Kuberpunk

Kuberpunk is een van die mees grafiese temas binne die wetenskapfiksie en daar is baie wat meen dat dit nooit bloot beperk was tot die skryfkuns nie. Die ryk grafika is basies ‘n noodsaaklike element in hierdie vertakking van WF en daarom dat dit baie geslaagd uitgebeeld word in rolprente, video, animasie, digitale speletjies, ensovoorts. Dit is verstommend populêr in Japanese Mangha en Anime in animasie asook strokiesprente.

Die “kuber-” dui op die rekenaartegnologie terwyl “punk” dui op verset of om te rebelleer. Kuberpunk is ‘n tema wat in ‘n hoë tegnologie wêreld afspeel wat ‘n dystopia is weens die meedoënlose en moreel bedenklike uitbuiting deur groot korporasies en regerings. Dít het tot gevolg dat ‘n groot deel van die bevolking moet oorleef sonder die voordele van die nuwe tegnologie wat die mensdom ontwikkel het. Hierdie groep van minderbevoorregtes verwerp die outoriteit van dié met mag en hul verset lei gewoonlik tot konfrontasie en konflik.

Die eerste werke wat kuberpunk begin vorm en beïnvloed het, is in die 1950s geskryf, maar het begin toeneem toe rekenaars algemeen begin word het in die alledaagse samelewing. Van die bekendste rolprente sluit in Blade Runner, Johnny Mnemonic, Terminator, The Matrix, TRON, Robocop, Total RecallThe Ghost in the Shell en Anon.