Die Vlieënde Hollander

deur

I.D. du Plessis

(1900 – 1981)

_________________________________

Wit oor die deining
(Wie Hom soek, vaar mee)
Jaag die verskyning:
Skelet van die Suidersee.

Maanbleek die hande
Wat klou aan die stuur
Waar die Skipper-in-skande
Deur die ewigheid tuur.

Geen seën vir matrose,
Geen redding, geen slaap,
Net die ewige, goddelose
Tog om die Kaap.

Onskadelik die storm,
Vergeefs maal die see.
Wát kan die vae vorm
Uitwis en uitkoms gee?

Al om die sewe jaar
Soek hy die suiwer hart:
Enigste beswering. By háár
Eindig sy eindelose smart.

Wit oor die deining
(Wie Hom soek, vaar mee)
Jaag die verskyning:
Skelet van die Suidersee.