deur
Roald Dahl
(vertaal deur François Bloemhof)
____________________________________
.
.
.
En dan! Die babastoeltjie uit
nog voor Victoria se tyd.
Jy het dit by jou ma geërf;
haar laaste woorde toe sy sterf
was: “Kyk tog goed na daardie stoel –
jy weet hoe ek oor erfgoed voel.”
Maar Gouelokkies laat dit bewe
toe sy haar sware agterstewe
daarop laat sak. Dit sug, dit knak.
Dit breek net soos ‘n droë tak.
‘n Aangenamer kind sou skree:
“Ek het die stoel gebreek! Ag nee!”
Maar nie dié ene nie. Sy vloek
en sê: “Die stoel het dit gesoek!”
En toe sê sy ‘n woord so goor,
ek hoop jy’t dit nog nooit gehoor.
.
.
.
Dus, eindelik, wat het on hier?
Dit lyk vir my na ‘n dossier:
Die eerste misdaad: Als begin
met ‘n inbraak by die beergesin.
Die tweede misdaad wat sy pleeg:
Eet Baba-beer se papbord leeg.
Die derde misdaad: Om ‘n stoel
te breek en nie eens sleg te voel.
Die vierde misdaad: Elke bed
is met ‘n bose kiem besmet.
Maar ry sy daarvoor aan die pen?
Nee, in die stories wat ons ken
word Gouelokkies als verskoon,
kry sy nie haar verdiende loon
en kindertjies die wêreld oor
roep: “Mooi so! Reg so!” in ‘n koor.
Nou, vir dié astertjie se einde
het ek ‘n bitter medisyne:
“O, Pappa!” huil die baba-beer,
“My pap is op! My hart is seer!”
Die pa-beer sê: “Bedaar, gaan op
(moenie eens bodder om te klop)
en daar, op jou bed in die hoek,
sal jy die pap kry wat jy soek.
Dis in die blonde meisiekind,
Dus moet jy háár ook maar verslind.”