‘n Antwoord op ‘n vraag: “waarom, as Afrikaanssprekende, wetenskapfiksie – dis so buitengewoon vir ‘n Boer…?”
My antwoord sal iets langs die volgende lyne wees.
Dit alles begin met ‘n slag. ‘n Tipe oerknal self – ‘n slag so luid dat dit deur die eeue heen weergalm. Die kerk skeur in Europa. Europa word ‘n kruitvat wat hul ganse bestaan bedreig en talle word uitgemoor of soos diere gejag. ‘n Aantal kry dit reg om plek te bekom op die weinige ontsnappingstuie om hierdie nagmerrie uit die hel te probeer ontsnap. Ouers stuur hul kinders op hierdie ontsnappingstuie – wetend dat hul kinders waarskynlik nooit hul bestemming sou bereik nie, dat hulle hul kinders nooit weer sou sien nie, en dat hulle self (die ouers) binnekort self gevang, gemartel en vermoor sou word. Maar dié kans, hoe klein ook al, is hoop – en dis beter as geen hoop.(In my eie stamregister is daar ‘n twaalf- en dertienjarige meisie en seun wat op die hawe aan mekaar getroud raak om na mekaar om te sien, hul ouers te groet en die reis te begin – ‘n reis om die vlam van hoop in hul ouers se harte te laat brand.)
Baie maak dit nie en vergaan in storm na storm wat eintlik te veel is vir die tegnologie van die tuie waarin hul vlug. Maar, feitlik ondenkbaar haal sommiges dit. Land. ‘n Plek waar die monsters nie meer op hulle jag sou maak nie. Maar, vir blote kinders, hoe oorleef jy op ‘n stukkie grond wat aan jou oorhandig is, terwyl daar net núwe monsters is – siektes, vyandige volke, roofdiere, ongenaakbare klimaatsomstandighede, uitbuiting deur ander… Tog weereens is daar dié wat dit maak en oorleef.
Oorlog kom egter vinnig vanuit die oosgrens – niks minder nie as ‘n toneel uit ‘n Tolkien-film met duisende Uruk-hai wat roof, moor, plunder en veg soos besetenes. Al word die vyand telkens verslaan, hergroepeer hul maar net weer, en ‘n volgende oorlog ontketen.
Dan word die plaaslike regering oorgeneem – een van die grootste koninkryke op hul planeet besef die strategiese waarde van die nuwe kolonie en sak toe op die buitepos met gevegstuie en troepe wat die vorige regering oorweldig. Die nuwe regering is drakonies en misbruik hul mag. Sommiges kan dit nie aanvaar dat hulle weereens onderhewig sal moet wees aan dieselfde tipe oorheersing vanwaar hulle onlangs ontsnap het nie. Talle besluit om weer te wyk, weg van die bietjie infrastruktuur en beskerming van die gemeenskap. Primitiewe ontsnappingstuie word gebruik vir die doel – aangepaste vragtuie huisves gesinne wat met karige besittings in karavane saamtrek – aangedryf deur trekdiere beur hul om los te breek uit die greep van oorheersing waarvoor hul nie kans sien nie.
Uiteindelik is hul vry – weereens word daar oor begin, maar baie het omgekom op hul ontvlugtingsreise deur vyandige gebiede waar daar ook talle karnivoriese monsters op hul jag gemaak het – oor die Berg van Drake. Maar vryheid was soet. Hulle ontwikkel die nuwe gebied en ontdek skaars middele – grondstowwe só raar dat baie daarvoor sou moor. Selfs bose moondhede. Die sterk en bose ryk waaruit hul sopas losgebreek het wil nou die seldsame stowwe vir hulself inpalm, en hul gierigheid lei uiteindelik tot ‘n volskaalse oorlog – ‘n oorlog waarin die vlugtelingkinders maar ‘n enkele kryger het vir elke vyf vyandige soldate.
Vir jare hou die oorlog aan en die handjie vol krygers, die kinders van vlugtelinge, hou die sterkste moondheid van sy tyd in ‘n konflik gewikkel vir jare, en die vyandige oormag verloor meer as vier soldate vir elke vlugtelingkryger wat val. Uiteindelik, in desperaatheid, wend die bose owerheid hulself tot die mees immorele misdade wat tot nog toe in oorlogvoering toegepas was, misdade waardeur die vroue en kinders van die vlugtelinge uitgewis word (drie keer meer vroue en kinders sterf as hul mans wat in die oorlog geval het), sodat die vlugtelingkinders tot oorgawe gedwing word om algehele uitwissing deur volksmoord te vermy.
Maar die kinders van die vlugtelinge weier om te gaan lê. Teen dié tyd het hul taal al so ontwikkel dat dit afsonderlik is van die ander. Uiteindelik raak dit vir die bose moondheid te moeilik en duur om voort te gaan met die langafstand beheer van die vlugtelingkolonie en verleen hul teësinnig onafhanklikheid aan ‘n hardnekkige en rebelse spul uitvaagsels wat telkens weier om onder Europese bewind te staan.
Die nuwe regering van die voormalige vlugtelinge weier om geassimileer te word in die oorweldigende golf van dié wat nie deel was van hul eie voortdurende gevlug en verset teen meer gevorderde beskawings nie. Hulle begin ‘n beleid om hulself te verskans teen die verstrooiing van hul identiteit en kultuur – ‘n beleid wat toenemend onaanvaarbaar sou word vir die regerings waarvandaan hul aanvanklik gevlug het. Hierdie beskawings stuur dan ‘n nuwe veldtog van stapel – sonder die vlugtelinge af sodat hulle nie handel kan dryf nie.
Die vlugtelinge, gedryf deur ‘n oorweldigende begeerte om te bly voortbestaan in weerwil van die sameswering van ander, bring die offers wat nodig is om hulself te mag handhaaf – raak selfonderhoudend, ontbeer dít wat die internasionale gemeenskap weerhou, raak weerbaar, ontwikkel infrastruktuur, belê in opleiding en navorsing, raak leiers op gebiede van nywerheid, mynwese, elektrisiteit, wapentuig, medisyne, landbou, kernkrag, klandestiene handel, intelligensie, die ontwikkeling van bondgenootskappe, beoefening van kunste, ens. – en ontwikkel die jongste taal op die planeet tot op die hoogste sport van aanwending vir akademiese- en letterkundige toepassing.
Dan tree ‘n nuwe moondheid na vore, een wat voorheen neutraal was maar wat teen dié tyd een van die heel magtigstes op die planeet geword het, en tree toe tot ‘n nuwe oorlog met die voorsiening van wapentuig, tegnologie en opleiding om ‘n nuwe golf van gewillige vegters toe te rus om oorlog te voer teen die vlugtelingbeskawing. Weereens hou die vlugtelinge vol in ‘n lang en uitgerekte konflik met een van die magtigste nasies – een só magtig dat selfs die res van die wêreld nie gesamentlik teen hulle tot openlike konfrontasie sou toetree nie…
En dís waarom. Dit is die antwoord op die vraag hierbo. Die verhaal van die Boer is ‘n verhaal van suiwer wetenskapfiksie en fantasie. ‘n Verhaal wat die verbeelding aangryp. Dit kon net sowel deur Lucas of Tolkien uitgedink gewees het. Die verhaal van ‘n handjie vol mense wat teen die mees onwaarskynlike stel omstandighede oorleef het. En net soos in Tolkien en Lucas se werke is daar nog ‘n element teenwoordig – nie towery of die fors (van die Jedi) nie, maar die Lig wat hulle vergesel het.
Die vraag is nou: “hoe gaan die volgende hoofstuk lyk in die verhaal van die vlugtelingkinders?”