Dood op Papier – 2016 © Ockert J. Du Preez
VOLWASSE FANTASIE (1 956 WOORDE)
“Middag meneer en mevrou Barnard, gaan dit goed?” Haar groen oë staar stip na vore en haar dun lippe beklemtoon haar klein mond. Haar stem is kras en streng soos gewoonlik. Sy lig haar bril effens en haar oë soek steeds ’n groet of enige ander klank behalwe haar stem.
“Middag mevrou Roodt.” Groet die Barnards tesame.
“Ek het julle ingeroep vanmiddag want ek is absoluut raadop!” Sy draai nie doekies om nie! “Dit. Ek. Sy kan nie so aangaan nie! Ek weet nie meer wat om te doen nie!”
“Jou werk!” Dwayne Barnard kan ook onbeskof raak wanneer hy wil.
“Liefie, luister!” Maria klap haar man se langbeen as ’n waarskuwing. So klein soos wat sy is, is sy tog Dwayne se meester. “In elk geval,” July Roodt maak haar keel ongeskik skoon. “ek bedoel sy luister net nie! Jammer, verkeerde woordkeuse, maar julle verstaan wat ek bedoel.
Dwayne is glad nie ingenome met die vrou nie. Hy weet sy kind is doof-stom, maar die feit dat die vrou opsetlik ‘Luister’ gebruik sny tot in sy binneste. Maria druk haar naels effens in Dwayne se stywe been, om hom twee keer te laat dink om mevrou Roodt oor die tafel te gooi – wat hy wel sal doen – en maar liewers net te sit. Hy sal enigiets doen om Rut te beskerm. Hy sal enigiets vir Rut doen.
“Wat kan ons doen om te probeer help mevrou?” vra Maria verleë.
“Punt is: ek weet nie; ek weet regtig nie!” na ’n pouse gaan sy voort “Ek dink sy sal moet ophou teken. Moenie my vra hoe nie, ek weet nie! Sy sal iets anders moet kry om haar besig te hou. Die sketse is duiwels. Die afskuwelike detail in sommige sketse is skrikwekkend! Sy kort hulp. Hulp wat ons skool nie bevoeg is om te gee nie.”
“Sielkundige hulp?”
“Ja, mevrou. Daar is fout. Haar vroeë sketse was normaal, maar nou! Om eerlik te wees: haar sketse maak my bang, selfs meneer Cloete ook.”
“Nou waar is hierdie sogenaamde bangmaak-prentjies wat vir jou en die hoof op hol jaag?” dring Dwayne aan. Effens mank staan July op, stap meer mank na haar laaikas waaruit sy ’n dik leer uithaal. Nadat sy terug by haar tafel is, sukkel sy effens om te sit. “My been is ’n bietjie seer, vet weet hoekom, sal maar more moet dokter toe gaan”
Rut kon nog altyd teken. Sy het een dag begin en dadelik was haar besonderse talent duidelik sigbaar. Sommige sketse beter as ander, natuurlik, sommige sketse meer kleurvol as ander. Sombere sketse het ook soms hul te voorskyn gemaak. Haar gemoed was heel waarskynlik hartseer of donker op daardie stadium gewees. Daar was egter nooit rede om enigsins te kommer oor haar sketse nie.
July maak die enorme lêer oop.
“Januarie.”
Met haar dun, verkreukelde wysvinger was sy lukraak ’n skets. Dit is nie moeilik vir die Barnards om te sien dat die milieu en temas van Januarie se sketse relatief vrolik is nie.
Rut het hul huis in sulke definitiewe detail geskets: die wilgeboom se fyn takkies en blaartjies, die hondehok met ou Lolla wat lui daarin lê en slaap, die swaai in die reuse- doringboom, elke vensterraam, elke dakteël – selfs die een teel wat nog altyd verkeerdom is. Elke liewe detail.
“Februarie.”
Spieëlbeelde van ‘Mamma’ en ‘Pappa’: elke plooitjie, elke haartjie – veral Dwayne se een wenkbrouhaar wat rigting beduiweld is.
“Wow, liefie!” Dwayne antwoord sy vrou met ’n ligte drukkie.
“Maart. Nie veel hier nie, vier in totaal.”
Skets een is slegs een rowwe reguit streep.
Skets twee begin met ’n soortgelyke horisontale streep, ook presies in die middel, dan beweeg die donker lyn skielik af en dan skielik op.
Skets drie is slegs ’n growwe horisontale lyn wat lukraak op-en-af beweeg regoor die breedte van die papier.
Skets vier is weereens ’n streep regdeur die middel met ’n op-en-af buiging slegs aan die begin van die blad.
“April.”
“Wag!” roep Maria uit. “Kyk mooi! Haal die vier sketse uit.” July haal die sketse een-vir-een uit. Maria plaas elke skets langs mekaar.
“Sien? ’n Hartlyn.”
“In elk geval, April” July raak effens geïrriteerd. Sy het nog hope toetse om te merk en verslae om uit te stuur. “Hier begin dit…”
Bekommerd wag Dwayne en Maria, hulle weet nie wat om te verwag nie. Wil hulle weet? Is dit rêrig so erg dat albei ’n halwe dag se verlof moes insit? Is Rut oukei?
July blaai om. Dit voel soos ’n ewigheid! Haar lang rooi wysvingernael tik-tik-tik op die middel van die skets. Dis iets verskrikliks! ’n reek kleiner sketsies vorm ’n donker strokiesprent. ’n bespierde naakte man staan. Hy skeur sy borskas oop en glimlag dan dit af. Sy regterhand ruk sy hart wreedaardig uit. Hy staan met die kloppende hart na bo. Dan eet hy die hart asof dit ’n gewone appel is. Die man loop dan weg tussendeur ’n vlammemuur.
Dwayne se oë rek en hy begin hakkel terwyl hy ’n woord probeer uiter.
“Kon. Kon dit nie fliektoneel gewees het in ’n rolprent wat sy eens gekyk het nie?”
“Ons het eers ook so gedink, meneer Barnard. Ons het elke liewe film wat in ons biblioteek is sorgvuldig deurgekyk. Ons het ook elke TV reeks so sorgvuldig moontlik bestudeer. Niks. Dit moet haar eie verbeelding se skepping wees.”
“Maar hoe? Hoe kan haar sketse so baie verskil in ’n kwessie van ’n paar dae?”
“Weet nie. Wat dink jy van hierdie skets?” sy blaai om. Maria se oë begin liggies opdam. ’n Naakte vrou met lang pikswart hare en swarter oë, geen neus en ’n oopmond vol skerp punterige tande sit langs ’n kreatuur. Die kreatuur het ’n slang se lyf en die kop van ’n buffel. Om hulle lê daar tientalle koplose lywe waaruit bloed nog uit sommige vloei tot in ’n rivier omring deur ’n vlammemuur.
“Wat de?” Dwayne kan nie mer sy emosies beteuel nie. Hy spring woedend op en skop die stoel amper in flarde. Met die geraas skrik Maria uit haar verbasing. July ruk ook soos sy skrik.
“Waar de hel kom sy aan hierdie snert? Wat leer julle my kind? Wat gaan hier aan by hierdie sogenaamde skool?” Dwayne hou nie terug nie en sodra July wil antwoord, peper Dwayne haar verder met beledigende vrae.
“Kalmeer liefie! Gaan rook ’n sigaret of iets, asseblief!” Dwayne storm bombasties uit die klaskamer uit en gryp bewerig na sy sigarette en aansteker. July en Maria praat nie ’n woord nie, elkeen se kop vol sy eie demone. Dit voel soos ’n uur voordat Dwayne terug is. Nie een van die Barnards weet wat om te doen of te sê nie en hul druk mekaar teer.
“Jammer, maar dis hoekom ons vandag hier sit.” Se July opreg. Opregtheid en openlikheid gebeur nie gereeld by mevrou July Roodt nie. “Ek sal aanbeweeg na Mei maand, ek dink ons almal het genoeg van April gesien.”
Mei en Junie is al wat oor is om te wys vir die Barnards. Wat. De. Hel. Is. Volgende?
Die sterk reuk van rook kleef nog aan Dwayne. “Ag nee, sies liefie! Jy rook soos ’n skoorsteen!” Dwayne lyk effens verleë, maar maak asof hy nie Maria se afgesaagde rympie hoor nie.
“Reg. Mei.” July wil klaarkry. Sy begin sommer in die middel van Mei.
Rut is vir die eerste keer vasgelê op papier. Sy sit half bukkend. Haar kleurlose oë staar boontoe. Rondom haar is ’n kring van skedels, elkeen omhul in vlamme. Regs bo, tussen niks en nêrens is ’n perfekte swart sirkel. Maria is ietwat verlig. Maar dis van korte duur.
July blaai om. Die skets het dieselfde tema.
Rut staan in die middel van die skedel-muur. Sy hou ’n man se kop in haar hande. Die bloed drup nog uit en n deel van die man se rugstring klou nog aan die aantreklike kop. Elke tweede skedel in die muur se mond is oop, so asof dit gesprekke voer met die ander skedels in die muur. Lukrake vlamme spuit uit die muur en ’n donker figuur begin deel vorm waar die vorige swart sirkel was.
Skets drie. Die skedel-muur het verdwyn. ’n donker afskuwelike figuur staan langs Rut. Sy hou haar hand met n skedel uit vir die kreatuur. Dit staar met sy dooie oë na haar terwyl die ding sy ellelange arms uitgestrek hou. Dis ’n lelike ding: drie horings op die kop. Snaakse tekens op sy bors. Sy mond is oop. Dit wag gretig om die skedel met sy skerp tande te verslind.
“Dis slegs drie sketse van Mei wat ek julle nou gewys het, wil julle die ander sketse van Mei sien?”
“N-n-nee. Twyfel selfs of ek Junie wil sien!” bulder Dwayne. Waar kom Rut aan hierdie snert?
“Junie se tema, as ek dit so kan stel, is anders. Dis nie so ontstellend soos die vorige twee maande nie, maar daar is wel ’n paar bekommernis waardige aspekte aan die sketse. Is julle reg?”
“Seker maar. Nie veel van ’n keuse nie, of hoe liefie? Wil jy eers weer gaan rook?”
“Kom ons kry dit net oor en verby!”
Rut staan op die punt van ’n krans. Onder in die water wag ses-been-kreature. Haar vingers kraap haar oë uit terwyl ’n duiwelse figuur vir haar lag.
In die volgende skets sit ’n seun, hy lyk effens bekend vir die Barnards, in ’n opgefrommelde kar. Wurms peul by elke sigbare gat uit en Rut staan op die agtergrond en lag.
In die derde skets vreet groteske kreature aan ’n meisie. Stuk-vir-stuk skeur hulle haar uitmekaar. Rut staan weereens op die agtergrond en lag.
“Voor ek julle die finale skets wys, moet ek julle iets vertel wat moontlik betrekking het tot die vorige twee sketse. Julle het seker verneem dat die seun in die eerste skets bekend lyk, nè? Wel, sy naam was Armandt Viljoen. Hy is twee weke gelede in ’n motorongeluk oorlede.”
Maria hou glad nie van mevrou Roodt se insinuasie en toon nie. Dwayne word stil.
“Armandt was in ons skool. Die meisie in die vorige skets se naam was Sonja Greyvenstein, ook in ons skool gewees. Sy en haar ouers was verlede week Wildtuin toe. ’n Trop leeus het hul kar aangeval en sy is uit die venster uitgepluk.
Stilte. Hoe kon Rut sulke goed teken?
“Albei sketse was geteken toe hul albei nog in die land van die lewendes was, vir ingeval julle wonder…”
Hierdie juffrou ‘tjie is mal man! Dwayne is briesend en begin die ‘juffrou’ verbaal aanval. Maria met haar eie vrae en bekommernisse sukkel om Dwayne by die klaskamer uit te stoot. Wanneer Dwayne so raak, dan word sy bang. Sy kan nie nou dat Dwayne ook sy kop verloor nie.
Nadat Dwayne twee sigarette verbrand het, het dinge ’n bietjie bedaar en almal se harte klop bietjie rustiger, behalwe July s’n. Sy is so bang op hierdie stadium. Sy is ’n sterk vrou, maar haar hart klop al hoe vinniger en vinniger en sy wil nie omblaai na die volgende skets nie, maar vir Rut en die Barnards se onthalwe moet sy.
Dwayne gryp Maria se hand vas. Hy doen dit baie selde. Eintlik, onthou Maria, die enigste ander keer wat hy haar hand so hard vasgeklem het, was by sy ma se begrafnis. Hy moet rêrig omgekrap wees.
July blaai om.
July sit by haar klaskamer-tafel. Haar oë is omgedop en haar stomp, bloederige naels is al voos gekrap. Daar is ’n enorme knop op haar been waaruit honderde wurms uitpeul. Dit lyk soos ’n vulkaniese uitbarsting. Rut sit op haar gewone sitplek met ’n groot slinkse glimlag terwyl sy haar hand wuif.
“Nou, sê vir my, moet ek bekommerd wees, of nie?”