deur
Philip de Vos
______________________________
Daar was ‘n kind. Haar naam was Sara
Met reguit, muisvaal toiinghare.
Maar ná ‘n week van waterpokkies,
kry sy skielik goue lokkies.
En wat die rede was, weet nugter,
maar darie hare groei al digter . . .
(Miskien had dit te doen met kliere,
want daarna het sy goor maniere).
Die meisietjie was nie eens drie,
Toe rook sy in die lewwetrie.
En Gouelokkies was skaars vier,
toe drink sy reeds Black Label-bier.
Op vyf was sy ‘n pes en las,
erg delinkwent, wanaangepas.
Op ses wys sy wat in haar steek:
Begin by huise in te breek.
En dít doen sy glo op ‘n keer
aan’t huis van ene oom De Beer.
Sy krap in tant De Beer se kas . . .
Mevrou se bra wou glad nie pas.
En toe – in minder as ‘n uur –
sluk sy glo sewe blikkies bier.
Sy was gesuip – ja, dis g’n maybe
en breek die stoel van die arme bybie.
Toe die De Beers haar later kry,
lê sy uitgepaas op die duvet.
En wil jy weet wat toe haar lot was?
Sy’s Girls’ Town toe oor sy so vrot was.