DIE AGSTE KLEUR IS ‘N GROOVY EEN

28 September 2015
© dr. François P. Verster

2015 - Skrywersfoto - François Verster’n Mens wat tot skryf gedryf word skryf maar gedurig en sommige van die skryfsels bly behoue in die geheue van ’n rekenaar, indien nie in jou eie geheue nie. Daarom is dit soms tog nuttig om te gaan soek en sulke skeppings denkbeeldig af te stof, deur te lees en bestekopname te maak van jou vordering as skrywer – of dalk jou agteruitgang. Die uitsny van cliche’s, die weglating van oorbodige slimstreke soos die oormatige gebruik van alliterasie, en te veel strooisinne wat die tempo en vloei vertraag – as jy sodanige swakhede nou kan herken, het jy tog gevorder. Herken jy nie die stokkies in jou eie wiele nie, wel, dan moet jy erken dat jy net sowel ’n Facebook-digter kan word!

Op ’n eksterne hardeskyf kry ek die volgende essay, agt jaar gelede geskryf, en min of meer die tyd toe ek gereeld rubrieke begin pleeg het (ek verkort dit aansienlik):
Ek vou die BY oop; bladsy 8 van 6 Desember. Die artikel is deur Willemien Brümmer en gaan oor ’n onderhoud met Etienne van Heerden. Brümmer noem hom ook “akademikus en kuberkoning” – verwysend na sy webwerf Litnet).

Eerstens praat hy van die “Agste Kleur” as die “grand mal aanval” (dus iets soos ’n epileptiese toestand) wat hom beetpak as hy aan’t skrywe gaan. Dis nogal interessant – seker iets soos wat sportmanne noem “in the groove” – wanneer jy konsentreer op iets wat nie noodwendig logies is nie en dus meer met die regterbrein te doen het. Of dis hoe ek dit verstaan. Self het ek dit ook al ervaar, maar duidelik nie genoeg nie! Ek onthou, om die sportmetafoor te gebruik dat ek eenmaal teen my vriend Amos tennis gespeel het wat beslis ’n veel beter speler as ek was en op daardie spesifieke dag het ek soort van uitgehaak – of was dit ingehaak? – asof ek op niks spesifiek fokus nie, maar “iewers tussenin” was. Ek gebruik die woord “fokus” hier in die sin dat jy byvoorbeeld op ’n fisiese objek soos die tennisbal fokus, teenoor die meer omvattende “konsentreer,” wat meer vir my dui op die uitsluiting van sekere invloede as om jou aandag op een ding te vestig.

Afrigters leer mens juis om op die bal te fokus, maar dalk moet hulle eerder bysê dat jy ander dinge moet uitsluit – as jy na die bal kyk, maar die skare hoor en die wind voel en die sweet in jou oë verwens en dink aan die punt wat jy so pas verbrou het, sal bloot “oë op die bal” nie genoeg wees nie. Toe ek die eerste stel wen, wat ’n ongewonde prestasie was teen Amos, begin ek skielik twyfel en soos Thomas, sink ek dadelik (weer) weg in my ou verloormoeras, sodat ek uiteindelik die wedstryd verloor, alhoewel ek hom so te sê teen die planke gehad het.

Ek het al gelees dat kampioene soos Chris Evert so kon konsentreer dat hulle vir ure alles rondom hulle uitsny – ook Jacques Kallis kon glo ure kolf en nie eens hoor wat die Australiese veldwerkers hom toesnou nie. Ek het sedertdien besef hoekom ek dit gedoen het, hoekom ek nie in die “groef” gebly het nie: dit was vrees. Ek was bang vir die onbekende – ek was gewoond aan verloor teen die speler wat ek erken as baie beter as ek én ek het ook geglo ek sou nie verdien om te wen nie. Dus ’n minderwaardigheidgevoel!

En dít is dalk net wat meeste van ons se probleem is; hoekom ons nie deurbreek as skrywers nie. Want glo jy werklik jy is nie net in staat om dit te vermag nie, maar glo jy ook jy verdien dit? “Komplekse” wat dikwels deur ander mense – jou ouers, onderwysers, generasiegenote en so aan op jou afgedwing is maak sekerlik ’n reuse impak op mens se prestasievermoë. Mens hoor altyd dat die menslike brein skaars in eerste rat beweeg en dat daar nog minstens drie of vier ander ratte ongebruik bly (wag?) – maar meestal tevergeefs. Die geloof, soos in Thomas se geval ontbreek. Die vrees vir verwerping dwing baie van ons byvoorbeeld om skuilname te gebruik – en miskien as jy reken jy het darem genoeg gedoen om enige akkolades te verdien, dan ruk jy die masker af en skree “hier is ek!” Natuurlik is dit nie al rede om aliasse te gebruik nie, maar dis beslis één.

En dis hoekom ek so jammer voel vir skrywers as resensente hulle vergruis en as ek hulle boeke op die uitverkopingstafels sien. Nadat hulle definitief moes werk en worstel om daardie “minderwaardige” boeke hoegenaamd gepubliseer te kry. Die bek-en-pengevegte wat so maklik uitbreek tussen skrywers is maar net nog ’n voorbeeld van mense wat so hard baklei omdat daar so min is om oor te baklei, soos gewoonlik oor akademici gesê word. Riana Scheepers skryf onlangs dat digters die nuwe Groot Verseboek gryp en angstig deurblaai om te sien of hulle werk ook daarin opgeneem is, en hoeveel van hulle gedigte. Net so loer skrywers in boekwinkels na die rakke om te sien of hulle boeke ook daar is. En hoekom nie?

Terug na Brümmer en Van Heerden: Die volgende opmerking deur Van Heerden wat my aandag getrek het was oor karakters in sy boeke. Hy beweer dat karakters by hom “instap”. Hy sê hy sien ’n lyf en dan groei die verdere beskrywing daaruit. Behalwe vir Van Heerden se bewese vermoëns as kunstenaar (visualisasie, omskrywing, ens.) glo ek dat dit met die jare se “oefening” reeds ’n gevestigde tegniek by hom geword het – ook die veelvuldige invloede uit sy reise, die lees van ander se boeke, en so meer, maar veral die vestiging van ’n oeuvre wat hy nie net uitbou nie, maar herbou (die “herskryf” van sy vorige boeke soos hy dit stel) moet dit vir hom makliker maak om die karakters te definieer en soms herdefinieer (ook sy ou karakters kom weer in nuwe boeke, maar nie presies dieselfde nie). Practice makes perfect.

Etienne van Heerden bly nie agter om die geskiedenis te betrek nie – hy sê hy “glo nie in daai historical voracity ding nie.” Ek erken ek is nie seker of ek en hy die term dieselfde verstaan nie, maar wanneer hy sê “Fiksie wil ’n ander waarheid bereik…” is ek op dieselfde bladsy as hy – mens moet ’n duidelike onderskeid maak deur te weet jy lees nou fiksie, selfs al is dit ’n historiese roman of satire. Nes jy weet as dit komedie is teenoor realisme, moet jy as leser die skrywer se bedoelings in konteks kan plaas. Want wat is die alternatief? Ja, die skrywer kan praat van ’n liegfabriek en van “fabuleer” as hy fiksie skep, hoekom nie?

Die punt is die publiek is meestal redelik onkundig, het vooropgestelde idees, glo naïef in wat hulle rolmodelle kwytraak, en dies meer. Mens moet hulle nie verder verlei nie. Die fiksieskrywer mag hom/haar tot die geskiedenis wend as grondslag/agtergrond, ter wille van milieu-skepping, karakters gaan leen, en so aan, maar die historikus moet by die feite bly wat hy/sy uitsnuffel en omdolwe en dan, tog, kan die kruid van die truffels geskei word en mag die historikus op die hoogste valk van geskiedskrywing (kroniekskrywing is die “laagste” of basiese vlak) ook spekuleer en gevolgtrekkings maak (met duidelike aanduiding dat dít is wat gedoen word, natuurlik). Wedersydse bevrugting? Natuurlik – as geskiedenis die verhaal van die mensdom is en fiksie is verhale per se, is daar sekerlik net sowat ’n millimeter metaal wat die twee skei en kan die “verbruiker” die twee (tesame) die lug inskiet en die een kies wat blinkkant bo bly lê.

Van Heerden weerspreek homself egter wanneer hy sê dat hy “’n ander greep wou kry op wat die geskiedenis is”. Hoe kom dink ek so? Want hy wil dit tog verwring in iets anders (dis tog ook wat skrywers met die alledaagse, die werklikheid, doen in fiksie) en sy eie weergawe gee van byvoorbeeld die “struggle-mitologie.” Dis nie verkeerd nie; solank mens dit as fiksie herken. Maar dan sê hy dat feite en fiksie altyd “naatloos in mekaar gevloei het”. Hy kan dalk ook sê: “Ek wil die werklikheid en fiksie vervleg” (met mekaar verwar?). Wat beteken dit – vir hom, vir my, vir jou Liewe Leser, en les bes; vir die “onskuldige” publiek?

So, jammer ek stem nie saam met sy stelling dat “…as jy die boek lees, moet dit vir jou irrelevant wees of dit nou regtig waar is dat so iemand geleef het destyds.” My groot probleem bly nie in die vakkundige skeiding nie, maar die New Histories met hulle verdraaiings (soos: die Hollanders het die Khoina-vroue en masse verkrag, Herrie is die eerste persoon wat van Robbeneiland ontsnap het, swartmense het in Saldanha gewoon voor die wittes opgedaag het, plaasmoorde is bloot die gevolg van moorde op slawe en ander verontregtes wat destyds van hulle grond vervreem is, daar was nie 26 000 dooies in Britse konsentrasiekampe nie – die Boere was in elk geval vuil en dom, bla-bla-bla). Genoemde stellings is oor die radio en op simposiums geuiter en myns insiens kan ons nie bekostig om ekstra hout vir sulke smeulinge te voorsien nie. Behalwe die akademiese impak is daar ’n veel ernstiger een vir die nageslagte van die groepe wat in hierdie land moet saamwoon.

Miskien besef meeste mense – van literatore tot storiesmouse dit nie, maar die historici wriemel konstant in hierdie vagevuur. En indien die ernstige navolgers van die Rabies en Leroux’s werklik as morele weerligafleiers wil dien, moet hulle besef dat hulle nie eers onbeheersd deur donker wolke kan jaag en die donderweer aanpor nie. Bomme gooi doer bo kan reën veroorsaak – en dodelike blitse. Brümmer skryf dat Van Heerden “’n alternatiewe historiograaf [die term dui eintlik op iemand wat oor geskiedenis as vakrigting kommentaar lewer] word en die werklike geskiedenis ondermyn met duimsuigery”. Ek twyfel nie dat dit tong-in-die-kies bedoel is nie, maar dit kan dalk, in hierdie Verdwaalde Land van ons nogal meer waar word as mens sou dink.

Interessant wat Van Heerden sê oor Asbesmiddag – dat dit ’n “anti-roman” is en dat hy daarin “…opposisies en spanning en teenstrydighede en paradokse skep”. Ek het die boek soos ’n soort handboek gebruik, want daar is soveel wat voornemende skrywers daaruit kan put. Nog meer insiggewend is dat hy sê dat hy “…nie versigtige bousteentjies […] wat op die ou end alles sin maak […]” neersit nie. Om só iets suksesvol te kan doen, sit nie in enigeen se broek nie – Picasso moes eers goeie Realisme kon skilder (kyk na sy vroeë werke) voordat hy meesterlik kon abstraheer. En hoegenaamd ernstig opgeneem is – die opvoedingsvlak van die publiek is immers deurslaggewend. Sit jy op ’n eiland moet daar darem vis in die water rondom jou wees.

Vir skrywers (van enige gedaante) is dit van belang dat Van Heerden sê dat hy skryf omdat hy homself sodoende in ewewig hou – “ek moet met ’n volgende boek begin, because I am at odds with myself.” Die ekstase (hy noem dit “verliefdheid”) van die skeppingsdaad is die verdowingsmiddel wat hy crave – en die post-natale depressie daarna moet met die volgende boek verdryf word.

Die eerste boek deur hom wat ek gelees het was Die stilte na die boek, wat ek baie geniet het. Die titel was ook ’n openbaring, want dit was ’n baie raak beskrywing van daardie hol gevoel na die opwinding van iets klaarmaak wat (hopelik) substansie het. Ek is seker dis wat enige kunstenaar motiveer om te skep; die angs wat daarmee gepaard gaan ten spyte – plankevrees, wrede resensente, finansiële ondergang, al daai monsters wat in die kas wag is nie genoeg om die kunstenaar onder die radar te hou nie. Ook nie eens finansiële sukses, soveel dat jy nooit weer hoef te skryf, skilder, sing, toneelspeel, wat ook al nie. Soos Warren Beatty oor Madonna gesê het: “She has to have it.” Of volgens van Heerden: “die jagsgeit om te publiseer.”

Ek het al meermale gelees dat die menslike brein ’n “shut down mechanism” is. Dit kom daarop neer dat wanneer ’n spesifieke mens nie meer die inkomende stimuli kan verwerk nie (sit dit af, sit dit af, met apologie aan Kerkorrel), dan skakel sy/haar brein af. Ek sê “spesifieke mens,” want elkeen se kapasiteit verskil tog. Iemand soos Van Gogh se brein het waarskynlik nie genoegsaam afgeskakel nie en ons weet wat die gevolg was – of hy nou aan skisofrenie, epilepsie, middeloorontsteking of wat ook al gely het – hy is Die Tipiese Kunstenaar; die ou wat nie al die invloede kon hanteer nie, die groot output en sy ryk, polsende oeuvre ten spyt. Van Heerden gee mens ook ’n kykie na hierdie kompulsie van die kunstenaar as hy erken dat hy “nie kan afskaal nie.” Brümmer skryf dat Van Heerden “van boek tot boek gedryf” is. Inderdaad.

Ek vind dit ook baie interessant dat hy praat van “stroomversnellings” en van vroeg opstaan om te skep. Aucamp se titel “’n Skrywer met sonsopkoms” kom by mens op: weer eens – die regterbrein kry kans om voet in die deur te kry voor sy boelie-agtige boetie wakker word en hom onderdruk. Ek wonder soms wie van die twee is Jekyll en wie is Hyde. Om vinnig terug te keer na die Agste Kleur: ek vermoed meeste van ons is bang ons verdwaal in daardie betowerde bos en loer net vinnig in, luister na die geruis van die watervalle, wonder watter soort voëls daar sing en zoep, terug na die veilige ooptes; daar waar Keiser Link-er-Brein heers. Is dit wat met mense soos Van Gogh gebeur? Raak hulle in doringbosse verstrengel wanneer hulle die slapende skoonhede probeer opwek?

Miskien is dit die fundamentele verskil tussen dié wat stuur en dié wat saam seil – een ou het die moed om die onbekende in te vaar en die verantwoordelikheid te dra en die ander hou die “reg” voor om uit te dop en boonop kritiek uit te deel: word nuwe roetes geopen kry die kaptein wel die eer, maar trek die skeurbuik almal plat kan hy net hoop om saam met die ander sy kanse te waag en nie summier aan die hoofmas te hang nie.

“Stroomversnellings” – dis waarvoor die kunstenaar wag – ’n mens sou dit seker pasaatwinde ook kon noem – of “wanneer die ratte begin vat” en die masjiene begin sjoef-sjoef, byna onkeerbaar, vorentoe, op ’n duidelike baan met so min as moontlike syspore.

Uiteindelik wens elke skrywer dat hy/sy die keuse het om óór sy/haar oeuvre (soos Van Wyk Louw) of vanúít dié oeuvre (soos Van Heerden) kan skryf – hel, jy hoop net jy hét (ooit) ’n verdomde oeuvre!

Op af te sluit: oor die titel van hierdie stuk – die jonger lesers sal dalk nie weet nie, maar “groovy” was in die sestigs/sewentigs wat “koel” vandag is. Daar was selfs ’n soort koeldrank met die naam Groovy. Vir my sal dit altyd met “fokus” en “die Agste Kleur” geasossieer word.