Fantastika

Die wêreld van die ongelooflike en selfs die onbegryplike is nie vir elkeen nie. Dis ‘n wêreld wat die gewone, normale en alledaagse vermy en oor die heining klim om daar vêr te gaan verken waar dinge vreemd en onwerklik is. Vir baie is dit eenvoudig net té dik vir ‘n dalder en sal liewer kyk vir iets wat meer bekend is om die tande in te slaan. Internasionaal is daar egter ‘n groot en groeiende mark vir juis hierdie grootse veld as toevlug vir vermaak en ontspanning.

Kyk gerus in enige ordentlike boekwinkel hoeveel rakke toegewy word aan wetenskapfiksie en fantasie. Besoek gerus die fliekteaters of die plaaslike videowinkel om te sien hoeveel hiervan beskikbaar is. Dis veel moeiliker om ‘n goeie drama te kyk as om ‘n lekker wetenskapfiksiefliek te sien.

En dan is daar die ander fasette van die vermaaklikheidswêreld wat feitlik uitsluitlik uit hierdie “onrealistiese” vermaak bestaan, soos videospeletjies, strokiesprente, kinder-programme, ens.

In Afrikaans is skeppings in hierdie kategorieë egter maar yl gesaai, en die redes daarvoor is nie voor die hand liggend nie. Afrifiksie is egter ‘n tuiste, of gemeenskap van mense wat wel hierdie vorme van vermaak aangryp en dit juis ook in Afrikaans wil beoefen – of dit nou is om dit te lees, te kyk en saam te gesels, of om self skeppend op te tree en self ‘n bydrae te maak.

Die volle veld van spekulatiewe fiksie is egter veel wyer as wat dit op die oog af lyk, en hoewel fantasie en wetenskapfiksie die ooglopende twee vertakkings is, is daar ‘n groter versameling. Hier volg die Afrifiksie-struktuur waarin hierdie veld opgedeel word.

  • Wetenskapfiksie (WF) – Hierdie is dalk die mees voor-die-hand-liggende van die genres. Dit spekuleer regstreeks met die moontlikhede wat voortspruit uit die natuurwetenskap en tegnologie. Dit verken moontlikhede in hierdie rigting en stel realiteite voor wat straks nooit sal, of sou kon wees nie.
  • Fantasie (F) –  Ook hierdie genre is min of meer duidelik vir die meeste. Dit behels bonatuurlike elemente soos toordery, die geesteswêreld en magiese wesens soos feë en drake.
  • Mitologie – Hierdie is ‘n vertakking wat besonder wyd is en sluit die mites van die mensdom oor alle tye in. Dit vind tog ‘n natuurlike tuiste in Afrifiksie omdat die verhale gewoonlik so kleurryk en ongelooflik is, en omdat elemente uit die mitologie toenemend in werke van wetenskapfiksie en fantasie ingewerk word.
  • Superhelde – Hierdie karakters kan kwalik elders tuishoord. Werke van hierdie aard is altyd spekulatief en ongelooflik – gewoonlik selfs onmoontlik. Daar is egter baie min hiervan in Afrikaans beskikbaar.
  • Gruwels en Verskrikking – Dié veld raak toenemend populêr, en hoewel alle gruwelike stukke nie outomaties hier ingesluit word nie is daar tog dikwels bonatuurlike elemente soos spoke of onwerklike monsters soos weerwolwe of vampiere ter sprake.
  • Geloof en Godsdienstig – Hoewel godsdiens self beskou word as buite die grense van Afrifiksie, is daar nietemin heelwat werke wat spekuleer oor aspekte wat in godsdienstige werke voorkom, soos engele, demone, die wegraping, ens.
  • Kwasi – Hierdie werke is werke wat nie direk enige van die bogenoemde dek as hoofelement in die verhaal nie, maar wel daarvan insluit in die agtergrond of soms terloops.
  • Sprokies & Fabels – Dit is hoofsaaklik werke wat vir jong lesers en kinders geskryf is en waarmee baie grootword. Ons leer ons kinders vroeg reeds om hul verbeelding te gebruik, tog bereik die meeste volwassenheid sonder die lus om dit weer aan te skakel…
  • Wetenskaplike Fiksie – Hierdie is eintlik die een vertakking wat nie werklik inpas by die res nie, want dit is gewoon nie spekulatief nie. Dit is egter nuttig vir die waardering van WF en word normaalweg baie geniet deur WF-aanhangers. Daarom word dit tog wel hier gedek.