Die Wagtertjie Stap

deur

C.M. van den Heever

(1902 – 1957)

_______________________________________________

Die wagtertjie stap met sy bees na die kraal,
– die skowwe soos bultjies teen aandlug se vaal –
die wagtertjie suig uit sy ghoera ‘n deun,
wat weemoedig en mooi in die skemering dreun.

Die beeste gaan stil in die voetpaadjie staan,
herkouend, en kyk ‘n grys mannetjie aan,
wat skaars bo die grassaad sy korrelkop wys,
daar waar hy gebuk met sy bondeltjie reis.

Die ringe rinkink om die litjies so skraal,
die gesig is al oud, verrimpel en vaal;
opeens bly hy staan en sê sag vir die klong:
“Jy speel lekker, my tatta, he pappa se jong?”

Die wagtertjie skrik uit sy droom, sy hand
los die ghoera verward en dit val in die sand;
“Jo! Jo!” kreun hy hard, sy oë word wit,
van vrees gaan hy plat op sy hurke daar sit.

“Tokkelosie,” so bibber sy stemmetjie swak;
die mannetjie kom, laat sy bondeltjie sak,
en vra met ‘n stem wat soos donderwoord slaan:
“My swartpêr, hoe dink jy waar kom ekke vandaan?”

Die wagter se beentjies die rittel soos riet,
hy kyk na die ogies wat bliksems bly skiet,
toe antwoord hy skroom’rig – die eeu-oue plan:
“Jy kom doer van ver, ver van die blou berg vandaan!”

Die tokkelos lag; sy gesig soos ‘n peer
deur die hitte verskrompel; hy vat sy bondeltjie weer,
“Dis reg, my klein jong, loop by die beeste maar saam;
die grootpêr hy trek by die blou berg; enne kom daarvandaan.”

Toe roer net die grassaad waar ‘n lyfie verdwyn,
in die vlei wat versink met ‘n slingerlyn;
die beeste stap loom’rig en eensaam bly dreun
– soos ‘n lied van die skeem’ring – die ghoera se deun.