Kykie Hoorie

23 Julie 2015
© mnr. Salmon Smit

OF DIT NOU Sneeuwitjie of Rooikappie was, was dit vir my as kind so lekker om weg gevoer te word na ʼn droomwêreld van fantasie.

Om te kan ry op die rug van ʼn swaan, hoog bokant donker woude of om wegkruipertjie te speel met elwe tussen hul sampioenhuisies – man dit was nou lekker om te kon ontsnap na daai ryk verbeelding van my sorgelose kinderdae.

Jare later het ek self tot die skrywersgemeenskap toegetree en toe het ek dit my visie gemaak om self tot daardie genre by te dra: Fantasie, wat ou en jonk kan wegvoer – ver weg van die wrede werklikheid van misdaad, bende bedrywighede en korrupsie na ʼn sorgelose wêreld vol vreemde karakters en hul avonture.

Ek wil dit vertel in my eie taal, my moedertaal: Afrikaans.

Ek wil my eie Sneeuwitjies kep en lesers op daardie fantastie se avontuur neem en hul verbeelding vrye teuels gee.

Tot my skok ontdek ek toe dat fantasieverhale in Afrikaans skaarser as hoendertande is.

Dit is meestal net in Engels beskikbaar.

So baie idees het in my kop gebroei, maar ek kon geen uitgewer kry wat egte Afrikaanse fiksie boeke publiseer nie.

ʼn Bekende Afrikaanse tydskrif het ook destyds sy neus opgetrek vir my moedige pogings wat ek aan hom gestuur het.

Dis eintlik ʼn skreiende skande dat fantasie so gruwelik afgeskeep word in ons taal.

En daar het ek gesit met my kop vol ander wêreldse karakters en avonture, maar geen afset punt om daaraan gestalte te gee nie.

My droom was doodgebore…

Dis tóé dat my letterkundige ghoeroe-vriend Joe Botha my aan Afrifiksie.com bekendstel.

Dit is ʼn webtuiste waar skrywers van wetenskapfiksie en fantasie idees in die genres kan uitruil.

In samewerking met Thompson Boekdrukkery bied dit ook jaarliks ʼn kortverhaal kompetisies in dié kategorieë aan.

Hier kan aspirant skrywers groei in hul drome om volwaardige skrywers te word.

Gou was ek lid van ʼn familie wat vir mekaar omgee, wat dieselfde idiale koester en ʼn gemeenskaplike droom deel – om ʼn stem te gee aan fantasie en wetenskapfiksie in Afrikaans.

My eerste fantasie-jeug kortverhale, – Die vreemde blou perdjie en Finale dimensie – is ingedien vir die kortverhaalkompetisie vir 2015 en het wonderlike kommentaar van sommige skrywers gekry.

Daar was ook nie tekort aan aanmoediging nie.

Dít is net wat my skrywersiel nodig gehad het om my droom terug na die lewe te skok.

Ek voel dat ek tuis gekom het na ʼn hegte familie wat mekaar se belange op die hart dra.

So, ek raai Afrikaanse skrywers aan om lid te word van dié familie.

Laat ons opstaan vir ons taal.

Laat ons gestalte gee aan daai ander wêreldse avonture in ons taal, ons moedertaal: Afrikaans.

2015-07-19-Son-Nuus-bl-8 – Salmon Smith