Baie van ons het al gehoor dat mens jouself nie moet ophou met dinge soos feetjies, Kersvader, spoke of hekse nie – want gelowige mense hou hulle nie op met sulke dinge nie. In vandag se tyd is dit moeilik om te verstaan waarom sulke sprokiesagtige dinge nie van pas is nie, maar dit kom waarskynlik uit ‘n tyd toe daar veel meer konserwatief oor dinge gedink was.
Die feit is dat baie (dalk die meeste) van die elemente wat in fantasie voorkom op ‘n stadium deel was van ‘n geloofswêreld van iemand, of soms spruit uit bygeloof. Maar hoe dit ook al sy, mense het daaraan geglo op die een of ander tydstip – of dit nou was vir die doel van godsdiensbeoefening of bloot uit vrees (al was dit soms net op ‘n geestelike gebied).
En dis nie asof sommige mense maar bloot aan hierdie tipe elemente “glo” nie, baie mense het dit self werklik ervaar – dink nou maar aan jou oupas en oumas wat soms van spoke sal vertel wat hulle self gesien het of eerstehands van weet. En tog voel dit dikwels vir ons verkeerd – dit voel of die wêreld waarin iemand ‘n spook sien ‘n heel ander tipe wêreld is waarin ons godsdiens bestaan. Maar dit is eintlik ‘n bietjie van ‘n raaisel, want in godsdiens glo ons tog juis aan die bonatuurlike – naamlik God self. En in ‘n wêreld waarin die bonatuurlik bestaan, behoort die bestaan van ‘n spook nie vir ons ‘n totale teenstrydigheid te wees nie.
Maar eintlik is die Bybel ‘n ryk bron van bonatuurlike en fantastiese elemente, en ons gaan in die onderafdelings van hierdie gedeelte ‘n bietjie na sekere van hierdie elemente afsonderlik kyk…