Die Kinders Grim

Die eerste hoofstukke van twee van die boeke van die kinders Grim se avonture word hier gepubliseer met die toestemming van die skrywer as lusmaker.

Die skakel om die e-boeke  te koop  Die kinders Grim en die Oergaai se Geheim

of, Die kinders Grim en die Verskiete Ster.

Die Kinders Grim en die Oergaai se Geheim

 JM van Zyl

 Hoofstuk 1

‘n Moeilike Dag

Die arme kinders Grim… Vier wesies met niks en niemand in die wêreld nie behalwe mekaar en die karige goedjies wat hulle in hulle bagasie kon pak. Bagasie wat hulle taxi bestuurder nou net so ongeërg uit die kattebak voor hulle voete in die stof gooi as toe hy dit ‘n paar uur vroeër saam met hulle kom oplaai het.

Bella lyk vies en effens verontwaardig oor die behandeling wat hulle bagasie van die bestuurder ontvang. Tussen haar pogings om die tasse te vang wat die bestuurder sommer so oor sy skouer uit gooi protesteer sy met n paar halwe sinne “… nee wag …dit is… wees asseblief…” , maar tevergeefs, ” … versigtig…”, is al wat sy moedeloos uitkry terwyl die taxi in ‘n haastige stofwolk wegtrek.

Die vier wesies staan woordeloos en kyk. Waarna hulle kyk is onseker want die stofwolk hang nog in die lug soos digte mis. Die grys stofwolkies draai en kolk en begin stadig sak, al nader grond toe waar hulle nog ‘n sekonde of wat probeer dryf en dan ook maar moed opgee en gaan lê. Bella en die ander is baie hartseer. Hierdie is ‘n dag wat hulle al lank gevrees het en hoop op hoop gehoop het dat dit nie sou kom nie, maar dit het, en hier staan hulle nou voor die weeshuis met hulle stowwerige klere en stowweriger bagasie wat boonop nog ‘n klomp ekstra duike en skrape by gekry het.

Bella begin haarself en die ander afstof. “Maak julleself skoon, ons moet darem ordentlik probeer lyk.” Die ander drie gehoorsaam haar en begin om ook die stof af te klap en uit te skud. Sy is maar net dertien jaar oud, amper veertien, maar is al lankal soos ‘n ma vir die ander drie wat almal jonger as sy is. Daar is haar dapper twaalf jaar oue boetie Jan-Karel, hulle noem hom Jan-Bam, wat altyd gereed is om hulle te beskerm en Bella baie help met die tien jaar oue tweeling, Gerrie en Gort.

Arme Gerrie en arme Gort. Stil, skaam, wilde rooi hare, sproete en name wat hulle nie wil hê nie. Gerrie is ‘n meisie met ‘n seun se naam en Gort is ‘n seuntjie met ‘n geluid vir ‘n naam, of dalk is dit ‘n graansoort of iets wat in ou resepte gebruik word. Waarom hulle ouers die name vir hulle gegee het weet niemand nie. Mense het eers gedink Gerrie is kort vir Gertruida en Gort is verkeerd gespel, of miskien ‘n vreemde woord wat perongeluk agteruit gesê was, maar nee… Gerrie was maar net Gerrie en Gort was maar net Gort. Ten minste het Bella en Jan-Karel normale name. Bella is kort vir Annabella, dieselfde naam as Ouma Annie en Jan-Karel is ‘n ander familie naam van ‘n lank oorlede voorouer wat blykbaar uit ‘n vliegtuig in ‘n vulkaan gespring het – hy het eintlik geprobeer om die vulkaan te mis maar noodlot en ‘n gekoekte valskerm het nie saam gespeel nie.

Dieselfde donker noodlot het ook by die kinders Grim kom nes skrop. Van kleins af was die kinders deur die ongeluk gery. Kort na die geboorte van die tweeling het Pa en Ma Grim raaiselagtig verdwyn. ‘n Klomp polisie amptenare het by hulle huis opgedaag en alles omgekrap sodat hulle soek honde kon ruik en hulle vergrootglase kon kyk. Oral het daar ligte geflits en amptenare haastig geskarrel. Bella was maar net vier jaar oud toe dit gebeur het en sy kan nie baie daarvan onthou nie, al wat sy wel onthou was dat sy baie bang was en baie gehuil het totdat Ouma Annie hulle uiteindelik kom haal het.

Arme Ouma Annie. Sy het alleen in ‘n piepklein huisie langs die meer gebly en toe die kinders daar aankom moes hulle maar noodgedwonge indruk waar hulle plek kon kry, Bella en Jan-Bam op die ou bank voor die kaggel en die tweeling in hulle krip langs Ouma Annie se bed. Die hele huisie het bestaan uit net drie vertrekke, ‘n slaapkamer, ‘n woonkamer en ‘n klein badkamertjie. Die kombuisie was sommer so langs die kaggel ingedruk en as Ouma kos gemaak het het die hele huis lekker geruik. Al was die plekkie klein was dit vrolik en vol liefde. Buite was daar oral blomme in die somer en skoenlappers wat oor die groen gras gefladder het en in die koue winter het al die kinders snoesig voor die kaggel gesit en luister na die mooi stories wat Ouma Annie vertel.

Maar Ouma Annie het siek geword. Dit was nie ‘n gewone siek wat medisyne kon beter maak nie. Sy het begin lag en giggel soos ‘n kind en soms maar vreemde dinge aangevang. Sy het partykeer vergeet om haar hare te kam en vertel van die pers katte wat in die nag rondloop, sommiges was pers met pienk strepe en ander pers met swart kolle maar almal was beslis pers. Eers was dit vir die kinders snaaks en hulle het lekker met Ouma saam gespeel maar later het Bella en Jan-Bam besef, Ouma speel nie en sy sou nie meer lank na hulle kon kyk nie.

Bella-hulle kyk om hulle en neem die vreugdelose toneel in. Alles lyk grys en stowwerig, die pad, die paar dooie bossies langs die voetpaadjie, die weeshuis, die krans waarop dit staan en selfs nou ook hulle, so asof hulle nou al klaar deel geword het van al die treurigheid. Sy kyk weer na die weeshuis. Dit lyk eintlik soos drie ou hout huise wat ‘n warrelwind op mekaar gestapel het en daarna maar net met toue, planke en ‘n paar gebuigde spykers aanmekaar gemaak was. Die boonste huise of ‘verdiepings’ beweeg stadig in die wind van die kant tot daai kant totdat ‘n tou te kort word en dan met ‘n dowwe kreun die hele affêre terug ruk om weer in ‘n ander rigting te draai. Heel bo lyk dit asof daar groot vlermuise rond vlieg, in en uit by die vensters terwyl hulle ‘n klomp krysende kraaie weg jaag. Die beweging van die huise laat die grillerige plek lyk asof dit lewe maar oral om dit lyk alles dood.

Die weeshuis maak Bella bang en sy vou haar jas ‘n bietjie stywer toe so asof dit die bang sal uithou, maar dit doen nie.

“Dapper wees, Bella…” praat sy haarself saggies moed in. Sy draai na die ander en sê,

“Kom julle, miskien is dit net vir ‘n rukkie… tot Ouma beter is”

Die ander knik hartseer hulle koppies. Bella kan sien hulle probeer ook hul bes om dapper te bly.

Jan-Bam tel die swaarste tasse op soos hy altyd doen en begin agter Bella en die tweeling loop. Hulle loop met die paadjie op na die weeshuis toe maar al is die paadjie kort, voel dit vir Jan-Bam vreeslik lank, asof elke tree wat hy gee ure lank neem. Die vloerstene in die voetpaadjie is almal gekraak met dooie onkruid en stof in die krake en maak dowwe krap geluide wanneer hulle daarop trap. Dit is die enigste geluid wat hulle hoor, verder is alles is stil behalwe vir die huis se gekreun en die sagte gedruis van die meer se golwe ver onder hulle.

Wat was dit?!

Jan-Bam kyk vinnig op van die verwaarloosde voetpaadjie voor hulle en draai dan om om agter toe te kyk. Hy is seker hy het iets gehoor en kyk na waar die taxi hulle ‘n rukkie tevore afgelaai het. Dit voel vir hom of iets terug kyk. Iets wat hy nie kan sien nie, iets wat êrens in die stof stilletjies vir hulle lê en loer. Die stof het gaan lê maar aan die ander kant van die teer pad lyk dit asof daar iets beweeg, iets tussen die groot grys rotse wat oral om hulle uitsteek, of was dit? Dit is moeilik om te sien met stowwerige brille. Hy vryf sy brille in ‘n sakdoek skoon en kyk weer maar daar is niks nie, net dieselfde grys rotse en ‘n paar dooie bossies wat wil-wil beweeg in die windjie. Die ander kinders lyk nie of hulle iets gehoor het nie en stap gedwee verder met die paadjie. Dalk was dit maar net sy verbeelding. Hier bo in die kranse kan die wind skielik opkom en iets laat warrel of waai.

Dit is hoe mense sê die weeshuis hier gekom het, in ‘n woeste warrelwind. Ouma Annie het hulle altyd vertel van die verwoestende storm wat op die meer en sy donker water losgebars het.

Die donker meer, die Nimmermeer.

“Julle moet oppas vir die water!” het sy hulle altyd gewaarsku.

“Daar is dinge in die meer… ongediertes! Hulle kruip in die nag uit die water op soek na hulle prooi! Bly weg van die donker water af!”

Jan-Bam het altyd gedink Ouma Annie het hulle maar net probeer bang praat sodat hulle nie in die nag in die water sou speel nie, dit is tog gevaarlik om in die donker in die water te speel selfs sonder ongediertes en wolhaarstories. Jou voet kan maklik in die oewerplante se wortels vassit, of iets anders kan gebeur en in die donker sal jy nie maklik kan sien om jouself te bevry nie. Ouma het hulle vertel van al die vreemde dinge wat op die meer gebeur het, van monster visse wat skepe in hulle kake kon kraak tot spookskepe wat in ‘n digte groen mis oor die water sweef. Daar was selfs ook berigte van meerminne en een van die dorpsbewoners het hoog en laag belowe dat een so ‘n meermens hom in die water wou trek en verdrink! Ouma se stories was altyd kleurvol en interessant maar soos hy ouer geword het het Jan-Bam nie die stories meer so honderd persent geglo nie, miskien was hulle maar net stories.

Ouma het vertel hoe daar een nag ‘n verskriklike storm op die meer losgebars het. Die golwe het gedruis en bo die meer het pikswart wolke gekolk. Die wind was so erg dat die dorpsmense bang was hulle huise sou omwaai en deur die nag onrustig wakker gelê het om te luister wat die storm doen. Die hele nag lank het die wind gehuil en stormreën teen die huise geslaan. Met dagbreek het die storm uiteindelik gebreek en het die inwoners uitgekom om die skade te aanskou, oral het takke en blare gelê en allerhande dinge wat omgewaai het. Die strate was vol rommel en oral in die bome het wasgoed en papiere gehang, maar dit was nie al nie…

Daar het ook huise omgewaai en baie mense het seergekry, gelukkig nie te ernstig nie, maar nog steeds…

Die wind het nie net dinge weg gewaai nie maar ook dinge neergesit. Hier en daar was stoele, tafels en ander meubels wat meestal in stukke op die grond gelê het wat geen van die dorpsmense herken het nie. Daar was ook takke van vreemde bome en ander plante wat hulle nog nooit gesien het nie, een van die plante het tande gehad en het die burgemeester probeer byt! Die vreemdste van alles was die huis wat skielik bo-op die kranse langs die dorp verskyn het.

‘n Vreemde rooi plek wat op nadere ondersoek nog net vreemder gelyk het. Dit was drie huise wat mooi op mekaar gebalanseer het en met geel toue aanmekaar gemaak was. Die geel toue het van die huis se dak teen die krans af gelê waar hulle nog aan ‘n paar helderkleurige seile vasgemaak was. Die dorp se polisie konstabel het beslis dat die seile eintlik groot ballonne was en dat hulle die rede was dat die vrolik geverfde huis so veilig kon land. Rondom al die huis se vensters en deure was daar helder blomme geverf en selfs die meubels binne was vrolik versier met mooi lappies en geverfde blommetjies. Verbasend genoeg het die huis met meubels en al nie te veel skade opgedoen nie, selfs die koppies en borde in die kaste was nog almal heel.

Wie se huis dit was of waarvandaan dit gekom het kon die dorpsmense net raai. Miskien was dit ‘n sirkus vanweë die helder kleure… Nee, dit lyk eerder soos die huise aan die oostekant van die meer, het ander weer geraai. Nee-nee, dis beslis van die land aan die anderkant van die Oerberge, kyk dan net al die vreemde plante wat saam hierheen gewaai het, selfs ‘n Mensvreter wat die burgemeester probeer byt het.

So het hulle maar geraai en hoe meer hulle geraai het hoe banger het hulle geword. Waarom het die dinge gebeur? Waar kom al hierdie vreemde goed vandaan? Die dorpsmense het besluit om al die dinge wat die storm gebring het weg te bêre. Al die stukkende meubels en klein dingetjies wat hulle kon optel het hulle in ‘n pakhuis buite die dorp gaan bêre, ingeval die oorspronklike eienaars daarna kom soek het. Die plante het hulle in bottels en flesse gesit, elk met ‘n beskrywing van waar dit gevind was en wat hulle dink die spesie kon wees, selfs die Mensvreter het ‘n plek gekry, ironies genoeg in die burgemeester se kantoor waar hy dit in ‘n mooi voëlhok aangehou het en vir almal wat hom besoek het vertel hoe die plantjie amper sy arm opgevreet het.

Maar die dorpenaars se stormvrees het gebly en lewe in die dorp was nooit weer dieselfde nie. Hulle het altyd bekommerd gekyk na die meer en die wolke, bang dat die twee weer sou saamspan teen hulle. Nadat hulle die dorp weer reggemaak het het hulle besluit om dit ‘n ander naam te gee, ‘n naam wat beter sou pas as die vrolike naam wat dit gehad het. Hulle het die dorp herdoop na Bitterwind, ‘n herinnering aan daardie verskriklike nag en die wind wat hulle lewens so bitter gemaak het.

Die Bitterwinders het nie geweet wat om te maak met die huis op die krans nie. Die Stormhuis, soos hulle dit genoem het, was te groot om te bêre, te stewig om af te breek en te vreemd om mis te kyk. “Los dit uit!”, het sommiges bangerig gesê, “Stoot dit teen die krans af!” het ander weer voorgestel, “Gee dit vir die weeshuis…?”, “Ja dit klink soos ‘n goeie idee, die weeshuis se dak is juis vol gate en die kinders moet beurte maak om die mure regop te hou. Die Stormhuis sal perfek wees vir hulle en daar bo op die kranse sal hulle ook sommer onder ons voete uit wees!” So het die Stormhuis die weeshuis geword en vir geslagte lank skuiling gebied aan die mensies wat die wêreld nie wou hê nie.

Jare na die storm staan daar nou weer mensies op die weeshuis se stoep, bang oor wat vir hulle agter die grou planke wag. Jan-Bam was nie seker oor Ouma se stories nie, nie honderd persent seker nie, maar hier staan hulle nou voor een van haar stories wat waar is. Die weeshuis is nie meer mooi vrolik geverf nie. Van die eens helder kleure is daar nou net in die diepste krakies en hoekies van die hout nog ‘n dowwe oorblyfsel te sien maar jy moet mooi kyk om dit nie te mis nie. Rondom die vensters en die groot dubbeldeur is die blommetjies wat eens so kleurvol was nou net ‘n ligter kleur grys. Die plek lyk asof dit vir jare lank verwaarloos was sonder dat enige iemand daarna gekyk het. Op plekke het die eens sterk hout al begin vrot en op ander plekke staan daar splinters uit waar die hout seergekry het.

Juis so ‘n stukkende plekkie het Gerrie se aandag getrek en sy streel haar vingers saggies oor die merke in die hout. Daar sit ‘n mooi blou dons veertjie in die splinters vas maar sy is te bang om dit uit te haal en stamp liggies teen Gort en beduie na die veertjie. Gort lyk ‘n bietjie onkant gevang, hoe kan Gerrie dan nou wil vere versamel? Hy weet nie mooi wat om te doen nie, netnou kry hulle raas as hy die veertjie vat en Bella het hulle maak belowe om voorbeeldig te wees en hulleself te gedra, maar aan die ander kant… Dit is tog net ‘n veertjie.

Gort stap nader om die veertjie te vat maar voor hy naby kom waai ‘n skielike wind dit in die lug en oor na die ander kant van die stoep waar dit oor die relings waai en dan verdwyn agter ‘n klomp ranke met die grootste dorings wat hy nog ooit gesien het. Die dik doringranke krul rondom al die relings om die stoep en is op sommige plekke so dig dat hy nie deur dit kan sien nie. Oral op die ranke is daar die gruwelikste donker dorings wat in alle rigtings steek en draai. Van die dorings is so lank soos Gort se vingers en hulle lyk vlymskerp, daar sit selfs dooie blare in die dorings vas wat deur die wind in hulle vas gewaai is.

Die dooie blare krap oor die grond soos die skielike windjie hulle waai, van die een kant van die weeshuis oor die droë grond en klippe en dan swiep die wind hulle oor die steil krans wat net ‘n paar tree van die weeshuis af is. Die krans lyk glad nie veilig vir Jan-Bam nie, daar is nie eens relings teen die krans nie of selfs net ‘n teken om mense te waarsku nie, al wat tussen die weeshuis en die afgrond is is die dik doringranke wat soos ‘n digte heining rondom die weeshuis groei. Om die waarheid te sê, die hele weeshuis en alles om dit lyk baie onveilig, so asof ‘n windjie of selfs ‘n harde stamp alles skielik by die krans kan laat aftuimel en te pletter val op die skerp rotse ver onder hulle. Die wind swiep-swiep die blare en stoffies maar so skielik soos die windjie opgekom het is dit ook weer weg. In die plek van die blare se gekrap is daar nou net weer die stille gekreun van die huis en die golwe onder teen die kranse.

Dan hoor Jan-Bam iets, dit klink soos droë blare wat kraak as jy daarop trap, soos ‘n stadige voetstap ‘n entjie agter hulle.

Daar is dit weer!

Die keer het die ander dit ook gehoor en hulle kyk om na die paadjie. Miskien is dit die weeshuis se opsigter of dalk een van die kinders? Weer hoor hulle hoe die blare kraak-kraak soos iemand – of iets – daarop trap.

“Hallo…?” Bella groet-vra terwyl sy rond kyk maar daar is niemand nie.

Kraak … kraak

Dit is darem baie vreemd. Hulle hoor die voetstappe maar hulle kan niemand sien beweeg in die stilte nie.

Kraak, kraak, klink die voetstappe nou al baie nader, amper by die stoep maar nog  steeds kan hulle niemand sien nie.

“Is iemand daar?” Jan-Bam kyk vinnig rondom hulle en vra dan ‘n bietjie harder, “Is iemand daar… hallo?”

Die voetstappe word al harder en klink asof hulle van die rotse se kant af kom waar hy die eerste keer gevoel het of iets vir hulle loer, al nader na die trappe toe maar die doringranke is so dig gevleg deur die relings dat Jan-Bam niks agter dit kan sien nie. Die voetstappe kom al vinniger nader tot dit klink of dit net agter die relings is, agter die doringrank met die vlymskerp dorings, en dan skielik is dit weer stil. Wie of wat ook al deur die blare gestap het is nou net agter die relings en antwoord nie as hulle praat nie, daar is ook geen geluid meer nie behalwe die huis en die golwe.

“Goeie dag… Ons is die Grim-kinders…” Bella leun effens vorentoe en praat onseker na waar die geluide vandaan gekom het.

“Hulle het gesê ons moet hierheen kom en…”

Skielik is daar weer ‘n gekraak van blare wat haar laat skrik en sy tree vinnig terug. Die tweeling skrik ook vir die skielike geskarrel agter die relings en staan stywer teen mekaar. Bella en Jan-Bam skuif ook nader aan die ander sodat die Grim-kinders ‘n klein wees-bondeltjie vorm voor die groot, grys dubbeldeur met hulle bagasie tussen hulle en die geluid agter die relings. Jan-Bam is seker hy hoor iemand asemhaal, dit klink amper soos ‘n uit-asem roggel soos wanneer Ouma Annie se asma gepla het maar iets omtrent dit is anders so asof dit nie ‘n mens is wat so asemhaal nie… Dalk is dit een van die meermonsters waaroor Ouma hulle altyd gewaarsku het maar sy het gesê hulle kruip in die nag uit die meer, uit die donker water, en dit is nou vroeg oggend… Jan-Bam sluk hard. Hy hoop werklik nie dis ‘n meermonster nie, hulle het niks om hulself mee te verdedig nie en hulle kan ook nêrens heen hardloop nie, oral om hulle is dorings.

“Goeie dag, ons is die Grim kinders…” Bella praat nou ‘n bietjie sagter want sy is nie meer seker dat dit die opsigter is nie. ‘n Mens sou mos geantwoord het tensy hulle besig was om die kinders te terg. Die gedagte dat iemand hulle dalk aspris probeer bang maak laat Bella se gemoed sommer gou verander van bang na effens kwaad.

“Dis nie mooi om ons nie te antwoord nie!” sê sy vies maar daar is nog steeds ‘n bietjie onsekerheid in haar stem.

Niemand antwoord nie.

Weer is daar ‘n geskarrel tussen die droë blare en die hees asemhaling wat al hoe nader na die trappe beweeg en dan hoor hulle skielik ‘n harde geluid agter hulle wat hulle almal verskrik laat omspring. Die Grim-kinders kyk almal grootoog na die ou dubbeldeur wat oop swaai en die plomp figuur van ‘n nors vrou wat na hulle afkyk.

“Dis nie nodig om te skree nie!” sê die nors vrou terwyl sy die kinders op en af kyk. Sy lyk asof sy besig was om kos te maak want sy dra ‘n vuilerige voorskoot en oral op haar klere lyk dit asof daar meel en ander stukkies kos vassit.

Bella is onkant gevang en probeer verduidelik dat sy met iemand anders gepraat het, “Jammer ek het nie…”  maar die vrou ignoreer haar en praat self verder.

“So julle is die Grim-kinders?” sy wag nie vir die kinders om te antwoord nie maar praat weer verder terwyl sy haar hande aan ‘n vuil vadoek afvee.

“Hulle het gesê julle sal vanoggend opdaag. Vat julle goed en gaan staan daar voor die kantoor,” sy waai met die vadoek in die rigting van die sygang.

“Juffrou Knor is oppad.” Die vrou gee die kinders ‘n besorgde kyk en lyk asof sy bang word toe sy van die juffrou praat.

Bella het stories gehoor van Juffrou Knor. Van haar skoolmaats het vertel van die weeskinders wat oor naweke by hulle kom kuier en dan allerhande gruwelike stories vertel van die weeshuis se opsigter, van hoe lelik sy is met al die kinders. Bella wil eintlik nie aan al die stories dink nie want sy is nog steeds bekommerd oor die geluide wat hulle by die relings gehoor het. Die ander kinders kyk ook nog skrikkerig na die trappe se kant toe. Die gekraak van die blare en ook die asemhaling is nou weer stil.

“Wat kyk julle so?!” Die nors vrou kyk ook by die deur uit en trek haar neus op asof sy iets ruik, maar raak dan weer ongeduldig.

“Ek het mos gesê vat julle tasse en gaan staan daar voor die kantoor! Moenie hier staan vir die klippe en kyk nie, julle gaan hulle nog baie sien!” sy vee weer haar vingers met die vuil vadoek af en skuif dan die wit kappie op haar kop reg.

“Jammer, juffrou.” maak Bella verskoning voor hulle nog raas kry. Sy help vir Gerrie en Gort in die huis in terwyl hulle almal nog ‘n paar keer terug kyk na die trappe toe. Wie of wat daar wegkruip weet hulle nie, dit kan enige iets wees. Bella besluit dit sal nie help om haar verbeelding te laat weghardloop nie, dit is tien teen een maar net een van die weeshuis se kinders wat te skaam is om uit te kom. Sy help Jan-Bam met die tasse en voel effens verlig om in die weeshuis in te stap, weg van die stoep en die besoeker agter die doring-bedraaide relings, maar haar verligting is van korte duur.

Hoofstuk 2

Die Monster in die Donker

Die binnekant van die weeshuis lyk amper net so verwaarloos soos die buitekant, wel, miskien ‘n bietjie beter, maar dit is ook grys en grillerig met stof wat op alles lê. Dit is donker in die huis met die enigste lig wat by die sygang se vensters instroom. Die kinders gehoorsaam die vrou en stap met hulle bagasie na die klein gang wat langs die deur by die ingangsportaal aansluit. Die sygang is nie lank nie, net ‘n paar tree, en eindig teen ‘n groot grys deur waarop daar ‘n verbasend deftige naambordjie vasgeskroef is. Aan die een kant van die gang staan ‘n pot met droë takke in, Bella vermoed dit was eens op ‘n tyd ‘n lewendige plant maar nou is daar net ‘n paar droë blare wat aan die takkies hang. Langs die dooie plant hang ‘n donker skildery in ‘n swart hout raam teen die muur. Die skildery se kleure is vergeel en gekraak en dit is moeilik om te sien wat uitgebeeld word maar dit lyk amper soos ‘n natuur toneel met berge en bome. Die skildery en die arme potplant is ewe treurig en donker, en vol stof, net soos alles om hulle.

Aan die ander kant van die gang is die groot loodglas vensters wat van mooi gekleurde glas blokkies gemaak is en amper van die plafon tot die vloer strek. Die vensters lyk baie mooi. Van buite-af het hulle nie juis indrukwekkend gelyk nie maar met die lig wat deur hulle skyn lyk hulle soos iets uit ‘n sprokie. Hulle kleurvolle lig skyn oor die vloer en die hout bankie wat voor hulle staan en oral dans die stoffies in die lig strale. Die kinders stap na die bankie toe waar Bella en Gerrie die stof afklap voor hulle gaan sit. Gort sit eerder op hulle tasse, hy laat sy ken mismoedig op sy hande sak en wens hulle kon eerder by Ouma Annie gebly het. Gerrie het egter al klaar vergeet van die gebeure op die stoep en is baie verwonderd deur die loodglas vensters en die stof wat in hulle strale dans. Sy vee sommer nog ‘n plekkie op die bank skoon net om te sien hoe die stoffies lewe kry in die mooi gekleurde lig. Gerrie kon altyd maklik terugtrek in haar eie wêreld in, iets wat die ander kinders, veral Jan-Bam, nie so maklik kan regkry nie.

Jan-Bam wil nie sit nie maar gaan staan eerder voor die skildery en kyk na die voordeur waar die nors vrou lyk asof sy iets aan die bokant van die deur sien en dit dan probeer afwaai met haar vuil vadoek. Na ‘n paar springende probeerslae skud sy haar kop terwyl sy iets mompel en begin dan om die deur toe te maak. Jan-Bam kan iets bo teen die deur sien, dit lyk amper asof dit ‘n blou veertjie is wat die vrou probeer afwaai het maar sy is veels te kort om dit by te kom. Sy is miskien net ‘n koplengte langer as Bella en sal ‘n leer nodig hê om die veertjie raak te slaan. Jan-Bam wonder of hy haar moet sê van die besoeker by die stoep, dalk is dit ‘n meermonster wat nou seker al tot op die stoep geklim het en dan is hulle almal in gevaar. Hy besluit om vir eers Bella te sê van die meermonster en fluister vir haar.

“Daar is iets by die stoep!”

“Ek weet, ons het ook mos gehoor, dis seker maar net een van die weeskinders wat buite speel.” fluister Bella terug terwyl sy probeer om Gerrie se bos rooi lokke netjies vas te bind.

“Dis ‘n meermonster!” fluister Jan-Bam. Gerrie en Gort kyk hom skielik grootoog aan. Hulle het nie gedink dis ‘n meermonster nie!

Bella lyk egter minder verbaas.

“‘n Meermonster?!” sê sy amper hardop en frons vir haar boetie. Jan-Bam se verbeelding hardloop al weer weg met hom en Bella raak effens vies vir haar boetie se ontydige dagdrome.

“Dis nie ‘n meermonster nie!” fluister sy kwaai. Gerrie kyk nog met groot oë na Bella.

“Dis nie ‘n meermonster nie,” paai sy vir Gerrie “Jan-Bam speel net.” Die skrik het arme Gerrie se hare weer orent laat staan en Bella moet van voor af probeer om dit netjies te maak. Nou is sy sommer dubbel vies vir Jan-Bam!

Maar Jan-Bam is nie so seker nie. Daardie asemhaling het darem baie vreemd geklink. Hy moes gaan kyk het, dan sou hulle seker wees, maar hy was te bang. Jan-Bam laat sy kop sak en boor met sy skoen teen die vloer. ‘Ek is altyd te bang’, dink hy, ‘Nog elke keer wat iets gebeur het was ek bang gewees’. Hy sluk hard teen die knop in sy keel. Vandag is vir hom ook ‘n moeilike dag.

Die nors vrou vat ‘n besonderse lang tyd om die deur toe te maak. Daar hak die deur nou weer aan iets vas en die vrou buk af om te kyk na ‘n growwe skraapmerk op die vloer, mompel dan weer iets en swaai die deur oop-en-toe, oop-en-toe, elke keer met ‘n skwiek geluid as die deur op die growwe plekkie skuur, dan beduie sy na die skraap plekkie, mompel iets van vernis en “…hoop sy sien nie…”, maar nog steeds maak sy nie die deur toe nie.

Jan-Bam kan nie langer stil bly nie, die monster is seker al reg voor die deur en almal moet gewaarsku word! Hy skraap sy moed bymekaar om vir die vrou te sê wat hulle op die stoep gehoor het maar net toe hy na haar wil loop, beweeg ‘n groot skaduwee voor die vensters verby. Skielik dans die stoffies nie meer in die mooi ligstrale nie maar word ook grou en donker soos die res van die huis. Die skaduwee beweeg na die deur se kant met die klank van harde voetstappe op die hout stoep. ‘Daar is dit nou!’ dink Jan-Bam, hy moes vroeër gepraat het, vroeër almal gewaarsku het maar nou is dit te laat, die monster is al klaar by die deur!

Jan-Bam was reg, op ‘n manier. Daar was ‘n monster voor die deur, maar dit was nie die een waaraan hy gedink het nie. Hierdie monster het nie skubbe gehad of uit ‘n meer se slymerige water gekruip nie, dit het ook nie net in die nag rondgesluip op soek na prooi nie, maar net soos die monsters in die meer was die een ook koud, en wreed, en kwaad, met ‘n baie, baie donker hart.

Die nors vrou lyk geskok toe sy omdraai en die donker figuur agter haar sien. Sy tree vinnig uit die pad uit en klap haar vuil voorskoot reg.

“G…Goeie more, Juffrou.” sê sy asof sy om verskoning vra.

Arme Grietjie. Sy het altyd daarvan gedroom om ‘n ballet danser te word, of miskien ‘n beroemde sjef. Sy sou die wêreld vol reis en oral sou mense haar tegemoet storm en vra vir haar handtekening en sê hoe lief hulle vir haar is. Almal sou haar liefhê… Arme Grietjie… Op skool het die kinders haar wreed gespot omdat sy kort en mollig was, so erg dat sy later nie meer terug wou gaan nie maar eerder ‘n werk gekry het by ‘n deftige hotel. Daar het dit vir ‘n ruk beter gegaan terwyl sy in die kombuis gehelp en geleer het. Elke dag het sy hard gewerk om die sjef te probeer beïndruk en sy het begin glo dat haar droom om self ‘n sjef te word dalk waar kon word, maar die noodlot het by haar ook kom aanklop… Een oggend vroeg, op pad werk toe, kon sy van ver af al die rook sien opstyg. Iets het in die kombuis aan die brand geslaan en hulle het haar blameer, al was sy seker dat dit nie haar skuld was nie. Die sjef het haar daar voor almal weggejaag, doof vir haar pleidooi van onskuld.

Jong Grietjie het baie gehuil. Al die dinge wat met haar gebeur het en hoe onregverdig dit alles was het haar baie kwaad gemaak. Haar hart het donker geword en koud vir alles om haar, koud vir haar drome van ‘n beter lewe, koud vir die kos wat sy eens so geurig berei het, en veral koud vir irriterende, spottende kinders. Sy was vir maande lank werkloos en toe die posisie van kok by die weeshuis oopgaan het sy dit baie teensinnig aanvaar, sy het eintlik gehoop sy sou dit nie kry nie maar blykbaar was sy die enigste een wat aansoek gedoen het. Daar het sy ook met haar tassie in haar hand voor die draaiende, grys gebou met die stowwerige paadjie gestaan, ook aan die groot grys deur geklop en met ‘n swaar hart ingetree in haar nuwe lewe in.

Grietjie het gou ontdek die ergste ding in die weeshuis is nie die kinders nie, maar wel die opsigter, Juffrou Knor. Sy is nie iemand om mee te speel nie, veral nie as sy in ‘n slegte bui is nie, en sy is amper altyd in ‘n slegte bui. Juffrou Knor hou glad nie van die weeshuis nie en spandeer so min tyd as moontlik daar, gewoonlik net ‘n paar uur per dag wat sy meestal in haar kantoor deurbring. Die meeste van die tyd is dit Grietjie wat na die kinders moet kyk, Grietjie wat hulle kos moet maak en seker maak hulle gaan betyds skool toe, Grietjie wat dit moet doen en Grietjie wat dat moet doen en hoekom is dit nie skoon nie en hoekom dit en hoekom dat?! Grietjie wens sy kan ‘n ander werk kry maar so ver het niemand nog terug laat weet nie, die hele dorp lê vol liegstories oor die brand by die hotel en dit is onwaarskynlik dat iemand haar in diens sal neem. As sy hierdie werk verloor sal sy waarskynlik weer vir ‘n lang tyd werkloos wees. Grietjie besef haar moeilike situasie en probeer om nie na die skaafmerk op die vloer te kyk nie, ingeval dit Juffrou Knor se aandag trek.

Daar klap ‘n lang lenige hand teen die deur en stoot dit heeltemal oop.

Skwiek

Grietjie maak asof die plafon skielik vreeslik interessant is en vryf haar ken aandagtig terwyl sy na die kerfwerk teen die plafon kyk. Die hand hang nog ‘n oomblik in die lug en sak dan stadig af langs die sy van ‘n ewe lenige lyf wat van kop tot tone in deftige swart klere uitgevat is. Alles omtrent Juffrou Knor lyk skerp en hoekig, selfs haar benerige vingers eindig in pikswart naels wat so skerp soos messe geveil is. Om haar rok se nek en polse is swarterige vere, maar hulle is ook so styf en hard dat hulle eerder soos ystervark penne lyk. Haar gesig lyk nog jonk, mens sou selfs kon sê dat sy mooi is maar die mooi wat daar is word oorskadu deur haar perfekte grimering wat skerp en donker op haar gesig getrek is. Selfs haar hare lyk amper soos ‘n groot reghoek op haar kop en nie een haartjie is uit plek nie.

Juffrou Knor kyk af na die krapmerk op die vloer sonder om haar kop te buig en gluur dan met skrefies oë na Grietjie. Grietjie kan Juffrou Knor se oë voel boor teen haar voorkop maar maak nog steeds of sy van niks weet nie. Sy kyk so kamma ongeërg om haar rond terwyl sy op en af wip op haar tone en hoop die juffrou sal aanstap, maar nog steeds voel sy hoe Juffrou Knor haar aangluur. Grietjie voel nou baie ongemaklik. Sy kyk af en begin vroetel met haar voorskoot se toue. Die skraapmerk is reg voor Juffrou Knor, reg voor haar mooi swart skoene en elegante kouse. Grietjie kyk na haar eie stukkende tekkies en lang kouse met verbleikte dik rooi en swart strepe. Sy wil ook graag mooi nuwe skoene hê…

“Dit is hulle!” sê sy skielik hardop en verbaas haarself. Grietjie het eintlik gedink sy dink dit net maar toe sy haarself weer kry het sy dit hardop gesê en beduie met ‘n bewerige vinger na die kinders wat in die sygang wag.

Juffrou Knor se gesig ruk skielik in die kinders se rigting, haar oë nog steeds skrefies. Sy marsjeer doelgerig na hulle toe met harde trap geluide op die ou hout vloer. Die kinders is onbewus van Grietjie se leuen. Hulle dink sy het bedoel dat hulle die nuwe kinders is en staan mooi regop om die juffrou te groet.

“Goeie môre, Mevrou. Ons is…”

“Ek weet wie julle is.” snou Juffrou Knor voor Bella klaar kan praat. Sy druk ‘n dik papier lêer onder haar een arm in en beduie met die ander een na die krap op die vloer. Haar arm is so reguit soos ‘n spies en beweeg nie eens ‘n bietjie nie terwyl sy voor Bella staan en haar aangluur. Bella weet nie wat die juffrou bedoel nie en kyk effens verward na haar vlymskerp naels en dan na Grietjie, dan weer terug na die juffrou. Sy dink die juffrou wil hê hulle moet uitgaan, dalk het hulle iets verkeerd gedoen, maar die nors vrou het tog gesê hulle moet hier wag.

“Sy het gesê ons moet hier wag…” Bella beduie na Grietjie toe. Dit lyk egter of Juffrou Knor net kwater word, haar spies arm begin selfs bewe en Bella kan sien hoe haar gesig rooi onder haar grimering word.

“DIE VLOER!, DIE VLOER! Kyk wat doen julle aan die vloer!” Skree sy kliphard in Bella se gesig.

Bella is heeltemal verward. “Ons het niks aan die vloer gedoen nie!” sê sy en tree terug van die gillende juffrou. Jan-Bam en die ander kinders is net so verward en begin ook protesteer terwyl hulle in ‘n klein bondeltjie saam staan voor Juffrou Knor. Een belangrike ding het Ouma Annie hulle geleer – hulle moet saam staan. Saam teen al die lewe se aanslae, saam teen die noodlot, saam teen die monsters, die boelies, die wrede mense, saam teen alles en almal wat hulle probeer aanval.

“Julle het die vloer gekrap!” snou die juffrou weer. Juffrou Knor sien die kinders staan saam in ‘n bondel voor haar. Net soos al die ander kinders wat sy oor die jare verskreeu het lyk hulle ook bang en hartseer, maar daar is ook iets anders, iets wat hulle minder bang laat lyk. Dit lyk eerder of daar ‘n flikker van dapperheid in hulle oë is, dapperheid wat hulle sterk maak, al skree sy op hulle.

Juffrou Knor lyk asof sy kalmeer, of eerder terugtrek, en rek haar nek sodat die werwels kraak.

“Julle sal dit regmaak.” sê sy met haar tande op mekaar en vis ‘n bos sleutels uit haar sak.

Bella besluit dit is nie die moeite werd om terug te baklei oor die krapmerk nie. Dit is hulle eerste dag hier en hulle het al klaar raas gekry, al is dit vir iets wat hulle nie gedoen het nie. Jan-Bam skep asem om nog iets te sê maar Bella stamp hom teen sy skouer om stil te bly.

Juffrou Knor is besig met die kantoor deur en Bella wil beslis nie haar aandag weer trek vir nog ‘n geskreeuery nie – Juffrou Knor se asem stink verskriklik!

“Wag hier buite tot ek julle roep.” sê die juffrou en slaan die deur so hard agter haar toe dat stof van die mure en selfs die skildery af val en begin ronddans in die venters se mooi lig. Oral om hulle hang die stof in die lug, Bella het nooit gedink ‘n huis kan so stowwerig wees nie. Arme Gerrie se hare lyk al weer of dit ontplof het, sy het haar boeglam geskrik vir die juffrou se geskreeu en nou moet Bella weer probeer om dit in ‘n netjiese bondel vas te maak.

“Gerrie jy moet leer om jou hare self vas te bind…” sê Bella met ‘n haar-rekkie in haar mond terwyl sy Gerrie se rooi lokke bymekaar probeer maak.

“Ek het maar hulle wil nie vir my luister nie.” sê Gerrie. “Hulle hou aan hulle eie pad volg…” Gerrie is alweer betower deur die stoffies in die lig en probeer dat hulle op haar vingers land.

“Sy is baie kwaai.” fluister Gerrie oor haar skouer vir Bella-hulle en wys vinnig na die kantoor deur ingeval die juffrou dit skielik oopmaak.

Gort gaan weer op die tassies sit. Sy gedagtes maal rond oor alles wat vandag met hulle gebeur het, vroeg vanoggend moes hulle vir Ouma Annie totsiens sê terwyl ander mense haar gehelp het om in ‘n ambulans te klim. Sy moet na ‘n tehuis toe gaan want sy kan nie meer na hulle of haarself kyk nie, sy is al baie oud, al in haar negentigs en selfs klein dingetjies soos kos maak is moeilik vir haar. Daar het ‘n man met hulle gepraat en vir hulle gesê hulle moet hierheen kom, net tot Ouma beter is, nie vir altyd nie… Hy het dieselfde dik lêer by hom gehad as wat die kwaai juffrou onder haar arm ingedruk het, elke nou en dan het hy die lêer oopgemaak om na iets te kyk en dan gesê “Ag, ja…”. Dan sug hy. “Dis nou ‘n jammerte…”. Dan skud hy sy kop. Gort het gewens hy moet ophou met dit. Hy het gewens almal moet weggaan en hulle net met vrede los, hy wou so graag hê dat hulle weer voor die kaggel kon sit en na Ouma se stories luister. Nog net een keer…

“Waarvan praat sy?” sê Jan-Bam, “Ons het niks aan die vloer gedoen nie!” Hy kyk na die ingangsportaal waar Grietjie besig is om te vee.

“Dit is sy wat gesê het ons het die vloer gekrap.” sê Jan-Bam en knik in Grietjie se rigting.

“Dit is wat sy bedoel het toe sy gesê het, ‘Dit is hulle’, sy het ons blameer! Ek is seker die vloer was gekrap voor ons hier ingekom het.”

Bella en die ander kinders leun bietjie vorentoe en kyk na die nors vrou. Grietjie vee dat die stof so staan maar so vinnig as wat sy die stof by die deur uitvee, so vinnig waai dit weer terug. Grietjie lyk egter onbewus hiervan en hou aan om die stof op te jaag met haar groot gras besem. Sy voel baie skuldig, hier het sy nou ook aan ander gedoen wat aan haar gedoen was. Grietjie wil nie opkyk nie maar kom tog agter dat die kinders na haar kyk en van haar praat, dit laat haar van voor af ongemaklik voel. Sy besluit om maar eerder op te hou vee en maak haar keel skoon, trek haar voorskoot reg en stap vinnig weg met ‘n paar stof wolkies wat agter haar aantrek.

Die groot voordeur is nog steeds oop…

Elke nou en dan waai ‘n ligte briesie by die deur in en laat die stof weer van voor af in die lug hang. Dit is g’n wonder die plek is so stowwerig nie, dink Bella. Al die stof waai van buite af in elke keer as die groot voordeur oop is. Jan-Bam se aandag is ook weer op die oop deur. Hy wonder of die meermonster nog steeds daar buite is. Bella dink nie dis ‘n monster nie maar hy is nie so seker nie, dit het nie vir hom soos ‘n mens geklink nie maar eerder iets… onnatuurlik. Wat dit ook al was is miskien nog steeds buite, agter die relings en die doringranke, of dalk het dit weggevlug toe die juffrou gekom het… Met al haar geskreeuery was sy skrikwekkend genoeg om selfs monsters twee keer te laat dink. Wie dink sy is sy in elk geval? Ouma het hulle altyd geleer jy skree nie vir ander mense nie, dit is ongemanierd. Sy het hulle geleer om altyd met respek op te tree teenoor ander, maak nie saak hoe kwaad jy dalk mag wees nie. Juffrou Knor het duidelik nie geweet hoe om dit te doen nie.

Agter die geslote deur sit Juffrou Knor en brom en borrel in haar gedagtes. Sy is kwaad, moedeloos kwaad, maar nie oor die krapmerk nie. Sy is kwaad oor haar lot in die lewe, ‘n lot wat sy nie wou hê nie. As al haar planne uitgewerk het soos sy wou dan sou sy nou in ‘n ander land gaan inkopies doen het en heerlik ongeërg in ‘n straat kafee ontspan terwyl sy haar geld note tel. Maar nee… Sy moes mos aandring om na die weeskinders om te sien – wat het haar besiel!? Op die ingewing van die oomblik wou sy die deftige gaste by die burgemeester se inwyding beïndruk en voor almal aangedring om na die arme weeskinders om te sien nadat hulle opsigter ontydig dood is. Die ander gaste was toe ook beïndruk, niemand wou eintlik na die wesies kyk nie en hulle was almal baie verlig toe Juffrou Knor aanbied om dit te doen. Hulle applous en komplimente was wonderlik, maar van korte duur en nou, jare later, sit sy nog steeds opgeskeep met die klomp nuttelose kinders. Hulle is ‘n klomp vlieë in haar salf en sy moet ‘n oplossing kry…

Juffrou Knor is nie kwaad oor die krapmerk nie, wel nie meer kwaad as wat sy is oor alles nie. Om die waarheid te sê sy gee glad nie om hoeveel krappe en skaafmerke die vieslike plek het nie, dit is vir haar net ‘n handige rede om op iemand te skree en ‘n bietjie stoom af te blaas. Om die waarheid te sê sy sal glad nie omgee as die hele weeshuis met kinders en al by die rotse aftuimel en in die donker water ver onder verdwyn nie. Om die waarheid te sê, sy sal glad nie omgee nie…

Iets flikker soos vonke agter die juffrou se donker oë, amper soos wanneer yster teen yster slyp. Sy sien in haar gedagtes hoe die weeshuis teen die kranse aftuimel met al die skreeuende kinders binne in. Dit kan maklik gebeur, die hout is oud en vrot, die kranse is onstabiel en die wind onvoorspelbaar. Al wat die plek nog al die jare aanmekaar hou en keer dat dit teen die afgrond afseil is daardie klomp vieslike ranke. Dink net, as die doringranke weg is, is al wat kort ‘n los tou of twee en ‘n sterk wind, en weg is al haar probleme sonder enige agterdog. Weg in die meer se diep, donker water waar niemand sal omgee nie. Sy sal natuurlik hartgebroke vir die koerante vertel hoe tragies dit alles is en hoe lief sy die arme kindertjies gehad het en hoe sy geprobeer het om hulle te red, maar o wee, die wind was te sterk, die krans te onstabiel en die hout te vrot. Dan sal almal haar troos oor haar verlies – ‘Sy het hulle tog so lief gehad!’ –  en prys vir al haar opoffering om oor die jare na die kindertjies te kyk, hulle sal dalk selfs iets belangrik na haar vernoem – dis hoogtyd dat die hoofstraat ‘n ander naam kry…

‘n Glimlag krul om haar mond.

Oor ‘n paar weke begin die storm seisoen, net in tyd vir haar plan, maar dan sal sy moet spring om van die ranke ontslae te raak. Sy kan dit aan die brand steek, nee – ‘n stootskraper, nee – gif! Ja, gif sal perfek werk, dit kan in al die klein plekkies bykom om seker te maak al die ranke vrek en boonop kan sy sê dat sy maar net tuin maak. Groente tuin! Juffrou Knor voel so bly dat sy amper giggel. Dit is die perfekte plan! Sy trek ‘n hefboom onder haar lessenaar wat ‘n groot kluis laat toeslaan en dan ‘n klomp ratte en grendels teen haar deur laat terugtrek.

“Kom in kinders.” sê sy amper vriendelik.

Bella maak die deur stadig oop en loer in voordat sy intree, dan staan sy eenkant en wag vir Gerrie, Gort en Jan-Bam om ook in te stap. Daar is deftige stoele voor die juffrou se lessenaar maar Bella wil nie gaan sit nie, netnou gil die juffrou weer op haar. Jan-Bam is stadig om in te kom, iets by die oop voordeur trek sy aandag.

“Maak toe die deur.” snou Juffrou Knor, weer terug na haar normale, suur self.

Jan-Bam stoot die kantoor deur stadig toe terwyl hy nog steeds probeer uitkyk. Hy is seker hy sien iets beweeg by die voordeur, ‘n skaduwee… Die kantoor deur klap toe voor hy iets verder kan sien.

Juffrou Knor blaai deur hulle lêer en trek ‘n suur gesig as sy hulle foto’s sien. Bella-hulle staan maar gedwee en wag terwyl die juffrou nog verder blaai. Elke keer vat sy die bladsy met haar vingerpunte so asof sy dink die lêer is vuil, draai die bladsy stadig om en kyk dan na die kinders met skrefies oë terwyl sy haar neus optrek. Dit is baie duidelik Juffrou Knor hou niks van die Grim-kinders nie.

“Ons het nie die vloer gekrap nie.” sê Gerrie perongeluk hardop.

Juffrou Knor hou op blaai en gluur haar aan. Dit lyk omtrent asof die juffrou ‘n hele suurlemoen geëet het. Gewoonlik sou sy nou weer op die kinders geskreeu het, veral kinders wat so parmantig is soos die klomp, maar vandag voel sy anders. Waarom skree en raas en haarself ontstel as dit nie nodig is nie? Haar probleme is tog een van die dae opgelos, al wat sy hoef te doen is om ‘n klomp gif te kry en dit oor die ranke te spuit, of miskien eerder iemand anders te kry om dit oor die ranke te spuit – sy wil tog nie self aan ‘n klomp giftige chemikalieë blootgestel word nie, netnou los dit haar hare op, of vreet haar vingers af, of iets erger! Nee, sy sal iemand anders moet kry om die vuil werk te doen, iemand onnosel, wat nie vrae sal vra nie, iemand soos die patetiese bondeltjie wat voor haar lessenaar staan.

Juffrou Knor slaan die lêer toe. “Die vloer gekrap..?” Vir ‘n oomblik het sy vergeet van die krapmerk voor die deur.

“Ja, julle sal moet vergoed daarvoor.” sê sy met ‘n nuwe glinster in haar oë. “En ek het net die manier waarop julle dit kan doen…”  Juffrou Knor staan skielik op en marsjeer deur toe.

“Volg my!”  beveel sy en pluk die deur oop. Sy stap vinnig in reguit lyne af met die gang en om die hoek en wag nie eens vir die kinders om hulle tassies te kry nie. “Tjop-tjop!” skree sy oor haar skouer terwyl Bella-hulle skarrel om hulle bagasie te gryp. Oral waar die juffrou getrap het sit skoon voetspore in die stof, af met die sygang dan draai haar spoor soos ‘n reghoek, af in die donker hoof gang. Teen die tyd wat hulle hulle bagasie optel is die juffrou al ver voor hulle en skree weer vir hulle om gou te maak.

Jan-Bam loop voor met sy en Gort se tasse en volg die juffrou se spore in die stof, maar toe hy by die voordeur kom stol sy bloed. Daar in die stof lê ‘n ander stel spore, groot spore met net drie tone wat ‘n pad loop van die oop deur en dan af in die donker gang waarin die juffrou verdwyn het.

“Kyk daar!” sê hy grootoog vir Bella. “Kyk na die spore in die stof! Daar was iets by die stoep en nou het dit in die huis ingekom!”

Bella en die ander kinders gaan staan stil en kyk na die vreemde spore voor hulle. Sy het werklik nie gedink dit was ‘n meermonster nie maar hier is daar nou bewyse reg voor haar oë. Jan-Bam was reg! Maar hoe sou ‘n meermonster hier bo in die kranse kom, dit is baie hoog om uit te klim en as sy Ouma se stories reg onthou kan meermonsters nie lank buite die water oorleef nie.

“Dis ‘n meermonster!” sê Jan-Bam. Hulle is almal bang om verder te stap.

“Dit kan nie ‘n meermonster wees nie, hulle kan nie hier bo in die kranse oorleef nie.” sê Gort.

“Ek dink dit is iets anders.” Gort was altyd baie geïnteresseerd in die monster stories wat Ouma vertel het en het gereeld biblioteek boeke gelees oor al die diere en ongediertes wat rondom Nimmermeer leef. “Dit lyk eerder soos krokodil spore, of miskien ‘n oermonster soos ‘n oergaai.”

“‘n Krokodil!? Hier bo in die kranse?” sê Jan-Bam en lyk ‘n bietjie skepties.

“Wat is ‘n oergaai?” vra Gerrie.

“‘n Oergaai is ‘n oertydse…”

“MAAK GOU!” bulder Juffrou Knor voordat Gort klaar kan praat. “Ek het nie heeldag tyd nie!”

Die kinders voel ys rillings by hulle rûe af gaan. Asof een ding nie erg genoeg was nie! Aan die een kant is daar die kwaai juffrou wat hulle roep en aan die ander kant ‘n oermonster wat moontlik in die donker gang vir hulle lê en wag.

“Kom ons hardloop weg!” sê Gerrie en trek Bella se hand om by die deur uit te hardloop maar Bella bly staan.

“Ons weet nie dit is ‘n krokodil of ‘n oer… ‘n oer….” redeneer Bella maar kan nie die monster se naam onthou nie.

“‘n Oergaai.” help Gort haar.

“‘n Oergaai nie, vir al wat ons weet is dit ‘n skadelose troeteldier of iemand met snaakse skoene…” Bella is onseker van haar eie argument en probeer haarself oorreed dat dit niks ernstig is nie en al wat sy hoef te doen is om vorentoe te tree. Sy gee versigtig ‘n tree oor die stowwerige vloer na die hoof gang toe. Die gang is donker maar sy kan sien dit eindig in ‘n groterige vertrek wat dof belig is. Sy gee nog ‘n versigtige tree en knik dan na die ander om haar te volg maar hulle bly almal grootoog stilstaan. Jan-Bam sluk hard aan die knop in sy keel. As sy sussie dapper genoeg is om die monster aan te durf dan sal hy ook… Hy trek diep asem in asof hy regmaak om te swem en gee ook ‘n tree vorentoe. Die monster spore loop af in die gang en verdwyn in die donker waar die stof opgeraak het. Hy gee nog ‘n paar tree vorentoe sodat hy voor Bella loop. As die monster uitspring om iemand te gryp sal hy dit met die tasse gooi om hulle kans te gee om weg te hardloop.

Jan-Bam is nou in die donker van die gang. Hy tree nog stadig vorentoe terwyl sy oë gewoond raak aan die donker. In die dowwe lig kan hy nog spore uitmaak waar die stowwerige voete oor die skoon vloer geloop het. Die spore draai na regs en verdwyn in ‘n ander sygangetjie wat hy nie vroeër raakgesien het nie. Allerhande geure dryf uit die gangetjie en dit klink soos potte en lepels en ander kosmaak dinge. Jan-Bam draai na die ander wat ‘n paar tree agter hom is en probeer wys na die sygangetjie maar sukkel ‘n bietjie met sy hande wat vol tasse is. Die ander kinders kom nader om ook te kyk waarna hy probeer wys toe daar skielik ‘n plomp figuur in die donker sygang verskyn.

Die kinders skrik hulle boeglam en skree kliphard terwyl hulle na mekaar gryp. Die plomp figuur begin ook gil en dit vat ‘n sekonde of twee voordat hulle almal bedaar en besef hulle het verniet geskree.

“Jammer, ons het gedink…” Bella wil nie eintlik vir die nors vrou sê hulle het gedink sy is ‘n oerkrokodil of ‘n papegaai of ‘n ding nie en besluit om maar eerder niks verder te sê nie.

“Jammer, ek het gedink…” Grietjie wil nie eintlik vir die kinders sê sy het gedink dis Juffrou Knor nie, daardie vrou gee haar nagmerries. Sy het juis die laaste paar aande gedroom die juffrou jaag hulle almal met ‘n groot mes rond.

“Is dit vir julle wat die Juffrou roep?” vra Grietjie verbaas en nog ‘n bietjie uitasem van die skrik. Sy het gedink die juffrou skree vir haar om gou te maak met die kinders se kos, sy het nie besef dat Juffrou Knor die Grim-kinders roep nie. Dit is baie ongewoon vir die juffrou om die kinders self na hulle kamers te wys, veral na wat laas gebeur het, gewoonlik skree sy net vir Grietjie om dit te doen.

“Sy het gesê ons moet haar volg, maar daar was… um… ons het…” Bella wil regtig nie vir die nors vrou sê van die monster se voetspore nie, hoe meer sy daaraan dink hoe meer besef sy dat dit onrealisties, selfs belaglik is dat hier monsters in die huis rondloop, dit was tien teen een maar net iemand se idee van ‘n grap. Nie ‘n baie snaakse grap nie, dink sy effens vies, en sy sal beslis ‘n ding of twee te sê hê vir wie ook al verantwoordelik is.

“Julle het wat?” Grietjie trek weer haar neus op en kyk rond om iets te probeer sien-ruik maar al wat sy in die donker gang bespeur is die kinders en ‘n klomp voetspore wat hulle deur die stof agter hulle gesleep het.

“Kyk hoe vuil maak julle!” sê sy toe sy die klomp stof sien. Hoe sy dit in die eerste plek kon miskyk…

“Ons het nie die…” sug Bella, sy is nie eens lus om die sin klaar te maak nie. Hier word hulle nou al weer geblameer vir iets wat hulle nie gedoen het nie. Grietjie gryp haar besem en begin om vinnig die stof in ‘n groot wolk op te vee, watter monsterspore daar was is nou alles weg. Selfs al sou sy vir die nors vrou van die spore sê, en selfs al sou sy hulle glo – wat onwaarskynlik is – is dit nou te laat, al die bewyse dwarrel tans by die voor deur uit en waai dan weer ‘n paar sekondes later terug om deel te word van die stofwolk wat om Grietjie wentel.

Jan-Bam glo nog steeds dit is ‘n monster, al sê sy sussie dit is nie. Iets in hom – ‘n gevoel – maak hom seker dat dit nie ‘n mens of ‘n normale dier is nie. Dit is moeilik vir hom om dit te beskryf, maar hy voel iets vreemd, hy voel dit is ‘n monster. Hy tel sy tas op en hou dit styf teen sy bors, dit is nogal ongemaklik om dit so te dra maar op die manier bied dit die meeste beskerming en, omdat hy dit met altwee hande vashou, kan hy dit makliker gooi sodat hulle tyd kan hê om weg te hardloop. Die dowwe spore het in die sygangetjie se rigting verdwyn en die monster wat hulle gemaak het is waarskynlik nog steeds daar, maar hoekom het die nors vrou dit dan nie gesien nie? As sy in die kombuis was, soos Jan-Bam vermoed, dan moes sy iets gesien het. Sy moes gesien het toe die monster daar in loop, die voetspore was groter as hulle s’n wat beteken dit is waarskynlik ‘n groot ongedierte wat deur die stof geloop het. Groot en gevaarlik, en moeilik om raak te sien.

Op die stoep, toe hulle die eerste keer die monster gehoor het, kon hy ook niks sien nie, al wat hulle van die monster kon uitmaak was die gorrelrige asemhaling en die blare se gekraak. Maar hoe kan so groot monster so maklik wegkruip? So maklik reg voor jou staan dat jy nog steeds niks van dit kan sien nie? Of miskien het die nors vrou nie die monster gesien nie omdat dit nie regtig in die sygangetjie afgedraai het nie, maar eerder met die hoof gang aangehou het, wat beteken dat dit nog steeds voor hulle in die pad kan lê en wag. Jan-Bam sluk weer hard en probeer sy moed bymekaar skraap.

“Kom julle.” sê Bella en help Gerrie en Gort om hulle tassies op te tel. “Laat ons loop voor ons weer raas kry, en niks meer van monsters nie!” Fluister sy vir Gort en Jan-Bam. “Ons is al klaar in genoeg moeilikheid!”

“En ons het niks eers gedoen nie!” se Gerrie met ‘n frons.

“Dit is ‘n monster!” fluister Jan-Bam weer terug na Bella maar sy ignoreer hom.

Die kinders stap verder in die donker gang af met Jan-Bam wat aandring om voor te loop. Dit word ‘n bietjie ligter waar die gang by die groot vertrek aansluit maar met die dik gordyne wat styf toegetrek is skyn daar net plek-plek ‘n lig straaltjie deur. Dit lyk asof die vertrek miskien ‘n eetsaal of ‘n tipe stoorkamer is want daar staan ‘n paar groot hout tafels met klomp stoele en ander meubels, maar in die donker is dit moeilik om uit te maak. Hoekom is die vertrek in elk geval so donker? Buite is dit al vroeg oggend met vrolike, helder sonskyn maar jy sou dit nie sê as jy hier staan nie. Oral staan meubelstukke wat donker silhoeëtte maak teen die gordyne se dowwe lig. In die middel van die vertrek lyk dit of daar ‘n stel spiraaltrappe is wat na die boonste verdieping lei en die kinders probeer in die dowwe lig soontoe loop, verby al die donker silhoeëtte, sonder om iets te stamp, en hopelik sonder dat iets uitspring om hulle te gryp. Tussen hulle en die trappe staan ‘n paar groot hout kaste wat lyk asof hulle lank terug gemaak is met hulle mooi krullerige kerfwerk en donker, amper swart hout. Nie dat hulle seker kon wees die hout is werklik swart nie want in die donker lyk alles maar swart, veral die skadurige figuur wat by die voet van die trappe staan. In die donker sukkel Jan-Bam om mooi te sien maar kan net genoeg uitmaak van die monster se skerp naels, die vreeswekkende kloue en ‘n glinster in die gedrog se kwaai oë.

Dit is die monster! Sonder om twee keer te dink gooi hy sy tas so hard as wat hy kan na die monster toe en skree vir Bella-hulle, “Hardloop!, Hardloop!”, maar Bella en die ander staan geskok stil en kyk na die toneel voor hulle.

Arme Jan-Bam. Met sy oë wat nie so goed is nie sukkel hy bietjie om dinge in die donker te sien. Dit was ‘n monster wat hy met sy tas gegooi het, maar nie die monster waaraan hy gedink het nie.

Juffrou Knor lê en kreun op die trappe. Jan-Bam se tas het haar presies teen haar kop getref, nogal ‘n verbasend harde en akkurate gooi slag vir Jan-Bam wat gewoonlik nie die beste is met bal-gooi en ander atletiek dinge nie. Dit was moontlik die ekstra adrenalien, en natuurlik ook die vrees om lewendig opgevreet te word deur ‘n brandsiek papegaai-monster wat hom die ekstra krag gegee het. Krag wat hy nou wens hy eerder nie gehad het nie.

“O, genade!” Bella kyk oopmond na die juffrou wat half bewusteloos op die trappe lê en kreun.

“Wat het jy nou aangevang, Jan-Bam!?” Bella weet nie wat om te doen nie.

“Ek is jammer! Ek het gedink dis die monster… Sy het soos een gelyk… Wel sy is vol vere… ” Jan-Bam buk oor die juffrou om sy tas op te tel.

“Dink jy sy lyk soos ‘n monster papegaai!?” vra Bella.

“Oergaai.” help Gort hulle reg, “Ek dink sy lyk eerder soos ‘n aasvoël, ‘n skrikwekkende aasvoël. Hoekom het jy haar met jou tas gegooi!?”

“Ek het regtig gedink sy is ‘n monster! Ek is jammer!” Jan-Bam is bitter spyt oor wat hy gedoen het, hy weet ook hy is in baie diep moeilikheid. Hy wil die juffrou op help maar wil ook nie regtig aan haar vat nie – dis te grillerig!

“Kom ons hardloop weg!” stel Gerrie voor en die keer wonder Bella of hulle nie maar Gerrie se voorstel moet volg nie. Hulle kan êrens in die bosse in ‘n boomhuis bly, of dalk in ‘n grot langs die meer vir die polisie wegkruip. Hulle kan van die land lewe en aarbeie aanplant, sy wou nog altyd aarbeie plant – hulle lyk so vrolik.

Nee – hulle het ‘n verantwoordelikheid. Ouma Annie het hulle beter groot gemaak as om van jou probleme weg te hardloop. Maak nie saak wat gebeur nie, hulle sal saam staan en saam die verantwoordelike, regte ding doen, al is dit moeilik.

“Nee, Gerrie. Ons kan nie weg hardloop nie.” Bella vat die juffrou se hand en probeer haar bybring.

“Juffrou… Juffrou…” roep Bella saggies tussen die juffrou se kreune.

Juffrou Knor maak haar oë skrefies oop. Hulle lyk ‘n bietjie skeel, asof sy na haar neus kyk. Dit lyk darem nie asof sy te ernstig beseer is nie, net die grimering oor haar neus en voorkop is ‘n bietjie gesmeer.

“Wat het gebeur?” vra sy haarself en vryf haar kop, maar dit vat ‘n sekonde of twee vir haar gedagtes om heeltemal vorm te kry, dan kyk sy na Jan-Bam en soos blits is die vonke terug in haar oë.

“JY!” bulder sy. “JOU ONBESKOFTE, MISLIKE KLEIN…”. Haar hande trek soos valk kloue om Jan-Bam se keel te gryp maar hy trap vinnig terug en ontwyk die juffrou se skerp naels. Die ander kinders tree ook vinnig uit Juffrou Knor se reik, dit maak haar nog meer kwaad en sy begin op haar tande kners en bewe van woede asof sy yskoud kry. In die donker lyk haar oë asof daar vlamme agter hulle gloei. Die juffrou begin gil en spring vinnig penregop om die kinders by te kom, maar haar gil eindig skielik met ‘n ander geluid wat klink soos iets wat teen metaal tref. Die gong-geluid weerklink nog ‘n rukkie deur die groot vertrek soos die yster spiraaltrap vibreer van die juffrou se kop wat dit getref het, dan trek Juffrou Knor se oë weer skeel asof sy na haar neus kyk en sy val agteroor om van voor af half bewusteloos op die trappe te lê en kreun.

“Die keer was dit nie ek nie!” sê Jan-Bam terwyl die ander kinders oopmond en grootoog na die juffrou kyk. Sy lê en kreun op die trappe, onbewus van wat om haar aangaan, en so elke nou en dan mompel sy iets en kap-kap met haar kloue deur die lug asof sy iets wil vang. Gort is reg, sy lyk nogal soos ‘n aasvoël, en met haar gesmeerde grimering en hare wat woes gestamp het teen die trappe lyk sy eerder soos ‘n aasvoël wat in ‘n windpomp vas gevlieg het.

Ai, ai, Juffrou Knor. Die nare dinge wat in haar droë hart uitbroei sal meeste mense se hare regop laat staan, veral klein Gerrie s’n. In die juffrou se hart is daar niks groen nie, daar is niks liefdevol nie, niks wat groei en mooi vrugte dra nie. Al wat in haar hart plek kry om te groei is onkruid, stekerige doringbosse vol gif en slegtigheid. Een so ‘n onkruid , ‘n besonderse gifbos net so erg soos die liewe juffrou, is niemand anders nie as die burgemeester van Bitterwind, ‘n ene Meneer Krom. Dit is juis vir hom wat sy wou beïndruk toe sy aangebied het om na die weeskinders om te sien, sy het gedink hy is ‘n normale mens wat sy kon manipuleer en het eers later geleer dat die meneer meer as net haar liefde vir voorgee, geld, en blou slakke met suur olywe deel. Al sal sy dit nooit erken nie, Meneer Krom het met sy agterbakse transaksies en kreatiewe boekhou metodes iets reggekry wat nog niemand anders kon nie, hy het in Juffrou Knor se droë hart ‘n plekkie gekry om te groei – ‘n klein plekkie, niks om oor huis toe te skryf nie, maar ‘n plekkie nog steeds.

Meneer Krom sal beslis beïndruk wees wanneer sy hom van haar plan vertel. So maklik en eenvoudig om van die spul weeskinders ontslae te raak, hoekom het sy nie vroeër daaraan gedink nie? Sy het al voorheen probeer om die weeshuis te skuif na ‘n ander dorp toe, maar niemand wou die kinders hê nie. Hulle was almal vol stories, nee dis hier te kort en dis daar te lank, en die Bitterwinders doen tog sulke goeie werk om na die kinders om te sien en, “mompel, mompel…” mompel die juffrou nog steeds half bewusteloos. In haar gedagtes vertel sy die goeie nuus vir Meneer Krom, van die gif spuit en die die dooie ranke, “… hulle almal teen die kranse af… mompel,mompel.” Meneer Krom glimlag van oor tot oor wanneer hy haar plan hoor en dit laat Juffrou Knor regtig half bewusteloos giggel terwyl sy nog steeds met haar kloue na iets in die lug klap. ” … kreun… hulle almal vrek maak … mompel,mompel.” Juffrou Knor glimlag en giggel weer half bewusteloos op die trappe.

Die kinders staan geskok en kyk na haar.

“Waarvan praat sy?” vra Jan-Bam.

“… al die vieslike kinders versuip in die meer… mompel,mompel.” giggel Juffrou Knor.

“Dit klink of sy al ons vieslike kinders in die meer wil versuip.” sê Gerrie, ingeval Jan-Bam nie mooi kon hoor nie.

“Dit klink soos… ek is seker daar is ‘n redelike verduideliking hiervoor.” sê Bella fronsend. Sy het nog nooit iemand teëgekom wat ‘n misdaad beplan nie, wat nog van moord! Die stamp het seker maar net die juffrou se kop deurmekaar gemaak, niemand sou tog werklik iemand anders wou versuip nie! Is daar rêrig sulke bose mense?

Die arme kinders Grim. Hulle was nog altyd gewoond aan goeie, liefdevolle mense soos Ouma Annie en die mense van hulle kerk en skool. Hulle het nooit eers gedink dat daar ook miskien wrede mense kon wees nie, hulle het altyd gedink net monsters is wreed. Juffrou Knor lê nog half bewusteloos op die trappe maar die keer wil Bella nie help nie. Sy en die ander kinders staan eerder terug van die juffrou af, ingeval sy weer na hulle wil gryp.

“Sal sy regtig so iets doen?” vra Gort maar hy kry nie antwoord nie. Die ander kinders wonder ook, net soos hy.

Juffrou Knor begin meer beweeg en kreun, dit lyk asof sy bykom.

Die kinders tree nog ‘n entjie terug, net om veilig te wees. Wanneer sy bykom sal hulle almal waarskynlik boet. Bella onthou die stories wat die kinders vertel het oor die juffrou, sy het altyd gedink dit is maar net stories. Hulle het vertel dat die juffrou hulle kos weggooi en hulle met haar skerp naels krap, krap tot die bloed loop. Hulle het selfs gesê dat sy stout kinders in kaste toe gesluit het, soms vir dae aan mekaar! Bella het nooit die stories geglo nie, nie so honderd persent nie, maar nou is sy nie meer so seker nie.

Die kinders hoor ‘n geluid agter hulle wat hulle skielik laat omdraai. Agter hulle, in die donker, staan ‘n groot, plomp silhoeët en hyg uitasem. Die kinders skrik hulle boeglam en skree kliphard terwyl hulle mekaar vashou. Die silhoeët begin ook skree en weer vat dit ‘n sekonde of twee vir hulle om te bedaar.

“Wat het gebeur!” wil die silhoeët weet, “Het sy alweer by die trappe afgeval!?” antwoord die nors vrou self voor die kinders kan verduidelik. “O, genade! Sy gaan so kwaad wees!”

Grietjie hardloop na Juffrou Knor toe en probeer haar ophelp maar sy is ook maar skrikkerig om aan die juffrou te vat en besluit om eerder met haar vuil vadoek oor die juffrou te waai.

“Juffrou! Juffrou!” roep Grietjie terwyl sy waai asof sy ‘n vuur aanblaas.

Juffrou Knor maak haar oë oop en kreun.

” …mompel… trappe. Eina… mompel,mompel.” haar oë kyk nog steeds skeel na haar neus toe.

“O, aarde! Dit is net soos laas keer.” sê Grietjie en waai vinniger. Elke nou en dan tref haar vadoek die juffrou se neus met ‘n klap geluid, maar Grietjie is onbewus hiervan en hou aan waai.

“Laas keer?” vra Bella.

“Ja,” sê Grietjie skuldig, “laas het sy ook ‘n bietjie by die trappe afgeval…”

Meer as net ‘n bietjie Grietjie! Haar voet het op die heel boonste trap gegly en sy het die hele spiraaltrap afgerol, al drie verdiepings van al drie huise, met ‘n gegil en ‘n gegong vir ‘n vale. Die juffrou was na die val so deurmekaar sy het vir twee dae lank gedink sy is in ‘n vistenk!

“Dit was nie my skuld nie..” verdedig Grietjie. Eintlik was dit, Grietjie het te veel politoer op die trappe gesmeer en vergeet om dit weg te poleer. Die boonste verdiepings se trappe is nog steeds seep glad. Dit is hoekom Juffrou Knor nie meer met die trappe wil opklim nie en eerder vir Grietjie skree om na die kinders te kyk. Juffrou Knor mompel weer en sit dan regop op die trappe. Sy vryf haar kop en kyk verward om haar rond.

“Waar is ek, wat het gebeur?” vra sy vir Grietjie.

“Juffrou was weer op die trappe, ek dink juffrou het weer gegly.”

“Gegly? Hoekom is my kop so seer?” vra sy, nog ‘n bietjie deurmekaar.

Grietjie help die juffrou op maar Juffrou Knor is baie wankelrig, asof sy een van daai opblaas mannetjies is wat met hulle swaaiende arms dinge langs die pad adverteer.

“Wat het gebeur?” vra sy weer en swaai haar arms rond. Grietjie trek die juffrou se arm oor haar skouer vas en probeer haar help loop.

“Kom ons gaan maak ‘n bietjie tee, hoe klink dit juffrou?” Juffrou Knor wankel nog heen en weer en gee dan ‘n paar groot tree asof sy iets wil skop.

“Tee klink lekker!” sê sy vrolik en glimlag vir die kinders.

“Haai, kyk die mooi kinders!” sy waai vrolik totsiens vir Bella-hulle terwyl Grietjie haar weg help.

Juffrou Knor het haar kop hard gestamp.

“Gaan op met die trappe en kies vir julle ‘n kamer, die boonste verdiepings is almal leeg.” sê Grietjie oor haar skouer, “Gaan solank, ek sal netnou na julle toe kom en julle help.” Met dit verdwyn sy en die vrolike Juffrou Knor na die kombuis toe.

“Wel,” sê Bella, ” dan gaan ons maar na die boonste verdieping.” Die kinders tel hulle tassies op en begin onseker die trappe uitklim.

 

Die Kinders Grim en die Verskiete Ster

 Hoofstuk 1

Die Gevaarlike Passasier

Die ou bus jaag oor die stukkende teerpad en waai ‘n klomp stof en droë blare op wat agter dit aan tol. Die bestuurder sweet en kyk angstig in die syspieëltjie na die sonsondergang agter hom. Hy is laat, baie laat, en nou is die nag amper op hulle…

Daar is baie stories oor wat in die donker berge gebeur. Stories van dinge in die maanlig – monsters in die skaduwees… Hy ken al die stories goed, hy weet ook baie van hulle is waar. Hy weet die berge in die nag is niks om mee te speel nie.

Die bestuurder draai weer angstig om na die son wat sak agter die bus, die lig word al minder, en druk sy voet hard neer op die petrol pedaal. Die ou rammelkas spring vorentoe met ‘n geruk. ‘n Paar los stoele skuif skielik agtertoe waar hulle afpyl op kinders wat rustig gesels op ‘n bankie. Mens sou dink dat die kinders sou skrik, maar hulle lig maar net hulle bene uit die pad van die skuiwende meubels en hou aan gesels. Hulle is al gewoond aan stoele, banke en ander meubels wat rondskuif op die jagende bus, en selfs die bestuurder se roekeloosheid is niks nuut vir hulle nie.

Die rammelkas bus ry verby die mooi plasies en landerye, op teen die kranse van die Drakeberge wat goud gekleur word deur die son se laaste strale. Oral skud en raas dinge aan die ou voertuig en lyk asof hulle enige oomblik kan afbreek, maar die kinders sit rustig en gesels met mekaar of staar by die vensters uit na die mooi landskap en sonsondergang.

Hulle is al gewoond aan die bus se gerammel en al die senutergende geluide wat uit die enjin uit kom, selfs die wolke rook wat agter die bus aantrek is vir hulle net so gewoon soos die landskap waar hulle deur ry. Hulle almal sit stil, uitgeput deur die warm dag en die middag se lang gewag vir die bus wat al weer laat was.

In die middel van die bus sit Bella saam met haar sussie en boeties op ‘n verflenterde groen rusbank. Die ou bank staan langs ‘n groot hout venster, en is met toue aan die vloer vasgemaak sodat dit nie te veel rondskuif nie. Net soos die rusbank het die ou venster ook eers aan ‘n huis behoort. Dit is wit geverf, wat al in plekke begin afdop het, en is selfs geraam deur ‘n paar verbleikte gordyntjies en ‘n klein potplant wat met kougom op die vensterbank vasgeplak is. ‘n Parmantige klein blommetjie staan penregop in die potjie, en so elke nou en dan hap dit na ‘n insek wat te naby kom. Hierdie dinge sal beslis nie pas op ‘n ordentlike bus nie, maar op die laslappie rammelkas is hulle maar net deel van die vreemde versameling wat tot die meestal geel bus behoort.

Die ou rusbank, met sy deurgeskaafde materiaal, lyk dalk vreemd in vergelyking met ander busbankies, maar dit is verbasend gemaklik, baie meer noudat dit stewig vasgemaak is. Bella, ‘n jong meisie van amper veertien jaar oud, met lang bruin hare en ‘n slaperige uitdrukking, sit langs die venster en staar na die landskap wat verby flits. Sy onthou die eerste keer toe hulle op die rusbank gesit het. Die toue wat dit moes vasmaak was stukkend en die rusbank het die heel tyd rondgeskuif. Sy was nog nooit so naar in haar lewe nie! Maar nou ja, dit is ook ‘n ander storie…

Sy kyk ingedagte by die venster uit na die mooi landskap van die laagland. Daar is baie dinge wat deur haar gedagtes maal. Die afgelope paar dae het so baie dinge gebeur. Sy kan nie glo dit is net drie dae nie. Net drie dae sedert hulle by die vreemde weeshuis aangekom het, en ook alles wat daar en by die Kinder Akademie gebeur het. Net drie dae gelede het hulle nog ‘n laaste keer vir Ouma Annie gegroet, ‘n laaste keer na hulle geliefde huisie langs die meer gekyk, en die laaste toebroodjies geëet wat uit Ouma se huisie gekom het. Toe moes hulle alles oppak en na die aaklige weeshuis in Bitterwind toe kom, baie kilometers ver na die Suide. Soos sy kyk na die plase en klein huisies wat verby gaan voel Bella skielik weer baie hartseer en sluk aan ‘n knop in haar keel.

‘Sterk wees, Bella…’ sê sy vir haarself. ‘Nog net ‘n rukkie langer…’

Bella onthou haar eie raad aan Jan-Bam, om positief te bly, om aan te hou hoop en glo al gebeur daar slegte dinge. Sy trek ‘n diep asem in en glimlag vasberade.

‘Basta negatiwiteit!’ Sy gaan haar beste doen om positief wees. Dinge sal beter word! Hulle moet…

Sy glimlag vasberade vir haar boeties en sussie langs haar op die bank, maar hulle frons net vir haar lawwe glimlag. Teen dié tyd is hulle al gewoond aan hulle ousus se eienaardighede. Die vier Grim-kinders is baie lief vir mekaar en ook geheg aan mekaar, veral noudat hulle alleen by die weeshuis en weg van Ouma Annie af is. Hulle liefde vir mekaar keer egter nie dat hulle soms baklei nie, soos alle sibbe maar maak. Jan-Bam frons weer vir sy sussie se vreemde glimlag, hy hoop net haar glimlag beteken nie dat sy weer kliphard vir almal wil groet nie. Laas toe sy dit gedoen het, het hy so skaam gekry tot sy ore het gebloos!

Gelukkig vir Jan-Bam is dit nie waaroor Bella glimlag nie. Sy draai al die vreemde gebeure van die laaste paar dae in haar gedagtes om. Bella is seker al die dinge wat met hulle gebeur het, het gebeur met ‘n doel. Van die Oergaai, die Onkulis aanval, tot die sleutel wat Meneer Klein vir haar gegooi het, of eerder, waarmee hy haar gegooi het… Sy vryf weer aan die knop teen haar voorkop. Dit is darem nie meer so seer soos dit was nie maar sy is nog steeds vies vir haarself omdat sy nie beter kon vang nie.  Sy is seker al die dinge is gekonnekteer op die een of ander vreemde manier, maar maak nie saak hoe sy probeer nie, sy kan nie uitpluis hoe alles in mekaar pas nie.

Bella vryf weer haar voorkop en wens sy het meer atletiese vernuf gehad, dan kon sy makliker dinge vang wat vir haar gegooi word en miskien selfs netbal speel, maar ongelukkig is ‘n algehele gebrek aan hand-oog koördinasie ‘n Grim familie eienskap. Haar lompheid het egter nie gekeer dat sy probeer nie, en sy wonder of die Akademie ook soos haar ou skool ‘n netbal span het. Met alles wat die afgelope paar dae gebeur het was sport en atletiek die laaste ding waaraan sy gedink het. As daar ‘n sportspan is sal sy graag wil deelneem. Meneer Wildebaard, die Kinder Akademie se hoof, het iets gesê van ‘n slym-duik span. Slym-duik klink absoluut afgryslik, maar as sy ‘n positiewe gesindheid teenoor dit het, kan dit dalk net pret wees. In elk’ geval, sy is seker dit sal hierdie keer beter gaan as by haar vorige skool…

Bella voel in haar sak en raak aan die yster sleutel wat Meneer Klein vir haar gegooi het. Wat is so belangrik oor die sleutel dat hy homself soos ‘n rietbos in die moeras moes vermom om dit by haar uit te kry? Sy trek die briefie uit haar sak wat saam met die sleutel in die blikkie was en maak die klam papiertjie versigtig oop.

Liewe kinders, ek hoop hierdie brief vind julle gelukkig en veilig. Die Oergaai was veronderstel om ‘n sleutel vir julle gee, saam met die volgende instruksies:

Gebruik die sleutel om die kluis in die opsigter se kantoor oop te sluit.

Binne is ‘n hout kissie met die uilmerk op dit.

Bring die kissie na die plek wat in die koerant aangewys word.

Ons wag vir julle.

Maak gou! Ons het nie meer baie tyd nie!

Liefde, jul…

Die nota was saam met die sleutel in die blikkie. Dit was so klein opgevou sy het dit amper misgekyk, maar in die moeras het die papier ‘n bietjie nat geword wat die ink laat smeer het. Bella vou die klein briefie weer versigtig op en wonder of dit regtig hulle ouers is wat dit gestuur het. Die gesmeerde ink is nie in hulle handskrif nie, maar hulle kon miskien vir iemand anders gevra het om die brief te skryf. Sy wil so graag hoop dat dit regtig hulle is, dan sou hulle ten minste nog steeds lewendig wees…

Bella staar ingedagte by die venster uit na die skemer landskap wat vinnig verby flits en al hoe donkerder word soos die son sak. Die Kroonwoud se groot bome word al minder en yler teen die kranse op, oral steek daar grys rotse uit tussen die skaduwees wat die bome oor die landskap gooi. Die nag is amper hier, in die verte lê die laaste lig soos ‘n streep uitgebrande kole op die horison.

Die  bestuurder was baie laat, baie meer as gewoonlik, en hy jaag om die kinders betyds by die huis te kry. Dit is amper donker, hulle moes ure terug al by die huis gewees het. Hy kyk weer vinnig in sy spieëltjie, maar in die dowwe lig van skemer is al wat hy kan uitmaak die donker skaduwees van rotse wat verby flits. As hulle gelukkig is, sal hulle dalk die berge se nagtelike inwoners vermy, maar hulle sal gou moet maak…

Die bestuurder is ‘n goedhartige man, nie heeltemal so oud soos hy lyk nie weens jare se harde werk in die son. Hy is ‘n gebore Bitterwinder en ken die area en berge goed. Hy weet hulle is in gevaar, maar hy wil nie die kinders ontstel deur hulle die waarheid te vertel nie. Soos dit is, het hulle ‘n moeilik genoeg tyd by die Akademie, en boonop moes hulle die hele middag in die warm moeras wag. Toe hy uiteindelik opgedaag het het hy niks gesê oor sy laat kommery nie, maar die kinders het ook nie gevra nie. Hulle was almal net te bly om in die bus te klim nadat hulle ure in die moeras se bedompige hitte moes wag. Veral ook na die klomp kraaie so skielik tussen hulle deur gevlieg en almal skrik gemaak het.

Bella gril toe sy aan daardie klomp vreemde voëls dink en voel weer aan die sleutel in haar sak. Een van die groot kraaie het die blikkie wat die sleutel in was uit haar hand gegryp en weggevlieg daarmee. Alfie het gesê dit is miskien omdat die blikkie geblink het, maar Bella is nie so seker nie. Daar is iets omtrent daardie klomp kraaie wat haar baie kriewelrig maak, selfs die Oergaai en Meneer Klein het haar gewaarsku teen hulle.

Sy staar nog ingedagte by die venster uit na die donker landskap toe daar skielik iets by die venster verby waai, naby aan die kant van die pad, maar in die donker kon Bella nie mooi sien wat dit was nie.

Miskien was dit maar net ‘n papier of iets wat die rammelkas opgewaai het toe dit verby gery het. Of een van die skedonk se wiele…

Hulle is nog ‘n entjie van die weeshuis af en dit is al klaar so donker dat die bestuurder die ligte in die bus moet aansit. Net soos die res van die rammelkas, is die ligte ook maar aanmekaargelap en onvanpas. Oral teen die dak is kersboomliggies vasgeplak met kleefband en verskillende kleure kougom. Tussen hulle hang ‘n paar gewone huisligte met kleurvolle skerms, daar hang selfs ‘n mooi kandelaar met klein liggies wat soos kerse lyk in die middel van die bus.

Al die ligte swaai en bons rond elke keer wat die bus draai of oor ‘n hobbel ry – wat nogal baie gebeur omdat die pad so sleg is. Al is die ligte beslis nie iets wat in ‘n normale bus sou wees nie, pas hulle nogal goed by die res van die laslappie-bus, en in hulle lig lyk die ou rammelkas nogal snoesig en mooi. Dit is die eerste keer wat Bella-hulle die ligte in die bus aan sien, en hulle verkyk hulle aan al die soorte wat teen die dak vasgeplak is. Gerrie raak veral betower deur die klein kersliggies wat oral oor die bus se dak glinster en spring op om met Muis te praat oor die mooi liggies.

Gerrie en Muis is besig om goeie vriende te word en Bella is bly daaroor. Haar sussie was nog altyd baie skaam en teruggetrokke en Bella hoop dat haar vriendskap met Muis haar meer selfvertroue sal gee. Gerrie se tweeling boetie, Gort, kyk ook na die mooi liggies, maar sy aandag word weer vinnig afgetrek deur een van sy monsterboeke wat hy met groot konsentrasie in die skommelende bus probeer lees.

Hy is baie hartseer omdat hulle nie meer by Ouma Annie kan bly nie, maar hy is ook opgewonde oor al die ongediertes wat hulle hier in Bitterwind ontmoet het, al het een van hulle hom probeer opvreet! Die Middelmeer Gebied waar hulle saam Ouma Annie gebly het, het nie sulke vreemde diere gehad nie. Daar was maar net die gewone honde en katte en Beeslummels en sulke goed, niks so opwindend soos wat hier bo in die kranse en by die Akademie is nie.

Ouma Annie het wel gesê dat sy ‘n paar keer vreemde pers katte buite die huis gesien het, pers met swart strepe en kolle, maar Gort weet nie of dit regtig gebeur het nie. Ouma Annie het die laaste tyd vreemde dinge gesê en gedoen. Dit is een van die redes waarom sy nie meer na die kinders kon kyk nie en waarom hulle al die pad na Bitterwind toe moes kom om hier in die weeshuis te bly. Gort wens hulle kon net ‘n rukkie langer by Ouma gebly het, of selfs net by iemand anders in hulle dorpie. Hy wonder hoekom hulle nou juis al die pad na die Suide van Nimmermeer moes kom om in die weeshuis te bly terwyl daar plekke in hulle ou dorpie was waar hulle kon heen gaan.

Verskeie van sy skoolmaats het aangebied om die Grim kinders in te neem, asook mense van hulle kerk, maar die mense van die welsyn wou niks van dit hoor nie. Hulle het aangedring dat die kinders alles oppak en trek na die grillerige weeshuis op die Kruin. Al die dinge maak Gort hartseer, soms het hy selfs tranerig geword, maar hy het gesien as hy sy monsterboeke lees, vergeet hy so bietjie van die dinge wat hom hartseer maak, al is dit net vir ‘n rukkie. Hy geniet sy boeke en wil graag oplees oor al die diere wat hier gevind kan word sodat hy hulle kan uitken as hy hulle raakloop.

Jan-Bam sit langs Gort en kyk ook na die liggies wat so deurmekaar teen die plafon geplak is. Hy is twaalf jaar oud en het netjiese bruin hare, net soos Bella, nie soos die tweeling nie, wat albei rooi hare het net soos hulle ma. Hy sit stil en probeer sy gedagtes vir homself hou maar Bella kan sien hy is ook hartseer. Sy is bekommerd oor hom. Vandat hulle hier aangekom het lag en glimlag hy nie meer soos altyd nie. Hy het ook ‘n rowwe tyd gehad toe daardie aaklige Juffrou Knor hom in ‘n kas ingestamp en hom daar toegesluit het. Sy was kwaad vir Jan-Bam omdat hy haar perongeluk met sy tas gegooi het – hy het eintlik gedink sy is ‘n monster en het geskrik toe hy haar skielik in die donker sien. In sy verdediging – hy wou net sy boetie en sussies beskerm, en in die dowwe lig van die eetsaal het Juffrou Knor nogal soos ‘n groot aasvoël gelyk!

Bella glimlag vir hom en reik uit oor Gort en sy boeke om Jan-Bam se skouer ‘n drukkie te gee. Hy glimlag vinnig terug vir haar, maar Bella kan sien daar is nog steeds hartseer agter sy oë.

“Onthou, ons moet positief bly,” praat sy hom moed in. “Dinge sal beter word. Ek is seker dit sal.” Sy glimlag weer vir haar boetie wat skamerig terug glimlag, die keer met ‘n bietjie meer hoop in sy oë. Nou weet hy waaroor haar lawwe glimlag van netnou was. Sy sussie is reg, dinge sal beter word. Hulle moet net aanhou hoop en glo. Al gebeur daar nou dinge wat nie lekker is nie, dit sal weer verander. Ouma Annie het altyd gesê, “Alles het ‘n begin en ‘n einde.” Net soos goeie tye soms eindig, so sal slegte tye ook ophou, hulle moet net aanhou en nie moed opgee nie.

Jan-Bam begin net ontspan in die ou rusbank toe hy skielik voel hoe die hare op sy nek regop staan. Hy kyk vinnig om hom rond – die bus is vol kleurvolle liggies en kinders wat gesellig met mekaar praat. Die koel berg lug waai by die oop vensters in om die kinders te verfris en die hitte van die moeras weg te waai, maar niks lyk besonders uit plek uit nie.

Buite die vensters is dit amper pikdonker en moeilik om iets te sien. Dit is net ‘n bietjie van die sypaadjie langs die bus wat sigbaar is wanneer die ligte swaai om daarop te skyn, andersins is alles swart. Hulle is hoog in die Drakeberge, ver weg van die dorp en enige van die snoesige laagland huisies. Die bestuurder druk nog steeds sy voet op die petrol en jaag deur die steil klowe wat deur die gesplinterde rotse gekerf is.

Jan-Bam kyk weer rond. Hy kan nie die gevoel afskud dat iets nie reg is nie…

Dit is dieselfde gevoel wat hy vanmiddag gehad het toe die klomp kraaie agter hulle gaan sit het. Daar is iets nie reg met daardie klomp voëls nie. Hy is seker daardie swerm het hulle dopgehou en het aspris die blikkie uit Bella se hand gegryp. Sy was baie geskok toe dit gebeur het en hy wou haar nog vra oor dit, maar het die gevoel gekry dat sy nie voor die ander kinders daaroor wou praat nie.

Bella begin ook bewus word van iets wat buite die venster is, net agter die lig van die swaaiende lampies, iets wat lyk asof dit langs die bus hardloop, nee – dit lyk eerder of dit vlieg! Die bus jaag tussen die kranse deur en niks kan tog so vinnig hardloop nie…

Dit moet iets wees wat vlieg…

Is dit ‘n kraai…?

Sy buig nader aan die venster en trek haar oë skrefies om beter in die donker te sien, maar daar is niks… Al wat in die laat-skemer verby die venster flits is maar net die gewone rotse en droë bossies wat op die sypaadjie probeer groei. As daar iets langs die bus gevlieg het kan sy dit nou nie meer sien nie…

Bella sit terug in die rusbank en vou haar arms ingedagte terwyl sy probeer om te ontspan in die sagte kussings. Sy konsentreer eerder op die mooi liggies teen die plafon, want sy wil nie hê haar verbeelding moet weer met haar wegloop nie. Sy verkies om eerder ‘n meer realistiese verduideliking te soek as ‘n vreemde ding wat langs die bus vlieg. Miskien was dit maar net ‘n weerkaatsing teen die ruit, of dalk ‘n plastiek sak of iets wat deur die wind gewaai was.

Jan-Bam kyk nog steeds onrustig rond. Hy wonder of dit weer die klomp kraaie is wat agter die bus aangevlieg het. Daar was ‘n klomp van hulle by die weeshuis die vorige dag, en ook op die oggend toe hulle hier in Bitterwind aangekom het. Hy sit so bietjie vorentoe om by die venster langs Bella uit te kyk – miskien het daardie grillerige voëls besluit om hulle weer te volg.

Hy kan niks vreemd sien nie, maar hy is seker hy voel iets…

Koue rillings begin by sy rug af loop, so koud soos hy nog nooit gevoel het nie. Jan-Bam raak al hoe meer onrustig en kyk om hom rond in die bus na die ander kinders wat luidrugtig met mekaar gesels en grappies maak, almal behalwe Lente en Winter. Hulle kyk ook bekommerd om hulle, en frons vir die laggende kinders en die donker vensters wat hulle almal omring. Dit lyk asof hulle ook voel wat Jan-Bam voel…

“Wat is dit, Jan-Bam?”

Bella se vraag laat hom skrik en hy hop ‘n bietjie op die sagte kussings. Sy het gesien haar boetie lyk bekommerd, meer as gewoonlik.

“Ek weet nie…” sê hy. Jan-Bam draai weer om om te kyk of hy iets by die bus se groot agtervenster kan sien. Dit is net die donker buite die bus. Hy skuif sy bril terug op sy neus om te kyk of dit beter kan fokus, maar dit help nie.

Iets is verkeerd…

Die koue wat by sy ruggraat afkruip word al sterker en kouer, toe daar skielik ‘n herinnering in sy gedagtes opduik – hy het hierdie koue al vantevore gevoel, lank terug, maar net as hy die herinnering wil raak vat, smelt dit weg…

Die bus maak ‘n skerp draai deur ‘n nou kloof in die berg, hoë rotse flank dit aan albei kante toe daar skielik ‘n harde slag van die dak af bars. Iets swaar het op die dak geval en ‘n groot duik in die gelapte metaal gedruk.

Bella hop sommer soos sy skrik vir die nuwe geluid, dit was baie harder as die ander geraas wat die bus gewoonlik maak, en klink behoorlik of daar ysters op die dak is wat losskud. Vir ‘n oomblik is daar stilte in die bus terwyl die verbaasde kinders na die dak staar, maar dit word gou verbreek deur harde geluide wat klink soos ysters wat oor die dak skraap. Die kinders kyk bekommerd vir mekaar – die nuwe geluide klink darem baie anders as die bus se gewone rammelinge.

Sedert sy dit die eerste keer gesien het, het Bella ‘n vermoede gehad dat die bus nie heeltemal padwaardig is nie. Hierdie nuutste klomp skrape en klappe bevestig net weer haar suspisies – die bus is besig om te ontplof, al weer! Dit het letterlik die vorige dag aan die brand geslaan, en nou lyk dit asof die dak ook wil afwaai! Sy hoop net hulle kan almal by die huis uitkom voor die ou skedonk finaal uitmekaarval.

Jan-Bam en ‘n paar ander kinders, wat ook in die middel van die bus sit, kyk verskrik op na die dak waar hulle die geluid gehoor het. Hy is nie seker wat die harde slag was nie, maar onthou dat Grietjie hulle vertel het van klippe wat van die kranse afrol en op die pad neerstort. Sy het gesê dat daar net nou die dag een amper op die bus geval het en die kinders saam met die ou rammelkas byna bokveld toe was.

“Miskien is dit ‘n klip?” wonder Jan-Bam.

“Ek weet nie…” sê Bella grootoog. “Dit klink eerder soos yster wat krap of iets. Ek hoop net nie die dak waai weg nie,” sê sy en gryp haar lang hare by voorbaat vas sodat dit nie saam met die dak in ‘n warrelwind vasgevang word nie. Dit sal haar ook glad nie verbaas as die dak regtig opstyg en in die rookwolk agter die wrak verdwyn nie, die ou bus maak so baie geluide sy het netnou gedink een van die wiele het afgeval!

“Nee, dit is nie die dak wat afskeur nie. Dit is iets anders,” sê Jan-Bam en skuif sy bril reg. “Kyk daar, waar die dak gebuig het..” Hy wys na ‘n kol waar die kersliggies flikker rondom ‘n groot duik in die dak.

“Watter duik?” Gort het uiteindelik sy neus uit sy boek uitgelig en kyk ook na die spesifieke duik wat Jan-Bam aanwys tussen al die ander duike en hobbels in die bus se dak. “Was dit nie altyd so nie?” vra hy.

“Nee, ek is seker dit het nou net…” Jan-Bam was nog besig om te praat toe ‘n harde lawaai van die dak af klink.

Die duik waarna hy wys skiet skielik weer terug asof ‘n groot gewig van dit afgelig het. Die klingel geluide skraap oor die bus tot dit weer met ‘n blikkerige rammel nog ‘n duik in die dak in druk, die keer amper reg bo Jan-Bam. Die gelaste metaal panele begin selfs buig en kreun onder die enorme gewig wat op hulle druk.

Die dak skud so dat die mooi kandelaar wat naby hang skielik rondruk en begin om aan en af te flits. Oral val daar grys stoffies uit die dak se vele lasplekke wat oopgebuig word deur die gewig wat op dit druk. Die stof waai neer op Jan-Bam en Gort, wat hulle laat nies en uit die pad buk. Hulle probeer die grys stoffies voor hulle wegjaag sodat hulle beter kan sien, maar die koel lug wat by die vensters in waai jaag dit die hele bus vol. Die koue rillings wat teen Jan-Bam se rug af loop raak al hoe erger, en voel asof iemand ‘n beker yskoue water by sy hemp ingegooi het. Skielik flits daar weer ‘n herinnering deur sy gedagtes, ‘n vae skim van iets wat lank terug gebeur het, maar dan raak dit weg voordat hy mooi kan uitmaak wat dit was. Die klomp geluide is beslis nie die dak wat wil afwaai of die enjin wat wil ontplof nie…

Daar is iets op die dak!

Van die ander kinders in die bus het ook die geklingel gehoor en gesien toe die dak so induik. Hulle hou op praat en staar verbaas na die duik, waar daar nog steeds ‘n paar stoffies uit val tussen die knopperige sweisplekke wat die metaal verbind met al die rommel waarvan die bus gemaak is. Die grys poeier waai in die bus rond, en maak die kinders nies en hoes terwyl hulle tevergeefs probeer om die stof van hulle af weg te waai.

Die klingel geluide hou aan en klink amper soos ysters of kettings wat teen mekaar stamp en oor die dak getrek word.

Die kinders in die bus word al stiller, en staar na die dak waar die kandelaar flikker en stadig ronddraai. Selfs Erik en Olma-hulle agter in die bus begin agterkom iets is nie reg nie en sjoe mekaar om stil te bly. Hulle almal staar onseker na die kandelaar wat flikker, dan skielik rond ruk soos die gewig op die dak rondskuif. Die kandelaar flits ‘n laaste keer en gaan heeltemal dood. Selfs die kersliggies rondom dit begin ook dof te flikker en lyk asof hulle wil uitgaan. Jan-Bam skuif weer sy bril reg en staar na die duik in die dak en die liggies wat al dowwer rondom dit gloei.

‘n Vreemde stilte val oor die bus en die passasiers…

Die kandelaar skud nie meer so baie nie maar draai net stadig rond soos die bus tussen die kranse deur ry. Jan-Bam staan op en staar verbaas na die duik bokant hom. Hy merk iets vreemd op, wel nog vreemder as die duik en die geluide – dit lyk asof die dak wit word waar dit ingeduik het. Oral op en om die duik sprei ‘n wit laag stadig oor die bus se geel verf. Hy frons en steek sy hand uit om aan die witterigheid te probeer vat om te sien wat dit is, maar Bella ruk sy mou terug en gee hom ‘n moenie-aan-die-jiggie-goed-vat-nie-kyk.

Die kersliggies rondom die duik in die dak word al dowwer en dowwer, dan ruk hulle skielik soos ‘n harde slag teen die yster dak tref!

Die kinders skrik so groot hulle almal skree en gryp na mekaar. Selfs die busbestuurder kyk om om te sien waaroor al die kommosie is. Hy weet hulle is in die moeilikheid. Hy het dit nog altyd beskou as ‘n regte wonderwerk dat hulle al die jare veilig gebly het in die berge. Daar was ‘n paar skrape en noue ontkomings, maar gelukkig niks ernstig nie. Dit lyk egter of die noodlot vanaand iets anders beplan…

Die wit kol op die dak word al groter, en soos dit groei word die liggies in dit al dowwer, totdat hulle ‘n laaste keer flikker en dan heeltemal ophou skyn. Al die kinders is bang en hou aan mekaar vas, Jan-Bam hou vir Gort en Bella vas terwyl Gerrie en Muis mekaar sommer so oor die bankie se rug vashou. Hulle almal kyk verskrik na die duik bo hulle wat al witter word. Die wit goed lyk wollerig, en elke keer as die bus skud val daar wit donsies af wat stadig afdryf vloer toe. Gerrie is baie bang, maar die versoeking om aan die wit wolletjies wat afdryf te raak is net te groot vir haar. Sy steek haar hand uit en vang een in haar palm.

“Haai?!” sê sy verbaas. “Dit is yskoud!”

“Wat op aarde?!” vra Bella. Sy steek versigtig haar hand uit en raak aan die wit wolletjies teen die dak. Dit is ys! Net soos die wollerige ys wat altyd binne Ouma Annie se yskas gevorm het. Die ander kinders kyk ook almal verbaas na die yskol teen die dak. Hulle kan nie verstaan wat aangaan nie, dit is tog nie so vreeslik koud buite nie; die wind wat by die vensters inwaai is koel, nie vriesend nie!

“Is dit ys?!” vra Winter verbaas. Bella knik ‘Ja’. Sy druk aan haar boeties en Gerrie om uit die pad te staan. Wat ook al op die dak aangaan, hulle is reg onder dit en dit is beslis nie ‘n goeie plek om te wees nie!

Bella-hulle skuif weg van die groen rusbank af en gaan staan in die gang waar hulle aan ander bankies moet vashou om regop te bly. Die bus ry nog steeds vinnig deur die Drakeberg se donker kranse en die ou pad is beslis nie sonder hobbels nie. Elke nou en dan skud die bus oor ‘n hobbel of slaggat en dan raas die ysters weer bo-op die dak. Die duik in die dak bons skielik weer terug en word gevolg deur ‘n harde gekrap wat oor die dak trek tot dit weer induik, die keer reg bo Bella!

Op die plek waar die dak ingeduik was breek daar stukkies ys af en val op die vloer. Die kersliggies wat doodgegaan het begin weer flikker en stadig helderder gloei asof hulle nuwe lewe gekry het. Reg bo Bella is dit egter ‘n ander storie, die liggies word al hoe dowwer en daar groei ‘n kol wit ys teen die dak wat vinnig groter word en uitsprei na alle kante toe. Bella kyk verskrik op na die wit kol bokant haar.

“Het daar ‘n blok ys op die bus geval?” wonder sy hardop. “Is dit wat so rondrol op die dak?” Bella onthou die stories van ys wat soms van vliegtuie af val en op huise en karre te lande kom. Sy kyk na die ander kinders, maar hulle is almal sprakeloos en staar ook vreesbevange na die liggies wat al dowwer flikker soos die yskol groter groei.

Nee, Bella. Dit is nie ‘n blok ys op die dak nie…

Skielik tref ‘n harde slag weer teen die dak, die keer skeur drie groot kloue deur die yster, reg bo Bella! Sy en die ander kinders in die bus skrik so groot hulle almal skree vreesbevange en gryp na mekaar of duik vinnig onder die bankies in om uit die pad te kom. Selfs Olma, Erik en Elmer hou mekaar styf vas terwyl hulle kliphard gil vir die kloue wat drie repe in die dak geskeur het.

Die enorme kloue druk verder deur die metaal en begin om die dit oop te skeur…

Bella is angsbevange onder die skerp kloue. Sy voel asof haar bene en arms van lood gemaak is, en probeer om weg te duik, maar sy kan nie beweeg nie! Al wat sy kan doen is om op te kyk na die skeure in die dak reg bo haar. Dit lyk asof iemand ‘n groot blikoopmaker gevat en drie repe in die dak gekerf het; sy kan selfs die naglug en ‘n paar sterre deur hulle sien. Haar oë voel vasgenael op die skeure, en terwyl sy kyk skuif daar skielik ‘n groot oog agter die gate in en kyk vir haar!

Die ding op die dak gluur haar aan deur die skeure, maar sy is te bang om weg te kyk! Dit is koue oë – dood – soos die van ‘n lyk, maar hulle is gevul met ‘n vlammende haat wat nie net na haar kyk nie, maar binne in haar verstand indring.

Sy kan nie beweeg nie…

Dit is asof die monster se oë haar gehipnotiseer het en haar keer om te beweeg. Sy staan vasgevries op die plek, onder die glurende oë. Bella wil weg kyk, maar sy kan nie. Al wat sy voor haar kan sien is die koue, grys oë van die monster op die dak. Die ondier se oë begin om te gloei, ritmies, teen dieselfde vinnige spoed as wat Bella se hart klop.

Bella voel asof haar hele liggaam yskoud word, asof sy ook besig is om te vries en dof te word net soos die liggies teen die dak. Dit is ‘n koue soos sy nog nooit tevore gevoel het nie, dit sny deur haar vel, tot binne in haar liggaam om dit van alle energie te beroof. Selfs haar asem maak waserige dampe elke keer wat sy uit asem, net soos dit altyd in die winter se koue oggende gemaak het. Bella bly vasgenael op die monster wat na haar kyk met gloeiende oë. Sy wil met al haar krag weg kyk van die groot, grys oë wat na haar staar, maar sy kan nie.

Bella voel al kouer en kouer, sy verbeel haar sy hoor die ander kinders skree vir haar om weg te kom, maar sy kan nie beweeg nie. Alles begin voel soos ‘n droom, asof niks wat gebeur werklik is nie. Sy droom mense skree vir haar, hulle smeek vir hulp, vir haar om hulle te red uit die plek waar hulle gevangenes is. Sy sien die grys, dooie oë wat rondkyk na ‘n toneel wat soos ‘n slagveld lyk waar mense skree in vrees. Sy droom iemand roep haar, iemand skree vir haar om weg te kom, maar sy kan nie beweeg nie.

Dit is ‘n vreemde droom, ‘n nagmerrie…

Sy droom iemand gryp haar en trek haar weg. Dit is iemand wat lyk soos Alfie, sy hou nogal van Alfie…

Bella kyk op na die seun wat haar weggetrek het se gesig. Hy het mooi oë wat op die oomblik bekommerd af kyk na haar terwyl hy aanhou vra of sy OK is. Hy lyk nogal baie soos Alfie… Bella raak meer bewus van haar omgewing en die chaos rondom haar. Net soos die kersliggies weer begin gloei en skyn het toe die monster van hulle af weggeskuif het, voel sy ook warmer en meer lewendig. Sy voel haar krag terugkom, dinge voel nou nie meer soos ‘n droom nie.

“Bella, is jy OK?!” vra Alfie bekommerd. Bella besef nou eers sy lê op die bus se vloer met ‘n klomp bekommerde kinders wat na haar staar. Sy voel skielik vreeslik selfbewus en skaam, en sit vinnig regop.

“Err…Ja! Ek is OK!” Sy lag verleë en trek haar hippie t-hemp reg. Sy het nooit gedink sy sou flou val hier voor almal nie! Wat op aarde het gemaak dat sy flou geval het?!

Bella kyk vinnig op na die skeure in die dak om te sien of die groot grys oë nog steeds daar is, maar hulle is weg. Die duik lig uit die dak uit soos die monster weer opstaan. Vir ‘n oomblik is daar stilte, dan klingel en krap die ysters met mening. Daar is nou ook ‘n paar ander geluide, ‘n senutergende skreeu wat amper soos ‘n groot arend klink, en iets soos klippe wat teen die bus se dak tref. Daar is ook iets meer bekend…

Bella herken die geluide dadelik. Dit is Knoffel en die ander asjasse wat kwaai vir iets skree, net soos die vorige aand toe hulle die klomp kraaie van die weeshuis af weggejaag het. Sy staan vinnig op en kyk saam met die ander kinders by die vensters uit. Buite vlieg daar dosyne asjasse wat kwaai skree en klippe na die ding op die dak gooi. Hulle grom en wys hulle tande vir iets wat die kinders nie kan sien nie.

Elmer sien ook die klomp asjasse en begin kliphard te gil. Hy is vreeslik bang vir hulle en probeer weer om Olma as ‘n skild te gebruik, maar sy het genoeg van sy nonsies gehad en stamp hom weg. Dit is nou al die derde keer wat hy haar as ‘n skild wou gebruik! Elmer se voet haak vas aan een van die bankies en hy steier vooroor na ‘n oop vensters waar ‘n klein asjassie juis kom sit het om ‘n bietjie te rus. In sy onsuksesvolle poging om regop te bly deur sy arms soos ‘n windmeul in die lug rond te swaai, stamp hy perongeluk met sy gesig teen die klein diertjie.

“Aaaggh!” Skree hy vreesbevange en vee vinnig sy wang af waar hy teen die vlieënde apie se boud gestamp het. “Asjas kieme! Aaaghh!” Skree hy weer en vryf met mening sy wang. Die arme asjassie frons verontwaardig vir Elmer en steek sy tong uit, dan blaas hy spoeg borrels vir die jong man wat nog steeds wild aan sy wang vryf om die onsigbare kieme af te vee, voor hy vinnig wegvlieg om die ander apies te gaan help.

Die asjasse hou vol met hulle aanval. Hulle hou aan om klippe te gooi en kwaai te skree vir die ding op die dak, wat klink of dit die kant dan daai kant heen spring om hulle aanval te vermei. Dit veroorsaak dat die ou rammelkas erg begin skud wat dit baie moeilik maak om te beheer. Die bestuurder draai die stuurwiel vinnig die kant toe, dan daai kant toe, soos hy probeer om die skerp rotse aan die een kant en die dodelike afgrond aan die ander te vermei. Sy voet is platgedruk op die versneller, hy wil nie waag om selfs net ‘n bietjie stadiger te ry voordat hulle die veiligheid van die Kruin bereik nie. Daar sal die ding wat die bus aanval, hopelik, afgeskrik word deur die bos Haakdorings wat om die weeshuis groei.

Die bus jaag nader aan ‘n skerp draai op die rand van ‘n afgrond, maar die bestuurder wil nie briek nie. Hy wil nie die kans vat dat daar nog iets uit die berge op die bus spring om dit aan te val nie. Hy sluk hard en gryp die stuurwiel met altwee hande vas, dan leun hy skerp na links en begin die bus draai asof hy ‘n resiesmotorfiets bestuur. Die ou skedonk se bande skreeu op die stukkende teer en stuur rookwolke uit wat meng met die swart newel agter die wrak. Die bus se agterkant begin gly op die pad, die agterste wiele raak-raak aan die grond van die sypaadjie – as die bus hier gly…

Dit is ‘n ver val af na die donker water van die Nimmermeer.

Baie voertuie wat ongelukkig genoeg was om in die meer te val was nooit weer gevind nie, nie net weens die diep, donker water nie, maar ook weens die dinge wat in dit wegkruip. Selfs vissermanne wat op die meer werk wil nie aan die water raak nie, hulle glo dit is ongelukkig. Net soos hulle voorvaders vaar hulle net in goeie weer uit, vang wat hulle kan, en kom dan vinnig terug sodat hulle voor skemer weer veilig op droë grond kan wees. Almal in Bitterwind weet dit is gevaarlik op die meer in die nag, net so gevaarlik soos die berge in die donker…

Die bestuurder is baie spyt dat hy laat was, maar hy kon dit regtig nie help nie. Toe hy daardie middag by die bus uitkom, wou dit nie werk nie. Hy besluit toe om onder die kap te kyk, net om te ontdek dat iets die enjin opgevreet het met tandmerke oral oor dit. Gelukkig het die ding wat die enjin beetgekry het net ‘n paar rubber pype stukkend geknaag, maar dit het die bestuurder nog steeds ‘n paar ure geneem om alles weer reg te maak. Dit is ook nie die eerste keer dat so iets met die bus gebeur nie, die laaste tyd het die aanvalle al hoe meer geword.

Hy kyk terug na die bang kinders op die bus. Hulle was al ‘n paar keer vantevore in hierdie situasie, maar hy het nog altyd daarin geslaag om hulle veilig by die huis te kry. Die paar noue ontkomings wat hulle gehad het, het hy afgemaak as klippe wat op die bus geval het of die een of ander ding wat nie so skrikwekkend was nie. Hy kon dit nie oor sy hart kry om hulle te vertel wat regtig gebeur het nie…

Die bestuurder ken die gevare van die berge; hy weet hulle moet by die Kruin uitkom, en vinnig ook!

Hy trap ekstra hard op die versneller soos die bus om die draai seil, los klippe en stof wat agter dit uitskiet om teen die steil krans af te verdwyn in die donker water ver onder hulle. Die kinders begin paniekerig te skreeu en gryp aan die bankies vas om nie om te val nie. Die ou bus skuur al hoe nader aan die krans, die agterkant steek selfs uit oor die afgrond terwyl die wiele onder dit skreeu en rook om op die pad te bly.

Nog net ‘n bietjie verder…

Voor hulle draai die pad van die afgrond af weg om weer met rotse aan albei kante geflank te word. Die bus skuur verder, al om die skerp draai terwyl die bestuurder spook om dit op die pad te hou – ‘n laaste draai en regruk en hy slaag net-net om die skerp rotse te vermei wat die pad na die Kruin toe grens.

Hulle is amper daar…

Die ding op die dak hou aan om rond te spring, en skreeu woedend vir die asjasse wat nie afgeskrik word nie. Hulle hou aan om die monster met klippe te peper, totdat dit uiteindelik opgee en ‘n laaste bloedstollende skreeu gee voor dit van die bus afspring en in die donker skaduwees tussen die skerp rotse verdwyn.

Die maan het uitgekom en doop die landskap tussen die kranse in ‘n dowwe blou lig. Bella kyk vinnig by die bus se vensters uit. Uit die hoek van haar oog sien sy ‘n groot, donker skaduwee wat rats agter die bus weg spring na die rotse langs die pad. Dit is nog steeds moeilik om baie detail te sien, maar sy kan net genoeg van die monster uitmaak om te sien dat dit groot is. Dit lyk asof dit lang arms en kort bene het waarmee dit vinnig wegskarrel en tussen die rotse verdwyn.

Wat op aarde was dit?!

Die ander kinders in die bus het nie die monster gesien nie. Hulle is glad nie gewoond aan so baie asjasse nie en hulle aandag is vasgevang deur die diertjies wat om die bus vlieg en raas. Hulle almal kyk skrikbevange na die trop en wonder hoe om die dierasies uit die bus te hou. Selfs die bestuurder skrik vir die klomp asjasse en sit vinnig die ruitveërs aan, net ingeval een van die peste besluit om op die windskerm te gaan sit.

“Aggh! Hulle gaan in my hare vaskoek!” skree Elmer van onder een van die bankies uit. Olma trek haar vlegsels styf teen haar kop sodat die vler-apies hulle nie kan gryp nie, en Erik trek sy trui oor sy kop en kyk grootoog by die nek uit. Die drie seniors lyk behoorlik of hulle ‘n spook gesien het, en na die wilde busrit berou hulle hulle keuse om die agterste bankies vir hulself te eis.

Bella en die ander Grim kinders is egter meer gewoond aan die asjasse en weet dat hulle nie werklik kwaad bedoel nie, al is hulle soms baie stout. Sy loop na die oop venter toe waar Elmer teen die asjassie gestamp het en loer versigtig deur om te sien wat aangaan. Die asjasse lyk asof hulle bedaar. Hulle gooi nie meer klippe na die dak toe nie maar hulle vlieg nog in sirkels om die bus en grom in die rigting waar die monster afgespring het.

Een van die asjasse vlieg tot voor Bella en glimlag. Sy herken die wurm-ooghare en boeppensie dadelik, dit is Knoffel, die leier van die trop. Hy is bietjie uitasem van al die rondvlieg en klippe gooi, maar ten spyte van dit vlieg hy gemaklik en het geen probleem om met die vinnige bus by te hou nie. Elke nou en dan kyk hy agter toe na waar die monster verdwyn het en frons, dan kyk hy na Bella en maak asof hy aan ‘n elektriese draad raak en geskok word. Hy lag weer vir Bella se ongeluk die vorige aand toe sy perongeluk deur ‘n los draadjie geskok was. Bella was baie vies vir die klomp asjasse wat so met haar gespot het, maar vandag voel sy darem beter en glimlag terug vir Knoffel.

“Bzzt!” sê sy saggies en maak asof sy weer geskok word. Dit laat Knoffel kliphard lag en hy vlieg weg om saam met die ander asjasse in die bohuis te gaan sit.

Bella het nie gesien hulle is al amper by die weeshuis nie. Die bus skuur in ‘n rasende rookwolk tot stilstand voor die vreemde gebou met die draaiende vloere. Die mooi loodglasvensters is almal donker behalwe vir ‘n gesellige geel gloed wat by die kombuis se vensters uitstroom. Grietjie het weer kos gemaak op die ou kolestoof, en die reuk van haar brousel trek deur die lug tot selfs buite by die teerpad waar die kinders moet afklim. Bella kan die kos ruik by die oop venster en hoop net dit is nie weer orkwortelsop nie, sy is regtig nie lus om weer met daai harige brousel te stoei nie!

“Bella, is jy OK?!” Iemand gryp haar van agter af en gee haar ‘n stywe drukkie. Dit is Gerrie wat haar te styf vasdruk, met Gort en Jan-Bam agter haar.

“Ons het gesien hoe jy yskoud word en flou val!” sê sy bekommerd. Gerrie se woeste rooi hare staan weer in allerhande rigtings van al die skrik. Waar die skoenveters is wat haar hare vasgehou het weet niemand nie, maar gelukkig het Bella ‘n paar ekstra in haar tas en sal Gerrie help om haar hare weer te tem.

“Ja, ek is piekfyn!” sê Bella en probeer omdraai, maar Gerrie wil nie los nie. “Wat bedoel julle ek het yskoud geword?” vra sy oor haar skouer.

“Dit het gelyk of jy ook begin ys!” sê Gort grootoog.

“Ja, ek was baie bang!” sê Gerrie en versag uiteindelik haar greep op Bella.

“Daar het ook ys op jou begin groei, net soos op die dak!” sê Jan-Bam. “Ons het almal vir jou geskree om weg te spring! Het jy nie gehoor nie?” Jan-Bam kyk bekommerd na sy sussie.

“Nee… of, miskien…” Bella kan nie eintlik onthou wat gebeur het nie. “Ek weet nie. Dit het geklink of iemand my roep, maar dit was alles so deurmekaar, asof ek gedroom het…” Sy vryf haar hare reg en vra, “Het daar regtig ys op my begin groei?!”

“Ja,” sê Gort. “Gelukkig het Alfie jou uit die pad getrek.”

Bella kan onthou dat Alfie oor haar gestaan het toe sy bygekom het. Sy kyk om haar rond om te sien waar hy sit en gee hom ‘n skaam glimlag toe hy na haar kyk. Die hele monsteraanval en flou-word-voor-almal-situasie is nogal ‘n verleentheid, en Bella weet nie mooi hoe om te maak om vir Alfie dankie te sê nie.

“Dankie!” waai sy vir hom. Dit is werklik nie die beste manier om iemand te bedank wat jou van ‘n monster gered het nie, en Bella kan voel hoe haar wange rooi word. Sy besluit om eerder vinnig te maak en uit die bus te klim saam met die ander weeskinders. Hulle is almal besig om die aanval te bespreek en kyk angstig om hulle rond ingeval die monster nog daar naby is.

Die kinders wat in die dorp bly kom ook darem tot rus na die monsteraanval, en neem weer hulle gewone plekke in waar hulle grootoog met mekaar praat oor wat gebeur het. Niemand van hulle het die monster gesien nie en hulle almal raai oor wat die ding op die dak kon wees, wel amper almal van hulle… Elmer lê nog steeds onder die agterste bankie en weier om uit te kom. Hy is seker die hele storie is die asjasse se skuld, en hy is nie die enigste een nie.

Net Bella het die monster gesien, die ander kinders het glad nie die groot grys oë of die skaduwee langs die bus gesien nie. Al wat hulle gesien het was die asjasse wat om die bus vlieg en moeilikheid maak. Toe Bella uit die bus geloop het, het sy selfs van die kinders hoor praat oor hoe die asjasse die ys op die dak kon maak, miskien het hulle êrens ‘n roomys fabriek beroof of iets.

Selfs die kloue wat deur die dak gekap het moes iets wees wat die stoute peste aangevang het. Met die vlieënde apies se stoute reputasie begin die kinders vinnig te glo dat dit hulle was wat die bus aangeval het. Bella wil vir die kinders sê dit was nie die asjasse nie, dat daar iets anders op die dak was, maar sy voel sy moet dit eerder stil hou, vir nou ten minste. In elk’ geval dink sy nie die kinders sal haar glo as sy sê die asjasse is onskuldig nie, nie na al die kattekwaad wat hulle al aangevang het nie…