Kunsmatige Intelegensie. Die veld van wetenskap en psige (impak op die mens) is al baie in boeke en rolprente mee geëksperimenteer. Die hoof argument wat ontstaan het – weens die uitbreiding van die genre – is dat KI goed en sleg is vir die mens. Baie mense glo dat KI tot ons einde gaan lei, soos wel in die gewilde reeks Terminator uitgebeeld word.
Die teenpool is nou weer dat KI die mens sal kan help. Dat dit die mens sal tyd gee om tot ‘n beter wese te ontwikkel, aangesien al die harde werk dan namens die mens gedoen sal word. Die idee is reeds vorendag gebring in Isaac Asimov se werk, genaamd ‘I, Robot’.
Dus het die koms van ‘Outside the Wire’ ons baie skepties gemaak, aangesien daar baie diep spore in die genre van KI reeds gemaak is (soos by voorbeeld die werke hierbo, om maar net ‘n paar te noem). Kom ons kyk dan wat maak dié fliek noemenswaardig?
‘Outside the Wire’ het grootliks gefokus op die paradoks van bevel. In Asimov se werk is daar nie een nie, want die KI kan doodluiters nie ‘n mens se bevel verontagsaam nie (Drie wette van robotieka). Dit is egter nie die geval met dié fliek nie. In ‘Outside the Wire’ bestaan daar kriteria waaronder die KI die mense kan verontagsaam.
Die kriteria het gelei tot ‘n herhaling van die KI se besluit in ‘Avengers: Age of Ultron’. Waar die KI tot die besluit kom om die mens op die een of ander manier te wys of oortuig om ‘n stop te sit tot oorlog voering.
So, dit is die mening van hierdie skrywer van Afrifiksie dat ‘Outside the Wire’ voldoen aan die genre waaraan dit behoort, maar glad nie ‘n nuwe bydrae gemaak het nie. Die fliek het baie geleen uit vorige werke, soos reeds uitgewys is, en waar daar wel plek was vir nuwe idees – is daar geen uitbreiding op hulle nie. Die fliek is vol goeie aksie tonele en oulike dialoog, maar uit ‘n WF oogpunt is dit nie die moeite werd nie. Dis ‘n heel vermaaklike fliek en ek sal dit enige tyd weer kan kyk, maar dis beslis nie naastenby so goed soos die reeds genoemde werke nie.