens, want dit kan van hulp wees of dit kan nié) omdat dit ’n genre met baie slaggate is. Van die verhale het eintlik meer soos gruwelverhale gevoel, maar niemand kan sê dit val nie wel in die fantasie-kategorie nie. By party verhale was die stukkies met die “verduideliking” (byvoorbeeld hoe dit gekom het dat sekere mense in sekere omstandighede op sekere plekke is, of hoe ’n sekere bestel tot stand gekom het, of hoe ’n sekere kreatuur daar uitsien) te lank en het dit die vloei van die gebeure onderbreek. Sekere verhale was ook te kripties; al was die intrige sterk, het dit gevoel na opsommings van iets wat langer moes gewees het en was dit asof die skrywer te gou wou klaarmaak. Meer dramatisering is ook amper altyd ’n goeie idee, terwyl meer dialoog en minder rapportering sorg vir ’n gevoel van onmiddellikheid. Fantasie maak dikwels gebruik van sekere bekende gegewens en in party gevalle het ek gemeen skrywers staan te veel tyd af om te vertel van elemente waarmee baie lesers al vertroud is. Soms is ’n mens ook geneig om oorboord te gaan met die byvoeglike naamwoorde en bywoorde; beperk dit, anders lyk jy te gretig om dinge vir die leser te beskryf terwyl hy self kan dink hoe dit daar uitsien. Ek het ingestem om dié kompetisie te beoordeel omdat ek ’n sagte plekkie vir fantasie en wetenskapfiksie het. Veral in Afrikaans word dit skandelik afgeskeep en ek is bly julle het julle hand daaraan gewaag. Dalk smaak julle sukses op hierdie terrein, of dalk op ’n ander, maar ek sal duim vashou. Ek het lekker gelees.
Wenner van die afdeling Volwasse Wetenskapfiksie:
“Die verlate” deur P.L. Brand
Die skrywer het dit goed reggekry om ’n alternatiewe, geweldgeteisterde manier van bestaan nie net te bedink nie, maar sintuiglik oor te dra; die leser voel en ruik en hoor omtrent wat hier gebeur. In ’n apokaliptiese stryd kom mens teen monster te staan, maar die nugterheid van die taalgebruik dra baie daartoe by om dit in ’n sfeer van werklikheid te anker, wat die impak versterk. Al word daar in wetenskapfiksie met “onrealistiese” gebeure gewerk, is dit goed as daar vir die leser so ’n anker is: nog bates in dié verband wat hier voorkom, is ’n aangrypende situasie en ’n hoofkarakter met ’n belangrike taak. Ek is nie oortuig dat die titel sterk genoeg is en die verhaal behoorlik verteenwoordig nie, en aan die einde raak al daardie beletseltekens hinderlik, maar dit is nie doodsake nie. Oortuigende agtergrondinligting word stelselmatig deurgegee sodat dit nie inmeng met die krisis in die hede nie. Die verhaal is ook gebeurtenisryk, wat vanselfsprekend daartoe bydra dat dit die aandag hou.
Wenner van die afdeling Jeug Fantasie:
“’n Vriend met die naam Charlie” deur Heloïse van der Walt
Die skrywer het ’n gladde skryfstyl wat help dat ’n mens maklik die pad van fantasie saam met haar aandurf. Die kombinasie van ’n jeugdige benadering en die taalafgerondheid wat gewoonlik by ouer skrywers voorkom, sorg vir ’n boeiende leeservaring. Die verwysings na Mary Shelley se Frankenstein is relevant, en hier is ook ’n element of wat by van Alice in Wonderland; daardie eggo’s verryk die storie. Die skrywer struikel net effens in die laaste paragrawe, al mag ander lesers van my verskil: daar hoef nie dadelik gesê te word dat die hoofkarakter in ’n koma was nie aangesien dit duidelik is, en Charlie se teenwoordigheid in die hospitaalkamer is dalk een einde te veel. Is dit gemotiveer dat hy weer probeer met ’n meisie wat hom verwerp het, terwyl hy ander dienaars het en elders ’n nuwe een kan kry? Dat Lana hom ondanks alles mis, kon miskien beter werk. Maar hier is ’n jong skrywer met ’n sterk stem, en dit is ’n breinprikkelende reis saam met twee interessante karakters.
Wenner van die afdeling Volwasse Fantasie:
“Die ánder noodlot” deur Ronél Gill
Die skrywer trek die leser se aandag met ’n ek-verteller wat jou persoonlik aanspreek, soos iemand wat ’n geheim deel. Natuurlik is dit ’n tegniek wat nie dikwels gebruik kan word nie, maar hier is dit besonder effektief. Nog beter is dat dit eers na ’n paar paragrawe duidelik word dat die verteller ’n “ek” is én dat, nadat hy op die onderskeid tussen gewone dagmense en die sinistere nagmense gewys het, hy aandui dat hy deel is van die tweede groep. Tot op daardie punt het die aanslag te verduidelikend gevoel, maar uit die mond van ’n betrokkene maak so ’n aanbiedingswyse sin. Dit voel vars en oorspronklik. Die stukkie met al die vrae na aan die einde kan korter wees, want die punt is gemaak en dit voel na variasies op ’n tema. Beletseltekens is ook net ’n goeie idee as dit spaarsamig voorkom. Die skryfstyl is glad. Die titel nooi die leser om te wonder watter noodlot dit kan wees, dan is die verhaal ’n grieselrige, maar informeel vertelde antwoord wat boonop stof tot nadenke bied.