Die bruin koevert – 2016 © Christo meyer
VOLWASSE FANTASIE (1 207 WOORDE)
Met ʼn selfvoldane glimlag sak hy op die rusbank neer. Dis net ʼn kwessie van tyd voordat hy die bankrowers vastrek. Die net span vinnig stywer. Weke al is hy warm op hul spoor, maar elke keer bevind hy hom in ʼn doodloopstraat. Dis net ʼn kwessie van tyd. Daarvan is hy oortuig.
Hy steek sy hand in sy hempsak en haal ʼn sigaret uit. Aan die waarskuwing op die pakkie – dat rook sy longe kan beskadig – het hy hom nog nooit gesteur nie.
Hy rook al sedert sy 13de jaar en met sy gesondheid is daar niks verkeerd nie. En hy’s al in sy 40’s.
Sy dogter sit skuins oorkant hom. Vandag is haar 17de verjaardag. Volgende jaar is sy in matriek.
Buite gaan die wind soos ʼn besetene te kere. Die reën het darem bedaar. Hierdie is gewis een van die Moederstad se koudste winters tot dusver.
Die speurder trek sy jas uit en hang dit oor ʼn stoel.
Hy krap in sy broeksak en haal ʼn bruin koevert uit.
“Ek het dié vir jou gebring,” sê hy sonder om na haar te kyk. “Ek het nie by die winkels uitgekom nie. Jy moet maar self vir jou iets koop waarvan jy hou.”
Hy sit die koevert op die kombuistafel neer. Sy reageer nie, haar aandag by iets op haar slimfoon.
“Die tyd het gou aangestap, nè? Ek kan amper nie glo jy is ʼn jaar ouer nie.”
Hy loop tot voor sy drankkabinet en skink ʼn dubbel-whiskey. Dit help gewoonlik teen die moegheid en die koue.
“Ek wil na Ouma toe gaan,” sê sy. “Ek weet Ouma het vir my ʼn geskenk gekoop. Wanneer ry ons?”
Hy kyk op sy horlosie. Dis 18:45. “Genade, ek het nie besef dis al so laat nie. Wag, nog net een glasie.”
“Maar Pappa weet mos Pappa mag nie bestuur as Pappa gedrink het nie. Dis teen die wet.”
“Niks om jou oor te bekommer nie, my hartjie. Pappa bestuur al jare lank.”
Terwyl hy in die motor klim, verlang hy na Megan. Vandat sy weg is, is niks meer dieselfde nie. Dis moeilik om die rol van ma én pa te vertolk. Hy voel hy skeep sy dogter af en bring nie genoeg tyd saam met haar deur nie. Hy troos hom in die wete dat Megan nou beter daaraan toe is.
Ten minste hoef sy nie meer te ly nie. Die kanker het haar lewe ondraaglik gemaak . . .
Die verkeerslig is rooi. Sy dogter se veiligheidsgordel is aan, syne nie. Hy weet hy is veronderstel om te stop. Maar die pad is stil en hy sien nie kans om na die gesanik van die kind se ouma te gaan luister nie.
Daai is ʼn baie ongeduldige mens. En hy kan self nie vanaand te laat in die bed kom nie. Hy moet môre die media te woord staan. Hulle wil weet hoe sy ondersoek vorder na die verdwyning van die skatryk Swanepoel-egpaar.
Waar die wit Toyota-bakkie so skielik vandaan kom, weet hy nie. Hy hoor net die bande wat skree en glas wat breek. En angswekkende gille. In die verte kom ʼn ambulans en polisievoertuig aan.
Hy skrik in die hospitaal wakker. Onseker kyk hy om hom rond. Hy weet nie mooi waar hy is of hoe hy hier beland het nie. Sy kop voel asof dit wil bars. ʼn Verpleegster kom nader gestap.
“Kan u onthou wat gebeur het?” vra sy bekommerd. Hy probeer dink, maar dit voel asof sy brein gevries is.
“Dokter sê u het ʼn harde stamp teen die kop weg en . . .”
“Ek onthou niks, absoluut niks. Om die waarheid te sê, ek weet nie eens wat my naam is nie.”
Met oë so groot soos pierings draai die verpleegster om en loop by die vertrek uit.
Elke besoeker is vir hom ʼn vreemdeling. Hy ken hulle van gʼn kant af nie. Almal is so vriendelik en simpatiek. Hulle noem hom Clive en sê hulle is vreeslik jammer oor Bianca. Wie is Bianca? Is hy veronderstel om haar te ken? Wat steek hulle vir hom weg?
Dit neem weke voordat hy stadig maar seker begin onthou. Toe hy uiteindelik besef wat gebeur het, wens hy sy geheueverlies was eerder permanent. Dit sou beter gewees het om nie te weet nie.
Hy kon nie eens sy eie kind se begrafnis bywoon nie. Sal hy ooit met sy gewete kan saamleef?
Hy herstel volkome en gaan bly in ʼn eenmanswoonstel aan die ander kant van die dorp.
Kort ná sy intrek word hy aangekla van roekelose bestuur en strafbare manslag.
Die hof bevind hom skuldig en plaas hom onder huisarres. Die stilte dryf hom teen die mure uit. Alles raak vir hom te veel. Hy kan dit nie meer hanteer nie. Hy begin wonder of dit nie beter sal wees om ʼn klomp slaappille te sluk en van alles te vergeet nie.
Op die herdenking van Bianca se verjaardag maak hy ʼn draai by die huis waar hy, sy vrou en kind eens gelukkig saam was.
Sy kop voel asof dit wil bars. Oral in die huis hoor hy geluide – die stem van sy vrou en dogter.
Hy hoor hoe sy vrou skel oor hy so baie laat werk. Hy sien haar met ʼn lepel in die hand staan terwyl sy tussen die kombuiskaste en die pot op die stoof beweeg.
Hy sien sy kind met haar pop in die hand. Sy kom na hom toe aangehardloop. Dan ry sy weer op haar driewiel om en om in die voorhuis terwyl haar ma op haar skreeu om buite te gaan speel.
Wat het van die tyd geword? Die een oomblik speel hulle met poppe en die volgende oomblik stel hulle jou voor aan hul mansvriend. Hy wens hy kan die tyd terugkoop.
Hy dink terug aan die aand toe sy 17 geword het.
Daar was nie deur die loop van die dag tyd om ʼn geskenk vir haar te koop nie. Die werk van ʼn speurder hou mos nooit op nie. Sodra die een saak opgelos is, steek ʼn ander een weer kop uit.
Die tyd het gevlieg. Sy sou vandag mondig geword het.
Die TE KOOP-bordjie hang al skeef. Dit lyk nie asof enigiemand belangstel om die plek te koop nie. Wie kan die mense blameer?
Hy stoot die deur oop en loop van vertrek na vertrek. Die huis ruik muf en stowwerig. Oral is daar spinnerakke. Sy keel is droog.
Hy pluk die kaste oop. Iewers moet nog ʼn bottel whiskey wees. Dan bedink hy homself.
Hy wil nie dieselfde fout begaan nie. Met ʼn stroewe gesigsuitdrukking gaan sit hy op die rusbank.
Hy draai sy kop en staar na die verwaarloosde portrette teen die muur. ʼn Traan rol oor sy wang.
Hy het sy dogter se glimlag gesteel.
Nie eens sy eie dood – nadat hy ʼn oordosis pille geneem het – kon berusting in sy donker gemoed bring nie. Sy siel sukkel om tot rus te kom.
Met elke verjaardag maak hy sy verskyning. Hy hoop om haar iewers in die huis raak te loop.
Hy wil so graag net die koevert vir haar in haar hande gee – die bruin koevert met die banknote in wat steeds onaangeraak daar op die kombuistafel lê . . .