Fantasie en Afrikaans – Petronel

Terwyl die res van die wêreld saam met J.K. Rowlings se Harry Potter deur “Hogwarts school of witchcraft and wizardry” se gange tower kwassies rondswaai en spreuke soos “Alohomora!” uitskreeu; of saam met Stephenie Meyer kwyl oor Edward Cullen se bleek voorkoms, bloeddorstige stryd en sy onnatuurlike liefde vir die ‘puny little human girl’, sit ons Suid-Afrikaners en lees oor die gedagtes van ’n negejarige meisie wat gemolesteer word, die oorlewing na ’n skaking of hoe om plaasmoorde te ondersoek – die kontemporêre gebeure. Die verskrikkings en gruwelhede waarmee ons elke dag moet saamleef. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ons het nodig om daaroor ook te lees want dit hou ons wakker en aan die rondkyk, maar is dit nie waarvoor ons koerant na koerant en tydskrif na tydskrif verslind nie?

Wat het geword van ’n boek oopblaai en ontsnap na ’n wêreld wat hoegenaamd niks met die wrede werklikheid in gemeen het nie. Ons, as Afrikaanssprekendes kan natuurlik ook fantaseer oor tower kwassies rondswaai. Ons kan ook oor vampiere droom en die seksuele aantrekkingskrag van ‘highlanders’ besing; of weerwolwe doodmaak en binne klipsirkels op feetjie vlerke rondvlieg – mits ons dit in Engels doen.

Nou kom daar ’n skrywer soos ek wat sê basta daarmee, ek wil Kanada toe gaan en in my eie taal op ’n vampier verlief raak. Ek wil Andorra toe gaan en saam met Estéban in donker grotte wegkruip en die sadistiese weerwolf Carlos van die gras afmaak – in Afrikaans natuurlik; en ek wil na die magiese skool vir heksery en towerkuns gaan en abrakadabra deur die gange skreeu.

Ek wil nie fantasize nie; ek wil fantaseer en belangriker nog, ek wil daardie fantasie – verhale deel met ander Suid-Afrikaners wat ook ‘ontsnapping’ nodig het van die alledaagse verskrikkings en gruwelhede in hul lewens.

Natuurlik kan ek dit doen deur my boeke. Niks is mos onmoontlik nie. Of so het ek gedink.

Totdat ek na ses maande tot ’n jaar later antwoorde van Suid-Afrikaanse uitgewers kry soos:

“Beste Petronel, ons ontvang geweldig baie manuskripte vir keuring en die proses neem maar tyd. Ons het egter nou die keurings fase van jou werk afgehandel. Ongelukkig sal ons nie op hierdie stadium kan oorweeg om jou manuskrip uit te gee nie om die volgende redes: Eerstens is die vroulike hoofkarakter, ’n werklike mens, se reaksie en optrede met betrekking tot die manlike hoofkarakter (wat ’n vampier is) heeltemal irrasioneel en teen die menslike natuur. En tweedens kan hierdie verhaal van jou hoogstens as boeiende afleiding beskou word wat in die internasionale mark in Engels dalk aftrek sou kry, maar dit is uiters twyfelagtig of dit in die plaaslike Afrikaanse mark aftrek sal kry… ens. ens.”

Nou wil ek weet, wat is meer irrasioneel as Bella se liefde vir Edward Cullen of meer teen die menslike natuur as Jacob die weerwolf of Harry Potter se Nimbus 2000 en Laurell K. Hamilton of Karen Marie Moning se Tuatha Dé Danaan?

Drie manuskripte en vyf uitgewers later begin ek internasionaal soek en sowaar! Ek spoor Thompson Boekdrukkery op. ’n Suid-Afrikaanse uitgewer in Taiwan wat spesialiseer in Fantasie en Wetenskapfiksie in Afrikaans. ’n Mede Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner wat ons taal en kultuur in die buiteland uitdra en wat verstaan wat die woord fantasie nou eintlik beteken!

Nou wil ek net weet: Waar is ons Suid-Afrikaanse uitgewers se sin vir fantasie en wanneer gaan hulle die oogklappe afhaal en by die res van die wêreld inpas?

2013 © Petronel

Petronel is die talentvolle Afrikaanse fantasie skrywer wat nie minder as drie volwasse fantasie verhale (Man… of die monster?, Wanneer die middernagson weer skyn, Jou lewe… vir my liefde) in 2013 geskryf het.

1 thought on “Fantasie en Afrikaans – Petronel

  1. Petronella, dit wys net weereens dat aanhouer wen. ‘n Mens moet net nooit moed opgee nie. Jy is ‘n toonbeeld van ‘n aanhouer en sukses gekombineer.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui