FABRIEK 7 – Hardie Breedt

FABRIEK 7 – 2016 © Hardie Breedt

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE (1 947 WOORDE)

 

Dit is al amper ete. Moet nog net hierdie bak vol kry. Dan kan ek trug fabriek toe. Ek hoop daar is nog van daardie vars komkommers. Seker nie. Seker weer daardie gevriesdroogte rantsoen en Syntec sintetiese vleis. Dit maak nie saak nie, dit is vullend. Van al die dinge wat ek van die aarde mis, wie sou dink: groente. Wat ek nie sal doen vir ʼn goeie slaai nie. Wat sal ek nie doen vir ʼn homp vleis nie. Regte vleis, met spierweefsel, bloedsous en al. Daar was nie baie sulke feesmale in my kinderdae nie. Op die paneelbord flikker ʼn liggie wat aandui dat die bak vol is. Eerste skakel ek die tande af. Die tande is reg onder die kajuit, groot, klipharde staalrollers wat die stukke asteroide breek en fynner maal. Die klippe word met spesiale belde aangevoer na die bak toe. Ek skakel die werktuigstelsel oor na die skip se beheerkamer. Ek sit trug en maak my seer oë toe. Deur die dynserige lug kan ek een of twee van die ander werktuie sien, ook oppad in. Die Skip is ʼn meganiese wonder, dit is ʼn volkome selfonderhoubare fabriek. Geheel en al in die ruimte gebou, van materiale wat geheel en al in die ruimte gemyn en verwerk is. Die CFM maatskapy is ʼn privaat maatskapy, met aandeelhouers van verskeie nasionaliteite. Hierdie skip was nie hul eerste nie, maar dit is een van die min fabriekskepe wat onafhanklik van die maatskapy besigheid doen. Hierdie masiewe monsters van kapitalisme gaan deur die ruimte, ontgin hulpbronne waar dit tevinde is. Bou wat ook al nodig is, vir wie ook al die geld het.

‘My suster het geboorte gegee.’ Vertel Rusty vir almal om die tafel.

Rusty is ʼn kort ingenieur. ʼn Vriendlike, hardwerkende jong man. Hy het, nes ek , en miljoene jong mans en vrouens, die lewe op aarde vir ewig agtergelaat. Aangedryf deur die hoop vir ʼn beter lewe.

‘Het die baba permit?’ Vra Bitter met ʼn suur gesig.

ʼnee, maar hulle aborteer net terwyl die baba nog in die ma is. My suster sê baie mense kry skelm kinders. Deesdae word net die Pa’s beboet. Nou sê die vrouens net: hulle weet nie wie die pa is nie. My suster sê hulle gaan later trou, hy sal net die kind aanneem. Hy is in die regering, sal sy werk verloor as hulle uitvind.’ Terwyl Rusty praat en vir almal foto’s wys, steel ek twee van sy buisies Syntec: Braai Vleis en Brand.

Bitter, nie sy naam nie, maar defnitief sy temprament. Hy begin ʼn argument met een van die omstanders by die tafel.

Bitter se pa was glo ʼn ryk boer. Geboer met regte diere. Jy moet ryk wees om met regte diere te boer. Ek kan verstaan hoekom hy bitter is, ek was ook. Ek het nie regtig lus om na hom te luister nie. As hy harder gewerk het, en meer gespaar het dan was hy nie nou hier nie. Anders as die meeste van ons. Nie een van ons kan trug gaan nie, maak nie saak die geld wat jy maak nie. Gesondheids redes. Hier is magnetiese gravitasie, maar nie genoeg om jou spiermassa te behou nie. Beendigtheid is ook ʼn probleem. Tog is dit nie net sleg nie, ons het redelike betroubare internet. Dag of twee dan is jou boodskappe daar. Kan nogsteeds video, musiek, flieks en TV aflaai. Moet erken ek het die laaste tyd ʼn perverse obsessie met ystersmid video’s. Asook allerande goed wat mense van hout maak. Wie kan hout meubels bekostig? Was nou die dag lus vir boogskiet, het op tegnicon laas geskiet. Wonder hoekom ek nou daaraan dink.

‘Weet jy al wat jy gaan doen?’ Sny Jeni se vraag deur my lui dagdrome. Jeni is een van die Fabriek se dokters. Sy is seker nog nie ʼn dokter nie, maar almal hou van haar. Sy is nie so neus in die lug soos die ander dokters nie. Sy het ook nie daardie ‘baas’ houding van die aandeelhouers nie.

ʼnee. Soek jy?’ Ek hou ʼn Syntec buisie na haar uit. Ons deel ʼn liefde vir brandgoed. Dit is nie heeltemal waar nie. Sy is lief vir brandgoed. Ek is lief vir haar. Dit is dalk hoekom die brandmond nie meer so baie pla nie.

‘Dankie’ sê ek toe sy vir my die helfde trug gee.

‘Ek het nog nie weer gedink nie.’ Ek voel half skuldig vir die leun.

‘Mans, skies, ek het vergeet julle het net ʼn sekere kota gedagtes.’ Sy stamp my met haar skouer. Die etensklok lui. Ons glimlag vir mekaar toe sy in die mediese gang indraai.

Ek weet wat ek gaan doen. Ek gaan ná hierdie kontrak Mars toe. Daar is nog stukke sonder mense. Daar is ʼn kibutz in een van die kraters. Baie van my klasmaats is daar. Hulle se dit is ʼn baie lekker lewe. Hulle het af tyd en kry kos verniet. Vars groente, elkedag. Die meeste spaar, en ek ook, sodat ons eendag ʼn kibutz van ons eie kan begin. Bome plant, kinders kry. ʼn Paradys te skep uit daardie onvrugbare grond en giftige atmosfeer. Die groot uitgawe is om die krater toe te bou. Die staal is nie regtig ʼn probleem nie. Dit is net die plastiek dop wat ongelooflik duur is. Baie sterk deursigtige plastiek. Die banke sal help, met graagte. Hulle is net berug vir hul skelm streke. Menigte kibutze is al so verloor. Daarom is die CFM maatskapy nie net die grootste voedsel produsent op aarde nie, maar ook in die ruimte. Water is ʼn probleem op die maan en op Mars. ʼn Kleiner probleem op Mars, daar is masjiene wat die waterstof in die lug brand om water te kry. Die ideaal is om ʼn geslote sisteem in die krater te kry en later die masjien by te voeg. Dit gaan duur wees. Dit is juis hoekom ek hier werk: kapitaal. Fabriekskepe betaal goed. Al wat meer betaal is soldaat wees, maar die ruimte is gevaarlik genoeg sonder dat iemand op jou skiet. In ʼn ideale wêreld sou Jeni saam met my getrek het. Al gebeur daar niks tussen ons nie, die kibutz kort ʼn dokter. Daar is komplikasies, een van hulle is genaamd Hans Verwoerd. Jenji se prik van ʼn liefdesmaat. Hy loop hier op en af soos ʼn adelike uit die ou dae. Sy pa is die uitvoerende direkteur asook meerderheids aandeelhouer van onse einste fabriekskip. Rusty het my al vertel van geheimsinnige transaksies met ouens wat gevaarlik lyk, op tye waneer daar niemand op diens is nie. Rusty werk in die werkswinkel, die werkswinkel is naby aan die ingang. Pa en seun glo, onder andere.

Praat van die duiwel en loop vas in sy vuis. Hy mik vir die maag. Een van ons instrukteurs het dit altyd gedoen. Instinktief maak ek my spiere styf. Hans grinnik vir een van sy handlangers. Ek wonder hoe gaan dit met Afduim Vermaak. Ek gaan by die werkswinkel in. Ek weet Hans gaan iets probeer, dink nie dit sal nóú wees nie. Tog skrik ek toe Rusty en Bitter inkom, steeds aan die stry. Ek wonder party dae, soos vandag, hoekom hulle vriende is.

‘Klein Hans Verwoerd wil jou doodmaak, het so iets in die gang gehoor.’ Bitter lyk bekommerd toe hy die nuus gee. Met rede. Ek sal nie die eerste wees nie. Die ruimte is gevaarlik, ongelukke gebeur en Jeni is beeldskoon.

‘Ek sal seker maak jou werktuig is reg.’

Na Rusty uit is staan Bitter nader:

‘Jy kan maar rustig wees, ek gaan saam met hulle onderhandel vir ʼn nuwe kontrak.’

‘Goed om te weet, hoe lank gaan julle weg wees?’

ʼnie so vêr nie, Mars toe en trug. Ek het ʼn gevoel ons sal vroeër as gewoonlik trugkom, veral as jy in ag neem wie die klient is.’

My hart begin vinniger klop.

‘Wie is die klient?’ Ek weet dit is nie goeie maniere om te vra nie, maar dit is wel slim. Kennis is mag, en nêrens is dit meer waar as hier buite nie. Aardse politiek was nog altyd gekompliseer. Politiek in die ruimte is nog meer chaoties. Besigheid ook. Politiek en besigheid is eintlik een. Dit is baie meer opsigtlik hier, waar huursoldate prokureurs briewe en sanksies vervang. Bitter pas perfek in sy werk. Hy is altyd op hoogte van die intrige. Waar dit net soos chaos lyk vir ʼn buitestaander soos ek. Daarom kry hy die beter geld, beter kos en behuising ook. ʼn Vegter wat ʼn magdom feite in die oomblik kan opnoem. Tog is hy baie by ons, asof hy nie gemaklik by die elite is nie. Hy kyk my in die oë vir ʼn paar oomblike, draai na die deur toe en sê: ‘Dieselfde mense wat julle land oorgeneem het.’ Hy verwys na CFM se historiese oorname. Dit was die eerste keer in geskiedenis wat ʼn maatskapy ʼn hele land gekoop het. By die deur draai hy om: ‘ Jy hoef nie te sleg te voel nie, die ou man wil te veel hê, dit sal nie gebeur nie.’

Ek het gehoop hierdie dag sou nie kom nie. My hart klop vinnig in my bors. Ek voel hoe my hande sweet.

’CFM?’ Ek kan nie glo my stem het nie gekraak nie.

Bitter knik sy kop.

Sal ek dit kan deurvoer? Dit voel of ek nie kan asem haal nie.

‘Die Ruimte is ʼn vreemde plek.’ Dit is Bitter se laaste woorde aan my.

Ek wag ʼn paar oomblikke, kyk rond om seker te maak niemand sien my nie. Ek draf deur die leë gange. In my kajuit haal ek die pak uit my kas uit. Ek trek die versteekte suurstof tenk onder my klere aan. My asem is gejaagd en my hande lomp. Die instrukteurs het ons baie ure gedrill, tog voel ek verwyder van die aksie.

Met ʼn stadiger pas gaan ek na die longkamer toe. Die longkamer is ʼn groot vertrek waar suurstof gemonitor, geisoleer en versprei word na die hele skip toe. Die longkamer het die belangrikste funksie op die skip. Daarom is dit geheel en al onder rekenaar beheer. Ruimte kolonialisasie sou onmoontlik gewees het sonder hierdie tegnologie. Die groei kamers het by voorbeeld vir meeste ure masiewe koolstofdioksied konsentrasies. Vir optimale plant groei en optimale suurstof generasie.

Ek lees die kode woord in die terminaal in: toegang toegestaan.

Ek lees die nuwe instruksies in. Vir ʼn oomblik gebeur niks nie, daarna gil sirenes en gaan die rooi ligte in al die vertrekke en gange aan. Ek hardloop werkswinkel toe, hier en daar is daar bang en verwarde mense in die gange. Niemand stop my nie. Ek spring in my werktuig en begin na die uitgang stuur. Niemand jaag my nie, maar ek kan nie gou genoeg ontsnap nie. Ek het die koordinate ingelees, die rekenaar neem beheer van die werktuig oor. Ek skakel die transmisie baken wat in my sak was aan. Al wat ek nou moet doen is wag. Wag,terwyl vinnige skepe vol huursoldate op die baken afjaag, gereed vir maande al. Terwyl al my vriende doodgaan op die onderste vlakke van die skip. Die aandeelhouers en bestuur het ʼn noodlugfiltreerder wat die boonste vlak van die skip aan die lewe hou. ʼn Vyhandige oorname in die moderne eeu. Duisende mense dood. ʼn Maatskapy verander van eienaar. ʼn Maatskapy word nog groter. Ek gee nie om nie.

Soos ek my laaste buisie Syntec oopskeur, voel ek kalm, vir die eerste keer in maande, jare. Ek het gemengde gevoelens oor Jeni. Ek kan haar nog onthou, daardie eerste dag, voor ons lansasie. So weerloos en oulik.

 Drome en opoffering. Ek gaan paradys toe.