DIE vREEMDE hOND OP DIE sTOEP – 2016 © Salmon Smith
VOLWASSE FANTASIE (2 393 WOORDE)
Die skade van die vorige nag se storm is speurbaar, terwyl Carlien Hermanus haastig aanstap na haar pandjieswinkel, daar op die hoek van die straat.
Oral lê rommel en boomtakke soos die wind gewoed het. Carlien moet plek-plek mooi trap, om nie perongeluk in een van die waterpoele -in die verslete teerpad – te trap nie.
Dit is nog vroegoggend en nêrens is ʼn enkele siel in sig nie. Amper asof die wind al die inwoners van die rustige Bolandse dorpie, Rustdal, weggewaai het.
Die dorpie lyk vanoggend soos ʼn spookdorp. Die blote gedagte daaraan, stuur onmiddelik ʼn yskoue rilling teen Carlien se rug af.
Die digte Blackwattlebos, op die rand van die dorpie, lyk ook vanoggend ekstra donker en onheilspellend. Carlien loer in daardie rigting en dit voel asof die hare op haar kop regop staan.
Iets is nie pluis vanoggend nie, besef sy intuïtief.
Sy versnel haar pas. Sy moet nou net haar winkeltjie veilig bereik en die deur agter haar sluit, totdat die gemeenskap begin ontwaak.
Sy kan haar nie indink wat haar besiel het, om juis vanoggend vroeër as gewoontlik na haar winkel te kom nie. Die winkeltjie is nou al vyf jaar in haar besit, nadat sy dit van haar oorlede pa geërf het.
Van ver af, gewaar sy die swart ding daar op haar winkelstoep…
Toe sy ʼn paar treë van haar winkel is, sien sy dat dit ʼn hond is wat daar in die deur, met sy kop op sy voorpote, lê en slaap.
Sy gaan staan en bekyk die hond met, ʼn frons op haar voorkop, uit. Sy het nog nooit in haar lewe so ʼn groot hond gesien nie. Dit lyk soos ʼn mongrelbrak.
Sy kyk vinnig rond of sy nie dalk die eienaar van die hond hier iewers gewaar nie. Maar die straat is so stil soos die graf.
Sy besef dat dit ʼn rondloperhond is wat vannag hier onder die afdak van haar winkel teen die storm kom skuil het.
Skielik lig die hond sy kop op. Carlien rittereer verskrik. Sy voel hoe haar hart in haar borskas tamboer slaan. Wat as die hond nou op haar afstorm? Sy sal nooit vir die gedrog kan weghardloop nie. Hy sal haar met gemak inhardloop en verskeur.
“Loop nou! Voertsek!” gil sy op hom.
Die hond begin sy stert heen en weer swaai. Dié aksie van die hond laat Carlien effe ontspan. Sy het kennis van honde en sy weet wanneer honde vriendelik is.
Versigtig stap sy nader. Die hond staan van die teëlvloer af op en staan eenkant toe – amper asof hy vir haar wil padmaak om by die winkel in te gaan.
Sy sien toé hoe masief groot die hond is, toe hy regop staan. Die hond sy kop is byna tot hier onder haar blad. Sy wonder wie se hond dit kan wees, alhoewel dit vaagweg vir haar bekend lyk.
Carlien, nog steeds skugter vir die hond, sluit vinnig haar deur oop en storm by haar winkel in. Sy sluit vinnig die deur agter haar en gaan sit agter haar toonbank.
Die hond begin met sy een poot teen die deur krap en maak sulke fyn tjank-geluidjies.
Die hond is dalk honger, besef Carlien, wat ʼn groot liefde vir diere het. Sy onthou skielik van die sak hondekos wat ʼn klant gister aan haar geskenk het, vir haar Jack Russel-hondjie by die huis. Sy het gister vergeet om dit huistoe te vat.
Sy gooi ʼn bietjie in ʼn bakkie en stap na buite. “Hierso honne,” sê sy vriendelik.
Die hond swaai weer woes sy stert, toe sy die bakkie voor hom neersit. Daar is so ʼn snaakse uitdrukking in sy donker oë, toe hy opkyk na haar.
Versigtig steek sy haar hand uit om oor sy kop te streel.
En dís toe ʼn baie snaakse ding gebeur…
In plaas dat haar hand aan die hond se kop raak, gly dit daardeur. ʼn Yskoue gevoel omklem Carlien se hart, toe sy besef dat die hond hier voor haar, nie ʼn gewone hond is nie. Dis ʼn spookhond!
Sy gee ʼn harde gil en hardloop terug haar winkel in. Sy sluit weer vinnig haar deur en hardloop om haar toonbank.
Sy gaan skuil daaragter en loer-loer so oor die dik sleeper-hout blad. Sy voel hoe haar hart in haar borskas tamboer slaan.
“Liewe Vader, verlos my van die bose,” prewel sy vinnig ʼn gebed.
Die hond gluur haar nou met sulke donker, yskoue oë aan.
Sy sal iemand moet bel om haar te kom help – maar wie? Sy het nie ʼn man of boyfriend nie. En haar gryse ou moedertjie, is deesdae nie so lekker nie.
Dalk die polisie…
Sy reik na die telefoon op haar toonbank. Terwyl sy die gehoorstuk teen haar oor plaas, skakel sy naarstigtelik die nommer, op die gelamineerde papier – met die noodnommers – op die toonbank.
Sy swets hardop, toe daar geen toon op die telefoon is nie. Die lyn is dood. Dit moet die vorige nag se storm wees.
Sy smyt die gehoorstuk neer en haal vinnig haar selfoon uit haar handsak. Sy kan haarself skop, toe sy na die dooie skerm kyk. Sy het so wragtig vergeet om gisteraand die battery te herlaai.
Nou wat nou? Dit is nou skaakmat vir haar. Sy word nou gyselaar gehou in haar eie winkel, deur ʼn spookhond en hier is geen ander uitgang behalwe vir die een wat die hond nou blokkeer. Gelukkig het sy nou dáárdie deur gesluit.
Dit is asof iemand haar met ʼn skoot yswater in haar gesig tref, toe sy skielik besef: Spoke kan deur vaste voorwerpe soos mure en deure beweeg…
Wat as daardie hond nou deur daardie deur beweeg?
Dit voel asof yskoue vingers om haar hart klem.
Sy loer weer na die hond. Dié het weer met sy kop op sy voorpote gaan lê.
Daardie donker oë wat nou na haar loer, lyl asof dit dwarsdeur haar kyk.
Wat sal die duiwelse hond nou juis voor háár plek kom soek?
“Voertsek!” skreeu sy gedemp.
Die hond swaai weer sy stert, maar lig nie sy kop van sy voorpote af nie.
ʼn Beweging, daar buite in die straat, trek Carlien se aandag. Sy slaak byna ʼn sug van verligting, toe sy iemand in die pad af sien kom.
Toe die persoon nader kom, sien sy dat dis Johnny Mol, hul dorpie se dronk boemelaar, wat altyd vir haar kom verpes vir aalmoese. Hy stoot ʼn winkeltrollie met al sy karrige besittings daarin.
Vir die eerste keer in haar lewe is sy bly om hom te sien. Dit lyk asof hy haar hier in die winkel gesien het, want hy neig nou dié kant toe.
Sy hoop dat hy die hond se aandag kan aftrek. Dalk kan sy op dié manier hier wegkom.
Sy sien hoe Johnny sy trollie in die straat los en die trappies na haar stoep stadig opklim. Seker nog babalas van gister se vaalwyn, dink Carlien by haarself. Sy kom haastig agter haar toonbank uit.
Skielik steek Johnny vas, toe hy die reuse hond daar voor die deur gewaar. Hy korrel so deur sy eenoog na die dierasie. Asof hy só probeer sin maak van die gedoente hier op die stoep.
Die hond ignoreer hom en lê eenstryd deur.
Skielik haak hy af en skop na die hond. “Voertsêk djou gemôs!” skree hy terselfdetyd.
Sy voet gly deur die hond se lyf en hy konnek die glasdeur met ʼn helse geluid.
Vir ʼn wyle staar hy na die hond. Dit lyk, wat hy nou so pas ervaar het, nog nie werklik by sy drankbenewelde brein ingesink het nie.
Hy steek sy hand versigtig na die hond se lyf uit. Hy wil net seker maak, dat sy brein nie vanoggend met hom paarte speel nie.
Sy hand beweeg deur die hond en hy voel die koue teëls daaronder. Dís toe dat Johnny besef wat híér aan die gang is – dít is ʼn duiwelse spookhond waarmee hy hier te doen het!
Hy gee ʼn lank uitgerekte gil: “O my dooie maaaa!!”
Hy swaai om, val byna teen die trap af, behou sy ewewig net-net en hardloop verby sy kosbare trollie – al gillend – die straat af.
Carlien se moed val in haar skoene, toe sy dit sien. Sy hardloop weer agter die toonbank in.
Sy loer terug na die hond, en sy sien hoe die hond weer stadig van die vloer af opstaan.
Nou kyk hy haar stip aan.
Daar is ʼn soort uitdrukking in daai donker oë wat sy nie kan peil nie. Vir ʼn hele ruk staan die hond net daar en kyk haar aan.
Dít begin toe op haar senuwees werk. Sy kan nie verstaan hoekom die spookhond dan nie deur die glasdeur kom, as hy haar dan so graag wil bykom.
Nou staan dit net daar en gluur haar aan.
Later kan sy dit nie meer hou nie. “Wat soek jy van my?! Gaan terug na jou baas toe!” gil sy dit uit.
Die hond se ore skiet skielik kietsregop. Dan begin hy te blaf. Dit klink soos donderweer, wat deur die dorpie weergalm.
Hy draai skielik om en hardloop teen die trappies af. Onder draai hy terug en blaf weer in haar rigting.
Carlien sit vasgenael agter haar toonbank en staar verbaas na die hond se vreemde gedrag.
Die hond kom weer die trappies op tot voor die deur en gee weer twee harde blawwe. Hy draai stomp om en hardloop weer straat se kant toe.
Dáár draai hy weer om en kyk Carlien in afwagting aan.
Toe tref dit Carlien…
Die hond wil hê dat sy hom moet volg. Miskien is die hond werklik nie ʼn gevaar vir haar nie.
Sy kom stadig om die toonbank gestap. Die hond swaai sy stert weer vriendelik en dít laat Carlien besluit om hom tog maar te volg.
Stadig kom sy agterna gedraf, toe die hond weer omdraai en koers kies na die Blackwattlebos daar naby.
Hoe nader hulle aan die bos beweeg, voel Carlien hoe die hoendervleis op haar arms uitslaan en ʼn yskoue rilling agter haar rug afhardloop.
Waarheen lei die dier haar? vra sy haarself af, toe die hond dieper die bos inhardloop.
Sy wil omdraai en teruggaan, maar dis amper asof sy nie beheer het oor haar spiere nie. ʼn Onsigbare mag dryf haar al agter die spookhond aan. Die hond moes ʼn towerspel oor haar geplaas het.
ʼn Ligte windjie begin deur die fynblare van die bome waai. Dit klink soos iemand wat treur.
Carlien is te bang om op te kyk. In haar verbeelding sien sy hoe die takke haar van bo af gryp.
Die hand hardloop al vinniger tussen die bome deur en sy versnel haar pas om by te hou.
Haar bors begin later te brand en haar bene voel soos jellie, van inspanning.
Wat soos ʼn ewigheid voel, kom die hond voor ʼn groot boom tot stilstand. Sy is uitasem, toe sy by hom aansluit. Versigtig stap sy nader.
”Wat is dit?” hyg sy dit, skaars hoorbaar, uit. Sy kan duidelik haar hartklop in haar ore hoor. Sy besef dat sy nie meer bang is nie.
Die hond gee nou sulke fyn tjankgeluidjies en kyk na die los grond onder die boom.
Hy kyk weer terug na haar en die keer is daar so ʼn droewige uitdrukking in sy donker oë.
Toe besef Carlien dat die hond haar weggelok het om iets aan haar te wys. Sy kyk na die plek waarna die hond gestaar het.
Die vorige nag se storm het van die grond rondom die boom se wortels weggespoel en ʼn stuk rooi lap blootgelê.
Sy buk nader, toe die hond eenkant toe padgee. Sy steek haar hand uit, gryp die lap vas en trek daaraan.
Dit voel vir haar asof die lap aan iets, dieper in die grond, vassit.
Sy trek harder en skielik gee dit skiet. Die lap lyk na ʼn rooi baadjie te wees. Carlien grawe naarstigtelik die nat, los grond om die baadjie los en toe maak sy ʼn ontdekking wat haar bleek om die kiewe laat…
Sy snak na haar asem en haar oë rek pieringgroot in hul kaste, van skok. Voor haar lê die oorblyfsels van ʼn mens, waarvan die modderige, bleekwit kopbeen vir haar ‘glimlag’.
“O liewe hemel!” weergalm haar kreet deur die bos, toe sy die ware toedrag van sake besef – híér is ʼn mens begrawe.
Sy steier agteruit en struikel oor iets agter haar. Sy kom op haar sitvlak te lande en kyk na die ding wat haar laat val het. Nóg ʼn geraamte lê nie ver van die mens sʼn nie. Dié keer is dit die oorblyfsels van ʼn dier. Moontlik die van ʼn hond.
Baie dinge maal nou deur Carlien se gedagtes. Daar moet ʼn konneksie wees tussen die hond en die persoon wat hier begrawe lê.
Die persoon moes die hond se eienaar was, besluit sy terstond. Die arme dier moes toe oor sy graf gewaak het en sodoende hom doodgetreur het.
Maar wie begrawe iemand in só ʼn vlak graf, hier in die bos?
Skielik voel dit vir Carlien asof die bloed in haar are ys. Die man is híér vermoor en toe begrawe. Nou het sy op sy graf afgekom.
Sy het nou so pas die grootste ontdekking ooit, in die geskiedenis van dié rustige Weskusdorpie, gemaak.
Lank staar sy na die oorblyfsels in die rooi baadjie. En dis toe sy onthou van die kluisenaar, wat destyds in ʼn verwaarloosde huisie, hier op die rand van die bos gebly het. Hy het so ʼn bietjie meer as ʼn jaar gelede, op ʼn stormagtige nag, sommerso onverklaarbaar verdwyn.
Niemand weet presies wat van hom geword het nie. Net bespiegelinge dat hy die pad gevat het.
Hy het hoeka altyd só ʼn verslete, rooi baadjie gedra en daar was altyd so ʼn massiewe, pikswart hond saam met hom, onthou Carlien.
Net toe val nóg iets Carlien by – die spookhond!
Sy kyk in die rondte, maar van die spookhond is daar nou geen teken. Dis asof daar ʼn lig vir Carlien opgaan.
Die hond se spook het haar na sy eienaar se versteekte liggaam gebring, om die raaisel van meer as ʼn jaar gelede op te los.
Carlien spring regop en hardloop deur die bos na die polisiestasie, in die middel van die dorp.
Einde