deur
Koos du Plessis
(1945 – 1984)
____________________________________
Op ‘n donker aand, diep in Juliemaand,
op die pad na Nooitgedacht,
waar drie rotse staan teen die sekelmaan,
het ek lank gewag die nag.
Want ‘n skurk vanouds het ‘n sak vol goud
daar begrawe langs die pad
en elke donker aand, met die sekelmaan,
kom hy t’rug en soek sy skat.
In die verte hoor ek vier hoewe,
soos ‘n hartpols diep in die nag;
dis of die duiwel hom jaag,
want die maan sit al laag
op die pad na Nooitgedacht.
By die Spookklippe naby Nooitgedacht,
so’t die mense my vertel,
kan geen man dit waag op ‘n donker nag —
hy begeef hom in die hel.
Maar ek het vasgestaan en gesê ek gaan
man-alleen een donker nag;
ek’t myself gestaal en my perd laat haal,
maar ek het so iets nooit verwag:
Want die vuurvonke spat uit sy hoewe
en tien vlamtonge speel in die nag
en die ruiter lê plat
want sy perd ken die pad
na die skat van Nooitgedacht.
Ek’t teveel gesien en ek dog miskien
is die beste plek die huis,
want ek ken gevaar, maar ek trap onklaar
en ek wens ek was al tuis.
Maar die huis is ver en die môrester
hang spookagtig oor die veld.
Dis g’n plek vir my; ek wil liewer ry —
gee die kêrel maar sy geld.
Maar die hoefslae dreun in my ore
en ‘n skim skiet stil uit sy saal
en die vuurvonke spat soos hy grou langs die pad,
want hy kom om sy skatte te haal.
Maar die burgers gun hom geen rus nie —
soos ‘n veldbrand kom hulle aan
en die Mauservuur dreun en looddruppels reën
en ek dog die einde breek aan.
En twee kole gloei in sy oë;
met een haal is hy weer in die saal
en sy perd ploeg die lug in sy ylingse vlug,
want hy wéét die dood kom hom haal.
Op ‘n donker aand diep in Juliemaand,
op die pad na Nooitgedacht,
waar drie rotse staan teen die sekelmaan
het ek lank bly lê dié nag.
En ek weet geeneen sal my glo nie;
Dit klink alles so gek in die dag….
Maar wees elkeen wat lag eenmaal daar in die nag
op die pad na Nooitgedacht.