DIE VLINDERVANGER – Ilse Goschus

Die Vlindervanger – 2016 © Ilse Goschus

VOLWASSE FANTASIE (1 660 WOORDE)

 

Haar motor het sommer botstil gaan staan, hier in die middel van Buitekantstraat. Dis winter; sewe-uur in die aand en die Moederstad lê reeds in ʼn pikdonkerte gehul.

Vanaand sny die windjie ekstra koud deur die Kaapse windgewaaide strate. Swart plastieksakke waai soos losgerukte valskerms onder dowwe lampligte rond; haak dan in draadheinings, slote en boomtakke vas.

“Met projekte soos “Infecting the city” en die “Design Indaba” probeer landskapingenieurs, kunstenaars en ontwerpers die Moederstad op die  wêreldkaart van die Kunste, Ontwerp en Ontspanning bring, maar verby die Kaapse Doktor kon hulle nog nie dink nie. Gelukkig verdoesel die nagdonkerte die besoedelingsprobleem ietwat,” dink die 31-jarige Mandy.

Dis waar wat hulle van Murphy en sy wette sê… als gaan verkeerd, juis wanneer dit veronderstel is om reg te gaan.

“Maar… eenmaal ʼn boer; altyd ʼn boer en soos die spreekwoord duidelik sê… ʼn Boer maak ʼn plan,” dink sy. “Of dit nou ʼn goeie of ʼn slegte plan is, sal ons maar moet sien.”

Mandy druk haar dun lyf waaghalsig in die Suidooster se pad in terwyl sy hospitaal se kant toe beweeg. Dis reeds besoektyd.

(“Mejuffrou Brand,” het die ontvangsdame by  die Hospitaal vir diegene met psigiatriese probleme in die Noordelike Voorstede, vanoggend telfonies gesê: “Jou pa het ʼn terugslag gehad; ons stuur hom vir waarneming na die nuwe en uiters moderne, psigiatriese hospitaal in Kaapstad: A. J. Krouwkamp. Hy is tans uiters aggressief. Hy is in saal D3 op die derde vloer.”)

Haar gedagtes dwaal terug na haar kinderjare…

***

“Bestuur die kar!” skree haar pa

“Ek kan nie!” huil die sesjarige Mandy.

“Ek sê nou vir jou… bestuur die donnerse kar!”

En dan slaan hy haar oor haar dun lyfie- soos soveel male tevore! Die motors in Adderleystraat, Kaapstad, hoop op soos ʼn lang, dun kronkelslang; buffer teen buffer. Die motor mik-mik nou Tuine se kant toe. Sy wens sy was ʼn duif en dat sy net ver weg kon vlieg, uit hierdie nes van angs en mishandeling uit.

Haar lyfie bewe van angs. So tussen die snikke deur, begin sy hakkel: “P… Pa… Pappa, ek is te klein om te b… be… bestuur!”

(Weer ʼn klap. Die hof het haar in die put van mishandeling gegooi, altans, so het haar ma haar laat verstaan.)

Nou klouter sy oor op haar pa se skoot en klou aan die stuurwiel terwyl hy appels eet!

“Sies, jou morsige kind! Nou het jy jou nog natgepee ook!” skree hy woedend.

Dis soos die aand met die gloeiwurm…

(Die aand, het die swart skadu’s ʼn glinsterende, groen juweel gehuisves; in die koper potplanthouer! Dit was die mooiste ding wat sy nog gesien het in haar jong kinderlewe.)

“Kyk Pappa! Die plant het ʼn groen liggie!” het klein Mandy opgewonde uitgeroep.

Haar pa het die sitkamerlig aangeskakel, reguit en met groot treë op die plant afgepyl en met sy poffervinger die gloeiwurm in slymerige groenigheid, doodgedruk. Sy het gesukkel om asem te haal van histerie; dit het gevoel asof hy haar siel doodgedruk het. Dit was maar net die begin van haar kinderhel!)

***

“Skisofreen, is die etiket wat hul op die ou end op sy kop geplak het,” dink sy verder en met gemengde gevoelens.

Soos ʼn verlore pakkie by die poskantoor word hy nou al ʼn geruime tyd heen-en-weer gepos. Dan is hy in die inrigting. Dan weer in die hospitaal. Sy staan nou voor die hospitaal.

Die hyser gaan oop op die derde vloer. Gespanne en met ʼn gevoel van nie-weet-wat-om-te-verwag-nie, loop sy na Saal D3. ʼn Enorme,gespierde sekuriteitswag staan voor ʼn traliehek.

“Hy is die ‘bouncer’ hier, ” dink Mandy met ʼn tikkie misplaasde humor.

Sy besef dat die sekuriteitswag natuurlik die vrede moet bewaar tussen die gewelddadige  pasiënte; daarom die agter-die-tralies aanhouding.

“ʼn Hospitaaltronk,” besef sy ontsteld.

“Hallo my kind! Hoe gaan dit met jou?” vra haar pa met ʼn verbasende, vriendelike glimlag.

Sy skrik as sy hom sien. Hy lyk soos ʼn figuur uit die Bybelse tyd. Dis kompleet soos die beeld van Metusalem, wat sy al jare in haar kop rondra. Sy gesig het dun geraak. Sy baard is lank en grys met krummels daarin vasgevang en sy verwarde oë sit hol in sy kop. Die hemp is vol vetkolle.

Sy half onskuldige kinderlikheid op hierdie stadium, laat haar verskriklik voel.

“Dis amper asof hy van die flimstel, ‘Silence of the Lambs’, gevlug het,” dink sy.

“Nee, aan die ander kant… die film is gebaseer op realiteite. Dis soos malmense lyk in die regte lewe!” korrigeer sy haarself.

Mandy druk haar skok diep af, waar niemand dit kan sien nie.

“Goed dankie Pa, en met Pa?” forseer sy die groetwoorde uiteindelik oor haar lippe.

Dit voel kompleet asof die een kant van haar lyf in die kastydingsvuur van die hel, brand. Die ander deel is ʼn gletser in Antarktika. Polariteite! Geen louwarmwater nie, net skerp kontraste! Haar hele lewe was so van die begin af. Sy het geleer, om voordurend, soos ʼn duif, te vlieg na die kant toe waar sy op daardie oomblik kon oorleef. Dis kompleet asof sy nog ʼn Bybelse uitdrukking : “Die sondes van die vaders, besoek aan die kinders…” nou-eers beter begryp.

“Ek het my tandeborsel hier by my; ek hou dit in my hempsak,” verduidelik hy. “Ek is reg om te gaan.”

“Waarheen Pa?” vra sy met ʼn mengsel van skok, verleentheid en simpatie. “Sy wil hom toets.”

“Huis toe,” antwoord hy weereens kinderlik.

Haar hart is so seer. Ten spyte van alles… hy is nog haar pa.

Die groot sekuriteitswag se skadu laat kortstondig ʼn grysheid aan die vertrek klou as hy kom seker maak dat die gesprek glad verloop en sonder voorval.

“Hoe pateties en ironies,” dink Mandy. “Hy sit nou vasgevang in sy eie kop. Dis nou die eindproduk van intellek, ʼn gebrek aan ouerliefde en lewensomstandighede wat uit hul wentelbaan beweeg het.”

“Hy wag nou net vir die ambulans, om hom terug na die inrigting te neem,” deel die onvriendelike verpleegsuster haar mee.

“Wil Pa hê ek moet saam met Pa in die ambulans ry?” vra sy beleefd.

“Asseblieftog my kind – ek sal dit so waardeer,” antwoord hy soos ʼn skaap wat ter slagting gelei word.

Mandy vergeet totaal van haar motor wat in Buitekantstraat staan.

“Soos in Koos du Plessis se ‘Sprokie vir ʼn stadskind,’ het hy nog nooit daarin geslaag om die neonboog se punt ontdek nie; die malligheid sit tussenin vasgevang,” dink sy sinies en kru.

Hy is nog steeds die poskantoorpakkie; soms is die inhoud ongewens, soms kan dit deur Doeane gaan, sonder enige voorval en soms lê dit verlore en vergete – eenkant op a rak!

En dan skielik sak Mandy inmekaar…

Haar kop draai. Haar oë rol.. Wit uniforms en verwronge gesigte dans uittartend voor haar. Arms gryp na haar. Haar pa se gesig is groot en bang. Sy mond is oop… Hy roep angstig na haar. Hy klem sy tandeborsel in sy een hand vas.

“Mandy my kind. Kom! Kom terug na my! Kom asseblief terug na my!”

“Ek moet myself verdedig teen die aanvalle op my psige,” besef sy.

Haar pa word skielik klein en platgedruk en in die verlede-boks gedruk. Sy skuif die boks by die afgrond van vergeet af. Hy tuimel na onder en daar bly hy lê; vir ʼn wyle egter…

***

 Mandy ervaar skielik weer die slymerigheid van die gloeiwurm; die gedagte is soos ʼn skaduwee wat aan haar klou; vir jare lank. Sy besef die wil-om-te-vergeet is net ʼn illusie en die sogenoemde vergeet-boks is eintlik gekamoefleer as ʼn nie-vergeet-boks. Al die pyn en chaos van die verlede veroorsaak erge konflik en sielewroeging; die gedagtes van n kind teenoor die gedagtes van ʼn volwasse vrou.

“Nee,” besef sy, “ek verkul myself. “Die groene slymerigheid wat ek dink ek sien, is my omgekrapte kop. “Ek sien plantasies bome; duisende, duisende bome palmbome.”

“Waar is ek?” wonder sy.

“In die reënwoude van Suid-Amerika; in die Amesone,” glip ʼn gedagte in haar kop, “daar waar jy as insektekundige, altyd wou wees.”

Dis warm en bedompig. Sy lê onder ʼn Murumuru palm. Sy is dors. Sy voel oor die droogheid van haar lippe en raak aan die koorsblare. Sy vat-vat aan haar voorkop. Dit is vuurwarm van die koors.

“Hoe de duiwel het ek hier beland?” wonder sy.

“Die wil is soms sterker as die liggaam,” gly nog ʼn gedagte in haar kop.

“Help! Help!” wil sy skree, “ maar die hulpgeroep bly net abstrakte gedagtes in haar brein. Sy wil die nattigheid wat die mis en vogtigheid in die reënwoude  agterlaat, oplek, maar die ontwyk haar; haar liggaam is reeds te swak.

Dan sien sy hom… die vlindervanger. Met ʼn net in die hand, probeer hy hulle vang.

“Stop! Stop! Help! Help!” probeer sy weer roep, maar die hulpgeroep haak weer in haar kop vas.

Sy sien opeens die pragtigste bloue vlinder. Dit behoort aan die spesie ‘Blue Morphos’. Sy glip weer in ʼn kortstondige beswyming in.

Mandy voel skielik iets grofs aan haar hand raak. Dis die vlindervanger se net. Dit skuif stadig oor die skoenlapper. Die vlindervanger sien nie haar uitgedroogde lippe raak nie; hy ignorer haar gedihidreerde liggaam; sy obsessie is die bloue vrye, vlinder.

Ook Mandy kyk verby die realiteit, want dis maar soos die lewe werk. Sy kyk verby die vlindervanger se jeugdigheid; sy kyk vas in sy vasberadenheid om vas te vang. Sy uitgestrekte arms verander in seekatarms wat die pragtige vlinder diep in sy diep donker gat van obsessie wil insuig. Sy gesig raak skielik die gesig van haar pa. Sy uitreiking ervaar sy as ʼn boodskap van die hel. Sy voel die vlinder se alomteenwoordige pyn aan, oor die teenwoordigheid van die vlindervanger.

Sy wil haarself in ʼn bevrydingsvlug in.

Dan besef sy; sy behoort aan die spesie “Blue Morphos”; sy is die vlinder. Sy bring die boodskap van bevryding aan die aangehoudendes.

Skielik strek sy haar vlerke uit en vlieg vaardig en ver onder die las van die lewe uit.