Oorklankiaans

2017-04-03

Herlewing of  die gryp na grashalms?

“Onthou jy nog Oorklankiaans (soos Casper de Vries dit laterjare geroep het)? In die beginjare van TV in Suid-Afrika was daar nog nie genoeg inhoud om al die ure te vul nie – maar ‘n boer maak ‘n plan! Inhoud is van Amerika, Frankryk en Duitsland aangekoop wat plaaslik oorgeklank is. Ons lag nou, maar oorklanking was ‘n kuns en Suid-Afrika was een van die internasionale voorlopers op hierdie gebied!” #VirdieVoëls #25November2016 KykNET

My liewe Afrikaanse Wetenskapfiksie en Fantasie vriende, na die lees van die aanhaling hierbo is ek seker daar het ook flitse van ‘die goeie ou dae’ se verskeie televisie programme deur jou geestesoog geflikker. Stories soos Heidi, Brakenjan en Nils Holgersson sal vir altyd in my geheue ingeëts bly. Ek onthou nog hoe ek in Standerd 1 (Graad 3) amper in ‘n semi-depressie ingegaan het toe Niklaas se oupa en sy hond doodgegaan het. My tone krul sommer om van lekkerkry met die gedagte aan Vicky die Viking se avonture en selfs vandag leer ek my kindertjies die tema liedjie van Moemin.

Onlangs (na die aanskaf van onbeperkte internet) het ‘n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan. Ek en my gesin het Nederlandse televisie aanlyn begin kyk en sommer vinnig die taal aangeleer. Dit was so verfrissend om te sien hoeveel geld, tyd en moeite in hulle programme ingaan om ‘n kwaliteit diens vir hulle kykers te bied.

Dit het my aan die dink gekry. Ek het begin wonder watse Afrikaanse programme nou vir ons kinders beskikbaar is, en ek moet met hartseer sê dat daar nie veel is nie. Ons is tog trots Afrikaans en ons wil hê ons taal moet nog 100, 200 selfs 500 jaar van nou af nog steeds gepraat word – dat ons nageslag oor ‘n paar eeue van nou nog steeds rondom ‘n braai kan staan en vir hulle vriende vertel van die nuwe Afrikaanse films wat pas uit is. Maar, die enigste manier wat ons dit gaan regkry is om dit lewendig te hou. Afrikaans moet in boeke, tydskrifte, skole en alle vorms van media gevind kan word. En wie is verantwoordelik vir hierdie groot taak? Wel, dit is… ek… jy en elke liewe ander Afrikaans sprekende persoon.

Daar is absoluut niks verkeerd met huidige Afrikaanse boeke en flieks daarbuite nie, maar die boeke en flieks reflekteer die huidiglike algehele denkwyse van ons Afrikaner populasie: moord, dood, roof, liefde en drama. Daar is absoluut geen nuwe wetenskapfiksie en fantasie flieks (behalwe Chappie en District 9) wat ons in ons moedertaal kan kyk nie.

Die gewensde situasie sal wees om nuwe tuisgemaakte Wetenskapfiksie en Fantasie films in teaters en op televisie te sien, maar soos in die aanhaling aan die begin van hierdie artikel, is ons tans in die selfde posisie as die mense van ouds. Daar is net nie genoeg materiaal en fondse om sulke groot projekte te takel nie. Maar soos enige iets wat die moeite werd is om te doen, gaan dit tyd, moeite en baie mense vat om hierdie droom te verwesenlik. Hierdie monumentale taak moet afgebreek word in kleiner segmente, en ek glo die eerste fase hiervan is vertaling.

Na ure se navorsing oor die Nederlandse vertaalde programme (sluit hoofsaaklik in waar ek op die bank lê met die afstandbeheer in my hand), het ek tot die gevolgtrekking gekom dat anderste as toeka se tyd, het ons nou ‘n bondgenoot in hierdie stryd: TEGNOLOGIE. Daardie jare het die toerusting wat jy nodig gehad het duisende rande gekos. Ook moes hierdie opnames in studios gedoen word, wat nog meer geld gekos het. Maar dit is nie meer vandag die geval nie. Nou het enige persoon wat toegang tot ‘n rekenenaar en ‘n mikrofoon het, die geleentheid om kwaliteit vertalings te doen.

Wat volg is ‘n klein verduideliking van hoe ek my vertalings doen. Ek moet noem dat ek absoluut geen vorige opleiding gehad het nie, en dat ek nog elke keer wat ek dit doen ekstra dinge leer. As daar enige iemand is wat wenke het op ander maniere, is hulle welkom om my te kontak.

  • Stap 1: Soek na die video wat jy wil vertaal. Ek het myne op Youtube gevind. Dit is baie belangrik om eers permissie van die skeppers te verkry voordat jy die vertaling begin. Gewoonlik sal daar ‘n skakel tot hulle webblad of vonkpos wees. Jy kan die video aflaai deur die volgende skakel: http://en.savefrom.net/1-how-to-download-youtube-video/
  • Stap 2: Ek gebruik 4 programme om die vertalings te doen (hierdie programme werk vir my, maar daar is verskeie ander programme daarbuite wat presies dieselfde kan doen):
  1. Camtasia 9 (word gebruik om die massa van die verwerking te doen) daar is vele opleidingsgidse beskikbaar aanlyn, maar enige iemand wat bietjie met die program rondspeel sal vinnig die gebruik daarvan bemeester
  2. Wavepad Editor (Gratis aflaai – word gebruik om klanke te redigeer)
  3. Audacity (Gratis aflaai – word gebruik om klanke te redigeer)
  4. MediaHuman Youtube to MP3 Converter (Word gebruik om klank-snitte van Youtube af te laai.

Skakels vir aflaai (Let wel, van die sagteware moet gekoop word):

Camtasia – https://www.techsmith.com/camtasia.html

Wavepad – http://www.nch.com.au/wavepad/

Audacity – http://www.audacityteam.org/download/

MediaHuman – http://www.mediahuman.com/youtube-to-mp3-converter/

  • Stap 3 – Met ‘n vertaling moet jy onthou dat jy die hele klankbaan moet oordoen. Dus, in Camatasia skei jy die video snit en die klankbaan van mekaar af.
  • Stap 4 – Nou moet jy noukeurig gaan luister na die oorspronklike video en al die klanke opbreek in verskillende groepe en dan dit gaan aflaai van Youtube met MediaHuman en/of op webbladde soos www.orangefreesounds.com gaan vind. In die geval wat jy nie die presiese klank kan kry wat jy soek nie, sal jy self ‘n opname moet maak.
  1. Groep 1 – agtergrond musiek
  2. Groep 2 – atmosfeer klanke
  3. Groep 3 – byklanke klanke
  4. Groep 3 – stemme
  • Stap 5 – Nadat jy al die klanke het, moet jy dit op Camtasia presies op die regte tydstempels gaan plaas. Dit kan ‘n tydjie vat, want dit moet oor en oor gekyk word om heeltemal akuraat te wees.
  • Stap 6 – Dan moet jy kyk waar jy Engelse visuele beelde met Afrikaanse terme kan vervang. Dit is nie altyd moontlik nie, maar ons moet probeer om dit sover moontlik Afrikaans te maak. Camtasia bied jou die funksie om die veranderinge te doen.
  • Stap 7 – Nadat jy seker is jou video, klanke en veranderinge is 100%, kan jy dit deur Camtasia, alles saam sit in een HD video-snit
  • Stap 8 – Gaan laai dit op Youtube en laat ons almal daarvan weet!

Ek is seker dat daar ander maniere ook is wat die vertaling gedoen kan word, maar hierdie is die beste en vinnigste wat ek sover gevind het. Dit sal werklik fantasties wees as daar nog mense daarbuite is met dieselfde droom, en wat bereid is om bietjie tyd af te staan om ‘Oorklankiaanse’ videos bymekaar te sit.

Dus, stel ek jou weer die vraag: Oorklankiaans – Herlewing of die gryp na grashalms?… die antwoord tot dit kan alleenlik beantwoord word deur die bereidwilligheid van ons Afrikaans sprekendes.