Tiaan Eybers (née Salmon van Tonder)

(24 September 1933 – 8 Augustus 1013)

[Die volgende is op die WOES-webwerf gevind. Dit is as huldeblyk deur sy broer geskryf…]

Ek loop met twee harte.
Julle ken mos : “Hy praat weer met die hart!”

Laat my toe om by die begin te begin.
Ons is almal skrywers en as skrywers skryf ons.
Ek ook en ek bêre die meeste.
In dieselfde asem sê ek dat jy moet oppas wat jy op die Internet plaas. Jy het nie die vaagste benul van wie lees jou werke nie !
Aanvaar wat ek vertel.

Ek onthou nie eers die tydskrifte se name nie; Keur ? en daar was nog een behalwe die Huisgenoot , Landbouweekblad – die Tegniese tydskrifte laat ek uit –
Ek het al in almal gepubliseer en ek was tot op hulle ‘mailing list’ “Ons wag vir die volgende verhaal !”

Ek het egter ‘n persoonlike probleem: My skryfwyse. Die versoek is altyd:
“Maak asseblief reg jou bydrae, ons woordverwerker knoop !”
Ook: “ Spasie is duur – kort heftig in!”

Dan word ek gatvol en stuur nie meer nie . . .

Tot die ander dag.
Ek dog by myself: “ Ag, kom ek stuur maar weer iets” en ek soek en ek besluit en ek gee dit vir Anita : “Asseblief, maak die ding tog reg.”
Sy sukkel haar alie af maar twee dae later gee sy dit vir my.
In tussen worry ek so bietjie. Ek het ‘n paar jaar laas iets gestuur en ek wonder of dieselfde mens nog daar is?
Ek los dit, trek net my skouers op en ek stuur dit na die ou persoon wat ek ken.
Presies vyftien minute later lui my foon en ek ken nie die nommer nie ek antwoord koud en die stem anderkant is ook koud:
“Willie, moenie vir my goed stuur wat jy op ander werwe ook al geplaas het nie – ek het die stuk al gelees!”

Hoe lui die spreekwoord?
“ Sy slaat my met ‘n plank !”

Toe kom daar ‘n ander Epos. Sy naam is Willie van Staden en ek ken hom van geen kant af nie en hy skryf:
(Ek verkort)
Ek lees die stuk wat jy oor jou broer geskryf het . . . .
(Dit was met my broer se oorlye en ek het iets oor my broer op Woes geplaas)
. . . Willie ek is besig om ‘n Webwerf oor Suid Afrikaanse skrywers op te stel en ek lees Salmon van Tonder raak.
Stuur asseblief vir my alles wat jy het en weet van jou broer Salmon.

Ek skryf terug op my manier maar ek gee ook Salmon se kinders se besonderhede met die versoek dat hulle sy persoonlike goete na die dood deur gegaan het en dat hulle meer sal weet as ek.
(Hoekom is Kunstenaars sulke toe boeke?)

Willie is ernstig en binne drie dae stuur hy vir my die stuk soos hy dit op die Website sal plaas.

Ek het die stuk stadig en deeglik deur gelees en my emosies het gemeng.
My emosies het my een hart gevat en die hart verfrommel en verdraai en gedruk.
Om op Google my broer te sien. Om my broer te sien naak, leweloos en net ‘n beeld.

Nêrens is iets geskryf oor sy oë nie. Nêrens is iets geskryf dat sy oë se kleur kon verander wanneer hy intens met jou praat nie. Nêrens is van sy stem gepraat nie – dat sy stem sag en duidelik was nie. Nêrens is geskryf wanneer hy daar eenkant onder die grote Karree staan en die Klarinet bespeel nie . . .

Okei.
Google is Google.

Maar –
Ek het ook ‘n tweede hart.
Daardie hart verwyt.
Daardie hart se woorde sny soos ‘n koue lem:
“ Daar is van jou broer se publikasies weg. Daar is publikasies in versamelaars se besit. Daar is klein kinders wat verskriklik graag van hulle oupa se stories wil lees!”

My tweede hart verwyt verder:
“Jy en baie, baie ander skrywers is inhalig, suinig, self gesentreerd en dink nie julle neem die wat agter bly in aanmerking nie!”

En ek dink:
Wat te donner is verkeerd met ons?

Viooltjie vra vir my mooi om ‘n voorwoord vir haar voorgenome publikasie te skryf en ek plaas aspris hierdie deeltjie van haar versoek:

“ Baie dankie, Willie. Ek waardeer dit. Ek sal laat weet sodra ek self meer weet oor wanneer alles gereed moet wees. Of die bundel sal verkoop, die weet ek nie, maar ek wil net voel dat ek iets met al die ure wat ek ingesit het, gedoen het . . .voor alles dalk eendag in die niet verdwyn . . .”

Ek dink sy sê alles.
Sy sê:
Maak nie saak wat dit kos nie – dit moet net nie totaal in die niet verdwyn nie !

Ek sê maar net . . .
2015/04/30
Napraat:
Ek plaas die stuk wat op die Website sal verskyn anders sal julle nie verstaan nie

SALMON VAN TONDER
Salmon Isaias Engelbertus van Tonder is op 24 September 1933 op Ficksburg in die Vrystaat gebore as die oudste van agt kinders. Sy ouers is Willem Frederick van Tonder, ʼn opgeleide hoefsmid en amateur radio-ingenieur wat onder andere mede-ontwerper is van die FM- radiofrekwensie en ontwikkelaar van die elektroniese ontstekingstelsel vir motors, en Maria Magdalena du Plooy. Sy laerskoolopleiding kry hy aan die Harrismith Volkskool, waarna hy in 1951 aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein matrikuleer. Hy behaal ses onderskeidings in matriek, die enigste leerling in die Vrystaat wat in daardie jaar hierdie prestasie kon behaal. Op skool is hy die rasieleier en die houer van die redenaarsbeker, terwyl hy reeds van jongs af koerante verkoop om geld vir latere studies bymekaar te maak. Weens geldtekort is hy eindelik die enigste een van die kinders wat dit kon bekostig om universiteit toe te gaan. Op grond van sy resultate verwerf hy ʼn beurs van die Departement van Onderwys van £10 per jaar vir twee jaar, asook ʼn Thomas Robinson-beurs om hom as aktuaris te bekwaam. Geeneen van hierdie beurse kon egter sy reis- en lewenskoste ook dek nie en hy studeer dan vanaf 1952 plaaslik vir ʼn B.A.-graad in die Regte aan die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein. In sy tweede jaar skryf hy die eerste boek oor skaak in Afrikaans. Op universiteit is hy onder andere lid van die studenteraad en uniale sekretaris van die Afrikaanse Studentebond (ASB). Hy is ook lid van die universiteit se toneelgroep. Vir ʼn kultuurgroep van die ASB reël hy in 1956 ʼn toer deur Nederland, Duitsland, Oostenryk, België en Engeland, waartydens hulle ook op Nederlandse en Belgiese televisie optree. Hy verwerf die B.A.-graad en in 1957 die LL.B.-graad aan die Universiteit van die Vrystaat, waar hy die eerste student is om die LL.B.-graad asook alle vakke en kursusse met lof te slaag.

In 1958 word hy toegelaat as advokaat en sluit hy as deeltydse dosent in Privaat- en Handelsreg aan by die Universiteit van die Vrystaat. In 1959 word hy voltyds as dosent aangestel, in 1961 word hy bevorder tot senior lektor en vanaf Januarie 1964 is hy professor in Privaatreg. In hierdie tyd skryf hy ook in vir ʼn doktorsgraad in die regte, met ʼn beoogde proefskrif oor “Die betekenis van die hedendaagse regsfilosofie-rigting vir die regswetenskap in Suid-Afrika”, waarvoor hy reeds in 1963 die mondelinge eksamen suksesvol aflê. Weens swak gesondheid kon hy egter nie hierdie graad voltooi nie. Aan die einde van 1967 bedank hy sy pos by die universiteit en praktiseer vir ʼn ruk as advokaat in die Appèlhof. Die stres van hierdie werk beïnvloed egter sy gesondheid nadelig en hy aanvaar dan vanaf 1969 ʼn pos by die Departement van Justisie in Pretoria, waar hy tot November 1971 opleiding gee in Staatsreg, Uitleg van Wette en Privaatreg en daarna staatsregsadviseur is. In 1982 word hy tot Senior Consultus bevorder en in 1988 tot Adjunk-Hoofstaatsregsadviseur, ʼn pos wat hy tot met sy aftrede aan die einde van 1990 beklee. Daarna doen hy op vryskutbasis werk as regskonsultant vir die Suid-Afrikaanse Polisie en die Raad vir Finansiële Dienste. Hy is in April 1962 getroud en uit die huwelik word drie kinders gebore, twee dogters (Elsabe en Ilse) en ʼn seun (Aldo). Hy en sy vrou is aan die einde van 1973 geskei. Hy woon in Garsfontein in Pretoria en is op 8 Augustus 2013 in Pretoria oorlede.

Gedurende sy loopbaan skryf hy talle vakkundige artikels wat onder andere in Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg en Tydskrif vir Regswetenskap verskyn. Hy versorg en hersien vele uitgawes van “Uitleg van wette”, ʼn handboek wat oorspronklik deur hoofregter L.C. Steyn geskryf is. ʼn Uitsonderlike taak is die verwerking van derduisende kaartjies in die Appèlhofbiblioteek in Bloemfontein tot ʼn manuskrip van agt volumes onder die titel “Index to the opinions of Roman-Dutch lawyers and the decisions of the courts of the Netherlands, which have been digested in the Algemeen beredeneerd register of Nassau La Leck, 1741-1795”. Reeds in sy tweede jaar op universiteit skryf hy “Kom ons speel skaak”, die eerste boek oor hierdie sport in Afrikaans.

Onder die skuilnaam Tiaan Eybers skryf hy die populêre wetenskapfiksieverhale “Monsters van Venus”, “Planeet van verskrikking”, “Orde van Kreon”, “Ridders van die ruimte”, “Spioen sonder masker”, “Vandaal van die graf” en “Toevlug van die straaljagter”. As Adriaan Stemmet skryf hy die aksieverhale “In die kloue van Azandeh”, “Noodvlug na terroristeland”, “Muur van skande” en “Onvergeetlike nag”. Hierdie boeke word in slapband uitgegee as deel van gewilde reekse.

Hy word in 1990 deur die destydse Direkteur-generaal van Justisie, J.J. Noeth, uitgesonder vir bedanking vir die bydrae wat hy gemaak het tot die konsepooreenkoms tussen Suid-Afrika en Bophuthatswana, terwyl die minister van Veiligheid en Sekuriteit, Steve Tshwete, hom in 1999 in die openbaar bedank vir die knap vertaling van die Wet op Beheer van Vuurwapens van 1999.

PUBLIKASIES

Salmon van Tonder

1953      Kom ons speel skaak
1963      Die uitleg van wette (saam met L.C. Steyn)
1985      Index to the opinions of Roman-Dutch lawyers and the decisions of the
courts of the Netherlands, which have been digested in the Algemeen
beredeneerd register of Nassau La Leck, 1741-1795

Tiaan Eybers

1959      Monsters van Venus
1959      Planeet van verskrikking
1960      Orde van Kreon
1960      Ridders van die ruimte
Spioen sonder masker
Vandaal van die graf
1961      Toevlug van die straaljagter

Adriaan Stemmet

1962      In die kloue van Azandeh
Muur van skande
Noodvlug na terroristeland
Onvergeetlike nag