Zombie

Van al die tipe fantastiese wesens wat bestaan, is daar min wat so toeneem in gewildheid as die sogenaamde zombie. ‘n Zombie is tipies die lyk van ‘n mens wat op die een of ander manier weer begin rondbeweeg en sekere primitiewe gedrag openbaar. Die lyk is nie regtig lewendig in die normale sin van die woord nie, maar duidelik ook nie heeltemal dood nie, en daar word algemeen in die fiksie na sulkes verwys as die wat “ondood” is. Hierdie tipe karakter kom ewe maklik in wetenskapfiksie en in fantasie voor, as die gevolg van die een of ander virus of weens bose towery.

Die idee van iemand wat kan herrys kom telkens in godsdiens voor, maar in daardie gevalle is dié wat opstaan weer normaal lewendig en hervat gewoonlik hul lewens. Maar die zombie is iets heel anders – so ‘n wese blyk nie werklik in staat te wees om te dink nie of om selfs bekendes te herken nie – amper soos ‘n primitiewe robot wat eenvoudig ‘n taak het wat amper meganisties uitgevoer moet word.

Dit wil voorkom of hierdie karakter moontlik sy oorsprong het in die voedoe-wêreld van Jamaika en Haïti. In hierdie vorm van toordery word mense “getoor” om dood te gaan en dan begrawe te word, maar later weer te “ontwaak” en deur ander gesien en herken te word. Studie van hierdie verskynsel het egter aan die lig gebring dat mense ‘n gif (tetrodotoksien – C11H17N3O8) van die vis Tetrodon honckeni (of die blaasoppie in gewone taal) ingegee word wat ‘n verlamming van die senustelsel tot gevolg het. Wanneer die gif afgebreek het, herstel die persoon, maar ander glo dan dat dit ‘n dooie is wat opgestaan het en verwerp die persoon uit die samelewing.

Die hele idee van ‘n lewende lyk toor aaklige beelde in die verbeelding op, en daarom is dit seker geen wonder dat die grafiese voorstellings hieroor skrikwekkend en ontstellend is.

Daar bestaan talle flieks en televisiereekse wat handel oor hierdie onderwerp, en selfs in Afrikaans het skrywers hulle al tot hierdie onderwerp gewend, soos Professor Fungus en die Zombie-tamaties deur Jaco Jacobs.

Of David Bownie se Die Zombie Tonnels.

Dan is daar die vertaalde werk van Sonja Kablinger, Harry Griesel – Die Zombie Ontvoerder.

En natuurlik neem die vreesaanjaendheid eenvoudig toe wanneer hulle in groot getalle op iets afpyl – soos ‘n swerm bye, soos gesien kan word in die fliek World War Z.

Die idee van die doderyk wat jou bedreig is ‘n vrees diep in die mens se psige en is uitstekende inhoud vir die vervaardiging van gruwels. Ons sal beslis nog baie hiermee te doen kry in die toekoms…